Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 24 Julie 2019

Die Kabinet het op Woensdag 24 Julie 2019 by Tuynhuys in Kaapstad vergader

A. Kwessies in die omgewing

1. Ekonomiese transformasie en werkskepping

Die Kabinet verwelkom die toenemende belangstelling van voornemende en huidige beleggers om Suid-Afrika as hul voorkeur beleggingsbestemming te beskou. Onlangse werklike en moontlike transaksies illustreer dit goed. Dit sluit in transaksies in die motorbedryf (Ford), die chemiese waardeketting (BFG Rail) en elektriese nywerheidskomponente (Aberdare), sowel as potensiële beleggings soos agroverwerking (PepsiCo). Laasgenoemde is onderhewig aan aandeelhouers- en regulatoriese prosesse.

1.2. PepsiCo se aanbod van R25 miljard om Pioneer Foods te koop, word beskou as 'n duidelike mosie van vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie.

1.3. Die motorvervaardiger Ford het aangekondig dat sy uitbreidingsplanne 1 200 werksgeleenthede sal skep, gebaseer op die implementering van 'n beleggingsverbintenis van R3 miljard. Die maatskappy se Silverton-fabriek het kapasiteit om jaarliks tot 168 000 Rangers en Everests te produseer - 'n toename van 44 000 voertuie voor die uitbreiding.

1.4. Verder sal 'n belegging van R50 miljoen deur die vervaardigingsonderneming BFG Rail in 'n gevorderde vervaardigingsonderneming in Gauteng, tot 'n saamgestelde vervaardigingsfasiliteit lei. Dit sal met verbeterde ingenieursprosesse, wat van gevorderde tegnologie gebruik maak, spog.

1.5. n Nelson Mandelabaai het Aberdare Cables aangekondig dat hy sy kapasiteit gaan uitbrei deur die opening van 'n hoogspanningskabelkragaanleg. Dit behels 'n belegging van R135 miljoen en die skep van 58 werksgeleenthede, benewens die 429 poste by die huidige bedryfsaktiwiteite in die omgewing.

1.6. Beleggings in die nuwe aanleg, toerusting en in uitgebreide produksie, skep nuwe werksgeleenthede en laat die BBP groei. Al die sektore waar nuwe produksie gaan plaasvind, is binne die sektore wat deur President Ramaphosa in die Staatsrede geïdentifiseer is. Suid-Afrika bied 'n unieke kombinasie van hoogs ontwikkelde ekonomiese infrastruktuur, 'n lewendige ontluikende mark-ekonomie en toegang tot die vinnig groeiende mark in Afrika. Suid-Afrika is ook 'n voorpos vir nuwe sektore van belegging soos die groen ekonomie, olie en gas, skeepsbou en die oseaan-ekonomie.  

2. Globale Verslag van die Verenigde Nasies se Gesamentlike Program vir MIV en vigs (UNAIDS)

2.1. Die Kabinet is bemoedig deur die jongste UNAIDS Globale Verslag, wat onlangs in Suid-Afrika bekend gestel is. Volgens die verslag het nuwe MIV-infeksies in Suid-Afrika sedert 2010 met meer as 40% en vigs-verwante sterftes met sowat 40% verminder. Die verslag bevestig dat die land se MIV- en vigs-tusssenkomste, nuwe besmettings verminder en dat die bestuur van pasiënte wat reeds met die siekte saamleef, positiewe resultate toon.

2.2. Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om ’n gesonde lewenstyl te volg om infeksies te verminder.

3. Beveg misdaad

3.1. Die Kabinet bevestig sy verbintenis en toewyding om 'n veiliger omgewing binne ons gemeenskappe te verseker. Met die regering en gemeenskappe wat saamwerk, kan ons die plaag van misdaad uitroei en 'n veilige en vreedsame omgewing binne ons gemeenskappe skep wat bevorderlik is vir beleggings.

3.2. Verskeie bedrywighede wat onlangs deur landwye instansies uitgevoer is, het tot die inhegtenisneming van 'n aantal verdagtes en die herstel van onwettige dwelms gelei. Suid-Afrikaanse soldate van die Nasionale Weermag is ook in sommige kriminele gevaarpunte ontplooi om lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens te ondersteun in hul gesamentlike poging om bendegeweld en dwelmhandel onder beheer te bring.

3.3. Die Kabinet doen 'n beroep op lede van gemeenskappe om waaksaam te bly en alle misdade by die polisie aan te meld, ongeag wie daarby betrokke is.

B. Kabinetsbesluite

1.    Beleid en Beleidsrigting vir die Lisensiëring van Hoë-aanvraagspektrum

1.1. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Beleid en Beleidsrigting vir die Lisensiëring van Hoë-aanvraagspektrum ná wye oorlegpleging met die sektor en die publiek.  Die beleid en beleidsrigting vestig ’n raamwerk vir die transformasie van die sektor deur die toetrede van nuwe deelnemers tot hierdie belangrike mark moontlik te maak, en terselfdertyd belegging in innovering aan te moedig. Die Minister van Kommunikasie, Me Stella Ndabeni-Abrahams, sal binnekort die finale beleid soos deur die Kabinet goedgekeur, uitreik en die media daaroor inlig.

2. Presidensiële Adviespaneel van Deskundiges oor Grondhervorming en Landbou

2.1. Die Kabinet het die finale verslag van die Presidensiële Adviespaneel van Deskundiges oor Grondhervorming en Landbou ontvang. President Ramaphosa het die paneel in September 2018 aangestel om 'n verenigde beleidsperspektief oor grondhervormings saam te stel. Die verslag sit bevindings oor die huidige status quo uiteen en maak aanbevelings wat sal help met die versnelling van die regering se pogings om die historiese wanbalanse in die verdeling van grond te herstel.

2.2. Die Kabinet het opdrag gegee dat alle ministers, deur hul onderskeie departemente, die verslag en sy voorgestelde aanbevelings moet bestudeer en binne twee maande aan die Kabinet terugvoer moet gee. Die Interministeriële Komitee vir Grondhervorming onder voorsitterskap van Adjunkpresident David Mabuza sal toesig hou oor hierdie proses.

2.3. Die Kabinet bedank die paneel vir die werk wat onder voorsitterskap van Dr Vuyokazi Mahlati gedoen is, en keur goed dat die verslag vir die publiek toeganklik gemaak word.

2.4. Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Me Thoko Didiza, sal saam met die paneel 'n afsonderlike media-inligtingsessie hou om die inhoud van die verslag uiteen te sit. Die media-inligtingsessie vind plaas op Sondag 28 Julie 2019 om 10:00 by GCIS se Ronnie Mamoepa-mediasentrum in Hatfield, met 'n videoskakel na GCIS se Imbizo-sentrum in Kaapstad.

C. Wetsontwerp

1. Wysigingswetsontwerp op die Erkenning van Tradisionele Huwelike, 2019


1.1. Die Kabinet keur die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op die Erkenning van Tradisionele Huwelike van 2019, aan die Parlement goed.

1.2. Die wetsontwerp bring artikel 7 (1) en (2) van die Wet op die Erkenning van Tradisionele Huwelike, 1998 (Wet 120 van 1998) in ooreenstemming met die uitsprake van die Konstitusionele Hof, wat dié artikels konstitusioneel ongeldig verklaar het. Hierdie artikels het onregmatig teen vroue in tradisionele huwelike gediskrimineer.

1.3. Die wetsontwerp maak voorsiening vir die gelyke behandeling van vroue in monogame en poligame tradisionele huwelike, wat voor hierdie Wet aangegaan is. Die wysigings elimineer die geslagsgebaseerde diskriminasie in poligame huwelike wat voor die aanvang van die Wet op die Erkenning van Tradisionele Huwelike van 1998 aangegaan is. Eggenote sal voortaan gesamentlike en gelyke eiendomsreg op huwelikseiendom hê.

D.    Toekomstige gebeure

1.    Presidensiële Gesondheidsooreenkoms


1.1. President Ramaphosa lei op Donderdag 25 Julie 2019 die ondertekeningsgeleentheid van die Presidensiële Gesondheidsoreenkoms by die Dr George Mukhari Akademiese Hospitaal in Ga-Rankuwa, Tshwane. Die seremonie is 'n mylpaal in die kollektiewe benadering om 'n volhoubare gesondheidstelsel van gehalte te skep.  

2. Eerste Hoëvlak Jaarlikse Beleidsdialoogforum oor Sekondêre Onderwys in Afrika

2.1. Die Departement van Basiese Onderwys sal die mede-aanbieder wees van die Eerste Hoëvlak Jaarlikse Beleidsdialoogforum oor Sekondêre Onderwys in Afrika: Berei die Jeug Voor vir die Toekoms van Werk, saam met die Vereniging vir die Ontwikkeling van Onderwys in Afrika.
 
2.2. Die forum word van 29 tot 30 Julie 2019 by Emperors Palace, Johannesburg, gehou. Dit sal ministers verantwoordelik vir onderwys, jeug en arbeid van regoor Afrika byeenbring, sowel as akademici; beleidmakers; hoëvlak verteenwoordigers van vennote vir ontwikkelingsamewerking; die privaatsektor; die burgerlike samelewing; onderwysers en ouerverenigings; jeugorganisasies en die media.

2.3. Besprekings sal fokus op die ontwerp en implementering van innoverende modelle wat in die sekondêre onderwys in Afrika nodig is om onderwysers beter toe te rus en studente op die toekoms van werk voor te berei. Die Kabinet waardeer steeds die land se deelname aan sulke verrykende dialoë.

3. Vrouemaand

3.1. Die Nasionale Vrouedagviering vind vanjaar op Vrydag 9 Augustus 2019 in Vryburg, in die Ruth Mompati-distrik in Noordwes plaas, onder die tema: “25 Jaar van Demokrasie: Ontwikkel Suid-Afrika Saam vir die Emansipasie van Vroue”.

3.2  Die viering bring hulde aan die meer as 20 000 vroue wat op 9 August 1956 na die Uniegebou marsjeer het om protes aan te teken teen die verlenging van die Paswet vir vroue. Hierdie protesoptog was ’n keerpunt in ons stryd vir vryheid en ’n demokratiese samelewing.

3.3  Ondanks ons merkwaardige prestasie in die bevordering van die emansipasie van vroue in ons samelewing, duur die plaag van geweld teen en mishandeling van vroue in ons land voort. Die swaar vonnisse wat in sake van seksuele geweld in Gauteng opgelê is, toon dat oortreders van seksuele en ander verwante misdade nie die verloop van geregtigheid sal vryspring nie.

3.4 Die Kabinet doen 'n beroep op alle sektore van die samelewing om enige geweld teen te staan, en om 'n kollektiewe poging aan te wend om die aantal seksuele misdrywe en aanvalle op vroue en kinders te verminder sodat hierdie misdade uitgewis kan word.

E. Boodskappe

1. Meegevoel


1.1. Die Kabinet betreur die verlies van die veteraanvryheidsvegter Ntate Isaac Lesibe 'Bra Ike' Maphoto, wat in die ouderdom van 88 jaar oorlede is. President Ramaphosa het 'n spesiale amptelike begrafnis vir Bra Ike verklaar. Hy het Suid-Afrika in 1961 verlaat en militêre en politieke opleiding in Beiroet en in die voormalige Sowjetunie tussen 1961 en 1963 ondergaan voordat hy by die senior Luthuli-afdeling van Umkhonto we Sizwe aangesluit het. In 2006 het die destydse president Thabo Mbeki, die Nasionale Orde van Luthuli in Silwer aan Bra Ike toegeken vir sy bydrae tot die stryd vir vryheid en demokrasie.

1.2. Die Kabinet deel die res van die land se hartseer en medelye met die naasbestaandes, vriende en aanhangers van die bekroonde sanger en liedjieskrywer Jonathan ‘Johnny’ Clegg, wat sy musiek gebruik het om ’n nie-rassige samelewing te bevorder. Hy sal onthou word vir sy toewyding tot nasiebou, sosiale samehorigheid en nie-rassigheid. Hy was 'n ontvanger van die Nasionale Orde van Ikhamanga in Silwer, vir sy voortreflike bydrae op die gebied van musiek en die oorbrugging van tradisionele Afrika-musiek met ander musiekvorme.

2.    Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan die volgende:

2.1. Die Proteas nasionale netbalspan, wat deur hul uitstekende prestasie Suid-Afrika se vlag hoog laat wapper het toe hulle die halfeindronde van die Wêreldbeker in Liverpool gehaal het. Hulle verbetering van posisie vyf tot vier op die wêreldranglys is prysenswaardig. Baie geluk ook aan me Karla Pretorius wat gekies is en aangewys is as die 2019 Wêreldbeker se Speler van die Toernooi.

2.2. Suid-Afrikaanse atlete vir hulle skitterende vertoning by die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies se Diamantliga in Londen. Die nasionale rekordhouer Akani Simbine het puik presteer in die 100m-item vir mans, toe hy die finaal in 'n beste vertoning van die seisoen met 9,93m gewen het. Luvo Manyonga het die mans verspring met 'n beste vertoning vir die seisoen met ’n sprong van 8,37m gewen. Sy landgenoot Ruswahl Samaai het die derde plek behaal met 'n sprong van 8,11m.

2.3. Die Ndlovu-jeugkoor, met 'n energieke sterbelaaide vertoning, waarmee hulle tot die volgende ronde van America's Got Talent gevorder het.

2.4. Ons nasionale rugbyspan, die Springbokke, wat in Johannesburg tydens die 2019 Rugby Kampioenskap met 35-17 teen Australië gewen het. Die toernooi is 'n belangrike sportbyeenkoms wat lande soos Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië en Argentinië betrek. Ons wens hulle alle voorspoed toe met die toernooi.

2.5. TeamSA, wat gehelp het om die geskiedenis van Afrika te herskryf by die dertigste uitgawe van die International University Sports Federation in Napels, Italië. Afrika het gesamentlik ’n total van 26 medaljes verower. Van Suid-Afrika se 18 medaljes was ses goud, agt silwer en vier brons.

F. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Interim direkteure van die Finansiële Agentskap vir Klein Ondernemings (SEFA) se Raad:
(a)    Me Mphokolo Makara;
(b)    Adv Nomathemba Mlonzi;
(c)    Me Delicate Mabuza;
(d)    Mnr Martin Mahosi;
(e)    Mnr Justice Kganyago;
(f)     Mnr Maurice Radebe; and
(g)    Me Nonkululeko Dlamini – (heraanstelling).

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetswoordvoerder
Sel: 083 501 0139

 

Share this page

Similar categories to explore