C Dowry: Opening of laboratory for Western Cape Veterinary Services
(Afrikaans)

Opening van laboratoriumgeriewe vir Veeartsenydienste van die
Wes-Kaap deur Cobus Dowry, Wes-Kaapse Minister van Landbou

1 September 2006

Die uitbreek van siektes onder diere en die gepaardgaande gevolge kan
katastrofiese afmetings aanneem binne die landbousektor. Nie alleen kan dit vir
boere miljoene rande se verlies aan inkomste veroorsaak nie, maar kan dit ook
die verlies van duisende werksgeleenthede tot gevolg hê.

Ons weet almal dat die voëlgriep wat in Julie 2004 op twee volstruisplase in
die Oos-Kaap gevind is, gelei het tot 'n 15-maande lange verbod op die uitvoer
van volstruisvleis. Hierdie verbod het 'n R700 miljoen verlies tot gevolg
gehad. Sowat 4 000 werksgeleenthede is ook in die proses verloor.

Die Wes-Kaap is die hartland van die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf met
sowat 70% van die totale produksie wat hier plaasvind. Die Suid-Afrikaanse
volstruisbedryf verskaf werk aan sowat 16 000 mense en verdien R1,2 miljard per
jaar aan buitelandse valuta vir die land. Dit is 'n bedryf wat 90% uitvoergerig
is.

Die afgelope jaar, 18 maande het ons met verskeie ander dreigende rampe te
make gehad, in die vorm van Europese varkpes en Afrika perdesiekte.

Siektevoorkoming en -beheer is in 'n groot mate afhanklik van goeie
voorligting aan alle boere, beide gevestigde en nuwe toetreders. Terselfdertyd
is vinnige optrede wanneer daar tekens van 'n moontlike uitbraak van een of
ander siekte is, van kardinale belang.

It is of utmost importance that we conduct regular testing to monitor for
the presence of important diseases such as bovine tuberculosis, avian
influenza, classical swine fever and others, on an ongoing basis.

As a result of intensive testing for avian influenza and classical swine
fever the province can claim freedom of these diseases. We have started in the
current financial year with the testing of cattle of emerging farmers on the
Cape Flats for bovine tuberculosis and brucellosis. This testing is done free
of charge and has become possible with the mobile handling facility acquired by
the department. At the same time emerging farmers will be given information
regarding basic disease prevention measures that should be taken.

Uitvoere is egter ook afhanklik van gereelde inspeksies van
uitvoerslagfasiliteite deur beamptes van Veeartsenydienste waartydens
voorgeskrewe monsters by hierdie fasiliteite geneem word vir
laboratoriummonitering van higiëne. Sonder hierdie aksies word vleis nie
aanvaar in lande waarheen dit uitgevoer word nie. Die gereelde monitering vir
belangrike siektes soos voorheen genoem dra ook by tot die aanvaarding van ons
vleisprodukte in die buiteland. Om kompeterend te wees in die internasionale
arena is dit noodsaaklik dat ons op die voorpunt sal bly.

Ons het hierdie jaar R25 673 miljoen vir ons Veeartsenydienste in ons
begroting toegeken sodat ons hoofsaaklik vyf baie belangrike aspekte kan
aanspreek, naamlik: dieresiektevoorkoming en -beheer, voortdurende monitering
vir verskeie belangrike siektes, uitvoerfasilitering, veiligheid van
vleisprodukte en laboratorium- diagnostiese dienste.

Goeie, goedtoegeruste laboratoriums speel 'n belangrike rol in die
effektiwiteit van ons dienste aan ons kliënte en daarom het ons dan ook ons
laboratoriumfasiliteite uitgebrei en is dit vir ons aangenaam om hierdie
fasiliteite vandag amptelik te open.

Nuwe tegnologie het tot gevolg dat nuwe tegnieke gesien word as die norm vir
sekere diagnostiese toetse. PKR (polimerase ketting reaksie) toetse word
gebruik vir die identifikasie van veral virusse. Die tegniek is nie goedkoper
ten opsigte van reagense en toetse nie, maar is vinnig, meer sensitief en meer
spesifiek. Hierdie nuwe seksie van die laboratorium is ook bedoel om die
aangrensende provinsies te bedien as deel van die drie-provinsie samewerking.
Omdat die laboratoriums wat die tegniek uitvoer beperk is, word daar tans
dikwels vertragings ondervind met die verkryging van resultate. Weens die
delikate aard van die prosedures is dit nodig om baie spesifieke beheer te
verkry oor die toegang tot die verskillende vertrekke en hiervoor is daar 'n
rekenaarbeheerde stelsel in plek geplaas. Daar sal begin word met toetse vir
voëlgriepvirus en daarna vir Newcastle-siekte- en Afrika perdesiektevirusse.
Hierdie seksie is reeds volledig toegerus met apparaat.

Weens die vereistes van die Europese Unie (EU) vir vleis en ook om die
veiligheid van dierlike produkte vir interne gebruik te verseker is dit nodig
om vir residue van middels en toksiese stowwe te toets. Tans word hierdie
toetse by een of twee laboratoriums gedoen en duur dit tot 12 maande voordat
resultate beskikbaar word. 'n Voorlegging is reeds na die EU-verteenwoordiger
om fondse te beding vir die aankoop van toerusting. Die laboratoriumruimte is
nou geskep om sulke toerusting te huisves. Hierdie is weer eens 'n aksie wat
deel uitmaak van die samewerking tussen die provinsies.

Vir beide PKR-werk en residu bepalings word water suiwering van 'n besondere
mate benodig. Ook hiervoor is ruimte beskikbaar en is die toerusting reeds in
plek. In dieselfde vertrek word toerusting vir die vriesdroog van serum en
isolate gehuisves.

Monsters waarop toetse uitgevoer word, moet behou word vir 'n periode sodat
dit weer kan benut word indien hertoetsing of alternatiewe toetse benodig word.
Die lengte van die periode hang af van die tipe monster en die toetse wat
daarop uitgevoer word. Die berging van sulke monsters vind oral in die
laboratorium plaas en yskaste en vrieskaste neem spasie in wat vir ander
doeleindes aangewend kan word. Derhalwe is daar 'n inloop-yskas en
inloop-vrieskas in die uitbreiding ingebou vir die kort-- en mediumtermyn
berging van monsters. Hierdie kan ook beskou word as mediumtermyn argiewe vir
monsters.

Ons het reeds goeie vordering gemaak met die dokumentasie wat nodig sal wees
vir akkreditasie van verskeie toetse. Dit is egter nodig dat die beheer hiervan
gesentraliseer word met beamptes wat spesifiek hierdie saak as hul
verantwoordelikheid het en hiervoor is daar nou 'n "kwaliteitkantoor"
beskikbaar gemaak sodat die werk in die regte omgewing gedoen kan word.

Ek is oortuig daarvan dat hierdie verbeterings en uitbreidings wat
aangebring is, ons in staat sal stel om nog beter dienste aan ons kliënte te
lewer. Dit sal ons verder op die voorpunt plaas in die voorkoming en beheer van
die virusse en siektes wat toenemend voorkom en 'n bedreiging inhou, nie net
vir die landbousektor nie, maar ook vir die verbruikers, plaaslik sowel as
internasionaal.

Ek wil aan u vreugdevolle en vrugbare ure agter u mikroskope en tussen u
serummonsters toewens en die vertroue uitspreek dat u sal voortgaan om u
dienste wyer as die Wes-Kaap te lewer in belang van die totale
landbousektor.

Navrae:
Alie van Jaarsveld
Spokesperson
Ministry of Agriculture: Western Cape
Tel: (021) 483 4930
Fax: (021) 483 3890
E-mail: avjaarsv@pgwc.gov.za

Issued by: Western Cape Provincial Government
1 September 2006
Source: Western Cape Provincial Government (http://www.capegateway.co.za)

Share this page

Similar categories to explore