Verklaring deur President Cyril Ramaphosa oor die Vordering in die Nasionale Poging om die KOVID-19 Pandemie te Bekamp

Landgenote,

Ek wil vanaand begin deur julle te vertel van dít wat ons as nasie onlangs ervaar het oor ʼn tydperk van een week met betrekking tot die werk waarmee ons besig is in die gesondheidsorgstelsel in een van ons provinsies.

Tussen 14 en 20 Augustus vanjaar het die Wes-Kaapse departement van gesondheid syfers saamgestel van die mense ouer as 60 wat KOVID-19 opgedoen het.

Slegs 30 van die 729 mense ouer as 60 wat daardie week met KOVID-19 gehospitaliseer is, is ingeënt.

Dit beteken dat 699 van daardie mense nie ingeënt is nie.

En uit die 292 mense ouer as 60 wat daardie week aan KOVID-19 gesterf het, was 287 nie ingeënt nie, wat beteken dat slegs vyf ingeënt was.  

Met ander woorde, 96% van die mense ouer as 60 wat gehospitaliseer is in die provinsie en meer as 98% van die mense wat gesterf het, was nie ingeënt nie.

ʼn Soortgelyke patroon kan gesien word in hospitale regoor die land.

Ons weet dat iemand wat ingeënt is, nog steeds met KOVID-19 aangesteek kan word en ook ander mense met die virus kan aansteek.

Wat ons egter kan sien is dat baie min mense wat teen KOVID-19 ingeënt is, hewig siek word as hulle KOVID-19 kry en dat bittermin van hulle in die hoësorgeenheid opeindig of ventilators benodig.

Mees belangrik – mense wat teen KOVID-19 ingeënt is, is by verre minder geneig om aan die siekte te sterf.

Suid-Afrika is vinnig besig om as land ʼn inentingpunt te word.

Meer as ʼn kwart van alle volwasse Suid-Afrikaners het reeds minstens een inentingsdosis ontvang en meer as sewe miljoen mense is ten volle ingeënt.

In die Oos-Kaap, Limpopo en Wes-Kaap is meer as een uit elke vyf volwassenes ten volle ingeënt.

ʼn Volle 14.6 miljoen dosisse entstof is tot dusver in die land toegedien.

Ons dien tans ʼn miljoen dosisse elke vier tot vyf dae toe.

Die Staat het genoeg inentings om die hele volwasse bevolking van die land in te ent, en die voorraad inentings is nie meer ʼn stremming nie.

Daar is egter soveel meer wat ons nog moet doen.

En soos wat ons die manier waarop ons dinge doen, verbeter, kry ons meer en meer gedoen.

Ons is besig om die inentingspas te versnel en seker te maak dat ons die kwesbare persone bereik wat die grootste gevaar loop om ernstig siek te word.

Alhoewel almal bo die ouderdom van 18 jaar nou ingeënt kan word, fokus ons ons aandag en hulpbronne op mense ouer as 60 en mense met komorbiditeite.

Tot dusver is 57% van mense ouer as 60 ingeënt.

Dit is ʼn groot prestasie, maar ons moet seker maak dat die ander 43% ook ingeënt word.

Ons vind dat meer vrouens as mans na vore kom om teen KOVID-19 ingeënt te word.

Alhoewel die syfer aan’t verbeter is, is mans steeds traag om ingeënt te word.

Ons versprei die boodskap in alle landstale om seker te maak dat mense besef en verstaan dat hierdie inentings veilig, doeltreffend en gratis is.

Massas mense word regoor die wêreld ingeënt, met meer as vyf en ʼn half miljard dosisse entstof wat tot dusver wêreldwyd toegedien is.

Daar is oorweldigende bewyse vanuit honderde lande dat inentings veilig is en doeltreffende beskerming teen die virus bied.

Ons het stappe geneem om toegang tot inentings te vergemaklik, ongeag plek of tyd.

Ons het tans 3 000 openbare en privaatinentingspunte regoor die land en meeste privaatinentingspunte sal enige lid van die publiek inent, ongeag of die persoon aan ʼn mediese fonds behoort of nie.

Ek wil dit beklemtoon dat die inentingsprogram oop is vir alle mense in Suid-Afrika, ongeag of hulle Suid-Afrikaanse burgers is of nie.

Dit is belangrik om te onthou dat hierdie ʼn nuwe virus is wat die wêreld nog nie vantevore trotseer het nie.

Alhoewel niemand kan voorspel hoe die virus verder gaan muteer nie, het die wetenskaplike gemeenskap innoverende maniere ontwikkel om die ontwikkeling van nuwe variante na te spoor.

As baie mense oningeënt bly en gevolglik maklik aangesteek kan word, is die kanse dat nuwe en meer gevaarlike variante ontwikkel baie groter.

Dit is hoekom inenting tans ons beste wapen te midde hierdie pandemie is.

Hoe gouer ons almal ingeënt is, goe gouer kan ons sportbyeenkomste heropen vir toeskouers.

Hoe gouer ons almal ingeënt is, goe gouer kan ons toeriste in ons beeldskone land verwelkom.

Wanneer ons almal ingeënt is, kan ons weer saam met vriende en familie kuier en terugkeer na ons werksplekke.

Wannneer ons almal ingeënt is, kan ons ekonomie weer op dreef kom en volstoom voortgaan om die werksgeleenthede wat ons land so dringend benodig, te skep.

Van groot belang is dat ons ons kritieke gesondheidsingrypingsmaatreëls afskaf en die druk op ons gesondheidsorgwerkers verlig.

Die verantwoordelikheid rus op iedere en elkeen van ons om ons familie, vriende en kollegas te oortuig dat die inentings veilig is en dat dit hul lewens kan red.

Die vorige keer wat ek julle toegespreek het, was ons op pad na die piek van die derde vlaag infeksies, wat grootliks deur die Delta-variant van die virus gedrewe was.

Die Delta-variant is baie meer aansteeklik as vorige variante en omdat dit soveel meer mense siek gemaak het, het dit groot druk op ons gesondheidsorgfasiliteite geplaas.

Ons het op daardie stadium gewaarsku dat die derde vlaag erger sou wees en langer sou duur as die vorige twee vlae infeksies, en ons woorde is bewaarheid.

Alhoewel die derde vlaag nog nie verby is nie, sien ons oor die afgelope paar weke ʼn bestendige afname in die aantal infeksies regoor die land.

Die gemiddelde aantal daaglikse nuwe infeksies oor die afgelope week is 29% laer as die voorafgaande sewe dae en 48% laer as die sewe dae voor dit.

Waar die derde vlaag sy toppunt baie vroeër bereik het in Gauteng en baie vinniger afgeneem het as in ander provinsies, is daar nou ʼn merkbare afname in al die provinsies.

Die uitsondering is die Noord-Kaap en die Vrystaat, waar die aantal infeksies as deel van die bevolking betreklik hoog gebly het vir ʼn hele paar maande.

Ons fokus dus ons aandag op hierdie provinsies om te verstaan wat dit is wat hierdie infeksiegetalle so hoog hou en watter maatreëls nodig is om die getalle te laat sak.

Met die afname in infeksies in al die provinsies, het die ministeriële komitee vir KOVID-19 aanbeveel dat beperkings op die beweging van mense en byeenkomste verslap word.

Hierdie aanbevelings is bespreek deur die nasionale koronavirusbevelraad en met premiers, burgemeesters en tradisionele leiers in die president se koördineringsraad. Die aanbevelings is ook bespreek met die leiers van politieke partye wat in die Parlement verteenwoordig word en met godsdienstige organisasies.

Na aanleiding van hierdie samesprekings het die Kabinet besluit dat die land kan verskuif van ʼn aangepaste waarskuwingsvlak 3 na ʼn aangepaste waarskuwingsvlak 2 vanaf môre, 13 September 2021.

Dit beteken dat:

  • Die aandklokreël sal geld vanaf 23:00 tot 04:00.
  • Nie-noodsaaklike besighede soos restaurante, kroeë en fiksheidsentrums teen 22:00 moet sluit. Dit sal hul werknemers in staat stel om tuis te keer voor die aandkloktyd.
  • Alle byeenkomste sal beperk wees tot ʼn maksimum van 250 mense binnenshuis en 500 in die opelug.

Waar ʼn vergaderplek te klein is om hierdie getalle te akkommodeer in terme van sosiale distansiëring, mag daar nie meer as 50% van die plek se kapasiteit toegelaat word nie.

Dit sluit in godsdienstige, politieke en sosiale byeenkomste asook restaurante, kroeë, tavernes en soortgelyke vergaderplekke.

  • Die verkoop van alkohol deur winkels vir gebruik buite die perseel sal toegelaat word tussen 10:00 en 18:00 vanaf Maandag tot Vrydag.
  • Alkoholverkope vir gebruik op die perseel sal toegelaat word soos per die lisensievoorwaardes tot en met 22:00.

Die gebruik van alkohol in openbare plekke bly verbode.

Hierdie maatreëls sal oor twee weke in heroorweging gebring word, afhangend van die stand van sake in terme van die pandemie.

Ons sal ook verdere inligting verskaf oor die benadering tot “inentingspaspoorte”, wat as bewys kan dien van inenting vir verskeie doeleindes en samekomste.

Verskeie belangrike maatreëls bly van krag.

Dit bly verpligtend vir elke persoon om ten alle tye ʼn gesigmasker wat die mond en neus bedek in openbare plekke te dra.

Dit is ʼn kriminele oortreding om hierdie reël te verontagsaam, en die bestuur van winkels en restaurante asook die bestuurders van taxi’s en busse dra die verantwoordelikheid om seker te maak dat hul kliënte maskers dra en dat die vereiste sosiale distansiëringmaatreëls toegepas word.

Begrafnisse bly beperk tot 50 mense en, soos tevore, word nagwake, byeenkomste na begrafnisse en nabetragtingsbyeenkomste (“after tears”) nie toegelaat nie.

Ons is in staat om hierdie beperkings te verslap danksy die harde werk van alle Suid-Afrikaners om die regulasies en basiese gesondheidsmaatreëls na te kom.

Ons is veral dankbaar vir daardie sektore in die gemeenskap wat al vir ʼn geruime tyd beperkings op hul bedrywighede moes verdra. 

Ek verwys hier na godsdienstige gemeenskappe van alle gelowe wat nie in staat was om aanbidding uit te voer en na die behoeftes van hul lidmate om te sien soos hulle normaalweg sou nie.

Ek verwys na beeldkunstenaars, promotors, vermaaklikheidskunstenaars en kulturuele werkers wat ander uitlaatkleppe vir hul werk moes vind en baie swaargekry het.

Ek verwys na die eienaars van restaurante, kroeë, tavernes, hotelle, konferensiesentrums en andere in die gasvryheidsektor wat ʼn reuse afname in hul bedrywighede moes aanskou.

Ons erken hierdie ontberinge en sal voortgaan om maniere te vind, binne ons vermoëns, om hierdie sektore te ondersteun en stappe te neem om hul herstel te bewerkstellig.

Die inentingsverldtog bied die geleentheid om verskeie van die persele wat gesluit moes by, te heropen; en ons sal voortgaan om met alle betrokke partye in noue samewerking te bly om die veiligste en vinnigste manier te vind om hierdie te bewerkstellig. 

Dit moet beklemtoon word dat die derde vlaag nog nie verby is nie en dat slegs deur daadwerklik op te tree – as individue en gesamentlik – ons die aantal nuwe infeksies verder kan bekamp.

Sodra ons dít reggekry het, is ons volgende prioriteit om ʼn opswaai in infeksies te verhoed.

Ons dringendste taak is om ons bevolking in te ent sodat soveel as moontlik mense beskerm is teen erge ongesteldheid of die dood voordat daar weer ʼn opswaai in infeksies is.

Hoe meer mense voor Desember ingeënt word, hoe minder is die waarskynlikheid dat ons ʼn verwoestende vierde vlaag oor die feestyd sal ervaar.  

Dit is ʼn uitstekende rede vir almal van ons wat nog nie ingeënt is nie om na ʼn inentingspunt te gaan en ingeënt te word, vir jou eie veiligheid asook dié van ons land.

Ons moet in alle erns verseker dat daar voldoende lugvloei en ventilasie is in ons huise, werksplekke en enige plekke waar mense byeenkom.

KOVID-19 word deur die lug versprei en dus moet ons besorg wees as ons onsself in ingeperkte ruimtes sonder voldoende ventilasie bevind. 

Diegene verantwoordelik vir die reël van binnenshuise vergaderings en byeenkomste moet seker maak dat daar ʼn voldoende vloei van lug deur die perseel is.

Oor presies 50 dae gaan Suid-Afrikaners stembus toe vir die land se plaaslike verkiesings.

Tydens hierdie demokratiese proses is dit noodsaaklik dat ons steeds alles in ons vermoëns doen om ʼn opswaai in KOVID-19-infeksies te vermy.

Terselfdertyd moet ons seker maak dat die pandemie nie die vermoëns van alle Suid-Afrikaners om hul demokratiese reg uit te voer en hul plaaslike raadslede te verkies, belemmer nie.

Ek het hierdie saak vroeër vandeesweek met die leiers van politieke partye bespreek en alle partye het hulle daartoe verbind dat verkiesingsveldtogte gehoor sal gee aan die ramptoestandregulasies en alle gesondheidsmaatreëls. 

Ons moedig alle Suid-Afrikaners aan om hul reg om veldtog te voer verantwoordelik uit te voer en om hul gesondheid en die gesondheid van ander met sorg te beveilig.

Terwyl ons die stryd teen KOVID-19 verskerp, kan ons nie die ander pandemie wat soveel pyn en lyding in ons samelewing veroorsaak, ignoreer nie.

Ons het sopas Vrouemaand gevier, waar ons van plan was om die sukses van vroue in ʼn verskeidenheid velde te vereer.

In stede daarvan het ons land verskeie wreedaardige aanvalle deur mans op vroue aanskou.

Slegs in dié maand is daar ʼn aantal skrikwekkende misdade teenoor vroue en kinders gepleeg.

Daar was die Fort Hare regstudent, me. Nosicelo Mtebeni, wat vermoor is en wie se ligaam opgekap is in Oos-Londen; daar was die graad 1-leerder van Khensani-laerskool in Soshanguve, wat in die skool se badkamer verkrag is; daar was me. Palesa Maruping, wat gevind is waar sy gehang is in ʼn huis in Khuma Location in die Noord-Wes; en me. Pheliswa Sawutana, wat doodgewurg is in die Kosovo-informele nedersetting in Kaapstad.

Hierdie is slegs die gevalle wat in die media berig is; daar is nog gevalle wat nie vermeld is nie.

Hierdie grusame dade van geweld kan nie ongestraf gelaat word nie.

Hulle moet ons voornemens om ʼn einde aan geslagsgebaseerde geweld te bring, versterk.

Ons moet ons werk hieraan op alle fronte versterk.

Die Nasionale Vergadering het drie kritiese wetgewingstukke goedgekeur wat die kriminele regstelsel verder sal versterk en verseker dat mense wat skuldig bevind word aan geslagsgebaseerde geweld, swaar strawwe opgelê word.

Die howe lewer toenemend uitsprake waar hulle lewensvonnisse oplê vir gevalle van statutêre verkragting, roof en sake van verkragting met verswarende omstandighede.

Ons gaan voort om al die pilare van die nasionale strategiese plan teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord te implementeer.

Uiteindelik sal die sukses van hierdie werk afhang van die aksie wat elkeen van ons neem om hierdie pandemie van geweld teen vroue en kinders te beëindig.

Ek wil graag weereens ʼn beroep doen op die mans in ons land om te begryp dat die regte en vryhede wat deur ons Grondwet gewaarborg word aan alle mense behoort, vroue eweseer as mans.

Ons gaan voort om maatreëls te implementeer om huishoudings, werknemers en besighede wat deur die pandemie asook deur die openbare geweld in Julie in dele van KwaZulu-Natal en Gauteng geraak is, te steun.

Sedert ons aansoeke vir die maatskaplike verligting van noodtoelae in die eerste week van Augustus heropen het, het ons naastenby 13 miljoen aansoeke ontvang.

Uit hierdie is 8.3 miljoen aansoeke goedgekeur en betalings aan hierdie aansoekers het reeds begin.

Net meer as 3.7 miljoen aansoeke is afgekeur, hoofsaaklik omdat aansoekers ander bronne van inkomste aangedui het of reeds geregistreer is vir ander steun soos die Werkloosheidsverekeringsfonds of die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS).

Nagenoeg 845 000 aansoeke is steeds in die goedkeuringsproses.

Tesame met die ander maatreëls wat ons ingestel het, verskaf hierdie toelae kritiese steun aan werklose Suid-Afrikaners in hierdie swaar tye.

Landgenote,

Sedert die uitbreek van die pandemie het vir mekaar gesorg en het ons mekaar beskerm.

Met miljoene mense wat reeds ingeënt is en miljoene dosisse entstof in voorraad, beweeg ons al nader daaraan om die pandemie onder bedwang te kry. 

Die dag sal kom wanneer ons weereens byeen sal kan kom sonder beperkings, stadionne en musiek-venues sal kan vul, kan reis en vrylik rondbeweeg sonder die vrees dat ons gaan siek word of ons geliefdes gaan verloor.

Hoe gou hierdie dag gaan kom, hang van een ding af: hoeveel van ons ingeënt word en hoe vinnig dit geskied.

Ons het drie vlae van die infeksie oorkom danksy ons gesamentlike deursettingsvermoë en die nakoming van die basiese gesondheidsorgmaatreëls.

Kom ons maak dit ons doelwit om soveel as moontlik mense in te ent sodat ons kan voortgaan met die herbou van ons ekonomie en ons lewens.

Mag God Suid-Afrika en haar mense seën en beskerm.

Ek dank U.

Share this page

Similar categories to explore