President Cyril Ramaphosa: Vordering in die Nasionale Poging om die KOVID-19 Pandemie te Bekamp

Landgenote,

Vanaand wil ek met julle praat oor vier sake wat van die uiterste belang is in ons stryd teen die KOVID-19-pandemie en die herstel van ons samelewing en ons ekonomie.

Eerstens is die verskerping van ons nasionale inentingsveldtog; tweedens is die maatreëls wat ons gaan instel om ons ekonomie verder oop te maak; derdens is die bekendstelling van ʼn inentingsertifikaat; en laastens is die samesprekings met die Verenigde Koninkryk om reis, toerisme en handel tussen ons lande te weer oop te stel.

ʼn Paar dae gelede het die Suid-Afrikaanse KOVID-19-modelleringskonsortium bevestig dat Suid-Afrika aan die rugkant van die derde vlaag KOVID-19-infeksies staan.

Hierdie vlaag, wat deur die Delta-variant aangevuur is, was baie erger as die vorige twee vlae.

Die derde vlaag het meer as 130 dae geduur en was ongeveer twee maal langer as elkeen van die vorige vlae.

Tydens die piek van die derde vlaag is ongeveer 2 000 nuwe gevalle per dag aangeteken.

In die afgelope sewe dae was die gemiddelde aantal nuwe gevalle ongeveer 1 800 per dag.

Daar was ook ʼn bestendige afname in die aantal mense wat weens KOVID-19 gehospitaliseer is asook in KOVID-19-sterftes.

Ons verwelkom hierdie nuus met ope arms.

Ons leef nou al vir 574 dae in die skadu van die pandemie en almal van ons is onder druk en ooreis.

Ons het baie ontberings deurgegaan en die ergste hiervan is al die familielede, vriende en kollegas wat ons aan die pandemie afgestaan het. Ons harte rou vir iedere en elke een van hulle.

Natuurlik wil ons baie van die aktiwiteite wat vir ons meestal verbode was die afgelope twee jaar hervat.  

Ons wil tradisionele rites en rituele, verjaarsdagpartytjies, troues en ander sosiale geleenthede vrylik met ons vriende en familie bywoon.

Ons smag na ʼn tyd wanneer ons sonder beperkings weer na ons kerke, moskees, sinagoges en tempels toe kan gaan, en mense drukkies kan gee en blad kan skud sonder om siek te word.

Die sportgeesdriftiges onder ons kan nie wag om weer vir hul span te gaan skree in die FNB-, Moses Mabhida-, Royal Bafokeng-, Newlandse en Loftus-stadions nie.

Ons wil weer vrylik kan kuier by restaurante, tavernes en teaters, en ons wil sonder perke kan reis wanneer en waarheen ons wil.

Hierdie vryhede, waarna ons almal smag, is binne ons bereik.  

Maar eers as ons almal ingeënt is en mits ons voortgaan om die basiese gesondheidsorgmaatreëls te volg.

Sedert ons ons nasionale inentingsveldtog afgeskop het, het dit spoed opgetel.

Tot dusver het ons reeds meer as 17 miljoen dosisse entstof toegedien.

Meer as 8.6 miljoen mense is ten volle ingeënt – meer as een vyfde van die volwasse bevolking.

Van groot belang is dat 60% van Suid-Afrikaners ouer as 60 en 50% van mense tussen die ouderdom van 50 en 59 reeds minstens een dosis ontvang het.

Hierdie syfers is bemoedigend.

Ons mik daarna om 70% van Suid-Afrika se volwasse bevolking teen die einde van die jaar in te ent.

As ons hierdie doelwit haal, beraam die departement van gesondheid dat ons tot soveel as 20 000 lewens kan red.

Dit is 20 000 mense – ma’s en pa’s, seuns en dogters – wie se dood verhoed kan word as die meerderheid van ons die keuse maak om ingeënt te word.

Om hierdie doelwit te behaal, moet ons vanjaar nog ʼn bykomende 16 miljoen dosisse entstof toedien, wat ongeveer 250 000 eerste-dosis inentings elke werksdag van elke week tot en met mid-Desember beloop.

Ons weet dat hoe ouer jy is, hoe groter die risiko is dat jy baie siek gaan word as jy KOVID-19 opdoen en meer waarskynlik gehospitaliseer sal moet word.

Ons weet ook dat die risiko daaraan verbonde om van KOVID-19 te sterf hoër is onder bejaardes as onder jonger mense.

Om mense se lewens te red en te voorkom dat ons gesondheidsorgfasiliteite en -personeel oorweldig word, het ons dus voorkeur verleen aan mense bo 50 en bo 60 om ingeënt te word.

Dit beteken egter nie dat mense jonger as 50 nie in gevaar is nie.

In die afgelope paar maande het ons waargeneem dat daar ʼn toenemende aantal jonger mense weens KOVID-19 gehospitaliseer is en aan KOVID-19 beswyk het.

Om hierdie rede het ons vanaf 20 Augustus vanjaar ons inentingsplan uitgebrei om alle inwoners van Suid-Afrika bo die ouderdom van 18 in te sluit.  

Alhoewel ons belangrike vordering gemaak het en voldoende dosisse entstof vir die teikenbevolking bekom het, is ons inentingsprogram steeds te stadig.

Ons het dus besluit om ons inentingsveldtog op te rat deur die “Vooma-inentingsnaweke”-veldtog wat môre afskop, te loods.

Die Vooma-inentingsnaweke”-veldtog sal landswyd in aksie wees om ons mense aan te moedig om ingeënt te word.

Ons weet dat dit moeilik kan wees om tydens weeksdae by ʼn inentingspunt uit te kom, veral vir diegene wat moet werk, wat oor lang afstande moet pendel en wat gesinsverantwoordelikhede het.

Diegene wat nie tydens die week in staat is om te gaan om ingeënt te word nie, moet van hierdie geleentheid gebruik maak.

Ons gaan môre, 1 Oktober en Saterdag, 2 Oktober inentingspunte regoor die land oopmaak om meer as ʼn halfmiljoen mense te bereik.

Die departement van gesondheid het in elke provinsie streke identifiseer waaraan voorkeur gegee sal word, gegrond op die aantal mense wat nog nie ingeënt is nie en die huidige inentingsdekking in ʼn streek.

Dit sal die eerste Vooma-inentingsnawekeveldtog van ʼn reeks sulke uitreikprogramme wees.

Leiers vanoor die politiese spektrum, die burgerlike samelewing, godsdienstige leiers, tradisionele leiers en leiers vanuit die arbeids- en sakesektor sal gemeenskappe mobiliseer om hul veiligheid te verseker deur ingeënt te word.  

Ek en die adjunkpresident, asook ministers, adjunkministers, premiers, LUK’s, burgemeesters en raadslede sal ook gemeenskappe op Vrydag en Saterdag besoek om inwoners aan te moedig om ingeënt te word. 

Inenting is gratis vir almal wat in Suid-Afrika woon, beide Suid-Afrikaanse burgers en burgers van ander lande.

Jy kan na enige staats- of privaatgesondheidsfasiliteit gaan wat inentings verskaf, selfs al het jy nie ʼn mediese fonds nie.

Jy kan na jou naaste inentingspunt gaan met jou ID of ander bewys van identiteit en daar en dan geregistreer word.

Die Vooma-inentingsnawekeveldtog dien ook as geleentheid om erkenning te gee aan die enorme bydrae van ons frontliniewerkers en gesondheidsorgbestuurders – van ons gemeenskapsgesondheidswerkers wat van deur na deur aageklop het om mense aan te spoor om na inentingspunte te gaan om ingeënt te word tot ons personeel by die inentingspunte en uitreikvoertuie asook in gesondheidsorgfasiliteite regoor die land.

Ons gee ook graag erkenning aan die groot aantal vrywilligers wat hulp verleen het asook die vele inisiatiewe wat deur plaaslike eiers van stapel gestuur is. 

Ons prys die moeite wat sake-ondernemings aangaan om hul werknemers te laat inent.

Ons doen ʼn beroep op alle sake-ondernemings om die inenting van hul werknemers te bewerkstellig en hul werknemers aan te spoor om ingeënt te word.

Die betrokkenheid van alle sektore in die samelewing in die nasionale inentingsprogram sal van kritiese belang wees aan die vooraand van die plaaslike verkiesings in November.

Verkiesingsveldtogaktiwiteite en -bedrywighede skep ʼn groot gevaar vir ʼn volgende opswaai in infeksies.

Elkeen van ons – van partyleiers en -organiseerders tot ondersteuners en verkiesingsbeamptes – dra ʼn groot verantwoordelikheid om seker te maak dat die reëls gevolg word en dat alle gesondheidsorgmaatreëls tydens die verkiesingsveldtog gevolg word.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie is besig om maatreëls in te stel om te verseker dat elke kieser hul demokratiese reg vrylik kan uitoefen sonder om aan onnodige gevaar blootgestel te word.

Landgenote,

Toe ek op 12 September aangekondig het dat die land na ʼn aangepaste waarskuwingsvlak 2 skuif, het ek gesê dat ons die situasie na twee weke sou hersien.

Die huidige neigings wat ons in die gang van die pandemie waarneem, beteken dat ons ʼn aantal van die beperkings wat ingestel is, kan verslap; per die aanbevelings van die ministeriële adveskomitee vir KOVID-19.

Na aanleiding van samesprekings met die nasionale kornavirysbevelraad en die President se koördineringsraad het die Kabinet besluit om Suid-Afrika te skuif van   ʼn aangepaste waarskuwingsvlak 2 na ʼn aangepaste waarskuwingsvlak 1 vanaf middernag vanaand.

As deel van aangepaste waarskuwingsvlak 1 sal die volgende maatreëls van toepassing wees:

  • Die aandkloktye sal skuif na 00:00 middernag tot 04:00.  

Nie-noodsaaklike ondernemings soos restaurante, kroeë en fiksheidsentrums moet teen 23:00 sluit om hul werknemers genoeg tyd te gee om voor die aankloktyd tuis te kom.

  • Die maksimum aantal mense wat binnenshuis mag vergader sal verhoog van 250 na 750, en die maksimum mense wat in die opelug mag vergader sal verhoog van 500 na 2 000.

Waar ʼn vergaderplek te klein is om hierdie getalle te akkommodeer in terme van sosiale distansiëring, mag daar nie meer as 50% van die plek se kapasiteit toegelaat word nie. Dit sluit in godsdienstige, politieke en sosiale byeenkomste asook restaurante, kroeë, tavernes en soortgelyke vergaderplekke.

  • Die maksimum mense wat toegelaat word om ʼn begrafnis by te woon, word verhoog van 50 na 100. Soos tevore word nagwake, byeenkomste na begrafnisse en nabetragtingsbyeenkomste (“after tears”) nie toegelaat nie.
  • Die verkoop van alkohol – beide vir gebruik op die perseel en buite die perseel – sal toegelaat word, soos per die normale lisensievoorwaardes. Geen alkohol mag egter na 23:00 verkoop word nie.
  • Dit bly verpligtend vir elke persoon om ten alle tye ʼn gesigmasker wat die mond en neus bedek in openbare plekke te dra, en verontagsaming van hierdie reël bly ʼn kriminele oortreding.

As deel van ons pogings om die dele van die ekonomie wat die swaarste getref is weer operasioneel te kry, oorweeg ons tans die verdere verslapping van beperkings, veral met betrekking tot kulturuele en sportaangeleenthede.

Soos ek vroeër genoem het, wil ons almal ons vryheid terughê en as ons aanhou om saam te werk soos ons tans doen, sal meer soorte aktiwiteite heropen.

Die departement van gesondheid sal binnekort ʼn inentingsertifikaat loods wat as veilige en verifieerbare bewys van inenting sal dien.

Dit kan gebruik word om reis en rondbeweging asook toegang tot vergaderplekke en byeenkomste asook ander aktiwiteite wat bewys van inenting vereis, te vergemaklik.

Ons benadering is geskoei op die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglyne en is belyn met inernasionale beste praktyk.  

Om die bewys van inenting vaartbelyn te maak en te standardiseer sal ook van groot hulp wees om ʼn aanal internasionale reisbeperkings beide na en vanuit ons land verslap te kry.

Om ingeënt te word, gaan nie net oor die beskerming van jouself en die mense om jou nie.

Dit gaan ook oor die voorkoming van die ontwikkeling van nuwe en gevaarliker variante, aangesien die virus onder oningeënte bevolkings te versprei en muteer.

Selfs as ons ingeënt is, moet ons egter aanhou om steeds die basiese voorkomingsmaatreëls na te kom om die verspreiding van die virus van persoon tot persoon te bekamp.

Ons weet dat binnenshuise byeenkomste, veral in plekke met swak ventilasie, een van die groot oorsake is van opwellings van die pandemie en “superverspreider”-gevalle.

Ons moet aanhou om ons maskers ten alle tye te dra wanneer ons in die openbaar is, ons afstand van ander te hou en altyd seker te maak dat vensters oop is sodat vars lug deur kan vloei.

As ons aanhou om hierdie regulasies te volg, as ons die infeksiekoers laag hou en, belangrikste van alles, as ons ʼn noemenswaardige deel van die volwasse bevolking inent, sal ons die pandemie beteuel en dit uiteindelik laat afneem.

In ʼn poging om die styging in infeksies te bekamp, het ʼn aantal lande regoor die wêreld besluit om reisbeperkings vanaf ander lande in te stel.

Die Verenigde Koninkryk het ʼn reisverbod op Suid-Afrikaners geplaas deur ons land op hul rooilys te plaas.

Dit het ons in ʼn ongunstige posisie geplaas, aangesien die Verenigde Koninkryk een van Suid-Afrika se grootste bronne van toerisme vanuit die Noordelike Halfrond is en ook ʼn belangrike handelsvennoot van ons land is.

Waar die VK se wetenskaplikes besorg was oor die Beta-variant in Suid-Afrika, is die Delta-variant inderwaarheid nou by verre die mees dominante variant in die land.

Vroeër vandag het ek hierdie saak telefonies met Britse Eerste Minister Boris Johnson bespreek. Ek het Suid-Afrika se saak aan hom bepleit en hy het sy begrip daarmee al te goed te kenne gegee.

Ons het saamgestem dat besluite van hierdie aard op wetenskaplike feite geskoei moet wees en ek is hoopvol dat daar ʼn positiewe uitkoms sal wees wanneer hierdie saak in die komende dae aangespreek en hersien word.

Landgenote,

Ons grootste prioriteit is nou om te verseker dat die ekonomie so gou as moontlik herstel sodat ons werksgeleenthede kan skep en besighede weer op die been kry.

Die enigste manier om dit reg te kry is as meer Suid-Afrikaners gouer die keuse maak om ingeënt te word.

Sodra die meerderheid van ons bevolking ingeënt is, kan ons Suid-Afrika as ʼn veilige besteming verklaar en toeriste terugverwelkom oor die somerseisoen.

Ons kan sportbyeenkomste en konserte hervat, die beperkings op restaurante en kroeë lig en mense aanmoedig om veilig na hul werksplekke, winkels en plekke in die openbaar terug te keer.   

As ons ons inentingsmikpunt teen die einde van die jaar bereik, kan ons verdere beperkings vermy en ons ekonomie weer op dreef kry.

Ek moedig julle aan om gebruik te maak van die Vooma-inentingsnaweke.

Kom ons almal gaan en word ingeënt.

Kom ons vat ons vriende en familie wat nog nie ingeënt is nie, om ingeënt te word.

Kom ons bereik saam ons teiken van 70% teen Desember.

Mag God Afrika seën en aanhou om haar mense te beskerm.

Ek dank U.

Share this page

Similar categories to explore