President Cyril Ramaphosa: Suid-Afrika se Reaksie op die KOVID-19 Pandemie

My mede-Suid-Afrikaners,

Sedert ek julle 14 dae gelede toegespreek het, het ons ʼn stryd aan twee fronte geveg – eerstens teen die dodelike koronavirus en tweedens teen die aksies van diegene wat onstabiliteit en chaos in ons land wou ontlok.

Ons het al ons hulpbronne saamgesnoer om stabiliteit en orde in KwaZulu-Natal en Gauteng te herstel, om te verseker dat ons die situasie stabiliseer en dat die geweld van twee weke gelede tot ʼn einde gebring is.

Om hierdie twee krisisse aan te spreek, moet ons onmiddelik verskeie aksies van stapel stuur.

Eerstens moet ons die verspreiding van die virus bekamp en die impak daarvan op die ekonomie beperk.

Tweedens moet ons ons inentingsplan vervroeg sodat die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaanse volwassenes teen die einde van die jaar ingeënt sal wees.

Derdens moet ons verseker dat vrede en stabiliteit regoor die land behoue bly en dat daar geen verdere gevalle van geweld plaasvind nie.

Vierdens, na aanleiding van beide die pandemie en die onlangse geweld, is dit nodig dat ons ondersteuning en verligting bied aan behoeftige huishoudings om die teenspoed wat hulle tans deurgaan, te verlig en hongersnood te verminder.

Vyfdens moet ons ons besighede help om weer op die been te kom. Hierdie is besighede wat tans ly weens die plundering en vernietiging van eiendom asook weens die pandemie en die nodige maatreëls wat ons in plek moes stel om die pandemie te bekamp.

Laastens moet ons die implementering van ons ekonomiese herbou- en herstelplan bespoedig om ons ekonomie te herbou, werksgeleenthede te skep en inklusiewe groei aan te spoor.

Die koronaviruspandemie is tans die grootste bedreiging vir ons volk se lewens en gesondheid asook vir die herstel en transformasie van ons ekonomie.

Gevolglik is dit nodig dat ons aanhou om alles in ons vermoëns te doen om die verspreiding van die virus te beperk.

Die nuutste syfers toon dat ons merendeels oor die ergste van die derde vlaag infeksies is, alhoewel daar dele in die land is waaroor ons steeds bekommerd moet wees, aangesien die infeksiekoers nie tekens van afname toon nie.

Die maatreëls wat ons vir die afgelope 28 dae in plek gestel het, tesame met die nakoming van basiese gesondheidvoorkomingsmaatreëls deur Suid-Afrikaners, was doeltreffend in die beperking van die infeksiekoers.

Die gemiddelde aantal daaglikse nuwe infeksies in die afgelope week was ongeveer 12 000 nuwe gevalle per dag – ʼn afname van 20% in vergelyking met die vorige week.

In die afgelope twee weke het die aantal nuwe infeksies in Gauteng – wat die brandpunt van die derde vlaag was – ʼn bestendige afname getoon.

Soos ons egter voorheen genoem het, is daar merkbare verskille tussen die provinsies.

Soos wat die infeksiekoers in Gauteng afneem, styg die aantal daaglikse nuwe infeksies in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Daar is ook ʼn kommerwekkende styging in infeksies in die Noord-Kaap, na ʼn tydperk van redelike stabiliteit.

In al hierdie gevalle word die infeksiekoers opgejaag deur die Delta-variant, wat – soos voorheen genoem – baie meer aansteeklik is as vorige variante. 

Nou, meer as ooit tevore, moet ons die basiese voorsorgmaatreëls volg om te keer dat mense mekaar aansteek en só die verspreiding van die virus beperk.

Ons weet dat binnenshuise byeenkomste, veral in plekke met swak ventilasie, een van die groot oorsake is van opwellings van die pandemie en “superverspreider”-gevalle.

Ons moet aanhou om ons maskers ten alle tye te dra wanneer ons in die openbaar is, ons afstand van ander te hou en altyd seker te maak dat vensters oop is sodat vars lug deur kan vloei.

Die algehele afname in nuwe infeksies beteken dat dit nou moontlik is om geleidelik sommige van die beperkings op byeenkomste, mense se kom en gaan, en die verkoop van alkohol op te hef.

Op aanbeveling van die ministeriële advieskomitee vir KOVID-19 en na aanleiding van insette van die presidensiële koördineringsraad het die Kabinet vanmiddag besluit dat die land vanaf ʼn aangepaste waarskuwingsvlak 4 na ʼn aangepaste waarskuwingsvlak 3 geskuif kan word.

Dit sal later vanaand van krag word, sodra die regulasies in die Staatskoerant gepubliseer is. 

Dit beteken dat:

  • Die aandklokreël steeds geld vanaf 22:00 tot 04:00.
  • Interprovinsiale reis vir ontspanningsdoeleindes hervat mag word.
  • Nie-noodsaaklike ondernemings soos restaurante, kroeë en fiksheidsentrums mag heropen. Hierdie ondernemings moet egter om 21:00 sluit om hul werknemers en klante in staat te stel om voor 22:00 tuis te wees.
  • Byeenkomste sal toegelaat word, maar is beperk tot ʼn maksimum van 50 mense by binnenshuise byeenkomste en 100 mense in die buitelug.

Waar saamkomplekke te klein is om hierdie getalle te hanteer met betrekking tot die voorgeskrewe sosiale distansiëring, mag daar nie meer as 50% van die saamkomplek se kapasiteit gebruik word nie.

Byeenkomste sluit in godsdienstige byeenkomste, politieke byeenkomste asook sosiale byeenkomste.

Die beperkings op die kapasiteit van saamkomplekke geld ook vir restaurante, fiksheidsentrums, kroeë en diesmeer.

  • Bywoning van begrafnisse en verassings mag nie 50 mense oorskry nie en alle sosiale distansiërings- en gesondheidsmaatreëls moet gevolg word.

Nagwake en byeenkomste na die afloop van begrafnisse word steeds nie toegelaat nie.

  • Die verkoop van alkohol by winkels vir gebruik buite die perseel sal toegelaat word tussen 10:00 en 18:00 van Maandag tot Donderdag.

Alkoholverkope vir gebruik op die perseel sal toegelaat word soos volgens die lisensievoorwaardes tot en met 20:00.

  • Skole sal môre, Maandag 26 Julie 2021, heropen met streng gesondheidsorgmaatreëls en ander maatreëls soos aangekondig deur die minister van basiese onderwys.

Dit bly verpligtend vir elke persoon om ten alle tye ʼn gesigmasker wat die mond en neus bedek in die openbaar te dra.

Die eienaars en bestuurders van openbare geboue, sentrums, winkels, restaurante, taxi’s en busse dra die verantwoordelikheid om seker te maak dat mense op hul persele of in hul voertuie maskers dra.

Hulle moet ook verseker dat voldoende sosiale distansiëringsmaatreëls in plek gestel is en nagekom word.

Dit is belangrik om te onthou dat dit ʼn oortreding van die wet is as die aantal mense op ʼn perseel of in ʼn voertuig die maksimum aantal klante of werknemers wat toegelaat is, oorskry.

Soos wat ons die beperkings ophef, moet ons in gedagte hou dat die infeksiekoers steeds hoog is en dat ons steeds versigtig moet bly.

Ons hou steeds vol dat ons mees doeltreffende wapen in die stryd teen KOVID-19 ʼn doeltreffende en omvattende inentingsprogram is.

In die afgelope paar weke het ons inentingsveldtog goed op dreef gekom.

Ons dien nou meer as 240 000 inentings per weeksdag toe.

ʼn Maand gelede het hierdie syfer op ongeveer 100 000 inentings per weeksdag gestaan.

Gevolglik het ons tot dusver meer as 6.3 miljoen inentings toegedien, met meer as 10% van ons bevolking wat reeds ʼn dosis entstof ontvang het.

Dit is danksy noue samewerking tussen die Staat en die privaatsektor en met die aktiewe ondersteuning van ander maatskaplike vennote.

In die komende weke sal ons die inentingskoers wesenlik verhoog.

Ons is tans besig om die aantal inentingspunte te vermeerder en die inentingsregistrasiestelsel op te skerp.

Ons sal ook ons inentingskapasiteit oor naweke opstoot.

Ons sal toelaat dat persone tussen die ouderdom van 18 en 34 vanaf 1 September 2021 ingeënt kan word.

Dit is benewens die ouderdomsgroepe wat tans in aanmerking vir inenting is, naamlik almal bo die ouderdom van 35.

Ons is nou in staat om mense toe te laat om sonder ʼn afspraak na ʼn inentingspunt te gaan, te registreer en ingeënt te word.

Hierdie wesenlike toename in die inentingskoers is moontlik danksy meer inentings wat beskikbaar gestel word.

Binne die volgende twee tot drie maande verwag ons 31 miljoen bykomende dosisse vanaf Pfizer en Johnson & Johnson.

Dit beteken dat daar genoegsame dosisse entstof vir die res van die jaar beskikbaar sal wees.

Ons het uitstekende vordering gemaak met die aanpak van die uitdagings wat ons as land en die kontinent in die oë gestaar het met betrekking tot inentings.

Danksy ons onderhandelinge met farmaseutiese maatskappye en die regerings van verskeie lande met ontwikkelde ekonomieë kon ons land en ons kontinent entstowwe bekom en is ons nou in staat om self ook entstowwe op die kontinent te vervaardig. 

Aspen, in Gqeberha, sal vanaf Oktober entstowwe vervaardig uitsluitlik vir die kontinent van Afrika.

ʼn Paar weke gelede het die Wêreldgesondheidsorganisasie Suid-Afrika gekies om die plaaslike middelpunt van die vervaardiging van entstowwe te wees.

ʼn Paar dae gelede is die Biovac-instituut in Kaapstad aangestel om die Pfizer-BioNTech KOVID-19-entstof te vervaardig vir verspreiding in Afrika.

Terwyl die voorraad inentings meer as genoeg is vir korttermyndoeleindes, moet ons seker maak dat hierdie voorraad betyds en sonder ontwrigting afgelewer word.

Dit is ook belangrik om die verskyning van nuwe variante te monitor en toegang te verseker tot toekomstige entstowwe wat spesiaal aangepas is vir sulke variante.

Ek spoor alle Suid-Afrikaners aan om vir inenting te registreer sodra hulle daarvoor in aanmerking kom, via WhatsApp of USSD, aanlyn of deur die tolvrye nommer te skakel by 0800 029 999.

Landgenote,

Twee weke gelede is die provinsies van KwaZulu-Natal en Gauteng deur doelbewuste, beplande en gekoördineerde dade van geweld getref wat daarop gemik was om onlustoestande te skep.

Dit het gelei tot die verlies van meer as 300 lewens, die plundering van winkels, pakhuise en fabrieke, skade aan kritiese infrastruktuur en die ontwrigting van die land se ekonomie.

Ons is steeds besig om die skade van hierdie geweld te bereken en dit eens te word met die verwoesting wat gesaai is.

Ek praat van die lewens wat kortgeknip is en die families wat geliefdes verloor het.

Ek praat van die besigheidseienaars wat in een enkele dag alles verloor het wat jare geneem het om op te bou.

En van die moeders en vaders wat hul werke verloor het toe pakhuise afgebrand is en nou wonder waar hulle kos vir hul kinders gaan kry.

Dit is ons plig om diegene wat deur die geweld geraak is, te ondersteun en seker te maak dat dit nooit weer gebeur nie.

Om te verseker dat orde en stabiliteit gehandhaaf word, veral in KwaZulu-Natal en Gauteng, het ons die ontplooiing van lede van die SAPD en die SANW verhoog.

Ons het hierdie ontplooiing volgehou in areas wat as potensiële brandpunte identifiseer is, asook by ekonomiese en staatsinfrastruktuur van sleutelbelang, winkelsentrums, pakhuise en fabrieke.

Sekuriteitsmagte is ook daarvoor verantwoordelik om kritiese verskaffingsroetes oop te hou en die vervoer van goedere te bewaak.

Danksy hierdie maatreëls kon ons die orde in geraakte areas herstel asook hawens, spoorvragnetwerke en padvervoer tot volle operasionele kapasiteit herstel.

Ondersoeke in die geweld en diegene daaragter duur voort, gelei deur ons gespesialiseerde wetstoepassingseenhede met die oog op spoedige inhegtenisnames en doeltreffende vervolgings.

Spesiale maatreëls is in plek gestel om die groot aantal verdagtes te hanteer wat in hegtenis geneem is vir oortredings verwant aan die onluste.

Die SAPD het hul gemeenskapspolisiëringstrategie geaktiveer in dele regoor die land wat gemeenskappe betrek in die voorkoming van verdere gevalle van misdaad en onlus.

Ek wil dit baie duidelik maak dat wet en orde behou sál word.

Daar sal verdere inhegtenisnames wees, veral van diegene wat hierdie geweld en onlus wat tot soveel verwoesting en lewensverlies gelei het, bedink het, beplan het en aangevuur het.

Alhoewel daar weer kalmte in hierdie areas heers, word die impak van die geweld en verwoesting steeds gevoel deur huishoudings, werknemers en besighede.

Ons neem tans beslissende aksie om die lewensbestaan van miljoene mense wat deur die pandemie en die onluste bedreig word, te beveilig.

Vanaand kondig ons ʼn reeks maatreëls aan om die herstel van die ekonomie te ondersteun en verligting te bied aan die behoeftiges en diegene wat weerloos gelaat is weens die maatreëls wat ons moes instel om KOVID-19 te bekamp.

Om steun te verleen aan diegene wat nie hulself kan ondersteun nie, het ons die maatskaplike verligting van noodtoelae weer in plek gestel om ʼn maandelikse betaling van R350 te verskaf tot aan die einde van Maart 2022. 

Dit is moontlik gemaak deur die klein verbetering te siene in ons staatsinkomste.

Ons stel hierdie toelae ook beskikbaar aan meer mense deur versorgers wat tans werkloos is en ʼn kinderonderhoudstoelae ontvang, in aanmerking te bring vir die maatskaplike verligting van noodtoelae.

Besonderhede oor die herinstelling van die toelae, insluitend die aansoekproses, sal binnekort bekendgemaak word.

Dit sal voortbou op die sterkte van ons bestaande maatskaplike beskermingstelsel, wat een van die grootste prestasies van ons demokrasie is.

Benewens die voedselverligting wat deur die departement van maatskaplike ontwikkeling verskaf word, sal die Staat R400 miljoen bydra tot die krisisverligtingsfonds wat deur die Solidariteitsfonds gestig is om te help met die dringende behoeftes van die geraakte gemeenskappe.

Ons stel ook maatreëls in plek om besighede te help herbou.

Die dringendste behoefte is om te verseker dat die besighede wat beskadig of geplunder is, so gou as moontlik kan herbou en heropen.

Ons is een van die min lande in die wêreld wat ʼn versekeringsmaatskappy – naamlik SASRIA – in staatbesit het wat dekking bied teen gevalle van openbare misdaad, stakings, betogings en onluste.

Besighede wat verseker is, sal deur SASRIA gedek word.

SASRIA het hulle daartoe verbind om die betaling van alle geldige eise te bespoedig en is in samewerking met privaatversekeraars om seker te maak dat die assesserings onverwyld geskied.

Die Staat sal seker maak dat SASRIA in staat is om al hul verpligtinge na te kom en sal enige nodige steun in hierdie verband verskaf.

Sommige besighede wat slagoffers van die geweld en onluste was, is egter nie verseker nie. Dit sluit in baie klein en medium-grootte besighede, formeel en informeel. 

Baie van hierdie besighede het álles verloor, en sal nie op eie stoom kan herbou nie.

Ons sal hulle nie in hul tyd van nood agterweë laat nie.

Ons werk dus om steun te verleen aan onversekerde besighede wat deur die geweld geraak is.

Die Staat sal fondse opsy sit wat spesifiek hierop gemik is en ons sal binnekort ʼn meganisme aankondig waardeur sulke besighede vir steun kan aansoek doen.

Ons sal ook befondsing vir KMO’s wat deur die pandemie geraak is, herprioritiseer deur middel van ʼn eenmalige oorlewingsbefondsingsmeganisme vir besighede.

Ons is ook in samewerking met groot sake-ondernemings om hul bydrae tot die steun van KMO’s, werkskepping en die uitwissing van hongersnood en armoede te vas te stel.

Twee weke gelede het ons aangekondig dat die KOVID-19 TERS-skema verleng sal word vir die sektore wat in die afgelope 28 dae deur waarskuwingsvlak 4 se beperkings geraak is.

Daar kan nou hiervoor aansoek gedoen word en die WVF sal betalings so gou moontlik verwerk om werkers wat nie ʼn inkomste verdien het nie, te ondersteun.

Van grootste belang is dat die WVF ʼn inkomste sal verskaf aan alle werknemers wat hul werk verloor het weens die onlangse onluste.

Dit sal verseker dat werksgeleenthede beskerm word en dat werknemers steeds ʼn inkomste verdien terwyl die besighede herbou word.

Alhoewel die TERS-skema kritiese steun verleen aan baie sektore wat geforseer is om hul deure gesluit te hou, is daar steeds ʼn behoefte om selfs nóg verligting te verskaf om besighede te help om te herbou.

Ons verleng dus die belastingsaansporing vir werkskepping vir ʼn tydperk van vier maande om alle werknemers wat minder as R6 500 verdien, in te sluit en om die aansporingsbedrag te verhoog na tot R750 per maand.

Dit sal werkgewers aanspoor om werknemers aan te stel en te behou, veral diegene in die kleinhandel- en gasvryheidsektore wat die swaarste getref is.

Ons sal ook die betaling van LBS-belasting vir ʼn tydperk van drie maande opskort om besighede se kontantvloei te verhoog, met ʼn outomatiese opskorting van 35% van LBS-belastingaanspreeklikheid vir werkgewers met ʼn inkomste van minder as R100 miljoen.

Die betaling van aksyns deur die alkoholsektor sal opgeskort word vir ʼn tydperk van drie maande om die druk op die sektor te verlig terwyl dit herstel.

Hierdie ingrypings is daarop gemik om soveel as moontlik verligting te bied aan individue en besighede wat steun benodig, sonder om ons fiskale volhoubaarheid te in gevaar te stel. 

Geen land kan verwag dat haar ekonomie sal groei of haar burgers in vrede en harmonie sal leef terwyl baie van daardie burgers eenkant gestoot word, honger ly en uitgesluit word.

Die impak van onlangse gebeure op ons ekonomie het die implementering van ons ekonomiese herbou- en herstelplan soveel meer van belang gemaak.

Ons is in noue samewerking met ons maatskaplike vennote aan verdere maatreëls wat ons kan instel om armoede aan te spreek, die implementering van hervorming te bespoedig, inklusiewe groei te dryf en werkskepping te bevorder.

Ons sal binnekort nog aankondigings in hierdie verband kan maak.

Landgenote

Die invloed van die onlangse geweld op beleggingsvertroue is ʼn groot bedreiging vir ons ekonomiese herstel.

Ons is besig met stappe om die kapasiteit en gereedheid van ons sekuriteitsmagte te versterk om soortgelyke gevalle in die toekoms te vermy.

Dit sluit in om in die vervolg vinniger en meer beslissend te reageer op verslae soos dié wat ons tans ontvang oor afpersing deur kriminele groepe tydens die herbouproses van besighede, veral in KwaZulu-atal.

Enigeen wat dreigemente maak of deelneem aan geweld sal die gevolge daarvan dra.

Terwyl ons toegee het dat ons te stadig reageer het, het ons sekuriteitsmagte bewys dat hulle in staat is om wet en orde te handhaaf.

Van die grootste belang is dat Suid-Afrikaners aan die wêreld getoon het dat ons verbind is tot ʼn demokratiese regering, dat ons geweld en misdadigheid nie sal duld nie, en dat ons ons man sal staan teen enigeen wat ons land wil destabiliseer.

Ons sterkpunt is gesetel in ons Konstitusie, in die beskerming wat dit gee aan ons regte en vryhede, en ons oop en demokratiese samelewing.

Ons konstitusionele orde staan stewig.

Met die herbou en herstel van ons land na afloop van die onlangse geweld en die nagevolge van die pandemie, kom ons luister na die beroep wat ons Konstitusie op ons doen.

As we move to rebuild our country from the effects of this violence and from the impact of this pandemic, let us do what our Constitution calls on us to do.

Ons moet volhou om die verdeeldheid van die verlede te genees en ʼn samelewing vorm wat gevestig is op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte.

Die fondasie van ons demokrasie is geskoei op die wil van die nasie.

Om ons demokrasie sterker te maak, móét ons die lewensgehalte van alle burgers verbeter en die potensiaal van elke persoon ontsluit.

To strengthen our democracy we are called upon to improve the quality of life of all citizens and free the potential of each person.

Dit is ons gesamentlike plig as Suid-Afrikaners om saam te werk om ʼn verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat haar regmatige plek as pronkstaat in die kroon van nasies kan inneem.

Kom ons neem mekaar se hande om saam die Suid-Afrika van ons drome te bou, ten spyte van die uitdagings wat ons in die oë staar.

God seën Suid-Afrika.

Nkosi Sikelel' iAfrika.

Morena boloka setjhaba sa heso.

Mudzimu fhatutshedza Afrika Tshipembe.

Xikwembu katekisa Afrika-Dzonga.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore