Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 14 Maart 2018

Die Kabinet het op Woensdag 14 Maart 2018 by Tuynhuys in Kaapstad vergader.

A. Kwessies in die omgewing

1. Ekonomiese groei

1.1. Die Kabinet verwelkom die 1,3% ekonomiese groei in 2017. Dit het toegeneem van 0,3% in 2016. Die feit dat die ekonomie onder moeilike omstandighede goed presteer het, dui op goeie ekonomiese vooruitsigte vir die toekoms.
1.2. Die groeisyfers is ’n aanduiding dat die ekonomie op 'n opwaartse trajek is. Die Nasionale Tesourie verwag dat die ekonomie vanjaar met 1,5% sal groei en tot 2,1% in 2020 sal versnel.
1.3. Die Kabinet doen ’n beroep op alle sektore van die samelewing om voort te bou op die positiewe momentum van 2017 en om saam met die regering te werk om sy planne te omskep in daadwerklike optrede, sodat ekonomiese groei gehandhaaf kan word en meer werk geskep word.

2. Grondhervorming

2.1. Die Kabinet verwelkom die goedgekeurde mosie om die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 te wysig om die onteiening van grond sonder vergoeding toe te laat.
2.2. Die regering het sedert 1994 hard gewerk om die nalatenskap van grondbesit onder kolonialisme en apartheid om te keer. Binne die perke van die wet, het die regering heelwat gedoen om te verseker dat grond steeds produktief benut sal word, terwyl die herstelproses vir diegene wat deur grondonteiening geraak is, versnel word.
2.3. Die saak is na die Grondwetlike Oorsigkomitee verwys, wat teen 30 Augustus 2018 aan die Parlement verslag moet doen. Die aanbevelings aan die Nasionale Vergadering sal beïnvloed word deur 'n reeks openbare verhore, gevolg deur komiteevergaderings.
2.4. Die Kabinet versoek alle belanghebbers om hul insette tydens hierdie gesprekvoeringsproses te lewer, aangesien dit sal help om die oplossings te vind wat ons land vorentoe sal neem. As 'n sorgsame en mensgesentreerde regering sal alle belanghebbers tydens hierdie proses betrek word.
2.5. Die Kabinet moedig gemeenskappe voorts aan om hulle nie skuldig te maak aan onwettige grondbesetting nie. Ons is 'n wetsgehoorsame en vredeliewende land en ons het voldoende maniere om kwessies te hanteer, insluitend grondkwessie.
2.6. Suid-Afrika bly oop vir besigheid en ons verwelkom beleggings in landbou en boerdery. Dit is in Suid-Afrika se belang om kommersiële boere te hê en hierdie proses kan verseker dat ons selfs meer suksesvolle kommersiële boere sal hê.

3. Nofingxana-gemeenskap se Double Drift Wildsboerdery-ekonomieprojek

3.1. Die Kabinet verwelkom die Minister van Omgewingsake, Dr Edna Molewa, se bekendstelling van die Nofingxana-gemeenskap se Double Drift Wildsboerdery-ekonomieprojek by die Double Drift-natuurreservaat in die Oos-Kaap. Dit het die oordrag van die titelakte aan die Likhaya Lethu Gemeenskaplike Eiendomsvereniging (GEV) ingesluit namens die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, me Maite Nkoana-Mashabane.
3.2. Die Double Drift-gemeenskap is deur die Grondwet van 1913 van verblyf- en weidingsregte ontneem. In 1994 het hierdie gemeenskap 'n grondeis ingedien wat in 2012 afgehandel is en tot die Likhaya Lethu-GEV gelei het.
3.3. Die Likhaya Lethu-GEV bestaan uit 1 500 lede van die Double Drift-gemeenskap en het R6 miljoen van die Departement van Omgewingsake ontvang om 'n wildsboerdery ekonomiese onderneming op die plaas Naudeshoek (1 400 hektaar) te ontwikkel. Die transaksie is deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming verwerk.

4. VBS Mutual Bank

4.1. Die Kabinet neem kennis van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se aankondiging oor die VBS Mutual Bank. Die kuratorskap wat aangestel is, sal die VBS Mutual Bank bystaan met die herstel van sy likiditeitsuitdagings en om die belange van die publiek en VBS-kliënte wat geld in die bank gedeponeer het te beskerm. Die Kabinet bly verbind tot die diversifisering en transformasie van die finansiële sektor sonder om deposante se belange in gevaar te stel.

5. Beleggingsveldtog

5.1. Die Kabinet verwelkom die 'CEOs Know'-veldtog deur Brand South Africa, in samewerking met Business Leadership South Africa, om Suid-Afrika as 'n beleggingsbestemming te bevorder.
5.2. Dit bou voort op ons wêreldklas-infrastruktuur deur InvestSA se One-Stop Shop, navorsings- en ontwikkelingsvermoëns, innovasie en 'n gevestigde vervaardigingsgrondslag om beleggers te ondersteun. Nuwe groeigebiede is ook bekendgestel in die oseaan-ekonomie, hernubare energie, die groen ekonomie en skaalgas-eksplorasie.
5.3. Die veldtog betrek ook uitvoerende hoofde van multinasionale korporasies wat in Suid-Afrika gebaseer wat hul insigte oor volgehoue belegging in Suid-Afrika deel.
5.4. Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om in die gees van "Thuma Mina" (Stuur My) wat oor ons land spoel, bydraes te lewer deur hul positiewe stories te deel om ons land se reputasie op te bou en sy beleggingstrekkrag te bevorder.

6. Onafhanklike Kragprodusente- (IPPs) verkrygingsprogram

6.1. Die Kabinet neem kennis van die hooggeregshofsaak wat deur twee nie-regeringsorganisasies aanhangig gemaak is ten opsigte van die regering se besluit om ’n kragaankoop-ooreenkoms met 27 IPP's te onderteken. Die saak sal op 27 Maart 2018 deur die Hooggeregshof afgehandel word. In die gees van grondwetlikheid en die oppergesag van die reg word die ondertekening uitgestel.
6.2. Die Kabinet bevestig sy verbintenis om die aangeleenthede rakende hierdie programme op te los. Die Program vir die Aankoop van Hernubare Energie van Onafhanklike Kragprodusente sal verseker dat verbruikers in ons land toegang tot kostedoeltreffende en skoon energie het, en sal broodnodige belegging na Suid-Afrika lok. Hierdie projekte sal 61 600 voltydse werksgeleenthede verskaf, waarvan 95% vir Suid-Afrikaanse burgers bestem sal wees en spesifiek op die jeug gemik sal wees.
6.3. Die Kabinet bevestig sy verbintenis tot 'n soliede openbare-private vennootskap terwyl ons die land se toekomstige energie-oorgangsdoelwitte en 'n beter lewe vir almal nastreef. Dit is noodsaaklik vir skep van broodnodige beleid en regulatoriese sekerheid, en om Suid-Afrika se posisie as 'n energie-beleggingsbestemming van keuse te behou.

7. Listeriose

7.1. Die Kabinet dra sy opregte medelye oor aan die vriende en familie van mense wat gesterf het weens Listeriose en wens diegene wat daarvan herstel spoedige beterskap toe. Dit het die lewens van meer as 180 mense geëis en altesaam 940 gevalle is in Suid-Afrika aangemeld.
7.2. Die Kabinet is bemoedig deur die intensiewe pogings van die Departement van Gesondheid, die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) en die Wêreldgesondheidsorganisasie om te keer dat die Listeria-bakterie versprei word. Om hierdie pogings te versterk, sal die Minister van Gesondheid, dr Aaron Motsoaledi, Donderdag 15 Maart 2018 met die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging vergader.
7.3. Die Kabinet neem kennis van die positiewe vordering wat gemaak is om die bron van die dodelike Listeria-bakterie te identifiseer en te isoleer. Die herroeping van voedselprodukte uit drie Enterprise- en Rainbow-vleisverwerkingsaanlegte – waar die bakterie gevind is – was 'n bepalende stap om te voorkom dat dit verder versprei. Die siekte, wat deur voedsel versprei word, is vir die eerste keer in Junie 2017 geïdentifiseer.
7.4. Listeriose is 'n ernstige en voorkombare siekte wat suksesvol met antibiotika behandel kan word. Mense wat die grootste risiko loop om dit op te doen, is swanger vroue, baie jong babas, bejaardes en mense met 'n verswakte immuunstelsel. Mense wat simptome van koors, spierpyn, naarheid of diarree toon, moet hul mediese praktisyn of plaaslike kliniek dadelik raadpleeg.
7.5. Die Kabinet is optimisties dat Suid-Afrika die siekte nou in bedwang sal kan hou en doen ’n beroep op die publiek om die vyf voedselveiligheidsreëls gedurende hierdie tyd na te kom:

  • Was jou hande met seep en water voordat jy met voedsel werk en nadat jy toiletgeriewe gebruik het;
  • Maak kos deeglik gaar en moenie halfgekookte kos eet nie, aangesien die Listeria-bakterie doodgaan wanneer kos goed gaar gemaak word;
  • Moenie rou en gekookte kos saam hanteer nie;
  • Hou kos by toepaslike temperature; en
  • Maak seker dat alle melkprodukte gepasteuriseer is of ten minste gekook word, en was voedsel wat nie gekook is nie met skoon lopende water voor inname of ten minste met voorafgekookte water.

7.6. Mense wat onseker is oor enige aspekte van Listeriose, kan die NICD skakel by 011 386 6400.

8. Maatskaplike toelaes

8.1. Die Kabinet neem kennis van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) se gereedheid om die hibriede model vir die verspreiding van maatskaplike toelaes aan begunstigdes vanaf 1 April 2018 te gebruik. Dit is in ooreenstemming met die Grondwetlike Hof se uitspraak wat die huidige kontrak met Cash Paymaster Services (CPS) tot en met 31 Maart 2018 verleng.
8.2. Die Kabinet beklemtoon sy verbintenis tot die regering se maatskaplike bystandsprogram, wat die kern vorm van sy inisiatiewe om armoede te bestry en deurslaggewend is in die herstel van ons mense se waardigheid. Die Kabinet is oortuig dat die begunstigdes van maatskaplike toelaes op 1 April 2018 betaal sal word.
8.3. Die huidige SASSA-kaarte bly geldig tot Desember 2018. Die proses om die kaarte te verander sal op 'n naatlose wyse gedoen word wat nie die betaling van toelaes sal ontwrig nie. Alle begunstigdes sal hulle toelaes deur hul onderskeie betaalpunte ontvang, wat kommersiële banke, die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO) en ander kleinhandelaars insluit.
8.4. Die Kabinet doen 'n beroep op begunstigdes wat nie ’n bankrekening het nie om hul naaste SAPO-tak te besoek en ’n rekening oop te maak. Die Kabinet het SASSA, sowel as die Regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS), opdrag gegee om alles in hul vermoë te doen om alle begunstigdes in kennis te stel van enige moontlike veranderinge wat mag plaasvind gedurende die oorganstydperk van CPS na die nuwe hibriede model. Die Kabinet bly daartoe verbind om te verseker dat die regering gehoor gee aan die Grondwetlike Hof se uitspraak. SASSA-kantore sal oop en gereed wees om die nuwe aansoeke te verwerk.
8.5. Die Kabinet doen ’n beroep op die publiek, veral begunstigdes van maatskaplike toelaes en hul gesinne, om SASSA te kontak by 0800 60 10 11 of hul naaste SASSA-kantoor te besoek vir meer inligting.

9. Kieserregistrasie

9.1. Die Kabinet bedank saam met die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en President Cyril Ramaphosa alle Suid-Afrikaners wat gehoor gegee het aan die versoek om gedurende die afgelope naweek se kieserregistrasieveldtog te registreer om te stem of hul adresbesonderhede te hersien. Dit is 'n mylpaal ter voorbereiding vir die sesde nasionale en provinsiale verkiesings, wat na verwagting in 2019 sal plaasvind.
9.2. Altesaam 2 767 139 stemgeregtigdes het die afgelope naweek stemlokale besoek.
9.3. Van die ongeveer 2,76 miljoen kiesers wat hul stemlokale besoek het:

  • het net meer as 1,3 miljoen herregistreer in hul huidige stemdistrik;
  • het meer as 800 000 hul registrasie na 'n nuwe stemdistrik verander;
  • was daar byna 500 000 kiesers wat vir die eerste keer geregistreer het;
  • was 82% van die stemregtigdes wat vir die eerste keer geregistreer het, jonger as 30 jaar en ongeveer 54% was vroue;
  • het Gauteng die meeste nuwe registrasies gehad met 23,69%, gevolg deur KwaZulu-Natal met 18,78% en Limpopo met 17,03%.

9.4. Die Oos-Kaap het die meeste algehele registrasies gehad met ’n totaal van 87%, gevolg deur die Vrystaat met net meer as 82%, en KwaZulu-Natal, Limpopo en die Noord-Kaap met 79% respektiewelik. In Gauteng was daar altesaam 67,3% registrasies.
9.5. Die OVK het bekend gemaak dat die kiesersrol nou op 26 250 939 kiesers staan, wat volgens Statistieke Suid-Afrika se beramings vir mense van stemgeregtigde ouderdom, gelykstaande is aan 75% van die stemgeregtigde bevolking.
9.6. Sowat 300 000 burgers wat stemlokale besoek het, is onder die bykans 2,8 miljoen kiesers vir wie die OVK voor die naweek nie adresse gehad het nie.
9.7. 'n Bygewerkte en akkurate kieserslys bevestig die geloofwaardigheid van die kiesersrol en versterk ons demokrasie deur vrye, regverdige en geloofwaardige verkiesings te verseker.
9.8. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners wat die afgelope naweek nie hul plaaslike stemlokaal kon besoek nie om hul plaaslike OVK-kantoor te besoek om hul adresse te verifieer en op datum te bring. Alternatiewelik bly die OVK se aanlynfasiliteit by www.elections.org.za/MyIEC en die “app” 24 uur per dag beskikbaar vir geregistreerde kiesers om hul adresbesonderhede na te gaan en by te werk.

10. Beterskapwense aan die driekamp-atleet, Mhlengi Gwala

10.1. Die Kabinet veroordeel saam met die Minister van Sport en Ontspanning, Me Thokozile Xasa, die barbaarse daad van geweld teen 'n jong driekamp-atleet, Mhlengi Gwala, wat met 'n kettingsaag aangeval is terwyl hy in KwaZulu-Natal fietsgery het.
10.2. Die Kabinet wens die atleet 'n spoedige herstel toe en bedank die mediese span van die St. Augustine-hospitaal wat hom behandel. Misdaad hoort nie tuis in ons samelewing nie en die Kabinet doen 'n beroep op alle gemeenskappe om met wetstoepassingsagentskappe saam te werk om misdadigers aan die pen te laat ry.

11. Droogte tot ’n nasionale ramp verklaar

11.1. Onder leiding van die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zweli Mkhize, het die regering 'n nasionale ramptoestand verklaar om die land se droogte- en waterkrisis te hanteer.
11.2. Die Kabinet spreek sy waardering uit teenoor alle Suid-Afrikaners wat steeds water bespaar, sowel as teenoor die Interministeriële Komitee oor Droogte wat in samewerking met belanghebbers op alle vlakke van die regering en die samelewing meedoënlose pogings aanwend om die voortdurende droogtetoestande wat verskeie dele van die land teister, te hanteer.
11.3. Hoewel Suid-Afrika 'n waterskaars land is, is die Kabinet vol vertroue dat ons steeds 'n voorkeurbestemming vir toeriste is.

B. Kabinetsbesluite

1. Die Kabinet keur goed dat die Ooreenkoms vir die Wysiging van Bylae 1 (Samewerking op Belegging) van die Protokol oor Finansies en Belegging (FIB) van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), in die Parlement ter tafel gelê word vir bekragtiging.

1.1. Die doel van die FIP is om die finansiële en beleggingsbeleid van die lidlande te belyn, sodat hulle met die doelwitte van die SAOG ooreenstem. Dit sal verseker dat enige veranderinge in finansiële en beleggingsbeleid in een lidland nie ongewenste aanpassings in ander lidlande noodsaak nie.
1.2. Die wysigings is daarop gerig om die reg van regerings te behou om in die openbare belang te reguleer en om die regte en verpligtinge van beleggers en regerings te balanseer.

2. Die Kabinet keur goed dat die Verenigde Nasies (VN) se Hersiene en Hernoemde Standaard Minimum Reëls vir die Behandeling van Gevangenes ("Nelson Mandela-reëls") in die Parlement ter tafel gelê word.

2.1. Die hernoeming van die Standaard Minimum Reëls na die "Nelson Mandela-reëls" vereer die nalatenskap van ons voormalige president, wat 27 jaar lank in die tronk was.
2.2. Die omvang van Nelson Mandela Internasionale Dag, wat op 18 Julie deur die VN-lidlande gevier word, word ook wêreldwyd uitgebrei om menswaardige toestande in gevangenisse te bevorder, en bewustheid van gevangenes as deel van die samelewing te verhoog, sowel as die werk van die gevangenispersoneel as 'n sosiale diens.
2.3. Die reëls sal Suid-Afrika help om die korrektiewe stelsel vinniger te omskep tot 'n stelsel wat mense ontwikkel ooreenkomstig verskeie internasionale beginsels en riglyne.

C. Wetsontwerpe

1. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bekamping van Haatmisdade en Haatspraak van 2018 in die Parlement voorgelê word.

Die wetsontwerp is daarop gerig om haatmisdrywe en haatspraak as misdade te klassifiseer en maatreëls in te stel om hierdie misdade te voorkom en te bestry. Dit het ten doel om geweld teen mense op grond van vooroordeel die hoof te bied. Dit sal ook uitvoering gee aan Suid-Afrika se verpligtinge ten opsigte van internasionale menseregtebepalings.

2. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op die iKamva Nasionale e-Vaardigheidsinstituut (iNeSI) van 2018 in die Parlement ter tafel gelê word. Die wetsontwerp maak voorsiening vir die vestiging van iNeSI as 'n regsentiteit met sy eie wetgewing om die kapasiteitsuitdagings van e-vaardighede (digitale vaardighede) in die land aan te pak. Kapasiteitsontwikkeling van e-vaardighede word as een van die die regering se prioriteite beskou in die bou van 'n inklusiewe ekonomie en om 'n bekwame en ontwikkelingstaat te vestig.

Die iNeSI sal optree as 'n nasionale katalitiese medewerker en veranderingsagent vir die ontwikkeling van digitale vaardighede en organisatoriese kapasiteit in die land.

3. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op Hidrografie van 2018 aan die Parlement voorgelê word. Die wetsontwerp is daarop gerig om wetgewende status en erkenning te verleen aan die Hidrografiekantoor, wat sedert die ontstaan van hidrografiese dienste in Suid-Afrika in die Departement van Verdediging (Suid-Afrikaanse Vloot), bestaan het.

4. Dit sal die Hidrograaf van die Suid-Afrikaanse Vloot in staat stel om as die Nasionale Hidrograaf erken te word. Dit sal verseker dat die voorsiening van hidrografiese dienste geformaliseer en in die wet opgeneem word. Dit is in ooreenstemming met die Internasionale Maritieme Organisasie en die Internasionale Konvensie vir die Veiligheid van Lewe op see, wat 'n internasionale maritieme verdrag is wat minimum veiligheidstandaarde vasstel in die bou, toerusting en bedryf van handelskepe.

D. Toekomstige gebeure

1. Menseregtemaand/-dag

Die tema vir die herdenking van 2018 se Nasionale Menseregtemaand/-dag is: "Die jaar van Nelson Rolihlahla Mandela: bevordering en versterking van 'n menseregte-kultuur regdeur die samelewing".

Die nasionale geleentheid vind plaas op 21 Maart 2018 by die George Thabe-krieketveld, Sharpeville in Vereeniging. Die Kabinet doen ’n beroep op alle sektore van die samelewing om deel te neem aan hierdie nasionale dag wat Suid-Afrika se menseregte-tradisie vier en mense soos Madiba vereer, wat die hoogste prys betaal het en opofferings gemaak het vir die vryheid wat ons vandag geniet.

2. Nasionale Imbizo-fokusweek

Die Nasionale Imbizo-fokusweek vind vanjaar van 9 tot 15 April 2018 plaas onder die tema: "Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe." Hierdie jaar vorm die Mandela-eeufeesviering 'n groot deel van die fokusweek onder die subtema: "Wees die nalatenskap". Die Uitvoerende Bestuur sal met gemeenskappe in verskillende dele van die land gesprek voer. Die onderskeie ministers se programme sal binnekort bekend gemaak word

3.  Jeugindiensneming 

3.1. President Ramaphosa sal na verwagting die Jeug-indiensnemingsinisiatief op 27 Maart 2018 by die Riversands Incubation Hub in Diepsloot bekendstel. Die inisiatief, in samewerking met die private sektor, beoog om die volgende vyf jaar een miljoen jongmense te bemagtig om ekonomies aktief te word, hetsy as lede van die werksmag, of om hul eie ondernemings te bedryf, of om hul passie vir verdere studie uit te leef.

4. Werksbesoeke aan Mosambiek en Zimbabwe

President Ramaphosa sal op Saterdag 17 Maart 2018 werksbesoeke na die Republiek van Mosambiek en die Republiek van Zimbabwe onderneem. Die besoeke sal hoofsaaklik fokus op die versterking van bilaterale verhoudinge met albei lande.

Die President sal ook gesprek voer oor vrede en sekuriteit in die streek en die vasteland, en verder beraadslaag oor globale kwessies van gemeenskaplike belang

E. Boodskappe

1. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan Ntsiki Biyela, Suid-Afrika se eerste swart vroulike wynmaker, wat pas haar eie handelsmerk bekend gestel het. Sy het 'n graad in wingerdbou aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, waarná sy 13 jaar werkservaring in die bedryf opgedoen het. Sy sal vanjaar 12 000 bottels van haar Aslina-wyne na die Verenigde State van Amerika, Duitsland, Taiwan en Ghana uitvoer.
2. Die Kabinet wens Caster Semenya geluk dat sy die Suid-Afrikaanse 1 000m-rekord wat reeds 35 jaar staan, tydens die Athletix Grand Prix-byeenkoms by Tuks in Pretoria, gebreek het. Ons goue meisie het die wedren met 'n tyd van 2:35:44 gewen, waarmee sy die ou rekord wat in 1983 deur Ilze Wicksell opgestel is, met amper twee sekondes verbeter het. Die Kabinet prys Semenya ook dat sy haar droom vervul het om 'n universiteitskwalifikasie te behaal, naamlik ‘n diploma in Sportwetenskap aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.
3. Die Kabinet dra sy medelye oor aan die vriende en familie van die parlementslid me Loliwe Fazeka, wat verlede week in 'n motorongeluk in die Oos-Kaap gesterf het.
4. Die Kabinet dra ook sy medelye oor aan die geliefdes van Suid-Afrika se Ambassadeur in Swede, me Faith Radebe, wat op Dinsdag 13 Maart 2018 oorlede is. Sy was voorheen die Inspekteur-Generaal van Intelligensiedienste in Suid-Afrika.

F. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
1. Dr Philemon Mjwara as Direkteur-generaal van die Departement van Wetenskap en Tegnologie vir 'n verlengde kontraktydperk van drie jaar, wat op 1 April 2018 begin.
2. Me Memme Sejosengwe as Sekretaris-Generaal in die Kantoor van die Hoofregter vir 'n verlengde kontraktydperk van drie jaar, met ingang van 1 April 2018.
3. Me Thuli E Radebe, as Uitvoerende Direkteur by die Sentrum vir Openbare Dienste Innovasie vir 'n verlengde kontraktydperk van ses maande.
4. Mnr Thilivhali Archibald Ramawa as Hoof Finansiële Beampte van die Nasionale Instituut vir Elektroniese Media van Suid-Afrika.
5. Raad van Sentech SOC Beperk:

a. Mnr Magatho Mello (heraanstelling as Nie-uitvoerende Direkteur en Voorsitter);
b. Mnr Lumko Mtimde (heraanstelling as Nie-uitvoerende Direkteur);
c. Dr Sandile Malinga (Nie-uitvoerende Direkteur); en\
d. Me Elizabeth Malaka (Nie-uitvoerende Direkteur).

6. Raad van Broadband Infraco:

a. Mnr. Mandla Ngcobo (heraanstelling as Nie-uitvoerende Direkteur en Voorsitter);
b. Me Nokuthula Selamolela (heraanstelling as Nie-uitvoerende Direkteur);
c. Mnr Gift Mphefu (Nie-uitvoerende Direkteur);
d. Me. Zandile Matilda Kabini (Nie-uitvoerende Direkteur); en
e. Me Jennifer Schreiner (Nie-uitvoerende Direkteur).

7. Raad van SAPO:

a. Mnr Comfort Ngidi (heraanstelling as Voorsitter);
b. Me Nomahlubi Simamane (heraanstelling as Ondervoorsitter);
c. Adv Juliana Galetlane Rasethaba (Nie-uitvoerende Direkteur); en
d. Dr Charles Nwaila (Nie-uitvoerende Direkteur).

Navrae:
Phumla Williams
(Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Tel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore