Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 24 Oktober 2018

Die Kabinet het op Woensdag, 24 Oktober 2018 te Tuynhuys in Kaapstad vergader.

A. Kwessies in die Omgewing

1. Mediumtermynbegrotingsrede (MTBR)

1.1. Die Kabinet verwelkom die intree-MTBR deur die Minister van Finansies Tito Mboweni, wat gegrond is op die sterk oortuiging dat Suid-Afrika vernuwe kan word.

1.2. Die 2018-MTBR beklemtoon die moeilike ekonomiese en fiskale keuses waarvoor die regering oor die volgende drie jaar te staan gaan kom. Ekonomiese groei vir 2018 is afwaarts hersien van 1,5% tot 0,7%, en die internasionale omgewing bly steeds uitdagend vir ontluikende markte se ekonomieë. Die 2018-MTBR gee gevolg aan die President se ekonomiese stimulus-en-herstelplan, wat deur fiskale en monetêre stabiliteit  ondersteun sal word.

1.3. Die regering bly verbind tot fiskale volhoubaarheid, maar daar was sedert die tertafellegging van die 2018-begroting in Februarie vanjaar ’n verlies van beheer. Die regering bly ook verbind tot die stabilisering en vermindering van skuld. Teen die agtergrond van ’n moeilike ekonomiese en fiskale omgewing, prioritiseer die voorgestelde verdeling van inkomste steeds groot maatskaplikebestedingsprogramme wat basiese onderwys, gesondheid, maatskaplike welsyn, sanitasie en elektrisiteitsdienste ondersteun.

2. Presidensiële Gesondheidsberaad

2.1. Die Kabinet verwelkom die resultate van die Presidensiële Gesondheidsberaad, wat daarop gerig is om die verskillende uitdagings wat die gesondheidstelsel in die gesig staar, op te los. Die resultate sal die voorbereidings vir die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering versterk.

3. Grondhervorming

3.1. Die Kabinet verwelkom die konsekwente implementering van grondhervormings- en herstelprogramme wat die ongeregtighede van die verlede regstel en help om die ekonomie te laat groei.

3.2. President Cyril Ramaphosa het ’n grondrestitusie-seremonie gelei, waartydens 4 586 hektaar grond aan die gemeenskap van KwaMkhwanazi in Empangeni, KwaZulu-Natal, oorhandig is.

3.3. Die KwaMkhwanazi-gemeenskap sal ook ná-vestigingspakkette en ondersteuning ontvang wat hulle sal help om die potensiële rykdom van die grond optimaal te benut. Dit hef gemeenskappe van bestaansboere op tot kommersiële deelnemers en eienaars van sakeondernemings oor die totale waardekettings van die bates op hulle grond.

3.4. Die regering is daartoe verbind om die volhoubaarheid van opkomende landbou-ondernemings te ondersteun, wat 262 grondhervormingsverwante projekte insluit om jeugdiges en vroue in al die provinsies te bevoordeel.

4. Vernietiging van openbare infrastruktuur

4.1. Die Kabinet spreek sy kommer uit oor die vernietiging van vervoerinfrastruktuur. Dit ondermyn die regering se verbintenis om dienste na histories benadeelde gemeenskappe te neem. Geen mate van ontevredenheid regverdig die vernietiging van openbare eiendom nie. Sulke optrede beroof slegs die arm mense van broodnodige dienste.

4.2. Die Kabinet doen ’n beroep op lede van die publiek om waaksaam te wees en met wetstoepassingsagentskappe saam te werk om die skuldiges aan die kaak te stel. Die Kabinet neem ook kennis dat die Kluster vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit hierdie saak dienooreenkomstig sal hanteer. 

5. Aanstellingsproses van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV)

5.1. Die Kabinet verwelkom die nuwe benadering tot die aanstelling van die NDOV. President Ramaphosa het ’n raadgewende paneel aangestel om individue wat geskik is vir oorweging vir die pos van Hoof van die Nasionale Openbare Vervolgingsgesag te identifiseer en onderhoude met hulle te voer. Die paneel het vandeesweek die eerste keer vergader en sal na verwagting teen 7 Desember 2018 ’n kortlys met name aan die President voorlê. 

6. Uitspraak van die Konstitusionele Hof

6.1. Die Kabinet beraadslaag oor die uitspraak van die Konstitusionele Hof oor die private gebruik, kweek en besit van dagga deur ’n volwasse persoon vir sy/haar persoonlike verbruik en die uitwerking van hierdie uitspraak. Lede van die publiek word versoek om hulle te vergewis van die uitspraak, aangesien die gebruik van dagga in ’n openbare plek verbode is. Daarbenewens het die uitspraak ook nie handeldryf in dagga  gedekriminaliseer nie.

6.2. Die Kabinet besef dat die uitspraak binne  die konteks van ander wette bestaan, wat van toepassing kan wees op die gebruik, besit en kweek van dagga. Die Kabinet win advies oor die saak in.

7. Skoolveiligheidsberaad

7.1. Die Kabinet verwelkom die onlangse Skoolveiligheidsberaad wat onder leierskap van die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, gehou is. Die beraad het onderwys- en eksterne belanghebbers byeengebring om oplossings te vind vir veiligheidsvraagstukke waarvoor die land se skole te staan kom, asook om die weg te baan vir veiliger omgewings in skole.

7.2. Dit volg op voorvalle van geweld by sommige skole, insluitend die tragiese dood van die 24-jarige onderwyser, mnr Gadimang Daniel Mokolobate, wat deur ’n leerder aan die Ramotshere Sekondêre Skool in Zeerust, Noordwes doodgesteek is.

7.3. Alle belanghebbers het saamgestem dat geweld in die algemeen, en in skole in die besonder, onaanvaarbaar is en dat verdere samewerking nodig is om te verseker dat skole veiliger vir leerders sowel as onderwysers word.

8. Matriekeksamen

8.1. Die Kabinet wens alle leerders, veral Graad 12-leerders, alles van die beste toe vir die eksamentydperk. Die departement sal vanjaar vir die eerste keer ook ’n eksamen in Suid-Afrikaanse Gebaretaal op huistaalvlak aan 58 dowe kandidate in 10 skole afneem. Die eksamentydperk strek oor vyf-en-’n-half weke en eindig op 28 November.

8.2. Leerders regoor die land sal ook ’n vrywillige eed onderteken om die integriteit van eksamens te handhaaf deur nie aan enige wanpraktyke deel te neem nie. Ouers en voogde word aangemoedig om leerders gedurende hierdie kritieke tydperk in hul akademiese reis te ondersteun. Dit is ook van uiterste belang om leerders te motiveer om hul skoolopleiding te voltooi.

B. Kabinetsbesluite

9. Die Kabinet keur die verklaring van 20 Mariene Beskermde Gebiede (MBG’s) as deel van die Operasie Phakisa: Oseaan-ekonomie MBG’s Verteenwoordigende Raamwerk goed.  

Die voordeel van die bykomende aanwysing sal onder meer voorsiening maak vir verdere ontwikkeling van ekotoerisme en die bevordering van toegang tot hulpbronne vir kleinskaalse visserye wat volhoubaar bestuur word. Die voorgestelde aanwysings volg op onderhandelings met al die betrokke belanghebbers. Die MBG’s sal in die Staatskoerant gepubliseer word.

10. Die Kabinet verleen goedkeuring aan Suid-Afrika se Hersiene en Belynde Tweede Nasionale Aksieprogram (NAP) om Woestynvorming en Gronddegradering te bestry en die Gevolge van Droogte te Verlig (2018-2030). Die doel van die NAP is om ’n bydrae tot die bewaring en volhoubare gebruik van grond en ander natuurlike hulpbronne te lewer.

Suid-Afrika het in 1997 die Verenigde Nasies se Konvensie om Woestynvorming te Bestry, bekragtig. Ingevolge Artikel 9 van die konvensie word daar van partye verwag om ’n NAP te ontwikkel, voor te berei en te implementeer as die sentrale element van die strategie om woestynvorming te bestry en die gevolge van droogte teen te werk. Suid-Afrika het sy eerste NAP in 2004 ontwikkel.

C. Wetsontwerpe

11. Die Kabinet keur die publikasie van die Kinderwysigingswet in die Staatskoerant vir openbare kommentaar goed. Die wetsontwerp beoog om die koördinasie van die kindersorg-en-beskermingstelsel deur interdepartementele en intersektorale samewerking te versterk. 

Die wysigings is in reaksie op die uitspraak van die Noord-Gauteng Hoëhof van November 2017, waartydens die Departement van Maatskaplike Welsyn beveel is om die nodige wysigings aan die Kinderwet, 2005 (Wet 38 van 2005) op te stel met die oog op ’n regsoplossing vir die bestuur van die pleegsorgstelsel.

12. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswet op Posdienste by die Parlement ingedien word. Die wetsontwerp gee gevolg aan die Witskrif oor die Nasionale Geïntegreerde IKT-beleid wat in September 2016 deur die Kabinet goedgekeur is.

Die beoogde resultate is om ’n mededingende, lewensvatbare en volhoubare Suid-Afrikaanse Poskantoor te skep wat universele dienste en toegang daartoe bied, en om die transformasie van die poswese te fasiliteer. Die wetsontwerp maak ook voorsiening vir ’n benadering om fisiese adresse aan landelike en tradisionele gemeenskappe toe te ken.

Hierdie wetsontwerp het reeds die openbare-oorlegplegingsproses voltooi.

D. Toekomstige Gebeure

13. Suid-Afrikaanse Internasionale Beleggingskonferensie

President Ramaphosa tree op Vrydag, 26 Oktober 2018, as voorsitter op tydens Suid-Afrika se eerste Beleggingskonferensie by die Sandton Konferensiesentrum in Johannesburg. Dit vorm deel van verskeie pogings om beleggings te lok en ons ekonomie te laat groei. 

Daarbenewens sal die vier beleggingsgesante wat deur die President aangestel is, aan die konferensie verslag doen oor die vordering wat tot dusver gemaak is.

14. Beraad van die Groep van Twintig (G20)

President Ramaphosa is deur die Federale Kanselier van Duitsland, Dr Angela Merkel, genooi om aan die G20-Beleggingsberaad – Duitse Sakeondernemings en die Kompak met Afrika (KmA)-lande, asook aan ’n Besigheidstafelronde deel te neem, wat albei op 30 Oktober 2018 in Berlyn, Duitsland gehou word.

Die G20-Beleggingsberaad sal Duitse sakeondernemings en KmA-lande byeenbring om beleggingsgeleenthede binne die raamwerk van die G20-vennootskap met Afrika te ondersoek. Duitse beleggers sal spogprojekte wat tans in die KmA-lande onderneem word, aanbied en verdere geleenthede op die vasteland verken. Die President sal die beraad in sy hoedanigheid as medevoorsitter van die G20-Afrika-adviesgroep bywoon.

Die G20-Konferensie oor die KmA sal na nuwe maniere kyk hoe die G20, Afrika-lande en ontwikkelingsinstellings met mekaar kan saamwerk om privaat belegging en ekonomiese deelname in Afrika-lande te bevorder. Die vergadering sal ook voorbereidingswerk op hierdie terrein vir die G20-Beraad in Buenos Aires, Argentinië, onderneem.

15. Nasionale Imbizo-fokusweek

Lede van die Uitvoerende Gesag sal aan die GCIS se 9de Nasionale Imbizo-fokusweek van die vyfde demokratiese administrasie deelneem, wat vanaf 12 tot 25 November 2018 gehou word. Dit val saam met die Kabinet se Aksieprogram-verslagdoeningsweek. 

Die Imbizo-fokusweek bied ’n platform aan lede van die Nasionale Uitvoerende Gesag, asook aan provinsiale en plaaslike-regeringsleiers om oor hierdie tydperk gemeenskapsvergaderings en Izimbizo landswyd te onderneem. Dit sal ook ’n geleentheid bied om die regering se implementering van die 2014-2019 Mediumtermyn Strategiese Raamwerk te demonstreer en om te reageer op kwessies wat deur inwoners geopper word en wat ’n uitwerking sal hê op die veiligheid, groei en ontwikkeling van ons gemeenskappe.

Die twee weke van aktivisme vind plaas teen die agtergrond van die eeufeesvierings van twee ikone van die vryheidstryd,  Mama Albertina Sisulu en Tata Nelson Mandela, wat albei die waarde van gereelde oorlegpleging en interaksie met die gemeenskappe wat hulle gedien het, vergestalt het.   

E. Boodskappe

Gelukwense

16. Die Kabinet wens die Minister van Gesondheid, dr Aaron Motsoaledi, geluk, wat twee gesogte Kochon-pryse gewen het tydens ’n toekenningseremonie in Den Haag, Nederland. Die eerste toekenning is in die minister se individuele hoedanigheid vir sy rol en politieke leierskap in die stryd teen tuberkulose (TB) op internasionale vlak.

Die tweede toekenning, wat die minister met die Agbare Nick Hebert, Lid van die Parlement (LP) in die Verenigde Koninkryk deel, is in hul hoedanigheid as medevoorsitters van die Global TB Caucus van LP’s regoor die wêreld. Die Kochon-prys word jaarliks toegeken aan individue en/of organisasies wat ’n beduidende bydrae tot die bestryding van TB gelewer het gelewer het, hetsy in hul eie lande of internasionaal.

17. Die Kabinet verwelkom die Wêreldreistoekennings 2018 se benoeming van Suid-Afrika as Afrika se Toonaangewende Bestemming. Durban in KwaZulu-Natal is as Afrika se Toonaangewende Stadsbestemming aangewys en het ook die gesogte titel van Afrika se Toonaangewende Toerskiphawe ingepalm. Kaapstad in die Wes-Kaap het die titel Afrika se Toonaangewende Fees- en Geleentheidsbestemming verwerf.

18. Die Kabinet verwelkom die première van ’n plaaslike rolprent getitel Nommer 37 in die Verenigde State op 2 November 2018. Die misdaadriller, deur rolprentmaker Joshua Bradley,  wat op die Kaapse Vlakte afspeel, is deur die Departement van Handel en Nywerheid befonds deur sy Aansporingskema vir Suid-Afrikaanse Ontluikende Swart Rolprentmakers. Dit sal help om regstreekse buitelandse belegging na die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf te lok.

Medelye

19. Die Kabinet betuig saam met  President Ramaphosa sy  medelye met:

19.1. die tragiese afsterwe van meer as 27 mense in ’n veelvuldige motorbotsing op die N1 Noord in Limpopo. Padgebruikers word weer eens -dringend gemaan om versigtig te bestuur op ons paaie en om te alle tye die padreëls te gehoorsaam.

19.2. die afsterwe van die vryheidstrydikoon, Mama Agnes Msimang.  Mama Msimang was ’n toegewyde gender-aktivis en voormalige adjunkpresident van die African National Congress (ANC) se Vroueliga.  Sy was een van talle vroue wat hul gemeenskappe regoor Suid-Afrika teen die apartheidstelsel gemobiliseer het. Sy word op Vrydag, 26 Oktober ter ruste gelê. Die begrafnisdiens sal om 08:00 begin by Our Lady of Cedars Katolieke Kerk in Woodmead, Johannesburg.

19.3. die afsterwe van die vryheidstrydveteraan en ontvanger van die Nasionale Orde van Mendi vir Dapperheid in Silwer, mnr Eric “Stalin” Mtshali.

19.4. die afsterwe van die ANC-veteraan Moss Chikane. Mnr Chikane het in 1994,  ná die land se eerste demokratiese verkiesing, ’n LP geword. In 2005 is hy as Suid-Afrika se ambassadeur in Duitsland aangestel.

19.5. die mense van Swede asook die familie van me Lisbet Palme‚ 87‚ met haar afsterwe. Me Palme was die weduwee van die voormalige Eerste Minister Olof Palme, wat in 1986 in ’n sluipmoordaanval vermoor is en deur President Ramaphosa beskryf word as ’n “vriend van Suid-Afrika”.

20. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

21. Direksie van SENTECH SOC LIMITED:

a. Me Maureen Makole Manyama (nie-uitvoerende direkteur); en
b. Me Precious Nompumelelo Sibiya (nie-uitvoerende direkteur).

22. Heraanstelling van me Gugulethu Brightness Nokukhanya (Poppy) Khoza as die Direkteur: Burgerlugvaart op die Direksie van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartgesag.

23. Dr Molefi Motuku as die Hoof Uitvoerende Beampte van Mintek (Suid-Afrika se Nasionale Mineraalnavorsingsorganisasie).

24. Mnr Terries Salani Ndove as Adjunk-direkteurgeneraal: Grondherverdeling en Ontwikkeling in die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetwoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore