Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 7 November 2018

Die Kabinet het op Woensdag 7 November 2018 by Tuynhuys in Kaapstad vergader

A. Kwessies in die omgewing

1. Presidensiële Beraad oor Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord

1.1. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle samesprekings tydens die Presidensiële Beraad oor Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord, wat op 1 en 2 November plaasgevind het. Dit het die noodsaaklikheid beklemtoon dat ooreenstemming bereik moet word oor hoe geslagsgebaseerde geweld, diskriminasie teen vroue en geslagsongelykheid hanteer moet word.

1.2. Die regering het ooreengekom om die nasionale planne vir die beëindiging van geslagsgebaseerde geweld en die ontwikkeling van ’n nasionale aksieplan oor geslagsgebaseerde geweld te hersien. Die regering bly daartoe verbind om met alle belanghebbendes saam te werk om te verseker dat die vlakke van geslagsgebaseerde geweld dramaties verminder word – en uiteindelik heeltemal uitgewis word.

1.3. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om saam te werk om gesindhede, praktyke en instellings wesentlik te verander sodat geweld teen vroue beëindig kan word.

2. Belegging

2.1. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle beleggingskonferensie wat in Oktober in Sandton, Johannesburg plaasgevind het. Deur die konferensie het Suid-Afrika toegang verkry tot R290 miljard se beleggingsbeloftes in verskillende sektore van die ekonomie. Dit dra by tot die beloftes van meer as R400 miljard wat danksy die beleggingsveldtog tydens spesiale gesante se staatsbesoeke aan verskeie lande, ontvang is.

2.2. Meer as 1 000 afgevaardigdes uit meer as 35 lande het die konferensie bygewoon. Die gees en bui was optimisties en die land het nuwe geleenthede vir belegging en beleidsinisiatiewe bekendgestel, wat help om 'n beleggingsvriendelike omgewing te skep.

2.3. Die Kabinet wens die span geluk met hulle harde werk tydens die konferensie en sien daarna uit om gereelde vorderingsverslae oor die implementering van die verbintenisse wat gemaak is te ontvang.

2.4. Terwyl Suid-Afrika en die res van Afrika steeds meer doen om die vasteland se ekonomie te laat groei, verwelkom die Kabinet ook die eerste Afrika-beleggingsforum wat tans tot 9 November in Johannesburg plaasvind. Die Afrika-beleggingsforum is deur die Afrika-ontwikkelingsbank belê. Dit is daarop gerig om op huidige suksesse te bou deur openbare en private beleggers bymekaar te bring om 'n nuwe groeipad vir die hele Afrika-vasteland uit te stippel.

2.5. Die onlangse G20-Afrikakonferensie gee ons groeivooruitsigte ’n verdere hupstoot deur die verskillende verbintenisse wat private belegging en ekonomiese deelname in Afrika-lande bevorder as deel van die Compact-with-Africa-inisiatief. Die Compact-with-Africa-inisiatief word deur die Afrika-adviesgroep onder mede-voorsitterskap van Suid-Afrika en Duitsland gedryf.

2.6. Die Kabinet verwelkom ook die R50 miljoen Phuthaditjhaba-nywerheidspark in die Vrystaat, wat onlangs bekendgestel is. Dit sal industrialisering, plaaslike werkskepping en ekonomiese groei in daardie provinsie verhoog.

2.7. Die Kabinet bly oortuig dat hierdie ingryping uiteindelik sal begin om die werkloosheidsuitdagings wat die land in die gesig staar, die hoof te bied deur 'n hernieude gees van hoop en optimisme aan te vuur.   

3. Werkskepping

3.1. Die regering is besig om sy pogings vir die skep van meer werksgeleenthede vir jongmense en Suid-Afrikaners in die algemeen, te verskerp, met die klem op township- en landelike ekonomieë, asook ondernemings deur vroue en jeugdiges, wat dikwels die ergste deurloop onder die ekonomiese realiteite.

3.2. Die Kabinet is vol vertroue dat die pakket van herstelmaatreëls, wat ’n R50 miljard-hupstoot vir kernsektore soos landbou, openbare infrastruktuur, township- en landelike ekonomieë sal verseker, die nodige dryfkrag vir werkskepping en volgehoue ekonomiese herstel sal bied.

3.3. Dit dra by tot die praktiese gevolge van die Werksberaad waartydens die regering, die sakesektor en arbeid, hulle daartoe verbind het om: plaaslike produkte te koop; 'n meer aggressiewe benadering tot die verhoging van uitvoere aan te neem; tussenkomste in landbouwaardekettings te verseker en steun aan klein- en medium ondernemings te gee om werksgeleenthede te bevorder.

3.4. Die Kabinet glo dat hierdie tussenkomste van deurslaggewende belang is om die bevindings van die kwartaallikse arbeidsmagopname vir die derde kwartaal van 2018 aan te pak. Dit het aangedui dat indiensneming sowel as werkloosheid toegeneem het. Vir die drie-maande-tydperk is 92 000 bykomende werksgeleenthede geskep. Aangesien ongeveer 131 000 voorheen ontmoedigde werksoekers weer die arbeidsmark in die kwartaal betree het, het die werkloosheidsyfer met 0,3 van 'n persentasiepunt tot 27,5 persent gestyg.

3.5. Volgens Statistiek Suid-Afrika het indiensneming in sakedienstehandel en
-konstruksie gestyg, terwyl daar werksverliese in mynbou, vervaardiging, vervoer en private huishoudings was. Indiensneming in die formele sektor het gedaal, terwyl werksgeleenthede in die informele sektor gegroei het.

4. 20ste herdenking van die Wet op Mededinging

4.1. Die Kabinet neem kennis dat die Wet op Mededinging, wat in Oktober 1998 in werking getree het, vanjaar 20 jaar oud is. Oor die 20 jaar het die mededingingsowerheid aansienlike suksesse in die stryd teen kartels aangeteken, sowel as teen misbruik van markoorheersing en beskerming van openbare belang tydens samesmeltings. Die owerhede het meer as R8 miljard in boetes aan maatskappye opgelê vir oortredings van die Wet. Die Ministerie van Ekonomiese Ontwikkeling het deur middel van maatreëls in die Wet op Mededinging meer as R5 miljard in spesiale fondse gegenereer om klein ondernemings, plaaslike verskaffers en die toetrede van swart boere tot die ekonomiese hoofstroom te bevorder.

4.2. Die Kabinet wens die mededingingsowerheid geluk met die werk wat gedoen word om die ekonomie oop te maak vir nuwe spelers en om entrepreneurskap en mededigendheid te bevorder.

5. 18de Vergadering van die Vereniging van Lande om die Indiese Oseaan (IORA) se Raad van Ministers

5.1. Die Kabinet wens die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking geluk met die aanbieding van 'n suksesvolle 18de vergadering van die Vereniging van Lande om die Indiese Oseaan (IORA) wat op 2 November 2018 in Durban, KwaZulu-Natal plaasgevind het, onder die tema: Verenig die Volke van Afrika, Asië, Australasië en die Midde-Ooste deur beter Koöperatiewe Samewerking vir Vrede, Stabiliteit en Volhoubare Ontwikkeling.

5.2. Een van die uitkomste van die 18de IORA-vergadering was 'n spesiale verklaring ter ere van oud-President Nelson Mandela wat ook een van die stigters van IORA was. Dit het tot die vestiging van die IORA Nelson Mandela: Be the Legacy-internskapprogram gelei, wat na verwagtinge in Julie 2019 amptelik van stapel gestuur sal word. Hierdie inisiatief is daarop gerig om jongmense van IORA toe te rus met werkservaring in hul studierigtings.

6. Beveg misdaad

6.1. Die Kabinet verwelkom die Anti-bende-eenheid in Hanoverpark, Wes-Kaap, wat onlangs deur President Cyril Ramaphosa bekend gestel is. Hierdie bykomende ingryping deur die regering sal 'n belangrike rol speel om die probleem van bende- en dwelmverwante misdade wat gemeenskappe teister, die hoof te bied.

6.2. Lede van die eenheid is opgelei om hoërisiko-situasies te hanteer, aangesien hulle uit die taktiese reaksiespanne, die spesiale taakmag en die nasionale ingrypsingseenheid gewerf is. As deel van pogings om misdaad te pak, sal hierdie besondere regeringsingryping nasionaal van stapel gestuur word.

6.3. Die Kabinet doen 'n beroep op gemeenskappe om met wetstoepassingsagentskappe saam te werk om veiligheid en sekuriteit te handhaaf, aangesien ’n veilige omgewing noodsaaklik is vir enige gemeenskap se ontwikkeling. Die Kabinet is steeds daartoe verbind om te verseker dat gemeenskappe veilig is en veilig voel in hul onderskeie omgewings.

7. Belastingseisoen

7.1. Die Kabinet bedank all belastingbetalers wat hul jaarlikse belastingopgawes vir die 2017/18-belastingseisoen, wat op 31 Oktober ten einde geloop het, stiptelik ingedien het.  Inkomste wat deur belasting ingevorder word bly die hoofbron van fondse wat verseker dat die regering dienste aan die publiek kan lewer.  

8. Nasionale Finansiële Hulpfonds vir Studente (NSFAS)

8.1. Die Kabinet herinner alle leerders wat vir die Nasionale Finansiële Hulpfonds vir Studente (NSFAS) wil aansoek doen om finansiële bystand in 2019, dat aansoeke op 30 November 2018 sluit.
8.2. Aansoeke het op 1 September 2018 geopen vir kwalifiserende studente wat hul studies in goedgekeurde kursusse in 2019 by enige openbare universiteit of tegniese en beroepsonderwys en -opleiding (TVET) -kollege in Suid-Afrika wil voortsit.
8.3. Studente word sterk aangemoedig om aanlyn aansoek te doen of hul naaste tak van die Nasionale Agentskap vir Jeugontwikkeling (NYDA) voor die sluitingsdatum te besoek.

B. Kabinetsbesluite

9. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Strategieraamwerk vir die nastreef van Suid-Afrika se strategiese ekonomiese belange wêreldwyd met betrekking tot handel, belegging en industrialisering. Die raamwerk is daarop gerig om te verseker dat internasionale samesprekings die land se binnelandse beleidsprioriteite, soos armoedeverligting, werkloosheid en ongelykheid, dien. Die strategie beveel aan dat Suid-Afrika ontwikkelingsintegrasie in die res van Afrika, wat deur 'n beleggingsgeleide strategie ondersteun word, nastreef, en strategiese alliansies vestig om sy agenda te bevorder. Dit konsolideer ook sy handels- en beleggingsverhoudinge met ontwikkelde lande en streef na inwaartse beleggings, vaardighede en tegnologie-oordrag, asook toegevoegde waarde-uitvoere.

10. Die Kabinet keur die jaarlikse lewenskoste-salarisaanpassing vir lede van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie goed. Die Wet op die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, 2013, bepaal dat vergoeding, toelaes en ander bepalings en diensvoorwaardes deur die President in oorleg met die Kabinet en die Minister van Finansies bepaal word.

C. Toekomstige gebeure

11. Internasionale Arbeidsorganisasie
Die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) se Hoëvlak-wêreldkommissie oor die Toekoms van Werk hou sy finale sessie van 15 tot 17 November 2018. Die Kommissie staan onder die mede-voorsitterskap van President Cyril Ramaphosa en sy Sweedse eweknie Stefan Löfven. Die Hoëvlak-wêreldkommissie wat in 2017 deur die ILO gestig is, is daarop gerig om die vinnige transformasies wat in die werksomgewing plaasvind te assesseer, die kernuitdagings te identifiseer en aan te beveel wat gedoen moet word om die toekoms van werk te verbeter en regverdiger te maak. Die werk van die kommissie stem ooreen met die regering se fokus op die skep van behoorlike en volhoubare werksgeleenthede en pogings om te verseker dat jong Suid-Afrikaners die nodige vaardighede het om in die veranderende werksomgewing te floreer.

12. China Internasionale Invoer-ekspo (CIIE)

Die Kabinet verwelkom Suid-Afrika se deelname as ’n eregasland aan die China Internasionale Invoer-ekspo (CIIE) in Shanghai.  Die Minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies, lei die afvaardiging wat 27 Suid-Afrikaanse organisasies insluit. Die afvaardiging word befonds deur die Departement van Handel en Nywerheid deur die Uitvoerbemarking- en Beleggingsbystandskema.

Suid-Afrika se deelname stel die land in staat om sy handel- en beleggingsvermoëns meer doeltreffend te bevorder en ons sien uit daarna dat deelnemende uitstallers uit sektore soos agro-prosessering, skoeisel en leer, ingenieurswese, petro-chemikalië, spoorwegkomponente en verdediging, sowel as inligtings- en kommunikasietegnologie, sal terugkeer met vekrygingsbestellings.  Suid-Afrika was op die kantlyn van die ekspo, ook gasheer van ’n beleggingseminaar wat op geleenthede in die vervaardigingsektor gefokus het.  

13. Imbizo-fokusweek

Die komende twee weke van die regering se program van aktivisme, is die 9de Nasionale Imbizo-fokusweek wat deur die Regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS) gekoördineer word. Lede van die Nasionale Uitvoerende Gesag, sowel as leiers van provinsiale en plaaslike regerings sal gemeenskapsvergaderings en Izimbizo landwyd hou. 'n Program vir die tydperk 12 tot 25 November 2018 is op www.gov.za beskikbaar.
Suid-Afrikaners word aangemoedig om hierdie platform te gebruik om met regeringsamptenare oor diensleweringskwessies te praat om te verseker dat almal saamwerk om ons gemeenskappe te ontwikkel.

D.  Meegevoel

14. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die gesinne en geliefdes van die mense wat tydens 'n reeks brande op die Tuinroete en omliggende gebiede, sowel as in die Oos-Kaap gesterf het. Die vuur het onder andere die lewe van Nico Heyns geëis, wat 'n vlieënier vir "Working on Fire" was. Dit het ook gelei tot die dood van nege ander mense en die verplasing van ongeveer 2 000 mense. Verskeie eiendomme is verwoes en plantegroei is oor groot gebiede vernietig. Die Kabinet prys die vinnige reaksie van brandweermanne en rampbestuursamptenare, asook die Suid-Afrikaanse Lugmag en "Working on Fire", wat onvermoeid gewerk het om lewens te red en die brand onder beheer te bring.

15. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die regering en die mense van Indonesië ná die vliegtuigongeluk waarin 189 mense gesterf het pas nadat die vliegtuig vanaf die Indonesiese hoofstad, Jakarta, opgestyg het.

E. Gelukwense

16. Die Kabinet wens Suid-Afrika geluk dat die land op 5 November 2018 tydens die Gevolmagtige Konferensie in Duba, gekies is om in die Internasionale Telekommunikasie Unie (ITU) se Raad te dien.
Die Kabinet wens mnr. Mandla Mchunu van ICASA ook geluk met sy verkiesing tot die Raad vir Radioregulasies van die ITU, asook me Doreen Bogdan-Martin, met haar verkiesing as die direkteur van die Telekommunikasie-ontwikkelingsburo en as die eerste vrou in die senior bestuur van die ITU tydens sedert dit in 1865 gestig is.
Suid-Afrika aanvaar met nederigheid die vertroue wat ander nasies in die land plaas om gedurende die volgende vier jaar in hierdie hoë strukture van die ITU te dien. Ons sal hierdie posisies gebruik om die ontwikkelingsagenda en 'n inklusiewe inligtingsamelewing in die digitale era aan te dryf.

17. Die Kabinet wens die Federale Demokratiese Republiek van Ethiopië geluk met die verkiesing van die land se eerste vroulike president, Haar Eksellensie Sahle-Work Zewde, wat tans die enigste vroulike president in Afrika is. Suid-Afrika sal voortgaan om bilaterale betrekkinge met Ethiopië op verskeie terreine, wat handel, politieke en ekonomiese bande insluit, te handhaaf.
 
18. Die Kabinet wens Kameroen se President Paul Biya geluk met sy inhuldiging tot ’n sewende ampstermyn. Die Kabinet doen ’n beroep op al die mense van Kameroen om saam te werk vir ’n vreedsame oplossing deur inklusiewe samesprekings. Die Kabinet sien uit na sterker bilaterale politieke, ekonomiese en handelsbetrekkinge tussen Suid-Afrika en Kameroen.

19. Die Kabinet wens die mense van Brasilië ook geluk met hul suksesvolle verkiesing, waartydens die presidensiële kandidaat van die Bondsrepubliek van Brasilië, H.E. Jair Bolsonaro as die volgende Brasiliaanse president verkies is.

20. Die Kabinet dra sy goeie wense oor aan al die Hindoe-gemeenskappe in Suid-Afrika wat Diwali of Deepavali vier. Dit is 'n godsdienstige geleentheid wat die oorwinning van goed oor boosheid, kennis en wysheid oor onkunde, sowel as die oorwinning van lig oor duisternis vier. Laat die Goddelike Lig Suid-Afrika seën met vrede, voorspoed, geluk, sukses en vervulling, terwyl ons almal ’n bydrae lewer om harmonie en eenheid in ons land se kulturele en godsdienstige diversiteit te verseker.

F. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
21. Heraanstelling van Me Nomfundo Maseti om as Voltydse Reguleerderlid, verantwoordelik vir pypgasregulering, op NERSA se direksie te dien.
 
22. Die volgende mense is in die Raad vir die Bou-omgewing aangestel:
a. Absalom Mosabeni Molobe (Voorsitter);
b. Me Maphefo K Mogodi (Adjunkvoorsitter);
c. Me Zandile Yvonne Mathe;
d. Dr Jenitha Badul;
e. Ngwako Edward Hutamo;
f. Noninzi Qina;
g. Gert Hendrik Meyer;
h. Jerry Leigh Magolius;
i. Hendrik Ndlovu;
j. Dr Keith Ivor Jacobs;
k. Adv Boitumelo Tlhakung;
l. Inge Maree Vieira;
m. Sinenhlanhla Thuleleni Mthembu;
n. Dr Prittish Dala
o. Ulandi Exner
p. Me Florence Rabada;
q. Me Noluthando Hazel Molao; and
r. Dr Claire Deacon.

Navrae: Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetswoorvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore