Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van 22 Junie 2022

A.    Kwessies in die Omgewing

1.    Klimaatsverandering 

1.1.    Die kabinet verwelkom die besoek van mnr. Alok Sharma, president van die 26ste klimaatsveranderingsberaad van die Verenigde Nasies (VN) wat vanaf 19 tot 21 Junie plaasvind, aan Suid-Afrika, en sy bepaling dat Suid-Afrika ‘n duidelike verbintenis tot ‘n skoonenergie-oorgang toon. 
1.2.    In 2021 het president Cyril Ramaphosa by ander leiers aangesluit deur ‘n geskiedkundige vennootskap met die regerings van Frankryk, Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Verenigde State aan te kondig, sowel as met die Europese Unie, om ‘n regverdige oorgang na ‘n lae-koolstofekonomie en ‘n klimaatveerkragtige samelewing te ondersteun. 
1.3.    Suid-Afrika het hard gewerk om die grond voor te berei vir ons skoonenergie-oorgang en ‘n beweging na skoon energiebronne, soos groen waterstof, biomassa, windkrag, sonkrag en hidrokrag tesame met ander hernubare bronne. Hierdie sogenaamde energiemengsel skep ‘n balans tussen energiebronne om betroubare krag te verseker om in die land se groeiende behoeftes te voorsien 

2.    Coronavirussiekte-(COVID-19) inentings

2.1.    Die kabinet het die beduidende afname in COVID-19-infeksies in Suid-Afrika oor die laaste paar weke verwelkom en alle kwalifiserende mense aangemoedig om voort te gaan om hulle te laat inent, wat help om ernstige siekte, hospitalisasie en die dood te voorkom. 
2.2.    Die helfte van alle volwasse Suid-Afrikaners het tot op hede ten minste een COVID-19-entstofdosis ontvang. Die regering beoog om die laerentekoerslening wat onlangs deur die Wêreldbank goedgekeur is, aan te wend om addisionele COVID-19-entstofdosisse aan te koop en te verseker dat die nasie voldoende beskerm is teen potensiële infeksies.
2.3.    Die kabinet het ook sake met betrekking tot die ontwikkeling in die bestuur van die COVID-19-pandemie oorweeg, veral die vordering wat gemaak is om te kan terugkeer na normale sosio-ekonomiese aktiwiteite. Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, sal verdere besonderhede verskaf. 

3.    Nasionale Jeugdag 

3.1.    Die kabinet het alle Suid-Afrikaners bedank vir hulle deelname aan die land se Nasionale Jeugdagvieringe op Donderdag 16 Junie 2022 onder die tema: “Die bevordering van volhoubare lewensbestaan en veerkragtigheid van jong mense vir ‘n beter môre.” Die entoesiastiese gees en veerkragtigheid wat deur die jeug regoor ons nasie getoon is, is inderdaad ‘n rede om fees te vier en te hoop vir ‘n beter môre. 
3.2.    Soos Nasionale Jeugmaand sy einde nader, laat ons ons pogings verskerp om seker te maak dat jongmense die talle ondersteuningsprogramme wat deur die regering voorsien word, benut en sodoende hulle aktiewe deelname aan die ekonomie fasiliteer. 
3.3.    Die Staatsdiens, as die grootste werkgewer, het op hierdie uitdaging gereageer deur werklose graduandi in staat te stel om ondervinding op te doen deur middel van die Staatsdiens se internskap- en leerlingskapprogram vir graduandi. Die regering is ook tans besig om die Maatskaplike Indiensnemingsfonds (SEF) te implementeer en die Nasionale Jeugdiens (NYS) se werkskeppingsinisiatiewe te laat herleef wat elk 50 000 jongmense in die ekonomie sal opneem. 
3.4.    Hierdie inisiatiewe sal nie net broodnodige werkservaring verskaf nie, maar sal ook die waarde van aktiewe burgerskap versterk. Die SEF vorm vennootskappe met nieregeringsorganisasies (NRO’s), terwyl die NYS jongmense werf vir dienste wat gemeenskappe regoor die land tot voordeel strek. 

4.    Vervoer
   
4.1.    Die kabinet het die 11-punt aksieplan verwelkom om die kwessie van padversperrings en die werwing van buitelandse burgers as vragmotorbestuurders te hanteer. Die plan, wat ontwikkel is deur die interministeriële komitee vir pad- en vragvervoer (IMC) in vennootskap met aandeelhouers in die pad- en vragindustrie, bevorder onder andere die toepassing van visumvereistes en voldoening aan arbeidswette. 
4.2.    Die IMC is tot stand gebring om die toename in padversperrings en protesoptrede deur ontevrede Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders te hanteer. Protesoptrede en padversperrings beïnvloed mobiliteit baie negatief, skrik buitelandse beleggers af en die belangrikste – dit het ‘n negatiewe impak op die ekonomie en noodsaaklike voorsieningskettings wat hierdie geaffekteerde deurgangsroetes gebruik.

5.    Nelson Mandelabaai (NMB) Metropolitaanse Munisipaliteit se watertekort

5.1.    Die kabinet verwelkom die intervensie van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) in die NMB Metropolitaanse Munisipaliteit in die Oos-Kaap om Dag Sero af te weer soos wat die provinsie ‘n ernstige watertekort in die gesig staar wat reeds sedert 2015 dreig. Die DWS werk saam met die provinsie om kort-, medium- en langtermynmaatreëls te implementeer om die potensiële impak van die droogte te hanteer en te versag. 
5.2.    Die kabinet het die inwoners van NMB verder aangemoedig om die waterbeperkings te handhaaf wat deur die plaaslike munisipaliteite ingestel is om watersekuriteit te verseker. In die geheel moet waterverbruik met 50 miljoen liter per dag verminder word vanaf die huidige vlak van 280 miljoen liter per dag na 230 miljoen liter per dag.

6.    Misdaad en korrupsie   

6.1.    Die kabinet het die onlangse inhegtenisname van ‘n amptenaar van Binnelandse Sake wat by die Benoni-kantoor gestasioneer is, verwelkom weens die uitreiking van ‘n paspoort op bedrieglike wyse aan ‘n burger van Bangladesj. Die amptenaar, me Sibongile Simelane, is Dinsdag 21 Junie 2022 borgtog van R5 000 in die Benoni-landdroshof toegestaan. Die Bangladesji burger, mnr. Fahim Kazi, is gearresteer toe hy op 12 Mei 2022 probeer het om die land onder die naam “Lebogang Ndlovu” te verlaat.
6.2.    Die Departement van Binnelandse Sake (DHA) het onlangs die Litause aktrise, me Ieva Andrejevaite, gedeporteer wat probeer het om Suid-Afrika se vlugtelingbestuurstelsel te misbruik toe sy ‘n storie versin het dat sy vir asiel wil aansoek doen weens “die oorlog in Oekraïne.”
6.3.    Die kabinet het die werk geloof wat deur die DHA se teenkorrupsie-eenheid gedoen word. Dit het gewone Suid-Afrikaners geprys en aangemoedig om voort te gaan om sulke kriminele dade aan te meld. Die onwettige aktiwiteit van Suid-Afrikaners wat hulle identiteit verkoop, het verreikende negatiewe implikasies vir die land se sekuriteit en sosio-ekonomiese status. 
6.4.    Die regering sal voortgaan om streng op te tree teen enige een wat betrokke is by onwettige aktiwiteite wat ons immigrasiewette ondermyn, sonder vrees of begunstiging. 
6.5.    Die kabinet verwelkom ook die onlangse skuldigbevinding en vonnisoplegging van ‘n Durbanse onderwyseres, me Nomusa Precious Gabuza (37) – wat drie jaar korrektiewe toesig en vier jaar gevangenisstraf opgelê is in die Umlazi Streekhof in Kwazulu-Natal, en wat gesamentlik vir drie jaar opgeskort is – vir oortreding van die Plaaslike Regering Munisipale Verkiesingswet, 2000 (Wet 27 van 2000). As ‘n onderwyseres by die skool wat as ‘n stembus tydens die munisipale verkiesing in Oktober 2021 gebruik is, het me Gabuza skuldig gepleit dat sy op bedrieglike wyse 24 stemme uitgebring het, waaronder 12 vir die munisipale verkiesing en 12 vir die wyksverkiesing. 
6.6.    Die skuldigbevinding en vonnisoplegging onderstreep die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika se verbintenis om betyds op te tree en aksie te neem wat gevolge vir die oortreder het. Dit is ook ‘n duidelike bevestiging van die verkiesingstelsel wat sedertdien versterk is met die bekendstelling van die kieserbestuurstoestel wat ‘n dubbele stemmery voorkom. 
6.7.    Die kabinet het weer bevestig dat verkiesings die hoeksteen van ons demokrasie vorm en ten alle koste beskerm moet word. 

7.    Die 12e Ministeriële Konferensie (MC12) van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) 

7.1.    Die kabinet het die uitkomste van die WHO MC12 wat vanaf 12 tot 17 Junie 2022 in Geneve, Switserland gehou is, verwelkom, veral die besluit dat kwalifiserende lande die COVID-19-enstofpatente kan ignoreer of ter syde stel (override) tot 2027. Die besluit oor of dit uitgebrei moet word na COVID-19- terapie en -diagnostiek, is vir ses maande uitgestel. 
7.2.    Suid-Afrika het leiding geneem in die oproep aan die WHO om die intellektuele-eiendomsreg te laat vaar met betrekking tot COVID-19-entstowwe, wat gelyke toegang tot entstof sal verseker en lande wat die vermoë het om entstowwe te vervaardig, in staat stel om dit te doen.
7.3.    Die konferensie het hom ook verbind tot ‘n oop en inklusiewe proses om al sy funksies te hervorm en het ingestem tot ‘n pakket van handelstransaksies wat aandag gee aan areas soos gesondheid, die plaas van limiete op visvangsubsidies, ‘n moratorium op e-handel en voedselsekuriteit. 

B.    Kabinetsbesluite

1.    Vordering met Uitsaai- en Digitale Migrasieprogram (BDM) 

1.1.    Die kabinet het die jongste inligting oor die BDM-program ontvang en kennis geneem van die vordering wat gemaak is met die installering van dekodeerders as deel van die migrasie van analoë na digitale uitsending. 
1.2.    Die kabinet het weer die dringendheid beklemtoon om die BDM af te handel om die spektrum vry te stel wat nodig is vir die breëband vir selfone en ander inligting- en kommunikasie-tegnologieverwante doeleindes. 
1.3.    Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Khumbudzo Ntshavheni, gaan môre (Vrydag 24 Junie) ‘n media-inligtingsessie hou om meer besonderhede te verskaf.

2.    Jaarlikse Nasionale Statusverslag oor Kinderregte 

2.1.    Die kabinet het die tweede Jaarlikse Nasionale Statusverslag oor Kinderregte goedgekeur vir publikasie. Die verslag gee die jongste inligting oor die implementering van die Nasionale Aksieplan vir Kinders vir die tydperk van 2019-2024.  
2.2.    Die verslag lig die suksesse uit wat in die tydperk van 2020-2021 behaal is. Dit lig ook areas uit wat ‘n uitdaging bly, insluitend die veiligheid van kinders en die voortgesette ongelykhede tussen die armes en die rykes met betrekking tot kinders. Die verslag beskou ook die impak wat die COVID-19-pandemie in hierdie tydperk op kinders gehad het. 
2.3.    Die intervensiemaatreëls wat deur die regering geïmplementeer is, is daarop gemik om die regte van kinders te laat realiseer, soos uiteengesit in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996. Hierdie maatreëls ondersteun ook die land se verpligting teenoor die VN se Konvensie van die Regte van die Kind (UNCRC) en die Afrika-handves oor die Regte en Welstand van die Kind (ACRWC). Suid-Afrika het sowel die UNCRC as die ACRWC onderteken. 
2.4.    Die verslag is saamgestel in oorleg met regeringsdepartemente en ‘n aantal relevante aandeelhouers op nasionale en provinsiale vlak. Die volledige verslag sal op die webblad van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling geplaas word: www.dsd.gov.za.

3.    Suid-Afrika se gekombineerde derde tot sesde periodieke verslag aan die UNCRC

3.1.    Die kabinet het die indiening van die derde tot sesde periodieke verslag aan die UNCRC goedgekeur. Hierdie verslag volg op die tweede periodieke verslag wat in 2014 by die UNCRC ingedien is.
3.2.    Die verslag is saamgestel in ooreenstemming met Artikel 44 van die UNCRC, en dek ook die waarnemings en aanbevelings wat in die laaste verslag aangebied is. Die UNCRC het sy waarnemings en aanbevelings vir die land in 2016 gestuur. 
3.3.    Die samestelling is gedoen in oorleg met al die relevante departemente en belanghebbendes regoor die land. Die volledige verslag sal openbaar gemaak word as dit by die UNCRC ingedien is. 

4.    Die Nasionale Verslag oor die implementering van die nuwe stedelike agenda 

4.1.    Die kabinet het die indiening van Suid-Afrika se eerste nasionale verslag oor die implementering van die nuwe stedelike agenda by die VN se menslikenedersettingsprogram (UN-Habitat) goedgekeur. Die UN-Habitat het sy nuwe stedelike agenda by sy konferensie oor behuising en volhoubare stedelike ontwikkeling in Oktober 2016 aanvaar. Daar is van lidstate verwag om hulle vorderingsverslae vrywillig in te dien.
4.2.    Suid-Afrika het die aanvaarding van die nuwe stedelike agenda ondersteun en dit gevolglik geïmplementeer deur middel van die land se Geïntegreerde Stedelike Ontwikkelingsraamwerk (IUDF). Die IUDF is daarop gemik om leiding te gee aan die ontwikkeling van inklusiewe, veerkragtige en bewoonbare stedelike nedersettings. 
4.3.    Die vorderingsverslag is saamgestel in oorleg met die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings, asook die relevante NRO’s. 

5.    Geïntegreerde Jeugontwikkelingstrategie (IYDS)

5.1.    Die kabinet het die IYDS vir implementering goedgekeur. Die strategie gee uitvoering aan die Nasionale Jeugbeleid 2020-2030. Dit gee ‘n oorsig oor die aksies, projekte en programme wat onderneem gaan word deur verskeie belanghebbendes wat by die jeug betrokke is. 
5.2.    Dit hanteer ook die minimalisering van die duplisering van regeringsintervensies en gee leiding oor hoe die burgerlike samelewing en die privaatsektor jongmense kan ondersteun om geleenthede te benut. Die samestelling van die strategie het diverse insette vanuit verskeie sektore van die samelewing ingesluit.

6.    Konsepwitskrif oor Bewaring en Volhoubare Gebruik van Suid-Afrika se Biodiversiteit 

6.1.    Die kabinet het die Konsepwitskrif oor Bewaring en Volhoubare Gebruik van Suid-Afrika se Biodiversiteit goedgekeur vir publieke kommentaar. Suid-Afrika se biodiversiteit verskaf ‘n belangrike basis vir ekonomiese groei en ontwikkeling, en is krities vir mense se lewensbestaan. 
6.2.    Hierdie Witskrif gee uitvoering aan die aanbevelings wat gemaak is deur die hoëvlakpaneel van kundiges wat in 2019 aangewys is om ons huidige beleide, wetgewing en kwessies rakende ikoniese spesies te hersien.  
6.3.    Die verslag het die ontwikkeling van ‘n oorkoepelende beleid oor bewaring en die volhoubare gebruik van die land se biodiversiteit aanbeveel. Die beleid sal oor al die sfere van regering geïmplementeer word. Bewaring is belangrik vir die land se veldtog om ekonomiese groei en werkskepping te versnel. 

7.    Wildsvleisstrategie 

7.1.    Die kabinet het die publisering van die konsep-wildsvleisstrategie vir publieke kommentaar goedgekeur. Die strategie poog om die wildsvleisindustrie te formaliseer en te hervorm. Dit poog ook om op ‘n volhoubare manier by te dra tot voedselsekuriteit.
7.2.    Die wildsvleisindustrie is hoofsaaklik ‘n informele bedryf wat op ‘n gefragmenteerde wyse funksioneer. Die voorgestelde strategie bied ‘n implementeringsplan wat die sektor sal formaliseer en versterk as beide ‘n verskaffer van voedselsekuriteit en ‘n ekonomiesegroeisektor wat kan help om werksgeleenthede te skep. 

C.    Wysigingswetsontwerpe

1.    Algemene Wysigingswetsontwerp op Tradisionele Sake van 2022

1.1.    Die kabinet het die indiening van die algemene wysigingswetsontwerp op tradisionele sake van 2022 by die parlement vir verdere prosessering goedgekeur. Die amendemente is daarop gemik om die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap van 2019 te hersien (Wet 3 van 2019), wat sedert 1 April 2021 van krag is.

2.    Wetsontwerp op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terreur- en Verwante Aktiwiteite van 2022 

2.1.    Die kabinet het die indiening by die parlement vir verdere prosessering van die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terreur- en Verwante Aktiwiteite van 2022 goedgekeur. As dit aanvaar word, sal die Wetsontwerp die huidige Wet op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terreur- en Verwante Aktiwiteite, 2004 (Wet 33 van 2004) wysig.
2.2.    Die Wetsontwerp is aan ‘n omvattende openbare konsultasieproses onderwerp nadat dit deur die kabinet in Mei 2021 goedgekeur is. Die wysigings is daarop gemik om die land se binnelandse instrumente om terrorisme te bestry in lyn te bring met die globale maatreëls wat in plek is. Hulle het ook aandag gegee aan die klousules wat as ongrondwetlik beskou is deur die Konstitusionele Hof. 
2.3.    As ‘n ondertekenaar van die VN se Sekuriteitsraad, is Suid-Afrika verplig om die internasionale wette wat daarop gemik is om maatreëls te versterk om globale terrorisme te bestry, plaaslik toe te pas. 

D.    Komende Gebeurtenisse 

1.    14e Beraad van Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (BRICS) 

1.1.    President Ramaphosa sal Suid-Afrika se deelname aan die virtuele 14e BRICS Leierskapsberaad lei wat deur die Volksrepubliek van China aangebied word vanaf Donderdag 23 Junie tot Vrydag 24 Junie 2022. 
1.2.    Ons BRICS-lidmaatskap gaan voort om die land tot voordeel te strek. Verlede jaar was 17% van Suid-Afrika se uitvoere vir ander BRICS-lande bestem, en oor die 29% van ons totale invoere kom van hierdie lande. Die waarde van hierdie handelsverhouding gaan voort om te groei met die totale handel van Suid-Afrika met ander BRICS-lande wat R702 miljard beloop het in 2021 – R487 miljard rand meer as in 2017. 
1.3.    Samewerking met BRICS-lede in verskeie areas soos gesondheid en gevorderde handel het ons plaaslike nywerhede laat groei, en het alle BRICS-lede bevoordeel. Ons belegging in infrastruktuurontwikkelingsprojekte en pogings om rompslomp te verminder wanneer sake gedoen word, is daarop gemik om uitvoere na ons BRICS-vennote te vermeerder. 

2.    Winterskool vir Ekonomiese Regering

2.1.    Die Nasionale Skool vir Regering (NSG) sal gasheer wees vir die derde Winterskool vir Ekonomiese Regering se Program vir Politieke Ampsdraers in Johannesburg vanaf 27 Junie tot 1 Julie 2022. Dit sal bygewoon word deur minister van die Ivoorkus, Suid-Soedan en Suid-Afrika; en direkteurs-generaal van Lesotho, Zambië, Demokratiese Republiek van die Kongo, Tanzanië, en Ghana. Suid-Afrikaanse burgemeesters sowel as lede van die burgemeesterskomitees en uitvoerende rade sal dit ook bywoon. 
2.2.    Daar word verwag dat politieke amptenare van verskillende lande idees en lesse van verskillende scenario’s wat hulle in hulle daaglikse werk ondervind, sal deel.
2.3.    Die NSG het die jaarlikse program vir lede van die uitvoerende bestuur in 2020 opgestel as deel van sy ondersteuning aan die regering se verbintenis om ‘n bevoegde staat tot stand te bring. Dit is daarop gemik om onder andere amptenare toe te rus binne die drie sfere van regering met beter leierskaps- en oorsigvaardighede om sodoende in staat te wees om regeringsuitdagings wat inklusiwiteit en volhoubare groei aan bande lê, in heroënskou te neem.

3.    Internasionale Nelson Mandela-dag 

3.1.    Hierdie jaar se Internasionale Nelson Mandela-dag op Maandag 18 Julie 2022 gaan gevier word onder die globale tema: “Do what you can, with what you have, wherever you are”.
3.2.    Dit is ‘n wekroep vir mense om deel te neem aan die veldtog deur by te dra tot volhoubare intervensies met ‘n blywende effek. 
3.3.    Een so ‘n volhoubare intervensie is die jaarlikse Nelson Mandela Jeugdialoog en Etiese Leierskapsprogram wat fokus op aktuele kwessies wat die jongmense in Suid-Afrika en regoor die wêreld raak. 

4.    Belastingseisoen 

4.1.    Die 2022-belastingseisoen maak op 1 Julie 2022 oop en duur tot 24 Oktober 2022. Belastingbetalers word aangemoedig om hulle aanslae deur middel van eFiling (www.sarsefiling.co.za) of die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) se MobiApp in te dien. 
4.2.    Die SAID sal voortgaan met die outomatiese assessering van individuele belastingbetalers, wat ‘n voorafingevulde belastingopgawe behels wat help om die indienproses te vereenvoudig. In 2021 is meer as drie miljoen belastingbetalers outomatiese geassesseer. 
4.3.    Die tydige en akkurate indiening van belastingopgawes verseker nie net dat belastingbetalers binne die wet bly nie, maar dit help ook die regering om dienste aan dié Suid-Afrikaners te lewer wat dit die nodigste het. 

E.    Boodskappe

1.    Gelukwense

Die kabinet het sy gelukwense oorgedra aan: 

  • Regter Owen Lloyd Rogers nadat hy onlangs aangewys is as regter in die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika. 
  • Die kabinet het by president Ramaphosa aangesluit en oudpresident Thabo Mbeki ‘n gelukkig 80ste verjaarsdag toegewens – wat hy op 18 Junie 2022 gevier het. Mnr. Mbeki stel ‘n goeie en voorspoedige toekoms vir alle Suid-Afrikaners in die vooruitsig.

F.    Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en relevante klaring. 

1.    Nie-uitvoerende direkteure van die Raad van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid:
a.    Mnr. Ernest Khosa;
b.    Me Bulelwa Koyana;
c.    Mnr. Surendra Sooklal; en
d.    Me Rejoice Edith Phewa.

2.    Lede van die Kantoor van Openbaarmaking van Huislenings en Verbande: 
a.    Me Kenosi Pearl Louisa Selane (Voorsitter);
b.    Me Catharina Maria Van der Sandt;
c.    Mnr. Errol Vincent Magerman;
d.    Adv. Mandla Dludlu;
e.    Mnr. Matsobane Gabriel Mello;
f.    Me Palesa Mawasha;
g.    Me Penelope Anne Beck-Paxton;
h.    Me Sphiwe Dorris Mayinga;
i.    Me Tshifhiwa Victor Mphigalale; en
j.    Mnr. Zuko Ncemane.

Navrae: Me Phumla Williams – Kabinetwoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore