Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 9 Junie 2021

A.    Kwessies in die Omgewing

1.    Uitrol van entstof teen Coronavirus-siekte (COVID-19
1.1.    Die Kabinet verwelkom die vordering met COVID-19-inentings, wat op Dinsdag, 8 Junie 2021 op 1, 524, 589 gestaan het. Die Pfizer-eerstedosis-inentings het die eenmiljoen-syfer oorskry, wat 'n merkwaardige mylpaal is. Daarbenewens het meer as driemiljoen mense op die Elektroniese Inentingsdatastelsel geregistreer, wat  rede tot blydskap is in ons daadwerklike stryd teen die verspreiding van die virus. 
1.2.    Die vennootskap met die privaat sektor ten aansien van inenting en die algehele COVID-19-program versterk ons nasie se pogings om te verseker dat die lewensreddende entstowwe en die boodskap oor veiligheidsmaatreëls meer mense bereik. 
1.3.    Die Kabinet verwelkom ook die verifikasie van die Sinovac COVID-19-entstof deur die Wêreldgesondheidsorganisasie vir gebruik in noodgevalle, wat die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte in staat stel om die oorweging van die aansoek van Sinovic te bespoedig.
1.4.    Die Kabinet herinner alle Suid-Afrikaners om waaksaam te bly en die beperkings ingevolge Vlak 2 van die nasionale inperking na te kom. Die derde vlaag sal binnekort hier wees, en ons het self die mag om hierdie kromme te laat afplat. Kom ons aanvaar verantwoordelikheid om ons maskers in die openbaar te dra, 'n sosiale afstand van minstens 1,5 meter te handhaaf, altyd ons hande met seep en water of 'n 70% alkoholgebaseerde handontsmettingsmiddel te was, en openbare plekke en massabyeenkomste te vermy.

2.    Kwartaallikse Arbeidsmagopname (QLFS)
2.1.    Die Kabinet neem kennis van die resultate van die QLFS vir die eerste kwartaal van 2021, wat aantoon dat die aantal mense met werk byna onveranderd gebly het  teen 15,0 miljoen, met 'n effense daling van 28 000 in die eerste kwartaal van 2021. Die aantal werklose mense het ook bykans onveranderd gebly teen 7,2 miljoen, vergeleke met die vierde kwartaal van 2020 ('n styging van 8 000). Die aantal ontmoedigde werksoekers het met 201 000 (6,9%) tussen die twee kwartale gestyg, met 'n netto styging van 164 000 in die nie-ekonomies aktiewe bevolking.
2.2.    Hierdie geringe veranderings het daartoe gelei dat die amptelike werkloosheidsyfer met 0,1 van 'n persentasiepunt gestyg het, van 32,5% in die vierde kwartaal van 2020 tot 32,6% in die eerste kwartaal van 2021 – die hoogste sedert die begin van die QLFS in 2008. Die werkloosheidsyfer, volgens die uitgebreide definisie van werkloosheid, het met 0,6 van 'n persentasiepunt gestyg tot 43,2% in Kwartaal 1 van 2021, vergeleke met Kwartaal 4 van 2020.

2.3.    Die amptelike werkloosheidsyfer onder die jeug (15-34 jaar) was 46,3% in Kwartaal 1 van 2021. Die koers was 9,3% onder universiteitsgegradueerdes. Werksgeleenthede in die formele sektor het met 79 000 toegeneem, terwyl die ander sektore 'n daling in werksgeleenthede in Kwartaal 1 van 2021 ervaar het. Werksgeleenthede in die informele sektor het met 19 000 (0,8%) gedaal; privaat huishoudings met 70 000 (5,8%), en werksgeleenthede in Landbou het met 18 000 (2,2%) gedaal.
2.4.    Sommige nywerhede het werksgeleenthede geskep, terwyl ander werksgeleenthede verloor het tussen Kwartaal 4 van 2020 en Kwartaal 1 van 2021, wat 'n netto daling van 28 000 totale werksgeleenthede beteken het. Werksgeleenthede het hoofsaaklik in die Finansiële sektor toegeneem (styging van 215 000), en ander sektore waar werksgeleenthede vermeerder het sluit in Gemeenskaps- en Maatskaplike Dienste (16 000), Nutsdienste (16 000), Mynwese (12 000) en Vervaardiging (7 000). Werksverliese het voorgekom in Konstruksie (87 000), Handel (84 000), Privaat huishoudings (70 000), Vervoer (40 000) en Landbou (18 000).

3.    Uitslae met betrekking tot die bruto binnelandse produk (BBP)
3.1.    Die Suid-Afrikaanse ekonomie het met 1,1%  in die eerste kwartaal van 2021 (Januarie –Maart) gegroei, wat op 'n geannualiseerde groeikoers van 4,6% neerkom. Dit volg op 'n hersiene 1,4% (geannualiseerd: 5,8%) -styging in reële BBP in die vierde kwartaal van 2020.
3.2.    Die finansiële, mynbou- en handelsektor was die vernaamste dryfkragte van uitsette aan die produksie- (aanbod-) kant van die ekonomie, terwyl huishoudelike besteding en veranderings in inventarisse gehelp het om groei aan die bestedings- (vraag-) kant aan te wakker.
3.3.    Ten spyte daarvan dat dit reeds die derde agtereenvolgende kwartaal van positiewe groei is, is Suid-Afrika se ekonomie 2,7% kleiner as wat dit in die eerste kwartaal van 2020 was.

4.    Energiesekerheid
4.1.    Die Kabinet neem kennis van Suid-Afrikaners se frustrasie met die voortdurende kragonderbrekings weens die falings in die Eskom-infrastruktuur-elektrisiteitsnetwerke.  Die Kabinet bly steeds verbind tot die implementering van die Geïntegreerde Hulpbronplan (DMRE) 2030, wat gegrond is op 'n gediversifiseerde energiekombinasie en sodoende steun op 'n enkele of 'n paar primêre energiebronne sal verminder.
4.2.    Die DMRE het ook Bodvenster 5 van die Onafhanklike Kragprodusent-verkrygingsprogram vir Hernubare Energie geopen om 2 600 megawatt wind- en sonkrag te verkry om die nasionale kragrooster te ondersteun. Die elektrisiteitsregulasiehervormings het ook aan munisipaliteite die kapasiteit verleen om hul eie krag van ander alternatiewe kragprodusente aan te koop. Dit sal die druk op die Eskom-kragrooster verlig.

5.    Protesoptrede
5.1.    Die Kabinet veroordeel die onlangse gewelddadige protesoptrede in Soweto wat die hele gemeenskap tot stilstand gedwing het, en doen 'n beroep op betogers om kalmte en selfbeheersing aan die dag te lê. 
5.2.    Alhoewel die reg op vreedsame protesoptrede 'n sleutelelement van 'n demokratiese samelewing is, moet dit binne die grense van die reg uitgeoefen word en nie op ander mense se regte inbreuk maak nie.
5.3.    Die Kabinet is daartoe verbind om met gemeenskappe regoor die land saam te werk om hul lewensomstandighede te verbeter. 

6.    Misdaadvoorkoming
6.1.    Die Kabinet loof die werk van die multidissiplinêre span wat beslag gelê het op 800 kg saamgeperste suiwer kokaïen met 'n beraamde straatwaarde van R400 miljoen. 
6.2.    Die Kabinet spreek sy kommer uit oor die toename in gerapporteerde gevalle van voertuie wat tot stilstand gedwing word deur skerp voorwerpe op die land se hoofpaaie en afgeleë paaie te plaas, wat tot die berowing van en moord op sommige van die motoriste gelei het. Die Kabinet doen 'n beroep op wetstoepassingsagentskappe om hul pogings te versterk om die oortreders wat hulle aan hierdie veragtelike misdade skuldig maak, aan die kaak te stel.
6.3.    Die Kabinet doen ook 'n beroep op lede van die gemeenskap om misdaad, insluitend dwelmverwante aktiwiteite, by die polisie aan te meld en om nie die reg in eie hande te neem of hulle tot bendegeregtigheid te wend nie.  

7.    Komitee van Afrika-staatshoofde en Regeringshoofde oor Klimaatsverandering (CAHOSCC)
7.1.    President Ramaphosa, in sy hoedanigheid as die Koördineerder van die CAHOSCC, het op Dinsdag 8 Junie 2021 aan 'n virtuele vergadering deelgeneem. Die vergadering het die CAHOSCC Koördineerdersverslag oor die belangrikheid vir Afrika ter voorbereiding vir die 26ste Konferensie van die Partye tot die Verenigde Nasies se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering (UNFCCC COP26), die ontwikkelings in die werk van die Afrika Klimaatsveranderingsprogram, asook die Afrika Groen Stimulusprogram, aanvaar. 
7.2.    Die Beraad het herbevestig dat die internasionale gemeenskap sy pogings aansienlik moet uitbrei, die vlak van ambisie moet verhoog en ontwikkelende lande moet ondersteun met die middele om stappe teen klimaatsverandering te implementeer in die lig van ons gedifferensieerde verantwoordelikhede. Alle Afrika-lande benodig die ondersteuning van internasionale vennote en ons ontwikkelingsruimte moet gerespekteer word om ons klimaatsdoelwitte en -ambisies te bereik, terwyl ons ons regmatige deel tot die wêreldwye poging bydra.
7.3.    Die vergadering het bevestig dat ons verskillende nasionale omstandighede en kapasiteite erken moet word, aangesien dit nie realisties is om van Afrika te verwag om aan dieselfde tydslyne te voldoen as die ontwikkelde lande om die oorgangsproses van ons ekonomieë te bereik en van fossielbrandstof te disinvesteer nie. Dit is belangrik, veral gegewe die hoë vlakke van ongelykheid, werkloosheid  en ontwikkelingsbehoeftes regoor ons vasteland, in die besonder onder vroue en die jeug. Daarbenewens moet ons ook 'n duidelike boodskap uitdra dat implementering en ambisie net soveel op verligting, aanpassing en ondersteuning van toepassing is. 

8. Besluit van die Verenigde Nasies (VN) se Menseregteraad oor Palestynse Gebiede
8.1. Die Kabinet verwelkom die aanvaarding van die Besluit van die Verenigde Nasies (VN) se Menseregteraad oor Palestynse Gebiede oor die versekering van respek vir internasionale menseregte en internasionale humanitêre reg in die Palestynse gebiede, met inbegrip van Oos-Jerusalem en in Israel. 
8.2. Die resolusie doen verder 'n oproep om die  dringende instelling van 'n onafhanklike internasionale kommissie van ondersoek om alle beweerde skendings van menseregte te ondersoek. Die Kabinet benadruk die belangrikheid van 'n regverdige en blywende oplossing vir die Israeli-Palestynse konflik, gegrond op die bestaan van twee state. 

B.    Kabinetsbesluite

1.    Verlenging van die Nasionale Ramptoestand 
1.1.    Die Kabinet keur die verlenging van die Nasionale Ramptoestand weens COVID-19 tot 15 Julie 2021 goed. Hierdie verlenging word gedoen ingevolge Artikel 27(5)(c) van die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wet 57 van 2002). 
1.2.    Die verlenging stel die land in staat om met nie-farmaseutiese intervensies teen COVID-19 voort te gaan.  

2.    Vorderingsverslae oor die implementering van die Mediumtermyn- Strategiese Raamwerk (MTSF)
2.1.    Die Kabinet  keur die prestasieverslae oor die implementering van die MTSF 2019–2024 goed, wat deur die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering opgestel is.   
2.2.    Die COVID-19-pandemie het 'n impak gehad op die implementering van die MTSF. 'n Aantal mikpunte in die prioriteitsareas bly op koers vir die oorsigtydperk, terwyl daar 'n merkbare vertraging op party van die prestasiemikpunte is, sommige weens begrotinghersprioritisering. 
2.3.    Die prestasieverslae sal aan die publiek vrygestel word en kluster-ministers sal afsonderlike media-inligtingsessies hou om meer inligting te verskaf met betrekking tot verslae oor sowel die suksesse as die intervensies wat onderneem word om die prestasie te verbeter.

3.    Raamwerkdokument oor Suid-Afrika se Nasionale Belange
3.1.    Die Kabinet keur die Raamwerkdokument oor Suid-Afrika se Nasionale Belange in sy omgang met sowel binnelandse as internasionale kwessies goed. Die Raamwerkdokument is gegrond op die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 en die NDP.
3.2.    Die dokument gee 'n uiteensetting van onder andere die land se posisie oor nasionale soewereiniteit en konstitusionele orde; die veiligheid en welsyn van sy landsburgers; sy ekonomiese welvaart en die land se benadering om 'n beter Afrika en 'n beter wêreld te bou.
3.3.    Die dokument sal deur die regering se webtuiste en dié van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking aan die publiek beskikbaar gestel word.

C.    Toekomstige Gebeure 

1.    G7 Leiersberaad  
1.1.    Die Kabinet is oortuig dat Suid-Afrika se deelname aan die G7 Leiersberaad in die Verenigde Koninkryk vanaf 1 tot 13 Junie 2021, onder leiding van Sy Eksellensie President Cyril Ramaphosa, die geleentheid bied om voorspraak te doen vir 'n aantal dringende kwessies vir ons land en die vasteland.
1.2.    Byeenkomste soos die G7 Leiersberaad is belangrike geleenthede vir Suid-Afrika om ons visie van 'n meer regverdige en meer vreedsame wêreld uit te dra. Suid-Afrika sal die klem laat val op die sosio-ekonomiese verwoesting weens die pandemie, en sal ook uitlig hoe ons weens ons omsigtige fiskale en maatskaplike beleide besig in om uit hierdie verwoesting op te staan. 
1.3.    Suid-Afrika sal ook die G7 Leiersberaad gebruik om verder steun te werf vir 'n tydelike kwytskelding van die ooreenkoms oor Handelsverwante Aspekte van Intellektuele Eiendomsregte by die Wêreldhandelsorganisasie om regverdige toegang tot COVID-19-entstowwe te verseker. Dit sal lande in staat stel om hul eie entstowwe te vervaardig en die weg baan vir die ontwikkeling van 'n plaaslike farmaseutiese vervaardigingsbedryf in ons land en op die vasteland. 


D.    Boodskappe
1.    Gelukwense
Die Kabinet spreek sy gelukwense uit teenoor: 
•    Mnr Pitso Mosimane ("Coach Pitso"), wat as afrigter Suid-Afrika se naam hoog gehou het deur die vasteland se beste sokkerklub, Al Ahly, tot oorwinning in die African Super Cup te lei. Die voormalige bestuurder van Mamelodi Sundowns het sy vierde titel met Al Ahly verwerf sedert hy net ses maande gelede by die sokkerklub wat in Kaïro, Egipte geleë is, aangesluit het.

2.    Medelye 
Die Kabinet betuig sy medelye met die familie en vriende van: 
•    Mnr MacDonald Ndodana Mathunjwa, die akteur wat alombekend was vir sy rolle in Home Affairs, Generations, Soul City, Intsika en Bones of Bones. 
•    Mnr Mabi Gabriel Thobejane, wat een van die land se mees befaamde jazz-musikante was. 
•    Mnr Ben Kruger, die veteraanakteur, -skrywer en -vervaardiger, wat die beste bekend was vir sy rol in Binnelanders. 
•    Ms Shaleen Surtie-Richards, die begaafde aktrise wat die beste bekend was vir haar rol in die 1988-film Fiela se Kind, en vir haar rolle in Egoli: Place of Gold en 7de Laan.
•    Ms Ivy Cikizwa Gcina, wat gedurende haar leeftyd op talle strukture gedien het om teen die apartheid-regime te veg, insluitend diens in die Port Elizabeth Black Civic Organisation en as 'n voormalige lid van die eerste demokratiese Parlement (1994 – 1999).

E.    Aanstellings 
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
1.    Mnr Nhlanhla Michael Mabaso as Adjunk-direkteur-generaal: Inligtingsdienste by die Departement van Binnelandse Sake. 
2.    Aanstelling van lede van die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure vir vyf jaar:
a.    Mnr Fulvio Tonelli;
b.    Me Ruth Benjamin-Swales;
c.    Me Thabiso Kutumela;
d.    Me Nalini Maharaj;
e.    Mnr Prostas Phili;
f.    Me Zine Mshengu;
g.    Mnr Eugene Zungu;
h.    Me Chuma Mjali;
i.    Mnr Richard Hawkins; en
j.    Me Naidene Ford-Hoon.
3.    Die President het mnr Hlengani Mathebula as die voorsitter van die Direksie van die Media Ontwikkeling en Diversiteit Agentskap aangestel. 

Navrae: Me Phumla Williams – Kabinetswoorvoerder 
Selfoon: 083 501 0139
 

Share this page

Similar categories to explore