Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 21 April 2021

Die Kabinet het sy eerste fisiese vergadering gehou sedert die begin van die inperking in 2020. Dit vorm deel van die Kabinet se oorgangsmaatreëls na die nuwe normaal, namate die land geleidelik heropen.

A.Kwessies in die Omgewing
1.Tydelike opskorting van die Sisonke Inentingsprogram en die aanbeveling om dit op te hef


1.1.Die Kabinet word ingelig oor die tydelike opskorting van die Johnson en Johnson (J&J) Sisonke Inentingsprogram, wat 'n maatreël was om Suid-Afrika se wetenskaplikes in staat te stel om die Suid-Afrikaanse data oor die J&J-entstof te hersien. Dit het gevolg op die opskorting van die uitrol van die J&J-inentingsprogram in die Verenigde State van Amerika (VSA) nadat ses mense wat die J&J-entstof ontvang het, 'n seldsame tipe bloedklont ontwikkel het. Nog 'n rede vir die tydelike opskorting was die besluit deur J&J om die uitrol van hulle entstof in die Eurosone vrywillig op te skort.

1.2.Die tydelike opskorting in Suid-Afrika was in ooreenstemming met die regering se verbintenis om te verseker dat omvattende veiligheidsmaatreëls met betrekking tot die entstof se uitrolproses nagekom word. Die hersiene data het bevestig dat Suid-Afrika nie enige seldsame bloedklonte met die gesondheidsorgwerkers wat reeds ingeënt is, ervaar het nie.

1.3.Die Kabinet verwelkom die aanbeveling deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsgesag vir Gesondheidsprodukte om die opskorting van die J&J Sisonke Inentingsprogram op te hef. 

1.4.Ons wetenskaplikes sal voortgaan om alle Suid-Afrikaners te monitor indien en wanneer hulle ingeënt word. Teen die middel van April 2021 is meer as 292 623 gesondheidsorgwerkers ingevolge die Sisonke Inentingsprogram ingeënt.

2.Inentingsuitrolprogram 

2.1.Die Kabinet verwelkom die vordering met die ondertekening van die kontrak met J&J oor die verkryging van entstowwe vir die volledige uitrolprogram, en loof die Minister van Gesondheid, Dr Zweli Mkhize en die Minister van Handel, Nywerheid en mededinging, mnr Ebrahim Patel, omdat hulle die uitstaande kwessies rakende die verkryging van die entstowwe opgelos het sonder om Suid-Afrika se posisie in die gedrang te plaas.

2.2.Daarbenewens verwelkom die Kabinet ook die suksesvolle onderhandeling vir die verkryging van 'n addisionele 10 miljoen dosisse van die Pfizer-entstof, wat die totale aantal dosisse van die Pfizer-entstof op 30 miljoen te staan bring. Dit beteken dat Suid-Afrika 15 miljoen mense met die Pfizer-entstof sal kan inent, in plaas van net 10 miljoen.

2.3.Ter voorbereiding vir Fase 2 van die inentingsuitrolprogram wat op 17 Mei 2021 begin, moedig die Kabinet mense van 60 jaar en ouer aan om op die Elektroniese Inentingsdatastelsel te registreer: https://vaccine.enroll.health.gov.za. 

2.4.Mense sonder internettoegang kan persoonlik by meer as 3 338 inentingsterreine regoor die land registreer. Mobiele spanne sal ook ontplooi word om bejaardes, haweloses en mense in landelike gebiede by te staan. 

3.Coronavirus-siekte (COVID-19)- infeksiekoerse
 

3.1.Die Kabinet ontvang die nuutste inligtingsverslag oor die COVID-19-infeksies regoor die land en loof Suid-Afrikaners vir hul volgehoue nakoming van die nie-farmaseutiese gesondheidsprotokols, naamlik om 'n masker in openbare ruimtes te dra, sosiale afstand van ongeveer 1.5 meter te handhaaf en altyd jou hande met seep en water te was of 'n 70% alkoholgebaseerde ontsmettingsmiddel te gebruik.  

3.2.Die verslag dui egter ook op 'n effense toename van 4,9% van mense wat die afgelope 14 dae positief getoets het, teen 18 April 2021. Die aantal gevalle het die afgelope 14 dae van 14 113 tot 14 807 gevalle gestyg. 

3.3.Die effense toename in gevalle word toegeskryf aan kluster-uitbrekings in die Vrystaat en Noord-Kaap, en snelreaksiespanne is geaktiveer om kontak-opsporing te doen.

4.Ekonomiese herstel 

4.1.Die Kabinet verwelkom die 2021 Annual Front Office Business Process Outsourcing (BPO) Omnibus Survey, wat Suid-Afrika in die eerste plek in die wêreld aangewys het as 'n bestemming vir die sakeprosesuitkontraktering (BPO). 

4.2.Die opname het 600 uitvoerende beamptes van agt sleutelverkrygingsmarkte ingesluit, insluitend Australië, Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Spanje, die Verenigde Koninkryk (VK) en die VSA.

4.3.Dit bekragtig die proaktiewe werk van die regering en die sektor in die ontwikkeling van die land se BPO-kapasiteit, met 'n sterk groei van oproepsentrums, tegniese ondersteuning en agter- en voorkantoordienste vir groot multinasionale en Suid-Afrikaanse firmas.

4.4.Die land se gesofistikeerde digitale infrastruktuur, geskoolde arbeidsmag, kennis in tegnologie en finansiële dienste, en vaardigheid in Engels, maak dit steeds 'n aantreklike bestemming vir BPO.

5.Werkskepping 

5.1.Die Kabinet is verheug dat 'n aantal regeringsingrypings om die deelname van meer Suid-Afrikaners aan die ekonomie, veral jongmense, te verhoog, begin vrugte afwerp.

5.2.Die Presidensiële Werkskeppingstimulus wat in Oktober 2020 van stapel gestuur is in reaksie op die ekonomiese impak van COVID-19, het teen die einde van Februarie  2021 reeds 360 010 werksgeleenthede geskep of behou, meestal vir werklose jongmense. Daarbenewens het die ekonomiese stimulus die lewensonderhoud van 60 539 bevoordeeldes deur die oordrag van steunmaatreëls ondersteun, insluitende produksiebewyse vir bestaansboere.

5.3.Meer as 300 000 van hierdie geleenthede het gespruit uit die plasing van jongmense as assistente in skole regoor die land deur die Basiese Onderwys Indiensnemingsinisiatief. Hierdie skoolassistente het 'n belangrike rol gespeel om die leeromgewing by skole gedurende 'n moeilike tyd te versterk.

6.Infrastruktuurontwikkeling

6.1.Die Kabinet waardeer die vordering wat gemaak is met die verbetering van die doeltreffendheid en mededingendheid van die Durban Hawe, wat gelei het tot 'n beduidende afname in opeenhoping en beter omkeertye.

6.2.Sy Eksellensie, President Cyril Ramaphosa, het op Donderdag, 15 April 2021 die Durban Hawe besoek om vordering met die verbetering van hawe-infrastruktuur te evalueer, ter opvolging van sy vergadering met hawegebruikers en belanghebbers in Oktober 2019.

6.3.Die verbetering van die werkverrigting van Suid-Afrika se hawens, veral die Durban Hawe, is van sleutelbelang vir die regering se doelwit om Suid-Afrika se posisie onder die grootste en mees doeltreffende handelshawens te handhaaf, en ons posisie as die toegangspoort na die streek en die vasteland te verstewig.

6.4.Die Kabinet verwelkom ook die verslag van 'n toesigbesoek aan die Saldanhabaai-hawe in die Wes-Kaap deur die Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Patricia de Lille –  saam met die Adjunkminister Noxolo Kiviet en dr Kgosientsho Ramokgopa, Hoof van Belegging en Infrastruktuur in die Presidensie – op Dinsdag, 6 April 2021.  

6.5.Die Herstel-en-Instandhoudingsprogram vir Klein Hawens, wat 'n Strategiese Geïntegreerde Program is as deel van die Infrastruktuurbeleggingsplan wat in Mei 2020 deur die Kabinet goedgekeur is, is tans 77% voltooi. Dit het altesaam 611 werksgeleenthede geskep en verskeie klein-, medium- en mikro-ondernemings het voordeel ter waarde R55 miljoen daaruit getrek. Die projek sal na verwagting in Maart 2022 voltooi word.

7.Maandelikse Statistiekverslae

7.1.StatsSA gaan voort om 'n aantal maandelikse verslae oor die prestasie van verskeie sektore van die ekonomie uit te reik. Alhoewel sommige sektore steeds sukkel om te herstel, inspireer die veerkragtigheid van die landbou-, vervaardigings- en mynboubedrywe vertroue in die herstel van die Suid-Afrikaanse ekonomie. 

7.2.Die Kabinet is verheug dat die implementering van die Ekonomiese Heropbou-en-Herstelplan 'n sigbare impak op Suid-Afrika se herstel maak.

8.Afknouery by skole

8.1. Die Kabinet spreek sy kommer uit oor die voorkoms van afknouery in ons skole, soos die onlangse voorvalle by Mbilwi Sekondêre Skool in  Thohoyandou, Limpopo, Dinwiddie Hoërskool in Germiston, Gauteng, en Mathole Hoërskool in KwaZulu-Natal.

8.2. Die Kabinet betreur die dood van Lufuno Mavhunga (15) van Mbilwi Sekondêre Skool in Thohoyandou, Limpopo, en betuig sy medelye met die Mavhunga-gesin en haar vriende. Die Kabinet doen 'n beroep op die owerhede om die saak spoedig te ondersoek en effektiewe geregtigheid te verseker.

8.3. Die Kabinet doen 'n ernstige beroep op onderwysbelanghebbers, insluitend ouers en voogde, om teen afknouery te verenig en 'n omgewing te skep wat bevorderlik is vir leer. Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om ons stemme te laat hoor en voorvalle van afknouery aan die betrokke owerhede te rapporteer, veral waar die slagoffers dit nie kan doen nie of bang is om dit te doen.

9. Haatmisdaad

9.1. Die Kabinet veroordeel ten sterkste die onlangse toename in LGBTIQ+-haatmisdaad, wat gelei het tot die dood van Andile Ntuthela, Siphamandla Khoza en Nathaniel Mbele.

9.2. Die Handves van Regte wat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 verskans is, doen 'n beroep op ons almal om die regte van alle lede van die samelewing sonder enige vorm van diskriminasie te respekteer. Hierdie veragtelike misdade en teisterende gedrag het geen plek in ons demokrasie nie, en moet deur ons almal in die sterkste moontlike terme veroordeel word. 

9.3. Die Kabinet doen 'n beroep op enigiemand wat kan help met die arrestasie en vervolging van diegene wat  hulle aan hierdie misdade skuldig gemaak het om die polisie op die tolvrye nommer 10111 te kontak, of die naaste polisiestasie te besoek.

10. Afrika-varkgriep (ASF) en Afrika-voëlgriep  

10.1. Die Kabinet neem kennis van die uitbreek van ASF op 'n plaas in Potchefstroom in Noordwes asook Voëlgriep op 'n kommersiële plaas aan die Oos-Rand in Gauteng. 

10.2. Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en ander tersaaklike belanghebbers het onmiddellik veiligheidsmaatreëls opgeskerp en die area in kwarantyn geplaas.

10.3. ASF is 'n aansteeklike siekte wat slegs huishoudelike en wildevarke aantas. Voëlgriep tas pluimvee aan en kan nie aan mense oorgedra word nie.

11.Bransbestrydingsbedrywighede

11.1. Die Kabinet loof die pogings van reddingspersoneel en brandbestryders wat onverpoos en dapper gewerk het om brande in onderskeidelik Kaapstad en by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg te bestry.

11.2. Die Kaapstad-brande het historiese geboue vernietig, terwyl die brand by Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal die oorplasing van meer as 400 pasiënte na ander hospitale genoodsaak het. Die Kabinet wens diegene wat in die brande beseer is 'n spoedige herstel toe. Daar is reeds begin met ondersoeke om die oorsake van hierdie brande te bepaal.

12. Mosambiek-konflik

12.1. Die Kabinet verwelkom die pogings van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) om blywende vrede en sekuriteit asook versoening en ontwikkeling in die Republiek van Mosambiek te bewerkstelling.

12.2.'n Buitengewone Dubbeltroikaberaad van Staats- en Regeringshoofde van die SAOG is op Donderdag, 8 April 2021 in Maputo gehou, met die oog op onmiddellike tegniese ontplooiing na Mosambiek.

12.3. Die Kabinet is ook tevrede dat die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se 24-uur Konsulêre Bystandsentrum konsulêre bystand aan Suid-Afrikaanse landsburgers in Mosambiek verleen het. 'n Aantal Suid-Afrikaanse landsburgers het na Suid-Afrika teruggekeer, terwyl ander na veilige areas in Mosambiek verskuif is.

13. Sinlose moord op die Coka-broers 

13.1. Die Kabinet veroordeel die onlangse sinlose moord op twee broers, Zenzele en Amos Coka, op 'n plaas in Mpumalanga. Die broers was deel van 'n groep plaasbewoners wat werk as seisoenale plaaswerkers gesoek het.

13.2. Die Kabinet loof die polisie vir die vinnige optrede en arrestasie van die beweerde oortreders, wat sedertdien in die Pier Retief Landdroshof verskyn het. 

13.3. Die Kabinet doen 'n beroep op kalmte in die gemeenskap, sodat die regsproses sy loop kan neem en diegene wat skuldig bevind word, met die volle krag van die reg te doen sal kry.

14. Besluit oor die betogers in Kaapstad 

14.1 Die Minister van Binnelandse Sake, dr Aaron Motsoaledi, lig die Kabinet in oor die vordering wat deur die Verenigde Nasies se Hoëkommissariaat vir Vlugtelinge (UNHCR) gemaak is ter oplossing van die kwessie rakende die betogers in Kaapstad, wat hoofsaaklik burgers van die Demokratiese Republiek van die Kongo is. 

14.2 Die betogers is tydelik in Paint City en Wingfield in Kaapstad gehuisves ingevolge die COVID-19 Nasionale Ramptoestandregulasies. 

14.3 Die UNHCR het aangebied om al die betogers te help om in gemeenskappe in en om Kaapstad te hervestig. Die Internasionale Organisasie vir Migrasie (IOM) het ook aangebied om diegene wat na hul land van oorsprong wil terugkeer van vliegkaartjies te voorsien, en moedig die betogers sterk aan om dit te aanvaar.

B. Kabinetsbesluite

1. Groenskrif oor Huwelike 

1.1. Die Kabinet keur die publikasie van die Groenskrif oor Huwelike vir openbare oorlegpleging goed. Die Groenskrif is 'n stap in die ontwikkeling van 'n nuwe Enkele Huwelikswetsontwerp. Dit belyn ook die huweliksbestel met die grondwetlike beginsel van gelykheid.

1.2. Hierdie Groenskrif maak voorstelle oor verbintenisse tussen mense van alle seksuele oriëntasies, godsdienstige en kulturele oortuigings. Dit doen ook die algehele verwydering van kinderhuwelike uit ons toekomstige huweliksbestel aan die hand.

2. Toerismesektorherstelplan

2.1. Die Kabinet keur die Toerismesektorherstelplan goed. Die plan verteenwoordig die kollektiewe reaksie deur die regering en die toerismesektor op die verwoesting wat deur die COVID-19-pandemie veroorsaak is. Die konsepplan is in Augustus 2020 vir openbare oorlegpleging gepubliseer. 

2.2. Die plan doen sewe strategiese intervensies aan die hand, insluitende stimulering van binnelandse vraag; die bekendstelling van beleggings- en hulpbronmobiliseringsprogramme; en streektoerisme-integrasie.  

2.3. Die voorgestelde intervensies is ook in ooreenstemming met die land se EHHP. Die doel van hierdie plan is om werksgeleenthede en lewensonderhoud te beskerm, en nuwe werksgeleenthede te skep. Die plan sal ook transformasie-intervensies in die sektor versterk en die bemagtiging van vroue, die jeug en mense met gestremdhede in die sektor bevorder. 

2.4. Minister Mamoloko Kubayi-Ngubane, saam met die toerismebedryf, het vroeër vanoggend het hierdie Toerismeherstelplan bekendgestel.

3. Verslag oor die Prestasie van die Belastingaansporingsprogram vir Navorsing en Ontwikkeling

3.1. Die Kabinet keur die indiening van die Verslag oor die Prestasie van N&O-belastingaansporingsprogram vir 2018/19 aan die Parlement, soos deur Artikel 11 D van die Inkomstebelastingwet, 1962 (Wet 58 van 1962), goed. 

3.2. Die belastingaansporingsprogram is bekendgestel om die land te help om ongeveer 1% van sy BBP-mikpunt aan N&O-besteding teen 2024 te bereik. Die verslag sal aan die publiek beskikbaar gestel word sodra dit die parlementêre proses voltooi het. 

4. Skuldlose Vergoedingsfondsskema 

4.1. Die Kabinet keur die instelling van die Skuldlose Vergoedingsfondsskema goed. Die Fonds se instelling is in ooreenstemming met die kontraktuele ooreenkomste met die farmaseutiese maatskappye wat Suid-Afrika van COVID-19-entstowwe sal voorsien.

4.2. Die Fonds is ook belangrik vir die beskerming van Suid-Afrikaners wat moontlik newe-effekte van entstowwe kan ervaar, om toegang tot beter ondersteuning en behandeling te verseker.

4.3. Die fonds sal ingestel word deur die wysigings aan Artikel 27 van die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wet 57 van 2002). 'n Regter sal as voorsitter van die fonds dien.

5. Verslag van die Hoëvlakpaneel (HLP) oor Wildlewebestuur

5.1. Die Kabinet keur die verslag van die HLP oor Wildlewebestuur goed, wat deur die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing ingestel is om beleide, wetgewing en praktyke oor sake rakende die bestuur, teling, jag, handel en hantering (welsyn en welheid) van die land se bedreigde wildlewespesies te hersien. Dit sluit in olifante, leeus, luiperds en renosters. 

5.2. Die Ministerie sal na verwagting die aanbevelings van die paneel vir implementering en die nodige oorlegpleging vrystel.

C. Wetsontwerp 

1. Strafproseswysigingswetsontwerp 

1.1. Die Kabinet keur die indiening van die Strafproseswysigingswetsontwerp by die Parlement goed. Die Wetsontwerp wysig Artikel 154(3) van die Strafproseswet, 1977 (Wet 51 van 1977), wat volgens 'n uitspraak van die Konstitusionele Hof versuim het om die identiteit van kinderslagoffers van misdaad in strafregtelike verrigtinge te beskerm. 

1.2. Die huidige klousule beskerm die identiteit van kinderoortreders, -slagoffers en -getuies teen die skadelike uitwerking van die publikasie van hul betrokkenheid by strafregtelike verrigtinge tot op die ouderdom van 18 jaar.

1.3. Die voorgestelde wysigings verbied die publikasie van enige inligting wat die identiteit van 'n beskuldigde wat ten tyde van die beweerde oortreding jonger as 18 jaar is of was, openbaar maak of kan openbaar maak. Publikasie kan slegs geskied nadat dit deur die regterlike amptenaar of voorsittende regter gemagtig is.

D. Toekomstige Gebeure

1. Vryheidsmaand en Vryheidsdag 

1.1. Vanjaar se Vryheidsmaand word gevier onder die tema: “Die Jaar van Charlotte Maxeke: die Betekenis van Vryheid onder COVID-19”.

1.2. Die Kabinet doen 'n beroep op almal om die Vryheidsmaand- en Vryheidsdagvierings te gebruik om steeds die virus te bestry, terwyl ons na wyer insluiting en maatskaplike kohesie streef.

1.3. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om ons demokrasie en vryheid te gebruik om saam te werk en rondom 'n gemeenskaplike agenda byeen te kom om 'n verenigde en welvarende Suid-Afrika te bou.

1.4. Vanjaar se feesviering sal 'n hibriede model volg, met die nasionale feesviering wat in die Vrystaat aangebied gaan word.


2. Wêreldboekedag

2.1. Wêreldboekedag, war ook as die Internasionale Dag van die Boek bekendstaan, word jaarliks op 23 April gedenk. Die dag word gebruik om mense aan te moedig om boeke met ope arms te aanvaar en 'n beter leeskultuur te help vestig. 

2.2. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om die leeskultuur te ondersteun en dit in hul daaglikse leefstyl te inkorporeer. Lees is 'n grondslagvaardigheid waarop alle ander vorms van leer gebou word, en dit bied toegang tot 'n magdom loopbaangeleenthede. 

E. Boodskappe

1. Medelye 
Die Kabinet betuig sy medelye met die familie en vriende van: 

  • Dr Sindisiwe van Zyl (45), die geliefde mediese dokter en Kaya FM-aanbieder, wat talle mense se lewens aangeraak het en 'n onmeetbare bydrae tot die gesondheid en welsyn van die nasie gelewer het. 
  • Vukosi Ringani, Nhlaluko Maluleke, Freedom Rihlamfu, Aubrey Chauke, Temba Nyambi, en Thomy Masipenda, die ses leerders van die Jim Chavani Sekondêre Skool in die Vhembe-distrik, Limpopo, wat gesterf het toe 'n bakkie waarin hulle gereis het in 'n huis vasgery het.
  • Sy Koninklike Hoogheid Prins Philip, Hertog of Edinburgh (100) in die UK.
  • Mnr Bhekizizwe Vusimuzi  Mpila (43), wat die skoonseun van Adjunkpresident David Mabuza was.
  •  President Idriss Déby Itno (69) van die Republiek van Tsjad. Die Kabinet veroordeel die geweld wat soveel lewens geëis het, insluitend dié van President Déby, wat beswyk het aan beserings wat hy opgedoen het terwyl hy sy weermagtroepe teen 'n rebelle-aanval gelei het. 

F.  Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
1. Direksie van die Werkloosheidsversekeringsfonds: 
(i) Mnr Zola Luswazi (Voorsitter);
(ii) Mnr Edward Malometje Thobejane;
(iii Me Martle Keyter;
(iv) Mnr Donald Khumalo;
(v) Me Louressé Specht;
(vi) Me Vuyiswa Miya;
(vii) Mnr Thembinkosi Josopu;
(viii) Me Thandiwe Mfulo;
(ix) Dr Hamilton Daluxolo Ntsinde;
(x) Mnr Takalani Musekwa;
(xi) Me Brenda Sibeko; en
(xii) Me Ogalaletseng Gaarekwe.

2. Verlenging van die termyn vir lede van die Suid-Afrikaanse Toerismeraad:
(i) Mnr Siyabonga Dube (Voorsitter);
(ii) Me Mojankunyana Gumbi;
(iii) Mnr Aloysius Ikalafeng;
(iv) Mnr Enver Duminy;
(v) Me Michelle Constant; 
(vi) Mnr Ravi Nadasen;
(vii) Me Kathleen Elizabeth Rivett-Carnac;
(viii) Me Lindiwe Sangweni-Siddo;
(ix) Mnr Mduduzi Zakwe;
(x) Me Zola Baba Tshefu;
(xi) Me Gloria Serobe; en
(xii) Me Nomzamo Bhengu.

3. Direksie van die Nasionale Kernkragreguleerder: 
(i) Me Vuyiswa Miya;
(ii) Mnr Allan Taylor;
(iii) Mnr Peter Becker; en
(iv) Me Khangela Baloyi.

4. Lede van die Direksie van die Film-en-Publikasieraad: 
(i) Me Zamantungwa Mkosi (Voorsitter);
(ii) Dr Siyasanga Mhlangabezi Tyali; 
(iii) Me Lungelo Nxele;
(iv) Me Agalutchmi Pillay;
(v) Mnr Phosa Mashangoane;
(vi) Me Gloria Zanele Nkosi;
(vii) Me Mpho Sedibe;
(viii) Dr Andile Nontso; en
(ix) Adv Lufuno Tokyo Nevondwe.

5. Direksie van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust:
(i) Me Tebogo Magogodi Malaka;
(ii) Mnr Krishen Sukdev;
(iii) Me Lerato Kumalo;
(iv) Me Karabo Siyila;
(v) Me Nthabiseng Mkhwanazi;
(vi) Prof Raymond Nkado;
(vii) Mnr Mpilo Sakile Mbambisa; 
(viii) Me Zimbini Hill;
(ix) Mnr Tim Sukazi; en
(x) Dr Michael Sutcliffe. 

6. Hoofafgevaardigde en Alternatiewe Afgevaardigde van die Lesotho-Hooglandwaterkommissie: 
(i) Mnr Teboho Nkhahle; en
(ii) Dr Musa Furumele.

7. Me Thembelihle Mbatha as Hoof Finansiële Beampte (HFB) van die Gemeenskapskema-ombuddiens by die Departement van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie.
8. Me Nonhlanhla Nyewula as HFB van SENTECH. 
9. Mnr Shonisani Mathews Munzhedzi as Hoof Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut. 
10. Me Nondumiso Mandisa Tshikwatamba as Adjunk-direkteur-generaal (ADG): Korporatiewe Dienste by die Departement van Sport, Kuns en Kultuur. 
11. Me Constance Moitse as ADG: Teenkorrupsie en Sekuriteitsdienste by die Departement van Binnelandse Sake. 
12. Dr Nicholas Gilmour Crisp as ADG: Nasionale Gesondheidsversekering by die Departement van Gesondheid.  
13. Mnr Allan Golden Zimbwa as ADG: Tegniese Ondersteuning by die Munisipale Infrastruktuurondersteuningsagent.
14. Mnr Lindokuhle Cedric Mkhumane as Direkteur-generaal by die Departement van Kleinsakeontwikkeling. 

Navrae: Me Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore