Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag 09 Februarie 2022

A.       Kwessies in die Omgewing

1.       Staatsrede (SoNA)

1.1.    Die kabinet het die staatsrede van 2022 verwelkom wat op Donderdag 10 Februarie 2022 deur president Cyril Ramaphosa aan die gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies in die Kaapstadse stadsaal gelewer is, wat ‘n geleentheid vir die hele nasie is om bymekaar te kom.  

1.2.    Die staatsrede is ‘n belangrike gebeurtenis op die kalender van die demokratiese regering aangesien dit aan die hoof van die uitvoerende gesag die geleentheid bied om te reflekteer oor die land se sosio-ekonomiese en politieke status, en ook die regering se planne vir die jaar aan politieke verteenwoordigers van die mense en die nasie as geheel bekendmaak. 

1.3.    In die weke wat volg sal die onderskeie ministers die regering se program van aksie vir 2022 uiteensit, wat op Woensdag 23 Februarie 2022 deur die nasionale begrotingsrede bekend gemaak sal word, sowel as die begrotingstemme van alle regeringsdepartemente.

2.       Deelname aan Sensus 2022

2.1.    Die kabinet doen ‘n beroep op alle landsburgers en mense wat binne die landsgrense woon, om deel te neem aan Sensus 2022, wat op Vrydag 3 Februarie begin het en voortgaan tot Maandag 28 Februarie 2022. 

2.2.    Die is die vierde postdemokratiese volkstelling, en die laaste een is in 2011 uitgevoer. Die uitslae van die Sensus speel ‘n noodsaaklike rol in die toekenning van hulpbronne om te voldoen aan die dienslewering- en basiese behoeftes van ons gemeenskappe. 

2.3.    Suid-Afrikaners kan kies om deur middel van telefoniese, rekenaarondersteunde of tuisbesoeke deel te neem aan Sensus 2022. Rekenaarondersteunde telling is net van toepassing waar mense aanlyn voor die 5de Februarie geregistreer het. 

3.       Jongste Inligting oor die Coronavirussiekte (COVID-19) 

3.1.    Die kabinet het Suid-Afrikaners geloof vir hulle voortgesette vasberadenheid in die stryd teen COVID-19 wat gehelp het om infeksies relatief laag te hou ten spyte van die bedreiging van ‘n vierde golf.

3.2.    COVID-19 bly deel van ons daaglikse bestaan, en alle gesondheids- en veligheidsprotokolle moet ten alle tye nagekom word, insluitend die handhawing van sosiale afstand, die was en ontsmetting van hande, en die dra van ‘n masker in die openbaar wat sowel die mond as neus bedek. Soos die dodelike virus voortgaan om lewens te eis, bly inenting ons beste verdedigingsmeganisme. Hoe meer mense hulle laat inent, hoe veiliger sal ons as ‘n nasie wees. 

3.3.    Soos die land geleidelik terugkeer na normaliteit met die ekonomie wat weer open en skole wat weer terugkeer na daaglikse bywoning en voltydse leer, doen die kabinet ‘n beroep op alle oningeënte mense bo die ouderdom van 12 om hulle so gou as moontlik te laat inent. Jy kan net by enige inentingsperseel opdaag, selfs sonder ‘n afspraak, om gratis te registreer en ingeënt te word. 

3.4.    Die kabinet moedig ook diegene aan wat ten volle ingeënt is om vir ‘n versterkingsdosis te gaan, wat help om die aantal teenliggaampies te vermeerder om COVID-19-variante doeltreffend te neutraliseer. 
Versterkingsdosisse is beskikbaar aan enige iemand wat hulle laaste en primêre dosis ten minste 6 maande gelede ontvang het. Deur op datum te wees met ons inentings, verminder ons nie net die risiko van ernstige siekte, hospitalisasie en die dood nie, maar ons verminder ook die risiko van toekomstige dodelike variante. 

4.       Verslag van die Regterlike Kommissie van Ondersoek na Staatskaping 

4.1.   Die kabinet het kennis geneem van die onlangse oorhandiging van die eerste en tweede deel van die verslag van die Regterlike Kommissie van Ondersoek na Staatskaping aan president Ramaphosa as ‘n belangrike mylpaal in die stryd teen korrupsie. 
4.2.    Die kabinet ondersteun die proses waarin die president die intervensie sal uitstippel om die kommissie se aanbevelings te implementeer wanneer hy die volledige verslag op 30 Junie 2022 by die parlement inhandig. 

5.      Verslag oor die Ondersoek na die Burgerlike Onrus van Julie 2021 

5.1.    Die kabinet het by president Ramaphosa aangesluit deur die vrystelling van die verslag te verwelkom van die kundige paneel wat aangewys is om die regering se reaksie op die vlaag van georkestreerde geweld, vernietiging en sabotasie in Julie 2021, te hersien. Die president het die verslag van die kundige paneel op Vrydag 4 Februarie 2022 ter tafel gelê by ‘n vergadering van die nasionale veiligheidsraad en vervolgens gemagtig dat dit openbaar gemaak mag word.

5.2.   Die paneel het plaasgevind onder voorsitterskap van professor Sandy Africa, met as lede advokaat Mojanku Gumbi en mnr. Silumko Sokupa, en mnr. Michael Sarjoo as sekretaris van die paneel. 

5.3.    Die paneel se mandaat was om alle aspekte van die sekuriteitsrespons op die onrus, wat hoofsaaklik in KwaZulu-Natal en Gauteng plaasgevind het, te beoordeel en aanbevelings te maak oor hoe om die veiligheidsvermoë te versterk. Die verslag, en die insigte wat dit bied oor die werk en uitdagings wat deur die veiligheidsdienste, wetstoepassingsagentskappe en relevante staatsinstellings in die gesig gestaar word, sal rigtinggewend wees vir die regering se respons.

6.       Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord (GGGV)

6.1.    As deel van die land se stryd teen GGGV, het president Ramaphosa onlangs drie wette wat pogings om GGGV te beëindig, onderteken – die wysigingswet op kriminele en verwante aangeleenthede, die kriminele wet (seksuele misdrywe en verwante aangeleenthede) wysigingswet en die wysigingswet op huishoudelike geweld.

6.2.    Die kabinet glo die ondertekening van die nuwe wette is ‘n reusestap vorentoe om GGGV te oorwin, en doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Nasionale Vervolgingsgesag om die nuwe voorskrifte aan te wend om geregtigheid te laat geskied aan diegene wat geliefdes, vriende of kollegas aan hierdie plaag afgestaan het.   
6.3.    Die kabinet sien uit na die spoedige toepassing van hierdie wette om groter beskerming te bied aan slagoffers van geweld en misbruik. 
6.4.    Onthou om voorvalle van GGGV aan jou plaaslike polisiekantoor te rapporteer deur die tolvrye nommer van Stop Misdaad te skakel by 086 00 10111 of die 24-uur GGGV-bevelsentrum se noodlyn by 0800 428 428. 

7.       Werksbesoek aan Mosambiek

7.1.    Die kabinet verwelkom die suksesvolle werksbesoek van president Ramaphosa aan die Republiek van Mosambiek op Donderdag 3 Februarie 2022, op uitnodiging van president Filipe Nyusi, president van die Republiek van Mosambiek. 

7.2.    In sy hoedanigheid as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se orgaan vir politiek, verdediging en veiligheidsamewerking, het president Ramaphosa die troepe besoek wat deel uitmaak van die SAOG-missie in Mosambiek, en het ook deelgeneem aan die 53ste herdenking van die sluipmoord op dr. Eduardo Mondlane, die stigter en eerste president van die Mosambiekse bevrydingsbeweging FRELIMO. 

7.3.    President Ramaphosa en sy Mosambiekse ampsgenoot het bilaterale, kontinentale en wêreldkwessies bespreek, en hulle verbintenis tot verdere samewerking oor multilaterale kwessies herbevestig. 

8.       Afrika-Unieberaad 

8.1.    Die kabinet het die uitkoms van die 35ste AU-beraad wat in Addis Abeba, Ethiopië op 5 en 6 Februarie 2022 gehou is, verwelkom, wat daarop gemik was om vrede en veiligheid op die kontinent te bevorder, en het ongrondwetlike veranderinge in regerings in Afrika ten sterkste veroordeel. 

8.2.    Suid-Afrika het die Afrika-regeringsverslag 2021 aan die AU-vergadering voorgelê, wat kennis neem van die vordering in die uitbou van demokrasie en die beweging na ekonomiese integrasie deur die Afrika- kontinentale vryehandelsgebied. Dit het ook aanbeveel dat leiers dringende stappe neem om aandag te geen aan bronne van onstabiliteit, soos toenemende jeugwerkloosheid, ekstremisme, massamigrasie en groeiende ongelykheid. 

8.3.    In die daarstel van ‘n nuwe openbare gesondheidsorde vir die kontinent, het die beraad Suid-Afrika se konsep om ‘n pandemieresponseenheid vir Afrika op die been te bring, onderskryf asook voorleggings oor hoe die kontinent homself kan verskans teen enige verdere gesondheidsaanslae. 

8.4.    Die kabinet het Suid-Afrika se verkiesing op die AU se vredes- en veiligheidsraad (AUPSC) verwelkom. Die AUPSC is die staande besluitnemingsorgaan van die AU vir die voorkoming, bestuur en resolusie van konflik. Dit is ‘n gesamentlike veiligheids- en vroeë-waarskuwingsakkoord wat daarop gemik is om tydige en effektiewe reaksie op konflik- en krisissituasies in Afrika te fasiliteer. Dit is ook die hoofpilaar van die Afrika- vredes en sekuriteitsraad (AUPSC), wat die raamwerk is vir die bevordering van vrede, veiligheid en stabiliteit in Afrika. Die AUPSC bestaan uit 15 lede met gelyke stemreg. Afrika-leiers sal op 17 en 18 Februarie 2022 in Brussels, België bymekaar kom vir die sestiende beraad van die Europese Unie, wat sal fokus op kwessies wat die wêreld in die gesig staar soos klimaatsverandering en die hervestiging van vrede en veiligheid. 

9.       Afrika-portuurevalueringsmeganisme (APRM)

9.1.    Suid-Afrika het sy twee jaar lange voorsitterskap van die Afrika-portuurevalueringsforum, ’n struktuur van die APRM, voltooi wat daarop gemik is om menseregte te bevorder en te beskerm, demokrasie te konsolideer, en goeie regering en die oppergesag van die reg in Afrika-lande te bevorder.

9.2.    In 2021 se portuurevalueringsverslag het Suid-Afrika ‘n gunstige evaluering van die volgende gekry: die oppergesag van die reg, oorsigliggame soos Hoofstuk 9-instellings, die bevordering van vroueregte, goeie vlugtelingbeskerming, die ontwikkeling van ons kiesstelsel, sterk korporatiewe bestuur, deursigtige begrotingsprosesse en die uitbreiding van korporatiewe maatskaplike inisiatiewe. Die land is ook uitgesonder vir sy leierskap en bestuur van die COVID-19-pandemie. 

9.3.    Die areas van belang wat uitgelig is in die assessering – soos toenemende ongelykheid en werkloosheid, korrupsie, insidente van xenofobie en swak dienslewering – geniet aandag in ons beplanning en regeringsprogramme. 

10.     SAOG Mediatoekennings

10.1.   Die kabinet het die Suid-Afrikaanse media aangemoedig om in te skryf vir die 2022 SAOG Mediatoekenningskompetisie. Die toekennings bevorder streeksintegrasie en -samewerking, en gee erkenning aan uitnemendheid in joernalistiek op die terrein van die gedrukte media, foto’s, televisie en radio, en moedig mediapraktisyns in lidstate aan om sake wat betrekking op die streek het, te dek. 

10.2.   Die eerste pryswenners sal dieselfde tyd as die 42ste SAOG Beraad vir Staatshoofde en Regering aangekondig word. Die vorm en reëls van die kompetisie van 2022 kan verkry word by: www.gcis.gov.za/newsroom/media-releases/launch-2022-sadc-media-awards-c….

11.     Onderrig 

11.1.   Die kabinet het die klas van 2021 geprys en elkeen bedank wat bygedra het tot die prestasie wat deur leerders behaal is ten spyte van die uitdagings weens COVID-19. ‘n Totaal van 897 163 kandidate het die Nasionale Seniorsertifikaateksamen (NSS) afgelê, wat ‘n toename van 23,6% vanaf 2020 is.

11.2.   Die 2021-NSS se slaagsyfer van 76,4%,waarvan 256 000 leerders universiteitstoelating het, is ‘n verbetering van 0,2% vanaf die slaagsyfer van 76,2% deur die klas van 2020.

11.3.   Die kabinet het al die leerders sterkte toegewens met hulle lewe ná skool. Deur die nasionale finansiële studentehulpskema (NSFAS) ondersteun die regering verdienstelike studente uit arm- en werkersklasgemeenskappe finansieel wat graag verder aan ‘n universiteit of tegniese en beroepsgerigte opleidingskollege (TVET) wil studeer.

B.       Kabinetsbesluite 

1.    Tweejaarlikse prestasievorderingsverslae 

1.1.    Die kabinet het die tweejaarlikse prestasievorderingsverslae vir die tydperk vanaf 1 April tot 30 September 2021 goedgekeur. Die verslae maak deel uit van die mediumtermynstrategiese raamwerk (MTS) 2019-2024. Kluster- departementele verslae fokus op die sewe prioriteite van die regering en verwante intervensies van die sesde administrasie. 
1.2.    Die kabinet het die areas verwelkom waarin daar vordering was in die opstel van teikens vir die tydperk wat beoordeel word. Dit neem ook kennis van die intervensieplanne om aandag te gee aan die onvermoë om sommige teikens te kon haal. 
1.3.    ‘n Reeks ministeriële klustermedia-inligtingsessies sal deur die GCIS gereël word om die departemente kans te geen om hierdie verslae te bestudeer. 

2.       Inhandiging van Suid-Afrika se pleistoseenokkupasieterreine vir nominasie as Wêrelderfenisterreine 

2.1.    Die kabinet het die indiening van ses Opkoms van die Moderne Mens: Pleistoseen-okkupasieterreine goedgekeur vir oorweging en inskrywing as wêrelderfenisterreine. Drie daarvan is in die Wes-Kaap (Diepkloofrotsskuiling, Pinnacle Point se grotte en Blombosgrot); een in die Oos-Kaap (Klasiesriviergrotte) en twee in KwaZulu-Natal (Sibhudu-grot en Grensgrot).

Hierdie grotte wat as ‘n geheel bydra tot ‘n begrip van die evolusie van die mens, is reeds in terme van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, 1999 (Wet 25 van 1999) as nasionale erfenisterreine verklaar. Dit stel die lang geskiedenis van menslike bewoning van oor die tienduisende jare ten toon, met bewyse wat terugdateer na die opkoms van die moderne mens. 
2.2.    Die inskrywing van hierdie terreine is in ooreenstemming met die Wet op Wêrelderfeniskonvensie, 1999 (Wet 49 van 1999), wat voorsiening maak dat lande hierdie inskrywings kan maak as deel van die globale begrip van die evolusie van die mens.

3.       Verlenging van die Nasionale Ramptoestand 

3.1.    Die kabinet is op hoogte gebring met die werk wat deur die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensie-struktuur (NatJoints) onderneem is om te bepaal tot watter mate die bestuur van die COVID-19-pandemie nog reken dat die nasionale ramptoestand nodig is. Insette is vanaf verskeie regeringsdepartemente ontvang om hulle onderskeie areas van werk wat in ‘n gevorderde stadium van voltooiing is, te bepaal.

3.2.    Nadat egter aangeteken is dat sommige van die sleuteldepartemente wat met COVID-19 te doen het, nog nie hulle analise afgehandel het nie, het die kabinet die finale verlenging van die nasionale ramptoestand tot 15 Maart 2022 goedgekeur, in terme van afdeling 27(5)(c) van die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wet 57 van 2002).

4.       Konsepbeleid vir Elektrisiteitsprysvasstelling (EPP)

4.1.    Die kabinet het die publisering van die hersiening van die EPP vir openbare kommentaar goedgekeur. Die hersiene EPP poog om ‘n balans te kry tussen die verskaffing van bekostigbare elektrisiteitstariewe vir lae-inkomsteverbruikers en ‘n koste-effektiewe elektrisiteitstarief vir alle ander verbruikers. 

4.2.    Die beleid voorsien die algemene prysbepalingsbeginsels, die groothandel- en transmissieprysstruktuur, en die verspreidings- en kleinhandelprysstruktuur. Die EPP sal in die Staatskoerant gepubliseer word en kan by die Departement van Minerale-hulpbronne en Energie (DMRE) se webblad besoek word: www.dmr.gov.za.

C.       Wetsontwerpe

1.       Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) van 2022

1.1.    Die kabinet het die indiening by die parlement van die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap van 2022, goedgekeur. Die voorgestelde veranderinge wysig die Wet op die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap, 2008 (Wet 54 van 2008). Die huidige wet maak voorsiening vir ‘n wetgewende raamwerk vir die voorsiening van nasionale jeugdiens, ondersteuning vir ekonomiese deelname van die jeug, jeugadvies- en inligtingsdienste. 

1.2.    Die voorgestelde wysigings versterk die spesifieke areas van intervensie binne die uitdagings wat die jeug in die gesig staar, maak die politieke rapporteringsroetes van die entiteit duidelik, en stel ook voor dat die raad van die NYDA van sewe na 10 lede vergroot word. Dit maak voorsiening vir die beskikbaarstelling van NYDA-dienste op plaaslike vlak, veral vir jong mense in landelike gebiede wat dit moeilik vind om toegang tot die dienste van die NYDA te kry.

1.3.    Die voorgestelde wysigings is die resultaat van uitgebreide konsultasie met al die relevante belanghebbendes in al nege provinsies.

2.    Wetsontwerp op Mariene Oliebesoedeling (Gereedheid, Reaksie en Samewerking) (OPRC) van 2022

2.1.    Die kabinet het die indiening van die OPRC-wetsontwerp van 2022 by die parlement, goedgekeur, wat vir openbare deelname goedgekeur is in Oktober 2019. Omvangryke insette wat van verskeie belanghebbendes verkry is, is in die wetsontwerp geïnkorporeer.

2.2.    As dit as wet aanvaar word, sal die wetsontwerp voorsiening maak vir die regulering en bestuur van die land se reaksie op groot mariene-besoedelingsinsidente langs die land se kuswaters. 

2.3.    Suid-Afrika is langs die besigste see- en skeepsroete geleë, wat die Indiese, Atlantiese en Suidelike Oseaan met mekaar koppel. Die land is ook een van die ondertekenaars van die OPRC-konvensie.

3.       Konsep- Nasionale Arbeidsmigrasiebeleid (NLMP) en Voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Werknemersdienste (ESAB)

3.1.    Die kabinet het die aanvang van openbare en belanghebbende konsultasie oor die voorgestelde konsepbeleid oor nasionale arbeidsmigrasie en die voorgestelde ESAB goedgekeur. Die beleid voorsien ‘n balans tussen die beskerming van die indiensneming van Suid-Afrikaners terwyl die ekonomiese vaardighede wat die land nodig het, in ag geneem word. Dit oorweeg ook die land se verpligtinge teenoor die SAOG, AU en ander internasionale migrasieprotokolle.

3.2.    Die Nasionale Arbeidsmigrasiebeleid (NLMP) verskaf ‘n raamwerk en die regsbasis om die mate waartoe werkgewers buitelandse burgers in hulle ondernemings in diens kan neem, te reguleer terwyl die regte van die migrante terselfdertyd beskerm word. Die beleid verskaf die basis vir die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Werknemersdienste (ESAB). 
3.3.   Die kabinet het dit goedgekeur dat die Departement van Indiensneming en Arbeid kan voortgaan met openbare konsultasie oor die beleid wat aan landsburgers en die betrokke belanghebbendes die geleentheid sal bied om insette in die NLMP van die land te lewer. 

4.       Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering 

4.1.    Die kabinet het die publisering van die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering goedgekeur. Die Wetsontwerp stel wysigings voor aan die Wet op Elektrisiteitsregulering, 2007 (Wet 28 van 2007). Die voorgestelde wysigings verbreed die nasionale reguleringsraamwerk vir die elektrisiteitsverskaffingsbedryf. Hulle bring die land in ooreenstemming met die internasionale beste praktyk in energie en maak voorsiening vir ‘n transmissiestelseloperateur, en vir ‘n lisensiëringsraamwerk vir kragopwekking, transmissie, verspreiding en handeldrywing.

4.2.    Die voorgestelde wysigings maak deel uit van verskeie stappe wat die land neem om die elektrisiteitsektor te hervorm om stabiele en veilige verskaffing van energie te verkry Dit sal ook die werkverrigting van die elektrisiteitsbedryf versterk en uiteindelik ‘n omgewing skep wat bydra tot die groei van die ekonomie.

4.3.    Die wetsontwerp sal in die Staatskoerant gepubliseer word en kan ook besoek word by die DMRE-webblad: www.dmr.gov.za.

D.       Boodskap

1.       Gelukwensing

Die kabinet spreek hulle gelukwensing uit teenoor: 

1.1.    Haar Majesteit Nkosikazi Nomandla Dorothy Mhlauli, die nuut verkose voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-Sanleiers. Nkosikazi Mhlauli is die eerste vrou wat die liggaam van tradisionele leiers sal lei. Sy is gekies na die afsterwe van die vorige voorsitter, Hoofman Sipho Mahlangu

E.       Aanstellings 

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en die relevante klaring. 
1.       Lede van die Nasionale Bosbouadviesraad (NFAC).
Die kabinet het in oorleg met die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, die volgende raadslede van die NFAC vir drie jaar aangestel:

a.       Me Nosisa Euticus Nzuza (Voorsitter); 
b.       Dr. Pulane Elsie Molokwane (Adjunkvoorsitter);
c.       Me Getrude Mathithwa Nonginzi; 
d.       Me Maropeng Dipitseng Manamela;
e.       Mnr. Bhutinyana Calvin Chirwa;
f.        Me Phindiwe Keletso Mokoena;
g.       Me Manushka Moodley;
h.       Mnr. Bishop Ngobeli;
i.        Me Nombuso Mlambo;
j.        Mnr. Mzwandile Roy Mendu;
k.       Mnr. Sikhumbuzo Sipho Masuku;
l.        Mnr. Thabo Simon Moloi;
m.      Me Felicity Blakeway;
n.       Mnr. Jim Matsho;
o.       Me Fefekazi Sefara;
p.       Mnr. Phemelo Sebitlo;
q.       Mnr. Goodman Gcaba;
r.        Mnr. Nkosipendule Quvile;
s.       Mnr. Sixolile Msayi; and
t.        Mnr. Makale Ngwenya.

2.       Dr. Jennifer Molwantwa – Hoof-uitvoerende beampte (CEO) van die Waternavorsingskommissie. 
3.       Mnr. Petrus Maselaganye Matji – HUB van Amatola Water. 
4.       Mnr. Frans Moatshe – Hoof-finansiële beampte in die Departement van Water en Sanitasie.
5.       Brig. Mokgadi Bertha Bokaba – Provinsiale hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPMO) in die Vrystaat.
6.       Brig. Mathipha Solomon Makgato – Provinsiale hoof van die DPMO in die Wes-Kaap.

Navrae:
Me Phumla Williams
Kabinetwoordvoerder by 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore