Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 13 Desember 2019

Verklaring oor die Gewone Kabinetsvergadering, wat op Vrydag 13 Desember 2019 by die Uniegebou in Pretoria gehou is

A. Kwessies in die Omgewing

1. Eskom

1.1. Die Kabinet gee sy volle steun aan alle pogings wat daarop gerig is om elektrisiteitsvoorsiening in ons land te verseker. Die Kabinet het die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, vervolgens opdrag gegee om met die nuwe Hoof Uitvoerende Beampte van Eskom, mnr Andre de Ruyter, te onderhandel om vroeër as die vasgestelde datum met sy pligte te begin.
1.2. Mnr De Ruyter, in samewerking met sy bestuurspan, sal onmiddellik aandag gee aan kwessies rakende beheer en 'n gebrek aan finansiële bestuur, sowel as die stabilisering van Eskom se bedrywighede. Dit sluit in die groot agterstand met instandhouding van hul verouderde kragstasies en die strukturele gebreke in die Medupi- en Kusile-kragstasies.
1.3. Adjunkpresident David Mabuza sal 'n hernude energie-oorlogskamer byeenroep wat  die Minister van Finansies, Tito Mboweni; die Minister van Minerale en Energie, Gwede Mantashe; en Minister Gordhan insluit. Die span sal uitdagings rakende die land se energievoorraad hanteer.
1.4. Hernubare produkte sal 'n sleutelrol seel in ons energievoorsiening ter aanvulling van Eskom se pogings.

2. Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sakeredding

2.1. SAL is die afgelope week onder sakeredding geplaas. Die Kabinet is vol vertroue dat hierdie ingryping sal bydra tot die herposisionering van die nasionale lugdiens as 'n sterker, mededingende entiteit wat mettertyd vertroue by alle Suid-Afrikaners sal inboesem en ekwiteitsvennote sal lok.
2.2. Die Kabinet verwelkom die aanstelling van die sakereddingspraktisyn mnr Les Matuson van Matuson Associates. Hy sal saam met swart vennote werk wat mettertyd aangekondig sal word.
2.3. SAL sal bykomende finansiële bystand ten bedrae van R2 miljard van die regering ontvang om tot die radikale herstrukturering van die lugdiens by te dra. Die bestaande SAL-leners sal ook ’n bykomende bedrag van R2 miljard voorsien.
2.4. Die Kabinet is vol vertroue dat hierdie ingryping die lugredery se aansien sal herstel en ineenstorting van die redery, wat 'n negatiewe uitwerking op passasiers, verskaffers en ander vennote in die lugvaartbedryf en veral die arbeidsmag sou gehad het, sal voorkom.
2.5. Minister Gordhan sal die Kabinet gereeld op hoogte hou oor vordering rakende hierdie sakereddingsingryping.

3. Oorstromings

3.1. Die Kabinet betuig sy meegevoel teenoor almal wat geliefdes aan die dood afgestaan het as gevolg van die onlangse oorstromings, wat op verskeie plekke in die land voorgekom het.
3.2. Die regering koördineer ’n multidissiplinêre ingryping deur die Nasionale Rampbestuursentrum om te reageer op die vernietiging wat deur die vloede veroorsaak.
3.3. Die Kabinet verwelkom die ondersteuning van verskillende organisasies wat die vinnige hulpverlening gebied het.  Hulp met die ontruiming van mense uit geboue en die hervestiging van dié wat na gemeenskapsale en kerke verplaas is, het 'n ware gees van ubuntu (medemenslikheid) getoon. Die Kabinet doen 'n beroep op die publiek om ag te slaan op waarskuwings en wenke oor erge weersomstandighede.
3.4. Vinnig bewegende vloedwater is lewensgevaarlik en motoriste en voetgangers word gemaan om uiters versigtig te wees en roetes wat oorstroom is heeltemal te vermy.
3.5. Mense wat onder die vloedlyn van riviere en damme woon, word gewaarsku om op hul hoede te wees en om met die vroegste tekens van oorstromings na veilige plekke te gaan. Moenie jou lewe in gevaar stel deur in swaar reën in damme en riviere te swem nie.

4. Feesgety

4.1. Die Kabinet wens alle Suid-Afrikaners 'n veilige en voorspoedige feesgety toe. As Suid-Afrikaners moet ons in hierdie tyd van vrolikheid steeds die beginsels van ubuntu aan mede-Suid-Afrikaners sowel as besoekers betoon.
4.2. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om alle verkeersreëls na te kom wanneer hulle na hul vakansiebestemmings reis, asook regdeur die feestyd. Die verantwoordelikheid om ’n bloedbad op ons paaie te voorkom, lê by elkeen van ons. Verantwoordelike optrede op die pad behels dat jy nie drink en bestuur nie, snelheidsperke gehoorsaam, en bedagsaam is teenoor ander padgebruikers, insluitend voetgangers. Laat ons saamwerk om lewens te red #LiveBeyondDezemba # Arrive Alive.
4.3. Die regering se “Veiliger Feestyd-bedrywighede” het reeds begin met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat gedurende die feestyd in groot getalle op hulle poste is. Burgers word aangemoedig om die MySAPS-mobiele app te gebruik, wat die eerste in sy soort in Afrika is.
4.4. Die nuwe app stel mense in staat om doeltreffender met wetstoepassers te kommunikeer deur anonieme wenke te verskaf, uit te vind waar hul naaste polisiestasies is en om slagoffers van misdaad in staat te stel om tydens noodgevalle dadelik boodskappe te stuur.
4.5. Die Kabinet doen ook 'n beroep op ouers en voogde om te verseker dat kinders nie gedurende hierdie tyd sonder toesig gelaat word nie.
4.6. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om 'n Sho't Left te neem deur plaaslike besienswaardighede te besoek en plaaslike vermaak te ondersteun. Die gebruik van geregistreerde toeroperateurs of toergidse sal veiligheid verseker en reiservarings verbeter. Besonderhede van geregistreerde toergidse is op die verskillende webwerwe van die provinsiale toerismekantore beskikbaar.

5. 2019 Nasionale Seniorsertifikaat (NSS) -eksamenuitslae

5.1. Die Kabinet bedank onderwysers, leerders en ouers dat hulle met die regering saamgewerk het om te verseker dat die 2019 NSS-eksamens suksesvol afgeloop het. Uitslae word op die aand van 7 Januarie 2020 bekend gemaak en matrikulante word aangemoedig om die Departement van Basiese Onderwys se webwerf (www.education.gov.za) te besoek of per SMS te registreer deur hul ID-nommer en eksamennommer na 35658 te stuur om hul uitslae te ontvang.

B. Kabinetsbesluite

6. Reguleringsraamwerk vir Biobrandstowwe

6.1. Die Kabinet keur die Reguleringsraamwerk vir Biobrandstowwe goed, wat uitvoering gee aan die implementering van die Nywerheidstrategie vir Biobrandstof. Biobrandstof word internasionaal erken as ’n minder koolstofintensiewe plaasvervanger. Biobrandstowwe vermeng brandstof van konvensionele minerale brandstowwe om lugbesoedeling te verminder deur die gebruik van vervoerbrandstof.
6.2. Die raamwerk voorsien vyf terreine wat gereguleer moet word, naamlik (1) die voedingsprotokol, wat die risiko van die biobrandstofprogram vir voedselsekerheid verminder. (2) Die verpligte vermengingregulasies om die vraag na biobrandstof te verseker. (3) Die kosteverhalingsmeganisme vir die vermenging van biobrandstof. (4) Die subsidiemeganisme vir biobrandstowwe vir die ondersteuning van biobrandstofboere en biobrandstofvervaardigers. (5) die keuringskriteria vir biobrandstofprojekte wat 'n subsidie benodig. Die raamwerkdokument is op die Departement van Energie se webwerf: www.energy.gov.za, beskikbaar.

7. Nasionale Veiligheidsraad

7.1. Die Kabinet keur die herinstelling van die Nasionale Veiligheidsraad goed om die koördinering van al die veiligheidswerk in die land te stroomlyn. Die raad sal verantwoordelik wees vir die goedkeuring van die nasionale veiligheidstrategie, die land se nasionale intelligensieprioriteite en die nasionale intelligensieramings.
7.2. Die President sal in sy hoedanigheid as die opperbevelvoerder van die gewapende en veiligheidsmagte as voorsitter van die raad dien. Die ander lede van die raad sluit in Adjunkpresident Mabuza; die Minister van Staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo; die Minister van Verdediging en Militêre Veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula; die Minister van Binnelandse Sake Aaron Motsoaledi; die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, mnr Ronald Lamola; die Minister van Polisie, Bheki Cele; die Minister van Finansies, Tito Mboweni; en, die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Nkosazana Dlamini Zuma.

 8. Witskrif oor Binnelandse Sake

8.1. Die Kabinet keur die Witskrif oor Binnelandse Sake goed, sowel as die hoëvlak strategie en padkaart vir die herposisionering van die Departement van Binnelandse Sake as ’n kritieke instaatsteller van ekonomiese ontwikkeling en nasionale veiligheid.
8.2. Die Witskrif is gegrond op 'n beleidsbasis vir 'n gemoderniseerde en gedigitaliseerde regering, wat ’n stap nader is aan die verwesenliking van die doelstellings van e-regering en e-handel.

9. Die Kabinet keur goed dat die Madrid-ooreenkoms oor die Internasionale Registrasie van Handelsmerke (1989) aan die Parlement voorgelê word vir bekragtiging.

9.1. Die Madrid-protokol behels die beskerming van handelsmerke. Handelsmerke bou handelsmerkherkenning en mededingende voordeel in die bemarking van goedere en dienste, plaaslik en internasionaal.
9.2. Toetrede tot die Madrid-protokol sal dit moontlik maak om die land se beleid vir intellektuele eiendom (IP) te bevorder. Dit sal Suid-Afrikaanse ondernemings, veral kleinsakeondernemings, 'n geleentheid bied om die IP-stelsel te gebruik om hul goedere en dienste internasionaal te bemark.

10. Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa)

10.1. Die Kabinet keur goed dat Prasa se Interimdireksie ontbind word en dat die entiteit onder administrasie geplaas word.
10.2. Suid-Afrika het betroubare, ekonomiese en vloeiende spoordeurgange nodig, wat as die ruggraat vir openbare vervoer kan dien om die verskillende maniere van vervoer te verbind. Die ouditeur-generaal se onlangse bevindings vir 2018/19 het ernstige bestuursgebreke by Prasa aan die lig gebring, insluitend 'n gebrek aan doeltreffende finansiële bestuursprosesse, wat daartoe gelei het dat Prasa 'n ontkenningsouditverslag behaal het.
10.3. Die Kabinet het derhalwe die aanstelling van 'n administrateur, mnr Bongisizwe Mpondo, goedgekeur om die entiteit se bedrywighede vir 12 maande te administreer. Hierdie ingryping sal tot die herstel van Prasa se doeltreffende prestasie bydra.

11. Digitale Migrasie vir die Uitsaaiwese

11.1. Die Kabinet is ingelig oor vordering met die program vir digitale migrasie in die uitsaaiwese rakende die berging, verspreiding en installering van dekodeerders.
11.2. Daar is kennis geneem van die raamwerk vir installering van die dekodeerdervoorraad wat by die Suid-Afrikaanse Poskantoor se pakhuise geberg word. Die Kabinet keur goed dat installeerders op plaaslike munisipaliteitsvlak aangestel word om die oorblywende dekodeerders te installeer. Hierdie hersiene leweringsmodel is daarop gerig om die proses na die migrasie van analoog na digitaal en die vrystelling van die hoë-aanvraagspektrum te bespoedig.
11.3. Die Kabinet keur ook goed dat mnr Newyear Niniva Ntuli as die administrateur en rekenpligtige owerheid van die Agentskap vir Universele Dienste en Toegang van Suid-Afrika vir 24 maande aangestel word.

12. Verslag oor die 25-Jaar-oorsig van Vrouebemagtiging en Geslagsgelykheid in Suid-Afrika: 1994-2019

12.1. Die Kabinet keur die verslag goed, wat sal dien as die land se terugvoerverslag vir die Verenigde Nasies (VN) se Beijing-verklaring en Platform vir Aksie (Beijing + 25). Die VN-kommissie vir die Status van Vroue sal die 25ste herdenking van die Beijing-verklaring en Platform vir Aksie in Maart 2020 hou. Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van die Beijing-verklaring.
12.2. Die verslag beklemtoon vordering wat op verskeie terreine gemaak is met betrekking tot die bemagtiging van vroue en is daarop gerig om die gaping van geslagsongelykheid te verklein. Hoewel dit bevestig dat Suid-Afrika omvattende geslagsresponsiewe wetgewende en beleidsingrypings het om seksisme reg te stel, is daar steeds uitdagings rakende die transformasie van historiese geslagswanbalanse en die volgehoue patriargale praktyke en stereotipering.

13. Nasionale Strategiese Plan (NSP) vir Geslagsgebaseerde Geweld (GGG) en Vrouemoord (2020-2030)

13.1. Die Kabinet is ingelig oor die NSP 2020-2030, wat 'n multisektorale, samehangende strategiese beleid en programmeringsraamwerk bied om 'n gekoördineerde nasionale GGG-reaksie deur die regering en die land as geheel te verseker. Die Kabinet keur goed dat alle befondsde programme van die plan deur die betrokke departemente in werking gestel moet word.
13.2. Die Kabinet het egter gelas dat verdere werk gedoen moet word om die voorgestelde institusionele en koördineringbeplanning van hierdie werk te verfyn. Die volgende ministers is opdrag gegee om aandag hieraan te gee: die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu; die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola; die Minister van Polisie, Bheki Cele; en die Minister van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Maite Nkoana-Mashabane. Minister Nkoana-Mashabane sal die span byeenroep.

14. Aanbevelings van die Presidensiële Adviespaneel oor Grondhervorming en Landbou

14.1. Die Kabinet het op 24 Julie 2019 die verslag van die Presidensiële Adviespaneel oor Grondhervorming en Landbou onder voorsitterskap van dr Vuyokazi Mahlati, ontvang, wat 73 aanbevelings maak. Deur die interministeriële komitee vir grondhervorming onder leiding van Adjunkpresident Mabuza, is al die departemente wat geraak is, gevra om die aanbevelings wat betrekking op hul onderskeie portefeuljes het te bestudeer en dienooreenkomstig te reageer.
14.2. Die Kabinet het sedertdien 60 van die aanbevelings onderskryf en ondersteun. Slegs nege is nie goedgekeur nie en kennis is geneem van drie. Die verskillende departemente sal 'n volledige inligtingsessie hou oor die kwessies waarvan kennis geneem is en nie goedgekeur is nie.

15. Gauteng Snelwegverbeteringsprojek (GFIP)

15.1. Die Kabinet neem kennis van die Taakspan se GFIP-verslag (e-tol), wat onder leiding van die Minister van Vervoer, Fikile Mbalula, saamgestel is. ’n Finale besluit oor die Taakspan se aanbevelings in die verslag, sal in die nuwe jaar gemaak word.

16. Beleid vir die keuring van begunstigdes en grondtoewysing

16.1. Die Kabinet keur goed dat die beleid vir openbare kommentaar gepubliseer word. Die beleid maak voorsiening vir 'n geloofwaardige en deursigtige proses vir die toekenning van grond en die keuse van begunstigdes.
16.2. Dit fokus veral op die geslagsongelykheid in die toekenning van en toegang tot grond, en 'n gebrek aan maniere om arm gemeenskaplike inwoners en dorpenaars in staat te stel om toegang tot grond te kry in geval van natuurrampe en ander noodsituasies.

C. Wetsontwerpe

17. Die Kabinet keur die publikasie van die Wetsontwerp op Slagofferondersteuningsdienste van 2019 vir openbare kommentaar goed. Die wetsontwerp maak voorsiening vir 'n geïntegreerde en multidissiplinêre ingrypingsbenadering tot die behoeftes van die slagoffers van misdaad en geweld. Deur hierdie wetsontwerp sal die aktiwiteite en dienste deur verskillende departemente in die regering se groepering vir justisie, misdaadvoorkoming en sekuriteit, sowel as die sosiale groepering beter gekoördineer word as deel van 'n enkele waardeketting. Die Kabinet keur ook die Beleid vir Slagofferondersteuningsdienste 2019 goed.
18. Die Kabinet keur ook die Wetsontwerp op Maatskaplike-dienste-praktisyns van 2019 goed vir openbare kommentaar. Die wetsontwerp is daarop gerig om die regulering van maatskaplike-dienste-praktisyns uit te brei deur te erken dat daar professionele sowel as hulpvlakke binne die maatskaplikediensberoepe is. Sodra die wetgewing goedgekeur is, word die huidige Wet op Professionele Maatskaplike Diens, 1978 (Wet 110 van 1978), herroep. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sal die twee voorgestelde wetsontwerpe weldra uiteensit.
19. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op Onteiening van 2019 vir openbare kommentaar voorgelê word. Die wetsontwerp is verbeter deur insette wat uit uitgebreide oorlepleging met die publiek en verskeie strukture voortspruit. Sodra die wet aanvaar is, sal die wetsontwerp eenvormige prosedures bied wat gevolg moet word met die toepassing van onteiening. Dit bied 'n wetlike raamwerk vir staatsdepartemente en ander staatsorgane in die drie regeringsfere om eenvormige onteieningsprosedures vir grond en ander infrastruktuur toe te pas.
20. Die Kabinet keur goed dat die Konsepwetsontwerp op die Ontwikkeling van Stroomop-petroleumbronne vir openbare kommentaar gepubliseer word. Die wetsontwerp poog om 'n omgewing te skep wat investering in die stroomop-petroleum-sektor sal bevorder. Dit bied riglyne oor die eksplorasie- en produksie-aktiwiteite wat sal bydra tot ekonomiese groei en transformasie. Die wetsontwerp maak ook afsonderlik voorsiening vir die regulering van petroleumbronne. Dit stig die Petroleumagentskap van Suid-Afrika, wat aanbevelings aan die Minister van Minerale Bronne en Energie sal doen.
21. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Fiskale Magte en Funksies vir openbare kommentaar gepubliseer word. Die Wetsontwerp wysig die Wet op Munisipale Fiskale Bevoegdhede en Funksies, 2007 (Wet 12 van 2007). Dit reguleer die magte van munisipaliteite om ontwikkelingskoste te hef ten opsigte van aansoeke vir grondontwikkeling wat by munisipaliteite ingedien word. Ontwikkelingskoste is een van die instrumente wat munisipaliteite kan gebruik om die ontwikkeling van munisipale infrastruktuur te finansier. Dit stel munisipaliteite in staat om hul rol te vervul om goed onderhoude en funksionerende infrastruktuurdienste te lewer om ekonomiese groei te ontsluit.
22. Die Kabinet keur die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op die Ouditberoepe aan die Parlement goed. Die wetsontwerp wysig die Wet op Ouditberoepe, 2005 (Wet 26 van 2005). Die wetsontwerp stel voor dat die Onafhanklike Regulerende Raad vir Ouditeure bemagtig word om enige persoon te dagvaar met die inligting wat nodig is om 'n ondersoek na onbehoorlike gedrag deur ouditeure af te handel. Die wysigings bemagtig die Minister van Finansies ook om die maksimum bedrag te bepaal wat aan 'n ouditeur opgelê kan word met 'n skuldigbevinding na 'n tugverhoor.

D. Toekomstige gebeure

23. Oproep om vir die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se mediatoekennings in te skryf

23.1. Die Suid-Afrikaanse media word genooi om hul inskrywings vir die SADC Media Awards-kompetisie 2020 nie later nie as 28 Februarie 2020 in te dien. Joernaliste wat aan die kompetisie wil deelneem, kan die webwerwe www.sadc.int en www.gcis.gov.za besoek vir meer inligting.

E. Boodskappe

24. Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan:

24.1. Mej Suid-Afrika, Zozibini Tunzi met haar prestasie om as Mej Heelal 2019 in Atlanta, VSA, bekroon te word.
24.2. Restaurant Mosaic, wat aangewys as is die beste Suid-Afrikaanse restaurant tydens die jaarlikse La Liste World Restaurant Awards in Parys, Frankryk.
24.3. Die 4 971 nuwe polisiebeamptes wat op Vrydag 13 Desember 2019 aan die polisiekolleges gegradueer het. Die pas afgestudeerde polisiebeamptes sal by die SAPD se geledere aansluit om die veiligheid van die land se mense te verbeter.
24.4. Die Eerste Minister van die Verenigde Koninkryk (UK), Boris Johnson en sy Konserwatiewe Party, vir hul oorwinning in die land se 2019 algemene verkiesing en sien uit na die versterking van betrekkinge tussen die twee lande gedurende sy ampstermyn.
24.5. Amajita (Suid-Afrikaanse onder-20 sokkerspan) vir hul toegewyde spel in die wedstryd teen Zambië en die naaswenners in die U20 COSAFA-beker.

F. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Raad vir Menslike Hulpbronontwikkeling van Suid-Afrika:

a. Adv Richard Sizani (Staatsdienskommissie);
b. Me Phindile Mkwanazi (Nasionale Skool vir Regering);
c. Me Riefdah Ajam (Federasie van Suid-Afrikaanse Vakbonde);
d. Mnr Narius Moloto (Nasionale Raad van Vakbonde);
e. Mnr Bheki Ntshalintshali (Kongres van Suid-Afrika Vakbonde);
f. Dr Octavia Mkhabela (Afgetree);
g. Dr Chris Nhlapo (Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie);
h. Dr Dudu Mkhize (Suid-Afrikaanse Jeug in Ingenieurswese);
i. Mnr Sanele Mlotshwa (Suid-Afrikaanse Organisasie van Kollegehoofde);
j. Mnr Thulani Dlamini (Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad);
k. Dr Glenda Kruss (Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing);
l. Mnr Joe Samuels (Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid);
m. Mnr Bruno Peter Nkosi Druchen (Federasie vir Dowes van Suid-Afrika);
n. Mnr Sifiso John Mtsweni (Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap);
o. Dr Jeremia Gule (Instituut vir Mensebestuur);
p. Me Busisiwe Mavuso (Sakeleierskap Suid-Afrika);
q. Mnr Mustak Ally (Mineraleraad van Suid-Afrika);
r. Mnr Dumisani Mphafa (Black Business Council);
s. Prof Sibongile Muthwa (Universiteite Suid-Afrika);
t. Me Sesi Nombulelo Nxesi (Sektor Onderwys- en Opleidingsforum);
u. Dr Randall Carolissen (Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente);
v. Me Yvonne Pelle (Sektor vir Voortgesette Onderwys en Opleiding);
w. Mnr Christo van der Rheede (AgriSA);
x. Mnr Michael Peter (Bosbou Suid-Afrika);
y. Me Sithembiso Dlamini (Toerisme Suid-Afrika); en
z. Mnr Gerhard Hattingh (Vereniging vir Vervaardigingsondernemings).

2. Direksie van die Padongelukkefonds.

3. Me Nompumelelo (Mpumi) Mpofu as Besturende Direkteur van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika.

Navrae: Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore