Verklaring van die Kabinetsvergadering op 12 Junie 2013

1. Die Kabinet se standpunt oor belangrike sake in die huidige omgewing

1.1. Die Kabinet wens voormalige President Nelson Mandela ’n spoedige herstel toe en verseker die nasie weereens dat hy die beste moontlike mediese sorg kry. Die Kabinet is bly dat hy goed op die behandeling reageer en benadruk die versoek dat die media en publiek gedurende hierdie tydperk die privaatheid van die voormalige President en sy familie respekteer.

1.2. Die Kabinet prys die werk van die Groepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit se Antikorrupsie-taakspan, wat in 2010 deur President Jacob Zuma gestig is. Vir die eerste keer in die geskiedenis van ons demokrasie word misdadigers wat openbare vertroue en hulpbronne misbruik in die openbaar aan die kaak gestel en aanspreeklik gehou vir hul dade. Suid-Afrika se geen-verdraagsaamheid-houding teenoor korrupsie bring ons nader aan ons visie vir 2030, naamlik ’n Suid-Afrikaanse gemeenskap wat gekenmerk word deur hoë etiese standaarde en integriteit.

So ’n duidelike standpunt poog om mense in die privaat en openbare sektore te keer om hulle skuldig te maak aan korrupte en kriminele dade en word gedryf deur ons verbintenis om te verseker dat alle burgers veilig is en voel.

1.3. Die Kabinet veroordeel ten sterkste die onlangse voorvalle van rassisme in sekere dele van ons land. Daar is geen ruimte vir rassisme in ons land en demokrasie nie en minder nog in ons skole waar die waardes van ons Grondwet bevorder en beskerm behoort te word.

Die Kabinet prys die Departement van Basiese Onderwys vir hul spoedige optrede om rassisme in skole aan te spreek, en moedig ouers, leerders en onderwysers aan om rassisme en mishandeling by skole aan te meld. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om saam te werk om rassisme uit te roei wanneer dit ook al in ons gemeenskappe voorkom.

1.4. Die Kabinet verwelkom die besoek aan die Republiek van Suid-Afrika deur die President van die Verenigde State van Amerika (VSA), Barack Obama, wat deel uitmaak van ’n drie-nasie-besoek aan Senekal, Tanzanië en Suid-Afrika tussen 26 Junie en 3 Julie 2013. Ons strategiese politieke gesprekke met die VSA het ’n volgehoue positiewe impak op ons bilaterale betrekkinge. Die VSA bly ’n belangrike vennoot vir handel, beleggings, toerisme en tegnologie.

1.5. Die Kabinet prys die mylpaal-vergadering van die Kimberley-proses-sertifiseringskema (KPSS) wat tussen 4 en 7 Junie 2013 in Kimberley gehou is. Die beraad het onder meer maniere bespreek om die doeltreffendheid van die ongeslypte-diamand-sertifiseringskema te verbeter. Dit sal verseker dat diamanthandel nie geweld deur rebellegroepe en hul vennote, wat probeer om wettige regerings te ondermyn, finansier nie.  Aanbevelings van die vergadering sal by die volle sitting van die KPSS later vanjaar oorweeg word.

1.6. Die Kabinet neem kennis van die viering van Jeugdag wat in 2013 die 37ste herdenking van die 16 Junie-Soweto-opstande vier. Die tema is “Samewerking vir jeugontwikkeling en ’n dwelmvrye Suid-Afrika”. Die Kabinet is bewus van die opofferinge wat die klas van 1976 gemaak het om die geskiedenis van die land te herskryf en Suid-Afrika behoorlik na demokrasie te lei. Die Kabinet benadruk dat, alhoewel die jeug van 1976 vir vryheid en die skep van ’n demokratiese staat geveg het, is vandag se jeugaktivisme daarop gemik om die uitdagings van armoede, werkloosheid, MIV en vigs, persoonlike ontwikkeling en dwelmmisbruik te beveg. Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners en organisasies aan om saam te werk om die lewe van jongmense te verbeter en om te veg om dwelmhandelaars uit ons gemeenskappe te verwyder. Die nasionale Jeugdag-vieringe vind op Sondag, 16 Junie 2013 in Newcastle, KwaZulu-Natal plaas.

1.7. Die Kabinet wens die Kongres van Suid-Afrikaanse Studente (KOSAS) geluk met hul 34ste herdenking. KOSAS het ontstaan ná die Soweto 1976-stryd vir vrye, goeie en relevante onderwys. Die land vier saam met KOSAS hul merkwaardige prestasies en bevordering van gehalte-onderwys vir almal. Die Kabinet prys ook die leierskap van KOSAS vir hul inisiatief om jongmense teen dwelmmisbruik te waarsku.

1.8. Die Kabinet veroordeel die voorvalle van menslike afval wat in die Wes-Kaap gestort is deur betogers wat teen losstaande emmertoilette betoog. Alhoewel die Regering burgers se reg op betoging respekteer, is hierdie vorm van betoging onwaardig en hou dit ’n ernstige gesondheidsrisiko vir gemeenskappe en die betogers self in. Die Kabinet doen ’n beroep op burgers om hul griewe op ’n konstruktiewe wyse te lug en openbare instellings met die nodige respek te behandel ondanks hul griewe. Die Kabinet doen ook ’n beroep op owerhede om hierdie saak so gou as moontlik aan te spreek op ’n wyse wat in ooreenstemming met die Grondwet is

1.9 Die regering, onder leierskap van Adjunkpresident Kgalema Motlanthe, het godsdiensleiers ontmoet wat die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en die Suid-Afrikaanse Katolieke Biskoppe-vergadering verteenwoordig, om hul bekommernisse te bespreek rakende die impak wat die Gauteng-snelweg-verbeteringsprojek op arm mense gaan hê en hul besware dat die Regering onsimpatiek is teenoor die behoeftes van die armes.

Die Kabinet beaam dat die Regering openbare vervoer (wat meestal deur die armes gebruik word) kwytgeskeld het van die toltariewe op Gauteng se tolpaaie. Om die besware van die ander motoriste aan te spreek het die Regering ook die tariewe verlaag en nuwe perke op die bedrae van alle voertuig-kategorieë daargestel.

Die Kabinet moedig motoriste in Gauteng aan om vir e-skyfies te registreer en om hierdie projek te sien as deel van die land se planne om openbare infrastruktuur te verbeter.

1.10. Die Kabinet wens die Bafana-Bafana en Banyana-Banyana-sokkerspanne en die Proteas-krieketspan geluk met hul onlangse seges in sokker en krieket. Die Kabinet wens die nasionale spanne geluk met hul welverdiende oorwinnings die afgelope week en moedig alle Suid-Afrikaners aan om ons nasionale spanne te ondersteun.

1.11. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van Power FM, ’n nuwe gesels-radiostasie, as ’n nuweling in die bedryf. Die Kabinet neem kennis dat die stasie hoofsaaklik politieke, maatskaplike en sport-kwessies sal aanspreek en aansluit by die bestaande radio-platforms wat gebruik kan word om Suid-Afrikaners in te lig.

1.12. Die Kabinet wens die Departement van Gesondheid se Gesondheidsdirekteur-generaal Precious Matsoso geluk met haar aanstelling as lid van en een van die visevoorsitters van die Wêreldgesondheid-vergadering se uitvoerende raad vir ’n tydperk van drie jaar.

2. Sleutelbesprekings en -besluite van die Kabinet

2.1. Die Kabinet neem kennis dat die Finansiële Intelligensiesentrum van Suid-Afrika die 2013 Volle Sitting en Algemene Werkgroep-vergadering van die Egmont-groep van finansiële intelligensie-eenhede sal aanbied. Die Egmont-groep is ’n organisasie van finansiële intelligensie-eenhede van 131 lande. Hulle vergader gereeld om internasionale samewerking te bewerkstellig en die opbrengste uit misdaad, bekamping van geldwassery en finansiering van terrorisme te identifiseer ten einde die integriteit van die finansiële stelsel te beskerm.

2.2. Die Kabinet neem kennis van die verkiesing van Suid-Afrika om op die Verenigde Nasies se Ekonomiese en Maatskaplike Raad (ECOSOC) te dien van 2013 tot 2015. Dit bied ’n geleentheid om Suid-Afrika se leierskap strategies te posisioneer rakende ontwikkelingsake en die land se rol as ’n deurlopende en doeltreffende rolspeler in multilateralisme te verstewig.
Suid-Afrika sal ook verseker dat ECOSOC verder uitgebou en versterk word om wêreldwye uitdagings wat ontvou en die behoeftes van ontwikkelende lande aan te spreek.

2.3. Die Kabinet neem kennis van die verslag oor Suid-Afrika se nie-staande lidmaatskap van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad (UNSC) van 1 Januarie 2011 tot 31 Desember 2012.

Die verslag beskryf Suid-Afrika se invloed op die wêreldwye regeringstelsel ten opsigte van die handhawing van internasionale vrede en veiligheid.
In lyn met ons waardes en nasionale belange het Suid-Afrika in die UNSC die oplossing van konflik en vrede en stabiliteit op die Afrika-kontinent vooropgestel. Lidmaatskap tot die UNSC het ook aan Suid-Afrika die geleentheid gebied om verhoudings met ontwikkelende sleutel-vennote – Brasilië, Indië, Nigerië en China – te verstewig, wat lidmaatskap van die Raad met Suid-Afrika deel.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet het goedgekeur dat die Rampbestuur-wysigingskonsepwet vir openbare kommentaar gepubliseer word. Hierdie wetsontwerp poog om die uitdagings aan te spreek wat in alle regeringsfere ervaar word sedert die aanvang van die Rampbestuurwet, 2002. Die wysiging sal die funksies van streeksmunisipaliteite herbevestig met betrekking tot die verantwoordelikheid om kapasiteit daar te stel vir die ontwikkeling en koördinering van ’n rampbestuurplan. Dit sluit die implementering van ’n rampbestuur-funksie vir die munisipale gebied in.
  
Die Rampbestuurwet, 2002 het ’n viervoudige fokus: Dit vestig onder meer ’n uitgebreide institusionele raamwerk vir rampbestuur en sit ’n gedetailleerde beleidsontwikkeling- en strategiese beplanningsraamwerk vir rampbestuur uiteen. Die wetsontwerp maak voorsiening vir die klassifisering en verklaring van rampe en gee voorlopige riglyne vir die finansiering van herstel en rehabilitasie na rampe. Dit maak ook voorsiening vir rampbestuur-vrywilligers en ’n paar bykomende sake.

3.2. Die Kabinet het die voorlegging van die Wysigingskonsepwet op Plaaslike Munisipale Erfbelasting aan die Parlement goedgekeur.

Die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Erfbelasting het op 2 Julie 2005 in werking getree. Dit is twee keer gewysig: in 2008 en 2009. Die wysigings poog om dubbelsinnighede te verwyder en meer wetlike sekerheid te bied.

Die wysiging sal meer deursigtigheid teweegbring ten opsigte van die bepaling van tariewe vir verskillende eiendom-kategorieë en sodoende eienaars se begrip van graderings verbeter. Die wysigings sal sekere openbare-diens-infrastruktuur (ODI), soos paaie, spoorweë, lughawens se vaste blaaie en aanloopbane, damme en seewerings kwytskeld van belasting. Hierdie ODI word deur die staat beheer en sal nie die privaat sektor benadeel nie. Dit sal ekonomiese bedrywighede tussen munisipale gebiede verbeter en bydra tot die ontwikkelingsrol van staatsinstellings deur hul vaste uitgawes te verminder.

3.3. Die Kabinet het ’n stel Koopvaardy-wetgewing goedgekeur vir voorlegging aan die Parlement. Hierdie wetsontwerpe maak deel uit van ’n stel maatreëls om uitvoering te gee aan Suid-Afrika se verpligtinge ingevolge die Internasionale Seevaart-organisasie-protokol van 1992.

3.3.1 Die doel van die Koopvaardy-konsepwet (Burgerlike Aanspreeklikheidskonvensie) is om die Internasionale Seevaart-organisasie-protokol van 1992 te bekragtig en om die gewysigde Internasionale Konvensie vir Burgerlike Aanspreeklikheid rakende Oliebesoedeling-skade, 1969 te verorden. Die Burgerlike Aanspreeklikheidskonvensie vestig en reguleer die aanspreeklikheid van geregistreerde skeepseienaars.

3.3.2 Die doel van die Koopvaardy-konsepwet (Internasionale Oliebesoedeling-vergoedingsfonds) is om die 1992 Protokol tot die Internasionale Konvensie vir die Vestiging van ’n Internasionale Fonds vir Vergoeding vir Oliebesoedeling-skade, 1971 (die Fonds-konvensie) te implementeer.

Die Fonds-konvensie skep ’n internasionale fonds, bekend as die Internasionale Oliebesoedeling-vergoedingsfonds (IOBK). Die doel van die fonds is om vergoeding te betaal aan slagoffers van besoedelingskade (soos bedoel in die Burgerlike Aanspreeklikheidskonvensie), indien hulle nie in staat was om vergoeding of volledige vergoeding te verkry ingevolge die Burgerlike Aanspreeklikheidskonvensie nie. Die IOBK-fonds word gefinansier deur vraghouer-eienaars.

Die wetsontwerpe op Burgerlike Aanspreeklikheid en Fonds-konvensies spreek beide die kwessies van aanspreeklikheid en vergoeding vir verlies of skade aan deur besmetting wat veroorsaak word deur die vrystelling of storting van nawerkende olie uit tenkskepe.

3.3.3 Die Koopvaardy-konsepwet (Internasionale Oliebesoedeling-vergoedingsfonds-bydraes) en die Koopvaardy-konsepwet (Internasionale Oliebesoedeling-vergoedingsfonds-administrasie) maak voorsiening vir die implementering van die Internasionale Seevaart-organisasie-protokol van 1992 om die Internasionale Konvensie vir die Vestiging van ’n Internasionale Fonds vir Vergoeding vir Oliebesoedeling-skade deur Suid-Afrika te wysig.

Die Administrasie-konsepwet sal die nodige wetlike magtiging bied wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in staat stel om die verhaling van bydraes tot die Internasionale Oliebesoedeling-vergoedingsfonds te administreer. Die Bydraes-konsepwet is ’n geldwetsontwerp wat voorsiening maak vir die daarstel en verhaling van bydraes wat aan die Fonds gemaak moet word.

4. Aanstellings

4.1. Die Kabinet het die aanstelling van sewe lede vir ’n tydperk van vyf jaar met ingang van 12 Junie 2013 goedgekeur, om te dien by die Verdelingsagentskap vir Sport en Ontspanning, ingevolge die Wet op Loterye (Wet 57 van 1997).
a. Dr. Vukile Charles Mehana;
b. Mnr. Thandisenzo Aleck Skhosana;
c. Me. Muditambi Ravele;
d. Me. Annamarie Louise van Wieringen;
e. Me. Krubavathi Jaram;
f. Mnr. Ado Moloabi; en
g. Mnr. Goliath Munro

4.2. Die Kabinet het die aanstelling van drie lede vir ’n tydperk van vyf jaar met ingang van 12 Junie 2013 goedgekeur, om te dien by die Verdelingsagentskap vir Kuns, Kultuur en Nasionale Erfenis ingevolge die Wet op Loterye (Wet 57 van 1997).
a. Me. Hellen Kentse Makgae
b. Me. Violet Tyamzashe; en
c. Me. Brenda Sesane

4.3. Die Kabinet het die heraanstelling van twee nie-uitvoerende direkteure van die Raad van die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika (OBSA) goedgekeur ingevolge Artikel 7 van die OBSA-wet (Wet 13 van 1997).
a. Me. Thembisa Dingaan
b. Prof. Omar Latiff

4.4 Die Kabinet het die volgende aanstellings as adjunk-direkteur-generaals goedgekeur:
a. Me. Maseapo Kganedi, Adjunk-Direkteur-Generaal: Groepdienste by die Departement van Kuns en Kultuur
b.  Mnr. Mpho Joseph Mofokeng: Hoof Finansiële Beampte: Water-handelsrekening by die Departement van Waterwese

Navrae:
Phumla Williams (Waarnemende Kabinet-woordvoerder)
Kontaknommer: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore