Verklaring deur President Cyril Ramaphosa oor die Vordering in die Nasionale Poging om die KOVID-19-Pandemie te Bekamp

Landgenote,

Ons voormalige President Nelson Mandela het eens geskryf:

“I have walked that long road to freedom. I have tried not to falter; I have made missteps along the way.

“But I have discovered the secret that after climbing a great hill, one only finds that there are many more hills to climb”.

(“Ek het daardie lang pad na vryheid gestap. Ek het probeer om nie te struikel nie; ek het misgetrap langs die pad.

“Maar ek het die geheim ontdek dat, nadat mens een heuwel uitgeklim het, mens net besef dat daar nog baie meer heuwels is om te klim.”)

As land het ons reeds twee verwoestende vlae koronavirusinfeksies trotseer.

Ons het hierdie vlae oorkom deur vinnig en beslissend te reageer, en deur saam te span om die verspreiding van die virus te bekamp en ons families, ons gemeenskappe en onsself te beskerm.

Ons staar nou nog ’n uitdaging in die oë; ons staan voor nog ’n heuwel om te klim.

Twaalf dae gelede het ek julle gewaarsku dat ’n derde dodelike vlaag infeksies in van ons provinsies ontvlam het en besig was om te versprei.

Die gemiddelde aantal nuwe daaglikse infeksies het meer as verdubbel, hospitaalopnames het begin styg en die KOVID-19-dodetal het met amper 50% gegroei.

Ek kan julle vanaand meedeel dat die stand van sake vererger het.

Tesame met baie ander lande in Afrika het Suid-Afrika opnuut ’n reuse styging in infeksies beleef.

Die Afrika-sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (Africa CDC) meld dat ’n derde vlaag van die siekte na die kontinent onderweg is.

Tot hede het ledestate van die Afrika-unie meer as 5.2 miljoen KOVID-19-gevalle en meer as 138 000 sterftes aan KOVID-19 aangeteken.

Die KOVID-19-virus wat ons land in Maart laasjaar ingeval het, het aanhou muteer in nuwe variante.

Ons wetenskaplikes deel ons mee dat die virus baie variante het.

Laasjaar het ons die Beta-variant ervaar.

Daarbenewens het ons nou die Delta-variant.

Hierdie variant is aanvanklik in Indië opgemerk aan die einde van Maart vanjaar en het intussen na minstens 85 ander lande versprei.

Die Delta-variant het op ’n kommerwekkende wyse soos ’n veldbrand in Indië versprei.

Die Delta-variant is tot dusver in vyf van ons provinsies aangeteken, naamlik die Oos-Kaap, die Vrystaat, Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap.

Daar is tekens dat die Delta-variant vinnig besig is om die Beta-variant, wat tot dusver in ons land geheers het, verby te steek.

Ons is besorg oor die vinnige wyse waarop hierdie variant versprei.

Eerstens omdat dit meer oordraagbaar is as vorige rondgaande virusse, wat beteken dat dit makliker is om aangesteek te word via kontak van aangesig tot aangesig. 

Daar word bespiegel dat dit meer as twee keer meer aansteeklik as die Beta-variant is.

Tweedens, synde dit meer aansteeklik is, kan baie meer mense aangesteek word.

Soos in die geval van vorige variante kan jy ander mense aansteek sonder om te besef dat jy self KOVID-19 het.

Derdens is daar nou wetenskaplike bewyse wat toon dat mense wat voorheen die Beta-variant opgedoen het, nie ten volle bestand is teen die Delta-variant nie en weer aangesteek kan word.

Vierdens, omdat dit meer aansteeklik is, is die maatreëls wat ons tot dusver in plek gestel het om die verspreiding van die virus te beperk moontlik nie meer voldoende om die oordrag van die virus te bekamp nie.

Daar is ook baie wat ons nie van hierdie variant weet nie.

Dit is byvoorbeeld nog nie duidelik of hierdie variant erger simptome veroorsaak nie.

Voorlopige data van ander lande dui daarop dat die simptome nie erger is nie.

Verslae van ander lande, insluitend op ons kontinent, dui ook daarop dat infeksies en kliniese ongesteldheid onder kinders meer algemeen kan voorkom met die delta-variant, onderwyl die algehele infeksiekoers aansienlik laer bly as dié onder volwassenes.

Die vinnige verspreiding van die hierdie variant is van uiterse belang.

Selfs as die variant nie gevaarliker as vorige variante is nie, kan die spoed waarteen mense aangesteek word daartoe lei dat baie groter getalle mense op dieselfde tyd siek word en behandeling moet kry.

Ons móét ekstra voorsorgmaatreëls neem.

Vandag het die sewe-dag gemiddeld van nuwe daaglikse gevalle landswyd die spits van die eerste vlaag in Julie laasjaar oorgesteek; die spits van die tweede vlaag in Januarie vanjaar sal binnekort ook oorsteek word.

Gauteng is nou verantwoordelik vir 60% van alle nuwe gevalle in die land.

Met die uitsondering van die Noord-Kaap en die Vrystaat is daar regoor die land ’n drastiese styging in die infeksiekoers.

Ons moet op ons hoede bly in die Noord-Kaap en die Vrystaat, wat ’n tweede skerp styging kan ervaar indien die nuwe variant ook soontoe versprei.

Ons moet almal bekommerd wees oor wat ons reg voor ons oë sien ontvou.

Elkeen van ons het ’n vriend, familielid of kollega wat al aangesteek is.

Daar is min mense in ons land wat nog nie ’n familielid, vriend of geliefde wat hul lewe aan hierdie siekte afgestaan het, moes begrawe nie.

Ons is in die greep van ’n verwoestende vlaag wat volgens alle aanduidings erger gaan wees as die voriges.

Die spits van hierdie derde vlaag blyk hoër te wees as die vorige twee s’n.

Die eerste vlaag het 15 weke geduur. Die tweede vlaag het nege weke geduur.

Ons weet nie hoe lank hierdie een gaan duur nie, maar aanduidings toon dat dit langer kan duur.

Ek weet dit is die laaste ding wat baie van julle wil hoor.

Ons het almal groot ontbering deurgegaan oor die afgelope jaar en ’n half.

Met die stadige terugkeer na ons normale lewens kon ons dalk gedink het dat ons ’n meer ontspanne houding kon inneem teenoor die openbare gesondheidsmaatreëls.

Ons is dalk moeg daarvoor om ’n masker te dra wanneer ons van openbare vervoer gebruik maak en besluit op ’n dag om die masker af te haal. As niemand daaroor kla of beswaar maak nie, hou ons op om ’n masker te dra.

Ons dra ’n masker oppad na sosiale byeenkomste toe, maar haal dit af sodra ons binne is. 

Ons druk, soengroet en skud blad met ons geliefdes wanneer ons hulle sien, oortuig daarvan dat hulle én ons veilig is.

Ons aanvaar steeds uitnodigings na sosiale byeenkomste en partytjies, en reël ons eie kuiers.

Die onaangename waarheid is egter dat mens duur betaal vir oorgerustheid.

Ons moet waaksaam bly en ten alle tye versigtig wees.

Ons moet die openbare gesondheidsmaatreëls, wat ingestel is vir ons veiligheid en die veiligheid van ander, streng nakom.

Ons moet ’n prioriteit daarvan maak dat ons hospitale die nodige kapasiteit het om die stygende infeksiesyfer te kan hanteer.

Ons openbare gesondheidsfasiliteite in verskeie provinsies is tans tot barstens toe vol en privaatfasiliteite is ook onder druk.

Ten spyte van die uitsonderlike pogings van hospitale om pasiënte te akkommodeer, is beddens in intensiewe sorgeenhede skaars.

Die bestaande maatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die virus te bedwing is bloot nie voldoende om met die spoed en omvang van nuwe infeksies tred te hou nie.

Om te bepaal watter nuwe maatreëls nodig is, het ons gekyk na internasionale beste praktyke asook wetenskaplike data vanuit studies regoor die wêreld.

Ons prioriteit is om die oordragsketting te verbreek deur kontak van aangesig tot aangesig te verminder en sodoende die kurwe af te plat.

Die Kabinet het besluit dat die land op ’n aangepaste waarskuwingsvlak 4 geplaas moet word. Hierdie besluit is gebaseer op wetenskaplike raad vanaf die ministeriële advieskomitee asook verdere beraadslaging met ons provinsies, metro’s en tradisionele leiers, en op aanbeveling van die Nasionale Koronavirus-bevelraad.

Die Kabinet het besluit dat die bykomende beperkings wat vanaand aangekondig word, van krag sal wees vir die volgende 14 dae om te verseker dat ons reaksie gepas en proporsioneel tot die huidige stand van sake is.

Ons sal die impak van hierdie ingrypings na 14 dae weer in oënskou neem om te bepaal of hulle volgehou of aangepas moet word.

Dus sal die volgende maatreëls regoor die land geld van Maandag, 28 Junie 2021 tot Sondag, 11 Julie 2021:

  • Alle byeenkomste – binnenshuis of in die opelug – is verbode. Dit sluit godsdienstige, politiese, kulturele en sosiale byeenkomste in.
  • Begrafnisse en verassings word toegelaat, maar bywoning mag nie 50 mense oorskry nie en alle sosiale distansiëring- en gesondheidsmaatreëls moet gevolg word.
  • Nagwake, byeenkomste na begrafnisse en ‘after-tears’-byeenkomste word nie toegelaat nie.
  • Openbare plekke soos strande en parke sal oop bly. Geen byeenkomste word egter toegelaat nie.
  • ’n Aandklokreël sal geld vanaf 21:00 tot 04:00, en alle nie-noodsaaklike sake-ondernemings moet teen 20:00 sluit.
  • Die verkoop van alkohol beide op die perseel en buite die perseel is verbode. Ons ministeriële advieskomitee het aanbeveel dat die beperkte bepalings wat voorheen daargestel is, nie doeltreffend genoeg was nie en dat ’n verbod die druk wat deur alkoholverwante noodgevalle op hospitale geplaas word, sal verlig.
  • Na aanleiding van die druk op Gauteng weens infeksies, is reis van en na dié provinsie vir ontspanningsdoeleindes verbode. Reis vir kommersiële, sake- of werksdoeleindes; transito deur lughawens of die vervoer van goedere word toegelaat.

Indien jy nie tans by jou woonadres is nie, sal jy toegelaat word om terug te keer na jou tuiste na of vanaf Gauteng.

  • Besoeke aan ouetehuise, versorgingseenhede en ander ‘gemeenskapsomgewings’ is verbode.
  • Restaurante en ander eetplekke sal slegs toegelaat word om kos te verkoop vir wegneemetes of aflewering, omrede dit nie moontlik is vir mense om ’n masker te dra terwyl hulle eet of drink nie. 

Die sluit van skole en ander onderriginstellings vir die wintervakansie sal vervroeg word.

Skole sal begin sluit op Woensdag, 30 Junie 2021 en alle skole sal na verwagting teen die einde van die week, op Vrydag, 02 Julie, gesluit wees.

Kontak klasse by tersiêre instellings sal eindig teen Woensdag, 30 Junie 2021, met beperkte toegang tot die instellings.

Koshuise sal egter oop bly.

Die ministers van basiese onderrig, hoër onderrig, en wetenskap en innovasie sal meer besonderhede oor hierdie reëlings bekendmaak.

Die maatreëls wat ons nou in plek stel is daarop gemik om soveel as moontlik ekonomiese aktiwiteite toe te laat om voort te gaan terwyl die verspreiding van die virus steeds bekamp word.

Meeste sake-ondernemings sal kan voortgaan om teen volle kapasiteit handel te dryf en dienste te lewer, en behoort nie geraak te word nie.

Ons fokus is op die beperking van sosiale kontak onderwyl die ekonomie behoue bly.  

Ek wil beklemtoon dat dit steeds verpligtend is dat elke persoon ’n gesigmasker in die openbaar dra wat sy of haar neus en mond bedek.

Dit is volgens wet ’n strafbare oortreding om dit nie te doen nie.

Die eienaars en bestuurders van openbare geboue, sentrums, winkels, restaurante, taxi’s en busse dra die verantwoordelikheid om te verseker dat die mense op hul persele of in hul voertuie ’n masker dra.

Alle werkgewers moet hul werknemers toelaat om tuis te werk waar moontlik en moet alle nie-noodsaaklike reis en werksbyeenskomste uitstel.

Die Staat sal ook maatreëls in plek stel om die fisiese teenwoordigheid van sy werknemers by die werksplek te beperk, met die minste ontwrigting van dienste en aktiwiteite.

Die implementering van hierdie beperkings is ’n voortsetting van die versterking van ons gesondheidstelsel se kapasiteit.

In Gauteng plaas die verlies van ’n aansienlike hoeveelheid kapasiteit weens die voortgesette sluiting van die Charlotte Maxeke-hospitaal baie druk op ander hospitale.

Ons doen tans alles in ons vermoëns om bykomende bedkapasiteit te verskaf en die heropening van die Charlotte Maxeke-hospitaal te bespoedig.

Gauteng het tans 830 bykomende beddens beskikbaar gestel deur verkose chirurgie uit te stel en deur middel van die aktivering van 400 beddens wat met die gebruik van alternatiewe boutegnologie vervaardig is.

Ons was in gesprekvoering met die vervaardigers van mediese suurstof om hul produksie te verhoog om die verwagte styging in aanvraag te akkommodeer.

Ons monitor deurlopend die voorraad persoonlike beskermingstoerusting en beskikbaarheid van die voorraad medisyne sodat ons kan intree as ons ’n afname in voorraad sien.

Die Gauteng departement van gesondheid is besig om bykomende menslike hulpbronne te werf om die toenemende werkslading te steun.

Die Solidariteitsfonds het R16 miljoen beskikbaar gestel om die werwing en plasing van bykomende verpleërs in hospitale in Gauteng te steun om die militêre span wat ontplooi is, aan te vul.

Om seker te maak dat daar voldoende hospitaalbedspasie is, moet ons dienslewering herprioritiseer om te verseker dat daar kapasiteit is vir die behandeling van ernstige KOVID-19-gevalle.

Ons gaan voort met ons nasionale inentingsprogram, wat besig is om vinnig uit te brei.

Die program het noemenswaardige momentum opgetel, met belangrike mylpale wat voortdurend behaal word.

Teen middernag gisteraand het nagenoeg 2.7 miljoen mense in Suid-Afrika ’n inentingsdosis ontvang.

In die afgelope week het die daaglikse inentingskoers 100 000 oortref.

In die afgelope drie dae het ons ’n bykomende 1.2 miljoen dosisse van die Johnson & Johnson-entstof en 1.4 miljoen dosisse van die Pfizer-entstof vanaf die COVAX-fasiliteit ontvang.

Met hierdie bykomende voorraad sal ons staat wees om vinnig die inentingskoers vandeesweek en in die weke wat kom, te verhoog.

In ooreenstemming met ons nasionale uitrolplan is meer as 950 000 gesondheidsorgwerkers regoor die land reeds ingeënt, en die registrasie en inenting van hierdie groep duur voort.

Die tweede fase van ons uitrolplan het ook goed gevaar, met die registrasie en inenting van mense van 60 en ouer wat aanhou om goeie uitslae te behaal.

Synde ons nog nie al ongeveer vyf miljoen landsburgers in hierdie groep bereik het nie, het elke provinsie nou gemeenskapsmobiliseringsinisiatiewe geloods om ons ouer garde te help om te registreer en hul inentings te ontvang.

Tot dusver is 3.8 miljoen mense op die Elektroniese Inentingsdatastelsel (EIDS) geregistreer.

Die nasionale inentingsprogram sal voortgesit word volgens drie bepaalde strome.

Die eerste stroom is die algemene bevolking volgens ouderdomsgroepe.

Die volgende groep van 50- tot 59-jariges kan op Donderdag, 01 Julie 2021 begin registreer en inenting van hierdie groep sal afskop op Donderdag, 15 Julie 2021.

Die tweede stroom is reeds begin onder mense wat werksaam is in die basiese onderrigsektor, met 184 000 inentings wat tot dusver aangeteken is.

Die derde stroom is gefokus op polisie en ander sekuriteitspersoneel.

Ons sal begin om hierdie groep in te ent op Maandag, 05 Julie 2021.

Die vierde stroom behels werksplekprogramme in kernsektore van die ekonomie, soos die mynwese, nywerheid en die taxi-bedryf.

Ek wil ’n beroep doen op almal wat in aanmerking is vir inenting om te registreer –aanlyn, via SMS, telefonies of in persoon.

Ons sal voortgaan om saam met ons gemeenskapsvennote en gemeenskappe te werk om soveel as moontlik mense so gou as moontlik te bereik.

Landgenote,

Daar is steeds baie vals berigte oor die KOVID-19-inenting wat die rondtes doen.

Valse stories oor die KOVID-19-inenting wat beweer dat die inenting nie veilig is nie, dat dit jou kan siek maak of dat dit nie werk nie word op WhatsApp-groepe, op sosiale media en mondelings versprei.

Ek het dit voorheen gesê en ek wil dit weer sê: dink asseblief lank en mooi voordat jy dit uitstuur of met ander deel.

Dink oor die skade wat jy kan saai.

Jy versprei paniek, vrees en verwarring op ’n tydstip waar ons dit min kan bekostig.

Dit is wetenskaplik bewys dat die inentings werk. Hulle is veilig. Hulle is doeltreffend en hulle red lewens.

Indien jy enige vrae oor die entstof het, indien jy enigsins onseker is – raadpleeg asseblief die inligting wat deur die departement van gesondheid en deur doktors beskikbaar gestel is.

Jy mag dalk ook bevraagteken of die inentings wat tans toegedien word, doeltreffend is in die voorkoming van ernstige ongesteldheid of hospitalisasie weens die nuwe variant.

Daar is bewyse dat die inentings wat ons in Suid-Afrika gebruik, doeltreffend is teen die delta-variant.

Die ministeriële advieskomitee vir inentings sal voortgaan om alle data tot hul beskikking in aanmerking te neem en hul raad aan te pas wanneer en as nuwe inligting beskikbaar gestel word.

Ons moet ook besef dat sommige mense wat ingeënt is nog steeds siek gaan word, ongeag die variant, want geen entstof is 100% doeltreffend nie.

Wanneer mense wat ingeënt is, siek word, is die simptome geneig om matig te wees.

Wat tel is dat enige van die entstowwe wat ons toedien jou sal beskerm teen ernstige ingesteldheid, hospitalisasie en – die belangrikste van alles – sterfte.

Ek wil ook die mense van Suid-Afrika daaraan herinner dat ons moet aanhou om die openbare gesondheidsmaatreëls te volg, al is ons ingeënt.

Regdeur die pandemie is ons nasionale reaksie gelei deur toegewyde mediese beroepsmense, gesondheidsorgwerkers en wetenskaplikes.

Ons is aan hulle dankbaarheid verskuldig vir hul professionalisme en toewyding.

Dit is dus onberusbarend dat politieke leiers persoonlike aanvalle teen sulke mense loods bloot omdat hulle die werk doen wat aan hulle toegewys is.

Ons moet onthou dat die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) ’n onafhanklike reguleerder is wat slegs op die wetenskaplike bewyse fokus om veiligheid, gehalte en doeltreffendheid te verseker in die belang van openbare gesodheid.

SAHPRA moet toegelaat word om hul werk te doen sonder intimidasie of politieke invloed, sodat die publiek kan vertrou dat entstowwe wat deur hulle goedgekeur word, veilig en van goeie gehalte is en sal werk.

Landgenote,

Sedertdien die eerste geval van hierdie dodelike virus in ons land aangeteken is, het ons besef dat ons almal saam in hierdie bootjie is.

Alhoewel ons gehoop het dat die pandemie vinnig sou oorwaai, het ons ook besef dat die werklikheid iets heelwat anders is.

Daar is dalk onsekerheid oor die baan wat die pandemie gaan volg, maar daar is een ding waarvan ons seker is.

Ons kan en ons moet aanhou om onsself te beskerm op die beste manier waarvan ons weet.

Die beproefde openbare gesondheidsmaatreëls wat in plek gestel is, bly steeds ons beste kans om die pandemie die hoof te bied.

Die maatreëls is nie ingewikkeld, moeilik of duur nie.

Hulle is dalk ongemaklik, maar steeds beter as om ernstig siek te word en gehospitaliseer te word.

Ons moet altyd ’n masker in die openbaar dra.

Ons moet ons hande gereeld was of met ’n alkoholgebaseerde saniteerder ontsmet.

Ons moet ’n veilige afstand van ander mense af handhaaf.

Tensy dit noodsaaklik is, bly asseblief tuis.

Indien jy siek is en selfs net matige simptome ervaar, moet jy jouself isoleer, insluitend van jou huishouding.

Indien jy blootgestel is aan iemand met die KOVID-19-virus, moet jy vir 10 dae in self-isolasie bly.

Indien jy positief toets, stel die mense met wie jy in aanraking was in kennis sodat hulle hulself en ander kan beskerm.

Ons is almal nie net vir ons eie gesondheid verantwoordelik nie, maar ook vir die gesondheid van die mense om ons.

Alhoewel die pandemie oorweldigend kan voel, kan ons iets daaraan doen.

Deur die keuses wat ons maak, kan ons dit in bedwang hou.

Ons het al so ver gekom. Ons het hierdie storm oor die afgelope nagenoeg jaar en ’n half trotseer.

Ons het sóveel struikelblokke en teenslae oorkom.

Ons staan steeds rotsvas, want ons is geharde mense wat keer op keer in ons geskiedenis erge uitdagings en swaar tye die hoof gebied het.

Nou is ’n derde vlaag besig om op te bou.

Ons bevind onsself weereens in ’n bepalende oomblik in die stryd teen die siekte.

Kom ons span elke laaste stukkie krag saam, kom ons grawe diep in ons reserwes vir moed, en kom ons staan vas tot hierdie vlaag ook verby is.

Ons sal herstel.

Ons het al baie heuwels uitgeklim, en ons sal hierdie een ook klim.

Ons sal dit doen deur saam te werk, soos altyd.

Ek sê dit want ek glo in julle, die mense van Suid-Afrika.

Ek weet dat julle sal aanhou om te doen wat reg is en wat nodig is.

En ek weet dat dit nie saak maak hoe moeilik dinge raak nie – ons gee nooit ooit op nie.

Mag God Suid-Afrika seën en haar mense beskerm.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore