Verklaring deur President Cyril Ramaphosa oor Vordering in die Nasionale Poging om die COVID-19-Pandemie te Bekamp

Landgenote,

Ek spreek julle vanaand toe aan die begin van ’n nuwe hoofstuk in ons stryd teen die koronavirus.

Vroeër vandag het ek tesame met die adjunkpresident David Mabuza, die minister van gesondheid dokter Zwelini Mkhize en minister Khumbudzo Ntshavheni ontvangs geneem van die land se eerste besending COVID-19-entstowwe.

Die besending bestaande uit een miljoen dosisse van die Covishield-entstof wat deur die Serum-instituut in Indië vervaardig word, het vanmiddag vanaf Indië by die OR Tambo-internasionale lughawe aangekom. 

Hierdie entstof is deur die farmaseutiese maatskappy AstraZeneca ontwikkel in oorleg met die Universiteit van Oxford in Brittanje. Suid-Afrika is een van die lande waarin daar kliniese toetse uitgevoer is om die entstof se doeltreffendheid te bepaal.

Die koms van hierdie dosisse entstof gaan gepaard met die belofte van ’n kentering in hierdie siekte wat soveel verwoesting en swaarkry in ons land en regoor die wêreld veroorsaak het.

Die spoed en skaal waarteen nuwe entstowwe ontwikkel word, is ongehoord in die geskiedenis van die mensdom en verteenwoordig die monumentale vooruitgang wat moontlik is wanneer die mensdom saamspan teen ’n gemeenskaplike bedreiging. 

Suid-Afrika het deel uitgemaak van hierdie ongelooflike reis van die wêreldgemeenskap in die soeke na ’n blywende oplossing vir die COVID-19-pandemie.

Ek wil alle Suid-Afrikaners bedank wat op 'n vrywilligersbasis aan die verskeie toetsgroepe deelgeneem het en loof al die navorsers wat hierdie studies gelei het. 
Baie van ons navorsers was deel van baanbrekerswerk in navorsing in genomika wat nuwe inligting oor die virus onthul het en gelei het tot die identifikasie van die variant wat bekend staan as 501Y.V2.

Noudat die entstowwe in Suid-Afrika aangekom het, sal dit by die Nasionale Beheerlaboratorium getoets word om te bevestig dat die entstowwe se integriteit behoue gebly het tydens die vervoer daarvan.

Na afloop van hierdie toetse sal die entstowwe regoor die land versprei word onder duisende van ons gesondheidsorgwerkers wat elke dag hul lewens op die spel plaas om ander se lewens te red.

Ons moet hulle beskerming verseker terwyl hulle vir ons s’n veg.

Ooreenkomstig ons geleidelike en gefasseerde uitrolstrategie sal alle gesondheidsorgwerkers in die openbare en privaatsektor voorkeur kry betreffende inenting teen die virus.

Provinsiale gesondheidsdepartemente het hul verspreidingsplanne ingedien en ons het naastenby 200 fasiliteite identifiseer waar die entstowwe versprei kan word.

Sodra ons die inenting van gesondheidsorgwerkers voltooi het, sal ons voortgaan met Fase 2 van die nasionale inentingstrategie. Hierdie fase sluit in noodsaaklike werkers, mense bo die ouderdom van 60, mense met onderliggende gesondheidstoestande asook inwoners van plekke soos ouetehuise en losieshuise.

In Fase 3 sal ons die inentingsprogram uitbrei na die oorblywende volwasse bevolking.

Ek besef baie van julle wil weet hoe om toegang te kry tot die entstowwe indien jy in een van die kategorieë waarna ek pas verwys het, val. 

Die departement van gesondheid het ’n elektroniese inentingsdatastelsel ontwikkel wat die registrasie- en uitrolproses van inentings vaartbelyn sal maak. Dit sal ons in staat stel om alle toepaslike data in te vorder wat met die administrasie van die inentingsproses gepaard sal gaan.

Die stelsel stel persone in staat om ’n afspraak by hul naaste inentingsentrum te maak sodra hulle vir die inenting in aanmerking kom. Hierdie stelsel sal inentings aanteken wanneer dit toegedien word. 

Soos genoem in my vorige toespraak, verkry ons ons entstowwe vanaf verskeie verskaffers. 

  • Benewens die een miljoen Covishield-dosisse wat ons vandag ontvang het, verwag ons ’n verdere 500 000 dosisse vanaf die Serum-instituut in Indië later in Februarie.
  • Ons het 12 miljoen dosisse vanaf die globale COVAX-fasiliteit verkry waarvan ongeveer twee miljoen dosisse teen Maart beskikbaar sal wees.
  • Ons het nege miljoen dosisse entstof van Johnson & Johnson verkry, waarvan die aflewering in die tweede kwartaal sal begin. Johnson & Johnson het Aspen, een van ons eie plaaslike farmaseutiese maatskappye, genader om hierdie entstowwe in Suid-Afrika te vervaardig.
  • Daarbenewens het Pfizer onderneem om 20 miljoen dosisse entstof te verskaf, met aflewering wat in die tweede kwartaal sal begin. 

Onderhandelinge met vervaardigers om bykomende voorraad te verkry, is in ’n gevorderde stadium.

Die Afrika-unie gaan ook entstofdosisse aan Suid-Afrika toeken; die unie onderhandel tans met vervaardigers om inentings vir die kontinent te verkry.

Danksy die werk van die Afrika-entstofverkrygingstaakmag (African Vaccine Acquisition Task Team) van die Afrika-unie het ons tot op hede een miljard entstowwe vir die hele kontinent verkry.

Sewehonderd-miljoen van hierdie entstofdosisse sal vanaf die globale COVAX-fasiliteit kom en 300 miljoen is deur die Afrika-entstofverkrygingstaakmag bewerkstellig.

Ons sal ook ander entstowwe ontvang wat deur verskeie privaatondernemings geskenk sal word om die entstowwe wat ons kontinent benodig, aan te vul. 

MTN, een van ons plaaslike maatskappye wat in ’n aantal Afrika-lande werksaam is, het $25 miljoen geskenk om sewe miljoen dosisse entstof te verkry, wat binne die volgende paar weke aan Afrika-lande beskikbaar gestel sal word.

Ek wil graag MTN loof vir hierdie ruimhartige skenking en doen ’n beroep op maatskappye in die privaatsektor om MTN se voorbeeld te volg. 

’n Aansienlike hoeveelheid werk is in samewerking met die privaatsektor verrig en ek is ingenome met hul sterk verbintenis tot die ondersteuning van elke aspek van die nasionale inentingsprojek, insluitend befondsing waar nodig, logistiek, verspreiding en administrasie.

Dit is duidelik sigbaar in die noue samewerking tussen die openbare en privaatsektore wat deur middel van ’n verskeidenheid werkskanale op ’n daaglikse basis byeen kom om die sukses van die uitrolproses te verseker. 

Ons mikpunt is om genoeg dosisse te verkry om “kudde-immuniteit”, oftewel “bevolkingsimmuniteit”, te bewerkstellig.

Dit is wanneer genoeg van die bevolking immuun teen die virus is en sodoende indirekte beskerming bied aan diegene wat nie immuun is nie. Dit behoort die verspreiding van die virus in bedwang te bring.

Ons wetenskaplikes beraam dat ons bevolkingsimmuniteit sal bereik sodra ongeveer 67 persent van ons bevolking immuun is. 

Dit beloop ongeveer 40 miljoen mense in Suid-Afrika. 

Ons sal geen steen onaangeroer laat in ons pogings om te verseker dat genoeg dosisse entstof verkry word om bevolkingsimmuniteit in ons land te bereik nie.

Die entstowwe wat ons verkry het, het nougesette, multifase-toetsprosesse ondergaan, met onder andere groot toetsgroepe wat duisende mense ingesluit het. 
Nie net is die entstowwe se doeltreffendheid bepaal nie; die toetse is ook só ontwerp om newe-effekte en veiligheidskommernisse te identifiseer. Onafhanklike reguleerders het die toetsdata hersien om seker te maak dat die entstowwe nie skadelik is nie.  

Die entstowwe wat ons verkry het, is as veilig bewys tydens uitgebreide kliniese toetse in verskeie lande. 

Ons wil almal vry wees van hierdie siekte. Ons wil almal veilig wees en ook weet ons geliefdes is veilig.

Ons beoog om die inentings beskikbaar te stel aan alle volwassenes in Suid-Afrika, ongeag hul burger- of inwonerstatus. 

Ons gaan maatreëls in plek stel om die uitdaging van ongedokumenteerde migrante te hanteer sodat ons, net soos met alle ander mense, ook hul inentingsgeskiedenis deeglik kan aanteken en volg. 

Dit is in ons almal se beste belang dat soveel moontlik van ons so gou as moontlik ingeënt word. 

Maar ek wil dit beklemtoon – niemand sal verplig word om ingeënt te word nie. Niemand sal verbied word om te reis, by skole in te skryf of aan enige openbare aktiwiteite deel te neem as hulle nie ingeënt is nie. 

Niemand sal teen hul wil ingeënt word nie en die inentings sal nie stilletjies sonder jou medewete gegee word nie. 

Enige gerugte in dier voege is beide vals en gevaarlik.

Mede-landsburgers,

Die eerste goeie nuus is die aankoms van die entstowwe vandag. 

Die tweede is dat ons ons laagste daaglikse toename in infeksies sedert die begin van Desember laasjaar aangeteken het. 

Om die waarheid te sê, die gemiddelde tempo van nuwe infeksies het oor die afgelope drie weke bestendig gedaal, wat daarop dui dat ons die toppunt van die tweede vlaag infeksies verbygesteek het. 

Oor die afgelope sewe dae was die daaglikse gemiddeld nuwe infeksies ongeveer 5 500, vergelyke met gemiddeld net meer as 10 000 infeksies per dag oor die vorige sewe dae. 

Met ander woorde, die gemiddelde hoeveelheid daaglikse nuwe infeksies het met amper die helfte verminder. 
Die hoeveelheid hospitaalopnames het ook afgeneem. 

Met die toppunt van die tweede vlaag het ons meer as 2 300 hospitaalopnames per dag aangeteken. Dit het afgeneem tot 295 hospitaalopnames per dag teen 29 Januarie 2021. 

Alhoewel alle aanwysers in die regte rigting beweeg, ervaar ons egter steeds relatief hoë vlakke van oordrag.

Dit is verblydend dat meeste mense regoor die land die beperkings wat ons in plek moes stel streng gehoorsaam en die basiese maatreëls wat nodig is om infeksies te voorkom so getrou volg.
Ek wil graag die duisende Suid-Afrikaners bedank wat beperkings op hul beweging en aktiwiteite verduur het sodat die infeksies beperk kon word en lewens sodoende gered is. 

Julle het begryp dat geen strandwandelings, pieknieke in die park en laatnagpartytjies die lewensverlies werd was wat deur hierdie beperkings verhoed is nie. 

Hierdie beperkings is tydelik – lewensverlies is permanent.

Desnieteenstaande weet ons dat die maatreëls nodig om die verspreiding van die virus in bedwang te hou, baie swaarkry en sukkel vir baie mense beteken het. 

Ons is ernstig daarvan bewus dat hierdie beperkings besighede negatief geraak het en indiensname in die gasvryheids-, toerisme- en verwante bedrywe bedreig het.

Dit is hoekom ons bepaal het dat hierdie beperkings nie langer as wat absoluut nodig om die pandemie en gepaardgaande lewensverlies te bekamp, moet voortduur nie. 

Om hierdie rede sal ons voortgaan om met handel en arbeid in hierdie sektore saam te span om besighede weer op die been te bring en werkskepping aan te spoor, beide op kort termyn en op lang termyn. 

Die afgelope paar dae het ons die tempo van die pandemie in oënskou geneem. Ons het kenners se raad ingewin en verteenwoordigers van provinsiale en plaaslike owerhede asook tradisionele leiers geraadpleeg.
Gegewe die ooglopende afname in nuwe infeksies, hospitaalopnames en sterftes het die Kabinet besluit om geleidelik sommige beperkings onder die aangepaste Vlak 3 te verslap. 

  • Aandkloktyd is voortaan van 23:00 tot 04:00.

Besighede en kuierplekke sal om 22:00 moet sluit om hul kliënte en personeel in staat te stel om teen aandkloktyd tuis te wees.

  • Geloofsgebaseerde byeenkomste sal toegelaat word, onderhewig aan veiligheidsmaatreëls.

Sulke byeenkomste is beperk tot 50 mense binnenshuis en 100 mense in die ope lug. Waar ’n vergaderplek te klein is om die voorgeskrewe hoeveelheid mense te akkommodeer in terme van sosiale distansiëring, mag nie meer as 50 persent van die vergaderplek se kapasiteit gebruik word nie.

  • Openbare plekke soos strande, riviere, parke en openbare swembaddens mag heropen, onderhewig aan veiligheidsmaatreëls.
  • Beperkings op die verkoop van alkohol sal verminder.
  • Die verkoop van alkohol by gelisensieerde persele vir verbruik buite die perseel sal toegelaat word Maandae tot Donderdae, van 10:00 tot 16:00.
  • Belastingvrye winkels, geregistreerde wynkelders, wynplase, mikro-brouerye en mikro-distilleerderye mag alkohol vir verbruik buite die perseel tydens hul normale handelsure verkoop.
  • Die verkoop van alkohol by gelisensieerde persele vir gebruik op die perseel – soos restaurante en kroeë – sal toegelaat word deur die week van 10:00 tot 22:00. 

Hierdie veranderinge is moontlik gemaak deur die merkbare afname in COVID-19- hospitaalopnames in al die provinsies, wat die druk op hospitaalpersoneel en die beskikbaarheid van beddens verlig het. 

Ek wil ’n beroep doen op alle alkoholverbruikers om alkohol verantwoordelik te gebruik sodat ons nie weer ’n styging in traumagevalle of ’n toename in infeksies weens roekelose gedrag ervaar nie. 

Met beperkings wat weereens verslap is, rus die verantwoordelikheid swaarder op elkeen van ons as individue. 

Ons moet onthou dat die aantal koronavirusgevalle hoog bly ten spyte van die vordering wat ons gemaak het, en dat die gevaar van ’n nuwe vlaag infeksies steeds daar is.  

Dit is dus noodsaaklik om die land op koronaviruswaarskuwingsvlak 3 te hou, wat dui op ’n volgehoue hoë risiko van oordrag. 

Verskeie voorkomingsmaateëls bly in plek.

  • Sosiale byeenkomste, politieke byeenkomste, tradisionele raadsvergaderings en byeenkomste by sportgronde word nie toegelaat nie.
  • Geloofsbyeenkomste, begrafnisse en ander beperkte uitsonderings soos in die regulasies uiteengesit – soos restaurante, gimnasiums en museums – word nie hierby ingesluit nie. 
  • Begrafnisse mag nie deur meer as 50 mense bygewoon word nie, en sosiale distansiëring, handontsmetting en die dra van maskers is verpligtend. 
  • Die dra van maskers in die openbaar bly verpligtend. 

Selfs met die uitrol van die inentingsprogram deur die jaar en terwyl ons deurlopend daaraan werk om die aantal nuwe infeksies te verminder, gaan ons moet aanhou om die voorkomingsmaatreëls getrou te volg om die oordrag van die virus te bekamp.

Hierdie is veral belangrik synde die nuwe variant van die virus – 501Y.v2 – nou wydverspreid oor ons land is.

Ons weet dit is meer aansteeklik as die vroeëre variant en is dus meer waarskynlik om tot nog ’n styging in infeksies te lei en gevolglik meer druk op ons gesondheidsfasiliteite te plaas. 

Ons weet ook meer van die infeksiepatrone van die koronavirus.

Indien daar ’n persoon met COVID-19 in ’n huishouding is en higiënemaatreëls word nie geïmplementeer nie, is die kanse groot dat die infeksie na ander mense in daardie huishouding sal versprei.

As iemand dus uitvind hulle het COVID-19 of dat hulle aan die virus blootgestel was, moet hulle hulself tuis afsonder, weg van ander lede van die huishouding af. Indien dit nie moontlik is nie, moet hulle na ’n staatskwarantynfasiliteit gaan. 

Samedromming, stampvol plekke en klein, onbelugte of swak belugte plekke verhoog drasties die risiko om die virus op te doen.
Daarom moet jy binnenshuise plekke sover moontlik vermy en vensters oopmaak om die verspreiding van die virus deur die lug te beperk.

Navorsing het getoon dat die risiko vir die verspreiding van die virus amper 20 keer groter is binnenshuis as in die buitelug.  

Ons vra dus steeds alle Suid-Afrikaners om ten alle tye ’n veilige afstand van 1.5 meter van ander mense af te handhaaf. 

Ons spoor werkgewers aan om hul werknemers toe te laat om van die huis af te werk indien moontlik en die risiko van oordrag te vermy waar dit nie noodsaaklik is nie. 

Onthou – al toon jy nie simptome nie, kan jy steeds die virus aan ander mense oordra. Dra dus ’n masker en maak seker dat jou masker jou neus en mond bedek wanneer jy in ’n openbare plek is. 

As jy moet interaksie hê met ander mense, maak seker dit is in die buitelug. 

Mede-landsburgers,

Sedert die heel eerste geval van COVID-19 in ons land aangeteken is, het ons alle beskikbare hulpbronne gemobiliseer om die lewens en lewensbestaan van alle Suid-Afrikaners te beskerm.

Ons was uiters gelukkig om steun van regoor die wêreld te ontvang.

Vanaand wil ek veral erkenning gee aan die onbaatsugtige en onwrikbare ondersteuning van die regering en die mense van Kuba.

Die klein eilandnasie het samehorigheid getoon met die lande wat die ergste deur die pandemie getref is en meer as 3 700 Kubane regoor die wêreld uitgestuur om hulp te verleen in die stryd teen COVID-19.  

Uit erkentlikheid van hierdie diens het die Suid-Afrikaanse Kabinet ’n voorstel aanvaar om die Henry Reeve International Contingent of Doctors Specialised in Disaster Situations and Serious Epidemics – beter bekend as die Cuban Medical Brigade – te nomineer vir die 2021 Nobelprys vir Vrede.

In Afrika alleen het die Brigade teen die einde van November 2020 reeds aan meer as 38 000 mense mediese behandeling verskaf. Hulle is steeds aktief in verskeie lande, insluitend Suid-Afrika.

Ons spreek ons opregte dank uit teenoor die mense van Kuba vir hierdie betoon demonstrasie van samehorigheid en medemenslikheid.

Soos baie mense regoor die wêreld het ons verskriklike verliese ervaar en groot opofferings gemaak.

Ons lewens het op diepgaande wyses verander en ons is gedwing om aan te pas by nuwe en moeilike omstandighede.

Nou, danksy die heldhaftige werk van ons gesondheidsorgwerkers, die onvermoeide werk van ons wetenskaplikes, die dapperheid van al ons frontliniewerkers en die vasberadenheid van iedere en elke Suid-Afrikaner, kan ons onsself uiteindelik ’n wêreld indink waar die virus onder bedwang gebring is. 

Dit berus op ons om daardie wêreld die lig te laat sien.

Dit berus op ons om waaksaam te bly en ’n derde vlaag infeksies te voorkom. 

Dit berus op ons om onsself te beskerm, asook ons naasbestaandes en ons gemeenskappe.

Dit berus op ons om ingeënt te word sodra ons in aanmerking kom vir die inenting en sodoende die virus verhoed om verder te versprei.

Bowenal berus dit op ons om die vlam van hoop te koester, om vasberade te bly in ons toegewydheid tot mekaar en tot ons land. 

Saam sal ons herstel en herbou.

Mag God Suid-Afrika en haar mense seën en beskerm.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore