President Cyril Ramaphosa: Vordering met die nasionale poging om die koronavirus COVID-19-pandemie te stuit.

Mede-Suid-Afrikaners,

Ons het lanklaas ons nasionale familievergadering gehad.

Dit is nou baie maande sedert die uitbreek van die koronavirus in Suid-Afrika.

Al ons mense het baie swaargekery as gevolg van die panemie.

Ons almal wil graag ná 'n lang tydperk van onsekerheid en kommer, na ’n normale lewe terugkeer.

Ek besef dat baie van ons aan koronavirus-moegheid ly.

Die probleem is dat ons nou begin om te vergeet dat die virus steeds oral rondom ons voorkom.

Terwyl ek vanaand met julle praat, vererger die COVID-19-pandemie regoor die wêreld.

Die wêreld het pas sy grootste aantal weeklikse nuwe gevalle sedert die aanvang van die pandemie aangeteken met die hoogste aantal weeklikse sterftes.

Meer as 51 miljoen mense is wêreldwyd besmet, en minstens 1,2 miljoen mense is dood.

Verskeie lande ervaar tans 'n tweede golf van infeksies, wat in baie gevalle erger as die eerste is.

Wat ons sien, bring 'n onaangename waarheid tuis: dat COVID-19 nog lank nie verby is nie.

Dit is duidelik nog in ons midde. En dit sal nog 'n geruime tyd met ons wees.

In Suid-Afrika het ons hopelik reeds die ergste van die storm beleef.

Op die hoogtepunt van die pandemie, in Julie, het ons ongeveer 12 000 nuwe infeksies per dag aangeteken.

Vir meer as twee maande het die aantal nuwe infeksies betreklik stabiel gebly op minder as 2 000 per dag.

Die aantal sterftes het geleidelik afgeneem, asook die aantal mense wat in die hospitaal opgeneem moes word.

Die totale aantal nuwe hospitaalopnames het vir die 14de agtereenvolgende week afgeneem.

Dit is te danke aan die beslissende maatreëls wat ons vroeg in die pandemie getref het, en die bydrae wat elke Suid-Afrikaner gelewer het om hierdie virus te beveg.

Dit is ook te danke aan die frontlinie-werkers wat onselfsugtig en moedig ons mediese fasiliteite beman het, in gemeenskappe uitgegaan het om te sif en te toets, wat vrede en stabiliteit gehandhaaf het en wat noodsaaklike dienste aan die gang gehou het.

Uit die vordering wat ons gemaak het, uit die lesse wat ons geleer het, weet ons nou dat ons onder die huidige waarskuwingsvlak 1 al die gereedskap het wat nodig is om 'n oplewing te voorkom.

Solank ons ​​al die nodige gesondheidsprotokolle en oorblywende beperkings nakom – as individue, as ondernemings, as instansies – hoef ons nie na 'n hoër waarskuwingsvlak terug te keer nie.

Ons moet trots wees op ons reaksie as 'n nasie, wat deur baie mense regoor die wêreld erken word.

Ek het gister 'n virtuele vergadering met verskeie internasionale sakeleiers gehad, wie se maatskappye in baie lande regoor die wêreld bedrywig is. Hulle het almal die wyse waarop Suid-Afrika die pandemie bestuur het geprys.

Hoewel dit welkome vooruitgang is, moet ons erken dat hierdie pandemie tot dusver 'n groot tol van ons mense se gesondheid en welstand geëis het.

Tot op hede het Suid-Afrika 742 394 koronavirusgevalle aangeteken.

Van hierdie mense het meer as 92% herstel.

Maar die grootste slag wat ons gehad het sedert die aanvang van hierdie pandemie, is die bevestigde sterftes van 20 011 mense weens COVID-19.

Hoewel ons 'n betreklike lae sterftesyfer het in vergelyking met baie ander lande, kan ons nie eers begin om die verlies en angs wat hierdie sterftes veroorsaak het, te bereken nie.

Sedert die begin van hierdie krisis was ons doel om lewens te red en om lewensbestaan te beskerm.

Terwyl ons, ons land herbou te midde van hierdie pandemie, moet dit ons belangrikste doelwit bly.

Hoewel infeksies gestabiliseer het, word baie mense steeds elke dag besmet en bly ons kwesbaar.

Ons sien hoe vinnig en hoe dramaties infeksies in verskeie lande gestyg het.

Ons sien ook hoe gesondheidstelsels oorweldig kan word weens toenemende infeksies.

Die toename in infeksies in sommige van hierdie lande het daartoe gelei dat streng beperkings weer ingestel is.

Ons het gesien hoe die oplewing in ander lande die hoop op 'n vinnige ekonomiese herstel kan laat afneem.

Ons moet alles in ons vermoë doen om te voorkom dat dit in ons land gebeur.

As ons infeksies in ons land wil stuit, is daar 'n paar streke waar ons spesiale aandag moet gee.

Die eerste is die situasie in die Oos-Kaap, wat tekens van 'n oplewing toon.

Die afgelope week was die aantal nuwe gevalle in die provinsie 50% hoër as die vorige week.

En die totale aantal nuwe gevalle in die afgelope 14 dae was ongeveer 145% hoër as die vorige 14 dae.

Hierdie stygings word aangedryf deur massiewe oplewings in die Nelson Mandela Metro en veral die Sarah Baartman-distrik.

Die afgelope maand was daar 'n deurlopende toename in hospitaalopnames in die provinsie.

Die bewyse dui daarop dat die toenames in die Oos-Kaap veroorsaak kon word deur uitbrekings by hoëronderwysinstellings soos universiteite en skole, sowel as by groot byeenkomste.

As mense nie die maatreëls, soos sosiale afstand, die dra van maskers en higiëne-reëls nakom nie, skep dit ’n omgewing vir stygende infeksies.

Met talle mense wat tussen die Oos-Kaap en ander provinsies – veral die Wes-Kaap – beweeg, is dit 'n kwessie van tyd voordat hierdie oplewing na ander dele van die land sal versprei.

Ons moet dus maatreëls tref om die toename in infeksies te beperk.

In reaksie op die toenemende infeksies, word die oplewingsplan wat saam met die Wêreldgesondheidsorganisasie se opleidingspan, wat na Suid-Afrika ontplooi is, ontwikkel is, in werking gestel.

Ingrypings sluit in die verskerping van kontakopsporing deur primêre gesondheidsorg-uitreikspanne, daaglikse gemeenskapsmobilisering, versekering dat gesondheidsinstellings voldoende toegerus is, en gereedheid om op moontlike groepuitbrekings te reageer.

Ons sal die komende dae en weke nou saamwerk met die provinsiale regering, munisipaliteite en ander instellings in die Oos-Kaap om te verseker dat hierdie oplewing beperk en bestuur word.

Wat ons in die Oos-Kaap sien, moet 'n waarskuwing vir ons almal wees dat ons nie kan ontspan nie en dat ons nie oorgerus moet wees nie.

Ons hou dus ook die ontwikkelinge in gebiede wat hoër infeksies as die gemiddelde ervaar, fyn dop.

Die gebiede met hoër infeksiesyfers as die gemiddelde is onder meer Lejweleputswa en Mangaung in die Vrystaat, Frances Baard en Pixleyka Seme in die Noord-Kaap, en die Tuinroete en Kaapstad-metro in die Wes-Kaap.

Om te verseker dat ons al die nodige voorkomingsmaatreëls in plek kan hou, verleng ons, ingevolge die Wet op Rampbestuur, die nasionale rampstaat met nog 'n maand tot 15 Desember 2020.

Die tweede kwessie waaraan ons aandag moet gee, is die komende feestyd waartydens baie Suid-Afrikaners na ander dele van die land reis en waar mense gewoonlik sosiaal bymekaarkom.

Indien hierdie aktiwiteite nie op verantwoordelike wyse onderneem word nie, hou dit die grootste onmiddellike bedreiging vir ons bestuur van die pandemie in.

Ons kan egter 'n tweede golf vermy as elkeen van ons sy deel doen, as ons altyd in gedagte hou wat ons moet doen om onsself en ander veilig te hou.

Almal weet van hierdie virus – van die groot stede en metro's tot die kleinste dorpies en gemeenskappe.

Van die graad R-leerder tot die fabriekswerker, van die universiteitstudent tot die grootouer by die huis, weet almal hoe die koronavirus versprei kan word.

Wat ek dus vanaand vir elkeen van julle vra, is nie iets nuuts nie. Ek vra julle om te doen wat julle reeds weet.

Ons weet dat hierdie virus oorgedra word wanneer ons in noue kontak met ander mense is.

Laat ons onthou dat dit in klein deeltjies uit ons neus en mond oorgedra word as ons praat, hoes, nies of selfs swaar asemhaal.

Ons weet ook almal wat ons moet doen om onsself en diegene rondom ons te beskerm.

'n Lapmasker, wat oor die neus en mond gedra word, is steeds een van ons beste voorsorgmaatreëls.

Ek weet dit kan soms moeilik wees.

Maskers kan warm en ongemaklik wees.

’n Maskeer maak dit moeilik om ander mense te herken of om duidelik te hoor wat hulle sê.

Maar lapmaskers is goedkoop en is nou feitlik oral beskikbaar; die ongerief om een ​​te dra, is baie beter as om besmet te raak of ander te besmet.

Om 'n masker te dra elke keer as ons die huis verlaat, is baie beter as 'n oplewing van infeksies.

Dit is ook baie beter as om terug te keer na ’n staat van inperking en beter as om die ekonomie te moet sluit.

Verskeie uitbrekings kan teruggevoer word na binnenshuise byeenkomste waar daar min ventilasie is en geen sosiale afstand is nie.

Met die naderende feesgety, is dit te verstane dat ons saam met familie en vriend wil kuier. Dit was 'n stresvolle en traumatiese jaar. Ons wil sosiaal verkeer en met mekaar in verbinding tree.

Maar dit beteken nie dat ons nie waaksaam moet wees nie.

Ons moet onthou dat elke bykomende persoon met wie ons in aanraking kom, die kans op oordrag verhoog.

Ons moet groot byeenkomste vermy. Ons moet eerder in klein groepies byeenkom.

As ons moet uitgaan, moet ons kontak met ander beperk.

Ek raak al hoe meer bekommerd en beangs deur wat ek op sosiale media en selfs op televisie gesien het waar mense groot partytjies, saamtrekke en sosiale geleenthede hou asof die virus nie bestaan ​​nie.

Ek het tonele gesien van binnenshuise plekke vol mense wat nie maskers dra nie met geen teken van sosiale afstand nie.

Sulke byeenkomste is superverspreiders wat vermy moet word, want dit is gevaarlike gedrag.

Dieselfde reëls wat in die vroeë dae van die inperking gegeld het, moet nou ook toegepas word.

En nou dat dit somer is, is dit baie makliker om buite te vergader of in kamers met oop vensters.

Ek het reeds voorheen genoem dat ons verskillende instrumente in ons koronavirus-gereedskapkas moet gebruik om hierdie virus te beveg.

Ons kan ook tegnologie gebruik om die virus te beveg.

Ek doen 'n beroep op elkeen van julle om by die 700 000 Suid-Afrikaners aan te sluit wat die mobiele app Covid Alert SA afgelaai het.

Die Covid Alert-app kan jou in kennis stel as jy aan die virus blootgestel is – hetsy dit in 'n taxi, 'n winkelsentrum of 'n sosiale byeenkoms is –sonder om jou ligging of persoonlike inligting bekend te maak.

Mobiele netwerke hef ’n nul-tarief op die app, dus kos dit jou niks om jouself en ander te beskerm nie.

Deur die app af te laai, help jy om die virus sigbaar te maak en die verspreidingsketting te verbreek.

Ons doen 'n beroep op alle organisasies om hul personeel en besoekers aan te moedig om die app af te laai wanneer hulle hul kantore, winkels, skole, universiteite en ander geslote ruimtes betree.

Benewens hierdie stappe wat ons almal moet neem om 'n oplewing te voorkom, versterk ons ook ​​ons openbare-gesondheidsingrypings.

Toetsing is noodsaaklik om 'n oplewing suksesvol te voorkom.

Sonder die ernstige tekort aan kapasiteit wat ons 'n paar maande gelede gehad het, werk ons ​​nou daaraan om die aantal toetse wat elke dag gedoen word, aansienlik te verhoog.

Alle hospitale, sowel openbare as privaat, moet pasiënte wat in die hospitaal opgeneem word toets volgens die hersiene riglyne.

Ons sal ook skandering en toetsing van gemeenskappe wat in brandpunt-gebiede geleë is, uitbrei.

'n Doeltreffende en veilige entstof is ons grootste beskerming teen COVID-19, en daar is tans verskeie kandidaat-entstowwe regoor die wêreld.

Billike toegang tot 'n doeltreffende entstof is van kardinale belang om hierdie pandemie suksesvol te stuit.

Vroeër hierdie week het die wêreld gehoor van ’n wetenskaplike deurbraak rakende die ontwikkeling van 'n entstof teen die siekete.

Dit is die eerste bewys dat 'n doeltreffende entstof teen die koronavirus moontlik is.

Ook dat die voorlopige gegewens uit die navorsing daarop dui dat dit meer as 90% doeltreffend kan wees.

Dit verander ons perspektief op die toekoms van die koronavirus-pandemie.

Hierdie ontwikkeling bring nuwe hoop in ons stryd teen die virus.

Suid-Afrika werk saam met verskeie multinasionale farmaseutiese ondernemings om 'n veilige en doeltreffende entstof vir ons mense te bekom en dra ook by tot die beskikbaarheid van die entstof op die res van die vasteland.

Ons werk deur die African Centers for Disease Control and Prevention om 'n entstof vir die Afrika-kontinent te bekom en te finansier.

Daar word beraam dat Afrika ongeveer $12 miljard en 750 miljoen dosisse van 'n doeltreffende entstof sal nodig hê.

Vroeër hierdie week het ek, in my hoedanigheid as voorsitter van die Afrika-unie, die COVID-19-taakspan vir die verkryging van entstof in Afrika gestig om hierdie poging te lei.

Ons Minister van Gesondheid sal saam met ander vooraanstaande burgers van ons kontinent in hierdie taakspan dien.

Suid-Afrika is ook aangestel as medevoorsitter van die wêreldwye ACT-A-inisiatief wat toegang tot innoverende tussenkomste – insluitend entstowwe – vir alle lande vergemaklik.

Lande sal geld moet toewys om toegang tot entstowwe te verseker om die verdere verspreiding van die koronavirus te voorkom.

Ter erkenning van ons land se vervaardigingsvermoë het een van die voorste farmaseutiese maatskappye in die wêreld, Johnson & Johnson, 'n voorlopige ooreenkoms met 'n plaaslike onderneming, Aspen Pharmacare, aangegaan om sy kandidaat-entstof te vervaardig en te verpak.

Aspen het die vermoë om 300 miljoen dosisse van die kandidaat-entstof in sy Nelson Mandelabaai-aanleg te vervaardig. Dit is ’n lewensreddende mediese produk wat regoor die wêreld in aanvraag sal wees en deur Suid-Afrikaanse werkers vervaardig sal word.

Dit is bykomend tot die vordering wat gemaak is deur Biovac, 'n plaaslike biofarmaseutiese maatskappy wat in vennootskap met die Suid-Afrikaanse regering is.

Biovac is in gevorderde gesprek met 'n internasionale entstofvervaardiger wat dit ook in staat stel om 'n COVID-19-entstof plaaslik te vervaardig om voldoende voorraad vir ons land en die vasteland te verseker.

Suid-Afrikaners,

Sedert die aanvang van hierdie krisis het ons probeer om lewens te red en om lewensonderhoud te beskerm.

Daarom het ons in April 'n massiewe ekonomiese en maatskaplike verligtingspakket bekendgestel om die gevolge van die pandemie op maatskappye, werkers, huishoudings en gemeenskappe te beperk.

Hierdie ingryping was noodsaaklik om sakeondernemings op dreef te hou, om werk te beskerm en om te voorkom dat miljoene mense honger ly.

Noudat ons ekonomie geleidelik begin oopgaan en beperkings op beweging en aktiwiteite verlig is, kan ons aandag van hierdie noodmaatreëls na 'n ambisieuse plan vir ekonomiese heropbou verskuif.

Deur die verskillende ingrypings om die COVID-19-pandemie te hanteer, beweeg ons van verligting na herstel.

Namate die ekonomie begin herstel, word baie van die maatreëls in die hulppakket geleidelik afgeskaf.

Ons probeer – binne ons beperkte middele – om te verseker dat dit 'n geleidelike oorgang is.

Ons erken dat sommige nywerhede steeds nog nie ten volle in bedryf is nie en dat dit tyd sal neem voor alle werksgeleenthede hervat kan word.

Daarom het ons die spesiale COVID-19-toelae met drie maande verleng tot Januarie 2021.

Dit sal broodnodige inkomste aan ongeveer 6 miljoen mense wat werkloos is en geen ander vorm van staatstoelae ontvang nie, voorsien.

Na uitgebreide samesprekings met ons maatskaplike vennote, het die WVF die COVID-19 WVF Ters-voordeelskema met nog 'n maand tot 15 Oktober 2020 verleng word.

Besprekings duur voort met ons maatskaplike vennote oor toekomstige ondersteuning vir ondernemings in nood, met inagneming van die noodsaaklikheid om te verseker dat die WVF voldoende fondse het om in die verwagte toename in werkloosheidseise te voorsien.

Die COVID-19 WVF-skema het al ongeveer R53 miljard aan meer as 4,7 miljoen werkers uitbetaal.

Hierdie noodlenigingsmaatreëls was nodig om die kwesbaarste mense in 'n tyd van groot nood te beskerm, maar dit sal beëindig moet word.

Die noodlenigingspakket het die grondslag gelê vir 'n robuuste ekonomiese herstel, wat werksverliese beperk en baie sakeondernemings wat andersins gedwing sou wees om te sluit, op dreef gehou het.

Namate ons oorgaan na 'n nuwe fase in ons reaksie, is 'n vinnige en volgehoue ​​ekonomiese herstel die enigste pad vorentoe.

Ons werk dus daaraan om alle sektore van die ekonomie so vinnig en so veilig moontlik weer in volle bedryf te stel.

Ons wysig die waarskuwingsvlak 1-regulasies om die normale handelsure vir die verkoop van alkohol by kleinhandelwinkels te herstel.

Ons stel ook internasionale reise na alle lande oop onderworpe aan die nodige gesondheidsprotokolle en die voorlê van 'n negatiewe COVID-19-sertifikaat.

Deur die gebruik van vinnige toetse en streng monitering, is ons van plan om die verspreiding van die infeksie wat ingevoer word te beperk.

Ons verwag dat hierdie maatreëls ondernemings in die toerisme- en gasvryheidbedryf baie sal help.

Ons konsentreer onverpoosd op die implementering van ons plan, deur voort te gaan met 'n paar prioriteitsprojekte wat die grootste impak sal hê en deur te verseker dat ons aan die vereistes daarvan voldoen.

Ons infrastruktuurprogram vorder steeds goed met sterk ondersteuning deur die private sektor en ontwikkelingsinstellings.

Verskeie programme wat deur die Presidensiële Werkstimulusprogam ondersteun word, het reeds begin, en die werwing vir ander het begin

So het die Departement van Basiese Onderwys se werwing van onderwysers en skoolassistente, wat op werklose jeugdiges in elke provinsie gerig is, hierdie week begin.

Volgende week hou ons die derde Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie, wat 'n belangrike aanduiding van die land se voortgesette waarde as beleggingsbestemming vir plaaslike en buitelandse beleggers is.

Ons sal voortgaan om die heropbou- en herstelplan aan te dryf, onder meer deur die instelling van strukturele hervormings om ons ekonomiese trajek te verskuif.

Met behulp van hierdie stappe kan ons nou seker maak dat ons op die pad na herstel bly.

My mede-Suid-Afrikaners,

Ons het baie lewens verloor deur hierdie pandemie.

Baie van ons moes afskeid neem van 'n geliefde, 'n vriend of 'n kollega.

As ons terugkyk na 'n jaar van baie pyn en hartseer, is dit vir ons as 'n nasie belangrik dat ons diegene wat weens die siekte gesterf het, eer en onthou.

Dit sal gepas wees as ons gedurende die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld Teen Vroue en Kinders – dit is die tweede pandemie waarmee ons te make het – diegene wat weens die COVID-19-pandemie en geslagsgeweld gesterf se nagedagtenis in ere hou.

Die Kabinet het besluit dat die land van 25 tot 29 November vyf dae van rou vir die slagoffers van COVID-19 sal hou.

Ons sal die landsvlag regdeur die land van 06:00 tot 18:00 van Woensdag 25 November tot Sondag 29 November halfstok laat hang.

Ons doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om 'n swart armband of ander tekens van rou te dra om ons respek vir die gestorwenes te toon.

Ons doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om hul solidariteit te toon ter nagedagtenis aan ons landgenote, ter erkenning van die hartseer wat ons as 'n nasie deel, en as 'n bevestiging van ons vasberadenheid om hierdie verwoestende siekte te oorkom.

My mede-Suid-Afrikaners,

Terwyl ek julle vanaand toespreek, het die land pas die hartseer nuus ontvang oor die heengaan van die uittredende ouditeur-generaal, mnr. Kimi Makwetu.

Tydens sy ampstermyn as ouditeur-generaal, het mnr. Makwetu sy land met oorgawe, onderskeiding en integriteit gedien.

Ons gedagtes en gebede is met sy naasbestaandes in hierdie tyd van groot hartseer.

Laat ons as 'n nasie steeds doen wat ons weet ons moet doen om onsself en ander veilig te hou.

Laat ons steeds wys dat ons 'n volk van weerbaarheid en moed is.

Laat ons wys dat ons vir mekaar omgee in tye van siekte en in tye van dood.

Dit is ons individuele optrede gedurende die volgende paar weke en maande wat die lot van ons land sal bepaal.

Die stappe wat ons moet neem, is eenvoudig, maar dit is nie onbelangrik nie.

Dit kan lewens red en doen dit ook.

Laat ons steeds saamwerk soos die groot Suid-Afrikaanse gesin wat ons is, om te herstel, te genees en te herbou.

Mag God ons pragtige land Suid-Afrika seën en haar mense beskerm.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore