Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 10 Julie 2019

Die Kabinet het op Woensdag 10 Julie 2019 by Tuynhuys in Kaapstad vergader.

A. Kwessies in die omgewing

1. Uitkomste van die Groep van Twintig (G20) -beraad

1.1. Die Kabinet verwelkom die uitkomste van die G20-beraad wat van 28 to 29 Junie 2019 in Osaka, Japan plaasgevind het. President Cyril Ramaphosa het verskillende samesprekings op die kantlyn van die beraad bygewoon om betrekkinge met verskeie land te versterk.

1.2. Hy het bilaterale samesprekings met die Voorsitter van die Afrika Unie (AU), President Abdel Fattah el-Sisi van Egipte; en die Voorsitter van die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling, President Macky Sall van Senegal gevoer, sowel as met Rusland, China, Japan en Saoedi Arabië, en met die President van die Wêredlbank, Mnr David Malpass.

1.3. President Ramaphosa het sy Osaka-program afgesluit deur die Japan-Suid-Afrika Tafelrondebesprekings van Hoof Uitvoerende Beamptes by te woon, waar hy Suid-Afrika as ’n beleggingsgsbestemming bevorder het.

1.4. Wêreldleiers by die beraad het hul verbintenis tot die implementering van die 2030-Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling en die Addis Ababa Akasie-agenda herbevestig.

2. Sakebesoek aan Lesotho

2.1. President Ramaphosa se onlangse sakebesoek aan die Koningkryk van Lesotho bou voort op die sterk en hartlike betrekkinge tussen die twee lande. Hy was onder meer ook daar as die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap se fasiliteerder vir Lesotho.

2.2. Tydens hierdie besoek is die President ingelig oor vordering met die hervormingsproses in die Koningkryk van Lesotho. Hierdie inligting sal vervat word in sy verslag aan die SAOG-staatshoofde, wat in Agustus 2019 in die Verenigde Republiek van Tanzanië vergader.

2.3. Die Kabinet verwelkom die ondertekening van 'n ooreenkoms deur politieke partye in Lesotho om 'n statutêre Nasionale Wetgewende Hervormingsowerheid te stig. Die ooreenkoms bepaal dat 'n hervormingsowerheid ingevolge 'n wet van die Parlement saamgestel sal word en dat die owerheid die land sal lei in die uitvoering van konstitusionele, bestuurs-, veiligheids- en mediahervormings.

2.4. Die Kabinet doen 'n beroep op al die partye om die hervatting van die Parlement te ondersteun om te verseker dat die ooreenkoms aanvaar word.

3. Vernietiging van openbare eiendom

3.1. Die Kabinet veroordeel die onlangse brandstigting deur betogers by 'n laerskool in Katlehong, Gauteng. Geen mate van gegriefdheid regverdig die vernietiging van openbare eiendom soos 'n skool, wat 'n kritieke middel in die bou en ontwikkelings van ons kinders se toekoms is nie.

3.2. Oor die afgelope 25 jaar het die regering miljarde rande belê in die bou van nuwe skole en die opgradering van bestaande skoolinfrastruktuur. Hierdie jaar het die regering ongeveer R30 miljard toegewys om nuwe skole te bou en bestaande infrastruktuur te onderhou.

3.3. Die Kabinet doen ’n dringende beroep op gemeenskappe om die infrastruktuur wat tot hul eie voordeel opgerig is, te versorg. Dit doen ook 'n beroep op gemeenskappe om met die polisie saam te werk om te verseker dat mense wat openbare eiendom vernietig, in hegtenis geneem word.

4. Verslag van die Ouditeur-generaal van Suid-Afrika (OGSA)

4.1. Die Kabinet spreek sy kommer uit oor munisipaliteite se ouditverslae, wat onlangs deur die OGSA uitgereik is. Die onaanvaarbare hoë vlakke van swak bestuur, veral die bestuur van openbare fondse in verskeie munisipaliteite, dui op ondoeltreffende en swak uitvoering van diensleweringsprogramme.

4.2. Die Wysigingswet op Openbare Oudit, 2018 (Wet 5 van 2018), magtig OGSA om diegene wat vir swak finansiële bestuur verantwoordelik is, aanspreeklik te hou en die misbruik van staatshulpbronne te beperk, veral in munisipaliteite wat konstant geen verbetering in hul onderskeie oudituitslae toon nie.

4.3. Daarbenewens ondersteun die Kabinet deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, dr Nkosazana Dlamini Zuma, en die Nasionale Tesourie, die implementeringsplan vir basiese beginsels wat kapasiteitsbou in munisipaliteite bestuur. Die plan is onder meer daarop gerig om die bevoegdheid van personeel deur opleiding en vaardigheidsoordrag te bou en die nakoming van minimum voldoeningstandaarde vir munisipale bestuurders en senior amptenare.

4.3. Met die samewerking van provinsiale leierskap, sal minister Dlamini Zuma voortgaan om die nodige ondersteuning aan munisipaliteite te bied.

5. Vierdie Indstriële Revolusie (4IR)

5.1. Die Kabinet is tevrede dat Suid-Afrika sy eerste Digitale-ekonomieberaad, wat op 5 Julie 2019 in Johannesburg gehou is, suksesvol aangebied het as 'n kritieke mylpaal in die vorming van 'n samehangende 4IR-plan vir die land. President Ramaphosa, toekomsvoorspeller George Friedman, die arbeidsektor, die akademie en die burgerlike samelewing het die beraad bygewoon, wat dialoog, begrip en aksieplanne gestimuleer het om Suid-Afrika as 'n mededingende globale deelnemer te posisioneer.

5.2. Die Kabinet verwelkom ook Google se planne om 'n nuwe onderseekabel vanaf Portugal na Suid-Afrika te bou, wat 20 keer meer netwerkkapasiteit sal lewer en  sodoende ’n vinniger internetdiens sal verseker. Die kabel sal na verwagting in 2021 voltooi word. Sulke ingrypings sal daartoe bydra om Suid-Afrika meer bevorderlik te maak vir potensiële plaaslike en internasionale beleggers.

6. Energie

6.1. Die Kabinet verwelkom Eskom se aankondiging dat Eenheid 3 van die Medupi-kragstasie naby Lephalale in Limpopo kommersiële werksverrigting bereik het en met die nasionale netwerk gesinchroniseer is.

6.2. Dit bied bykomende kapasiteit van 796 megawatt. Die Wêreldbank het ook aangedui dat hy vertroue het in die regering se pogings om Eskom te ondersteun.

6.3. Terwyl ons voortgaan om Eskom te ondersteun, doen die Kabinet ’n beroep op Suid-Afrikaners om elektrisiteit doeltreffend te gebruik, veral tussen 17:00 en 21:00, wanneer die vraag na energie uit huishoudings op sy hoogste is.

7. Misdaad

7.1. Die Kabinet het sy skok en ontsteltenis uitgespreek ná die moord op minstens 13 mense in Phillippi, Kaapstad, die afgelope naweek. Ons betuig ons opregte meegevoel met die naasbestaandes van die slagoffers, waaronder ses vroue tussen die ouderdomme van 18 en 26 is.

7.2. Die Kabinet is ingelig oor die stappe wat gedoen word om veiligheid en sekuriteit in dié gebied te versterk en doen ’n dringende beroep op lede van die publiek wat inligting het wat tot die inhegtenisneming van hierdie oortreders kan lei, om hul naaste polisiekantoor te kontak.

8. Uitbreek van varkpes

8.1. Die Kabinet loof die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling vir sy vinnige optrede nadat varkpes in Noordwes, Gauteng, die Vrystaat en Mpumalanga uitgebreek het. Dit het gehelp om die verspreiding van die siekte hok te slaan. Hoewel Afrika-varkkoors nie mense aantas nie, kan enige vleis en produkte van angetaste varke 'n bron van infeksie vir ander varke wees. 

8.2. Die Kabinet moedig alle boere in die geaffekteerde gebiede aan om waaksaam te wees en enige simptome van die siekte onder hul diere aan te meld.

9. Veiligheid- en gesondheidsinstellings

9.1. Die Kabinet beklemtoon die belangrikheid van gesondheidswerkers en pasiënte se veiligheid. Dit volg op onlangse berigte van aanvalle op mediese nooddienswerkers terwyl hulle op noodoproepe gereageer het. Vanaf Januarie 2019 is altesaam 10 soortgelyke aanvalle aangemeld, waarvan die die mees onlangse by Cosmo City Uitbreiding 2 in Johannesburg was. Die Kabinet doen 'n beroep op wetstoepassingsagentskappe wat saam met openbare gesondheidsinstellings werk, om veiligheid en sekuriteit by hierdie fasiliteite  en met die vervoer van pasiënte te versterk.

9.2. Die Kabinet doen ook 'n beroep op alle gesondheidswerkers om te alle tye die nodige professionele standaarde teenoor pasiënte in hul sorg te handhaaf.

10. Gauteng-snelweg elektroniese e-tolheffing (e-tol)

10.1. President Ramaphosa het die Minister van Vervoer, Fikile Mbalula; die Minister van Finansies, Tito Mboweni; en Gauteng se Premier, David Makhura, opdrag gegee om 'n oplossing vir die kwessie rondom e-tolheffing op Gauteng se snelweë te vind.

10.2. Oorlegpleging binne die regering oor die komende weke sal na verwagting werkbare oplossings lewer, wat teen die einde van Augustus 2019 aan die Kabinet voorgelê sal word.

10.3. 'n Verenigde standpunt oor die hantering van kwessies soos e-tolheffing, is nodig om Suid-Afrikaners se vertroue in die regering se werk te versker.

11. Begrotingsredes

11.1. In Julie 2019 lewer die verskillende staatsdepartemente hul begrotingsredes, wat konkrete finansiële planne bied om die verpligtinge wat President Ramaphosa in sy eerste staatsrede van die sesde demokratiese administrasie beklemtoon het, na te kom.

11.2. Die begrotingsredes voorsien gedetailleerde verslae van die departemente se onderskeie planne vir die jaar, wat gevolg gee aan die 2019-2024 Mediumtermyn Strategiese Raamwerk.

11.3. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om hulle te vergewis van die begrotingsredes en om departemente dienooreenkomstig tot verantwoording te roep. Begrotingsredes verseker dat openbare fondse volgens die regering se prioriteite bestee word en op maniere wat die meeste Suid-Afrikaners sal bevoordeel.

B. Kabinetsbesluite

1. Die Kabinet keur die voorlegging van die land se Vrywillige Nasionale Oorsigverslag aan die Verenigde Nasies (VN) goed. Suid-Afrika is een van die honderd drie en negentig (193) VN-lidlande wat amptelik die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD's) aanvaar het. In 2017 het Suid-Afrika een van die 51 lande geword wat gewillig was om hul vorderingsverslae aan die VN in voor te lê.

2. Suid-Afrika se Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), die AU se Agenda 2063 en die VN se VOD's is almal daarop gerig om Suid-Afrika, sowel as die Afrika-kontinent se ontwikkelingsagendas te versterk.

3. Die vorderingsverslag is opgestel in oorleg met verskeie belanghebbendes, insluitende burgerlike samelewingsorganisasies, die private sektor en die akademie. Die verslag beklemtoon ook kwessies wat steeds uitdagings is. Sodra dit ingedien is, sal dit toeganklik wees op die VN se webwerf (https://www.un.org/en/).

C. Wetsontwerpe

1. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) van 2018 in die Parlement ter tafel gelê word. In 2018 het die Kabinet goedgekeur dat die wetsontwerp oor ’n tydperk van drie maande van Junie tot September 2018, vir openbare konsultasie beskikbaar gestel word. Die insette wat uit hierdie proses ontvang is, is opgeneem in die nuutste weergawe, wat nou aan ’n verdere streng parlementêre proses onderwerp sal word.

2. Die wetsontwerp sal uitvoering gee aan die NDP, wat voorsiening maak vir universele gehalte gesondheidsorgdienste aan alle Suid-Afrikaners, ongeag hul sosio-ekonomiese agtergrond. Dit sal gegrond wees op die waardes van geregtigheid, regverdigheid en maatskaplike solidariteit. Dit sal aandag gee aan die huidige gesondheidstelsel wat net 16% van Suid-Afrikaners dien, terwyl die oorweldigende meerderheid uitgesluit word.

3. Die NGV-wetsontwerp maak voorsiening vir die instelling van die NGV-fonds as 'n openbare liggaam wat aan die Minister van Gesondheid verslag doen. Dit sal gevestig word as 'n outonome Skedule 3A ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet 1 van 1999).

4. Sodra die wetsontwerp goedgekeur is, sal die bestaande konsepimplementeringsplan dienooreenkomstig gewysig word om uitvoering te gee aan die oorgangsooreenkoms om die NHI in fases in werking te stel. Die oorgangstydperk sal ook voorsiening maak vir die herroeping van sekere wetgewing om belyning en samehang in staat te stel.

5. Die Minister van Gesondheid, dr Zweli Mkhize, sal 'n afsonderlike media-inligtingsessie hou om die wetsontwerp uiteen te sit.

D. Toekomstige gebeure

1. President Ramaphosa sal op Dinsdag 23 Julie 2019 die regering se afvaardiging na die tweedaagse konferensie “25 Jaar van Demokrasie – die Volgende 25 Jaar” by die Universiteit van Johannesburg (UJ) lei. Die President sal ook die openingrede lewer. Die  konferensie is 'n vennootskap tussen die Mapungubwe Instituut vir Strategiese Besinning, die UJ en die Presidensie.

2. Afgevaardigdes by die konferensie sal oor 25 jaar van demokrasie besin en perspektiewe bied oor die volgende 25 jaar in Suid-Afrika se ontwikkelingsraamwerk. Dit sal deur vooraanstaande akademici, regeringsleiers en verteenwoordigers van maatskaplike vennote – sake, arbeid, gemeenskappe en die jeug, insluitend die studentegemeenskap – bygewoon word.

E. Boodskappe

1. Meegevoel

Die Kabinet betuig sy meegevoel aan die naasbestaandes en vriende van:

1.1. die veelbekroonde veteraankunstenaar, mnr David Koloane. Die bekende kunstenaar was 'n stigterslid van die Bag Factory (voorheen die Fordsburg Artists’ Studios), wat dit moontlik gemaak het vir swart en wit kunstenaars om op professionele vlak saam te werk ondanks apartheidswetgewing.

1.2. Mama Vivian Magdalene Sarah Daniels, 'n vooraanstaande staatmaker en rolmodel wat die nasie gedien het in die stryd teen apartheid. Haar onbaatsugtige aktivisme laat haar nalatenskap in die gemeenskappe wat sy in Kaapstad gedien het voortleef.

1.3. voormalige ambassadeur, dr Khorshed Ginwala, een van demokratiese Suid-Afrika se eerste vroue-ambassadeurs en 'n pionier in die stryd om vryheid.

1.4. Mnr Mandla Maseko, wat in ’n motorfietsongeluk dood is, sou die eerste swart Afrikaan wees wat na die ruimte sou reis. In 2014 het mnr Maseko een miljoen mededingers geklop om een van 23 mense te word om 'n plek te kry op 'n geborgde Ax Apollo Space Academy-sending.

1.5. veteraan aktrise Mama Nomhle Nkonyeni, wat in die ouderdom van 77 oorlede is. President Ramaphosa het onlangs die Nasionale Orde van Ikhamanga aan haar toegeken ter erkenning van haar werk as kunstenaar. Aggrey-weg in New Brighton in die Oos-Kaap waar sy grootgeword het, is ter ere van haar hernoem. Sy het in produksies soos Mzansi, Tsha Tsha, Igazi en die 2007 mini-reeks Society, opgetree.

1.6. Mama Susan Manana Matona, die moeder van die Sekretaris van die Nasionale Beplanningskommissie, mnr Tseliso Matona, wat in die ouderdom van 90 jaar oorlede is.

1.7. voormalige Springbokvleuel, James Small, wat in die ouderdom van  50 jaar oorlede is. Hy was onder meer deel van die Springbokspan wat die 1995 Rugby-wêreldbekertoernooi op tuisgrond gewen het.

1.8. Mama Betty Philile Khumalo-Zulu, die skoonmoeder van die Adjunkminister van Maatskaplike Ontwikkeling, me Hendrietta Bogopane-Zulu.

1.9. die slagoffers van die hewige moessonreën in Indië, insluitend die Indiese regering. Die Kabinet wens ook die beseerdes 'n spoedige herstel toe.

2. Gelukwense

Die Kabinet dra saam met die res van Suid-Afrika sy gelukwense oor aan:

2.1. ons onstuitbare atleet Caster Semenya vir haar oorwinning in die 800m by die Prefontaine Classic, in Kalifornië, VSA. Semenya, wat ’n dubbele olimpiese kampioen is, is sedert September 2015 onoorwonne in die 800m.

2.2. Bafana Bafana wat tot die die kwarteindronde van die Afrika-nasiestoernooi in Egipte deurgedring het; ons wens hulle sterkte toe vir die wedstryd teen Nigerië.

2.3. Amy Claire King, wat as die wêreld se meester-enkelspelkampioen by die gesogte agtbal-potspel-wêreldkampioenskap in Blackpool in die Verenigde Koninkryk, bekroon is.

2.4. tennisster Kgothatso Montjane, die eerste swart Suid-Afrikaanse vroulike debutante by Wimbledon. Sy het Katharina Kruger van Duitsland in die kwarteindronde van die dames rolstoel-enkelspel verslaan. Montjane beklee die agtste posisie in die wêreld.

2.5. Kevin Anderson wat tot die derde ronde van die mans-enkelspel deurgedring  het en Raven Klaasen wat tot die halfeindronde van die mans-dubbelspel deurgedring het.

2.6. die groep van 20 Suid-Afrikaanse tieners wat lugvaartgeskiedenis gemaak het deur hul eie viersitplekvliegtuig te bou. Die span het die vliegtuig binne twee weke onder leiding van The Airplane Factory, U-Dream-mentors en vyf spanleiers van Denel Aviation gebou. Die viersitplek Sling 4-vliegtuig het in Namibië, Malawi, Ethiopië, Zanzibar, Tanzanië en Uganda geland tydens die 12 000 km-reis na Egipte, nadat dit verlede mand uit Kaapstad vertrek het.

F. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Die interim direksie van die Openbare Beleggingskorporasie met ingang van 12 Julie 2019 tot 31 Julie 2020. Die name is gister deur die Nasionale Tesourie bekendgemaak.

Navrae: Me Phumla Williams – Waarnmende Kabinetswoordvoerder

Navrae:
Me Phumla Williams
Waarnemende Direkteurgeneraal (GCIS) 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore