Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van 10 Februarie 2021

A. Kwessies in die Omgewing

1. Staatsrede (SoNA)
1.1. President Cyril Ramaphosa sal die 2021-SoNA op Donderdag, 11 Februarie vanaf 19:00 lewer. Die SoNA kom op 'n tyd wanneer ons almal moet saamstaan om die uitwerking van die Koronavirus-siekte- (COVID-19) pandemie te oorwin, Suid-Afrikaners se lewens te verbeter en ons ekonomie te laat groei. Die Kabinet moedig alle sektore van die samelewing aan om met mekaar saam te werk om 'n nuwe maatskaplike kompak te verseker wat ons op 'n pad sal plaas om van Suid-Afrika 'n beter plek vir almal te maak.

1.2. Alle Suid-Afrikaners word aangemoedig  om die President se toespraak te gebruik as 'n wegspringplek om ons ekonomie om te keer, geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord I(GGGV) te beëindig en die drieledige uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid die stryd aan te sê. Die mediaverklaring na afloop van SoNA sal meer besonderhede verskaf oor die regering se Program van Aksie vir 2021/22. 

2. Belegging 
2.1. Die Kabinet verwelkom die R16-miljardbelegging deur die Ford Motor Company van Suid-Afrika in sy Silverton-aanleg. Hierdie belegging sal die land se motorvoertuig-uitvoerproduksie verhoog en ongeveer 1 200 direkte werksgeleenthede skep.

2.2. Dit vorm deel van die Tshwane Automotive Special Economic Zone wat in 2019 in die lewe geroep is om die grootste vervaardigingskern in Afrika te skep. Dit het 12 motorvoertuigkomponentverskaffers gelok en daar is reeds begin met die oprigting van hul fabrieke, ter waarde van R4.33 miljard. Hierdie beleggings bevestig Suid-Afrika se aantreklikheid as 'n beleggingsbestemming en is 'n teken van die vertroue wat internasionale motorvoertuigprodusente in ons land het.

3. COVID-19-inentingsprogram 
3.1. Die regering beskou die land se inentingsprogram om die verspreiding van COVID-19 te voorkom as 'n prioriteit. Die Kabinet verseker Suid-Afrikaners sal hierdie program op dreef bly. Die Johnson & Johnson-entstof sal nou in plaas van die AstraZeneca-entstof gebruik word.

3.2. Hierdie veranderings volg op die omvattende navorsing deur mediese wetenskaplikes, wat daarop gedui het dat  AstraZeneca 'n minimale uitwerking op die COVID-19 501Y.V2-variant het. Die Johnson & Johnson-entstof is as effektief teen die 501Y.V2-variant bewys, wat oorwegend in Suid-Afrika aangetref word.

3.3. Die Kabinet loof die werk van die wetenskaplikes en navorsers wat die deurbraak gemaak het oor die doeltreffendheid van die entstowwe teen die 501Y.V-variant. Dit bevestig die land se gevestigde wetenskaplike vermoë, wat regoor die wêreld erken word. 

3.4. Die verkryging van die AstraZeneca-entstof was gegrond op sy bewese doeltreffendheid  voor die ontdekking van die 501Y.V-variant in die land. Die besending wat op 1 Februarie 2021 van die Serum-instituut in Indië ontvang is, het nog nie verval nie en is binne die tydperk van die eerste fase van die uitrol van die inentingsprogram. 

3.5. Die Kabinet spreek sy vertroue uit oor die beplande inentingsprogram, wat met die meer as 1.2 miljoen frontliniegesondheidswerkers sal begin. Die Departement van Gesondheid, in samewerking met die Nasionale Tesourie, sal voortgaan om nog entstowwe te verkry om te verseker dat die land sy bevolkingsimmuniteit bereik.  

3.6. Om te verseker dat die inentingsproses glad verloop, het die Departement van Gesondheid die Elektroniese Inentingsdatastelsel van stapel gestuur, wat by https://sacoronavirus.co.za/evds/tscs/ beskikbaar is. Die Kabinet moedig diegene wat vir die eerste fase kwalifiseer aan om vir hul inenting te selfregistreer. 

3.7. Die Kabinet spoor almal in Suid-Afrika sterk aan om steeds die veiligheidsmaatreëls na te kom ten einde die verspreiding van COVID-19-infeksies te voorkom deur groot byeenkomste te vermy, hulle hande met seep en water of 'n 70%-alkoholgebaseerde saniteermiddel te was, maskers in openbare plekke te dra en die sosiale afstand van 1.5 meter te handhaaf.

4. GGGV-reaksiefonds
4.1. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die GGGV-reaksiefonds wat deur die privaat sektor ingestel is. Die fonds sal die land se reaksie op GGGV en die implementeringsprogram van die aanvaarde kampvegter van die AU-reaksiefonds op COVID-19 versterk.

4.2. Hierdie fonds gee gevolg aan een van die besluite van die Verklaring van die GGGV-beraad wat in 2018 gehou is, wat 'n beroep doen op alle maatskaplike vennote in die land – insluitend die regering, die burgerlike gemeenskap en ander rolspelers – om met mekaar saam te werk om blywende intervensies om GGGV te beëindig, te vind

4.3. Die Kabinet verwelkom die twee lewenslange vonnisse wat aan Lungile Nxelelwa in die Palm Ridge Landdroshof opgelê is vir die verkragting en moord van die 27-jarige Keneilwe Pule van Sebokeng in 2019.

4.4. Die Kabinet loof ook die wetstoepassingsagentskappe vir hul goeie werk nadat die Lebowakgomo Streekshof 'n 27-jarige man van Ga-Tamatis in Limpopo lewenslange tronkstraf opgelê het nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy 'n 14-jarige gestremde meisie verkrag het. 

4.5. Die Kabinet herbeklemtoon dat dit sal aanhou om onvermoeid te werk om die land se regstelsel te versterk om streng op te tree teen diegene wat hulle aan GGGV skuldig maak, spoedige geregtigheid vir slagoffers te verseker en veilige gemeenskappe te skep.  Dit doen ook 'n beroep op alle sektore van die samelewing  om hulle aan te sluit by die stryd om die siklus van geweld teen vroue en kinders te beëindig deur oortreders by die polisie te rapporteer.

5. Afrika-unie (AU)
5.1. Suid-Afrika se termyn as Voorsitter van die AU het tot 'n einde gekom ná 'n ongeëwenaarde jaar vir die vasteland en die wêreld. Suid-Afrika se termyn is sterk deur COVID-19 beïnvloed, wat al die lande op die vasteland geraak het. Ondanks die talle uitdagings wat die pandemie meegebring het, het Suid-Afrika die AU-agenda suksesvol bevorder, veral met betrekking tot hoe die vasteland op die COVID-19-pandemie reageer het.  

5.2. Gedurende Suid-Afrika se voorsitterskap is die African Continental Free Trade Area van stapel gestuur, wat 'n nuwe era van intra-Afrikahandel en ekonomiese integrasie ingelui het. Suid-Afrika het aktief tot die AU se vredesinisiatiewe  in Suid-Soedan en Ethiopië bygedra.

5.3. Die Kabinet wens President Ramaphosa geluk met sy leierskap tydens hierdie ampstermyn en sy eenparige aanstelling as die Kampvegter van die AU-reaksiefonds op COVID-19. Selfs na afloop van Suid-Afrika se ampstermyn sal die Kabinet die volgehoue stryd vir die ekonomiese bemagtiging van vroue in Afrika ondersteun gedurende die hele Dekade van Afrika-vroue se Finansiële en Ekonomiese Insluiting tot 2030.

6. Ongure weerstoestande
6.1. Die Kabinet ontvang 'n vorderingsverslag oor die implementering van 'n nasionale seisoensgebeurlikheidsplan vir rampbestuur asook 'n geïntegreerde reaksie op tropiese sikloon Eloise en gepaardgaande reënvaltoestande. Die Kabinet betuig sy innige meegevoel met almal wat tydens die onlangse hewige storms geliefdes aan die dood afgestaan het en wens die beseerdes 'n spoedige herstel toe. Die regering gaan voort om met gemeenskappe en nieregeringsorganisasies (NRO's) saam te werk om diegene wat hul huise tydens die swaar reën verloor het, by te staan.

6.2. Die swaar reënval het groot skade aan infrastruktuur in verskeie provinsies aangerig. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het waarskuwings uitgereik vir verdere moontlike oorstromings in die komende paar dae in Limpopo, die Vrystaat en Noordwes. Lede van die publiek word aangeraai om gedurende hewige reën en stormweer binnenshuis te bly. 

6.3. Die SAWD sal voortgaan om daaglikse en weeklikse weervoorspellings uit te reik en ook die Nasionale Rampbestuursentrum (NDMC) oor enige dreigende ernstige weerstoestande inlig. Die NDMC sal hierdie inligting aan die tersaaklike rolspelers versprei om alle gemeenskappe te waarsku. 

6.4. Die regering werk saam met NRO's, 'n span ministers, lede van die uitvoerende rade en plaaslike leiers – insluitend die NDMC – om effektiewe nooddienste in die geaffekteerde provinsies te koördineer.  

B. Kabinetsbesluite

1. Nasionale Ramptoestand
1.1. Die Kabinet keur die verlenging van die Nasionale Ramptoestand tot 15 Maart 2021 goed ingevolge Artikel 27(5) (c) van die Wet op Rampbestuur, 2002 (57 van 2002).

C. Boodskappe
1. Herdenking  
  
1.1 Die Kabinet vier die 24ste herdenking van die demokratiese Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996, wat op 4 Februarie 1997 van krag geword het nadat dit deur voormalige President Nelson Mandela uitgevaardig is. Hierdie wêreldberoemde Grondwet het ons duur gekoopte vryheid en demokrasie wat ons almal moet koester, gekonsolideer.

2. Die Kabinet dra sy gelukwense en goeie wense oor aan: 
2.1. Advokaat Dumisa Ntsebeza SC met sy aanstelling as 'n Regter in die African Court of Human and People’s Rights.

3. Medelye
Aangesien dit die eerste sitting in 2021 is, betuig die Kabinet nou eers sy medelye met die familie en vriende van:

3.1. Mnr Jackson Mphikwa Mthembu, wat die Minister in die Presidensie van die sesde administrasie was. Hy was 'n toegewyde aktivis en het met onderskeiding in sy openbare amp gedien.

3.2. Mnr Jonas Gwangwa, die kulturele ikoon, wat 'n internasionaal erkende komponis, verwerker, produsent en jazz-tromboonspeler was.

3.3. Dr Sibongile Khumalo, die multi-genre-kunstenaar en musiekonderwyser wat tot die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur op die musikale terreine van jazz en opera bygedra het. 

3.4. Mev Rebecca Kotane, bemind en bekend as MmaKotane, wat 'n sleutelrol in die land se vryheidstryd gespeel het. Sy word veral onthou vir haar deelname aan die  Vroue-optog na die Uniegebou in 1956, en sy was ook die eggenote van die oorlede leier van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, mnr Moses Kotane.

3.5. Regter Khayelihle Kenneth Mthiyane, wat as die voormalige Adjunkpresident van die Hoogste Hof van Appèl gedien het.

3.6. Me Thoko Ndlozi, die laaste oorlewende lid van die vrouesanggroep Joy, wat geskiedenis gemaak het met hul treffer, Paradise Road.

3.7. Mnr Wandi Nzimande, medestigter van die Suid-Afrikaanse straatdrag-etiket Loxion Kulca, wat vir ons 'n bloudruk van Mzansi-straatdrag gegee het.

3.8. Mnr Knowledge Simelane, wat tot die bewaring van inheemse tale verbind was. Sy afsterwe laat 'n groot leemte in die koerantuitgewersbedryf.

3.9. Mnr Welcome ‘Bhodloza’ Nzimande, wat in 1978 by Ukhozi FM aangesluit het en wie deur sy liefde vir Maskandi-musiek talle inheemse Suid-Afrikaanse musici ontdek het.  

3.10. Mnr Kabelo ‘KB’ Molopyane, die befaamde uitsaaier, wie se loopbaan teruggaan na 1996 en wat ná sy aanstelling by Motsweding FM by groot bekendheid verwerf het.

3.11. Dr Sam Phillips, die internasionaal befaamde en bekroonde rolprentakteur, skrywer, komponis en regisseur.

3.12. Mnr Edwin De Lille, die eggenoot van die Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Patricia de Lille. 

3.13. Sy Majesteit Thulare Victor Thulare III, Koning van die Bapedi-nasie, wat in 2020 'n sertifikaat wat hom as koning bevestig van President Ramaphosa ontvang het.  

D. Aanstelling
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
1. Advokaat Doktor Mashabane – Direkteur-generaal van die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling 

Navrae: Me Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore