Verklaring deur president Cyril Ramaphosa oor die nasionale poging om die Coronavirus-Covid-19-pandemie te bekamp

Mede-Suid-Afrikaners

Ons het lanklaas ‘n gesinsvergadering gehad.

Toe ek laas met julle gepraat het, presies twee maande gelede, was Suid-Afrikaners besig om van ‘n dodelike tweede golf van die coronavirus-infeksie te herstel.

Toe het die aantal nuwe daaglikse infeksies teen ‘n relatief stadige pas begin stabiliseer en het ons die land op vlak 1 van die coronavirus-inperking geplaas.

Alhoewel ons mense nog steeds aangemoedig het om versigtig te wees, het die lae vlak van oordrag toegelaat dat ons die beperkings op die grootte van byeenkomste kon verslap. 

Maar nou, na maande van lae oordrag, het die aantal infeksies in verskeie dele van die land skerp begin styg.

Ons het die afgelope vier weke ‘n volgehoue styging waargeneem. 

Oor die laaste sewe dae het ons ‘n daaglikse gemiddelde van 3 745 nuwe infeksies gesien 

Dit is ‘n toename van 31 persent teenoor die vorige week, en ‘n toename van 66 persent teenoor die voorafgaande week.

Die proporsie van Covid-19-toetse wat positief is, het meer as verdubbel in die laaste maand, vanaf ongeveer 4% na meer as 11%, selfs al het toetsing regoor die land toegeneem. 

Ons is meegedeel dat ‘n positiwiteitskoers van meer as 5% rede tot kommer is.
Die Vrystaat, Noordkaap, Noordwesprovinsie en Gauteng het die drumpel van ‘n derde golf van infeksies bereik.
Dit mag dalk net ‘n kwessie van tyd wees voordat die land as geheel ‘n derde golf bereik. 
Volgens ons gesondheidskenners is die nuwe golf van infeksies toe te skryf aan die toename in die aantal sosiale byeenkomste waar mense nie die noodsaaklike gesondheidsprotokolle nakom nie.
Hierdie protokolle sluit in die dra van maskers, handhawing van sosiale afstand, voldoende ventilasie en ‘n beperking op die aantal mense wat byeenkomste mag bywoon. 
Ander plekke waar ‘n toename in oordrag plaasvind, is begrafnisse en sogenaamde nabetragtingsgeleenthede (“after tears” parties), sowel as kampe en sportaktiwiteite by skole.
Omdat die infeksietempo vir ‘n geruime tyd laag was, en omdat ons almal aan pandemie-uitputting lei, het ons oorgerus geraak. 
Ons was nie paraat genoeg om ons maskers heeltyd te dra nie, ons het nie oorvol plekke vermy nie en ons het al hoe meer gesosialiseer. 
Gevolglik is infeksies weer aan die toeneem.

Die toename in die daaglikse gevalle volg presies dieselfde trajek as aan die begin van die vorige twee golwe. 

Ons het die tragiese gevolge in ander lande gesien waar die virus toegelaat is om ongekontroleerd te versprei.
Die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 het dus aanbeveel dat die land dringend verdere maatreëls implementeer om die toename in infeksies te beperk.
Hierdie aanbeveling word gebaseer op die volgehoue toename in nuwe gevalle in die laaste 14 dae, ‘n stygende aantal hospitaaltoelatings in byna al die provinsies en ‘n toename in die proporsie Covid-toetse wat positief is.
Verdere beperkings is nodig om te verseker dat die gesondheidsfasiliteite nie oorlaai word nie en dat lewens wat gered kan word nie verloor word nie. 
Dit is nou veral belangrik dat die verspreiding van die virus vertraag word, sodat so veel as moontlik mense ingeënt kan word voordat die derde golf sy piek bereik.
Hierdie aanbevelings is by die Nasionale Coronavirusbevelsraad bespreek, en ook vroeër vandag met premiers, burgemeesters en tradisionele leiers in die President se Koördineringsraad.
Dus, gebaseer op hierdie besprekings, het die Kabinet besluit dat die land op ‘n aangepaste Vlak 2 van inperking geplaas word, wat môre in werking sal tree. 

Dit beteken:

  • Die aandklokreël sal 11 pm begin en om 4 am eindig. 
  • Nie-essensiële ondernemings soos restaurante, kroeë en fiksheidsentrums moet teen 10 pm sluit om hulle werknemers en kliënte kans te gee om by die huis te kom voor die aanvang van die aandklokreël.
  • Alle byeenkomste sal beperk word tot ‘n maksimum van 100 mense binne en 250 mense buite. 
     

Waar die lokaal te klein is om hierdie hoeveelheid mense met voldoende sosiale afstand te akkommodeer, mag nie meer as 50% van die kapasiteit van die lokaal gebruik word nie. 

Dit sluit in godsdienstige byeenkomste, politieke geleenthede en sosiale byeenkomste, sowel as restaurante, kroeë, tavernes en soortgelyke plekke. 

Verskeie belangrike maatreëls bly in plek. 

Dit bly verpligtend dat elke persoon ‘n masker in openbare plekke dra wat die neus en mond te alle tye bedek.

Dit is ‘n kriminele oortreding om dit nie te doen nie.
Die eienaars en bestuurders van openbare geboue, sentrums, winkels, restaurante, taksi’s en busse het almal ‘n verantwoordelikheid om seker te maak dat mense op hulle perseel of in hulle voertuie maskers dra, en dat die toepaslike sosiale-afstandsmaatreëls in plek is. 

As jy positief toets vir Covid-19, moet jy tuis selfisoleer vir ‘n tydperk van 10 dae vandat jy die eerste simptome ontwikkel het. 

Indien jy in kontak was met ‘n persoon wat Covid-19 het, moet jy selfisoleer vir ‘n tydperk van tien dae vanaf blootstelling, selfs al toon jy geen simptome nie. 

Deur a die kontakte van iemand wat positief getoets het te identifiseer en te isoleer, is ons beste meganisme om te verhoed dat die virus verder versprei, so dit is dus baie belangrik dat ons almal die reëls vir isolasie en kwarantyn gehoorsaam. 

Begrafnisse bly beperk tot nie meer as 100 mense nie, en soos voorheen, word nagwake, byeenkomste na begrafnisse en nabetragtingsbyeenkomste (“after tears”) nie toegelaat nie.
Terwyl die land afstuur op ‘n derde golf van infeksies, weet ons nog nie hoe erg dit gaan wees of hoe lank dit gaan duur nie.

Volgens die wetenskaplikes wat die regering adviseer, sal die intensiteit van hierdie derde golf grootliks bepaal word deur die hoeveelheid kontak wat ons met ander mense het. 

Dit beteken dat elkeen van ons moet nadink oor al die mense met wie ons elke dag in aanraking kom, en alles in ons vermoë moet doen om daardie kontak te verminder. 

Dit is soms onvermydelik om met mense in kontak te kom, soos by die werk, tydens inkopies of in openbare vervoer.

In sulke gevalle is dit belangrik dat ons die gesondheidsprotokolle streng handhaaf deur ‘n masker te dra, ons afstand van mekaar te hou en seker te maak dat daar voldoende ventilasie is.
Maar waar dit ook al moontlik is, moet ons ons kontak tydens sulke tye beperk.

Dit mag beteken dat sosiale afsprake uitgestel word, openbare ruimtes vermy word en dat nie gereis word tensy absoluut noodsaaklik nie. 

Byeenkomste is die grootste bron van oordrag – of dit nou troues, begrafnisse, partytjies, godsdienstige byeenkomste, politieke byeenkomste of sommer net byeenkomste van familie of vriende is. 
Ons moet onthou dat die virus nie self van plek tot plek beweeg nie, maar afhanklik is van die beweging van mense.

Hoe minder ons reis, hoe minder kan die virus versprei word.

Dit is veral belangrik dat ons binnenshuise ruimtes vermy aangesien die coronavirus deur die lug versprei word wanneer iemand praat, hoes of nies. 

As jy iemand moet ontmoet, insluitend ‘n familielid, is dit veiliger om dit buite te doen in ‘n goed geventileerde ruimte.

Diegene wat veral ‘n hoë risiko vir infeksie is, insluitend bejaardes en diegene met onderliggende siektetoestande, moet versigtig wees en hulle kontak met mense so veel as moontlik beperk.
As elkeen van ons nou moeite doen, sal ons help om die grafiek van infeksie af te plat.

Ons sal die druk op ons hospitale verlig en deur dit te doen, sal ons baie lewens red. 

Soos ons voortgaan om te fokus op die vermindering van die virusoordrag deur ons gedrag, het ons die grootste massa-inentingsprogram in ons land se geskiedenis afgeskop. 

Ons het twee weke gelede die tweede fase van ons inentingsprogram begin deur die oorblywende deel van ons gesondheidswerkers wat nog nie tydens die eerste fase ingeënt is nie, sowel as almal in die land bo 60 jaar oud, in te ent. 
Dit volg op die eerste fase van die program waarin byna 480 000 gesondheidswerkers ingeënt is.

Meer as 67 persent van openbare-gesondheidswerkers is reeds ingeënt.

Hierdie gesondheidswerkers het die Johnson & Johnson-entstof ontvang, wat slegs ‘n enkeldosis vereis. 
Aangesien die bewyse aantoon dat ouer persone ‘n groter risiko loop om ernstig siek te word van Covid-19 of selfs te sterf, het ons die ouer mense geprioritiseer vir die tweede fase.

Tydens die laaste twee weke het oor die 480 000 mense die eerste dosis van die Pfizer-entstof ontvang as deel van die openbare-inentingsveldtog.

Aangesien die Pfizer-entstof tweede dosisse vereis om maksimum immuniteit te verleen, sal hierdie mense 42 dae na die eerste dosis ‘n tweede dosis moet kry.

In totaal het 960 000 mense in Suid-Afrika reeds een entstofdosis ontvang. 

Ons behoort binne die volgende paar dae aan meer as een miljoen van die kwesbaarste Suid-Afrikaners entstofdosisse toe te dien.

Dit was aangrypend om foto’s te sien waar ons bejaarde landsburgers hul entstof ontvang en om die vele stories te lees van die welwillendheid en samehorigheid wat geheers het onder diegene wat die inentingspersele besoek het.

Die positiewe ervarings van die ontplooiing so ver weerspieël sowel die toewyding as professionaliteit van ons gesondheidsorgwerkers, en die intensiewe voorbereiding wat plaasgevind het om seker te maak dat die ontplooiing suksesvol verloop. 

Die elektroniese inentingsdatastelsel (EVDS) vorm die ruggraat van die program om die registrasie en die toekenning van entstof te bestuur.

Die stelsel verbind mense wat geregistreer het met ‘n inentingsperseel naby hulle. 

Die stelsel stel die nasionale span in staat om entstofgebruik te monitor en entstowwe te ontplooi na waar dit benodig word.

Registrasie en inenting van diegene bo 60 jaar verloop goed. 

Daar is nou reeds oor die drie miljoen mense op die elektroniese entstofdatastelsel (EVDS) geregistreer.

Aangesien dit die eerste keer is dat hierdie stelsel gebruik word, is dit verstaanbaar dat daar aanvanklik ‘n paar probleme was wat ongerief en vertragings vir mense veroorsaak het.

Dit is gelukkig vinnig opgelos en die stelsel word voortdurend aangepas en verbeter soos wat die ontplooiing vorder. 

Daar is ander uitdagings waaraan ons aandag gee.

‘n Beduidende aantal bejaardes het probleme ondervind om op die elektroniese entstofdatastelsel (EVDS) te registreer.

Dit is omdat hulle nie toegang het tot die middele wat hulle nodig het om aanlyn te registreer nie, soos ‘n rekenaar, internettoegang of ‘n selfoon, of probleme het om die aanwysings in Engels te volg.

Ons werk daaraan om hierdie probleme uit die weg te ruim en daar is ‘n groot veldtog van stapel gestuur om die bejaardes te ondersteun om te registreer.

Daar is vier maniere waarop jy kan registreer om die Covid-19-entstof te kry:

  • Deur gebruik te maak van die aanlyn registrasieplatform wat beskikbaar is op die SA Coronavirus-webwerf
  • Deur *134*832# te skakel en via USSD te registreer
  • Deur die woord “REGISTER” via WhatsApp na 0600 123 456 te stuur
  • Deur die nasionale tolvrye nommer by0800 029 999 te skakel waar iemand jou sal help om te registreer en enige vrae oor die entstofprogram sal beantwoord.
     

Ons kan een en almal ons ouers, grootouers of ander bejaarde mense in ons gemeenskap help om op die stelsel te registreer en sodoende beskerm te word.

Al die entstowwe wat goedgekeur is vir gebruik in Suid-Afrika is veilig en effektief vir gebruik.

Hulle is deeglik in groot proefnemings getoets en aan ‘n streng keuringsproses deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte, (SAHPRA) sowel as ander gesondheidsowerhede regoor die wêreld, onderwerp.
Die belangrikste is dat hulle almal beskerming bied teen ernstige siekte of dood weens Covid-19. 

Ons gaan voort om met ander entstofvervaardigers te onderhandel sodat ons verskillende entstowwe in ons program kan insluit.

Sommige van hierdie vervaardigers is in die proses om die nodige goedkeuring van ons gesondheidsprodukte-owerheid te verkry.

Die massa-inentingsveldtog is ‘n gesamentlike poging van al ons vennote. 

Daar is nou meer as 400 inentingspersele in werking regoor die land, in sowel die openbare as private sektor. 

Soos voorheen aangedui, het ons genoeg entstowwe bekom om alle volwassenes in die land in te ent, wat ongeveer 40 miljoen mense is.

Dit sluit in 31 miljoen dosisse van die Johnson & Johnson-entstof, wat ‘n enkeldosis is, en wat hier in Suid-Afrika vervaardig sal word.

Dit sluit ook 20 miljoen dosisse van die Pfizer-entstof in, wat twee dosisse vereis vir volledige beskerming. 

Die geskeduleerde aflewering van die Johnson & Johnson-entstof is egter vertraag weens regulatoriese kwessies wat verband hou met ‘n gebrek aan die handhawing van toepaslike standaarde by ‘n vervaardigingsaanleg in die Verenigde State.
Ons wag dat hierdie kwessie uitgeklaar word voordat die eerste besending Johnson & Johnson-entstowwe vrygestel kan word by die fasiliteit in Gqeberha in die Oos-Kaap. 

Alhoewel dit ‘n uitdaging is wat die verskaffing van entstowwe aan baie lande beïnvloed het, en nie net ons land nie, is ons voortdurend in kontak met die betrokke owerhede om seker te maak dat ons dosisse so gou as moontlik vrygestel kan word. 
Ongeveer 1,3 miljoen Pfizer-dosisse is reeds versprei en ongeveer 500 000 toegedien. 

Die volgende 636 000 dosisse arriveer vanaand, met weeklikse aflewerings van ‘n ekwivalente hoeveelheid tot einde Junie, wanneer ons 2,5 miljoen dosisse sal ontvang.
Ons afhanklikheid tot op hede van die Pfizer-entstof, het die tempo beïnvloed waarteen ons inentingspersele kan open.

Weens die eienskappe van die Pfizer-entstof, wat ‘n ultra-koue verskaffingsketting benodig, is die insluiting van kleiner persele en persele in meer landelike gebiede baie beperk. 

Wanneer die Johnson & Johnson-entstof vrygestel word vir gebruik, sal dit baie makliker wees om toe te dien. Dit is ‘n enkeldosis-entstof en kan in ‘n gewone yskas gebêre word.
Alhoewel ons entstofontplooiing oor die komende weke gaan spoed optel, vra ek dringend dat almal geduldig sal wees en hulle beurt afwag. 

Dit is belangrik dat ons gesondheidsorgwerkers en diegene bo 60 kans gee om eerste ingeënt te word, aangesien hulle die grootste risiko loop om ernstig siek of gehospitaliseer te word. 

Tans is dit slegs hierdie twee groepe wat die inenting kan kry totdat die volgende prioriteitsgroepe aangekondig word. 

Ek wil graag al ons maatskaplike vennote, insluitend die privaatsektor, arbeidsektor, gemeenskapsorganisasies, godsdienstige groeperings en tradisionele leiers bedank vir die innoverende maniere waarmee hulle vorendag gekom het om hierdie veldtog te ondersteun.

As die Afrika-kontinent beur ons vorentoe met ons pogings om ons entstofvervaardigingskapasiteit uit te brei met die oog daarop om selfvoorsienend in entstofkapasiteit te wees. 

Ons vorm ook deel van die globale poging om, as ‘n saak van dringendheid, seker te maak dat alle lande toegang het tot genoegsame entstowwe. 

Ons gaan voort om alle lande dringend aan te moedig om ‘n toegewing ten opsigte van die TRIPS-ooreenkoms (intellektuele eiendomsreg) van die Wêreldhandelsorganisasie te ondersteun sodat Covid-19-entstowwe en 
-behandeling op ‘n groter skaal vervaardig kan word teen ‘n laer koste en vinniger tempo.

Net soos wat ons reaksie op die pandemie op almal se samewerking gesteun het, vereis die entstofontplooiing ‘n gesamentlike poging van die samelewing om te slaag.

Op die oomblik is ons belangrikste prioriteit om ons inentingsveldtog uit te brei om so veel as moontlik mense so vinnig as moontlik in elke deel van die land te bereik.

Ons moet egter die toename in infeksies so lank as moontlik vertraag, sodat meer van ons kwesbaarste landsburgers beskerm kan word. 

Elke week wat ons die piek van die derde golf kan vertraag, gee ons kans om nog honderdduisende mense in te ent, wat heel moontlik hulle lewens kan red.
Dit is hoekom dit noodsaaklik is om nou te op te tree en om saam te staan, om die verspreiding van die virus te beperk deur ‘n masker te dra, byeenkomste en binnenshuise ruimtes te vermy, ‘n veilige afstand teenoor ander te handhaaf, en gereeld ons hande te was en te saniteer.

Met die versnelling van die inentingsprogram beweeg ons nader daaraan om die pandemie te oorkom.

Ons kan nie nou moed opgee nie. Ons kan nie nou verslap nie. 

Die onus is op elkeen van ons om onsself, ons gesinne en ons gemeenskappe te beskerm totdat ons almal ingeënt is. 

Ek vra dat julle al julle kragte, moed en deursettingsvermoë inspan as Suid-Afrikaners om saam te staan en hierdie derde golf terug te hou.

Ons kan en ons sal slaag, soos wat ons voorheen geslaag het. God seën Suid-Afrika en beskermd sy mense. 

Baie dankie.

Share this page

Similar categories to explore