Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 30 Oktober 2019

Die kabinet het op Woensdag, 30 Oktober 2019 by Tuynhuys in Kaapstad vergader

A. Kwessies in die Omgewing

1. Suid-Afrika Beleggingskonferensie (SABK)

1.1. Die kabinet sien met positiewe verwagting uit na die Tweede SABK 2019 wat vanaf 5 tot 7 November 2019 by die Sandton Konferensiesentrum in Gauteng gehou word onder die tema: “Versnel Ekonomiese Groei deur Vennootskappe te Bou”.
1.2. Die SABK 2019 sal voortbou op die eerste SABK wat in Oktober 2018 gehou is, en wat R300 miljard in beleggingsbeloftes opgelewer het. Dit het ingesluit die internasionale e-handelreus Amazon wat 'n wolkrekenaarkern in Suid-Afrika gaan vestig; internasionale mynmaatskappy Vedanta Resources se belegging in 'n plaaslike smeltery; die Rwanda-gebaseerde tegnologiemaatskappy, Mara Corporation, wat tegnologies gevorderde slimfone gaan vervaardig en die farmaseutiese maatskappy Aspen Pharmacare se belegging in die vervaardiging van steriele verdowingsmiddels.
1.3. Ons sluit ons aan by alle Suid-Afrikaners en verwelkom die meer as 1500 afgevaardigdes wat plaaslike en internasionale sakelui verteenwoordig en na verwagting die Beleggingskonferensie gaan bywoon.
1.4. Op 7 November sal die konferensie by die Universiteit van Johannesburg se Soweto-kampus voortgaan, met 'n fokus op entrepreneurskap, innovering en die ontwikkeling van klein en medium ondernemings.

2. Afrika Beleggingsforum (ABF)

2.1. Die Afrika Ontwikkelingsbankgroep sal vanaf 11 tot 13 November 2019 die Afrika Beleggingsforum in Johannesburg aanbied. Dit is nog 'n beleggingsgeleentheid vir Suid-Afrika om toegang te verkry tot kapitaal vir die ontwikkeling van Afrika se infrastruktuur.
2.2. Die forum bring pensioenfondse, soewereine welvaartfondse, privaat beleggers, privaat ekwiteitsfirmas en regeringshoofde byeen. Dit sal fokus op die ontwikkeling en uitvoering van ooreenkomste om Afrika se multimiljard-dollarbeleggingsgeleenthede te ontsluit.
2.3. Ter nastrewing van ons doelwit om openbare en privaat infrastruktuurpogramme te implementeer, het die regering R100 miljard oor 10 jaar opsygesit vir 'n Nasionale Infrastruktuurfonds, en ons sien uit daarna om met privaat beleggers en internasionale finansieringsinstellings saam te werk om finansiering vir ons land se infrastruktuurontwikkeling te beding.

2. Mediumtermynbegrotingbeleidsverklaring (MTBBV)

2.1. Die kabinet verwelkom die 2019-MTBBV wat deur die Minister van Finansies, Tito Mboweni ter tafel gelê is teen die agtergrond van 'n uitdagende plaaslike en internasionale ekonomie. Die 2019-MTBBV doen maatreëls aan die hand wat die openbare besteding en die lopende skuld teen BBP sal stuit.
2.2. Die kabinet neem ook kennis dat die resultate van die Kwartaallikse Arbeidsmagopname vir die derde kwartaal van 2019 wat deur Statistiek Suid-Afrika vrygestel is, daarop dui dat die amptelike werkloosheidsyfer met 0,1 van 'n persentasiepunt tot 29,1 gestyg het, vergeleke met die tweede kwartaal van 2019.
2.3. Die kabinet is optimisties dat, indien alle Suid-Afrikaners met die regering saamwerk om die verbintenisse wat in die 2019-MTBBV uiteengesit is te implementeer, ons kan help om Suid-Afrika saam te groei en ons ekonomiese groei asook die aantal broodnodige werksgeleenthede in die land te verhoog.

3. Eskom

4.1. Die kabinet verwelkom die dokument getitel “Roadmap for Eskom in a Reformed Electricity Supply Industry”, wat op Dinsdag, 29 Oktober 2019 deur die Minister van Openbare Ondernemings vrygestel is.
4.2. Dit het gevolg op 'n aankondiging deur president Ramaphosa tydens sy Staatsrede in Februarie 2019 dat, ten einde operasionele doeltreffendheid te verbeter, Eskom ontbondel en in drie filiaalmaatskappye verdeel sal word, naamlik transmissie, opwekking en verspreiding.
4.3. Die kabinet bekragtig die voorstelle in Eskom se sakemodel, wat die nuutste bloudruk is om Eskom op 'n groeipad te plaas. Die padkaart dui die weg aan na kostedoeltreffende elektrisiteitsvoorsiening, energiesekuriteit en 'n verskeidenheid energiebronne ooreenkomstig die Geïntegreerde Hulpbronplan, wat vroeër vandeesmaand in die Staatskoerant afgekondig is en die land se energiekombinasies oor die volgende 10 jaar uiteensit.
4.4. Ons doen 'n beroep op alle belanghebbers in die energiesektor om die implementering van hierdie plan heelhartig te ondersteun.

5. Rugbywêreldbeker (RWB) Eindstryd

5.1. Die kabinet wens met trots die nasionale rugbyspan, die Springbokke, geluk  omdat hulle die eindstryd van die 2019-RWB bereik het. Die kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners en ons ondersteuners van regoor die wêreld om agter die "Bokke" te verenig en hul steun vir hul landgenote te toon deur aan Groen Vrydae deel te neem en boodskappe van ondersteuning op sosialemedia-platforms te deel met die hutsmerk #StrongerTogether, #Bokke, #Rugbyworldcup.
5.2. President Ramaphosa sal die eindstryd in Japan bywoon om tasbare ondersteuning aan ons nasionale span te bied.
5.3. Die kabinet verwelkom ook die SABC se besluit om die eindstryd tussen Suid-Afrika en Engeland op Saterdag, 2 November, vanaf 11:00 regstreeks uit te saai. 

6. Waterbesparing

6.1. Die kabinet moedig al die mense in Suid-Afrika aan om steeds water te bewaar en te bespaar. Dit volg op die onlangse berigte van dalings in die land se damvlakke. Suid-Afrika is een van die 30 droogste lande ter wêreld. Die langdurige laer as normale reënval in sommige dele van die land, tesame met onlangse hittegolwe, het die situasie vererger.
6.2. Alhoewel die Departement van Water en Sanitasie gebeurlikheidsplanne geïmplementeer het, versoek die kabinet almal dringend om saam te werk om die volhoubare gebruik van hierdie kritieke en skaars hulpbron te verseker. Waterbesparingswenke sluit in om vir lekkasies te toets, gryswater te gebruik om tuine voor 06:00 en na 18:00 nat te lei en droogteweerstandige struike te plant. Ons moet almal ons deel doen om water te bespaar.

7. Strategiese vennootskappe met China

7.1. Adjunkpresident David Mabuza is tans op 'n werksbesoek in die Volksrepubliek China, waar hy as medevoorsitter sal optree by die 7de Sitting van die Suid-Afrika–China Binasionale Kommissie (BNK) wat tot 3 November plaasvind. Die Suid-Afrikaanse BNK is in 2002 gestig om as 'n strategiese platform te dien om sake van gemeenskaplike belang soos handelspromosies en ekonomiese uitruilings te bespreek.
7.2. Altesaam ongeveer 26 Suid-Afrikaanse maatskappy belê in China, met 'n kapitaalbesteding van R88 miljard tussen Januarie 2003 en Augustus 2019.  Daarenteen het altesaam 88 Chinese maatskappye in Suid-Afrika belê, met 'n kapitaalbesteding van R116 miljard oor dieselfde tydperk.
7.3. Die kabinet verwelkom die ondertekening van die strategiese samewerkingsooreenkoms tussen Suid-Afrikaanse Toerisme en die Chinese maatskappy, Tencent, wat die kommunikasieplatform WeChat besit. Die tweejaarvennootskap bied aan Suid-Afrika direkte toegang tot miljoene potensiële Chinese reisigers vir sowel sake- as ontspanningsdoeleindes, om die land as 'n voorkeurbestemming te bemark
7.4. Suid-Afrika streef daarna om sy internasionale toeristebesoekers teen 2030 van 10, 4 miljoen tot 21 miljoen te verhoog.
7.5. Die kabinet verwelkom ook die Departement van Basiese Onderwys se bemagtigingsinisiatief vir skoolbestuurders in vennootskap met die regering van China, ingevolge waarvan 25 skoolhoofde in Shangai, China, met hul Chinese eweknieë gedagtes uitgeruil en gesprek gevoer het oor beste praktyk in die skoolomgewing.

8. Misdaadvoorkoming

8.1. Die kabinet erken die werk van Operation O Kae Molao, onder leiding van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), wat steeds aanmerklike vordering maak in die stryd teen misdaad in Gauteng.
8.2. Honderde verdagtes van regoor die provinsie is vir verskeie misdade in hegtenis geneem, insluitend 717 gesoekte verdagtes, waarvan 90 voortvlugtiges was wat vir sake rakende geslagsgebaseerde geweld (GGG) gesoek is.
8.3. Die kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om hul ondersteuning vir en betrokkenheid by die stryd teen misdaad voort te sit deur misdaadaktiwiteite by wetstoepassingsagentskappe aan te meld. Landsburgers kan ook die SAPS se nuwe toepassing vir misdaadbestryding, MySAPS, gebruik om anonieme wenke deur te gee, hul naaste polisiekantoor te vind of noodseine of boodskappe te stuur. Die kabinet is daartoe verbind om te verseker dat plaaslike gemeenskappe in veilige en geborge omgewings leef.

9. GGG en Vrouemoord

9.1. Die kabinet verwelkom die onlangse 20 lewenslange vonnisse en 758 jaar tronkstraf wat die reeksverkragter, Bongani Lucky Masuku opgelê is, asook die lewenslange vonnis wat die veroordeelde verkragter Nicholas Ninow opgelê is. Dit stuur 'n sterk boodskap aan oortreders dat ons strafregstelsel nie misdaad teen vroue en kinders sal duld nie.
9.2. Die regering bly daartoe verbind om die nodige sorg aan slagoffers te bied en moedig slagoffers van GGG aan om van die GGG-Bevelsentrum se dienste gebruik te maak. Die sentrum funksioneer 24 uur per dag, 365 dae per jaar. Slagoffers kan 0800 428 428 skakel of 'n "please call me"-boodskap na *120*7867# stuur, of op die webblad www.gbv.org.za aanteken. President Ramaphosa sal vandag die parlement en die nasie inlig oor pogings om GGG en vrouemoord te beëindig, wanneer hy vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord.

B. Kabinetsbesluite

1. Nasionale Dwelmmeesterplan (NDMP) 2019-2024

1.1. Die kabinet keur die NDMP 2019-2024 en sy implementeringsplan goed, wat 'n uiteensetting bied van strategieë om die misbruik van dwelms en ander middels in Suid-Afrika te bestry. Hierdie NDMP 2019-2024 volg op 'n evaluering van die NDMP 2013-2017. 
1.2. Die plan doen sewe strategiese doelwitte aan die hand om die misbruik van dwelms in ons gemeenskappe te bestry. Dit maak ook voorstelle oor die verlaging van die vraag na dwelms, strenger beheermaatreëls oor dwelms wat vir terapeutiese gebruik bestem is, asook bestuur, leierskap en aanspreeklikheid vir die implementering van die NDMP.

2. Nasionale Beleid oor Kindersorg en -beskerming (NBKB)

2.1. Die kabinet keur die NBKB goed, wat gevolg gee aan die Kinderwet, 2005 (Wet 38 van 2005). Artikel 28 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 erken die reg van alle kinders op maatskaplike dienste en beskerming teen geweld, mishandeling, verwaarlosing en uitbuiting.
2.2. Die goedgekeurde NBKB versterk die koördinering van die kindersorg-en-beskermingstelsel en verseker maksimum gebruik van huidige hulpbronne vir verbeterde dienste, wat die positiewe ontwikkeling van kinders bevorder. Die beleid is verder ook 'n reaksie op die uitspraak van die Noord-Gauteng Hoë Hof, wat die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling opdrag gegee het om wysigings aan te bring van die pleegsorgstelsel versterk.

3. Lesotho Spesiale Permitte (LSP)

3.1. Die kabinet keur die verlenging van die LPS met nog vier jaar goed. Die huidige bestel eindig op 31 Desember 2019. Die verlenging sal die Departement van Binnelandse Sake (DBS) in staat stel om sy werk af te handel om maniere te vind om migrasiekwessies op te los, veral vir burgers van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapstreek.
3.2. Die verlenging is slegs van toepassing op bestaande houers van die LSP. Die DBS sal meer besonderhede verskaf oor die proses wat gevolg gaan word.

C. Toekomstige Gebeure

1. Opening van Hoë Hof

1.1. President Ramaphosa sal op Vrydag, 8 November 2019 die Mpumalanga Hoë Hof in Mbombela amptelik open. Die president sal vergesel word deur die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola en die Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Patricia de Lille, om 'n belangrike mylpaal te gedenk in die program, wat daarop gerig is om toegang tot geregtigheid aan alle Suid-Afrikaners te bied. Dit is die laaste fase van die program wat verseker dat 'n Hoë Hof in elk van die nege provinsies in Suid-Afrika gevestig word.
1.2. Die mense van Mpumalanga sal nou hul eie Hoë Hof hê en nie meer teen groot koste na Pretoria hoef te reis om geregtelike verhaal te verkry nie.

D. Boodskappe

1. Die kabinet dra sy gelukwense oor aan:

1.1. 12-jaaroue Olwami Shangase van KwaZulu-Natal, wie se boek getitel Rejected Treasure daarop gerig is om almal, veral kinders, meer te leer oor die krag van vergifnis en liefde.
1.2. 11-jaaroue Amahle Zenzile van Kaapstad,  wat uitgenooi is om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Afrika-Jeugskaaktoernooi wat in Desember in Namibië gehou word.
1.3. Suid-Afrikaanse vervaardiger en komponis, mnr Lebohang Morake, wat verseker het dat die Drakensberg Seunskoor ons vlag hoog laat wapper het toe hulle aan 'n spesiale Lion King-huldeblyk in Londen deelgeneem het.
1.4. President Mokgweetsi Masisi en die mense van Botswana met nog 'n vreedsame presidensiële verkiesing, wat Botswana se demokrasie verder versterk. Suid-Afrika stuur 'n afvaardiging om more, 1 November 2019, deel te wees van die inlywingseremonie van die Botswana-president. Ons sien daarna uit om ons maatskaplike, ekonomiese, politieke en diplomatieke verhoudings met Botswana voort te sit.

E. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Die Direksie van ZA Domeinnaamowerheid

1.1. Me Palesa Legoze (Voorsitter)
1.2. Me Veronica Motloutsi
1.3. Me Sizo Mzizi
1.4. Prof Kasturi Moodaliyar
1.5. Me Malekgoloane Malapane
1.6. Prof Daniel Mashao
1.7. Me Anriette Esterhuysen
1.8. Mnr Rendani Mbuvha, en
1.9. Mnr Nicholas Msibi (heraanstelling)

2. Me Mmakgomo Anna Tshatsinde, Adjunkdirekteurgeneraal (ADG): Sektormoniteringsdienste, Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering (DPME).

3. Mnr Blake Keith Mosley-Lefatola, ADG: Openbaresektormonitering en Kapasiteitsontwikkeling, DPME.

4. Mnr Luambo Thomas Sigama, ADG: Burgerlike Dienste, DBS.

Navrae:
Me Phumla Williams
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore