Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 23 Mei 2018

Die Kabinet het op Woensdag, 23 Mei 2018, by Tuynhuys, Kaapstad vergader.
    
A. Kwessies in die omgewing
1.  Geslagsgebaseerde geweld (GGG)
1.1. Die Kabinet veroordeel enige geweld teen vroue en kinders ten sterkste. Die jongste gevalle soos dié van Nonkululeko Mpanza en Nompumelelo Mhlongo in Thokoza, Ekurhuleni; Katlego Joja in Mamelodi, Tshwane; Promise Mthembu in KwaZulu-Natal; en Jabulile Nhlapo, die Unisa-student, bring die vlak van geweld wat die lewens van ons vroue en kinders bedreig, skerp na vore.

1.2. Die Kabinet betuig sy innigste meegevoel met die families en vriende van hierdie vroue en kinders. Die kwessie van misdaad teen vroue en kinders vereis dat ons almal aktief betrokke moet wees by die stryd.

1.3. Die Kabinet versterk steeds wetstoepassingsagentskappe om hulle toe te rus vir die stryd teen GGG. Onder die wetsontwerpe wat onlangs deur die Kabinet goedgekeur is, is die Wysigingswet op die Strafproseswet van 2018, wat die Strafproseswet, 1977 (Wet 51 van 1977) wysig. Die wetsontwerp sal die lys van seksuele misdrywe wat vervolg kan word, uitbrei, wat beteken dat seksuele sake selfs ná 20 jaar in die howe aangehoor sal kan word.

1.4. Hierdie tussenkomste is bykomend tot verskeie maatreëls wat deur die regering in plek gestel is. Altesaam 54 Thuthuzela-sorgsentrums is reeds regdeur die land geopen wat as eenstopfasiliteite dien om sekondêre viktimisasie te verminder en die tydperk waarbinne seksuele sake afgehandel word, te verminder.

1.5. Altesaam 75 toegewyde howe vir seksuele misdrywe is deur die regering gevestig om sake van seksuele geweld teen vroue beslissend te hanteer. Verder het die Suid-Afrikaanse Polisiediens 1 047 toegewyde fasiliteite vir GGG-slagoffers by polisiestasies landwyd ingestel, waar spesiale voorsiening vir slagoffers gemaak word en bystand gebied word.

1.6. Kinderbeskermingsweek word van 27 Mei tot 2 Junie 2018 gehou. Die Kabinet doen 'n beroep op ouers, voogde en gemeenskappe om met wetstoepassingsagentskappe saam te werk om ons kinders te beskerm. Die Kabinet herhaal sy dringende oproep aan mense wat vermoed dat hul kinders vermis is, om dit dadelik by hul naaste polisiestasie aan te meld.

1.7. As 'n vredeliewende en wetsgehoorsame samelewing, moet ons saamwerk om misdade teen vroue en kinders stop te sit. Die Kabinet doen 'n beroep op almal wat bewus is van enige misdade teen kinders om die tolvrye Childline te kontak by 0800 055 555 of die Crime Stop-noodlyn by 086 0010111. As jy 'n vrou in nood is of as jy bewus is van 'n vrou in nood, skakel die GGG-beheersentrum se tolvry nommer by 0800 428 428 of (0800 GBV GBV).

1.8. Die Kabinet doen 'n beroep op almal in die land om saam te werk en meer te doen om geweld teen vroue en kinders te voorkom, om oorlewendes van mishandeling te ondersteun en om oortreders voor die gereg te bring. Dit is elkeen van ons se plig om mense wat vroue en kinders seermaak, uitbuit of mishandel by die owerhede aan te gee, sodat die oortreders in hegtenis geneem en skuldig bevind kan word.

2. Ekonomie
Die Kabinet verwelkom die positiewe groei in indiensneming. Die jongste jaarlikse arbeidsmag-opname, wat deur Statistiek Suid-Afrika vrygestel is, dui daarop dat 206 000 werksgeleenthede in die eerste kwartaal van 2018 geskep is. Die opswaai in indiensneming is gedryf deur toenames in ses van die 10 nywerhede. Die werkloosheidsyfer onder ons jongmense bly egter hoog op 52,4%, met 'n absorpsiesyfer van slegs 12,2%. Die Kabinet doen ’n beroep op alle sektore van die samelewing om steeds saam te werk om jeugwerkloosheid die hoof te bied.

In die gees van 'Thuma Mina - Stuur My', geïnspireer deur President Cyril Ramaphosa in sy eerste staatsrede in Februarie 2018, doen die Kabinet ’n beroep op alle Suid-Afrikaners, veral in die private sektor, om werk te skep en plaaslik te belê sodat meer Suid-Afrikaners by die ekonomie betrek kan word.

3. Energie
Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Xina Solar One gekonsentreerde sonkragprojek in die Noord-Kaap as 'n belangrike mylpaal. Dit is een van sewe gekonsentreerde sonkragprojekte onder die Departement van Energie se Hernubare Energie Onafhanklike Kragprodusente Verkrygingsprogram. Die Xina Solar One-aanleg sal skoon energie aan Eskom verskaf as deel van 'n 20-jaar-kragooreenkoms. Dit sal beteken dat 95 000 Suid-Afrikaanse huishoudings skoon energie sal ontvang, veral tydens spitstye.

4. Noordwes
4.1. Die Kabinet het 'n tweede verslag van die Interministeriële Komitee in Noordwes ontvang en is tevrede met die vordering wat met die stabilisering van die provinsie gemaak word.

4.2. In sy vorige vergadering het die Kabinet goedgekeur dat Noordwes onder Artikel 100 (1) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 geplaas word. Die Kabinet het ook die Interministeriële Komitee vergroot deur meer lede aan te stel, naamlik die ministers van Basiese Onderwys; Staatsdiens en Administrasie; Menslike Nedersettings; Sosiale Ontwikkeling; Toerisme; Omgewingsake; en Vervoer.

4.3. Die Interministeriële Komitee is gevra om die provinsie verder te ondersoek en die Kabinet te adviseer oor watter van die provinsiale departemente onder Artikel 100 (1) (a) of Artikel 100 (1) (b) van die Grondwet geplaas behoort te word.

4.4. Na aanleiding van hierdie ondersoeke het die Kabinet goedgekeur dat vyf van die provinsiale departemente onder Artikel 100 (1) (b) geplaas word, naamlik die:
(1) Kantoor van die Premier;
(2) Departement van Gemeenskapsveiligheid en Vervoerbestuur;
(3) Departement van Basiese Onderwys en Sportontwikkeling;
(4) Departement van Gesondheid; en die
(5) Departement van Openbare Werke en Paaie.

Vyf departemente moet onder artikel 100 (1) (a) geplaas word, naamlik die:
(1) Departement van Finansies, Ekonomie en Ondernemingsontwikkeling;
(2) Departement van Plaaslike Regering en Menslike Nedersettings;
(3) Departement van Landelike, Omgewings- en Landbou-ontwikkeling;
(4) Departement van Maatskaplike Ontwikkeling; en die
(5) Departement van Toerisme.

Die Kabinet keur goed dat die nodige korrespondensie aan die Nasionale Raad van Provinsies gestuur word en dat daar met die betrokke belanghebbers in Noordwes gekommunikeer word. Die ondersoeke deur die Justisie-, Misdaadvoorkomings- en Veiligheidskluster gee steeds aandag aan al die sake waarby wetstoepassingsagentskappe betrokke moet raak.

5.  Internasionale Betrekkinge
5.1. Die Kabinet veroordeel die geweldadige optrede deur Israeliese gewapende magte langs die Gaza-grens, wat tot die dood van talle mense gelei het, ten sterkste. Gegewe die onoordeelkundige en ernstige wyse waarop die jongste Israeliese aanval uitgevoer is, het die Suid-Afrikaanse regering besluit om die ambassadeur, Sisa Ngombane, tot verdere kennisgewing te herroep.

5.2.  Die Kabinet doen 'n beroep op Israel se Weermag om uit die Gazastrook te onttrek en die gewelddadige en vernietigende invalle in Palestynse gebiede te beëindig. Hul roetine-optrede is net nog 'n struikelblok in die pad na 'n permanente oplossing vir die konflik, wat slegs beëindig kan word deur die vestiging van twee afsonderlike state, naamlik Palestina en Israel, wat naas mekaar in vrede bestaan.

5.3.  Die Kabinet herhaal die oproepe deur verskeie lidlande van die Verenigde Nasies vir 'n onafhanklike ondersoek na die moorde sodat die verantwoordelike party aanspreeklik gehou kan word.

6. Transitorooftogte
Die Kabinet is diep besorg oor die nuwe vlaag van transitorooftogte en veroordeel hierdie blatante kriminaliteit ten sterkste. Ons loof wetstoepassingsagentskappe vir hul spoedige optrede om die verdagtes vas te trek en bedank lede van die publiek wat wetstoepassers hiermee help.

Enigiemand wat vooraf inligting oor moontlike insidente het, word dringend versoek om wetstoepassers daaroor in te lig.

B. Kabinetsbesluite
7.  Presidensiële Raad vir Ondernemings in Staatsbesit (PSEC)
Die Kabinet verleen goedkeuring aan die vestiging van die PSEC, met President Ramaphosa as voorsitter. Die breë opdrag is om die ondernemings in staatsbesit (SOE's) as doeltreffende instrumente van ekonomiese ontwikkeling te herposisioneer.

Die PSEC sal politieke toesig en strategiese bestuur voorsien. Dit sal onder meer daarop fokus om die bestuursraamwerk van die SOE's te versterk en te verseker dat spesifieke tussenkomste geïmplementeer word om hierdie maatskappye te stabiliseer.

Lede van die PSEC sal gekies word uit toepaslike ministers en kundiges, sowel as uit die arbeidsektor en die burgerlike samelewing. Die name van die PSEC-lede sal weldra aangekondig word. Die PSEC sal voortbou op die werk van die IMC – SOE, wat in Februarie 2015 onder voorsitterskap van die Adjunkpresident gestig is.

8. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Beleid vir Intellektuele Eiendom (IE) van die Republiek van Suid-Afrika - Fase 1. Die beleid het insette van die belanghebbendes se voorleggings en voorstellings ingesluit. Dit reageer op die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se oproep vir groter klem op innovasie, verhoogde produktiwiteit en meer daadwerklike optrede in die strewe na 'n kennisekonomie.

Die IE beleidsfase word onder meer deur die Grondwet, die NOP, die Nasionale Dwelmmeesterplan, die Nasionale Nywerheidsbeleidraamwerk en die verskillende herhalings van die beleidsplan vir nywerheidsbeleid ingelig.
Dit sal as 'n belangrike beleidsinstrument dien ter bevordering van innovasie, tegnologie-oordrag, navorsing en ontwikkeling, kreatiewe uitdrukking, verbruikersbeskerming, industriële ontwikkeling en, meer algemeen, ekonomiese groei.

9.  Die Kabinet keur die bekragtiging van die Verdrag oor die Verbod op Kernwapens deur die Parlement goed. Die verdrag is die gevolg van die humanitêre inisiatief oor kernwapens wat in 2010 van stapel gestuur is. Dit is 'n strategiese ingryping op die gebied van kernontwapening en die langdurige impasse in multilaterale kernwapenonderhandelings.

Die Verdrag is ten volle belyn met Suid-Afrika se jarelange ontwapeningsbeleid, huishoudelike wetgewing en internasionale verpligtinge.

10.  Die Kabinet keur goed dat die Wysiging van die Konvensie oor die Fisiese Beskerming van Kernmateriaal, in die Parlement ter tafel gelê word.
Die Konvensie oor die Fisiese Beskerming van Kernmateriaal is die enigste wetlik bindende internasionale instrument op die gebied van fisiese beskerming van kernmateriaal. Die gewysigde konvensie is 'n belangrike mylpaal in internasionale pogings om die fisiese beskerming van kernmateriaal en -fasiliteite te versterk deur gemeenskaplike standaarde van beskerming vas te stel.

Dit dek onder meer die fisiese beskerming van kernmateriaal vir huishoudelike gebruik, berging en vervoer, en die beskerming van kernmateriaal en fasiliteite teen sabotasie.

11.  Die Kabinet keur goed dat die Kantoor van die Militêre Ombud as mede-gasheer optree vir die 10de Internasionale Konferensie van die Gewapende Magte se Ombudsinstellings, wat vir Oktober 2018 geskeduleer is.
Dit is 'n jaarlikse gebeurtenis wat gereël word deur die Sentrum vir die Demokratiese Beheer van die Gewapende Magte, wat in Genève, Switserland gebaseer is en sal vir die eerste keer in Afrika aangebied word.  

C. Wetsontwerpe
12.  Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Mediese Skemas van 2018 in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer word.
Die Wetsontwerp wysig die Wet op Mediese Skemas van 1998 (Wet 131 van 1998) om dit in lyn te bring met die Witskrif oor Nasionale Gesondheidsversekering (NHI) en die Konsepwetsontwerp op NHI-befondsing. Die wetsontwerp poog om onder meer die regulering van die medieseskemabedryf te verbeter en die reguleringsraamwerk aan te pas by die veranderinge wat die afgelope dekade in die sektor plaasgevind het.

Die wetsontwerp sal ook verseker dat begunstigdes beter beskerm word en beter toegang tot private gesondheidsbefondsing kry.

13. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Staatsaanspreeklikheid van 2018 aan die Parlement voorgelê word vir goedgekeuring. Die Wetsontwerp wysig die Wet op Staatsaanspreeklikheid van 1957. Dit sal voorsiening maak vir ’n vereffeningstruktuur vir eise wat teen die Staat ingedien word in gevalle waar mense verkeerde mediese behandeling deur staatsamptenare ontvang het. Die wysigings sal die impak van enkelbedragbetalings op die begrotings van openbare hospitale verminder.

Dit sal ook die finansiële hulpbronne wat aan provinsiale hospitale beskikbaar is om gesondheidsdienste te verskaf, versterk.

14.  Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op Nasionale Klimaatsverandering van 2018 vir openbare kommentaar gepubliseer word. Die Wetsontwerp maak voorsiening vir die belyning van beleid wat Suid-Afrika se reaksie op klimaatsverandering beïnvloed.

Dit is 'n bykomende stap in Suid-Afrika se pogings om die Beleid oor die Reaksie op Nasionale Klimaatsverandering in werking te stel. Dit sal volhoubare ontwikkeling bevorder en sal voldoen aan die reg op 'n omgewing wat nie skadelik vir gesondheid of welsyn is nie, soos in ons Grondwet vervat.

15.  Die Kabinet keur goed dat die Strafproseswysigingswet van 2018, wat die Strafproseswet van 1977 wysig, aan die Parlement voorgelê word.
Die voorgestelde wysigingswetsontwerp sal die lys van seksuele misdrywe wat vervolg kan word uitbrei, wat dit moontlik sal maak om ’n aanklag selfs na verloop 20 jaar in te stel. Die wysigings gee uiting aan die uitspraak van die Suid-Gautengse hooggeregshof in die Levenstein-saak.

Die saak het verklaar dat artikel 18 van die Strafproseswet van 1977 teenstrydig is met die Grondwet. Dit is ongeldig verklaar in die sin dat dit onder alle omstandighede die reg uitsluit om alle seksuele misdrywe te vervolg, behalwe dié wat in artikel 18 (f), (h) en (i) van hierdie Wet gelys is, na verloop van 20 jaar vanaf die datum waarop die misdryf gepleeg is.

Die wysigings sal aan die Nasionale Vervolgingsgesag wyer magte gee om seksuele misdrywe ooreenkomstig Hoofstuk 2 van die Grondwet te vervolg.

D.  Toekomstige gebeure
16. Nelson Mandela Afrikadag-eeufeeslesing
President Ramaphosa sal die Nelson Mandela Afrikadag-eeufeeslesing tydens die Afrika Renaissance-konferensie op 24 Mei 2018 by die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konvensiesentrum in Durban lewer.
Die gebeurtenis maak deel uit van die jaarlange eeufeesvierings oor die hele Afrika-vasteland en wêreldwyd, van die lewe van ons eerste demokratiese president, Tata Nelson Rolihlahla Mandela, sowel as dié van ’n ikoon van die vryheidstryd, Mama Albertina Nontsikelelo Sisulu.

17. Afrikadag
Afrikadag word jaarliks op 25 Mei oor die vasteland gevier om die stigting van die destydse Organisasie vir Afrika-eenheid - nou bekend as die Afrika-unie - in 1963 te herdenk. Dit vier Afrika se diversiteit en is 'n aansporing tot eenheid op die vasteland.
Suid-Afrika vier Afrikadag met 'n maandlange Afrikamaand-fees van feestelike en opvoedkundige aktiwiteite met politieke en sosio-ekonomiese voordele vir die mense van Suid-Afrika en die vasteland. Die tema vir Afrikamaand is: "'n Jaar van Nelson Mandela – Bou ’n beter Afrika en 'n Beter Wêreld".

E.  Boodskappe
18. Meegevoel
Die Kabinet betuig sy meegevoel met die familie en vriende van die ontslape veteraanfotograaf en ontvanger van die Nasionale Orde van Ikhamanga, Mnr Sam Nzima, wat met sy kamera die brutaliteit van die apartheidsregering blootgestel het. Hy sal veral onthou word vir sy ikoniese foto van Hector Pieterson op 16 Junie 1976, wat die wêreld gedwing het om kennis te neem en op te tree teen die wreedhede van die apartheidsregime

Die Kabinet betuig sy diepe meegevoel met die familie van Dr Phillip Nchipi Tabane, wat op 18 Mei 2018 oorlede is na ‘n lang siekbed. Hy was ’n stigterslid van die Malombo Jazzmen en een van Suid-Afrika se talentvolste musikante.  
Die Kabinet betuig sy meegevoel met die familie en vriende van Mnr Sonwabo Eddie Funde, die voormalige Suid-Afrikaanse Ambassadeur in Duitsland en Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se direksie.

Die Kabinet is diep bedroef oor die dood van twee jong meisies in Durban wat gesterf het toe ‘n muur op hulle ineengestort het. Ons betuig ons innige meegevoel teenoor hulle families.

19. Gelukwense
Die Kabinet prys Vusumuzi Ndlovu wat die sewende plek behaal het in die S. Pellegrino Jong Sjef 2018-kompetisie, wat onlangs in Milaan gehou is. Suid-Afrika is trots op Ndlovu se prestasie.
Die Kabinet wens die nuutbekroonde Internasionale Boksfederasie (IBF)‚ Wêreld Boksvereniging (WBA), Super- en die Ring-tydskrif se junior vlieggewig bokskampioen Hekkie "Hexecutioner" Budler, geluk met sy prestasie. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat gelyktydig met twee belangrike wêreldtitels bekroon is toe hy die IBF en WBA junior vlieggewigtitels ingepalm het.

F. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die nodige klaring.
20. Me Boitumelo Mosako as Hoof Finansiële Beampte by die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika.
21. Nie-uitvoerende direkteure van die Land- en Landbou-ontwikkelingsbank se direksie:
a.  Mnr Mabotha Arthur Moloto (heraanstelling en voorsitter);
b.  Me Dudu Hlatshwayo (heraanstelling en ondervoorsitter);
c.  Me Susan Ann Lund (heraanstelling);
d. Me Matome Sydney Makgoba; en
e.  Dr Steven Thomas Cornelius.

22. Suid-Afrikaanse Toerismeraad:
a.  Dr Tanya Ethel Abrahamse (heraanstelling);
b.  Mnr Enver Duminy (heraanstelling);
c.  Me Michelle Julie Constant (heraanstelling);
d.  Mnr Thebeetsile Ikalafeng (heraanstelling);
e.  Mnr Yacoob Abba Omar (heraanstelling);
f.  Mnr Monwabisi Peter Fandeso (voorsitter);
g.  Me Pamela Bulelwa Yako;
h.  Me Kathleen Elizabeth Rivett-Carnac;
i.  Me Dawn Elizabeth Robertson;
j.  Mnr Ravi Nadasen;
k.  Me Lindiwe Sangweni-Siddo;
l.  Mnr Mohamed Baba; en
m.  Me Nomzamo Bhengu (Departement van Toerisme, verteenwoordiger).

23. Mnr Dinizulu Kumalo Percival Sechemane as die Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van Rand Water.
 
24. Advokaat (Dr) Seswantsho Godfrey Lebeya as die Nasionale Hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek.

25. Mnr Goodman Ntandazo Vimba as HUB van die Munisipale Agentskap vir Ondersteuningsinfrastruktuur by die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake.

26. Mnr Lindokuhle Cedric Mkhumane as die Adjunk Direkteur-Generaal: Ondernemingsontwikkeling en Entrepreneurskap by die Departement van Kleinsake-ontwikkeling.

27. Mnr Phakamani Hadebe as die Groep Hoof Uitvoerende Beampte van Eskom Holdings SOC Bpk (Eskom) en ex officio lid (uitvoerende direkteur) van die Direksie.

28. Nie-uitvoerende direkteure van SA Express se direksie:
a.    Me Mmakeaya Magoro Tryphosa Ramano (voorsitter);
b.    Mnr Ronald Ozzy Lamola;
c.    Mnr Thulani Matiki Norman Kgomo;
d.    Me Thandiwe January-McLean;
e.    Mnr Kugan Harikrishna Thaver;
f.    Mnr Bongisiwe Mpondo;
g.    Me Hlengiwe Thandeka Makhathini;
h.    Dr Thabi Leoka;
i.    Mnr Ahmed Ismail Bassa; en
j.    Mnr Trevor Abrahams (heraanstelling).

29.    Nie-uitvoerende diekteure van Transnet se direksie:
a.    Mnr Popo Molefe (voorsitter);
b.    Me Mpho Emily Letlape;
c.    Mnr Louis Leon von Zeuner;
d.    Me Ursula Nobulali Fikelepi;
e.    Me Dimakatso Catherine Matshoga;
f.    Me Ramasela Joyce Ganda;
g.    Prof Edward Christian Kieswetter;
h.    Mnr Aluwani Percy Ramabulana;
i.    Dr Fholisani Sydney Mufamadi;
j.    Me Vivien McMenamin;
k.    Advokaat Oupa Motaung; en
l.    Me Gratitude Ramaphaka.

Navrae: Me Phumla Williams – Waarnemede Kabinetswoordvoerder
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore