Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 13 Maart 2019

Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag 13 Maart by Tuynhuys in Kaapstad

A. Kwessies in die omgewing
1. Goeie Groen Dade


1.1. Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners wat hulle by President Cyril Ramaphosa aangesluit het met die bekendstelling van die nasionale veldtog vir Goeie Groen Dade. Die veldtog bied ’n geleentheid aan die onderskeie samelewingsektore om hul deel te doen en meer omgewingsbewus te word. Suid-Afrika is een van die ondertekenaars van die Parys Ooreenkoms oor klimaatsverandering, wat as riglyn dien vir internasionale pogings om kweekhuisgasvrystellings te beperk.

1.2. Dit is die plig en verantwoordelikheid van alle mense in Suid-Afrika om ’n skoon en gesonde omgewing te verseker, nou en vir toekomstige geslagte. ’n Goed bestuurde omgewing sal help om kweekhuisgasvrystellings te verminder, en tot voedselsekerheid, water, energie en algemene bestaansmiddele bydra.

1.3. Die Kabinet doen ’n beroep op almal om ’n veldtog vir Goeie Groen Dade ’n lewenswyse te maak, sodat ons woonbuurte, gemeenskappe en die land ’n internasionale voorbeeld kan word van hoe om skoon, groen en bewoonbaar te wees.

2. Grondeise

2.1. Die Kabinet is tevrede met die voortgesette implementering van grondhervormingsprogramme wat daarna streef om die onregte van die verlede reg te stel en ’n meer regverdige samelewing te bou, wat tot alle Suid-Afrikaners se voordeel sal strek.

2.2. Ter bevordering van die regverdige verdeling van grond, het President Ramaphosa die leiding geneem met die oorhandiging van die bygelegde en gefinaliseerde 142 hektaar van prima-grondeiese aan die gemeenskap van Moretele, wat aangedui het dat hulle die grond vir ontwikkeling gaan gebruik.

2.3. Hierdie gemeenskappe het die reg op hulle grond verloor toe hulle summier van hul eiendomme verwyder is ná die implementering van die bepalings van die Wet op Naturellegrond van 1913. Die Kommissie vir die Herstel van Grondregte (CRLR) het meer as R203 miljoen aan die bylegging en finalisering van die eise spandeer.

3. Eskom

3.1. Die Kabinet het ’n verslag van Adjunkpresident David Mabuza ontvang oor die werk van die gesamentlike Sosiale Kabinetskomitee oor Eskom, wat ingestel is in reaksie op onlangse onderbrekings in elektrisiteitsvoorsiening en die negatiewe uitwerking daarvan op die ekonomie. Die regering se gekoördineerde pogings om die finansiële, operasionele en strukturele volhoubaarheid van Eskom te verseker, vorder daadwerklik.

3.2. Die Eskom Tegniese Hersieningspan wat deur die Minister van Openbare Ondernemings en die Direksie van Eskom aangestel is, het vandeesweek met sy werk begin. Die span sal na verwagting binne vier (4) weke ’n voorlopige verslag uitreik. Die werkverrigting van die kragaanlegte bly wisselvallig, selfs al is beurtkrag nie sedert 15 Februarie 2019 geïmplementeer nie. ’n Aantal beduidende voorvalle het in die verspreidingsareas voorgekom, wat tot die kragonderbrekings bygedra het.

3.3. Die Kabinet neem kennis dat goeie vordering gemaak is met die herstel van steenkoolvoorraad by al die kragstasies, maar die Steenkoolvoorsieningsketting verg verdere aandag. Die Kabinet bly egter bekommerd oor die werkverrigting van die Medupi- en Kusile-kragstasie, en het die Minister van Openbare Ondernemings opdrag gegee om ’n omvattende herstelplan te ontwikkel, gegrond op ’n herevaluering van die sleuteldryfkragte van die koste- en tydoorskrydings vir hierdie nuwe bouprojek.

4. ILO Kommissie oor die Toekoms van Werk en Edcon-ooreenkoms

4.1. Die Kabinet verwelkom die internasionale kommissie se verslag, wat 10 aanbevelings bevat wat in drie pilare verdeel is: investering in mense se bekwaamhede; investering in die instellings in die wêreld van werk; en investering in behoorlike volhoubare werk. Die aanbeveling is direk gerig op die drieledige uitdagings van ongelykheid, armoede en werkloosheid.

4.2. Deur die werk van die Minister van Arbeid, Mildred Oliphant, het Suid-Afrika vordering gemaak met die verbetering van toestande in die werkplek deur geslagsgebaseerde maatreëls, meer deursigtigheid in vergoeding, die uitskakeling van geweld en teistering in die werkplek, en spesifieke maatreëls om gelyke geleenthede te verseker.

4.3. Die Kabinet verwelkom ook die gesamentlike pogings van die regering, die Werkloosheidsversekeringsfonds (wat vakbonde insluit) en die privaat sektor (banke en eienaars van winkelsentrums) om Suid-Afrika se grootste klerekleinhandelaar, EDCON, te herkapitaliseer.  Ten einde die ooreenkoms om Edcon te red te kon sluit, moes alle partye opofferings maak en nou met mekaar saamwerk.

4.4. Te grondslag aan pogings om te verseker dat Edcon aanhou sake doen, is die uitwerking wat dit op werksgeleenthede het. Meer as 40 000 direkte werksgeleentehde en veel meer duisende direkte en indirekte werksgeleenthede sou verlore gegaan het indien Edcon nie geherkapitaliseer is nie. Die Kabinet vra Suid-Afrikaners om gehoor te gee aan die beroep op ons landsburgers wat tydens die Werkberaad gemaak is, naamlik om Trots Suid-Afrikaanse produkte te koop en plaaslike nywerhede te ondersteun.

5. Vierkante Kilometer Reeks (SKA)

5.1. ’n Nuwe era vir internasionale wetenskapbestuur het aangebreek toe die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, namens die Suid-Afrikaanse regering die internasionale verdrag (wat as die Rome Konvensie bekendstaan) op 12 Maart 2019 in Italië onderteken het.

5.2. Dit vestig die Vierkante Kilometer Reeks Observatorium (SKAO), as ’n interregeringsorganisasie, met die mandaat om die wêreld se kragtigste radio-astronomieteleskoop wat in Suid-Afrika en Australië geleë sal wees, te bou en bedryf.

5.3. Die Kabinet wens die lidlande geluk met hierdie mylpaal en herbevestig Suid-Afrika se verbintenis tot die SKA-projek, wat volg op die suksesvolle bekendstelling van ons MeerKAT teleskoop en Suid-Afrika se kritiese bydrae tot die SKA-teleskoopontwerp. Die SKA Observatorium sal die eerste internasionale organisasie wees wat aan die wetenskap toegewy is, waarin Afrika ’n sterk leierskapsrol sal vertolk in die wetenskap-, ingenieurswese- en beleidsdomein.

6. Oorstromings in KwaZulu-Natal

6.1. Die Kabinet spreek sy waardering uit vir die ondersteuning deur nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat met die regering saamgewerk het om hulp te verleen tydens die onlangse oorstromings wat in sommige dele van die land ondervind is.

6.2. Ter beperking van die uitwerking van die onlangse fratsoorstromings in KwaZulu-Natal, gaan die regering voort om hulp en ondersteuning aan die geaffekteerde families te bied. Ramphulpspanne en amptenare beraam die skade.

6.3. Die Kabinet doen ’n ernstige beroep op die publiek om uiters versigtig te wees tydens storms en swaar weer, en om nie te probeer om oorstroomde paaie, brûe en riviere oor te steek nie.

7. Oorstromings in Malawi en Mosambiek  

7.1. Suid-Afrika het deur President Ramaphosa versoeke om humanitêre en soek-en-reddingshulp van sy eweknieë die President van Malawi, professor Arthur Peter Mutharika en die President van Mosambiek, Filipe Jacinto Nyusi ontvang.

7.2. ’n Ligte vliegtuig met ’n span deskundiges is na Malawi gestuur om die aard en omvang van die humanitêre hulp wat benodig word te bepaal. Suid-Afrika bly daartoe verbind om binne sy vermoë enige hulp moontlik aan lidlande va die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap te bied.

B. Kabinetsbesluite
1. 2019-Witskrif oor Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (STI)


1.1. Wetenskap en innovering lui dikwels ’n nuwe manier in om dinge te doen, en stel ons in staat om langdurige uitdagings op ’n daadwerklike en kostedoeltreffende manier te hanteer. Ten einde hierdie voordele te ontsluit, het die Kabinet die 2019-Witskrif oor STI goedgekeur wat die langtermynbeleidsrigting vir ’n groter rol vir STI bepaal. Met die aanbreek van die Vierde Industriële Rewolusie sal STI ons posisioneer om voordeel uit snelle tegnologiese ontwikkelings te trek.

1.2. Die voorstelle in hierdie Witskrif is gerig op beleidsamehang, ontwikkeling van menslike bekwaamhede, kennisuitbreiding, innovering, prestasie en groter investering. Hierdie beleidsvoorstelle sal die grondslag vorm van die ontwikkeling van die tienjaarplanne wat alle tersaaklike belanghebbers betrek.

C. Toekomstige Gebeure
1.    Geslagsgebaseerde Geweld (GGG)


1.1. President Ramaphosa sal op Donderdag 28 Maart 2019 die Booysens Landdroshof in Gauteng open.  Hy sal, saam met verskeie NRO’s, ’n verklaring onderteken wat begin om die besluite van die eerste Presidensiële Beraad oor GGG en Vrouemoord wat in November 2018 gehou is, te implementeer.

1.2. Hy sal ook die Plettenbergbaai Landdroshof in die Wes-Kaap  open, wat dienste vir ’n Gesinshof, siviele sake (insluitend sake vir die Hof vir Klein Eise), hof vir Seksuele Misdrywe, streekshowe en distrikshowe insluit.

1.3. Die regering het ’n aantal intervensies aangekondig om slagoffers van mishandeling te ondersteun. Altesaam 54 Thuthuzela Versorgingsentrums regoor die land dien as eenstopgeriewe om sekondêre viktimisasie te verminder en sake van seksuele misdrywe so spoedig moontlik af te handel.

1.4. Die Kabinet veroordeel ten sterkste enige vorm van mishandeling, insluitend verbale geweld, teen vroue en kinders. Die regering bly daartoe verbind om aan die voorpunt te wees van die stryd om GGG te beëindig. Suid-Afrikaners word aangemoedig om alle verdagte gevalle van verkragting, seksuele aanranding of enige vorm van geweld by die polisie aan te meld deur die tolvrye nommer 0800 428 428 te skakel. Voorvalle van kindermishandeling kan by Childline Suid-Afrika se tolvrye nommer aangemeld word – 0800 055 555.

2. Grondrestitusie

2.1. Deur die CRLR sal die Adjunkpresident, David Mabuza, as die voorsitter van die Interministeriële Komitee oor Grondhervorming saam met die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Maite Nkoana-Mashabane, op Saterdag 16 Maart 2019 die Presidensiële Oorhandigingseremonie vir bygelegde en gefinaliseerde grondeise in Empangeni, KwaZulu-Natal, amptelik waarneem.

2.2. Die Ubizo Gemeenskapsgrondeis het betrekking op uit 2548 hektaar grond en bestaan uit 49 histories afgesette huishoudings. Daar is 894 grondhervormingsbevoordeeldes (waarvan 30% vroue is), wat direkte afstammelinge van hierdie gemeenskap is en by hierdie oorhandiging sal baat. Die totale waarde van die bates is R136 miljoen.

3. Menseregtemaand

3.1. Suid-Afrika gaan Menseregtemaand vier onder die tema: “Die Jaar van Inheemse Tale: Bevordering en Verdieping van ’n Menseregtekultuur”, met die fokus op die belangrikheid van inheemse tale.

3.2. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om gevolg te gee aan die regte wat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 en die Handves van Regte beliggaam is, deur inheemse tale te bewaar en bevorder.

3.3. Die nasionale gebeurtenis sal op Donderdag 21 Maart 2019 te Sharpeville in Gauteng gevier word, waar inwoners 67 jaar gelede ’n vreedsame optog teen die onregverdige paswette gehou het en deur die apartheidspolisie doodgeskiet is.

3.4. Menseregtemaand sluit ook die Anti-rassismeweek van 14 tot 21 Maart 2019 in, en sal gebruik word om die skadelike uitwerkings van rassisme op die samelewing verder te beklemtoon.

D. Boodskappe
1. Gelukwense


Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan:

1.1. Alle belanghebbers wat in vennootskap met die regering daarin geslaag het dat Suid-Afrika as gasheerland vir die 2023 Netbalwêreldbeker gaan optree, wat die eerste op die Afrika-vasteland sal wees. Die land sien daarna uit om die 16 nasies wat 60 wedstryde gedurende die 10-dagtoernooi in die Internasionale Konferensiesentrum in Kaapstad gaan speel, in die gees van Ubuntu ’n warm verwelkoming te gee.

1.2. Me Nomzamo Mbatha, wat as die wenner van die Goddess Beauty Award by die International Women of Power Awards in Los Angeles, VSA, aangewys is. Mbatha is vir haar talent op TV as ’n mediapersoonlikheid en aktrise asook vir haar werk saam met die Verenigde Nasies erken.

1.3. Mnr Vincent Cosa, vir sy dapper optrede toe hy ’n kind tydens ’n fratsoorstroming in Johannesburg gered het.

1.4. Me Nosipho Mkhupheka, wat op Vrydag, 08 Maart 2019 as wenner aangewys is by die Forbes Woman Africa Public Sector Awards. Me Mkhupheka het haar toekenning verwerf vir haar verbintenis om mense met menswaardigheid en buite kantoorure te dien, en is erken vir haar nougesette diens aan die mense van Scottsburgh in KZN.

1.5. Professor Mashudu Tshifularo en sy span van die Universiteit van Pretoria, wat baanbrekerswerk gedoen het deur die wêreld se eerste sjirurgiese prosedure deur middel van 3D-gedrukte middeloorbeentjies vir geleidende gehoorverliesrehabilitasie uit te voer. Die operasie is op 13 Maart 2019 by die Steve Biko Akademiese Hospitaal gedoen.

2. Medelye

Die Kabinet spreek sy medelye uit met die familie en vriende van:

2.1. Die Minister van COGTA, dr Zweli Mkhize, met die tragiese afsterwe van sy ouer broer mnr Jabulani Gerald Mkhize op Sondag 10 Maart. Hy sal op 16 Maart by sy familiewoning in Willowfountain Pietermaritzburg, KZN te ruste gelê word.

2.2. Mnr Sibusiso Khwinana, wat die karakter Lefa in die plaaslike film wat onlangs vrygestel is, Matwetwe, vertolk het. Hy was ook ’n stigterslid van die Independent Theatre Makers Movement, wat daarna streef om ’n generasie selfversorgende kunstenaars te vestig deur hulle aan te moedig om eienaarskap van hul werk te aanvaar en hul potensiaal te erken.

2.3. Die slagoffers van die tragiese Ethiopië Lugdiens-vliegramp, wat gesterf het toe die vliegtuig op pad van Addis Abeba, Ethiopië na Nairobi in Kenia neergestort  het en al die passasiers en kajuitbemanning aan boord gesterf het.

2.4. Diegene wat hul lewens verloor het in die onlangse oorstromings in sommige dele van Suid-Afrika asook in Malawië en Mosambiek.

E. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Mnr Mandla Reginald Sithole: Hoof Finansiële Beampte in die Departement Openbare Werke;

2. Mnr Enoch Godongwana en Ms Bongiwe Kunene: Nie-uitvoerende direkteure op die direksie van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA) vir ’n tydperk van drie (3) jaar met ingang 1 April 2019;

3. Heraanstelling van me Malijeng Theresa Ngqaleni en me Martie Jacoba Janse Van Ransburg: Nie-uitvoerende direkteure op die DBSA-direksie vir ’n driejaartydperk met ingang 01 April  2019;

4. Lede van die direksie van Bloem Water:

a. Mnr Tefetso Bernard Phitsane (voorsitter);
b. Adv. Tshepiso Doreen Segoe-Backward (adjunkvoorsitter);
c. Mnr Zolani Mkiva;
d. Mnr James Jonathan Price;
e. Me Theda Ntikile Sandlana-Thebe;
f. Me Dipitseng Maropeng Manamela;
g. Mnr Luvuyo Xola Ntoyi;
h. Mnr Louis Evelyn van Rheede van Oudtshoorn;
i. Mnr TM Manyoni; en
j. Me Mmathebe Annah Faith Moja.

Navrae:
Ms Phumla Williams – Waarnemende direkteur-generaal (GCIS)
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore