Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag 2 Desember 2020

A. Kwessies in die omgewing

1. Toename in koronavirussiekte-infeksies (COVID-19)

1.1. Die Kabinet spreek sy uiterste kommer uit oor die skerp styging in die aantal nuwe COVID-19-infeksies in die Oos-Kaap en dele van die Wes-Kaap. Die toename in infeksies word onder meer toegeskryf aan faktore soos  verontagsaming van COVID-19-voorkomingsprotokolle en gereedheidsvlak 1-regulasies.
1.2. Die Kabinet keur die voorgestelde ingrypingsmaatreëls vir die Nelson Mandelabaai (NMB) Metropolitaanse Munisipaliteit goed vir die hantering van stygende COVID-19-infeksies. Die Kabinet keur ook goed dat inisiasieskole, binne die streng gesondheidsprotokolle buite die NMB-metro, mag voortgaan. Die Minister van Gesondheid, Dr. Zweli Mkhize, sal die Wes-Kaap besoek om te bepaal wat gedoen moet word om by gebiede soos die Tuinroete, in te gryp.
1.3. Die Kabinet beklemtoon die belangrikheid daarvan om nie-farmaseutiese ingrypings na te kom, soos om hande met water en seep te was of om ’n handontsmetmiddel met ’n alkoholbasis te gebruik, sosiale afstand in die openbaar te handhaaf en ʼn masker te dra. Ons behoort almal die oproep deur die Wêreldgesondheidsorganisasie om nuwe COVID-19-infeksies te voorkom, te ondersteun.
1.4. Met die feesseisoen op ons drumpel, moet ons onthou dat die pandemie steeds aktief en gevaarlik is. Ons moet dus onnodige reis vermy, veral deur openbare vervoer, en ons besoeke na openbare plekke soos restaurante, tavernes of kroeë, beperk. Elkeen van ons moet seker maak dat ons voorsorg tref om te voorkom dat die virus na ons families, veral bejaardes, versprei.
1.5. Ons moet altyd sosiale afstand handhaaf, selfs wanneer ons as families bymekaarkom om die feesseisoen te vier. Deur verantwoordelike optrede, kan ons almal help om COVID-19 te bestry en te stuit. Die Kabinet keur ook die verlenging van die nasionale ramptoestand tot 15 Januarie 2021 goed.

2. Vragvervoerbedryf

2.1. Die Kabinet veroordeel die wetteloosheid wat die vragvervoerbedryf beïnvloed en loof die polisie vir hul vinnige reaksie om verdagtes in Gauteng in hegtenis te neem. Die Kabinet betuig sy medelye met die families en kollegas van bestuurders wat hulle lewens verloor het en wens die beseerdes ʼn spoedige herstel toe.
2.2. Ons begryp die frustrasies oor die skending van immigrasiewette deur sommige maatskappye, maar geweld is nie die antwoord nie. Die Kabinet doen ʼn beroep op almal wat daardeur graak word, om hul griewe oor die vragvervoerbedryf by die toepaslike owerhede in te dien, in stede daarvan om van geweld gebruik te maak.
2.3. Die Minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, lei die span van ministers wat hierdie saak hanteer en hy sal na verwagting ʼn konkrete voorlegging aan die Kabinet doen om die geskille wat die bedryf raak die hoof te bied.

3. Infrastruktuurontwikkeling

3.1. Die Kabinet verwelkom die oorhandiging van die uMshwathi Skema vir Massawatervoorsiening in KwaZulu-Natal, wat die lewens van meer as 3 000 huishoudings in die gebiede van Albert Falls, Mpolweni, Trustfeed en Nadi, geheel en al sal verander.
3.2. Die skema is ʼn voorloper van verskeie ander streeksprojekte vir massawatervoorsiening wat oor sewe distriksmunisipaliteite sal strek, naamlik Zululand, King Cetshwayo, iLembe, uThukela, uMnungundlovu en Harry Gwala. Die Kabinet versoek die begunstigdes om water tot voordeel van alle huishoudings te bespaar en spaarsamig te gebruik.

4. Veiliger feestyd

4.1. Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om verantwoordelik op te tree wanneer ons die feestyd saam met ons families en vriende geniet. Ons moet nie net alle gesondheidsprotokolle nakom om die verspreiding van COVID-19 te voorkom, maar ook die verkeersreëls om te verseker dat ons almal ons bestemmings veilig bereik.
4.2. Padveiligheid is elke Suid-Afrikaner se verantwoordelikheid en alle motoriste word versoek om by die spoedbeperkings te hou, nie te drink en bestuur nie en nie roekeloos en nalatig te bestuur nie.
4.3. Ouers en versorgers word versoek om kinders nooit tydens die feesseisoen sonder toesig te laat nie. Ons kan ʼn veilige en vreugdevolle feesseisoen verseker deur saam te werk en versigtig te wees.

B. Kabinetsbesluite

1. Vorderingsverslag van die Interministeriële Taakspan (IMTS) vir Noordwes

1.1. Die Kabinet keur die IMTS se aanbevelings vir die onttrekking van direkte ingrypings, ingevolge artikel 100(1)(b), in Noordwes teen die einde van die 2020/21-boekjaar, goed.
1.2. Die Kabinet is tevrede met die vordering wat gemaak is met die nasionale regering se ingryping in Noordwes, hoewel meer werk steeds gedoen moet word om goeie staatsbestuur in die provinsie te herstel.
1.3.    Vordering is gemaak met die herstel van gemeenskaps- en arbeidsvrede, finansiële beheer, gevolgbestuur en dienslewering. Daar was ook ʼn ommekeer in die oudituitslae en ʼn einde aan die ses jaar van afname en stagnasie van ouditbevindings. ʼn Volledige verslag sal in die Parlement ter tafel gelê word.

2. Jongste nuus oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se Sakereddingsplan

2.1. Die Kabinet is ingelig oor die vordering rakende die implementering van die SAL se sakereddingsplan en hoe die toewysing van die R10,5 miljard doeltreffend gebruik sal word om die sukses van die plan se implementering te verseker.
2.2. Die Kabinet waardeer die vordering en het die Departement van Openbare Ondernemings (DOO) ernstig versoek om die implementering van sleutelinisiatiewe te bespoedig om die ontwikkeling van ʼn nuwe, doeltreffende, tegnologiekundige en herstruktureerde nasionale lugdiens te verseker.
2.3. Die DOO het opdrag gekry om die aanstelling van die tussentydse SAL-raad te finaliseer en die aanstelling van die strategiese ekwiteitsvennoot vir die herstruktureerde SAL af te handel. Mango is geloof vir die strategiese rol wat dit as ʼn SAL-dogtermaatskappy gespeel het om die voortgesette teenwoordigheid van die lugdiens in die mark, te verseker.

3. Nasionale Seisoenale Gereedheidsplan (Gebeurlikheidsplan) vir die 2020-21 Somerseisoen

3.1. Die Kabinet keur die Nasionale Seisoenale Gereedheidsplan vir die 2020-2021 Somerseisoen, wat deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Dr. Nkosazana Dlamini Zuma voorgelê is, goed. Die plan volg voorspellings wat aangedui het dat daar verhoogde kanse van reënval bo die normale oor die grootste deel van die land verwag word. Dit impliseer dat die somerreënvalgebiede wat agt provinsies verteenwoordig — behalwe die winterreënvalgebiede soos die Wes-Kaap — ʼn hoë verwagting van vloede en windstorms het.
3.2. Gematigde maatreëls word in plek gestel om die impak van uiterste somer-seisoenale gevare te verminder wanneer die plan geïmplementeer word. Dié plan sluit die feesseisoen in en duur van November 2020 tot Februarie 2021, aangesien dié tydperk gewoonlik ’n verhoogde risiko van weerverwante gevare inhou. Die Kabinet neem ook kennis dat dele van die drie Kaapprovinsies steeds ernstige droogte ervaar.
3.3. Die Kabinet versoek die publiek om die nodige voorsorgmaatreëls teen somer-seisoenale bedreigings te tref en om seker te maak dat hulle doeltreffend kan reageer om lewens te red en eiendom en infrastruktuur te beskerm.

4. Nasionale Raamwerk vir Beleidsontwikkeling

4.1. Die Kabinet keur die Nasionale Raamwerk vir Beleidsontwikkeling goed, wat alle regeringsdepartemente in die opstel van hul onderskeie openbare beleide sal lei. Die raamwerk is daarop gerig om die prosesse vir beleidsformulering regoor alle regeringsfere te standaardiseer.
4.2. Die dokument sit die verskillende stappe uiteen wat gevolg moet word met die formulering van openbare beleide, waaronder beleidmakingsiklusse, verwagte standaarde, faktore wat oorweeg moet word wanneer ʼn beleid geformuleer word en institusionele ooreenkomste wat vir doeltreffende beleidmakings- en implementeringsprosesse in plek gestel moet word.  
4.3. Die huidige raamwerk verseker nie eenvormigheid en samewerking in die regering se beleidmaking nie. Die dokument sal deur die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering (DPME) se webtuiste (www.dpme.gov.za) beskikbaar wees.

5. Grondskenkingsbeleid

5.1. Die Kabinet keur die beleid vir implementering goed. Dit is daarop gerig om grondskenking as een van die maniere om op die stadige pas van grondhervorming te reageer, te bespoedig.
5.2. Die implementering van die beleid sal sinvolle geleenthede vir burgers in buitestedelike en landelike gebiede skep om aan die ekonomie deel te neem. Dit stel aansporings in plek en gee leiding oor grondskenkings deur eienaars van groot stukke grond. Die aansporings het voorgeskrewe bemagtigingsverantwoordelikhede vir groot institusionele grondeienaars wat grond wil skenk.
5.3. Grond wat geskenk is en die aansporingsbeleidsmaatreëls is in ooreenstemming met die ooreenkoms wat in die 2016 Operasie Phakisa oor Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling deur maatskaplike vennote bereik is. Die beleid is in Februarie 2020 vir openbare beraadslaging vrygestel.

6. Nasionale Beleid oor die Keuring van Begunstigdes en Grondtoewysing van 2020

6.1. Die Kabinet keur die beleid wat voorsiening maak vir ʼn regverdige, geloofwaardige en deursigtige proses vir die keuring van begunstigdes en grondtoewysing in Suid-Afrika goed. Die beleid sluit kommentaar in wat vroeër vanjaar tydens publikasie ontvang is en onderneem om, onder meer, geslagsongelykheid in grondeienaarskap die hoof te bied.
6.2. Dit prioritiseer die toewysing van grondeienaarskap aan vroue, wat die bevordering van vroue in dié opsig, aanmoedig. Dit is ook daarop gerig om die diverse grondbehoeftes vir landbouproduksie, menslike nedersettings, gemeenskaplike grond, residensiële en industriële ontwikkeling, soos deur gemeenskappe uitgewys, te hanteer.
6.3. Die beleid stel die skep van ʼn onafhanklike struktuur voor om die grondtoewysings te verwerk en maak voorsiening vir ʼn aanlyn-aansoekstelsel om volle deursigtigheid oor die toewysing van grond te verseker.

7. Konsep Eenstop-grenspos- (ESG) beleid

7.1. Die Kabinet keur die konsep ESG-beleid vir openbare beraadslaging goed. Die doel van die ESG-beleid is om die beweging van mense en goedere tussen Suid-Afrika se landinklaringshawes en naburige lande te versoen. Die voorstelle in die beleid is daarop gerig om opeenhoping wat vertragings, veral deur oorgrensreisigers en handelaars, tot gevolg het, die hoof te bied.
7.2. Dié beleid gee uiting aan die Eenstop-grensposraamwerk wat in 2018 deur die Kabinet goedgekeur is. Die beleid dra op kontinentale vlak by tot die Presidensiële Infrastruktuurkampioen-inisiatief, wat tussenverbindings onder Afrikalande bevorder om infrastruktuurtekorte aan te vul en intra-Afrikahandel te verhoog. Die konsepbeleid sal tydens die eerste kwartaal van 2021 vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer word.

8. Bekragtiging van die Internasionale Arbeidsorganisasie se Konvensie oor die Uitwissing van Geweld en Teistering in die World of Work-Konvensie van 2019 (Nr. 190)
8.1. Die Kabinet keur goed dat die World of Work-Konvensie van 2019 (Nr. 190) by die Parlement vir bekragtiging ingedien word. Die konvensie gee aandag aan geweld en teistering, in besonder in die werkplek. Dit maak voorsiening vir ʼn duidelike raamwerk vir optrede en ʼn geleentheid om ʼn werkstoekoms te skep wat op waardigheid en respek, sonder geweld en teistering, gegrond is.
8.2. Die bekragtiging van die konvensie is in ooreenstemming met die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996. Die voorskrifte van die konvensie sal, sodra dit bekragtig word, ingeburger word en in ooreenstemming met die Wet op Arbeidsverhoudinge (Wet 66 van 1995), gebring word.
8.3. Die Departement van Indiensneming en Arbeid het reeds ʼn Gedragskode vir Goeie Praktyk oor die Voorkoming en Uitwissing van Geweld en Teistering in die Werkomgewing ontwikkel.

9. Bygewerkte Strategie vir die Antarktiese en Suidelike Oseaan

9.1. Die Kabinet keur die bygewerkte strategie vir implementering goed; dit sluit kommentaar wat vroeër vanjaar tydens sy publikasie ontvang is, in. Die strategie maak voorsiening vir die koördinering en implementering van die Wet op Antarktiese Verdrae (Wet 60 van 1996), wat verband hou met navorsing, bewaring, volhoubare hulpbrongebruik en omgewingsbestuur ter ondersteuning van die Afrika-agenda.
9.2. Dit dra by tot die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte deur erkenning te gee aan die Antarktiese en Suidelike Oseaan as kernbelangrike dele van die globale klimaatstelsel. Die strategie dra by tot klimaatoptrede en ekologiese integriteit deur die stigting van spesiale beskermde en beheerde gebiede te bevorder. Dit is in Maart 2020 vir openbare kommentaar gepubliseer.

10. Menseregte, Bevryding en Versoening: Nominasiedossier vir Nelson Mandela Erfenisgebiede

10.1. Die Kabinet keur goed dat die Menseregte, Bevryding en Versoening: Nominasiedossier vir Nelson Mandela Erfenisgebiede aan die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie se Wêrelderfenissentrum voorgelê word vir oorweging en inskrywing as Wêrelderfenisgebied. Dit is deel van die breër Projek oor Erfenisroetes van Verset en Bevryding.
10.2. Die nominasie stel 10 individuele gebiede in vier provinsies en sewe munisipaliteite, voor. Dit verteenwoordig ons geskiedenis van bevryding en menseregte en gee bewyse van die verskillende fases van die vryheidstryd.
10.3. Dié nominasie is in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan wat die bewaring en opknapping van beskermde gebiede beklemtoon. Dit erken ook die potensiaal van die kreatiewe ekonomie se bydrae tot werk- en uitvoerinkomste-ontwikkeling.

C. Wetsontwerpe

1. Wetsontwerp op die Bewaring en Ontwikkeling van Landbougrond van 2020

1.1. Die Kabinet keur goed dat die wetsontwerp by die Parlement ingedien word. Die wetsontwerp herroep die Wet op Onderverdeling van Landbougrond, 1970 (Wet 70 van 1970) om uiting te gee aan grondwetlike vereistes en om voorsiening te maak vir ʼn regverdige en gebalanseerde benadering tot die gebruik van landbougrond.
1.2. Die wetsontwerp maak voorsiening vir die proaktiewe beskerming van landbougrond vir voedselproduksie deur die vestiging van beskermde landbougebiede waar landbougrond met hoë potensiaal vir landboudoeleindes afgebaken sal word en landbougrond met lae potensiaal vir nie-landbou-aanwending gebruik mag word.
1.3. Die implementering van die wetsontwerp gee aandag aan die bedreiging vir nasionale en huishoudelike voedselsekerheid.

D. Toekomstige gebeure

1. Afrika Unie (AU) Spitsberaad

1.1. Die AU bied op 5 en 6 Desember 2020 die Afrika- Kontinentale Vryhandelsgebied (AfKV) se Buitengewone Spitsberaad aan, ter voorbereiding van die begin van die AfKV op 1 Januarie 2020.
1.2. Die AfKV hou enorme voordele vir Suid-Afrika in, want dit dien as katalisator vir ekonomiese groei en belegging. Die vryhandelsgebied maak ons uitvoer van goedere en dienste vir ʼn mark van meer as 1,2 miljard mense oop. As voorsitter van die AU, is Suid-Afrika die belangrikste aandrywer vir die implementering van die AfKV.
1.3. Die ooreenkoms bevorder ekonomiese integrasie en ontwikkeling, sowel as vrouebemagtiging op die vasteland en versterk pogings vir vrede en stabiliteit in Afrika.

2. Versoeningsdag

2.1. Suid-Afrika sal op 16 Desember 2020 Versoeningsdag met die tema ‘Verenig in Optrede teen Rassisme, Geslagsgebaseerde Geweld en ander Onverdraagsaamhede’, gedenk. Laat ons dié dag gebruik om onsself weer daartoe te verbind om nasiebou en maatskaplike samehorigheid te bereik.
2.2. Vanjaar se fokus op rassisme beklemtoon die noodsaaklikheid dat elke persoon verantwoordelikheid moet neem om rassisme, rassediskriminasie, vreemdelingehaat, en verwante onverdraagsaamhede in die land, te bestry.

3. Internasionale Teenkorrupsiedag

3.1. Suid-Afrika sal op 9 Desember 2020 saam met die res van die wêreld Internasionale Teenkorrupsiedag herdenk. Die dag verhoog bewustheid van die koste en negatiewe uitwerking van korrupsie met die doel om dit uit te wis.
3.2. Korrupsie is onaanvaarbaar, hetsy dit in die openbare of private sektor plaasvind. Korrupsie kom in verskeie vorme voor, byvoorbeeld om ʼn bestuurderslisensie te 'koop', om omkoopgeld te betaal om straf te ontduik, sameswering en gedrag wat nie mededingend is nie, maak alles deel van korrupsie uit.
3.3. Die sukses van ons stryd teen korrupsie hang af van die betrokkenheid van alle burgers en instansies. Die Kabinet het in November 2020 die Nasionale Teenkorrupsiestrategie vir implementering goedgekeur en almal versoek om ʼn verenigde front in die stryd teen korrupsie te vorm. As jy iets sien, sê iets, meld korrupsie aan deur die Nasionale Teenkorrupsieblitslyn op 0800 701 701 te skakel.

E.  Boodskappe

1. Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense en welmenendheid oor aan:
1.1. Me. Tsakani Maluleke, wat met ingang van 1 Desember 2020 as Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika aangestel is. Die Kabinet wens haar voorspoed toe in haar verantwoordelikhede om toerekenbaarheid in die gebruik van staatshulpbronne te verseker.  

2. Medelye

Die Kabinet betuig sy medelye met die:
2.1. familie, vriende en kollegas van voormalige Bafana Bafana- en Mamelodi Sundowns-verdediger, Anele Ngcongca.
2.2. Royal Bafokeng-nasie oor die afsterwe van Mohumagadi (Koninginmoeder), Dr. Semane Bonolo Molotlegi.
2.3. AbaThembu-nasie oor die afsterwe van AmaXhosa Koninginmoeder, Nozamile Sigcawu, moeder van die oorlede Koning Mpendulo Zwelonke Sigcawu.
2.4. familie van Sy Majesteit Koning Goodwill Zwelithini oor die afsterwe van sy seun, Prins Lethukuthula Zulu.

F. Aanstellings

Alle aanstelling is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring.

1. Me. Mukondeleli Johanna Mulaudzi as Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van die Hawereguleerder van Suid-Afrika.
2. Me. Ayanda Noah as Voorsitter van die Direksie van die Sentrale Energiefonds SBM BPK.
3. Mnr. Loyiso Tyabashe as HUB van die Suid-Afrikaanse Kernkragkorporasie.
4. Raadslede van die Reguleringsowerheid vir die Private Veiligheidsbedryf:
a. Dr. Audrey Leah Mofomme (Voorsitter);
b. Mnr. Matome Solomon Ralebipi (Adjunk-voorsitter);
c. Mnr. Humphrey Nhlanhla Ngubane;
d. Dr. Sithembile Nombali Mbete; en
e. Me. Thandeka Ntshangase.
5. Verlenging van Mnr. Mbulelo Tshangana se kontrak as Direkteur-Generaal (DG) van die Departement van Menslike Nedersettings.
6. Me. Nomfundo Clementine Tshabalala as DG van die Departement van Omgewing, Bosbou en Visserye.
7. Dr. Annette Theresa Griessel as die Adjunk-DG (ADG): Nasionale Beplanningskoördinasie by die DBME.
8. Dr. Nontsikelelo Valencia Tshayingca-Mashiya as ADG: Korporatiewe Dienste by die DBME.
9. Me. Dorcas Tshepiso Moahloli as ADG: Bates en Lasbestuur by die Nasionale Tesourie.

Navrae:
Me. Phumla Williams - Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore