Verklaring oor die Kabinetsvegadering van 13 Februarie 2019

Die Kabinet het op Woensdag 13 Februarie 2019 by Tuynhuys in Kaapstad vergader.

A. Kwessies in die omgewing
1. Staatsrede (SoNA)

1.1. Die Kabinet verwelkom President Cyril Ramaphosa se 2019-staatsrede, wat  25 jaar sedert die eerste gesamentlike sittig van die Parlement in die nuwe demokratiese Suid-Afrika plaasgevind het. Die meerderheid Suid-Afrikaners het die toespraak, wat hoop en vernuwing bied, verwelkom.                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                             

1.2. President Ramaphosa het besin oor die vordering wat gedurende die afgelope jaar gemaak is. Die President het voortgebou op die suksesse deur vanjaar se fokusareas in breë trekke te beskryf. Dit het onder meer ingesluit die voortsetting van ingrypingsmaatreëls om inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping te versnel; die verbetering van ons onderwysstelsel, vaardigheidsontwikkeling vir die toekoms en die verskerping van die stryd teen korrupsie en staatskaping.

1.3. Binne die volgende week sal die Minister van Finansies, Tito Mboweni, die finansiële plan tydens sy Begrotingsrede uiteensit. Die ministers sal deur hul departementele begrotingsposte, hul operasionele planne uiteensit, wat uitvoering aan die President se Staatsrede sal gee.

1.4. Die Kabinet bly daartoe verbind om die vervulling van Visie 2030 van die Nasionale Ontwikkelingplan (NOP), die bloudruk vir die uitroei van armoede en die vermindering van ongelykheid en werkloosheid in die land, teen 2030 te verwesenlik.

2. Afrika-mynindaba

2.1. Suid-Afrika het die 25te jaarlikse Mynindaba: Belê in Afrika aangebied. Dit is die grootste byeenkoms van belanghebbendes en besluitnemers in die mynwese ter wêreld. In die strewe om belegging na die mynwese te lok, is vanjaar se indaba onder die tema: “Verander Afrika se Volhoubare Ekonomiese Ontwikkeling” aangebied.

2.2. Die Kabinet verwelkom die ondertekende ooreenkoms van belanghebbendes in die mynwese. Die ooreenkoms sal ’n belangrike bydrae lewer om direkte buitelandse beleggings in verskeie sektore van die mynboubedryf te bevorder.

2.3. Die regering het deur die Departement van Handel en Nywerheid (die dti) se Nywerheidsbeleid-aksieplan, die veredeling van minerale geïdentifiseer as ’n gebied wat ’n oorvloed van geleenthede bied wat beleggers voordelig kan benut om die mynboubedryf te laat groei. Dit bied reuse potensiaal om ’n bydrae tot ekonomiese groei, werkskepping, transformasie en die uitroei van armoede te lewer.

3. Eskom

3.1. Die Minster van Openbare Ondernemings, Pravin Gordan, het die Kabinet ingelig oor die onlangse beurtkrag wat landwyd ’n uitwerking op die land se ekonomie gehad het. Hierdie onderbrekings het onmeetbare gevolge vir Suid-Afrikaanse huishoudings en die ekonomie gehad.  

3.2. Energieverskaffing in Suid-Afrika bly dringend noodsaaklik en die situasie by Eskom hou ernstige risiko’s vir die land, ons finansiële stabiliteit en die ekonomie in. Die strategiese ontbondeling van Eskom in drie afsonderlike entiteite wat in algehele staatsbesit bly – opwekking; uitsending en verspreiding – is nodig vir die langtermyn volhoubaarheid van die land se kragvoorsiening.

3.3. Om die onlangse situasie te hanteer, het President Ramaphosa ’n spesiale kabinetskomitee oor Eskom, onder leiding van die Adjunkpresident, aangestel, wat bestaan uit die ministers van Openbare Ondernemings; Energie; Finansies; Vervoer; Staatsveiligheid en Polisie. Hierdie komitee sal daagliks aandag gee aan sake oor Eskom en aan die President verslag doen oor watter wat stappe nodig is om energievoorsiening te verseker.

3.4. Daar word van die span verwag om met alle belanghebbendes gesprek te voer oor samewerking om stabiliteit tot die netwerk te herstel, die pad vorentoe te baan en seker te maak dat dit minimale ekonomiese uitgawes vir verbruikers en belastingsbetalers sal inhou. 

4. Die reg om te stem

4.1. Die Kabinet wens alle Suid-Afrikaners geluk, veral die duisende jong kiesers wat vir die eerste keer kan stem, wat aan die laaste kiesersregistrasienaweek op 26 en 27 Januarie 2019 deelgeneem het, in afwagting op die land se sesde demokratiese nasionale en provinsiale verkiesings op 8 Mei 2019.

4.2. Die Kabinet doen 'n beroep alle stemgeregtigdes om hul stemreg verantwoordelik uit te oefen en noop Suid-Afrikaners wat nog nie geregistreer het nie om dit onverwyld te doen by die kantore van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), wat regdeur die land oop is. Kiesers kan ook hul registrasiestatus nagaan deur ’n SMS met hul ID-nommer (R1 per SMS) na 32810 te stuur, of hulle kan die OVK se gratis mobiele app vir kiesers installer en dit gebruik om hul registrasiebesonderhede na te gaan.

4.3. Sedert die aanbreek van demokrasie, het ons ’n florerende konstitusionele demokrasie gebou met instellings wat ons basiese regte en vryhede verseker. Hierbenewens is programme in werking gestel om die ekonomie struktureel te transformeer en ons talle sosio-ekonomiese uitdagings die hoof te bied. Die verkiesings wat op hande is, bied ’n geleentheid vir die nuwe geslag van jong Suid-Afrikaners om hul stemreg uit te oefen en sodoende ’n bydrae tot die land se toekoms te lewer.

5. Total se olie- en gasontdekking

5.1 As deel van die nasionale poging om die ekonomie te laat groei en werk te skep, het die regering – deur Operasie Phakisa vir die Oseane-ekonomie – geleenthede geskep in die land se olie- en gassektor vir groei en belegging. Suid-Afrika het potensiële hulpmiddels ter waarde van nege miljard vate olie en 60 tkv (triljoen kubieke voet) of 11 miljard vate olie gelykstaande aan aflandige gas.

5.2. Die Kabinet loof die ontdekking van ’n aflandige gaskondensaat deur die olimaatskappy Total, wat moontlik een miljard vate vol hulpbronne bevat; dit kan die land se olie- en gasvoorrade beduidend verhoog.

5.3. Die maatskappy het die ontdekking gemaak nadat hulle by hul Brulpadda-prospekteergebied in die Outeniqua-kom, sowat 175 kilometers vanaf die Suid-Afrikaanse kus, geboor het.

6. 32ste Gewone Sitting van die Afrika-unie (AU)

6.1. Die Kabinet wens President Ramaphosa geluk met sy verkiesing as Voorsitter van die AU vir 2020. Hy sal by President Abdel Fattah el-Sisi van Egipte, wat tans sy termyn vir 2019 uitdien, oorneem. 

6.2. President Ramaphosa het ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die 32ste Gewone Sitting van die Byeenkoms van AU-staatshoofde en -regerings gelei, wat van 15 Januarie tot 11 Februarie 2019 in Addis Ababa in die Federale Demokratiese Republiek van Ethiopië plaasgevind het onder die tema “Vlugtelinge, Teruggekeerde en Interne Ontwortelde Mense: Op weg na Volhoubare Oplossings vir Gedwonge Ontworteling in Afrika.” Dit het ’n platform geskep om te besin oor en aandag te gee aan die kernoorsake van gedwonge ontworteling in Afrika.    

6.3. Suid-Afrika het sy bekragtigingstuk van die Ooreenkoms oor die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied (AfCFTA) tydens die beraad voorgelê. Kwessies waaroor  gesprek gevoer is, sluit in die institusionele hervorming en finansiering van die kontinentale liggaam; vrede en sekuriteit op die vasteland; ontwikkelinge rakende AfCFTA; en onderhandelinge vir ’n nuwe samewerkingsooreenkoms tussen Afrika, die ontwikkelende lande van die Karibiese en Stille Oseaan en die Europese Unie post-2020.

6.4. Gedurende die loop van vanjaar sal President Ramaphosa ook na verwagting as voorsitter van die vergadering van die Komitee van Afrika-staatshoofde en-regerings oor Klimaatsverandering (CAHOSCC) optree. CAHOSCC is in 2009 by die AU se vergadering van Staatshoofde en Regerings gestig om Afrika se gesaamentlike posisie oor klimaatsverandering, sowel as globale samesprekings oor klimaatsverandering, te lei  

6.5. Wanneer President Ramaphosa die voorsitterskap aanvaar, sal hy met ander staatshoofde saamwerk om die suksesvolle implementering van die mylpaal Parys-ooreenkoms, wat daarop gerig is om die uitwerking van klimaatsverandering te verlig en daarby aan te pas, te steun. Deur CAHOSCC, sal Afrika ’n beduidende bydrae kan lewer tot die globale poging vir lae-koolstof en klimaatsveerkagtige ontwikkeling.

7. Hoër Onderwys

7.1. Die Kabinet betuig sy meegevoel aan die naastebestaandes en vriende van  Mlungisi Madonslea,’n student aan die Durbanse Universiteit van Tegnologie.  Die ontwrigting van studies en die sluit van instansis van hoër onderrig, veral in KwaZulu-Natal, wat tot die tragiese dood van hierdie student gelei het, is ’n ernstige bron van kommer. 

7.2. Die Kabinet doen ’n beroep op alle rolspelers om geskille op ’n vreedsame manier op te los. Ons land het opgevoede mense nodig om ’n bydrae tot ons ontwikkeling te lewer.  

7.3. Die regering, deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, ondersteun instansies van hoër onderwys waar daar uitdagings is. Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Naledi Pandor, het ook die administrateurs van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente opdrag gegee om die hantering van alle studente se navrae te prioritiseer.

8. Inperking van bek-en-klouseer

8.1. Die Kabinet is tevrede met die optrede en tussenkomste wat die verspreiding van bek-en-klouseer in the Vhembe-distrik van Limpopo voorkom ter wille van die volk se gesondheid. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, in samewerking met die Rooivleisbedryf, sowel as ander belanghebbendes, werk daaraan om die uitdaging op ’n geïntegreerde manier die hoof te bied.

8.2. Inenting het op 14 Januarie 2019 met beeste in geaffekteerde nedersettings begin, sowel as beeste in ’n radius van 20-kilometer rondom die geaffekteerde nedersettings. Tot op hede is meer as 10 000 beeste ingeënt; hulle word gemerk om hulle van die ander te onderskei.

9. Suid-Afrikaanse Filmberaad

9.1. Die Suid-Afrikaanse filmbedryf word lank reeds erken as ’n katalisator vir ekonomiese groei en werkskepping in die land. Die kreatiewe en kulturele bedryf, veral die filmsektor, speel ook ’n kernrol in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse storie en lewer ’n bydrae tot pogings vir nasiebou en maatkskaplike samehorigheid.

9.2. Met die oog op hierdie benadering, verwelkom die Kabinet die eerste Suid-Afrikaanse Filmberaad, wat op 4 en 5 Februarie 2019 in Johannesburg plaasgevind het onder die tema “Transformasie en Innovasie in die Suid-Afrikaanse Film/Oudio-visuele Bedryf en die Vierdie Nywerheidsrewolusie (4IR): Is ons gereed vir verandering?”

9.3. Die uitkomste van die beraad sal na verwagting ’n bydrae lewer tot die skep van ’n bemagtigingsomgewing wat die bedryf sal laat floreer. Die regering bly daartoe verbind op projekte te befonds deur die Nywerheid-Ontwikkelingskorporasie en die dti.

B. Kabinetsbesluite

10. Maatskaplike samehorigheid en nasiebou

10.1. Hoewel die nasie sedert 1994 beduidende vordering gemaak het, ondermyn die kunsmatige versperrings wat op ras, klas en kulturele verskille gegrond is, steeds ons vooruitgang. In dié verband het die Kabinet die Politieke Perspektief goedgekeur, wat ’n wetgewende en beleidsraamwerk bied om groter maatskaplike samehorigheid en nasiebou vir die toekoms bevorder.

10.2. Die raamwerk sal vêrreikende gevolge op die implementering van die doelwitte om 'n verenigde volk en 'n meer samehorige samelewing te bou hê. Dit is nie net nasionale doelwitte nie, maar ook ’n manier om armoede uit te roei, soos in die NDP uiteengesit.

10.3. Alle sektore van die samelewing word aangemoedig om die beleidsraamwerk te ondersteun deur ons verskille te vier en 'n samelewing te bou wat die nalatenskap van kolonialisme en apartheid omkeer.

10.4. Die Departement van Kuns en Kultuur sal die Maatskaplike Kompakkonvensie aan die einde van Maart 2019 in Johannesburg byeenroep, waar verskeie sektore van die samelewing  –  insluitend burgers, arbeid, die sakesektor, akademia en intelligentsia, die godsdienstige broederskap en die media – hulle sal verbind tot die projek van sosiale samehorigheid en nasiebou. Samesprekings met die verkillende sektore sal gedurende Februarie tot middel Maart 2019 plaasvind.

C. Wetsontwerpe

11. Kinderwysigingswetontwerp van 2019

11.1. Die Kabinet keur die voorlegging van die Kinderwysigingswetsontwerp van 2019 aan die Parlement goed om ons nasie se werk rakende die beskerming van kinderregte te versterk.

11.2. In 2017 het die Sentrum vir Kinderreg ’n saak teen die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aanhangig gemaak oor die versorgingsagterstande.

11.3. Die Hooggeregshof het die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling beveel om onder meer die nodige wysiging aan die Kinderwet, 2005 (Wet 38 van 2005) en/of die Wet op Maatskaplike Bystand, 2004 (Wet 13 van 2004) voor te berei en aan die Parlement voor te lê om omvattende regsoplossing vir pleegsorguitdagings te vind.

11.4. Alle kinders moet toegang tot dienste hê wat daarop gerig is om hul veiligheid, versorging en beskerming te fasiliteer; sowel as 'n doeltreffende maatskaplike welsynstelsel. Daar is veelvuldige tekortkominge in die huidige kindersorg- en beskermingstelsel. Die wetsontwerp gee onder meer aandag aan die uitdagings wat verband hou met die voorsiening en administrasie van pleegsorg en ander verwante kindersorg- en beskermingskwessies.

D. Toekomstige Gebeure

12. Digitale Ekonomie-beraad

12.1. Die globale skuif na tegnologie wat deur die 4IR geïnspireer word, bring nuwe geleenthede om ons samelewing en ekonomie te bou. Om aan die voorpunt van nuwe tegnologiese tendense te bly, bied Suid-Afrika in Maart 2019 die Digitale Ekonomie-beraad aan.

12.2. Die beraad word belê onder die vaandel van die 4IR Suid-Afrika (4IRSA), 'n vennootskap tussen die Departement van Telekommunikasie en Posdienste, Telkom, die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Fort Hare.

12.3. Die #4IRSA poog om aandag te gee aan die uitdagings wat Suid-Afrika in die digitale era ervaar, ten einde 'n samehangende en kollektiewe plan van aksie vir die land te vind.

13. Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se 2019 Mediatoekennings

As deel van pogings om streeksintegrasie, samewerking en die erkenning van voortreflike joernalistiek te bevorder, word Suid-Afrika se media genooi om hul inskrywings vir die 2019 SAOG-mediatoekennings in te stuur. Die toekennings is gerig op gedrukte media, radio, televisie en fotojoernalistiek. 

E. Boodskappe

14. Meegevoel

14. .Die Kabinet betuig saam met President Ramaphosa en alle Suid-Afrikaners hul meegevoel met die naasbestaandes en vriende van leerders wat gesterf het nadat ’n voetgangerbrug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark op Vrydag 1 Februarie 2019 ineengestort het. Die Kabinet wens ook alle leerders wat tydens die voorval beseer is ’n spoedige herstel toe. 

15. GelukwenseDie Kabinet dra sy gelukwense oor aan:

  • die Soweto Gospel-koor, wat hulle Suid-Afrika weer eens met trots gevul het toe hulle die Grammy vir die beste musiekalbum gewen het. Die groep het vir sy eerste album,  Freedom – renditions of well-known liberation struggle songs, gewen.  Dit is die koor se derde Grammy-toekenning.
  • Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (OBSA) met hul African Renewable Energy Programme Award, wat deur die London-gebaseerde instelling, Project Finance International, toegeken is. Die OBSA het erkenning gekry vir sy innoverende finansiering van 14 hernubare projekte in die land se Hernubare Energie Onafhanklike Kragopwekkersprogram.
  • Twee van ons wetenskaplikes wat die gesogte AU Kwame Nkrumah-toekennings vir Wetenskaplike Voortreflikheid 2018 in Addis Ababa, Ethiopië op 11 Februarie 2019 ontvang het:

Prof Aletta Schutte het die streeksprys vir vrouewetenskaplikes van US$20 000, in die kategorie vir Lewens- en Aardwetenskappe gewen. Sy is ’n professor in Fisiologie aan die Noordwes Universiteit. Prof Schutte het ’n SARChI in die Vroeë Opsporing en Voorkoming van Kardiovaskulêre Siektes in Afrika. Die navorsingsleerstoel word deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DST) befonds. Prof Schutte se navorsingsfokus is op hipertensie en die ontwikkeling daarvan op bevolkings in Afrika.

Prof David Mark Richardson het die kontinentale toekenning van US$100 000 gewen in die kategorie vir Aard- en Lewenswetenskappe. Hy is ’n Voortreflike Professor van Ekologie aan die Universiteit van Stellenbosch, en Direkteur van die DST-Nasionale Navorsingstigting se Sentrum vir Voortreflikheid vir Indringerbiologie. Sy Navorsing handel oor die begrip van kwessies rakende indringer uitheemse boomspesies.

  • Suid-Afrika se onder-20 sokkerspan, Amajita, wat gekwalifiseer het vir die 2019 FIFA onder-20 Wêreldbeker, wat in Mei 2019 in Pole plaasvind.  Amajita het hul plek verseker nadat hulle deurgedring het tot die semi-finale van die Konfederasie van Afrika Sokker Onder-20 Afrika-nasiesbeker wat tans in Niger plaasvind.

Navrae:
Me Phumla Williams
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore