Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 11 Maart 2020

Verklaring oor die Kabinetsvergadering wat op Woensdag 11 Maart 2020 by die Parlement, Tuynhuys in Kaapstad gehou is

A. Kwessies in die omgewing

1. Koronavirus (COVID-19) 

1.1. Die Kabinet verseker die hele Suid-Afrika dat alle moontlike voorsorg getref word om die land teen enige oplewing van COVID-19 te beskerm. Die Minister van Gesondheid, dr Zweli Mkhize, het die Kabinet ingelig dat daar 13 gevalle van COVID-19 in Suid-Afrika was. Vanoggend het die Minister van Gesondheid bevestig dat nog vier nuwe gevalle geïdentifiseer is, wat die aantal COVID-19-gevalle op 17 te staan bring. Hy sal deur die loop van die dag verdere inligting verskaf.

1.2. Die Kabinet bevestig die oproep van die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Minister van Gesondheid, dat almal in Suid-Afrika voortdurend voorkomende maatreëls moet tref om die oordrag en verspreiding van die virus te stuit. Die voorkomende maatreëls sluit in om jou hande gereeld met seep en water te was, of 'n alkoholgebaseerde handwasmiddel te gebruik. Dit sluit ook in dat jy nie aan jou oë, neus en mond met ongewaste hande moet vat nie en jou mond met 'n snesie moet bedek as jy hoes of nies, en daarna die snesie moet weggooi. Algemene simptome van die virus sluit in koors, hoes en asemhalingsprobleme. Wanneer iemand die simptome soos hierbo beskryf is ervaar, word hulle aangeraai om tuis te bly en mediese hulp te soek.

1.3. Ons doen 'n beroep op almal om die privaatheid van COVID-19-pasiënte en hul gesinne te respekteer. Ons waarsku ook ten sterkste teen die verkondiging van valse inligting wat met die virus verband hou om die verspreiding van vrees, stigma en diskriminasie in ons samelewing te voorkom. Besorgde persone kan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) se Blitslyn by 0800 029 999 skakel vir akkurate inligting oor COVID-19.

1.4. Die Kabinet wens saam met President Cyril Ramaphosa die repatriasiespan asook die bemanning van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), wat Dinsdag na die stad Wuhan in die Hubei-provinsie van die Volksrepubliek van China vertrek het om 122 Suid-Afrikaners terug te bring, sterkte toe. Die mediese span van die Departement van Gesondheid en die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdiens vorm deel van die repatriasie-span. Die Kabinet spreek sy waardering teenoor die SAL uit vir hul waardevolle hulp met hierdie repatriasie-oefening.

1.5. Die repatriasiespan en die gerepatrieerde Suid-Afrikaners word hierdie Vrydag, 13 Maart 2020, weer terug in die land verwag. Ná hul terugkeer word hulle vir 'n minimum van 14 dae tot 'n maksimum van 21 dae in kwarantyn geplaas. Gedurende hierdie tydperk sal die beweging van mense en goedere in en uit die kwarantyngebied beperk word.

1.6. Ons waarsku mense ten sterkste dat hulle geen fisieke kontak moet probeer maak of die kwarantyngebied moet probeer besoek nie. Sodra die kwarantyntydperk eindig en toetse bevestig dat daar geen onderliggende COVID-19-virusinfeksie by ons landgenote is nie, sal hulle weer na hul onderskeie gemeenskappe terugkeer.

1.7 Die Kabinet prys die werk van die Interministeriële Komitee (IMK) wat opdrag gekry het om COVID-19 te hanteer onder leiding van die Minister van Gesondheid en in samewerking met die NICD, om die virus op te spoor en te stuit, terwyl hulle diegene wat daardeur geraak word bystaan en die land voortdurend op die hoogte hou.

1.8 Die Kabinet waardeer die feit dat die meeste provinsies kommunikasie oor COVID-19 na die Minister van Gesondheid verwys, aangesien dit van nasionale en internasionale belang is. Ons doen ’n dringende beroep op al die ander provinsies om ook hierdie voorbeeld te volg om sentralisering van kommunikasie te verseker en sodoende enige onopsetlike verwarring en ongekoördineerde boodskappe te verhoed. 
1.9 President Ramaphosa sal politieke partye wat in die Parlement verteenwoordig word sowel as kerkleiers binnekort op die hoogte bring van  COVID-19. ’n Spesiale Kabinetsvergadering oor COVID-19 is byeengeroep op Sondag 15 Maart 2020 in Tshwane. 

2. Die ekonomie

2.1. Die Kabinet besin oor die vrystelling van Statistiek Suid-Afrika se verslag oor die bruto binnelandse produk (BBP), wat aandui dat ons ekonomie in ’n tegniese resessie verval het. Syfers dui daarop dat die BBP met 1.4% in Kwartaal 4 van 2019 afgeneem het. Dit volg op ’n inkrimping van 0.8% in Kwartaal 3 van dieselfde jaar.

2.2. Die Kabinet is deeglik bewus van die knellende gevolge van beurtkrag, maar bly nogtans vasberade om fundamentele kwessies reg te stel, kritiese groeiterreine na te streef en samewerkende oplossings met alle maatskaplike vennote te vind, sodat ons die land saam op 'n pad van ekonomiese groei kan plaas.

2.3. Ons versterk ons beleggings en tot op hede is projekte met 'n beleggingswaarde van R9 miljard voltooi, terwyl 27 projekte ter waarde van net meer as R250 miljard in implementeringsfases is en meer in die komende jaar aangepak sal word.

3. Vodacom se datatariewe

3.1. Die Kabinet verwelkom die aankondiging deur die Mededingingskommissie oor die mylpaal-toestemmingsooreenkoms wat met Vodacom bereik is oor die verlaging van die operateur se datatariewe. Dit volg op die Mededingingskommissie se markondersoek na datadienste wat in 2017 deur die destydse Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, Ebrahim Patel, aangevra is. Daar is bevind dat datapryse hoër is as in baie ander lande en dat daar teen armer verbruikers gediskrimineer word.

3.2. Die ooreenkoms met Vodacom tree op 1 April 2020 in werking. Die koste van data sal oor alle maandelikse bondels daal, terwyl die prys van 1 GB-bondels van R149 tot R99 ('n verlaging van 34%) sal daal, met verdere afslag in die daaropvolgende jaar. Vodacom sal ook datavrye toegang tot sekere webwerwe van openbare belang (soos GCIS, die nuwe BizPortal en Wikipedia) asook webwerwe van Suid-Afrikaanse universiteite moontlik maak . Verdere afslag sal vir verbruikers in meer as 2 000 armer gemeenskappe geld, en gebruikers sal 'n 'basiese pakket' van twee gratis daaglikse SMS-boodskappe kry.

4. PepsiCo se verkryging van Pioneer Foods

4.1. Die Kabinet verwelkom ook die baanbrekende bemagtigingsooreenkoms vir werkers, wat met PepsiCo gesluit is as deel van die maatskappy se verkryging van die Suid-Afrikaanse voedselonderneming, Pioneer Foods. PepsiCo is daartoe verbind om werkgeleenthede te skep, beleggings te werf, en plaaslike bemagtiging te bevorder. Daar is ook ooreengekom dat 

4.2. Pioneer Foods se 10 000 arbeidsmag word ook beskerm teen samesmelting-spesifieke afleggings en PepsiCo het ingestem om die gesamentlike indiensnemingsvlakke op huidige vlakke vir 'n tydperk van vyf jaar te handhaaf. Aandele in PepsiCo ter waarde van R1.6 miljard sal aan werknemers van die maatskappy uitgereik word, wat gebruik sal word om binne vyf jaar ’n 13% aandeel in Pioneer Foods te verkry. 

5. Stryd teen die mishandeling van vroue en kinders

5.1. Die Kabinet verwelkom die uitspraak van die hooggeregshof in Gauteng om die versoek om verlof tot appèl in die saak teen die veroordeelde verkragter Nicholas Ninow van die hand te wys. Verlede jaar is Ninow lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy 'n sewejarige meisie in 2018 in 'n Dros-restaurant in Silverton, Pretoria, verkrag het.

5.2. Die uitspraak, vonnisoplegging en verwerping van verlof tot appèl stuur 'n sterk boodskap aan mishandelaars en potensiële mishandelaars van vroue en kinders, dat Suid-Afrika se regstelsel misdadigers aanspreeklik sal hou vir hul veragtelike optrede.
5.3. Ons moet saamwerk om die vergrype wat die fundamentele menseregte van vroue en kinders ondermyn, uit te wis. Deur ons gesamentlike optrede moet ons toesien dat geen vrou of kind seksueel geteister, geslaan, verkrag of aangeval word op enige plek in ons land nie. 
                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                         
6. Padveiligheid

6.1. Die Kabinet betuig sy medelye met die 25 gesinne van die passasiers wat vroeër vandeesmaand in die busongeluk naby Centane in die Oos-Kaap dood is en wens ook die 68 beseerde passasiers 'n vinnige herstel toe.

6.2. Die ondersoeke deur die Padverkeersbestuurskorporasie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens behoort te help om antwoorde te vind op die omstandighede rondom hierdie tragedie. Vervoerverskaffers is verplig om alles in hul vermoë te doen om die veiligheid van hul passasiers te verseker.

6.3. Die Kabinet keur die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Padverkeer van 2019 aan die Parlement goed. Sodra dit tot wet verklaar is, sal die wetsontwerp bydra om die slagting op ons paaie te verminder.

B. Kabinetsbesluite

1. Nasionale Strategiese Plan (NSP) oor Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord (GGGV) 


1.1. Die Kabinet het die GGGV-NSP in Desember 2019 goedgekeur. Dit het voorts  'n span wat deur die Minister in die Presidensie vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, me Maite Nkoana-Mashabane, gelei word, opdrag gegee om verdere aandag te gee aan die voorgestelde institusionele reëling van die GGGV om toesig te hou oor die implementering van die GGGV-NSP. 

1.2. Die Kabinet is bewus daarvan dat die bestuur en toesig oor die stryd teen GGGV uiters dringend is en keur derhalwe die instelling van die Nasionale Raad op GGGV (NRGGGV) goed. Die struktuur sal mense nasionaal, provinsiaal en plaaslik mobiliseer om transformatiewe GGGV-ingrypings te lei en te ondersteun. Dit is ook verantwoordelik vir die implementering van die GGGV-NSP.

1.3. Die Nasionale Raad oor GGGV sal deur Minister Nkoana-Mashabane aan die President verslag doen. Die Kabinet keur ook die instelling van 'n IMK goed, bestaande uit die Minister van Polisie, Bheki Cele; die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola; Die Minister van Staatsdiens en Administrasie, Senzo Mchunu; die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Minister Lindiwe Zulu, en Minister Nkoana-Mashabane as sameroeper. 

1.4. Die Kabinet het weer eens aangedring op die dringendheid om beslissende maatreëls te tref om geweld teen die kwesbaarste lede van ons samelewing stop te sit. Die IMK is opdrag gegee om die formalisering van die Nasionale Raad op GGGV te bespoedig. Hulle is verder opdrag gegee om die uitvoerbaarheid van wetgewing vir die huidige institusionele reëling te ondersoek.

1.5. Daar sal ook van die Kommissie vir Geslagsgelykheid - as 'n hoofstuk nege-instelling met 'n grondwetlike mandaat om respek vir geslagsgelykheid en die beskerming, ontwikkeling en bereiking van geslagsgelykheid te bevorder – verwag word om voortdurend vordering met die implementering van die GGGV-NSP te evalueer.

2. Township- en Landelike Entrepreneurskapprogram (TREP)

2.1. Die Kabinet keur die implementering van die TREP deur die Township Entrepreneurskapsfonds goed. Dit is in ooreenstemming met die ekonomiese ingrype om die township- en landelike ekonomieë te benut en te laat groei.

2.2. Die fonds sal selfonderhoudende ekonomiese spilpunte wat met die distriksontwikkelingsmodel in daardie gebiede ooreenstem, ondersteun.

3. Hersiene Nasionale Evalueringsbeleidsraamwerk (NEPF) 2019-20244

3.1. Die Kabinet keur die hersiene NEPF 2019-2024 en die Nasionale Evalueringsplan 2020-2025 goed, wat die evalueringstelsel binne die regering verbeter. Dit sal die regering se vermoë verbeter om die goedgekeurde  Mediumtermyn Strategiese Raamwerk 2020-2024 te implementeer.

3.2. Albei dokumente is beskikbaar op die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering se webwerf: www.dpme.gov.za.

4. Antarktika-en Suidelike Oseaan-strategie

4.1. Die Kabinet keur die publikasie van die Antarktika-en-Suidelike Oseaan-strategie vir openbare kommentaar goed. Suid-Afrika is die poort na Antarktika vir tien ander internasionale Antarktika-programme. Al hierdie programme maak ’n bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie.

4.2. Die strategie stel die volgende vyf pilare voor: (a) internasionale verbintenisse en samewerkingsooreenkomste; (b) navorsing; (c) bewaring en volhoubare gebruik; (d) kapasiteitsontwikkeling en -opleiding en (e) bewusmaking van mense. Die strategie reageer ook op die Antarktiese Verdragstelsel.

C. Wetsontwerpe

1. Wetsontwerp op Nasionale Padverkeer van 2019

1.1. Die Kabinet keur die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Padverkeer van 2019 aan die Parlement goed. Die wetsontwerp stel onder meer regulasies vir die bestuurskoolbedryf voor asook toepaslike standaarde waarvolgens leerlingbestuurders onderrig moet word.

1.2. Dit hanteer ook bedrog en korrupsie binne die padverkeersomgewing, verhoog boetes vir diegene wat nie die verkeersreëls nakom nie; verbied alkoholgebruik deur motorbestuurders en stel nasionale wetgewing oor nommerplate voor.

1.3. Die wetsontwerp stel ook voor dat die bevoegdhede van die Minister van Vervoer en dié van die provinsiale lede van die Uitvoerende Komitee wat vir vervoer verantwoordelik is, vereenvoudig word. 

2. Wysigingswetsontwerp op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes van 2019

2.1. Die Kabinet keur die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes van 2019 aan die Parlement goed.

2.2. Die wetsontwerp handel oor voorgestelde wysigings aan die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (COIDA), 1993 (Wet 130 van 1993). Die wetsontwerp brei die dekking vir beroepsbeserings en -siektes uit na voorheen uitgeslote kwesbare werkers, asook die verbetering van die vergoedingsvoordele vir werknemers in die algemeen.

2.3. Die wetsontwerp sluit nou onder meer huishulpe in onder die kategorie werknemers vir die doel van voordele ingevolge die COIDA van 1993. Dit stel ook die rehabilitasie-en-herintegrasieraamwerk van beseerde en/of siek werknemers in die werkplek voor.

3. Plaaslike Regering: Wetsontwerp op Munisipale Afbakening van 2020

3.1. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op Plaaslike Regering: Munisipale Afbakening van 2020 vir openbare kommentaar gepubliseer word. Sodra dit as ’n wet aanvaar is, sal dit die huidige Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Afbakening, 1998 (Wet 27 van 1998) herroep.

3.2. Die wetsontwerp maak voorsiening vir onder meer die instelling en bedrywighede van die Munisipale Afbakeningsraad, die kriteria en prosedures vir die bepaling en herbepaling van munisipale grense en wyksgrense, sowel as die instelling van 'n appèlowerheid. 

D. Toekomstige gebeure

1 Menseregtemaand     

1.1. President Ramaphosa sal die hooftoespraak lewer tydens die herdenking van die 2020 Nasionale Menseregtedag, wat op Saterdag 21 Maart in die Colesberg-sportstadion in die Noord-Kaap gehou word. Vanjaar se tema is: “Die jaar van eenheid, sosio-ekonomiese vernuwing en nasiebou."

1.2. Menseregtedag in Suid-Afrika het sy oorsprong in die historiese gebeure van Sharpeville (Gauteng) en Langa (Wes-Kaap) op 21 Maart 1960, waar talle mense doodgeskiet is terwyl hulle vir hul menseregte geveg het.

1.3. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om Menseregtedag te vier ter ere aan diegene wat hul lewens opgeoffer het om die vryheid te bekom wat ons vandag nog geniet.

1.4. Een so 'n voorbeeldige en toegewyde leier is dr Alfred Bathini Xuma. Hy was een van die eerste mediese dokters in Afrika en voormalige president van die African National Congress. President Ramaphosa het dr Xuma se lewe herdenk deur die afgelope Sondag 'n spesiale amptelike begrafnis: Kategorie 1 vir sy herbegrafnis uit die Brixton-begraafplaas in Johannesburg, na sy geboorteplek in die dorp KwaManzana, Engcobo, in die Oos-Kaap te verklaar. 

2. President Ramaphosa se werksbesoek na die Republiek van die Kongo

2.1. President Ramaphosa woon op 11 en 12 Maart 2020 die stigtingsvergadering van die Kontakgroep oor Libië in Oyo in die Republiek van die Kongo by. Hy word vergesel deur die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, dr Naledi Pandor; die Minister van Verdediging en Militêre Veterane, me Nosiviwe Mapisa-Nqakula; en die Minister van Staatsveiligheid, me Ayanda Dlodlo.

2.2. Sy Eksellensie, Denis Sassou N’Guesso, President van die Republiek van die Kongo, het President Ramaphosa genooi om die vergadering as voorsitter van die Afrika-unie (AU) by te woon.

2.3. Die 33ste gewone sitting van die AU-Vergadering het besluit om 'n kontakgroep te stig, onder voorsitterskap van die Republiek van die Kongo. Dit sluit lede van die AU-hoëvlakkomitee oor Libië in om politieke leierskap te bied en die koördinering van internasionale pogings te bevorder in die soeke na 'n oplossing vir die Libiese krisis.

3. Medelye

1. Die Kabinet dra sy medelye oor aan die familie, vriende en kollegas van die senior ondersoeker van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat, mnr Mandla Mahlangu (47), wat vandeesweek vermoor is. Die Kabinet dra ook sy meegevoel oor aan die gesinne, vriende en kollegas van twee offisiere van die Valke, offisiere Delene Grobelaar Koonin (44) en sersant Wynand Herbst (42), wat in 'n skietgeveg in Noordwes dood is.
 
2. Die Kabinet veroordeel die moord op hierdie toegewyde amptenare, wat hul plig gedoen het om alle Suid-Afrikaners te beskerm. As 'n nasie moet ons almal saamstaan om die moord op ons mans en vroue te veroordeel. 

4. Gelukwense
Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan:
 
4.1 Die verkose President, sy Eksellensie mnr Fauré Essozimna Gnassingbé, met sy herverkiesing as President van die Republiek van Togo tydens die presidentsverkiesings wat op 22 Februarie 2020 gehou is. Die Kabinet wens ook saam met President Ramaphosa die mense van Togo geluk met die vreedsame verloop van die verkiesing.

5. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike goedkeuring.
1. Lede van die Raad van die Suid-Afrikaanse Owerheid vir Maritieme Veiligheid:
a. Me Nthato Minyuku (Voorsitter).
b. Me Lindelwa Nonjabulo Dlamini;
c. Mnr Lucas Haluodi;
d. Me Eva Dorothy Khosa; en
e. Mnr Kaptein Bheka Clive Zulu.

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore