C Dowry: Land reform empowers Ceres farmworkers (Afr)

Uittreksels uit toespraak deur Cobus Dowry, Minister van
Landbou in die Wes-Kaap by die oorhandiging van die Kruisrivierprojek,
Ceres

23 January 2009

Ek wil uit die staanspoor uit vir u sê dat die regering van die Wes-Kaap
saam met u as 255 begunstigdes van hierdie projek verheug is dat die projek wat
reeds in Junie 2007 deur die Departement van Grondsake goedgekeur is, aan u 'n
aandeel van 74 persent in die totale projek gee. Die Departement van Grondsake
het 'n bedrag van R11,6 miljoen tot die projek bygedra. U het nou aandele in
die koelkamers en die plaas Long Acres wat 929 8507 hektaar groot is.

U moet gebruik maak van die mentorskap van ZZ2 Boerdery wat oor die jare
bewys het dat hulle van die grootste produsente in die land is, nie net hier in
die Ceres gebied nie, maar ook in ander dele van die land.

U projek tel ook onder die grootstes wat ons die afgelope twee maande aan
plaaswerkers oorhandig het.

In November het ons op die plaas Arborlane 58 plaaswerkers bemagtig in 'n
soortgelyke projek.

Ons het ook gedurende November 197 begunstigdes op Arrieskraal in die
Overberg so bemagtig.

By Denou boerdery is 116 begunstigdes, waarvan 59 betrokke is op plase te
Prince Alfred Hamlet en 57 op die plase te Wolseley ook bemagtig.

Behalwe die Land Redistribution for Agricultural Development (LRAD) fondse
van R3,6 miljoen wat beskikbaar gemaak is vir die gedeeltelike befondsing van
daardie projek, het my departement R346 000 bygedra tot die skepping van
infrastruktuur.

Die Departement Landbou in die Wes-Kaap is ook baie nou betrokke by die
opheffing van u as plaaswerkers in die provinsie.

Sedert 2004 het die sub-program: Plaaswerker Ontwikkeling 43 projekte teen n
totale koste van R8,4 miljoen gefinansier. Die fokus van hierdie projekte was
hoofsaaklik op vaardigheidsopleiding wat deur nie-regeringsorganisasies
ontwikkel, voorgelê en aangebied is. Tienduisendvyfhonderd plaaswerkers, vroue
en kinders is hierby betrek.

U as plaaswerkers het reeds oor baie jare 'n groot rol gespeel om die
Wes-Kaap die sterkste landbouprovinsie te maak met die harde werk wat u onder
die goeie leiding van die eienaars van die ZZ2 Boerdery-groep, ontvang.

Omdat landbou so 'n groot rol in die ekonomie van die Wes-Kaap speel,
beteken dit dat u dus ook 'n baie groot rol speel om te sorg dat die ekonomie
van die provinsie kan groei. Dit beteken dat daar meer kos, meer geld en meer
werksgeleenthede op hierdie manier beskikbaar kom.

As departement is ons daartoe verbind om u op alle terreine binne ons
mandaat by te staan en ek wil dan ook in hierdie verband ons dienste en kennis
aanbied en u uitnooi om daarvan gebruik te maak.

Ons glo baie sterk aan opleiding om jou lewensomstandighede te verbeter en
daarom het ons vanjaar weer R30,8 miljoen uit ons begroting beskikbaar gestel
vir gestruktureerde landbou-opleiding. Ek weet dat die ZZ2 maatskappy ook baie
waarde heg aan opleiding en daarom moet u sorg dat u deel word van die
opleidingsprogramme van die onderneming.

Ek wil afsluit deur u geluk te wens met die groei van die projek en die
toewyding waarmee u werk om daarvan 'n sukses te maak. Ek wil aan die nuwe
aandeelhouers sterkte toewens en die vertroue uitspreek dat u as 'n span sal
saamwerk om seker te maak dat hierdie projek suksesvol sal wees en as 'n
voorbeeld sal dien vir ander plase in die omgewing.

Issued by: Department of Agriculture, Western Cape Provincial
Government
23 January 2009

Share this page

Similar categories to explore