President Cyril Ramaphosa: Suid-Afrika se vordering in die nasionale poging om die koronaviruspandemie (KOVID-19) die hoof te bied

Landgenote,

Dit is vandag die elfde dag van hierdie nuwe jaar.

Weereens wens ek julle alles wat mooi is toe vir 2021.

Ons het die jaar met hoop in ons harte afgeskop — hoop dat ons nasie genesing sal vind, dat die nuwe jaar vir ons mense verligting en troos sal bring, en dat mense se lewens en lewensbestaan herbou sal word.

As ons egter ons drome en aspirasies vir die jaar wil verwesenlik, sal ons moet saamstaan om die ernstige, voortdurende en erger wordende koronaviruspandemie hok te slaan.

Die pandemie in ons land is vandag op sy felste en meer verwoestend as ooit.

Die aantal nuwe infeksies, hospitaalopnames en sterftes is meer as ooit tevore sedert die eerste geval in ons land in Maart 2020 bevestig is.

Sedert Nuwejaarsdag het ons amper 190 000 nuwe gevalle van die koronavirus aangeteken.

Die land het vanjaar tot dusver meer as 4 600 KOVID-19-sterftes aangeteken.

Sedert die begin van die pandemie het Suid-Afrika ʼn kumulatiewe aantal van meer as 1.2 miljoen gevalle van KOVID-19 aangeteken.

Ons het meer as 33 000 sterftes aangeteken en meer as 148 000 mense is in hospitale opgeneem.

KwaZulu-Natal die provinsie met die hoogste gemiddelde aantal bevestigde gevalle oor die afgelope sewe dae, proporsioneel tot die bevolking, gevolg deur die Wes-Kaap, Gauteng, Limpopo en Mpumalanga.

Nuwe infeksies in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap het vinnig toegeneem en oorskry nou by verre die eerste vlaag se toppunt.

Infeksiegetalle in Gauteng neem eksponensieel toe en daar word verwag dat dit verder gaan styg wanneer inwoners van Gauteng na die feesseisoen huiswaarts keer.

Tog word ons bemoedig deurdat die tempo van nuwe infeksies in die Oos-Kaap, alhoewel steeds hoog, nou laer is as wat dit in die middel van Desember 2020 was.

Hospitaalopnamesyfers in verskeie dele van die land is nou heelwat hoër as tydens die eerste vlaag.

Daar is tans meer as 15 000 mense met KOVID-19 in hospitale regoor die land, wat aansienlike druk op gesondheidsorgfasiliteite, -personeel en -toerusting plaas.

Ongeveer ʼn derde van alle KOVID-19-pasiënte in hospitale ontvang suurstofbehandeling.

Daarom fokus ons gesondheidsorgfasiliteite intensief daarop om hul suurstofvoorraad te verhoog en veldhospitaalbeddens te aktiveer.

Vakante betrekkinge is besig om gevul te word en die persoonlike beskermingstoerustingvoorraad word gesamentlik met die Kantoor vir die Voldoening aan Gesondheidstandaarde gemonitor.

Navorsing deur ons wetenskaplikes het getoon dat die reuse styging in infeksies grootliks toegeskryf kan word aan ʼn nuwe variant van die koronavirus, genaamd 501.v2.

Dié variant is die eerste keer in November in Suid-Afrika identifiseer.

Ons weet dat dié nuwe variant van die virus baie vinniger as die vroeëre variante versprei.

Dit verduidelik hoekom soveel meer mense in ʼn korter tydperk die siekte gekry het.

Nuwe inligting wat vrygestel is, dui egter daarop dat dié nuwe variant nie mense sieker maak as die oorspronklike variante nie.

Dit plaas wel meer druk op die gesondheidstelsel omdat die gevalle so vinnig toeneem en hospitale gevolglik vinniger gevul word.

Een van die belangrikste dinge wat ons egter van dié nuwe variant weet, is dat ons die oordrag van die virus kan verhoed deur presies dieselfde maatreëls toe te pas wat ons nog die heeltyd gevolg het om ons en die mense rondom ons te beskerm.

Ons moet onthou dat die virus deur die lug versprei.

Ons moet dus die sogenaamde “drie Cs” vermy, naamlik “closed spaces, crowded places and close contact with others” oftewel geslote ruimtes, ʼn samedromming van mense en noue kontak met ander mense.

Omdat die nuwe variant meer aansteeklik is, is dit noodsaaklik dat elkeen van ons meer versigtig moet wees oor die plekke waarheen ons gaan en die aantal mense met wie ons interaksie het.

Ons moenie laat slap lê met enige van die gesondheidsmaatreëls wat ons tot dusver gevolg het nie.

Om die waarheid te sê, beteken die nuwe variant juis dat ons die nodige gesondheidsmaatreëls ywerig, inskiklik en koersvas moet volg.

Landgenote,

Ten spyte van die erns van die pandemie in ons land, is ons nie hulpeloos nie.

Soos ons oor die afgelope 10 maande bewys het , het ons optrede ʼn impak op die omvang van dié kwaal en die rigting waarin dit beweeg.

Ons het immers bewys dat wanneer ons saamwerk, ons weliswaar ʼn verskil kán maak.

Laat ons dus aan die begin van ʼn nuwe jaar ʼn duidelike pad na herstel bepaal.

Laat ons ooreenstem oor wat ons moet doen — en gaan doen — om die pandemie in 2021 te oorkom.

Eerstens moet ons alles moontlik doen om die tempo van die oordrag van die virus te vertraag en, soos voorheen, die infeksiekurwe af te plat.

Tweedens gaan ons ʼn reuse inentingsprogram onderneem sodat ons immuniteit onder die bevolking kan bewerkstellig en sodoende die verspreiding van die virus kan hokslaan.

As ons op dié twee oorhoofse take fokus en met beide dringendheid en doelgerigtheid optree, sal ons in staat wees om vele meer infeksies te vermy, vele meer lewens te red, ons ekonomie te herbou en uiteindelik dié pandemie die hoof te bied.

Wat die eerste taak betref — om die tempo van oordrag van die infeksie te vertraag — het ons al die hulpmiddele wat ons benodig.

Ons weet wat ons as individue, as gesinne en families, as besighede en as gemeenskappe moet doen.

Ek is baie bemoedig deur die wyse waarop mense gereageer het op die beroep om maskers te dra wanneer hulle in openbare plekke is, aangesien ons weet dat dit een van die beste maniere is om die oordrag van die virus te bekamp.

Ek bedank dus graag al die Suid-Afrikaners wat sonder skroom hul maskers dra.

Elkeen van ons moet, nou, meer as ooit tevore, ʼn doelbewuste besluit neem om enige onnodige kontak met ander mense te vermy.

Ek wiI van die geleentheid gebruik maak om spesifiek die kwessie van begrafnisse aan te spreek, wat deurlopend as ʼn sogenaamde superverspreidingsgeleentheid geïdentifiseer is.

Om gepaste afskeid te neem van ʼn geliefde is iets wat diep in elkeen van ons ingewortel is.

Daar is sekere rituele wat ons volg, soos voorgeskryf deur ons onderskeie kulture en tradisies; nie net met die begrafnis self nie, maar ook in die voorafgaande dae.

Dit is egter dinge wat ons op die oomblik eenvoudig nie kan doen nie.

Ons is in die greep van ʼn dodelike pandemie en sulke aktiwiteite, wat normaalweg sou plaasvind, verhoog net die risiko van blootstelling aan die virus — vir onsself, vir die familie in rou asook vir ons gesinne en familie tuis.

Daar sal ʼn tyd kom wanneer ons na die tuistes van die oorledene kan gaan en ons medelye kan betoon en op die regte, gepaste manier met ons bure, vriende en familie kan simpatiseer.

Maar vir nou is dit beter en veiliger om tuis te bly.

Landgenote,

Op 28 Desember 2020 het ons aangekondig dat Suid-Afrika op ʼn aangepaste waarskuwingsvlak 3 geplaas is om die skerp styging in infeksies te bekamp.

Ons het ook aangekondig dat verskeie gebiede in die Oos-Kaap, Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Gauteng, Limpopo en die Noord-Wes as gevaarpunte (“hotspots”) verklaar is.

Ons het intussen die geleentheid gehad om die maatreëls wat as deel van waarskuwingsvlak 3 in plek gestel is, aan die hand van die huidige stand van die pandemie te hersien.

Ons was ook in gesprekvoering met godsdiensleiers, gemeenskapsgebaseerde organisasies, sakelui, arbeidsorganisasies, verteenwoordigers van provinsiale en plaaslike regering en tradisionele leiers betreffende die impak van dié maatreëls.

Die Kabinet het, op grond van die aanbevelings van die Nasionale Koronavirusbevelraad, besluit om die nasionale aangepaste waarskuwingsvlak 3 te verleng.

Die meeste van die maatreëls wat op 28 Desember 2020 aangekondig is, bly dus dieselfde.

  • Die meeste binnenshuise en opelugaktiwiteite word, gegewe die risiko van wydverspreide oordrag, nie toegelaat nie. Dit sluit in sosiale byeenkomste, godsdienstige byeenkomste, politieke byeenkomste en byeenkomste by sportgronde.
  • Soos voorheen sluit dit nie begrafnisse en ander beperkte uitsonderings tot die reël — soos uiteengesit in die regulasies — in nie, byvoorbeeld restaurante, museums en gims.
  • Begrafnisse mag nie deur meer as 50 mense bygewoon word nie en sosiale afstand moet gehandhaaf word, asook gereelde handontsmetting en die dra van maskers.
  • Aandkloktye is voortaan van 21:00 en eindig vroeër, teen 05:00.
  • Die dra van maskers in die openbaar bly verpligtend.
  • Die verkoop van alkohol by kleinhandelwinkels en die gebruik van alkohol op die perseel by restaurante en ander vermaaklikheidsplekke word steeds nie toegelaat nie.
  • Gesondheidsdienste in verskeie dele van die land het vermeld dat die verbod op alkoholverkope tot ʼn opvallende afname in die aantal traumagevalle wat oor die Nuwejaarstydperk in ons hospitale aangemeld is, gelei het.

Dit is noodsaaklik dat ons daarmee volhou om ons gesondheidsdienste tydens hierdie kritieke tye beskerm.

  • Alle strande, damme, mere, riviere, openbare parke en openbare swembaddens sal geslote bly vir die publiek. Botaniese tuine, nasionale parke en ander parke waar toegangsbeheer en ingangsbeperkings reeds in plek is, sal, soos voorheen, oop bly vir die publiek.

Een van die uitdagings wat ons aan die einde van die feestydperk in die gesig staar, is die reuse samedromming by baie van ons land se grensposte.

Dit het alreeds ʼn groot aantal mense blootgestel aan die virus tydens die wagtyd om geprosesseer te word en dit is moeilik om te verseker dat daar aan die gesondheidsvereistes vir toegang tot Suid-Afrika voldoen word, met baie mense wat opdaag sonder bewys van KOVID-19-toetse.

Om hierdie samedromming en die gepaardgaande hoë risiko van oordrag van die virus te bekamp, het die Kabinet besluit dat die 20 landsgrensposte wat tans oop is, tot 15 Februarie 2021, met betrekking tot algemene toegang, gesluit sal word.

Dit behels die ses besigste grensposte, naamlik Beitbrug, Lebombo, Maserubrug, Oshoek, Ficksburg en Kopfontein.

Mense sal egter steeds vir die volgende redes die land mag inkom en verlaat:

  • die vervoer van brandstof, vrag en goedere,
  • mediese aandag in noodgevalle vir ʼn lewensbedreigende toestand,
  • die terugkeer van Suid-Afrikaanse burgers, permanente inwoners en persone met ander geldige visas,
  • diplomate,
  • buitelandse burgers wat die land verlaat,
  • dagreisigers van buurlande wat in Suid-Afrika skoolgaan.

Die volledige lys van uitsonderings sal in die regulasies uiteengesit word.

Dit is noodsaaklik dat ons die regulasies vir waarskuwingsvlak 3 in plek hou totdat ons die toppunt van die nuwe infeksieskurwe verbygesteek het en ons daarvan verseker is dat die oordragtempo genoegsaam afgeneem het om ons toe te laat om die huidige beperkings te verslap.

Ek spreek graag my waardering uit aan die godsdiensgemeenskap, in besonder, vir hul ondersteuning en begrip tydens hierdie pandemie.

Nie net moes geloofsgebaseerde organisasies die aard van hul aanbidding en ander aktiwiteite beperk of aanpas nie; hulle verskaf daarbenewens ook berading, ondersteuning, voedingskemas en ander maatskaplike dienste aan die gemeenskap.

Dit is inderdaad ʼn jammerte dat die beperkings op godsdienstige en ander byeenkomste, gedurende ʼn tydperk waartydens mense beide materiële en geestelike vertroosting benodig, nie tersyde gestel kan word nie.

Navorsing het verskeie risiko’s in verband met godsdienstige en ander byeenkomste geïdentifiseer. Dit behels die risiko’s verbonde aan geslote ruimtes, groot groepe mense, noue kontak met ander mense, om lank in een plek te bly, asook harde gepratery en gesingery.

Ons sal voortbou op ons gesprekvoering met godsdiensleiers met betrekking tot ʼn veilige manier om aan die behoefte van baie Suid-Afrikaners om as gemeentes byeen te kom en saam te aanbid, te voldoen en terselfdertyd steeds saam te werk om lewens te beveilig.

Dit is, namate skole en ander onderwysinstellings besig is om voor te berei om met die nuwe akademiese jaar te begin, te begrype dat daar kommer oor die wysheid daarvan is, gegewe dat ons te midde van ʼn tweede vlaag infeksies is.

Die Nasionale Koronavirusbevelraad is besig om aandag aan dié saak te skenk en sal in die komende dae leiding oor dié saak, gee.

Met die land se terugkeer na die werksplek na afleiding van die feesseisoen is dit noodsaaklik dat alle werksplekke verseker dat hulle steeds veiligheidsmaatreëls in plek het en dat dié maatreëls noukeurig gevolg word.

Ons tweede taak in die bepaling van ʼn weg vorentoe na ʼn herstel van die pandemie is om die immuniteit van die hele bevolking deur middel van ʼn omvattende inentingsprogram te verseker.

Die ontwikkeling van verskeie doeltreffende entstowwe is sekerlik die belangrikste en belowendste tree vorentoe sedert die aanvang van die wêreldwye pandemie.

Ons het nog altyd voorgehou dat ʼn doeltreffende entstof die waterskeiding sou wees.

Entstowwe bied aan die mensdom ʼn geleentheid en ʼn wyse om beheer van die koronaviruspandemie te neem .

Iemand wat ingeënt is, het ʼn baie kleiner kans om van KOVID-19 siek te word en te sterf.

Sodra genoeg mense ingeënt is, sal ons die sogenaamde kudde-immuniteit (“herd immunity”) oftewel, bevolkingsimmuniteit, bereik.

Dit is wanneer genoeg van die bevolking immuun teen die virus is om indirekte beskerming te bied aan diegene wat nog nie immuun is nie, wat gevolglik die oordrag van die virus onder beheer sal bring.

Alhoewel die ware vlak wat vir kudde-immuniteit benodig word nog nie bekend is nie, beraam ons wetenskaplikes dat ons waarskynlik kudde-immuniteit sal bereik wanneer ongeveer 67 persent van ons bevolking immuun is.

Dit kom neer op sowat 40 miljoen mense in Suid-Afrika.

Ons het ʼn omvattende inentingstrategie in plek gestel om alle dele van die land te bereik.

Dit sal die grootste en ingewikkeldste logistieke onderneming in ons land se geskiedenis wees.

Dit sal baie meer omvattend as ons MIV-behandelingsprogram en selfs ons nasionale en provinsiale verkiesings wees ten opsigte van die aantal mense wat in ʼn kort tydperk bereik moet word.

Dit sal die aktiewe betrokkenheid van alle regeringsfere, alle sektore van die samelewing en alle burgers en inwoners van ons land, vereis.

Ons strategie behels verskeie dele.

Die eerste deel van ons strategie is om genoeg entstofdosisse te bekom om kudde-immuniteit te bereik.

Ons is besig om inentings via drie kanale aan te skaf: die Wêreldgesondheidsorganisasie se COVAX-fasiliteit, die Afrika-unie se inentingsinisiatief en deur direkte samesprekinge met entstofvervaardigers.

Suid-Afrika is, soos wat ek voorheen vermeld het, deel van die wêreldwye COVAX-fasiliteit, waar lande hul hulpbronne saamsmee met die doel om te verseker dat alle lande ʼn billike, regverdige hoeveelheid voorraad doeltreffende inentings ontvang.

Ons sal genoeg entstofdosisse vir ongeveer 10 persent van ons bevolking vanaf COVAX verkry.

Ons het, as voorsitter van die Afrika-unie, die inisiatief geneem om die Afrika Entstofverkrygingstaakmag ("African Vaccine Acquisition Task Team") tot stand te bring om inentingsdosisse vir die kontinent te bekom. Dié dosisse sal in grootmaat aangeskaf word en Afrika-lande sal dosisse vanuit dié voorraad kan bestel.

Daar word beraam dat Afrika in geheel 1.5 miljard dosisse sal benodig om die beoogde doelwit van 60 persent van die bevolking te immuniseer.

Die taakmag het, deur middel van intensiewe samesprekings met entstofvervaardigers, geweldige werk verrig om inentingsdosisse vir die kontinent te bekom.

Die Suid-Afrikaanse regering is ook oor die afgelope ses maande in direkte samesprekings met verskeie entstofvervaardigers.

Gegewe die reuse wêreldwye vraag na inentings en die aansienlike groter koopkrag van meer welvarende lande, het ons alle moontlike opsies opgevolg om soveel as moontlik dosisse entstof so gou as moontlik te bekom.

Terwyl daar verskeie belowende onderhandelings met ʼn aantal verskillende vervaardigers is wat nog aan die gang is, het ons tot op hede 20 miljoen dosisse bekom wat hoofsaaklik in die eerste helfte van die jaar gelewer sal word.

Ons sal verdere aankondigings maak soos wat ons onderhandelinge met entstofvervaardigers afgehandel word.

Die tweede deel van ons strategie is om die voorkeurgroepe te identifiseer wat ingeënt moet word namate ons die inentings deur die jaar ontvang.

Met die eerste besending inentings in Fase 1, gaan ons aan ongeveer 1.2 miljoen frontlinie-gesondheidswerkers voorkeur gee.

Wanneer meer inentings in Fase 2 gelewer word, sal ons aan noodsaaklike dienste soos onderwysers, die polisiemag, munisipale werkers en ander frontlinie-personeel voorkeur gee. Ons sal ook voorkeur gee aan mense in plekke soos ouetehuise, skuilings en tronke; mense ouer as 60 jaar; en volwassenes met onderliggende toestande. Ons beoog om ongeveer 16 miljoen mense in dié fase te bereik.

Ons gaan dan in Fase 3, met verhoogde vervaardigersvoorraad, gaan ons dan die oorblywende volwasse bevolking van ongeveer 22.5 miljoen mense inent.

Ons sou dan ongeveer 40 miljoen Suid-Afrikaners bereik het, wat as genoeg beskou word om kudde-immuniteit te bewerkstellig.

Die derde deel van ons strategie is om die inentings regoor die land te versprei en dit toe te dien aan diegene wat geïdentifiseer is om die inentings te ontvang.

Ons het ʼn nasionale koördineringskomitee tot stand gebring wat belangrike staatsdepartemente, die privaatsektor en ander belanghebbendes byeenbring om oor die implementering van ons nasionale strategie toesig te hou.

Ons sal die inentings toedien via hospitale, klinieke, uitreikdienste en mobiele klinieke, asook via privaat ruimtes soos dokters se spreekkamers, apteke en besighede.

Ons het tydens die afgelope paar weke verskeie samesprekings met belanghebbendes gevoer om ʼn gekoördineerde en inklusiewe inentingsveldtog te verseker.

ʼn Inklusiewe vennootskap is tussen die staat, mediese fondse en die privaatsektor gevorm om die aankope, befondsing en verspreiding van inentings te verseker.

Ons voorsien ʼn noodsaaklike rol wat georganiseerde arbeid, tradisionele leiers en die godsdiensgemeenskap kan speel om akkurate inligting oor die inentings te versprei en optimale deelname in die inentingsprogram te verseker.

Ons verwelkom die bydraes van die burgerlike samelewing, akademici en ander tot die ontwikkeling van ʼn doeltreffende nasionale strategie, selfs waar sulke bydraes soms krities jeens die staat was.

Ons is besig om al die hulpbronne en die volle kapasiteit van ons land te integreer en verenig in ʼn enkele poging om die inentings beskikbaar te stel.

Dié alliansie, wat onder die noemenswaardigste van sy soort in die land se geskiedenis tel, is noodsaaklik namate ons in solidariteit byeenkom om die geveg teen KOVID-19 te wen.

Daar is steeds diegene in ons land wat skepties oor die entstof is en daar is baie valse inligting en samesweringsteorieë wat oor die KOVID-19-inentings versprei word.

Desnieteenstaande is inentings gebruik om siektes soos pokke en polio uit te wis. Kinders word volgens die roetine teen vele siektes soos pampoentjies, masels, en rubella ingeënt; en reisigers word dikwels teen siektes soos geelkoors ingeënt.

Elke entstof wat in ons program gebruik gaan word, sal deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte goedgekeur moet word. Dié liggaam pas streng wetenskaplike standaarde toe om die veiligheid en doeltreffendheid van enige medikasie of behandeling te verseker.

Suid-Afrika se inentingstrategie is goed onderweg.

Ons wil, begryplikerwys, almal weet wanneer die inentings beskikbaar sal wees.

Onderwyl ons daaraan werk om te midde die enorme wêreldwye aanvraag daarvoor genoegsame voorraad dosisse te verkry, sal ons alles in ons vermoë doen om te verseker dat die proses deursigtig is en dat alle inligting vrylik beskikbaar is.

Ek doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om deel te wees van hierdie monumentale onderneming om die koronavirusentstof beskikbaar te stel.

Alhoewel dit moeilik, ingewikkeld en dikwels frustrerend gaan wees, is dit noodsaaklik dat ons, vir ons land se onthalwe asook vir die welstand van al ons mense, dit saam doen.

Soos ons saam die pad stap om die koronaviruspandemie te oorkom, moet ons nooit die noodsaaklikheid daarvan om dringend en beslis op te tree om die geweld teen vroue en kinders te beëindig, uit die oog verloor nie.

Geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV) is ons land se tweede pandemie.

Planne om sosiale en gedragsveranderingsingrypings te implementeer is besig om vorm aan te neem.

Byvoorbeeld, die staat is besig om met saam met verskeie burgerlike samelewingsorganisasies sensitiwiteit onder taxibestuurders en -operateurs te skep met betrekking tot geslagsbewustheid, geslagsnorme, toksiese manlikheid en GGGV in ʼn poging om gedrag te verander.

As nog ʼn voorbeeld het geloofsgebaseerde organisasies ʼn veldtog geloods om sensitiwiteit onder godsdiensleiers te skep met betrekking tot patriargie, geslagsgebaseerde geweld en die kerk. Dit behels ʼn program waar die leiers opgelei word om slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te vergesel vandat hulle die voorval aanmeld totdat hulle vir verdere diens verwys word. Geloofsaktiviste word ook opgelei om vroue tydens die regsproses te ondersteun.

Pogings is onderweg om vroue se ekonomiese bemagtiging te ondersteun, veral tydens die KOVID-19-tydperk. Dit behels opleiding vir sakevroue om hulle in staat te stel om openbare verkrygingsgeleenthede te benut.

Om teistering in die werksplek te beëindig, is Suid-Afrika tans in die proses om die ILO-konvensie 190, wat ʼn wêreldwye standaard vir die beskerming van vroue en ander weerlose groepe in die beroepswêreld vasstel, te bekragtig.

Landgenote,

Dit is al amper ʼn halwe jaar sedert ek met julle gepraat het oor die koronavirusstorm wat die land teister.

Ek het gesê dat die koronavirusstorm veel erger en meer vernietigend is as enigiets wat ons voorheen ervaar het.

Ons is nou in die middel van die storm.

Ons weet nie hoeveel langer dit gaan aanhou of hoeveel erger dit gaan raak nie.

Maar ons weet dat ons die storm moet trotseer.

Ons weet wat ons moet doen om onsself en diegene om ons te beskerm.

Ons weet wat ons moet doen — as ʼn nasie, as ʼn kontinent en as ʼn wêreldwye gemeenskap — om dié pandemie te bowe te kom.

Ons moet met ʼn gesamentlike doel te werk gaan en verstaan dat wat elkeen van ons doen belangrik vir onsself, ons families, ons gemeenskappe en ons samelewing is.

As ons saamwerk, soos wat ons oor die afgelope klomp maande gedoen het, as ons vasberade by ons voornemens bly staan, sal ons die nuwe jaar waarvoor ons almal hoop, kan verwesenlik.

Ons sal die vrede, troos, verligting en gesondheid vind waarna ons soek.

Ons sal ons lewens en ons nasie herbou.

Mag God aanhou om Suid-Afrika te seën en haar mense te beskerm.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore