Verklaring deur President Cyril Ramaphosa oor vordering met die nasionale poging om die COVID-19-pandemie hok te slaan

Mede-landgenote,

Goeienaand,

Ons het besluit om die begin van dié toespraak om die nasie toe te spreek met ʼn halfuur te vertraag omdat ʼn legende van die Suid-Afrikaanse uitsaaiwese, Me Noxolo Grootboom, vanaand haar laaste isiXhosa-bulletin om 7nm op SABC Nuus aangebied het.

Ek wil hulde bring aan Me Grootboom as ʼn besondere joernalis wat regdeur haar voortreflike loopbaan geskiedkundige gebeure in ons land en oor die hele wêreld na ons nasie se sitkamers gebring het.

Ons wens Me Grootboom alles van die beste toe en bedank haar vir haar jarelange diens.

Ons wil graag sê, van elke iedere huishouding, ons is lief vir jou.

Dit is nou net meer as ʼn jaar sedert ons ʼn Nasionale Ramptoestand as gevolg van die COVID-19-pandemie verklaar het en ons moes maatreëls bekendstel om die verspreiding te beperk.

Ons moes almal sedertdien beperkings op byna elke aspek van ons lewens, duld.

Wat dalk die moeilikste is, is hoe die pandemie die sosiale interaksies wat ons deel van ʼn gemeenskap laat voel, beïnvloed het.

Ons mis die baie dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar het, soos om ons geliefdes te kan besoek, na ʼn partytjie toe te kan gaan of godsdienstige dienste te kan bywoon.

Ons het een jaar later beduidende vordering gemaak om die pandemie onder beheer te bring.

Ons gesondheidsorgwerkers se onvermoeide pogings het duisende lewens gered en die pionierswerk van ons wetenskaplike gemeenskap het tot beduidende vordering in ons begrip van die virus gelei.

Ons het onsself, ons gesinne en ons gemeenskappe beskerm deur die veranderinge wat ons gemaak het betreffende ons persoonlike gedrag.

Ons is nog nie in Suid-Afrika, net soos in die meeste lande wêreldwyd, gereed om terug te keer na ʼn normale lewe nie.

Ons sal vir die tweede opeenvolgende jaar ons interaksie, veral oor die Paasseisoen, moet beperk.

Dit is die geval omdat ons steeds die koronaviruspandemie beleef.

Die land het oor die afgelope jaar meer as 1.5 miljoen koronavirusgevalle aangeteken.

En daar is meer as 52 000 sterftes as gevolg van COVID-19 aangeteken.

Ons onthou en betreur elkeen van dié lewensverliese.

Suid-Afrika het, soos wat ek verlede keer verklaar het, die tweede golf van infeksies oorkom.

Die aantal nuwe gevalle het die afgelope twee weke redelik stabiel gebly teen ongeveer 1,200 nuwe gevalle per dag.

Die aantal hospitaliserings is besig om af te neem, asook die aantal sterftes.

Ons nasionale herstelkoers is effe hoër as 95%.

Dit is te danke aan die gesamentlike pogings van alle Suid-Afrikaners wat die beperkings nagekom het wat sedert Maart verlede jaar in plek gestel is om lewens te red.

Dit is ook aanduidend van die hoë graad van waaksaamheid wat ons steeds volhou as ʼn land aangaande die maatreëls vir kontrole, toetsing, kontaknasporing en voorkoming.

Ons nasionale entstofprogram het terselfdertyd begin en sal in momentum toeneem.

Ons het in die middel van Februarie met Fase 1 van ons inentingsprogram begin, toe gesondheidswerkers ingeënt is.

Dié fase is op dreef om binne drie maande afgehandel te wees.

Meer as 250,000 gesondheidswerkers het tot op hede die Johnson & Johnson-entstof ontvang as deel van die Sisonke-proefneming.

Ons het 11 miljoen dosisse Johnson & Johnson-entstof verkry en ons weet nou dat dit doeltreffend teen die dominante variante in ons land is.

Ons het ʼn verdere 20 miljoen dosisse verkry en is besig om die ooreenkoms met Johnson & Johnson te finaliseer.

Ons finaliseer ook ʼn ooreenkoms vir 20 miljoen dosisse Pfizer-entstof, wat twee dosisse per persoon vereis.

Dié entstofvoorraad sal altesaam vir ons genoeg dosisse verskaf om 41 miljoen mense in te ent.

Ons sal verdere aankondigings maak sodra dié onderhandelings afgehandel is.

Ons is ook op verskeie onderhandelingstadiums met die vervaardigers van ander entstowwe soos Sinovac, Sinopharm en Sputnik V. Sommige van dié vervaardigers is in die finale stadium van die goedkeuringsproses vir die gebruik van die entstowwe in Suid-Afrika.

Ons sal, bo en behalwe die entstofdosisse, ook ʼn toewysing van entstofdosisse regstreeks vanaf die Afrika-unie-inisiatief verkry, wat ons van stapel gestuur het toe ons die voorsitterskap van die Afrika-unie beklee het.

Ons is steeds vol vertroue dat ons ons inentingsteikens sal bereik, alhoewel daar vertragings was aangaande die verkryging van entstofvoorraad.

Die aanvraag na entstowwe wêreldwyd het uiters kompeterend geword, maar ons doen ons bes om genoeg voorraad vir die mense van Suid-Afrika en die Afrika-kontinent te verkry.

Ons moes aanpas by die veranderende aard van die virus en nuwe inligting oor die doeltreffendheid van die verskillende entstowwe.

Ons sal verseker dat ons genoeg dosisse doeltreffende entstowwe het om so spoedig moontlik bevolkingsimmuniteit te bereik.

Daar word beplan om Fase 2 in die middel van Mei van stapel te stuur.

Ons glo dat groot genoeg volumes van vervaardigers, in die hoeveelhede waaroor ons met hulle ooreengekom het, verkry sal word.

Ons hoop om in Fase 2 meer van ons mense oor ses maande in te ent.

Ons sal, in ooreenstemming met internasionale beste praktyk, diegene met die hoogste risiko vir hospitalisering en sterfte prioritiseer, soos mense oor 60 en mense met komorbiditeite.

Die tweede fase van die COVID-19-entstofprogram poog om te verseker dat ons ons gemeenskappe sal beskerm, sal voorkom dat gesondheidsdienste oorweldig word en die behoefte aan inperking wat ons onderwys, die ekonomie en elkeen van ons se lewens ernstig ontwrig, sal verminder.

Daar word beplan om in April met registrasie vir inenting te begin.

Mense sal aangemoedig word om aanlyn te registreer, maar diegene sonder aanlyn toegang sal persoonlik in lewende lywe kan registreer.

Meer as 2 000 inentingsterreine is regoor die land aangewys om te verseker dat ons ondersteunende infrastruktuur het.

Dit sluit dokterspreekkamers, gemeenskapsklinieke en apteke, kleinhandelafsetpunte en, in sommige gevalle, groter fasiliteite soos stadions en konferensiesentrums in.

Die Elektroniese Inentingsdatastelsel is van stapel gestuur om die uitrol van die inentingsprogram te bestuur en mense na die inentingsterreine wat die naaste is aan waar hulle woon, te verwys.

Die stelsel sal jou toelaat om te registreer, ʼn datum en plek vir jou afspraak te kry en om nadat jy ingeënt is ʼn digitale sertifikaat of drukstuk te kry wat bevestig dat jy ingeënt is.

Almal wat ingeënt word, sal eers op die stelsel moet registreer en jy sal, wanneer jy daarvoor in aanmerking kom, genooi word om te registreer.

Ons sal deur provinsiale en distrikstrukture en gemeenskapsgebaseerde organisasies werk om die burgers wat nie toegang tot tegnologie het nie, te registreer.

Ons is besig om meganismes te ontwikkel om persone sonder die nodige dokumentasie te identifiseer en te registreer, sodat hulle ook ingeënt kan word.

Ons bly daartoe verbind om die nasie ingelig te hou oor elke stap van die entstofverspreidingsproses.

Ek en die adjunkpresident het gister die Aspen-vervaardigingsaanleg in die Oos-Kaap besoek, wat by die vervaardiging van die Johnson & Johnson entstowwe betrokke sal wees.

Dis ʼn wêreldklas-entstofvervaardigingsfasiliteit wat onder die bestes ter wêreld gereken word.

Dit is ʼn wonderlike prestasie vir Suid-Afrika en demonstreer ons vermoëns in gevorderde vervaardiging.

Ek wil Aspen bedank vir die versiendheid om in dié fasiliteit te belê en vir hoe vinnig hulle gereed is om te begin vervaardig.

Meer as die helfte van die aanleg se kapasiteit — wat 300 miljoen dosisse per jaar kan vervaardig — is aan Afrika belowe.

Die Afrika Entstofverkrygingstrust het vroeër die week namens lidstate van die Afrika-unie ʼn verkrygingsooreenkoms vir 220 miljoen dosisse Johnson & Johnson-entstof geteken.

Daar is die opsie vir ʼn bykomende 180 miljoen dosisse.

Dié ooreenkoms is belangrik vir Afrika, omdat dit uiting gee aan ons vasberadenheid dat geen land agtergelaat sal word nie, maar ook omdat dié entstowwe op eie bodem, op ons kontinent, vervaardig sal word.

Meer samewerking tussen die regering, sakelui, arbeid en die burgerlike samelewing is van kardinale belang vir die entstofverspreiding.

Die privaat sektor speel steeds ʼn belangrike ondersteuningsrol in die nasionale poging.

Ons word veral aangemoedig deur die privaat gesondheidsorgsektor se gewilligheid om met die regering saam te werk om die entstofverspreiding suksesvol te maak en die ontsaglike vermoëns wat ons in die sektor ontwikkel het, te benut.

Ons is ook dankbaar vir die verskeie maatskappye wat deur die Solidariteitsfonds werk om finansiële hulpbronne aan die entstofverkryging en -verspreiding te verleen.

Ons het waardering vir die Vodacomgroep en die Vodafonestigting, wat R87 miljoen in die Afrikalande waar hulle werksaam is belowe het vir kouekettingberging en -logistiek sodat die COVID-19-entstowwe veilig gelewer kan word.

Vodacom sal ook ʼn supermoderne entstofbeheerplatform regoor AU-lidstate ontplooi, ná ʼn suksesvolle ontplooiing van dieselfde platform in Suid-Afrika.

Ek wil ʼn beroep doen op al ons privaatsektorvennote om dié nuwe fase in ons stryd teen die pandemie te ondersteun.

Mede-landgenote,

Die land sal oor ʼn paar dae die jaarlikse Paasseisoen betree.

Dit sal vir baie mense  ʼn welverdiende oomblik wees om ʼn blaaskans te neem, hetsy van werk of ons studies en van die afgelope maande se druk.

Baie van ons het planne gemaak vir die komende langnaweek.

Van ons sal buite die stad reis; ander sal vriende en familie besoek.

Baie van ons sal byeenkomste en vieringe bywoon.

Dit is vir miljoene mense ook ʼn tyd van godsdienstige viering.

Ons kan nie laat slap lê nie, al bly die oordragkoers stabiel.

Ons moet nou, meer as ooit, versigtig wees.

Die werklikheid is dat meer mense wat rondbeweeg, interprovinsiale reise onderneem, meer van openbare vervoer gebruik maak en byeenkomste bywoon, ʼn groter risiko vir meer infeksies inhou.

Ons het die afgelope paar dae vir deskundiges om raad gevra en met verteenwoordigers van die provinsiale en plaaslike regering en tradisionele leiers beraadslaag oor watter maatreëls oor die komende langnaweek in plek gestel moet word om ʼn nuwe uitbraak van infeksies te voorkom.

Ons het verskeie faktore in ag geneem, waaronder voorleggings deur die godsdienstige gemeenskap oor voorkomingsmaatreëls wat hulle in plek gestel het vir verwagte byeenkomste.

Ons het besluit om, gegewe die lae oordragvlakke, die land op Koronavirus-waarskuwingsvlak 1 te hou.

Ons moet egter, as gevolg van die spesifieke omstandighede van dié tydperk, ʼn paar aanpassings maak.

Sommige van die maatreëls wat dieselfde sal bly is soos volg:

Die aandklokreël bly vanaf middernag tot 4vm.

Openbare ontspanningsplekke soos strande, parke en damme sal oop bly.

Dit sal egter steeds aan streng gesondheidsprotokolle soos sosiale distansiëring en die dra van maskers onderhewig wees.

Begrafnisse word steeds beperk tot ʼn maksimum van 100 mense en met ʼn beperking van twee ure op dienste.

Interprovinsiale reise word steeds toegelaat.

Ek moedig egter alle Suid-Afrikaners aan om hulle reise soveel moontlik te beperk en al die nodige gesondheidsprotokolle na te kom as hulle nie anders kan as om te reis nie.

Ons sal egter, gegewe die rol wat alkohol speel om roekelose gedrag aan te wakker, sommige beperkings oor die Paasnaweek instel.

Die verkoop van alkohol vir buiteverbruik sal dié komende Vrydag, Saterdag, Sondag en Maandag, verbied word.

Verkope by restaurante, sjebeens en kroeë vir verbruik op die perseel sal tot 23:00 toegelaat word, volgens lisensiebepalings.

Mede-landgenote,

Die Paasnaweek is ʼn tyd van geestelike betekenis en dit is vir miljoene mense belangrik om godsdienstige dienste by te woon.

Gemeenskaplike aanbidding is ʼn belangrike deel van die Paasviering vir Christene.

Die Joodse gemeenskap vier tans Pasga en die Moslemgemeenskap sal binnekort met die Heilige Maand van Ramadan begin.

Ons het die afgelope paar weke met geloofsgemeenskappe beraadslaag om oplossings wat wedersyds voordelig is te vind om groot skares by godsdienstige dienste te beheer.

Daar is ná beraadslaging bepaal dat godsdienstige byeenkomste oor dié tydperk beperk sal word tot ʼn totale aantal van 250 mense binnenshuis en 500 buitenshuis.

As die lokaal, met gepaste sosiale distansiëring, te klein vir dié aantal mense is, mag slegs 50% van die lokaal se kapasiteit gebruik word.

Gemeentelede behoort nie buite hulle gewone aanbiddingsplekke byeen te kom nie en mense moet huis toe gaan en nie ná dienste oorslaap nie.

Ek wil my dank betuig aan die leierskap van die geloofsgemeenskap wat positief met ons as die regering in wisselwerking getree het.

Daar is ʼn algemene begrip dat ons alles denkbaar moet doen om ons mense te ondersteun sodat hulle hul godsdiensvryheid kan uitoefen en ons land veilig hou.

Wat ander byeenkomste betref, sal hulle ook beperk word tot ʼn maksimum van 250 mense binnenshuis en 500 mense buitenshuis.

Soos voorheen vermeld, as die lokaal, met gepaste sosiale distansiëring, te klein vir dié aantal mense is, mag slegs 50% van die lokaal se kapasiteit gebruik word.

Ons moedig steeds alle Suid-Afrikaners aan om byeenkomste te vermy as hulle in ʼn kwesbare groep val, soos bejaardes en diegene met komorbiditeite.

Ons versoek ook dat byeenkomste buitenshuis moet plaasvind, wat aansienlik veiliger as binnenshuis is.

Ons sal dié maatreëls rakende die grootte van byeenkomste binne die volgende 15 dae hersien, gebaseer op die assessering van die stand van die pandemie en die mate van nakoming van gesondheidsprotokolle.

Ons volg steeds die beginsel dat beperkings nie strenger as wat nodig is moet wees om die verspreiding van die virus te beperk nie.

Ons word steeds gelei deur data oor die epidemiologiese situasie, deskundiges se raad en breë oorlegpleging met maatskaplike vennote.

Ons sal die situasie noukeurig monitor en sal vinnig reageer op enige tekens van herlewing van die pandemie.

Mede-landgenote,

Dié pandemie is steeds in ons midde.

Ons moet gedurende die komende naweek, maar ook in die dae, weke en maande wat voorlê, met versigtigheid optree.

Ons weet nie wanneer die koronaviruspandemie verby gaan wees nie, maar ons almal weet wat gedoen moet word.

Ons weet dat om maskers, ten alle tye in die openbaar te dra, hande gereeld te was of te ontsmet, sosiale afstand te handhaaf en skares te vermy, die doeltreffendste manier is om die virus in bedwang te hou.

Enige optrede wat onsself of ander in gevaar stel, moet vermy word.

Die beperkings wat in plek gestel is vir ons gesamentlike gesondheid en veiligheid, moet nagekom word.

Kom ons wees ʼn verantwoordelike nasie wat altyd bewus is van die virus se teenwoordigheid.

Kom ons bly by die huis of in klein groepe.

Kom ons vermy groot skares en plekke met swak ventilasie.

Kom ons woon nie begrafnisse by tensy dit ons direkte familie is nie en kom ons besoek eerder nie die bedroefde persone se huise nie.

Ons het almal ʼn rol te speel in dié groot nasionale poging om COVID-19 hok te slaan.

Kom ons doen ons deel.

Kom ons wees versigtig in dié tyd, wanneer die Paasfeesboodskap van hoop, wedergeboorte en hernuwing in soveel van ons se lewens ʼn rol speel.

Mag God voortgaan om Suid-Afrika te seën en haar mense te beskerm.

Dankie.

Share this page

Similar categories to explore