Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 21 November 2018

Die Kabinet het op Woensdag 21 November 2018 by Tuynhuys in Kaapstad vergader.

A. Kwessies in die omewing

1. Belegging

1.1. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle intree-Afrikabeleggingsforum wat van 7 tot 9 November 2018 by die Sandton-konferensiesentrum in Gauteng gehou is. Verskeie Afrika-regerings en -besighede, internasionale finansiële instansies en ander ontwikkelingsvennote het daarop gefokus om Afrika as die volgende globale pionier in belegging te vestig.

1.2. Teen die einde van die konferensie is 45 ooreenkomste ter waarde van US$32 miljard tot voordeel van die vasteland beklink, waarvan US$6.8 miljard se beleggings tot voordeel van Suid-Afrika sal strek.

2. Afrika Unie (AU) -Beraad

2.1. Die Kabinet is bemoedig deur samesprekings tydens die AU-beraad op 17 en 18 November 2018 in Addis Ababa, Ethiopië, waaraan President Cyril Ramaphosa deelgeneem het. Die Buitengewone Sessie het beraadslag oor voortgesette hervormingsprosesse, wat daarop gerig is om ’n meer doeltreffende versterkte AU te vestig, wat in staat sal wees om die vasteland se prioriteite en doelwitte soos vervat in Agenda 2063, wat ’n strategiese raamwerk vir die sosio-ekonomiese transformasie van Afrika is, oor die volgende 50 jaar aan te dryf.

2.2. Die hervorming van die AU is ’n voortgesette proses, waarvan sommige aanbevelings reeds in werking gestel is, veral ten opsigte van die onderneming om AU-lidlande meer eienaarskap vir die finansiering van die organisasie te laat aanvaar. Al hoe meer lande onderteken nou Afrika se Vryhandelsooreenkomste om te verseker dat dié ooreenkomste oor die vasteland heen ’n werklikheid word.

3. Strategiese Vennootskap met die Europese Unie (EU)

3.1. Die Kabinet is in sy skik met die positiewe resultate van die 7de Suid-Afrika-EU-beraad, wat op 15 November in België gehou is. Die uitkomste, sowel as die ondernemings wat tydens die beraad gemaak is, bou voort op ons ongekende poging om ekonomiese groei en werkskepping aan te dryf aan die voorpunt van Suid-Afrika se nasionale agenda.

3.2. Suid-Afrika is die enigste land in Afrika en een van 10 lande wêreldwyd wat ‘n strategiese vennootskap met die EU het. Die EU is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot en grootste buitelandse belegger as ’n geheel, en verteenwoordig altesaam 73.7% van die direkte buitelandse beleggingskapitaal in die land.

3.3. President Ramaphosa was hierdie week gasheer vir die President van die Federale Republiek van Duitsland, Mnr Frank-Walter Steinmeier, tydens sy staatsbesoek aan Suid-Afrika. Duitsland is een van Suid-Afrika se grootste buitelandse beleggers, met meer as 600 Duitse maatskappye wat dogtermaatskappye of produksiefasiliteite in die land het en altesaam ongeveer 100 000 werkgeleenthede ondersteun.

3.4. Die staatsbesoek het tot die ondertekening van handels- en beleggingsooreenkomste tussen die twee lande gelei, en het albei leiers die geleentheid gegee om multilaterale kwessies te bespreek en om saam te werk as nie-permanente lede van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad vir ’n tweejaartermyn vanaf 2019 tot 2020.

4. Grondhervorming

4.1. Die Kabinet neem kennis dat die Parlement se Gesamentlike Grondwetlike Hersieningskomitee sy verslag wat ten gunste is van die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 goedkeur. Die wysiging sal die Staat toelaat om grond sonder vergoeding in die openbare belang te onteien. Die komitee se verslag sal na verwagting in die Nasionale Vergadering vir bespreking ter tafel gelê word.

4.2. ’n Openbare oorlegplegingsproses het gelei tot voorleggings oor die wetsontwerp deur verskeie organisasies, asook openbare verhore in al nege provinsies. Die Grondwet is tot op hede 17 keer deur ’n oorlegplegende en inklusiewe proses gewysig.

4.3. Die Regering bly verbind tot ’n verantwoordelike benadering tot grondhervormig, wat in almal se beste belang is. Die Kabinet bevestig dat die regering die letter van die Wet respekteer, en te alle tye ooreenkomstig die Grondwet sal optree.

5. Konstitusionele Hof-uitspraak

5.1. Die Kabinet verwelkom die uitspraak van die Konstitusionele Hof, wat beslis dat die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne, 2002 (Wet 28 van 2002), wat die toestaan van mynregte beheer, in eenstemming met die Wet op die Interimbeskerming van Informele Grondregte, 1996 (Wet 31 van 1996), wat kwesbare grondregte beskerm, vertolk moet word.

5.2. Die Lesetlheng-gemeenskap in Noordwes se oorwinning, is die begin van ’n proses wat daarop dui dat grondregte, waarvan Suid-Afrika se histories onderdrukte mense vir geslagte lank ontneem is, nou erken word. Waar mynbedrywighede ’n invloed op nedersettings, families en gemeenskappe het, moet mense wat direk daardeur geraak word, toestem tot enige veranderinge wat ’n invloed op hulle grondregte sal hê. 

6. Oudituitslae

6.1. Die Kabinet verwelkom en dra sy gelukwense oor aan die staatsdepartement en -entiteite wat steeds en konsekwent skoon oudituitslae behaal. Dit volg nadat die Ouditeur-Generaal (OG), Kimi Makwetu, die Openbare Finansiële Bestuur se Ouditverslag vir die 2017/18-finansiële jaar vrygestel het. 

6.2. Die Kabinet is egter bekommerd oor aanduidings in die verslag wat algehele agteruitgang in die oudituitslae van sommige nasionale en provinsiale staatsdepartemente en hul entiteite toon. Die bekragtiging van die Wysigingswetsontwerp op Openbare Oudit deur President Ramaphosa, wat daarop gerig is om die werk van die OG se kantoor te versterk, sal toesien dat dié wat aanhou om die regeringsraamwerk te verontagsaam, aanspreeklik gehou sal word.

6.3. Die Kabinet moedig alle departemente en entiteite aan om met behulp van remediërende tussenkomste al die kwessies wat deur die OG uitgelig is aan te pak, en om vordering gereeld te kontroleer om hierdie kwessies voor die volgende ouditsiklus die hoof te bied. 

7. Veiligheid en sekuriteit

7.1. Die Kabinet verbind hom tot die ondersteuning van die Nasionale Veldtog vir ’n Veiliger Feesseisoen, wat deur die Minister van Polisie, Bheki Cele, van stapel gestuur is onder die tema “Operation Quiet Storm”. 

7.2. Met die aanloop tot die jaareindvakansieseisoen, is die veldtog daarop gerig om Suid-Afrika ’n veiliger plek te maak. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal tot die einde van Januarie 2019 landwyd operasies in elke stad, dorp en township onderneem. Hulle sal klem lê op sigbare polisiëring en spesiale misdaad- en voorkomingsveldtogte onderneem.

7.3. Die Kabinet doen ’n beroep op almal in Suid-Afrika om steeds met die polisie saam te werk om ons gemeenskappe veilig te hou. Ouers en voogde word veral aangemoedig om ekstra waaksaam te wees oor hul kinders se veiligheid gedurende die komende feesseisoen.  

7.4. Die Kabinet verbind hom ook tot die Feesseisoen se Padveiligheidsveldtog, wat die afgelope naweek deur die Minister van Vervoer, Dr Blade Nzimande, in Limpopo van stapel gestuur is.

7.5. Die bekenstelling van die veldtog val saam met die jaarlikse twee-dag-lang Padveligheidsberaad, en die VN se Wêreldgedenkdag vir slagoffers van padongelukke. Dit is in almal se beste belang dat elkeen van ons ’n rol speel om ’n veiliger feesseisoen te verseker deur verantwoordelik te bestuur en alle verkeersreëls te gehoorsaam.

8. Maputo-Catembe-brug

8.1. Die Kabinet wens die Suid-Afrikaanse ingenieurs wat by die historiese ontwikkeling van die langste sweefbrug in Afrika betrokke was, geluk.  Die Maputo-Catembe-brug, wat Maputo in Mosambiek en KwaZulu-Natal met mekaar verbind, is deur Sjina se Pad- en Brugkorporasie gebou.

8.2. Mosambiek se President Filipe Nyusi, het die drie-kilometer-lang Maputo-Catembe-brug, wat oor ’n tydperk van vier jaar gebou is teen ’n koste van US$785 miljoen, ingewy.

8.3. Dié ontwikkeling sal handel en toerisme tussen Mosambiek en Suid-Afrika stimuleer met ’n drastiese vermindering in die reistyd tussen Maputo en Kosibaai by KwaZulu-Natal se Ooskus-grenspos, van ses ure tot 90 minute.

B. Kabinetsbesluite

9. Program van Aksie Inligtingsweek

9.1. Die Kabinet is ingelig oor die vorderingsverslae van die prioriteitsuitkomste vir die tydperk vanaf 1 April 2018 tot 30 September 2018. Departemente wat binne die regeringsgroeperings (clusters) werk om die 14 prioriteitsuitkomste te implementeer, gaan voort met hul onderskeie lewerbare uitkomste. Hierdie uitkomste spruit voort uit die 2014-2019 Mediumtermyn Strategiese Raamwerk en die Nasionale Ontwikkelingsplan se Visie 2030.

9.2. Die Kabinet keur die optrede goed wat nodig is om die uitdagings wat implementering beïnvloed aan te pak. Die verslae is op die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering (DPME) se webtuiste by www.dpme.gov.za beskikbaar.

10. Motorvoertuigproduksie- en Ontwikkelingsprogram (MPOP)

10.1. Die Kabinet keur goed dat die MPOP van 2021 tot 2035 uitgebrei word met wysigings, om die Suid-Afrikaanse Motorvoertuigmeesterplan (SAAM) te bevorder.

10.2. Die SAAM fokus op ses areas: optimalisering van plaaslike markte; ontwikkeling van streeksmarkte; lokalisering; infrastruktuurontwikkeling; nywerheidstransformasie, en die ontwikkeling van tegnologie en verwante vaardighede.

10.3. Die wysigings is onder meer gerig op hoër vlakke van plaaslike waardetoevoeging om meer geleenthede vir bykomende indiensneming te skep. Monitering en evaluering van die program en verwante nywerheidstendense word verder verbeter om te verseker dat voldoende vordering gemaak word om SAAM se visie en doelwitte te bereik. 

10.4. Die Minister van Handel en Nywerheid, Dr Rob Davies, sal die media op Vrydag 23 November 2018 oor hierdie wysigings inlig.

C. Wetsontwerpe

11. Die Kabinet keur goed dat die Public Audit Excess Fee Bill van 2018 aan die Parlement voorgelê word. Die Wetsontwerp maak voorsiening vir die Ouditeur-generaal (OG) om regstellende aksie te neem om te verseker dat verliese wat deur die staat gely word, waar moontlik, verhaal word en sekere vermoedelik wesenlike onreëlmatighede vir ondersoek verwys kan word. Die Wetsontwerp poog verder om die OG te bemagtig om internasionale ouditwerk te verrig en prestasie-oudits te onderneem, sowel as om die OG se bestuursreëlings in ooreenstemming te bring met huidige beste praktyk.

D. Toekomstige gebeure

12. 100 #WomenOfFortitude-veldtog

Na afloop van ’n nominasietyperk, sal die 100 standvastige vroue wat vir die #WomenOfFortitude-veldtog gekies is, op 22 November 2018 by die Uniegebou in Pretoria bekendgestel word. Die Interministeriële Komitee vir die Nelson Mandela- en Albertina Sisulu-eeufeesvierings het op 11 Oktober 2018 die #WomenOfFortitude-veldtog aangekondig as een van die Mama Sisulu-eeufeesaktiwiteite. Die #WomenOfFortitude-veldtog is ’n beweging van 100 vroue wat die gesprek sal aandryf oor hoe vroue vandag Mama Sisulu se nalatenskap kan handhaaf.

13. 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgebaseerde Geweld (GBV)

Die Departement van Vroue koördineer en konsolideer die regering se lys van byeenkomste vir die veldtog 16 Dae van Aktivisme teen GBV vanaf 25 November tot 10 Desember 2018. Lede van die Nasionale Uitvoerende Raad, sowel as provinsiale en plaaslike regeringsleiers sal by portefeulje-/sektorspesifieke byeenkomste regoor die land betrokke wees deur gemeenskapsgedrewe inisiatiewe.

Meer besonderhede oor al die betrokke regeringsprogramme is op die webtuiste www.gov.za/16DaysofActivism2018  beskikbaar.

Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om hierdie platform te gebruik deur die regeringsbyeenkomste die naaste aan hulle woonplekke by te woon. Die burgerlike samelewing en vroue-organisasies word ook aangemoedig om hul byeenkomste vir dié tydperk so wyd as moontlik bekend te maak.

Alle Suid-Afrikaners word aangemoedig om saam te werk en ag te slaan op die oproep #HearMeToo, ’n internasionale bewusmakingsveltog vir die uitwissing van geweld teen vroue, deur te luister na die lot van vroue en te help om alle vorme van geweld teen vroue te beëindig.

E. Gelukwense

14. Die Kabinet wens al ons sporthelde, wat die Suid-Afrikaanse vlag hoog laat wapper het, geluk met hul prestasies. Atlete wat uitgeblink het in hul onderskeie sportsoorte, is tydens die onlangse 2018 Sporttoekenningseremonie vereer. 

14.1. Suid-Afrika se Caster Semenya het dubbele goud behaal deur die gesogte Sportster van die Jaar, sowel as die Sportvrou van die Jaar-toekennings in te palm.

14.2. Suid-Afrika se swemsensasie, Chad le Clos, het die Sportman van die Jaar-toekenning ingepalm.

14.3. Ndodomzi Ntutu het die toekenning vir die Sportman van die Jaar met ’n Gestremdheid gewen.

14.4. Anrune Liebenberg het die Sportvrou van die Jaar met ’n Gestremdheid gewen. 

14.5. Banyana Banyana is met die gesogte Span van die Jaar-toekenning bekroon. Banyana Banyana het hul eerste wedstryd in die Vroue Afrika-nasiesbeker (AFCON) teen Nigerië gewen.

14.6. Bafana Bafana het met ’n telling van 1-1 gelykop gespeel in die AFCON kwalifiserende wedstryd teen Nigerië.

14.7. Die Suid-Afrikaanse Rugbyspan word geprys vir hulle spel en ons wens hulle alles van die beste toe vir hul komende wedstryd teen Wallis op 24 November 2018.

Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om steeds die land se sportmanne en -vroue daadwerklik te ondersteun.

15. Die Kabinet dra ook sy gelukwense oor aan:

15.1. Die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Mmamoloko Kubayi-Ngubane met haar nominasie vir die Wêreld Ekonomiese Forum se Raad oor die Vierde Industriële Revolusie, wat uit regerings, lede van die burgerlike samelewing en akademici bestaan. Die forum sal lande help om wêreldwyd te reageer en voordeel te trek uit geleenthede wat deur die Vierde Industriële Revolusie gebied word.

15.2. Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, met sy aanstelling as ’n lid van die AU-Vredesfonds se Raad van Trustees, wat bemiddeling- en voorkomende diplomasie-aktiwiteite, institusionele kapasiteitsvereistes en vredesondersteuningsaktiwiteite in Afrika sal finansier. As 'n lid van die Raad van Trustees sal Minister Mboweni bydra tot strategiese samehorigheid en verbeterde bestuur, asook tot finansiële en administratiewe toesig oor die Vredesfonds. Die aanstelling van die trustees van die AU se Vredesfonds is 'n belangrike stap in die implementering van finansiering vir die AU se agenda, wat deel vorm van die deurlopende institusionele hervormingsproses.

15.3. Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Naledi Pandor, wat op Vrydag 30 November 2018 die Franse Nasionale Orde van die Legioen van Eer-toekenning ontvang. Die toekenning is ter erkenning van haar lewenslange merkwaardige prestasies en pogings om samewerking tussen Frankryk en Suid-Afrika op die gebied van wetenskap en tegnologie te koester en te bevorder. Die seremonie sal by die Franse ambassadeur in Suid-Afrika se ampswoning in Pretoria gehou word.

F. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke klaring.

16. Provinsiale hoofde van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Hawks):

16.1. Vrystaat: Brigadier Kubandran Moodley; en

16.2. Noordwes: Majoor-General Dumisani Patrick Mbotho.

17. Heraanstelling van Adv Makhosini Solomon Meibi as die Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC).

18. Heraanstelling van Mnr Thulani Matiki Norman Kgomo as nie-uitvoerende lid van die RTMC-direksie.

19. Heraanstelling van Me Daphline Harridene Charlotte-Ann Ewertse as nie-uitvoerende lid van die RTMC-direksie.

20. Aanstelling van Adv Sandile Nogxina as nie-uitvoerende direkteur en voorsitter van die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika.

Navrae:
Me Phumla Williams - Waarnemende Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore