President Cyril Ramaphosa: Die nasionale poging om die KOVID-19 pandemie die hok te slaan

Medelandgenote,

Dit is dié komende Vrydag presies een jaar sedert die eerste koronavirusgeval in Suid-Afrika aangeteken is.

Meer as een-en-ʼn-half miljoen mense het sedertdien die virus onder lede gehad en nagenoeg 50 000 mense is as gevolg van die siekte oorlede.

Daar het soveel in ons land en lewens verander.

Ons mense se gees het egter nie verander nie.

Julle het die moeilikste tye verduur, maar julle het steeds vasberade, verenig en vol hoop gebly.

Ons het nou, ʼn jaar nadat die virus voet aan wal gesit het, ʼn duidelike weg om die infeksies die hok te slaan en uiteindelik die siekte te oorwin.

Die globale wetenskaplike gemeenskap het in minder as ʼn jaar, verskeie entstowwe wat veilig en doeltreffend teen die siekte is, ontwikkel, getoets en vervaardig.

Suid-Afrika se wetenskaplikes en navorsingsinstansies het ʼn belangrike bydrae tot dié pogings gelewer en globale kennis oor die siekte, waaronder oor die verskyning van nuwe variante, bygedra.

Ons is lankal van mening dat ʼn entstof ons mees deurslaggewende maatreël sou wees om KOVID-19 te bestry en het in dié mate prosesse op kontinentale en nasionale vlak opgestel om vir die beskikbaarheid van ʼn doeltreffende entstof voor te berei. Ons het nou, soos baie lande, ons entstofprogram begin.

Meer as 67 000 gesondheidswerkers — wat aan die voorpunt van ons stryd teen KOVID-19 is — is in die 10 dae vandat ons ons koronavirusinenting begin het, ingeënt.

ʼn Nuwe besending van 80 000 Johnson & Johnson entstofdosisse het gister in die land gearriveer en ons is voortdurend besig om die aantal dosisse wat elke dag toegedien word, te verhoog.

Ons inentingsveldtog het op ʼn baie goeie noot begin.

Dit dui aan wat ons kan bereik as ons as die regering, die wetenskaplike gemeenskap en die privaat sektor saam werk.

Alle provinsies het inentingsplekke geskep en het planne vir die uitbreiding van die programme i plek gestel, na mate dit vaart kry.

Die aantel liggings wat vir inenting beskikbaar sal wees, sal volgende week van 17 na 49 liggings uitgebrei word.

Twee-en-dertig van die 49 plekke sal by staatshospitale wees en 17 plekke sal by privaat hospitale wees.
Dit sluit liggings in landelike gebiede in om toegang tot landelike gesondheidsorgwerkers, te verbeter.
Ons sal laat in April of vroeg in Mei met fase twee van die entstofverspreiding begin sodra al die gesondheidsorgwerkers ingeënt is.

Fase twee sal bejaardes, noodsaaklike werkers, mense wat in institusionele omgewings woon of werk, en diegene met komorbiditeite, insluit.

Ons sal vir dié fase baie meer inentingsplekke in die privaat en staatsgesondheidsektor aktiveer sodat ons soveel moontlik mense oor die kortste tydperk kan bereik.

Ons het onlangs ʼn ooreenkoms met Johnson & Johnson geteken om 11 miljoen dosisse te bekom.

Daar sal in die tweede kwartaal 2.8 miljoen van dié dosisse gelewer word en die res sal deur die jaar versprei word.

Ons het ook 20 miljoen dosisse van Pfizer verkry wat van die tweede kwartaal af gelewer sal word.

Daarbenewens het ons 12 miljoen entstofdosisse van die COVAX-fasiliteit verkry en ons is besig om ons dosistoewysing van die Afrika-unie, te finaliseer.

Ons is voortdurend in kontak met verskeie ander entstofvervaardigers om te verseker dat ons die nodige aantal entstowwe sal hê wanneer ons dit benodig.

Medelandgenote,
Toe ek aan die begin van die maand die nasie toegespreek het, het die land die spits van die tweede golf koronavirusinfeksies verbygesteek.
Die tweede golf, aangedryf deur ʼn nuwe variant van die virus, was baie meer verwoestend en het groter lewensverlies as die eerste golf veroorsaak.

Die land het nou beslis die tweede golf verbygesteek.

Nuwe infeksies, hospitaalopnames en sterftes het beduidend gedaal en daal voortdurend.

Die land het in die afgelope week net minder as 10 000 nuwe infeksies aangeteken.

In die laaste week van Januarie, ʼn maand gelede, het die land meer as 40 000 nuwe gevalle aangeteken.
Die land het ʼn maand voor dit, in die laaste week van Desember, nagenoeg 90 000 nuwe gevalle aangeteken.

Dié dramatiese afname in gevalle oor agt weke is as gevolg van ʼn kombinasie van die openbare gesondheidsmaatreëls wat bekend gestel is, gedragsverandering en vermeerderde immuniteit van diegene in ons gemeenskap wat die virus onder lede gehad het.

Ons kon die tweede golf verbysteek omdat die meeste mense die strenger beperkings gehandhaaf het en die basiese gesondheidsprotokolle, waaronder die dra van maskers in die publiek en sosiale distansiëring, beoefen het.

Die maatreëls wat ons in Desember in plek gestel het was nodig om infeksies te beperk en te keer dat ons gesondheidsfasiliteite oorweldig word.

Dit was nodig om lewens te red.

Ons moes dié maatreëls in plek gestel het met die wete dat dit beperkings op almal in dié land se daaglikse lewens geplaas het. Dit het vir baie mense baie ongerief veroorsaak.

Ons het ook geweet dat, alhoewel ons elke poging aangewend het om die ekonomie oop te hou, daar dele van die ekonomie sou wees wat beïnvloed sou word en nie ten volle besigheid sou kon doen nie.

Ons benadering was nog altyd dat sodanige beperkings nie langer as wat dit absoluut nodig is om die siekte te beperk, in plek sal bly nie.

Die land kan nou as gevolg van die afname in infeksies, sommige van die beperkings op beweging en aktiwiteit verlig.

Ons doen dit steeds versigtig.

Ons het, selfs na ʼn volgehoue tydperk van redelike lae oordrag, gesien hoe die aantal nuwe infeksies vinnig en sonder waarskuwing kan toeneem.

Die Kabinet het vroeër vandag besluit om die land van Koronavirus-waarskuwingsvlak 3 na waarskuwingsvlak 1 te skuif. Dit is gebaseer op ʼn assessering van die huidige stand van die pandemie in die land.

Die nuwe waarskuwingsvlak sal later vanaand van toepassing wees, sodra die regulasies in die staatskoerant gepubliseer is.
Dit sal beteken dat:

  • die aandklokure nou van middernag tot 4vm. sal wees.
  • byeenkomste nou toegelaat word, onderhewig aan groottebeperkings, handhawing van sosiale distansiëring en ander gesondheidsprotokolle.

Dit sluit godsdienstige, sosiale, politiese en kulturele byeenkomste in.

  • die maksimum aantal mense wat by enige byeenkoms toegelaat word 100 mense binne en 250 mense buite is. As die plek, met gepaste sosiale distansiëring, te klein vir dié aantal mense is, mag slegs 50% van die plek se kapasiteit gebruik word.
  • Nagwake en ander byeenkomste, voor en na begrafnisse, word steeds nie toegelaat nie.
  • Nagklubs sal gesluit bly.
  • Die verkoop van alkohol sal volgens die normale lisensievoorskrifte toegelaat word. Geen alkohol mag egter tydens aandklokure verkoop word nie.
  • Dit is steeds verpligtend om in die publiek maskers te dra en versuim om ʼn masker te dra wanneer dit vereis word, is ʼn strafbare oortreding.
  • Die 33 grensposte wat in dié tydperk gesluit was, sal gesluit bly, terwyl die ander 20 oop sal bly.
  • Slegs vyf lughawes sal, met standaard infeksiebeheermaatreëls, oop vir internasionale reise wees. Dit is: OR Tambo, Kaapstad, King Shaka, Kruger Mpumalanga en Lanseria

Ons kan nie, namate ons beperkings verslap, ons waaksaamheid verslap nie.

Die paar oorblywende beperkings in waarskuwingsvlak 1 poog om die lae infeksievlakke te handhaaf en om veral superverspreidingsbyeenkomste te voorkom.

Die nuwe variant wat as 501Y.v2 bekend staan, is nou die dominante variant in die land.

Die nuwe variant het die potensiaal om meer mense aan te steek, meer druk op ons gesondheidstelsel te plaas en tot meer lewensverlies te ly, aangesien dit makliker oorgedra word.

Sosiale distansiëring is dus selfs noodsaakliker.
Die dra van maskers en vermyding van skare is selfs belangriker.

Dit is ook nou belangriker dat ons almal die COVID Alert SA toepassing op ons selfone aflaai.

Nagenoeg twee miljoen Suid-Afrikaners gebruik reeds die COVID Alert SA mobiele toepassing om in kennis gestel te word as hulle aan die virus blootgestel is.

Word asseblief getoets as jy enige KOVID-19-simptome het.

Dié maatreëls is nie net om ons elkeen te beskerm nie, maar ook om diegene wie ons lief het en na omsien, te beskerm.

Jy beskerm jouself, jou gesin en jou gemeenskap deur dié maatreëls te volg.

Dit gaan oor verantwoordelik en sorgsaam wees.

Ons moet steeds dié maatreëls uitvoer, selfs al word meer en meer mense ingeënt.

Entstowwe verminder die waarskynlikheid dat ʼn persoon simptome sal ontwikkel en ernstig siek sal word aansienlik, en dit verminder die algemene infeksiekoers in ʼn bevolking.

Ons moet derhalwe entstowwe as een van die maatreëls sien wat ons in ons koronavirusgereedskapskas kan hê om die pandemie in te perk.

Entstowwe is, soos wat ons in die verlede gesê het, ons doeltreffendste maatreël.

Ons sal egter slegs die pandemie uiteindelik die hok kan slaan as ons steeds al die ander voorkomende maatreëls ook uitvoer.

Ons moet dit alles doen sodat ons die pandemie die hok kan slaan en ons ekonomiese herstel kan bespoedig.

Ons moet dit doen om ons land se ontwikkeling te herstel en mense terug by die werk te kry.

Baie besighede sukkel nog steeds, selfs terwyl ekonomiese aktiwiteit terugkeer, ons ons indiensnamestimulus en beleggingsprogramme van stapel stuur en ons ekonomiese verbeterings met groter dringendheid onderneem.
Baie mense het steeds nie hulle werke terug nie en baie huishoudings voel steeds die uitwerking van die verlies van baie inkomste.
Ons het derhalwe die tydperk vir die Spesiale KOVID-19-toelaag met ʼn verdere drie maande, tot die einde van April, verleng, soos wat ek in die Staatsrede aangekondig het.

Ons het ook die WVF se spesiale KOVID-19-loonsteunvoordeel tot 15 Maart 2021 vir daardie sektore van die ekonomie wat nie oor dié tydperk kon besigheid doen nie, verleng.

Daar is aangetoon dat dié maatreëls doeltreffend is in die vermindering van die pandemie se ekonomiese inpak op sommige van die kwesbaarste mense in ons samelewing.

Ons land se staatsfondse is egter baie beperk en ons kan nie onbepaald sodanige verligtingsmaatreëls in plek hou nie.

Die terugkeer na waarskuwingsvlak 1 beteken dat die meeste van die oorblywende beperkings op ekonomiese aktiwiteit verwyder is.

Ons verwag dat dit na hoër verbruiksbesteding sal lei wat deur die geleidelike herstel van indiensname, gesteun sal word.

Ons verwag van besighede om die planne wat hulle opsy moes skuif, te implementeer.

Namate ons verdere strukturele verbeterings aanpak, sal dit die groen lote wat ons in die ekonomie begin sien het, vestig.

Dit is waarom al ons energie en pogings nou op die ontwikkeling van die ekonomie moet fokus, waaronder om infeksies laag te hou.

Die verslapping van beperkings behoort, om dié rede, onder andere, nie gesien te word as ʼn rede om voorsorgmaatreëls agter te laat nie.

Die bedreiging van die derde golf, net soos die bedreiging van selfs meer nuwe variante, is voortdurend teenwoordig.

Ons optrede as individue en as ʼn groep bepaal of en hoe vinnig ons ʼn herrysing van die virus ervaar, soos wat ons verlede jaar beleef het.

Die virus sirkuleer intussen steeds in ons families, ons werkplekke en ons gemeenskappe.
Ons moet, namate ons inentingsveldtog vaart kry, steeds uiters versigtig wees om onsself en ander te beskerm.

Ons sal saam met ons wetenskaplikes en deskundiges, steeds die situasie noukeurig monitor en ons benadering op reagerende en buigsame wyse aanpas.

Dié pandemie het baie van ons af weggeneem, maar dit het nie ons krag, ons moed of ons gevoel van solidariteit as mense, weggevat nie.

Dit het nie ons geesdrif gedemp of ons voorneme verswak nie.

Ons unieke Suid-Afrikaanse gees het ons toegelaat om met ʼn ongekende bedreiging voor oë onwrikbaar te staan en sal ons steeds inspireer terwyl ons die pad na herstel karteer.

Kom ons bly so verenig, vol hoop en vasberade as ooit om dié uitdaging aan te pak.

Mag God steeds Suid-Afrika seën en haar mense beskerm.

Dankie.
 

Share this page

Similar categories to explore