President Cyril Ramaphosa: Vordering met die nasionale poging om die COVID-19-pandemie te stuit

Verklaring deur President Cyril Ramaphosa oor vordering met die nasionale poging om die COVID-19-pandemie te stuit

My mede-Suid-Afrikaners,

Dit is net 11 dae sedert ek julle laas toegespreek het.

Toe het ek oor die tekens van 'n oplewing van koronavirusinfeksies in verskillende dele van die land gepraat.

Op daardie dag, 3 Desember, het ons land meer as 4 400 nuwe gevalle aangeteken.

Gister, die 13de Desember, het ons byna 8 000 nuwe gevalle aangeteken.

Die kumulatiewe aantal bevestigde gevalle van koronavirus in Suid-Afrika staan nou op 866 127.

Hierdie syfers is kommerwekkend.

Daar kan geen twyfel meer bestaan nie – die land ervaar nou 'n tweede vlaag koronavirusinfeksies.

Gegewe die tempo waarteen nuwe gevalle gedurende die afgelope twee weke toegeneem het, is daar ’n moontlikheid dat as ons nie dringend optree nie en as ons nie saam optree nie, die tweede vlaag erger sal wees as die eerste.

Die daaglikse gemiddelde van nuwe gevalle landwyd oor die afgelope sewe dae is 74% hoër as die vorige sewe dae.

In hierdie tyd het die aantal nuwe gevalle van 'n daaglikse gemiddeld van ongeveer 3 800 tot net meer as 6 600 per dag toegeneem.

Die daaglikse gemiddelde COVID-19 sterftes het in dieselfde tydperk met byna 50% toegeneem, van net meer as 100 sterftes per dag tot net meer as 150 sterftes.

Die vier provinsies wat die tweede vlaag lei, is die Oos-Kaap, Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng.

Vir die eerste keer in hierdie pandemie is die meeste nuwe infeksies onder jongmense, veral diegene in die ouderdomsgroep 15 tot 19 jaar.

Daar is waarskynlik baie redes vir hierdie geweldige toename in infeksies, maar sommige belangrike bydraers word nou duideliker.

Byeenkomste – veral sosiale byeenkomste en partytjies – is die grootste bron van uitbreking.

Gedurende baie van hierdie byeenkomste word sosiale afstand nie gehandhaaf nie, plekke is oorvol en daar is nie voldoende ventilasie nie, handreiniger is nie geredelik beskikbaar nie en mense dra nie maskers nie.

Baie mense drink alkoholiese drankies tydens hierdie 'superverspreider'-geleenthede, met die gevolg dat mense minder versigtig raak om maatreëls na te kom om hulself te beskerm en infeksie te voorkom.

Die onlangse ná-matriek Rage Festival-geleentheid in Ballito is 'n duidelike voorbeeld van hoe gevaarlik groot byeenkomste kan wees.

Ons weet nou dat byna 1 000 jongmense van Gauteng wat die geleentheid bygewoon het, positief getoets het vir die koronavirus. Wat ons nog nie weet nie is hoeveel meer mense deur elkeen van hulle besmet het.

Daar word gesê dat tot 300 gesinne op hul beurt besmet kon wees.

Die hartseer waarheid oor hierdie pandemie is dat dit bewys dat feeste, konserte en partytjies – wat geleenthede vir plesier en vreugde behoort te wees – bronne van infeksie en siektes is, en selfs tot sterftes kan lei.

'n Ander faktor in die toename in infeksies is dat mense meer reis.

Baie mense neem nie voorkomingsmaatreëls in ag wanneer hulle binne stede, dorpe en landelike gebiede en tussen verskillende streke beweeg nie.

Ons moet besef dat hoe meer ons reis, hoe groter is die potensiaal vir die verspreiding van die virus. 

Dit beteken dat almal 'n masker in openbare vervoer moet dra en seker moet maak dat die vensters te alle tye oop is.

Dit beteken ook dat jy saam met minder mense tyd moet deurbring wanneer jy familie en vriende in ander dele van die land besoek.

Dit is veiliger om met jou eie gesin te verkeer as om groot byeenkomste wat die virus kan laat versprei by te woon.

In die breë beskou, is die massiewe toename in infeksies die gevolg van mense wat nie basiese – en maklike – praktyke volg nie.

Hierdie maatreëls is veral belangrik, aangesien oordrag dikwels veroorsaak word deur mense wat besmet is, maar nog nie simptome toon nie of selfs nooit simptome ontwikkel nie, en dalk nie eers weet dat hulle die virus het nie.
 
Die betreklik lae infeksiesyfers gedurende die afgelope paar maande het ons meer ontspanne daaroor gemaak om 'n masker oor ons neus en mond te dra elke keer as ons in die openbaar uitgaan.

Ons sien nie meer die punt daarvan om stampvol plekke te vermy nie of om meer as 1,5 meter van mekaar af te staan nie, of om vensters oop te maak wanneer ons met openbare vervoer reis of plekke te ontsmet wat deur baie mense gebruik word nie.

Ons het die Kersfeesgees al vroeg begin voel en nooi vriende en familie uit vir byeenkomste.

Maar tog is dit ons versuim om deurentyd hierdie basiese voorsorgmaatreëls ten volle na te kom wat ons tot hierdie tweede vlaag gebring het.

Hierdie veiligheidsmaatreëls lyk miskien nie belangrik nie totdat iemand wat jy liefhet deur jou virus besmet word as gevolg van jou onverskilligheid.

Die feestyd vorm nou die grootste bedreiging vir die gesondheid en welstand van ons nasie.

Dit hou ook die grootste bedreiging vir die herstel van ons ekonomie in.

Dit is omdat die feestyd tradisioneel 'n tyd is wanneer mense in groepe byeenkom, ’n tyd vir reis, vir kuier met vriende en familie en ’n tyd om te ontspan na 'n moeilike en stresvolle jaar.

In hierdie opsigte is die feestyd baie soos die Paastyd.

Dit is die moeite werd om te onthou dat ons gedurende Paasfees die aantal infeksies kon beperk, omdat ons almal gedissiplineerd gebly het, ons almal die beperkinge nagekom het en almal die basiese gesondheidsmaatreëls nagekom het.

In dié verband erken ons die opofferings wat kerke gemaak het deur die opskorting van Paasfeesdienste, en inderdaad die bydrae wat alle gelowe gedurende die jaar gelewer het om sterftes te voorkom.

Net soos tydens Paasfees, moet ons weer die basiese gesondheidsprotokolle nakom.

As ons nie hierdie feesseisoen anders doen nie, sal ons die nuwe jaar nie met vreugde nie, maar met hartseer begroet.

Baie van ons vriende, familielede en medewerkers sal die virus opdoen, sommige sal ernstig siek word en ander sal tragies sterf.

Tensy ons dinge anders doen, is dit die laaste Kersfees vir talle Suid-Afrikaners.

Dit is beslis wat ons nie wil hê nie. Ons wil almal lewe en ons geliefdes laat leef.

Dit is dus noodsaaklik dat ons buitengewone maatreëls tref om die tweede vlaag te beperk en lewens te red, terwyl ons werk om ons mense se lewensbestaan te beskerm.

My mede-Suid-Afrikaners,

Elf dae gelede het ons Nelson Mandelabaai tot 'n koronavirusbrandpunt-gebied verklaar, in ooreenstemming met ons gedifferensieerde benadering tot die bestuur van die pandemie.

Daar is ook ander munisipaliteite wat 'n besonder skerp toename in infeksies getoon het.

Die Minister van Gesondheid, dr Zwelini Mkhize, het hierdie gebiede besoek en na oorlegpleging met verskillende belanghebbendes het die Kabinet besluit om die volgende twee distrikte ook as koronavirus-brandpunte te verklaar.

Dit is die volgende:

- Sarah Baartman-distrik
- Tuinroete-distrik

Dit beteken dat dieselfde bykomende beperkings wat ons op Nelson Mandelabaai toegepas het, vanaand van middernag af in hierdie distrikte geld en sal voortduur totdat ons 'n duidelike en volgehoue afname in infeksies sien.

Terwyl hierdie brandpunt-gebiede veral aandag verg, hou die feesseisoen groot risiko's vir die hele land in.

Daarom het ons in provinsies, ook op munisipale vlak, oorleg gepleeg oor die maatreëls wat ingestel moet word om die tweede vlaag te beperk.

Daar was uitgebreide beraadslaging binne die Nasionale Koronavirus Bevelsraad en die President se Koördineringsraad, wat verteenwoordigers van die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings byeengebring het.

Op grond van die aanbevelings wat uit hierdie vergaderings gespruit het, het die Kabinet besluit dat verdere beperkings vanaand vanaf middernag landwyd ingestel moet word.

Eerstens sal ons toesien dat die bestaande waarskuwingsvlak 1-beperkings gedurende die feestyd en daarna strenger toegepas word.

Dit sluit die vereiste in dat bestuurders en operateurs van enige vorm van openbare vervoer moet toesien dat alle passasiers 'n masker dra.

Die bestuurders of eienaars van geboue, plekke of persele – insluitend kleinhandelwinkels, winkelsentrums en regeringsgeboue – is volgens wet verplig om te verseker dat alle klante wat hul fasiliteite of geboue betree, 'n masker dra.

'n Werkgewer moet toesien dat alle werknemers 'n masker dra terwyl hulle hul pligte uitvoer.

Dit plaas 'n verantwoordelikheid op alle eienaars, bestuurders en werkgewers – en op ons almal – om te verseker dat Suid-Afrikaners veilig is wanneer hulle enige van hierdie plekke besoek.

Die verantwoordelike individue wat nie seker maak dat hul passasiers, klante of werknemers aan die voorskrifte voldoen nie, kan beboet word of tot ses maande gevangenisstraf opgelê word.

Tweedens tref ons maatreëls om die risiko van superverspreider-geleenthede te verminder. 

Die bestaande beperkings op die grootte van byeenkomste doen nie genoeg om samedromming in die huidige situasie waar nuwe gevalle vinnig toeneem nie, te voorkom.

Daarom mag byeenkomste – insluitend godsdienstige byeenkomste – nie deur meer as 100 mense bygewoon word vir binnenshuise geleenthede nie en 250 vir buite-geleenthede. 

Die totale aantal mense in 'n lokaal mag te alle tye, en veral in kleiner lokale, nie meer as 50% van die kapasiteit van die lokaal oorskry nie.

Alle byeenkomste moet voldoende ventilasie, sosiale afstand, die dra van maskers en die voorsiening van ’n handreiniger insluit.

Weens die moontlikheid van oordrag, is alle ná-begrafnisbyeenkomste, insluitend 'ná-trane'-partytjies, verbode.

Een van die grootste uitdagings waarvoor ons te staan kom, is die groot massas wat gedurende die feestyd, veral op openbare vakansiedae, na strande en ontspanningsparke stroom.

Ons het omvattende oorlegpleging oor hierdie kwessie onderneem, sodat ons 'n benadering kon vind wat die risiko van grootskaalse oordrag verminder, terwyl dit die negatiewe impak op ondernemings in kusgebiede beperk.

Ons het dus ooreengekom om 'n gedifferensieerde benadering te volg wat rekening hou met die verskillende omstandighede in verskillende dele van die land.

In die gebiede met die hoogste infeksiesyfers sal strande en openbare parke gedurende die feestyd van 16 Desember tot 3 Januarie gesluit wees.

Dit is van toepassing op die hele Oos-Kaap, sowel as die Tuinroete-distrik in die Wes-Kaap.

In KwaZulu-Natal sal strande en openbare parke op die dae wat tradisioneel die besigste dae van die seisoen is, gesluit wees.

Hierdie dae is die 16de, 25ste, 26ste en 31ste Desember 2020 en die 1ste, 2de en 3de Januarie 2021.

Die strande en openbare parke van die Noord-Kaap en die Wes-Kaap –met die uitsondering van die Tuinroete – sal gedurende die feestyd vir die publiek oop bly.

Feeste, lewendige musiek en lewendige optredes op strande is verbode.

Strande en parke wat oop is vir die publiek, sal slegs tussen 09:00 en 18:00 oop wees.

Die situasie sal daagliks deur plaaslike owerhede gemonitor word om te verseker dat die voorskrifte oor byeenkomste en die verbod op alkohol nagekom word.

In gevalle waar daar groot skares byeenkom of die veiligheidsmaatreëls nie nagekom word nie, sal spesifieke strande en ontspanningsparke gesluit word.

Nasionale en provinsiale parke en ander parke waar toegangsbeheermaatreëls en toegangsbeperkings reeds bestaan, kan vir die publiek oop bly.

Dit is 'n baie moeilike situasie wat voortdurend aandag moet geniet.

Ek het opdrag gegee dat alle lede van die Nasionale Koronavirus-bevelsraad en sleutelpersoneel op ’n gereedheidsgrondslag moet wees om te verseker dat die situasie landwyd voortdurend gemonitor en beoordeel word.

As die situasie versleg, sal verdere stappe gedoen word om ons mense te beskerm.

Die derde fokuspunt gedurende hierdie tydperk is die voorkoming van superverspreider-geleenthede en om die las op gesondheidsorgdienste as gevolg van onverantwoordelike alkoholverbruik te verlig.

Daarom sal die volgende maatreëls in werking tree:

Die aandklokreël sal langer duur, naamlik van 23:00 tot 04:00.

Nie-noodsaaklike ondernemings, insluitend restaurante en kroeë, moet om 22:00 sluit, sodat personeel en klante huis toe kan gaan voordat die aandklokreël aanbreek.

Die aandklokreël is daarop gerig om byeenkomste wat tot laat in die nag aanhou, te voorkom, terwyl dit restaurante, kroeë en tavernes in staat stel om steeds 'n inkomste te verdien.

Ons moet almal onthou dat die tye van die aandklokreël ook van toepassing is op Oukersaand en Oujaarsaand. Dit beteken dat ons die manier waarop ons hierdie geleenthede vier sal moet wysig.

Die verkoop van alkohol by kleinhandelswinkels word slegs toegelaat tussen 10:00 en 18:00 van Maandag tot Donderdag.

Geregistreerde wynkelders en wynplase kan oor naweke voortgaan om wynproegeleenthede en wynverkope aan te bied vir verbruik buite die perseel. Hierdie uitsondering word gemaak weens die belangrike bydrae van hierdie ondernemings tot die toerismesektor in verskeie dele van die land.

Alkoholgebruik in alle openbare ruimtes, soos strande en parke, is streng verbode.

Ons sal nie toelaat dat 'n groot aantal mense op een plek byeenkom sonder dat behoorlike kontrole of protokolle in plek is nie.

Hierdie feesseisoenbeperkings sal vroeg in Januarie hersien word op grond van die stand van die pandemie regoor die land.

My mede-Suid-Afrikaners,

Om ons reaksie op die tweede vlaag van infeksies te bepaal, het ons probeer om die behoefte om lewens te red en om lewensonderhoud te beskerm, noukeurig te balanseer.

Die nasionale inperking wat ons aan die begin van die pandemie ingestel het, was daarop gemik om die verspreiding van die virus te vertraag sodat ons, ons gesondheidstelsel voldoende kon voorberei om op die toename in infeksies te reageer.

In daardie stadium was ons nog nie gereed om die skielike toename in gevalle en hospitaalopnames te hanteer nie.

Ons moes sorg dat ons voldoende toerusting en voorraad het, dat daar genoeg ruimte in ons gesondheidsfasiliteite beskikbaar is, dat ons gesondheidswerkers opgelei word en dat stelsels in plek is om die tendense in die epidemie te monitor en daarop te reageer.

'n Volledige inperking was absoluut noodsaaklik om die pandemie te vertraag, maar sal nie nou dieselfde doel dien nie.

Die afgelope paar maande het ons 'n reeks maatreëls ingestel om ons reaksievermoë te verbeter.

Deur die harde werk van ons gesondheidswerkers, staatsamptenare, mediese kundiges en wetenskaplike raadgewers, het ons al ons hulpbronne ingespan om die mense van Suid-Afrika te beskerm en die nodige behandeling aan pasiënte te gee.

Die maatreëls wat ons vroeg in die pandemie getref het, en die optrede van elke Suid-Afrikaner, het ons in staat gestel om baie lewens te red.

Ons moet nou die winste wat ons behaal het beskerm en saamwerk om die tweede vlaag te beperk.

Soos ons van die begin af gedoen het, moet ons op grond van die beste wetenskaplike bewyse wat tot ons beskikking is, optree.

Net soos ons dokters, verpleegsters en frontliniewerkers onverpoosd werk om ons te beskerm, moet ons onverpoosd daaraan werk om hulle te beskerm.

Tot op hede het meer as 38 000 gesondheidswerkers in die openbare sektor positief vir die koronavirus getoets. Hiervan is byna 5 000 in hospitale opgeneem.

Ongelukkig is 391 gesondheidswerkers in die openbare sektor oorlede.

As 'n nasie, is ons soveel aan dié dapper en toegewyde mense en hul gesinne verskuldig, want sonder hulle sou ons nie so ver gekom het nie.

Namate ons met die tweede vlaag van infeksies gekonfronteer word, moet ons alles in ons vermoë doen om ons gesondheidswerkers te ondersteun en te beskerm.

As ons nie nou verantwoordelik optree, as ons nie te alle tye die basiese voorsorgmaatreëls nakom waarmee ons almal reeds vertroud is nie, sal ons 'n somber nuwe jaar in die gesig staar.

Ondanks die beperkings op baie van ons gereelde aktiwiteite, kan hierdie seisoen feestelik en veilig wees.

Hierdie feestyd vra ek julle om jul vieringe klein te hou en skares te vermy.

As julle tyd saam met ander mense deurbring, vra ek julle om dit buite te doen en die wonderlike Suid-Afrikaanse somerweer te geniet, of om ten minste te verseker dat julle in 'n goed geventileerde ruimte is.

Ek vra julle om 'n masker te dra wat die neus en mond bedek wanneer julle ook al in die openbaar is, of saam met mense by wie julle nie woon nie.

Dit maak geen sin om 'n masker op jou ken te dra, in jou sak te hou of om dit te laat sak om met iemand te praat nie.

Onthou om julle hande gereeld met seep en water vir ten minste 20 sekondes te was, of met ’n ontsmetmiddel te reinig.

Beperk reis soveel as moontlik. En as julle moet reis, maak seker dat julle veilig reis.

As julle jul vriende en familie gaan besoek, moet julle die aantal mense met wie julle voor die tyd kontak het, vir minstens een week beperk voordat julle op reis gaan en probeer om liewer met julle eie gesinne of net 'n klein groepie mense te kuier.

Ons weet dat COVID-19 verskillende mense op verskillende maniere beïnvloed.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie sal die meeste mense waarskynlik ligte of matige simptome kry en sal hulle herstel sonder hospitalisasie.

Die algemeenste simptome is koors, ’n droë hoes en moegheid. Minder algemene matige simptome, is liggaamspyne, ’n seer keel en ’n verlies aan smaak of reuk.

Mense wat hierdie simptome ervaar, moet hulle van ander afsonder.

As jy ernstige simptome ervaar, soos asemhalingsprobleme of kortasem, pyn op die bors, spraak- of bewegingsverlies, moet jy dadelik mediese hulp kry.

Onthou dat as jy positief op koronavirus getoets het of in noue kontak was met iemand wat positief getoets het, moet jy jouself onmiddellik van ander mense afsonder.

Soos ons vroeër gesê het, is die entstof die enigste lewensvatbare verdediging teen COVID-19.

Suid-Afrika het al die nodige prosesse afgehandel om die land se deelname aan die Wêreldgesondheidsorganisasie se COVID-19 Fasiliteite vir Globale Toegang tot die Entstof te verseker.

Hierdie fasiliteit - bekend as COVAX - versamel hulpbronne en deel die risiko van entstofontwikkeling om billike toegang tot entstowwe te verseker wanneer dit beskikbaar is.

As deel van hierdie fasiliteit word verwag dat Suid-Afrika aanvanklike entstowwe sal ontvang om 10% van ons bevolking vroeg in volgende jaar in te ent.

Ons maak ook deel uit van die Afrika-taakspan vir die verkryging van die entstof, wat alternatiewe finansieringsmeganismes ondersoek om bykomende entstowwe vir Afrika-lande buite COVAX te bekom.

Die Minister van Gesondheid is deel van hierdie taakspan en kyk ook na innoverende vennootskappe met die private sektor om te verseker dat Suid-Afrikaners toegang kry tot 'n doeltreffende entstof wat geskik is vir ons omstandighede.

Die volgende paar weke gaan 'n groot toets vir ons vasberadenheid en selfbeheersing wees.

Hierdie tydperk sal van elkeen van ons verg om dinge anders te doen as vorige jare, want hierdie jaar is anders as enige ander wat ons al voorheen beleef het.

Dit sal van ons verg om kortstondige plesiere op te gee om onsself en ander te beskerm, en om te verseker dat ons sulke tye in die toekoms kan geniet.

Ek is daarvan oortuig dat as ons elkeen ons deel doen, as ons elkeen die paar basiese voorsorgmaatreëls volg, ons almal 'n vreugedevolle feestyd kan beleef – en die belangrikste is dat ons almal 'n gelukkige, gesonde en voorspoedige nuwe jaar kan hê.

Ek wens julle almal 'n geseënde feestyd toe, mag julle veilig en gesond bly, en mag ons die nuwe jaar as een verenigde en vasberade nasie tegemoet gaan.

Mag God Suid-Afrika seën en haar mense beskerm.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore