Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 27 Februarie 2019

Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 27 Februarie 2019 by Tuynhuys in Kaapstad

A.Kwessies in die Omgewing
1. Begrotingsrede vir 2019

1.1.Die Kabinet verwelkom die begrotingsrede vir 2019 deur die Minister van Finansies, Tito Mboweni, in die Parlement in Kaapstad op Woensdag 20 Februarie 2019, as 'n raamwerk wat die weg baan vir Suid-Afrikaners om saam die ekonomie te hernu en te herbou tot 'n inklusiewe en florerende een.

1.2. Die Begrotingsrede bring die verpligtinge wat president Cyril Ramaphosa in sy Staatsrede in die Parlement in Kaapstad op 7 Februarie 2019 uiteengesit het, in werking.

1.3. Die Kabinet ondersteun verskeie inisiatiewe, insluitend die vermindering van die openbare sektor se loonrekening om bykomende besparing te genereer ter versterking van die regering se finansies. Deur streng voorwaardes vir finansiële ondersteuning aan Eskom te stel om die energieverskaffer tot 'n lewensvatbare organisasie te herstruktureer, word ook verwelkom.

1.4. Ons het almal 'n rol te speel om die ekonomie te laat groei en werk te skep vir ons mense. Om die moeilikste uitdagings van die nalatenskap van apartheid te oorkom, moet ons met die regering saamwerk om sy programme in werking te tel, die ekonomie te laat groei en meer buitelandse beleggings te lok.

2. Eskom

2.1. Die Kabinet het 'n verslag van Adjunkpresident David Mabuza ontvang oor die werk van die gesamentlike Spesiale Kabinetskomitee oor Eskom wat geskep is in reaksie op onlangse onderbrekings in elektrisiteitsvoorsiening en die gevolglike negatiewe uitwerking op die ekonomie. Die regering se gekoördineerde pogings om finansiële, operasionele en strukturele volhoubaarheid vir Eskom te verseker gaan doelgerig voort.

2.2. Die Spesiale Kabinetskomitee is deur Adjunkpresident Mabuza belê en sluit die ministers van Openbare Ondernemings, Energie, Vervoer en Finansies, sowel as Polisie en Staatsveiligheid in. Die komitee moet die energievoorsiening daagliks monitor.

2.3. In ooreenstemming met President Ramaphosa se verbintenis dat die regering se reaksie op die elektrisiteitskrisis inklusief en oorlegplegend  moet wees, het die Minister van Openbare Ondernemings en die Voorsitter van die Eskom-direksie sy eerste voorlopige gesprekke gevoer met die leierskap van die drie vakbonde wat deur Eskom, die steenkoolmynbedryf en die ingenieurswesekorps erken word.

2.4. Die vergadering met die arbeidsektor het verslag gedoen oor die probleme met Eskom se bedryfs- en voorsieningstelsel, instandhouding en onbeplande kragonderbrekings. Die vergadering het gepoog om 'n basis vir formele toekomstige raadpleging te vestig. Die herstrukturering van Eskom is ook bespreek en alle partye het ooreengekom dat daar meer interaksies moet wees om die pad vorentoe, asook die implikasies van die verdeling van Eskom se bedryfsafdelings in drie afsonderlike bedryfsentiteite, beter te verstaan.

2.5. Die steenkoolmynbedryf is onder beskerming van die Minerale Raad van Suid-Afrika (MINCOSA) byeengeroep en die vergadering het probleme met betrekking tot steenkoolvoorsiening, koste en pryse, asook die gehalte van steenkool wat aan Eskom verskaf word, bespreek.

2.6. Vergaderings is ook met die ingenieurswesekorps onder beskerming van die Ingenieursraad van Suid-Afrika (ECSA) belê. Alle spesialiteitsdissiplines in ingenieurswese is verteenwoordig deur hul onderskeie vrywillige verenigings, insluitend die Nasionale Vereniging van Swart Ingenieurs.

2.7. ECSA het Eskom se probleme uiteengesit en aanbevelings gemaak oor hoe om die breër Suid-Afrikaanse akademiese en tegniese professionele korps te betrek by die dringende ingrypings wat nodig is om elektrisiteitsvoorsiening te stabiliseer.

2.8. MINCOSA en ECSA sal die regering help om 'n Eskom-oorsigspan vir tegniese bedrywighede en onderhoud, wat binnekort aangekondig sal word, op die been te bring.

3. Hernubare energie  
 
3.1. Die Kabinet ondersteun die aankondigings deur die Minister van Energie, Jeff Radebe, wat die basiese rasionaal oor hoe hernubare energie die negatiewe uitwerking van fossielbrandstof-energiebronne, soos olie en steenkool, kan stuit, herbevestig.

3.2. Energie is 'n deurslaggewende bemagtiger vir sosio-ekonomiese groei en ontwikkeling in Suid-Afrika. Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) bepaal dat Suid-Afrika minstens 20 000 megawatt hernubare energie teen 2030 benodig. Die Verkrygingsprogram vir Hernubare Energie van Onafhanklike Kragprodusente het 'n beduidende uitwerking op die ekonomie, werkskepping, gemeenskapsopheffing, ekonomiese transformasie en klimaatsverandering.

3.3. Terwyl Suid-Afrika steeds 'n beduidende bydrae tot die globale poging tot lae-koolstof en klimaatsveerkragtige ontwikkeling lewer, bly die regering daartoe verbind om die oorgang na 'n skoner toekoms verantwoordelik en regverdig deur te voer.

3.4. Die Wêreldbankgroep het onlangs die Suid-Afrikaanse Hernubare Energie- en Energiebergingstelsels in Kaapstad van 25 tot 26 Februarie 2019 onder die tema: "Batterye, Energieberging en die Hernubare Toekoms – op weg na 'n 100% Versendbare Hernubare Energiestelsel". Afgevaardigdes uit die nywerheids- en finansiële sektore, nutsdienste, reguleerders, die regering en die akademie het die vordering wat in die hernubare energiesektor gemaak is bespreek, insluitend beleid; regulatoriese, finansiële, sake-, en tegnologiese toepassings; innovering, kodes en standaarde wat nodig is vir die uitbreiding van hernubare energie.

3.5. Hernubare energie en energiebergingstegnologieë stel ons in staat om elektriese krag in energie om te skakel en dit te berg vir later gebruik wanneer dit nodig is. Energiebergingstelsels verminder die behoefte aan reserwevoorrade van steenkool of gasaangedrewe elektriese kragopwekkingsaanlegte; dit verminder sodoende die energiesektor se uitstralings en help ons om klimaatsverandering te temper.

4. Program vir Spesiale Ekonomiese Sones (SEZ’e)

4.1. Die Kabinet verwelkom plaaslike en internasionale beleggersvertroue wat blyk uit beleggings in die Saldanhabaai-bedryfsontwikkelingsone (SBIDZ), wat in 'n wêreldklas aflandige en martime-spilpunt ontwikkel. Dit is deel van die Departement van Handel en Nywerheid se SEZ-program.

4.2. Die vestiging van SEZ'e landwyd is daarop gerig om die konsentrasie van ekonomiese bedrywighede in sekere gebiede van die land as gevolg van apartheid se ruimtelike beplanning, om te keer.

4.3. Sedert hul stigting het SEZ'e tot direkte buitelandse belegging bygedra, soos die onlangse ondertekening van 'n belegging van R3 miljard by die SBIDZ.
4.4. Die SBIDZ se beleggingspyplyn sluit minstens vyf beleggings in wat ’n bykomende R2,4 miljard se belegging tot die kort- en mediumtermyn-vooruitsig vir die sone sal byvoeg.

5. Watervoorsiening

5.1. Die Kabinet verwelkom die gevorderde infrastruktuur van die Mzimvubu-waterprojek by Esiqhungqwini in Tsolo in die Mhlontlo Plaaslike Munisipaliteit in die Oos-Kaap, as 'n voorbeeld van hoe die regering aan gemeenskappe se behoeftes voldoen ondanks die feit dat Suid-Afrika 'n waterskaars land is.

5.2. Die verwesenliking van sulke waterprojekte skep werksgeleenthede en verseker drinkbare watertoevoer vir huishoudelike en industriële gebruik.

5.3. Sedert die aanvang van demokrasie in die land is heelwat gedoen om  te verseker dat gemeenskappe toegang tot basiese dienste soos skoon water het. Byna 90% van huishoudings het tans toegang tot kraanwater.  

6. Veiligheid by skole

6.1. Die Kabinet veroordeel aangemelde voorvalle van afknouery, rooftogte en geweld by sommige van die land se skole. Ons kinders moet in veilige omgewings kan leer en ons doen ’n ernstige beroep op leerders, opvoeders, ouers en voogde om ons kinders sosiaal, fisies en emosioneel te beskerm.

6.2. Die Kabinet loof die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir hul spoedige optrede om verdagtes wat by 'n poging tot kaping by 'n skool in Edenvale, Gauteng betrokke was, in hegtenis te neem.

6.3. Die Kabinet doen 'n spesiale beroep op skoolbeheerliggame om die bestaande infrastruktuur van hul skole te evalueer om te verseker dat skoolgeboue veilig is, gereeld onderhou word en bevorderlik is vir leer.

7. Onaanvaarbare praktyke deur godsdiensleiers

7.1. Die Kabinet neem met kommer kennis van onlangse mediaverslae oor onaanvaarbare praktyke deur sommige godsdiensleiers. Die onlangse beweerde opwekking van 'n oorledene is 'n voorbeeld. Verskeie soortgelyke insidente, wat wissel van gemeentes wat met giftige insekdoders bespruit word, tot kerkgangers wat aangemoedig word om onder meer motorbrandstof, rotte en gras te eet.

7.2. Mense besoek godsdiensinstellings om geestelike vervulling en sielkundige steun te verkry, veral in tye wanneer hulle op hul kwesbaarste is. Die Kabinet doen 'n beroep op almal om saam te werk om hierdie praktyke wat mense se kwesbaarheid misbruik en hul lewens in gevaar stel, stop te sit. Wetstoepassingsagentskappe moet ingryp waar strafregtelike dade onder die dekmantel van godsdiens gepleeg word. Die Kabinet merk ook op dat die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdiens- en Taalgemeenskappe hierdie praktyke ondersoek, wat 'n meer omvattende ingryping sal bied om dit stop te sit.

8. 2019 Nasionale en provinsiale verkiesings

8.1. Die Kabinet doen ’n beroep op alle stemgeregtigde Suid-Afrikaners, veral jong kiesers wat vir die eeste keer stem, waarvan duisende geregistreer het, om hul stemreg in die komende nasionale en provinsiale verkiesings op Woensdag 8 Mei 2019 uit te oefen en 'n sê te hê in die toekoms van die land.

8.2. President Ramaphosa het 8 Mei 2019 amptelik aangekondig en in die Staatskoerant geplaas as die datum vir die nasionale en provinsiale verkiesings. Dit beteken dat die kiesersrol nou amptelik gesluit is en dat mense nie meer kan registreer om in die komende verkiesings te stem nie. Die President het ook ingevolge artikel 2A van die Wet op Openbare Vakansiedae, 1994 (Wet 36 van 1994), soos gewysig, 8 Mei 2019 as 'n nasionale openbare vakansiedag verklaar.

8.3. In Suid-Afrika is die reg om te stem 'n hoogtepunt van jare se stryd om ons vryheid te verseker. Dit het baie opoffering gekos met talle van ons landgenote wat hul lewens in die stryd verloor het.

9. Caster Semenya

9.1. Die Kabinet ondersteun saam met die res van Suid-Afrika ons goue meisie, Caster Semenya. Haar saak, wat voor die Arbitrasiehof vir Sport aangehoor word, is meer as net 'n sportkwessie. Dit gaan oor fundamentele menseregte en die inherente waardigheid van alle mense.

9.2. Ons doen 'n beroep op mense om hul steun te wys by #HandsOffCaster. Kom ons wys vir die wêreld dat ons 'n nasie is wat billikheid, gelykheid en respek vir menswaardigheid waarborg.

10. Kreatiwiteitsbedryf

10.1. Die Kabinet is tevrede met die positiewe uitkomste van die Kreatiwiteitsbedryf-interaksie, onder leiding van die Minister van Kommunikasie, Stella Ndabeni-Abrahams, onder die tema: Hefkrag van Digitale Platforms vir Vierde Industriële Rewolusie (4IR) Kreatiwiteit. Die doel was om die bedryf te betrek om die impak van 4IR op die kreatiewiteitsbedryf binne die uitsaai- en oudiovisuele sektor, te assesseer en om formele platforms vir belanghebbendes te ontwikkel om transformasie te verseker.

10.2. Deelnemers het ooreengekom dat die regering belanghebbendes en die Parlement moet betrek by die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg en die ontwikkeling van die Handves vir Mediatransformasie, en met uitsaaiers gesprek te voer in ’n poging om die uitbuiting van klein en onafhanklike produsente te beperk, sowel as om te verseker dat die eienaars van inhoud behoorlik vergoed word vir hul inhoud wat aanlyn gebruik word.

11. Vals sosiale mediarekeninge

11.1. Die Kabinet neem met kommer kennis van vals LinkedIn- en Facebook-rekeninge wat na bewering dié van ministers en adjunkministers is.

11.2. Ons wil lede van die publiek waarsku om nie mislei te word deur hierdie vals rekeninge nie, waarvan sommige vals sakegeleenthede belowe en mense vra om te betaal om deel van die sakegeleenthede te wees. Geen lid van die Uitvoerende Bestuur versoek betalings vir enige amptelike transaksies deur sosiale media nie. In geval van twyfel, kontak die verskillende ministeries of departemente by www.gov.za.

11.3. Lede van die publiek word aangespoor om op hul hoede te wees vir nabootsers, en mense wat slagoffers van nabootsers was, moet dit dadelik by die polisie aanmeld.

11.4. Die Kabinet veroordeel dade wat in die naam van lede van die Uitvoerende Bestuur of enige ander lid van die samelewing deur middel van vals sosiale mediarekeninge gepleeg word.

11.5. Ons distansieer ons van die kommentaar, sienings en foto's wat met hierdie vals rekeninge verband hou.

12. Venezuela

12.1. Die Kabinet is bekommerd oor die ontwikkelende situasie in Venezuela, veral die humanitêre uitdagings wat dringende aandag vereis. Ons loof pogings deur die Verenigde Nasies (VN) om humanitêre hulp aan die plaaslike bevolking  te bied, en doen ’n beroep op die internasionale gemeenskap om die mense van Venezuela gedurende hierdie moeilike tyd te ondersteun.

12.2. Die Kabinet ondersteun verder beroepe dat die mense van Venezuela die geleentheid gebied moet word om hul eie toekoms te bepaal. Uit ons eie ervaring in Suid-Afrika glo ons dat 'n permanente oplossing slegs bereik kan word uit 'n interne en inklusiewe politieke dialoog met alle geaffekteerde partye in daardie land.

B. Kabinetsbesluite
13. Nasionale Aksieplan (NAP) om Rassisme, Rassediskriminasie, Xenofobie en Verwante Onverdraagsaamheid te beveg

13.1. Sedert 1994 het opeenvolgende regerings daaraan gewerk om al ons mense te verenig, nasionale eenheid te bevorder en groter sosiale samehorigheid te verseker. Om van die verdeeldheid van die verlede te herstel, is 'n deurlopende proses wat hand aan hand moet gaan met groter ekonomiese geleenthede vir meer mense. Die Kabinet keur dus goed dat die NAP vir die Bekamping van Rassisme, Rassediskriminasie, Xenofobie en Verwante Onverdraagsaamheid by die VN ter tafel gelê word.

13.2. Dit volg op uitgebreide oorlegpleging met staatsdepartemente, Hoofstuk 9-instellings, burgerlike samelewingsorganisasies en tersaaklike belanghebbendes in alle provinsies.

13.3. Die NAP sal bydra tot en verseker dat die regering sy internasionale, streeks- en nasionale verpligtinge nakom, spesifiek die Internasionale Konvensie vir die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie en die Durban-verklaring en -aksieprogram wat ná die Derde Wêreldkonferensie teen Rassisme (WCAR) in 2001 in Durban, KwaZulu-Natal, deur die VN aangeneem is.

14. Opsionele Protokol tot die Konvensie teen Marteling en ander Wrede, Onmenslike of Vernederende Behandeling of Straf

14.1. Die Kabinet keur goed dat die Opsionele Protokol tot die Konvensie teen Marteling en ander Wrede, Onmenslike of Vernederende Behandeling of Straf aan die Parlement voorgelê word vir bekragtiging ingevolge Artikel 231 (2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996.

14.2. Bekragtiging bevorder konstitusionalisme en menseregte en is in ooreenstemming met Suid-Afrika se internasionale verpligtinge. Die Grondwet maak voorsiening vir die voorkoming van die skending van die regte van mense in plekke van aanhouding deur staatsbepalings of hofbevele.

15. Ontwerpe vir die Gedenkmuntereeks

15.1. Die Kabinet keur die ontwerpe van die gedenkmuntreeks wat in 2019-2021 uitgereik sal word, goed:
a) 2019 'Vier Suid-Afrika'-muntreeks: 25 Jaar van 'n Grondwetlike Demokrasie;
b)  2019-2021 goue muntstukreeks: Afrika se Groot Vyf;
c)  2019-2021 platinummuntreeks: Afrika se Groot Vyf;
d)  2020 Natura-muntreeks: die Superkontinent Gondwana;
e)  2020 Natura-muntreeks: R25-fynsilwermuntstuk: Wieg van die Mensdom - Hominiede;
f)  2020 2½-tiekie- en R2-kroonreeks: Suid-Afrikaanse Uitvindings – “Retinal CryoProbe”;
g)  2020 R10- en R5-kleurmuntreeks: Voëls en Blomme van die Kaapse Wynland-biosfeerreservaat; en
h)  2021 Natura-muntreeks: R25-fynsilwermuntstuk: die Superkontinent Gondwana.

C. Wetsontwerpe
16. Wysigignswetsontwerp op Toerisme

16.1. Die toerismesektor hou die belofte van ongelooflike geleenthede in en moet gekoester word sodat dit kan groei en verder ontwikkel. Die NDP erken dat toerisme die potensiaal het om een van die hoofaandrywers van die ekonomie te word.

16.2. Om die land se toerismepotensiaal verder te bevorder, keur die Kabinet goed dat die Wysigingswetsontwerp op Toerisme, wat die Wet op Toerisme, 2014 (Wet 3 van 2014) wysig, vir openbare kommentaar gepubliseer word.

16.3. Die wysigings verbeter die bestuur van Suid-Afrikaanse Toerisme as 'n entiteit onder die gesag van 'n direksie. Dit bemagtig ook die Minister van Toerisme om die drempels rakende die korttermynhuur van wonings te bepaal.

16.4. Die wetsontwerp maak ook voorsiening vir die bevoegdheidsvereistes van toeristegidse en vir die regulering van toeritegidse as motorbestuurders.

17. Wetsontwerp op ’n Sentrale Aansoekdiens van 2019

17.1. Suid-Afrika is verbind tot die oopstel en versekering van wyer toegang tot die naskoolse onderwys- en opleidingstelsel. 'n Belangrike deel van hierdie proses is om te verseker dat voornemende studente toegang kry tot 'n enkele, bekostigbare en maklik verstaanbare aansoekstelsel wat verskeie instellings van hoër onderwys dek. Die Kabinet keur derhalwe goed dat die Wetsontwerp op ’n Sentrale Aansoekdienswet van 2019 in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer word.

17.2. Die wetsontwerp maak voorsiening vir die skep van 'n openbare entiteit wat aansoeke in hoër onderwys- en opleidingsprogramme sal stroomlyn, aansoekkoste sal verminder, aansoekers van inligting oor akademiese programme sal voorsien, en die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding en instellings van hoër onderwys in staat sal stel om billikheid en demografie te monitor.
 
18. Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek- en Inligtingsdiens van 2019

18.1. In die strewe om ’n kultuur van ’n lesende nasie te sekp, keur die Kabinet goed dat die Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek- en Inligtingsdiens van 2019 vir openbare kommentaar gepubliseer word. Die Wetsontwerp is daarop gerig om uitdagings rakende transformasie in die voorsiening van openbare biblioteke aan gemeenskappe, veral die voorheen benadeeldes, die hoof te bied.

18.2. Met inagneming van die feit dat die voorsiening van openbare biblioteke ingevolge die Grondwet 'n bevoegdheid van munisipaliteite is, voorsien hierdie wetsontwerp onder meer die norme en standaarde van die ideale openbare biblioteek. Dit bevorder ook koöperatiewe bestuur en koördinasie oor die drie sfere van regering rakende openbare biblioteek- en inligtingsdienste.

18.3. Sodra die wetsontwerp goedgekeur is, sal dit aandag gee aan die historiese ongelykhede rakende openbare biblioteke en voorsiening maak vir voldoende tegemoetkomende hulpbronne vir mense met gestremdhede, jeugdiges, bejaardes en nie-Engelssprekers in stedelike en landelike gebiede. Die Minister van Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, sal 'n mediakonferensie hou om die wetsontwerp uiteen te sit.

D. Toekomstige gebeure
19. Verklaring oor geslagsgebaseerde geweld (GBG)

19.1. Die stryd teen die plaag van GBG, sal op 8  Maart 2019 versterk word wanneer president Ramaphosa saam met verskeie nie-regeringsorganisasies 'n verklaring onderteken om GBG te beveg. Die ondertekeningseremonie vind in Oos-Londen in die Oos-Kaap plaas en volg op die eerste Presidensiële Spitsberaad oor Geslagsgebaseerde Geweld- en Vrouemoord, wat in November verlede jaar gehou is.

20. 63ste Sitting van die VN se Kommissie oor die Status van Vroue

20.1. Die Minister van Vroue, me. Bathabile Dlamini, sal 'n afvaardiging lei om die land se verslag vir die 63ste sitting van die VN-kommissie oor die status van vroue in New York, VSA op 13 Maart 2019 voor te lê.

20.2. Die kommissie sal ‘sosiale beskermingstelsels, toegang tot openbare dienste en volhoubare infrastruktuur vir geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue en meisies’ as 'n prioriteitstema beskou. Die verslag sal Suid-Afrika se verbintenis tot die bekamping van geslagsonbillikheid en -ongelykheid in die land beklemtoon en stel steeds programme en aksies in werking om hierdie kwessies te hanteer.

21. Mynbelegging

21.1. Die Kabinet verwelkom die amptelike opening deur President Ramaphosa van Vedanta Zinc International se Gamsberg-myn in die Noord-Kaap op Donderdag 28 Februarie 2019.

21.2. Die belegging van meer as R21,8 miljard bou op die beloftes wat tydens die land se eerste beleggingskonferensie verlede jaar, ontvang is, en het reed tot 'n nuwe golf van nywerheids- en ekonomiese ontwikkeling in die land gelei.

21.3. Die eerste fase van die myn sal 'n belegging van R5,5 miljard ontvang en het 'n geskatte lewensduur van meer as 30 jaar. Die myn sal tot 3 000 mense tydens konstruksie en 700 mense permanent in diens neem.

22. Aanvangsdialoog oor die Maritieme Vervoersektor

22.1. Om die potensiaal van Suid-Afrika as 'n maritieme land, wat deur sy handels- en geostrategiese ligging op 'n groot seevaartroete gedefinieer word, sal die Minister van Vervoer, dr. Blade Nzimande, 'n tweedaagse Aanvangsdialoog oor die Maritieme Vervoersektor van 28 Februarie tot 1 Maart 2019 in Durban, KwaZulu-Natal, aanbied.

22.2. Die dialoog dui op die verbintenis wat in 2019 deur die Departement van Vervoer gemaak is om die implementering van die Omvattende Martieme Vervoerbeleid (CMTP), wat in 2017 deur die Kabinet goedgekeur is, te versnel.

22.3. Die byeenkoms sal stappe oorweeg wat onderneem moet word om transformasie te verdiep en belegging in strategiese seevaart- infrastruktuurprojekte te lok, wat as deurslaggewend beskou word in die posisionering van Suid-Afrika as 'n Internasionale Seevaartsentrum. Dit is ook 'n aanloop tot die vestiging van die Maritieme Vervoersektor-ontwikkelingsraad soos deur die CMTP voorgestel.

23. Goeie Groen Dade

23.1. President Ramaphosa sal die nasionale veldtog ‘Goeie Groen Dade’ op 8 Maart 2019 in Buffalo City, Oos-Kaap, lei. Dit is die verantwoordelikheid van alle Suid-Afrikaners om 'n skoon en veilige omgewing te verseker.

23.2. Stappe om ons leefomgewings skoon te hou, begin by ons, en dit is belangrik dat woonplekke en besighede volhoubare afvalbestuurspraktyke in werking stel.

23.3. Die President sal ook die Operasie Phakisa: Chemiese en Afvalekonomie bekendstel, wat daarop gemik is om die Suid-Afrikaanse ekonomie te ondersteun, terwyl die omgewingsvoetspoor verminder word.

24. Nasional Leeskoalisie

24.1. President Cyril Ramaphosa sal op 8 Maart 2019 in Mdantsane in die Oos-Kaap verdere stukrag aan die Nasionale Leeskoalisie gee. Die program poog om die leesgewoontes van Suid-Afrikaners te verbeter deur ’n liefde vir lees te vestig.

25. Kleinskaalse visserye

25.1. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF), ooreenkomstig die Wet op Mariene Lewende Hulpbronne, 1998 (Wet 18 van 1998), soos gewysig, sal visvangregte aan kleinskaalse visserye in die Matigulu-gemeenskap, KwaZulu-Natal, op 14 Maart 2019 toestaan. Dit volg op 'n bekendstelling in Port Nolloth in die Noord-Kaap.

25.2. Die DAFF het ook uitgebreide opleiding voorsien om veral vroue in hierdie gemeenskappe te baat. Soortgelyke bekendstellings sal ook in die Oos- en Wes-Kaap gehou word. Die Kabinet verwelkom die selfoon- aansoekmetode, wat deur die DAFF ontwikkel is. Die metode, wat as die Abalobi-app bekend staan, is daarop gerig om kleinskaalse visserye te help om hul vangste direk met markte soos vishandelaars, te koppel.

E. Boodskappe
26. Gelukwense

26.1. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan:

  • Onderwaterfotograaf, Allen Walker van Warner Beach, wat die eerte prys gewen het in die kategorie vir foto’s van haaie in die 2018 World ShootOut-toekennings in Duitsland.
  • Sjef Kobus van der Merwe van Wolfgat-restaurant in Paternoster in die Wes-Kaap, wat met die Restaurant van die Jaar-toekenning bekroon is by die eerste Wêreld Restaurant-toekennings in Parys.
  • die mense van Nigerië en Senegal – wat ook aansluit by die Afrika-unie se gelukwense – met hul suksesvolle verkiesings. Ons sien uit na die versterking van bilaterale politieke, ekonomiese en handelsverhoudinge tussen Suid-Afrika en albei lande.

27. Meegevoel

27.1. Die Kabinet betuig saam met President Ramaphosa sy meegevoel met die heengaan van die jazz-musikant en ontvanger van die Nasionale Orde van Ikhamanga, Mama Dorothy Masuka, op die ouderdom van 83. Mama Masuka sal onthou word vir haar enorme bydrae tot die kulturele erfenis van Suid-Afrika en die vasteland.

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetswoordvoerder (GCIS)
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore