Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 15 November 2017

Die Kabinet het op Woensdag 15 November 2017 by Tuynhuys in Kaapstad vergader.

A. Kwessies in die Omgewing

1. Belegging
1.1. Die Kabinet verwelkom die Ford-motormaatskappy se R3-miljard-belegging in hul Silverton-aanleg in Pretoria, Gauteng. Hierdie belegging sal lei tot die skepping van direkte en indirekte werksgeleenthede weens die verwagte toename in produksie van die Ford Ranger-model.

1.2. Sulke beleggings bevestig die werk wat die regering steeds doen om die ekonomie te laat groei en die uitdagings van werkloosheid die hoof te bied.  Deur die regering se R7,8-miljard-aansporingskema in die Motorproduksie- en Ontwikkelingsprogram is R28,5 miljard se privaat beleggings ontsluit.

1.3. Dit sluit Toyota se aankondiging in dat hulle hul nuwe Toyota Hilux- en Fortuner-modelle gaan vervaardig as deel van ’n R6,1-miljard-belegging. Hierbenewens beplan BMW ’n R6-miljard ultramoderne paneelklopwerkswinkel. Die Beijing Internasionale Outomobielkorporasie beplan ook ’n R11 miljard-belegging in ’n motorvervaardigingsaanleg in Suid-Afrika.

2. 2017-belastingseisoen
2.1. Die Kabinet bedank alle belastingbetalers wat reeds hul belastingopgawes vir die 2016/17-belastingjaar ingedien het.

2.2. Die inkomste wat deur inkomstebelasting gegenereer word, verseker dat die regering die nodige kapasiteit het om broodnodige dienste en maatskaplike bystand aan miljoene minder bevoorregte Suid-Afrikaners te bied.

2.3. Die Kabinet herinner belastingbetalers daaraan dat die sperdatum vir die indiening van opgawes Vrydag 24 November 2017 is, en moedig almal aan om hul belastingopgawes betyds in te dien. 

3.  Stigtingskonferensie van die Nasionale Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling (PEO)

3.1. Die Kabinet is tevrede met die resultate van die onlangse Nasionale PEO-konferensie. Dit is onder leiding van die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, mnr Des van Rooyen, en die Minister van Kleinsake-ontwikkeling, me Lindiwe Zulu, gehou.

3.2. Die konferensie het ’n geleentheid gebied om ’n nuwe agenda vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling op te stel, met inagneming van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se prioriteite. Resultate van die konferensie sluit die bekendstelling van die eerste Ekonomiese Ontwikkelingsraad van Suid-Afrika (EDCSA) in, wat daarop gemik is om die ekonomiese ontwikkelingsektor te professionaliseer. 

3.3. As ’n professionele liggaam, sal EDCSA die professionele optrede van die talle deelnemers aan verskillende ontwikkelingsinisiatiewe bestuur en moniteer.

3.4. Die Kabinet neem ook kennis van die historiese bekendstelling van die Globale Entrepreneurskap-week (GEW) by die nuwe kampus vir beginnersondernemings, te 22 on Sloane, op 10 November 2017, waartydens Minister Zulu die welbekende entrepreneur, Sir Richard Branson ontvang het. Die kampus is die eerste wat deur die Globale Entrepreneurskap-netwerk geopen word. Dit bied direkte en virtuele ondersteuningsdienste aan entrepreneurs regoor Afrika, asook toegang tot ’n internasionale netwerk van mentors, beleggers en organisasies wat nuwe ondernemings ondersteun.

3.5. Gedurende die GEW sal sowat 10 miljoen deelnemers deelneem aan 35 000 aanbiedings, aktiwiteite en kompetisies in meer as 165 lande regoor die wêreld.

4. Heher-kommissie se verslag
4.1. Die Kabinet neem kennis van die verslag van die Kommissie van Ondersoek na die Uitvoerbaarheid van Gratis Hoër Onderwys en Opleiding in Suid-Afrika, wat op Maandag 13 November 2017 vrygestel is. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om die verslag en sy implikasies vir die land te bestudeer, terwyl die regering die aanbevelings oorweeg. 

4.2. Die President sal weldra ’n aankondiging maak oor die verslag, nadat dit deur die Inter-ministeriële Komitee oor Hoër Onderwysbefondsing en die Presidensiële Fiskale Komitee bespreek is. Die regering bly vasbeslote om die struikelblokke wat toegang tot hoër onderwys verhinder uit die weg te ruim, en sien uit daarna om ’n volhoubare oplossing vir die befondsing van hoër onderwys te finaliseer.

5. Droogte
5.1. Die huidige watervlakke van die land se damme bly kommerwekkend, aangesien daar meer verdamping plaasvind as reënval. Die feit dat Suid-Afrika nie genoeg reën gekry het om die land se waterbronne voldoende aan te vul nie, beteken dat die droogtesituasie voortduur. Voorspellings dui daarop dat dit eers vanaf Januarie 2018 behoorlike sal begin reën.

5.2. Die Kabinet wil die publiek verseker dat die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings saamwerk om seker te maak dat Suid-Afrika se water nie opraak nie. Die Kabinet doen ’n ernstige beroep op almal in die land om hul deel te doen om water te bespaar en om dit oordeelkundig en spaarsamig te gebruik.

6.   Zimbabwe
6.1. Die Kabinet ondersteun President Jacob Zuma se tussentrede in sy hoedanigheid as Voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in reaksie op die situasie in Zimbabwe. Hy het spesiale gesante, die Minister van Verdediging en Militêre Veterane, me Nosiviwe Mapisa-Nqakula, en die Minister van Staatsveiligheid, adv Bongani Bongo afgevaardig. Hulle sal samesprekings voer met President Robert Mugabe en Zimbabwe se Weermag. Daarna sal hulle Angola se President João Lourenço in sy hoedanigheid as Voorsitter van die SAOG se Orgaan vir Politiek, Verdediging en Veiligheid inlig. Die Presidensie sal die vordering wat in dié verband gemaak word mettertyd kommunikeer.

7. Vierkante Kilometer Reeks (SKA)

7.1. Die Kabinet verwelkom die ekonomiese en sosiale ontwikkelingsprestasies wat voortspruit uit die gefokusde belegging in maatskaplike ontwikkeling in die omgewing van die SKA Suid-Afrika. Gemeenskappe rondom die SKA-omgewing baat steeds deur beter onderwys- en opleidingsprojekte, belegging in klein ondernemings en toenemende werksgeleenthede.

7.2. Die Departement van Wetenskap en Tegnologie, onder leiding van die Minister van Wetenskap en Tegnologie, me Naledi Pandor, sal ’n openbaredeelnameprogram vanaf 16 tot 19 November 2017 aanbied om dié prestasies saam met die gemeenskappe rondom Carnarvon in die Noord-Kaap te vier. 

B. Kabinetsbesluite

8. Tweede kwartaallikse prestasie-vorderingsverslae vir 2017/18

8.1. Die Kabinet is ingelig oor die tweede kwartaallikse prestasie-vorderingsverslag vir 2017/18 (Julie tot September 2017) deur al vyf die regeringsgroeperings. Dit maak deel uit van die Kabinet se breë monitering en evaluering van die Program van Aksie, wat uit die Mediumtermyn-  Strategiese Raamwerk (MTSF) 2014 tot 2019 voortspruit.

8.2. Die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering en die Ministeriële Groeperingkomitees sal media-inligtingsessies hou om hierdie verslae se vordering te bespreek.

8.3. Die GCIS sal die media-inligtingsessies koördineer en die skedule mettertyd op www.gov.za publiseer.

9. Opdatering van adres-insamelingsinisiatief en toewysing van adresse

9.1. Die Kabinet is ingelig oor die vorderingsverslag ten opsigte van die implementering van die Konstitusionele Hof se uitspraak dat adresse aan die kieserslys toegewys moet word. Die Kabinet waardeer die volle nakoming van die sesmaandelikse vorderingsverslae wat by die Konstitusionele Hof ingedien is.

9.2. Tot op hede het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), in samewerking met staatsagentskappe, byna 75% sukses behaal met die insameling van potensiële kiesers se adresse. Die Kabinet is ook ingelig oor SAPO se plan om diegene wat nie fisiese adresse het nie, by te staan.

9.3. Die Kabinet is tevrede met die vordering wat gemaak is en die samewerking deur SAPO, die OVK en ander staatsagentskappe met die toewysing van adresse.

9.4. Die Kabinet doen verder ’n beroep op diegene wat nog nie hul adresse op datum gebring het nie om dit tydens die volgende kiesersregistrasieweek in Maart 2018 te doen. 

C. Toekomstige gebeure

10. Vierde sessie van die Suid-Afrika-Botswana Bi-nasionale Kommissie (BNK)

10.1. President Zuma onderneem op Vrydag 17 November 2017 ’n amptelike besoek na Gaborone in Botswana as medevoorsitter van die Vierde Sessie van die Suid-Afrika-Botswana BNK.

10.2. Suid-Afrika en Botswana vergader jaarliks op staatshoofvlak binne die raamwerk van die BNK om bilaterale samewerking in oënskou te neem en kwessies van gesamentlike belang te bespreek.

10.3. Die twee lande het goeie betrekkinge wat versterk word deur kulturele bande en geografiese nabyheid. Hulle werk saam op verskeie gebiede soos onder meer vervoer, handel en belegging, gesondheid, en omgewingskwessies.

10.4. Suid-Afrika is een van Botswana se belangrikste handelsvennote, met verskeie Suid-Afrikaanse maatskappye wat in daardie land sake doen.

11. Besoek deur die Staatspresident van Angola

11.1. President Zuma sal Sy Eksellensie, die President van die Republiek van Angola, João Lourenço, op 23 November 2017 vir ’n historiese besoek aan Suid-Afrika ontvang.  Dit sal sy eerste staatsbesoek na Suid-Afrika wees ná sy inhuldiging.

11.2. Die twee lande het historiese en broederlike bande wat terugdateer na die dae van die vryheidstryd toe Angola Suid-Afrikaanse vryheidsvegters in verskeie kampe in daardie land gehuisves en ondersteun het.
11.3. Handel en ekonomiese samewerking tussen die twee lande het beduidend toegeneem in so ’n mate dat Suid-Afrika Angola se voorste handelsvennoot op die vasteland is. Verskeie Suid-Afrikaanse maatskappye doen sake in Angola in uiteenlopende sektore, soos konstruksie, mynwese, behuising, kleinhandel, voedsel en drank, hotelwese en vryetydsbesteding, asook bankwese en mediese dienste.
Tydens sy besoek sal President Lourenço op Vrydag 24 November 2017 ’n lesing aanbied by die OR Tambo-gebou in Pretoria.

12. 16 Dae van Aktivisme

12.1. Die Kabinet sluit aan by alle Suid-Afrikaners wat standpunt inneem teen die mishandeling van vroue en kinders.

12.2. Die veldtog 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders vind tussen 25 November en 10 Desember plaas. Dit is die 19de jaar van die veldtog in Suid-Afrika en word vanjaar voortgesit onder die tema: “Sluit my in: Saam beweeg ons ’n nie-gewelddadige Suid-Afrika vorentoe”.

12.3. President Zuma sal die veldtog vir 16 Dae van Aktivisme op Saterdag 25 November 2017 in die Oos-Kaap van stapel stuur. Dit sal fokus op die voortsetting van nasionale besprekings wat mense aanmoedig om oor die euwel van geslagsgebaseerde geweld te praat. Dit sal voorafgegaan word deur Internasionale Dag vir Mans op Sondag 19 November 2017, wat daarop gerig is om mans aan te spoor om ’n rol te speel in die bou van ’n veiliger samelewing en sterker maatskaplike samehorigheid.

12.4. Die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling sal die tweede reeks in die gemeenskapsradioveldtog, Let’s Talk Justice, voortsit. Dit is daarop gerig om regeringsdienste na die mense te neem deur aan luisteraars ’n geleentheid te bied om met beamptes gesprek te voer oor aktuele sake.  Die bekendstelling van ’n Hof vir Seksuele Misdrywe tydens die veldtog sal ook beter toegang tot die regstelsel bied.

12.5. Die Kabinet vertrou dat ons die siklus van mishandeling deur samewerking kan stuit. Deur ons gesamentlike pogings kan ons mishandeling voorkom en sodoende ’n veiliger samelewing vir vroue en kinders skep.

12.6. Alle Suid-Afrikaners word aangemoedig om ’n wit lint te dra as ’n simboliese onderneming om hierdie euwel uit ons samelewing te verdryf.

13. Aanloop tot Wêreld-vigsdag

13.1. Die Kabinet doen ’n beroep op alle gemeenskappe om deel te neem aan aktiwiteite rakende Rooilint-Vrydag – wat Wêreld-vigsdag op 1 Desember voorafgaan – en tot aan die einde van daardie maand.  Die dra van ’n rooi lint is ’n simbool van solidariteit en verbinding tot die stryd teen MIV en vigs.

13.2.  Wêreld-vigsdag bied ’n geleentheid vir gemeenskappe om saam te staan in die stryd teen MIV, ondersteuning te bied aan mense wat met MIV saamleef, en om diegene wat weens die siekte gesterf het, te onthou. Vanjaar se tema is: “My reg om my status te ken, voorkoming is my verantwoordelikheid”, wat gekoppel word aan die wêreldwye tema: “Die reg tot gesondheid”.

13.3. Dit bevorder die uitvoering van Suid-Afrika se Nasionale Strategiese Plan vir MIV, Tuberkulose en Seksueel Oordraagbare Siektes 2017–2022, wat ’n sleutelkomponent is van Suid-Afrika se pad na algemene gesondheidsorg ooreenkomstig die NOP, wat streef na ’n gesonder, sterker en meer gelyke nasie.

14. Nasionale Imbizo-fokusweek

14.1. Die Kabinet doen ’n beroep op gemeenskappe om deel te neem aan die komende 7de Nasionale Imbizo-fokusweek, wat na verwagting vanaf 27 November tot 3 Desember 2017 gehou sal word.

14.2. Onder leiding van die GCIS bevorder hierdie platform interaktiewe gesprekvoering tussen lede van die uitvoerende regering en gemeenskappe. Dit vind plaas binne die konteks van die eeufeesviering van Oliver Reginald Tambo, wat ’n voorstander van geslagsgelykheid was. Die aktiwiteite is daarop gerig om die veldtog vir 16 Dae van Aktivisme te ondersteun.

14.3. Aktiwiteite sal op die nasionale kalender geplaas word en kan op die regering se webblad (www.gov.za) besigtig word.

D.  Wetsontwerpe

15. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die publikasie van ’n kennisgewing ingevolge artikel 74(5) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996. Die doel is om ’n nasionale en provinsiale konsultasieproses aan die gang te sit met die doel om wysigings aan provinsiale grense rakende die Matatiele Plaaslike Munisipaliteit in die Oos-Kaap en sekere gebiede van Ba Ga Mothibi in Noordwes te bewerkstellig.
Die voorgenome herafbakening van die provinsiale grense spruit voort uit die gemeenskappe van die gebiede se wens om in die buurprovinsies hervestig te word.

E. Boodskappe

16. Die Kabinet wens Frankryk geluk met sy verkiesing as gasheerland vir die 2023 Rugby Wêreldbeker. Die Kabinet bedank ook die regering se afvaardiging, onder leiding van Adjunk-president Cyril Ramaphosa, die Minister van Sport en Ontspanning, Thulas Nxesi en die Suid-Afrikaanse Rugby-unie vir die werk wat hulle gedoen het ter bevordering van Suid-Afrika se bod om die toernooi aan te bied.

17. Die Kabinet wens Minister Naledi Pandor geluk met haar Toekenning as Voortreflike Opvoeder. Die toekenning is aan Minister Pandor oorhandig deur die Kanselier van die Universiteit van Suid-Afrika, voormalige President Thabo Mbeki.
Die Toekenning as Voortreflike Opvoeder, een van vier kategorieë, erken die bydrae van enige voortreflike opvoeder wat uitgeblink het in onderrig, leer, vaardigheidsontwikkeling en/of navorsing op hul deskundige gebied.

18. Die Kabinet prys die werk van die Suid-Afrikaanse Sterrewag, wat deel is van die Wyehoeksoektog na Planete se konsortium van planeetsoekers wat drie nuwe planete ontdek het.

19. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan die deelnemers en wenners van die 2017 Govan Mbeki-toekennings wat hulde bring aan diegene in die konstruksiebedryf wat uitgeblink het in die lewering van behuising. Die toekennings val saam met die viering van die lewering van meer as 4,6 miljoen huise en subsidies sedert 1994.

20. Die Kabinet bedank ook die dapper optrede van die nooddienste, brandbestryders en alle vrywilligers wat gehelp het om die onlangse brande in die Wes-Kaap te blus en die gevolge daarvan te hanteer.  

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Direkteur-Generaal (GCIS)
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore