Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 6 Desember 2017

Die Kabinet het vir sy laaste vergadering van 2017 by die Uniegebou in Pretoria byeengekom.

A. Kabinetsbesluite

1. Die Kabinet verleen goedkeuring dat die Nasionale Toerismesektorstrategie (NTSS) 2016–2026 geïmplementeer word. Die NTSS is gegrond op vyf strategiese pilare, naamlik bemarking, vergemakliking van toegang vir toeriste, beter besoekerservarings, bestemmingsbestuur en breëbasis-voordele.

Die volledige dokument is beskikbaar op die Departement van Toerisme se webblad: www.tourism.gov.za.

2. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die raamwerk vir die stigting van ’n Nasionale Breëbandnetwerkmaatskappy, wat gevorm sal word deur die samesmelting van Sentech en Broadband Infraco. Dit sal die gekoördineerde bekendstelling van die interafhanklike elemente vergemaklik en ’n nasionale breëband-voorstander skep.  

3. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Eerste Jaarlikse Vorderingsverslag oor die Implementering van die Witskrif oor die Regte van Mense met Gestremdhede vanaf 1 Januarie tot 13 Desember 2016.

Die verslag bied ’n hoëvlak-waardebepaling van die mate waartoe staatsdepartmente begin het om die beleidsopdragte van die WSRMG in hul onderskeie beplannings-, begrotings-, dienslewerings- en verslaggewingstelsels in te sluit.

4. Die Kabinet keur goed dat die Strategiese Beleidsraamwerk oor Gestremdheid vir die Naskoolse Onderwys- en Opleidingstelsel vir openbare kommentaar gepubliseer word.

5. Die Kabinet word ingelig oor die resultate van die Oorsig oor die Taxi-herkapitaliseringsprogram, wat van November 2015 tot September 2016 uitgevoer is. Die program is deel van die breër Strategie vir Openbare Vervoer, wat daarop gemik is om ’n geïntegreerde, veilige en doeltreffende vervoerstelsel in Suid-Afrika te vestig. 

Die Kabinet keur goed dat meer raadgewende werk met toepaslike departemente gedoen word voordat die Nasionale Departement van Vervoer met die hersiene benadering kan begin.

6. Die Kabinet verleen goedkeuring dat die 8ste uitgawe van die Verslag oor Ontwikkelingsaanwysers (2016) vrygestel word. Die verslag fokus op Suid-Afrika se ontwikkeling sedert demokrasie en moniteer die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan: Visie 2030.

7. Die Kabinet verleen goedkeuring aan maatreëls om dissiplinebestuur vir staatsamptenare wat met staatsinstellings sake doen, te versterk. Dit gee uitvoer aan die Staatsdiensregulasies 2016, wat staatsamptenare verbied om sake met die Staat te doen. Vanaf 1 Maart sal Nasionale Tesourie, gerugsteun deur die Departement van Staatsdiens en Administrasie, alle nuwe registrasies op die aanlyn Sentrale Voorsieningsdatabasis teen die Persalstelsel moniteer.

8. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Nuwe Prestasiebestuur- en Ontwikkelingstelsel vir Departementshoofde, wat die verbintenis tussen individuele en organisatoriese prestasie akkuraat weerspieël. Dit tree op 1 April 2018 in werking.

9. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die bekendstelling en implementering van die Raamwerk vir die Staatsdiens se Werwingkema vir Gegradueerdes. Dit maak deel uit van die Staatsdiens se ontwikkelingsprogram om talentvolle gegradueerdes na die Staatsdiens te lok.

Die raamwerk sluit in dat ’n persentasie van elke departement se vakante poste geoormerk word vir die werwing van gegradueerdes in skaars beroepe. Die Minister van die Staatsdiens en Administrasie sal ook hierdie raamwerk met die Jeug-indiensnemingsprogram belyn.

10. Die Kabinet verleen goedkeuring dat die volgende kennisgewings oor die Rasionalisering van Howe se Jurisdiksie in die Staatskoerant gepubliseer word. Dit is daarop gemik om toegang tot die reg te verbeter vir voorheen gemarginaliseerde landelike dorpe met swak dienslewering.  Die rasionalisering sal in landdrosdistrikte in die Vrystaat en Noord-Kaap plaasvind, terwyl sekere landdrosdistrikte uit die Gauteng-afdeling van die Hooggeregshof verplaas sal word na die jurisdiksie van die Noordwes-afdeling van die Hooggeregshof.

11. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Regulasies oor Bemiddelingsreëls ingevolge die Wet op die Beskerming van Belegging, 2015 (Wet 22 van 2015). Die regulasies maak voorsiening dat beleggers wat geskille het oor die regering se optrede wat ’n belegging beïnvloed, die Departement van Handel en Nywerheid (dti) kan versoek om tussenbeide te tree met ’n moontlike bemiddelingsmeganisme.

12. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die sameroeping en aanbieding van die volgende konferensies:

  • Nasionale Gemeenskapswerkersprogram se Raadplegende Konferensie 2018 deur die DOWA.  
  • Internasionale Genootskap van Aanklaers se 23ste Jaarlikse Konferensie, wat deur die Nasionale Vervolgingsgesag in September 2018 in Durban gehou word.
  • 2021 Wêreld-wetenskapforum in Suid-Afrika. Die Departement van Wetenskap en Tegnologie sal met die Wêreld-wetenskapforum se reëlingskomitee gesprek voer oor die moontlike aanbied van die forum.
  • 2017 Afrika Unie (AU) se Hoëvlak-dialoog, aangebied deur die DOWA van 6 tot 8 Desember 2017. 
     

13. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die ontwerp van die reeks gedenkversamelaars- en sirkulasiemuntstukke wat in 2018 uitgereik sal word.
Die ontwerpe van die muntstukke, met hul verklarings, sal in die Staatskoerant gepubliseer word: 

  • 2018 2oz, 22-karaat goue Krugerrand;
  • 2018 24-karaat goue Natura-muntstukke (Opkoms van die dinosourusse – Archosauria);
  • 2018 24-karaat goue R1-muntstukke (Reptiele van Suid-Afrika – die papegaaibek-padloper);
  • 2018 bi-metaal R5-sirkulasiemuntstuk (Nelson Mandela-eeufees);
  • 2018 24-karaat goue en sterlingsilwer Protea-muntstukke (Lewe van ’n Legende – Nelson Mandela);
  • 2018 sterlingsilwer R2-kroon- en 2½-sent-tiekie-muntstukke (Suid-Afrikaanse uitvindings – Gerekenariseerde Tomografie); en
  • 2018 sterlingsilwer muntstukke met kleurafwerking (Voëls en Blomme van die Waterberg-Biosfeerreservaat).

 

B.    Kwessies in die omgewing

14. Uitslae van die Bruto Binnelandse Produk
Die Kabinet is tevrede met Suid-Afrika se ekonomiese groei, wat op ’n jaarbasis bereken, met 2% in die derde kwartaal van 2017 gegroei het van ’n opwaarts hersiene 2,8% in die tweede kwartaal. Die sterker-as-verwagte prestasie is hoofsaaklik te danke aan die volgehoue sterk groei van die landbousektor, wat 0,9 persentasiepunte op grond van kwartaal-op-kwartaalgroei van 44,2%.

Die landbou het goed presteer met drie agtereenvolgende kwartale se robuuste groei danksy hoër produksie van veldgewasse (soos mielies) in somerreënvalgebiede, en tuinbouprodukte. Mynbou en vervaardiging het ook bygedra tot die aangetekende groei, met mynbou en steengroewe wat met 6,6% toegeneem het en 0,5 persentasiepunte tot die groei bygedra het.

Die elektrisiteitsektor was die grootste naloper, wat met 5,5% gedaal het. Groei in huishoudelike verbruik van 2,6% was hoofsaaklik te danke aan besteding aan duursame goedere, wat 1,6 persentasiepunte van die
2,6%-verhoging uitmaak. Sterker as verwagte groei en die opwaartse hersiening tot die groeivlak van die tweede kwartaal beteken dat groei in 2017 0,9% kan bereik.

Dit is hoër as die 0,7% wat tydens die Beleidsverklaring van die Mediumtermyn-begroting verwag is. Die regering moet verseker dat hierdie groeimomentum gehandhaaf word deur die implementering van die 14 maatreëls vir die versterking van vertroue, wat voortbou op die verbetering van verbruikersvertroue en die sakevertroue kan herstel.

15. InvestSA Eenstop-winkel
Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die InvestSA Eenstop-winkel in KwaZulu-Natal deur President Jacob Zuma as deel van pogings om dit makliker te maak om sake in Suid-Afrika te doen. Dit is die derde Eenstop-winkel wat in die land bekendgestel word. Dit is daarop gemik om 'n bevorderlike omgewing te skep deur 'n fokuspunt van kontak vir beleggers te bied waar hulle toegang tot al die nodige dienste kan kry om projekte te bespoedig en die regering se rompslomp te verminder wanneer 'n onderneming begin word.

16. Suid-Afrika–Angola-betrekkinge
Die Kabinet verwelkom die ooreenkomste wat tydens Angola se President João Manuel Gonçalves Lourenço se staatsbesoek aan Suid-Afrika onderteken is. Die volgende ooreenkomste is onderteken: Memorandum van Verstandhouding (MoU) oor die oprigting van 'n Presidensiële Bi-nasionale Kommissie; MoU oor Samewerking op die gebied van die Omgewing; Implementeringsriglyne vir die Visumkwytskelding; Protokol oor Polisiesamewerking; en 'n Ooreenkoms oor Onderlinge Administratiewe Bystand in Doeane-aangeleenthede.

17. Vyfde Spitsberaad van die AU-Europese Unie (EU)
Die Kabinet verwelkom die resultate van die Vyfde AU-EU-Spitsberaad. Die beraad het 'n geleentheid vir Suid-Afrika gebied om strategiese ekonomiese en diplomatieke betrekkinge te bevorder deur middel van verskeie besprekings by die beraad en tydens kantlynbyeenkomste soos die Sakebestuurs- en Jeugberaad, met die klem op inklusiewe ekonomiese groei, jeugwerk en entrepreneurskap.

18. Slawehandel van migrante uit Afrika
Die Kabinet veroordeel saam met die internasionale gemeenskap die berigte van die opveiling van Afrika-migrante in Libië as slawe. Sulke onmenslike dade is teenstrydig met die ideale van die AU, en soortgelyke Afrika- en internasionale instrumente soos die Afrika Handves vir Menseregte en Volkeregte.

Die Kabinet verwelkom die owerheid se aankondiging dat hulle 'n transito- en vertrekfasiliteit in Tripoli sal opstel vir vlugtelinge en migrante wat internasionale beskerming nodig het.

19.   Uitbreek van Listeriosis
Die Kabinet doen 'n beroep op mense om die nodige voorsorgmaatreëls te tref – soos om hul hande te was voordat hulle kos voorberei en rou of ongekookte kosse te vermy – om die verspreiding van Listeriosis te bekamp, terwyl ondersoeke voortgesit word om die bron van die bakterieë te vind.

Die siekte word veroorsaak deur bakterieë wat in grond, water, plantegroei en nie-gepasteuriseerde suiwelprodukte voorkom, en kan lei tot griepagtige simptome met diarree. Dit kan met antibiotika suksesvol behandel word, indien dit vroeg opgespoor word.

Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om water steeds spaarsamig te gebruik, aangesien droogtetoestande voortduur. Ondanks die onlangse reën, daal damvlakke steeds landwyd. Dit is as gevolg van die hoë temperature asook die gebrek aan konsekwente reën.

Die Kabinet is bemoedig deur progressiewe onderhandelinge met munisipaliteite wat diep in die skuld is om 'n oplossing vir hul munisipale skuld te vind.

C. Wetsontwerpe
20. Die Kabinet het die voorlegging van die volgende wetsontwerpe aan die Parlement goedgekeur.
20.1. Wysigingswetsontwerp op Maatskaplike Hulp van 2017
Die wetsontwerp maak voorsiening vir verbeterde voordele rakende kindertoelae vir wees- en kwesbare kinders, insluitend dié in huishoudings met kinders aan die hoof. 
20.2. Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns van 2017
Die wetsontwerp herroep die huidige Wet op Eiendomsagentskapsake, 1976 Wet 112 van 1976). Dit skep ‘n bemagtigingsregulerende omgewing om ekonomiese aktiwiteit binne die eiendomsbesdryf te verbeter en gee ook aandag aan die behoefte om die sektor te transformeer.
20.3. Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk van 2016
Die wetsontwerp versterk die huidige Wet op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk, 2008 (Wet 67 van 2008). Dit stel maatreëls voor om kwessies van wanvoorstelling te hanteer en lê gevolge op aan mense wat hulle kwalifikasies wanvoorstel of organisasies wat ongeldige kwalifikasies uitreik.
20.4. Wetsontwerp op Internasionale Misdaad van 2017
Die wetsontwerp voorsien ‘n verbeterde wetgewende raamwerk vir die hantering van internasionale misdaad wat in Suid-Afrika en oor ons grense gepleeg word. Dit voorsien ook verbeterde beskerming en geregtigheid vir slagoffers van internasionale misdaad.

D. Boodskappe
21. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan:
21.1. President Uhuru Kenyatta met sy inhuldiging as die President van die Republiek van Kenia en sy tweede termyn in die regering. Die Kabinet sien daarna uit om voort te bou op die goeie betrekkinge tussen ons twee lande.
21.2. President Emmerson Dambudzo Mnangagwa met sy inhuldiging as President van die Republiek van Zimbabwe. Die Kabinet sien uit daarna om voort te bou op sterk werksbetrekkinge met die regering van Zimbabwe.
21.3. Majoor Seitebatso Pearl Block met die toekenning as die Verenigde Nasies (VN) se Militêre Geslagsvoorstander (“Gender Advocate”) van die Jaar. Die toekenning erken die toewyding en pogings van 'n individuele vredemaker in die bevordering van die beginsels soos vervat in die VN-Veiligheidsraad se Resolusie 1325, ingevolge waarvan alle partye in konflik gevra word om vroue en meisies te beskerm teen seksuele en geslagsgebaseerde geweld.
21.4. Ladysmith Black Mambazo met hul twee nominasies vir die 2018 Grammy-toekennings. Die eerste een is in die kategorie vir Beste Wêreldmusiek-album vir hul album Shaka Zulu Revisited: 30th Anniversary Celebration, en die tweede is in die kategorie vir Beste Kinderalbum vir Songs of Peace & Love vir kinders en ouers regoor die wêreld. Die Grammy-toekenningseremonie sal op 28 Januarie 2018 plaasvind.
21.5. Chad Le Clos, die eerste manlike swemmer wat vier FINA-Wêreldbeker Swemreekstitels gewen het. Ons is trots op sy prestasie en is vol vertroue dat hy sal voortgaan om Suid-Afrika met onderskeiding te verteenwoordig.
21.6. SuperSport United, wat die eindstryd van die Konfederasie van Afrika-sokker se Konfederasiesbeker gehaal het.
21.7. Mej. Suid-Afrika, Demi-Leigh Nel-Peters, wat onlangs as Mej Heelal gekroon is by die 66ste byeenkoms in die Verenigde State van Amerika.
21.8. Dr Nkosazana Dlamini-Zuma, wat 'n Toekenning vir Lewenslange Prestasie ontvang het van die Globale Forum vir Vroue Politieke Leiers.

22. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan:
22.1. Die regering en die mense van Egipte ná 'n terroriste-aanval op 'n moskee in die Sinaï-skiereiland, waartydens meer as 300 mense gesterf het en verskeie gewond is. Die Kabinet veroordeel hierdie sinnelose aanval op onskuldige burgers.
22.2. Die regering en die mense van Nigerië, waar 'n selfmoordbom op 21 November 2017 ontplof het en meer as 50 mense gesterf het en baie beseer is. Die Kabinet beklemtoon sy oortuigde en ondubbelsinnige veroordeling van terrorisme en gewelddadig ekstremisme.
22.3. Die familie en vriende van dr Mochubela 'Wesi' Seekoe, bevrydingstrydveteraan en voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in die Russiese Federasie. Hy het die land met onderskeiding as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Rusland gedien en ook as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kern-energiekorporasie. President Zuma het 'n spesiale provinsiale amptelike begrafnis vir hom verklaar.
22.4. Die familie en vriende van mnr Eddie Daniels, ’n getroue vryheidsvegters en gewese gevangene op Robbeneiland, wat onlangs oorlede is. Hy sal onthou word vir sy onbaatsugtige toewyding en diens aan die mense van Suid-Afrika.
22.5. Die familie en vriende van die Minister van Verdediging en Militêre Veterane, me Nosiviwe Mapisa-Nqakula, met die afsterwe van haar pa, mnr Douglas Mapisa. Hy het op die ouderdom van 96 in die Cecilia Makiwane-hospitaal in Oos-Londen, Oos-Kaap gesterf.

E. Toekomstige gebeure
23. Herdenking van die Nelson Mandela Eeufees
Die Kabinet gedenk saam met alle Suid-Afrikaners die vierde herdenking van Nelson Mandela se afsterwe op 5 Desember 2013. In 2018 sal die land die Mandela se eeufees vier en alle Suid-Afrikaners word aangemoedig om deel te neem aan dié jaarlange herdenking om hulde te bring aan een van Afrika se grootste geeste.

Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners vir hul deelname aan die verskillende OR Tambo-gedenkgeleenthede regoor die land en sien uit na dieselfde vlak van deelname wanneer ons hulde bring aan ons ikoon en Suid-Afrika se eerste demokraties verkose president, Madiba.

24. Feesseisoen
Die Kabinet wens alle Suid-Afrikaners 'n vreugdevolle en veilige feestyd toe. Ons doen ’n beroep op diegene wat beplan om per motor te reis om te verseker dat hul voertuie padwaardig is. Alle padgebruikers, bestuurders sowel as voetgangers, moet die padreëls gehoorsaam.

Die Minister van Vervoer, mnr Joe Maswanganyi, het die Arrive Alive-veldtog in Bela-Bela, Limpopo, op 5 Desember van stapel gestuur. Die SAPD stel sy landwye veldtog vir 'n veiliger feestyd in werking en almal het 'n verantwoordelikheid om hulle te ondersteun deur wetsgetrou en verantwoordelik te wees.

Die Departement van Binnelandse Sake sal die 2017/18-feestydplanne vir die Suid-Afrikaanse grensgebiede aankondig. Dit is om te verseker dat die beweging van mense en goedere binne en buite Suid-Afrika se grense gedurende hierdie spitstydperk doeltreffend bestuur word en glad verloop.

Ons doen ook 'n beroep op ouers en voogde om nie hul kinders sonder toesig alleen te laat nie, aangesien dit elke ouer en voog se plig is om hul kinders te versorg en te koester.

Die Kabinet is tevrede dat die matriekeksamens sonder beduidende insidente afgeloop het en wens die klas van 2017 sterkte toe terwyl hulle vir hul finale uitslae wag.

F. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

25. Me Ilise Karg as die dti se verteenwoordiger op die Nasionale Adviesraad vir Innovasie.
26. Raad van Trustees van die Nasionale Bemagtigingsfonds:
26.1. Me Nonkqubela Helen Maliza;
26.2. Me Lerato Cynthia Molefe;
26.3. Me Nthabiseng Mateboho Moleko;
26.4. Mnr Ernest Kwinda; en
26.5. Mnr Sipho Zikode (dti-verteenwoordiger).
27. Mnr Sandile Mkhize, as Hoof Uitvoerende Beampte van Magalies Water.
28. Mnr Wiseman Mkhize, as Raadslid van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika.
29. Mnr Phakamani Buthelezi, as Hoof Uitvoerende Beampte van Overberg Water.
30. Advokaat Samuel Vukela, as Direkteur-generaal (DG) van die Departement van Openbare Werke.
31. Me Brenda Sibeko, as Adjunk-DG (ADG) vir Omvattende Sosiale Sekuriteit in die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
32. Mnr Zephania Nhleko, as ADG vir Ekonomiese Beplanning en Koördinering in die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling.
33. Mnr Mandla Victor Ngcobo, as ADG: Hoof-inligtingsbeampte in die Departement van Staatsdiens en Administrasie.

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Direkteur-Generaal (GCIS)
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore