Verklaring oor die Die Kabinetsvergadering van 27 Mei 2015

1. Afrikadag

1.1. Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners wat aan die feesvierings vir Afrikadag 2015 deelgeneem het. Die dag weerspieël ons verbintenis tot die bou van 'n verenigde, vreedsame en voorspoedige Afrika.

1.2. Die Kabinet benadruk die oproep deur President Jacob Zuma aan alle Suid-Afrikaanse instellings en maatskappye om die Afrika-unie (AU) se vlag saam met die Suid-Afrikaanse vlag te vertoon. Dit is in ooreenstemming met die behoefte om die visie van 'n verenigde, voorspoedige en vreedsame Afrika te koester.

2. Implementering van belangrike regeringsprogramme

2.1. Die Kabinet herinner Suid-Afrikaners en buitelandse burgers wat met kinders reis dat die Wet op Paspoorte en Reisdokumente vanaf 1 Junie 2015 in werking sal tree.

2.2. Onder die nuwe wetgewing word daar van ouers wat met kinders onder die ouderdom van 18 reis, vereis om hul volledige geboortesertifikate te wys. Dit is deel van die Regering se verbintenis om kinders se belange te beskerm en om kinderhandel te verhoed.

3. Belangrike Kabinetsbesluite

3.1. Die Kabinet het die Nasionale Leerdervervoerbeleid, wat riglyne bied vir die verskaffing van doeltreffende en veilige openbare vervoerdienste vir leerders, goedgekeur. Die implementering daarvan sal lei tot 'n geïntegreerde leerdervervoerdiens wat die standaarde van die aard van die voertuie wat gebruik word en die tariefstrukture vir die gebruik van leerdervervoerdienste voorsien. Die beleid is ook in lyn met die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (Wet 84 van 1996).

3.2. Die Kabinet keur die indiening van Suid-Afrika se 1994 tot 2014 Verslag oor die vordering met die implementering van Afrika-unie-staatshoofde se Plegtige Verklaring oor Geslagsgelykheid in Afrika aan die AU-sekretariaat, goed. Die verslag is saamgestel ter voorbereiding vir die AU- beraad vir Staatshoofde in Junie 2015.

Die verslag, wat die tydperk 1994 tot 2014 dek, beoordeel en evalueer die doeltreffendheid van ons wette, beleid en programme wat geskep is om verteenwoordiging, die voorsiening van basiese dienste, werkskepping, die vermindering van armoede, die uitwissing van geweld, en die beskerming van menseregte van vroue en meisies te verhoog.

3.3 Die Kabinet keur die Nasionale Jeugbeleid 2020 goed. Die beleid vervang die Nasionale Jeugbeleid 2009-2014 wat sedertdien verval het. Die beleid is ontwikkel na afloop van 'n uitgebreide konsultasieproses met Suid-Afrikaanse jeug uit al nege provinsies. Dit sal die basis vir die ontwikkeling van 'n geïntegreerde Jeugontwikkelingstrategie vorm.

3.4. Die Kabinet is ingelig oor die vordering wat gemaak is in die opstel van die Eiendomsbestuur-handelsentiteit. Die entiteit verseker doeltreffendheid en koste-effektiwiteit in die bestuur van die Staat se eiendomsportefeulje. Die Kabinet is tevrede met die ontwikkeling en verfyning van die entiteit se sakemodel, wat die gehalte van openbare geboue sal verbeter.

Die Kabinet het verder die sekondering goedgekeur van Mnr P Serote om as die hoof van die Eiendomsbestuur-handelsentiteit te dien, Mnr M Govender as hoof van Fasiliteite en Vaste-eiendombestuur, en Me BS Mathews as hoof van die Vaste-eiendomregisterdienste.

4. Toekomstige gebeure

4.1. Suid-Afrika sal gasheer wees vir die AU-spitsberaad wat van 7 tot 15 Junie 2015 by die Sandton-konvensiesentrum gehou word onder die tema: "Jaar van Vrouebemagtiging en -ontwikkeling in aanloop tot Afrika se Agenda 2063". Die week se aktiwiteite sal afgesluit word met die Vergadering van Staatshoofde van 14 tot 15 Junie 2015.

Die Republiek van Zimbabwe, as voorsitter van die AU vir 2015, sal die spitsberaad en sy verwante vergaderings lei. Dit sal fokus op die implementering van besluite wat by die spitsberaad in Januarie 2015 geneem is, wat Agenda 2063 en die eerste 10-jaar-implementeringsplan insluit; die stand van vrede en veiligheid op die vasteland, insluitend terrorisme; vrouebemagtiging en -ontwikkeling; alternatiewe bronne van befondsing vir die AU; integrasie op die vasteland en operasionalisering van die Afrika Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming 2015.

President Zuma sal die inhuldiging van Nigerië se gekose president Mohammadu Buhari in Abuja, Nigerië op 29 Mei 2015 bywoon.

4.2. Die Wêreld Ekonomiese Forum oor Afrika sal van 3 tot 5 Junie 2015 in Kaapstad plaasvind onder die tema : “Toe en Nou: ’n Hervoorstelling van Afrika se toekoms”.

Die Kabinet verwelkom alle politieke en sakeleiers van regoor die vasteland van Afrika en ander dele van die wêreld by die, wat 25 jaar van verandering in Afrika vier.
Suid-Afrika sien daarna uit om deel te neem aan die besprekings oor die versnelling van inklusiewe ekonomiese groei en ontwikkeling in Afrika. Die vasteland bly een van die vinnigste groeiende gebiede in die wêreld en is 'n aantreklike beleggingsbestemming.

4.3. Adjunk-president Cyril Ramaphosa, as die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad, sal die opening van die 7de Suid-Afrikaanse Vigs-konferensie by die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konferensiesentrum in Durban van 9 tot 12 Junie 2015 toespreek onder die tema: "Besin, Herfokus en Vernuwing".

Hierdie konferensie, wat elke twee jaar gehou word, is 'n barometer vir die Regering en Suid-Afrikaners is om vooruitgang wat in die beheer van MIV-infeksies gemaak word, na te speur. Dit bied ook 'n geleentheid vir mense wat met MIV en vigs, seksueeloordraagbare infeksies (SOI's) en tuberkulose (TB) werk,  om hul ervarings en insigte met mekaar te deel.

Suid-Afrika het die grootste antiretrovirale (ARV) program in die wêreld, met drie miljoen mense op ARV’s sedert Desember 2014. Dit het aansienlik bygedra tot die vermindering van nuwe MIV-infeksies en sterftes weens vigs, en verseker dat kinders oorleef en ook langer lewe. Ywerig beplanning is 'n belangrike deel van die sukses van hierdie vlagskip-program, wat verseker dat elke openbare gesondheidfasiliteit voldoende hoevelede ARV’s in voorraad het.

Suid-Afrika, deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT), belê reeds jare lank in MIV-navorsing. Die DWT se belegging in MIV-navorsing het in 1999 begin, toe die departement saam met die Departement van Gesondheid, die Suid-Afrikaanse vigs-entstofinisiatief gevestiog het.

Teen 2009, is die DWT se ondersteuning van MIV-navorsing uitgebrei om ander tussenkomste soos diagnose, ARVs, en microbisides, bykomend tot entstowwe, in te sluit. Die Suid-Afrikaanse MIV-navorsing en -innovasieplatform (SHARP) is geskep om baanbrekerswerk ten opsigte van MIV- en vigs-navorsing te befonds en om die ontwikkeling van innoverende oplossings vir die epidemie te fasiliteer.

Ons ondersteun tans verskeie MIV-verwante projekte in verskillende stadiums van ontwikkeling deur 'n program genaamd die Strategiese Gesondheidsinnovasie-vennootskap, wat SHARP inkorporeer onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Die rol van die program is om die interaksie van Suid-Afrikaanse MIV- en vigs-navorsers te fasiliteer, en om 'n nasionale netwerk van samewerkende navorsingsentrums in MIV en vigs te skep.

Tans word 'n aantal multi-institusionele, multidissiplinêre, produkontwikkelingsprojekte wat diagnose, entstowwe en microbisiden insluit, van stapel gestuur om SHARP se doelwitte te bevorder. Suid-Afrika heg spesifieke waarde aan die stryd teen vigs, met die voorkoming van die siekte as die kern van die land se Nasionale Strategiese Plan vir MIV, SOI en TB (2012-2016).

4.4 Program vir Omgewingsmaand

In Junie vier Suid-Afrika die belangrikste omgewingsdae. Op 5 Junie lei die Departement van Omgewingsake die viering van Wêreldomgewingsdag in Kimberley in die Noord-Kaap.

Wêreld-oseanedag word op 8 Junie in Bloemfontein in die Vrystaat aangebied in samewerking met verskeie vennote in die implementering van die Operasie Phakisa Oseane-ekonomie wanneer inligting oor die geleenthede in die oseane-ekonomie en verwante gebiede aan die plaaslike gemeenskappe oorgedra sal word.

Op 17Junie vier Suid-Afrika Wêrelddag vir die Bestryding van Verwoestyning in Nqutu, KwaZulu-Natal. Al hierdie belangrike omgewingsdae is daarop gemik om bewustheid oor die omgewing te verhoog, terwyl dit ook jong mense in al die gasheerprovinsies aan geleenthede in die sektor bekendstel.

4.5 Bekendstelling van die Driesydige Vryhandelsgebied in Sharm-el-Shaik

Die COMESA-EAC-SAOG Driesydige Vryhandelsgebied sal op 10 Junie 2015 in Sharm-el-Shaik, Egipte van stapel gestuur word. Die vryhandelsgebied sal 'n mark van 26 lande skep, met 'n gesamentlike bevolking van meer as 625 000 000 en 'n BBP van meer as $1 triljoen.

Die bekendstelling dui op die finalisering van die onderhandelinge oor die vryhandelsooreenkoms wat reëls en 'n raamwerk skep waarbinne tariefvoorkeure en ander verpligtinge geïmplementeer sal word. Onderhandelinge oor tariewe en reëls van oorsprong sal voortgaan as deel van die ingeboude agenda.

Die bekendstelling van die vryhandelsooreenkoms is 'n belangrike mylpaal vir Afrika wat gevestig is in die Afrika-unie (AU) se Lagos Plan van Aksie en die Abuja-verdrag wat daarop gemik is om die Afrika Ekonomiese Gemeenskap te vestig. Ons glo dat dit 'n kragtige boodskap uitstuur dat Afrika verbind is tot sy ekonomiese integrasie-agenda en tot die skep van 'n omgewing wat bevordelik is vir handel en belegging.

Die onderhandelinge wat lei na die Drieledige Vryhandelsgebied is in Junie 2011 van stapel gestuur in 'n spitsberaad wat deur President Jacob Zuma in Sandton, Suid-Afrika aangebied is.

4.6 Bekendstelling van die onderhandelinge vir 'n Kontinentale Vryhandelsooreenkoms by die AU-spitsberaad in Junie.

Die bekendstelling van die onderhandelinge vir die Kontinentale Vryhandelsooreenkoms by die AU-spitsberaad vind op 15 Junie 2015 in Johannesburg, Suid-Afrika plaas.

Die Vryhandelsooreenkoms sal 'n mark skep van meer as 1,3 miljard mense met 'n gesamentlike BBP van meer as $2 miljard. Dit sal voortbou op die Driesydige Vryhandelsgebied en vordering wat in die plaaslike ekonomiese gemeenskappe gemaak is. Dit sal ook aan handelaars en beleggers toegang verleen tot 'n groeiende mark en bied 'n basis vir beter intra-Afrika handel.

5. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

5.1. Verteenwoordigers van die Departement van Openbare Ondernemings tot die Adviesraad van die Spesiale Ekonomiese Sones:
a) Me Jacky Molisane (aangewese lid);
b) Me Nontsikelelo Rose Mbono (alternatiewe lid).

5.2. Dr Reginald Cassius Lubisi - Direkteur-generaal in die Presidensie en die Kabinet-sekretaris (vir vyf jaar hernu).

5.3. Mnr Christopher Gavor Kobla - Waardeerder-generaal: Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.

Navrae:
Me Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore