President Cyril Ramaphosa: Vordering met die nasionale poging om die COVID-19-pandemie in toom te hou

My mede-Suid-Afrikaners,

Dit is presies ‘n halwe jaar sedert ons ‘n nasionale ramptoestand in reaksie op die koronavirus-pandemie aangekondig het.

In daardie tyd het meer as 15 000 Suid-Afrikaners hul lewens verloor weens die siekte en meer as 650 000 het die siekte opgedoen.

Ons ekonomie en ons samelewing het ernstige skade gely.

Ons het ‘n hewige en vernietigende storm verduur.

Maar deur vasberade saam te staan, het ons dit weerstaan.

Twee maande gelede, op die hoogtepunt van die storm, het ons ongeveer 12 000 nuwe gevalle per dag aangeteken.

Ons teken tans gemiddeld minder as 2 000 gevalle per dag aan.

Ons herstelpersentasie staan nou op 89%.

Hoewel beperkings die afgelope maand afgeneem het met ons skuif na waarskuwingsvlak 2, was daar ’n geleidelike, maar bestendige afname in nuwe infeksies, hospitaalopnames en sterftes.

Die vraag na hospitaalbeddens, ventilators, suurstof en ander noodsaaklike mediese toerusting het ook geleidelik afgeneem.

Ons het daarin geslaag om die ergste fase van hierdie epidemie te oorkom, terwyl ons die kapasiteit van ons gesondheidstelsel beskerm.

Ek loof julle, die mense van Suid-Afrika, vir hierdie prestasie en vir die duisende lewens wat deur jul gesamentlike optrede gered is.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie, wat ons deur noue samewerking gehelp het om ons reaksie te versterk, het ook hierdie prestasie erken.

Soos ons vroeër genoem het, het hulle ons steeds raad gegee en selfs hul kundiges na ons land ontplooi.

Ons is dankbaar vir al die ondersteuning wat ons ontvang het van die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie in Genève, sowel as die Afrika-sentrum vir die Beheer en Voorkoming van Siektes.

Hoewel ons merkwaardige vordering gemaak het, doen sommige mense steeds die siekte op en sommige verloor hul lewens.

Hoe dit ook al sy, ons is steeds midde-in ’n dodelike epidemie.

Ons grootste uitdaging nou – en ons belangrikste taak – is om te verseker dat ons nie ’n nuwe toename in infeksies ervaar nie.

Verskeie lande regoor die wêreld is deur ‘n 'tweede golf' of ’n herlewing van infeksies getref.

’n Aantal van hierdie lande het die hoogtepunt van die siekte verbygesteek en die virus blykbaar onder beheer gebring.

Sommige van hulle het selfs die meeste beperkings op ekonomiese en sosiale aktiwiteite opgehef.

In baie gevalle was die tweede golf erger as die eerste.

Verskeie lande moes weer streng inperkings instel.

Ons spits ons openbare gesondheidsreaksie nou toe op pogings om oordrag van die virus verder te laat afneem en om ons gesondheidstelsel op ’n moontlike herlewing van infeksies voor te berei.

Ons het ’n besluit geneem om meer koronavirustoetse te doen.

Weens die afname in nuwe infeksies en die verminderde druk op ons gesondheidsinstellings, het ons voldoende toetsvermoë om die kriteria vir toetse uit te brei.

Onder die verskillende kategorieë van mense, kan ons nou almal toets wat in die hospitaal opgeneem word, sowel as buitepasiënte met COVID-19-simptome en individue wat in noue kontak met bevestigde gevalle was, hetsy hulle self simptome het of nie.

Naas die toetse, verbeter ons die kontakopsporingsproses deur die implementering van die COVID-19 Alert South Africa-selfoon-app en die COVID-19 Connect WhatsApp-platform.

Doeltreffende toets- en kontakopsporingstelsels sal ons in staat stel om uitbrekings vinnig te identifiseer en te stuit voordat dit verder versprei.

Ek wil vanaand ‘n beroep doen op almal in Suid-Afrika wat ’n slimfoon het, om die COVID-19 Alert-mobiele app van die Apple App Store of Google Play Store af te laai.

Mobiele netwerke het ’n nul-tarief op die app gehef, en dit kan dus sonder enige datakoste afgelaai word.

Met behulp van Bluetooth-tegnologie sal die app gebruikers in kennis stel as hulle in noue kontak was met enige ander gebruiker wat die afgelope 14 dae positief vir die koronavirus getoets het.

Die app is heeltemal anoniem, dit versamel geen persoonlike inligting nie en spoor ook nie iemand se ligging op nie.

Die Departement van Gesondheid het ook WhatsApp- en SMS-stelsels vir mense sonder slimfone ontwikkel om hulle van toetsuitslae te voorsien en hulle te waarsku oor moontlike blootstelling aan die virus.

Kontakopsporing is ’n belangrike voorkomende maatreël om jouself en jou naasbestaandes en vriende te beskerm.

Ons sal ’n landwye opname doen om die werklike vlakke van besmetting in die samelewing te bepaal.

Hierdie opname – bekend as ‘n seroprevalensie-opname – gebruik teenliggaamtoetse om vas te stel of iemand aan die koronavirus blootgestel is.

‘n Landwye studie sal wetenskaplikes in staat stel om die omvang van asimptomatiese infeksies en immuniteit binne die bevolking te beraam, asook om die oordragpatrone van die virus beter te verstaan.

Ons handhaaf steeds ons gesondheidsorgkapasiteit om moontlike uitbrekings van infeksies doeltreffend te kan bestuur, en seker te maak dat alle pasiënte die nodige behandeling ontvang.

Die Departement van Gesondheid werk nou saam met vakbonde en ander belanghebbendes om te verseker dat alle gesondheidsorgwerkers en ander werknemers in die voorste linie voldoende persoonlike beskermingstoerusting het en dat hul werksomstandighede veilig is.

Ek bedank die land se werkers in die voorste linie dat hulle die kwessie van veiligheid met erns en konsekwentheid bevorder en handhaaf.

Ek bedank hulle vir hul toegewyde versorging van ons mense en vir die enorme opofferings wat hulle maak.

Namate ons daaraan werk om die verdere oordrag van die virus te voorkom, tref ons ook voorbereidings vir die tyd wanneer ’n entstof beskikbaar is.

Om te verseker dat Suid-Afrika toegang tot ’n effektiewe entstof, so vinnig as moontlik en in voldoende hoeveelhede het om die bevolking te beskerm, neem die land deel aan ‘n wêreldwye inisiatief wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie ondersteun word om hulpbronne saam te snoer vir die ontwikkeling en verspreiding van ’n entstof.

Deur hierdie inisiatief steun Suid-Afrika, saam met ander lande, verskeie ontwikkelingsprogramme vir entstowwe en soek billike toegang tot suksesvolle entstowwe teen laer koste.

Deur ons posisie as voorsitter van die Afrika-unie, bepleit ons billike wêreldwye toegang sodat geen land agterbly nie.

Ons belê ook in ons eie vermoë om 'n entstof plaaslik te vervaardig en te versprei, sodat Suid-Afrika 'n sleutelrol kan speel in die poging om toegang tot entstowwe uit te brei.

Ons neem reeds aan drie inentingsproewe deel, wat ons wetenskaplikes se bekwaamheid demonstreer.

Mede-Suid-Afrikaners,

'n Maand gelede het die beduidende afname in nuwe koronavirusinfeksies die land in staat gestel om inperkings na waarskuwingsvlak 2 te verslap.

Met die vordering wat ons tot dusver gemaak het en die verdere afname in koronavirusinfeksies, is ons nou gereed vir 'n nuwe fase in ons reaksie op die pandemie.

Ons het die koronavirus-storm deurstaan.

Dit is nou die tyd om ons land, sy mense en ons ekonomie terug te neem na 'n normale situasie wat nader beweeg aan die manier waarop ons ses maande gelede geleef het.

Dit is tyd om aan te beweeg na wat ons nuwe normale sal word solank die koronavirus in ons midde is.

Nadat verskeie ekonomiese aktiwiteite vanaf Junie hervat is, is dit nou tyd om soveel as moontlik van die oorblywende beperkings op ekonomiese en sosiale aktiwiteite op te hef as wat redelik veilig is.

Na oorlegpleging met verteenwoordigers van die provinsiale en plaaslike regering en op advies van wetenskaplikes en samesprekings met verskillende belanghebbendes, het die Kabinet vanoggend besluit dat die land na waarskuwingsvlak 1 moet beweeg.

Die verslapping na waarskuwingsvlak 1 tree vanaf middernag op Sondag 20 September 2020 in werking.

Met hierdie stap erken ons dat besmettingsvlakke betreklik laag is en dat ons gesondheidstelsel voldoende kapasiteit het om die huidige behoefte aan sorg te hanteer.

Die skuif na waarskuwingsvlak 1 sal beteken dat daar 'n verdere verslapping van die beperkings op byeenkomste is.

  •  Sosiale, godsdienstige, politieke en ander byeenkomste word toegelaat, mits die aantal mense nie meer as 50% van die normale kapasiteit van 'n lokaal oorskry nie, tot 'n maksimum van 250 mense vir binnenshuise byeenkomste en 500 mense vir buitenshuise byeenkomste.

Gesondheidsprotokolle, soos die was of ontsmetting van hande, sosiale afstand en die dra van maskers, moet streng nagekom word.

  • Die maksimum aantal mense wat 'n begrafnis mag bywoon, word verhoog van 50 na 100 weens die hoër risiko vir virale oordrag by begrafnisse. Nagwake word steeds nie toegelaat nie.
  • Lokale vir liggaamlike oefeninge, ontspanning en vermaak – soos gimnasiums en teaters – wat tot nie meer as 50 mense beperk was nie, sal nou toegelaat word om tot 50% van hul lokaal se kapasiteit te akkommodeer, soos bepaal deur die beskikbare vloeroppervlakte, onderhewig aan sosiale afstand en ander gesondheidsprotokolle.
  • Bestaande beperkings op sportbyeenkomste bly van krag.

Waar nodig vir die registrasie van kiesers of spesiale stemming, sal die Onafhanklike Verkiesingskommissie toegelaat word om korrektiewe sentrums, gesondheidsinstellings, ouetehuise en ander soortgelyke instansies te besoek.

Dit is onderhewig aan al die gesondheidsprotokolle, insluitend die dra van maskers en die was of ontsmetting van hande.

Een van die vroegste maatreëls wat ons getref het om die verspreiding van die virus te beperk, was om internasionale besoekers streng te beperk en ons grense te sluit.

Met die skuif na waarskuwingsvlak 1 sal ons die beperkings op internasionale reis geleidelik en met omsigtigheid verslap.

Vanaf 1 Oktober 2020, sal on reis in en uit Suid-Afrika vir sakereisigers, vakansiegangers en ander reisigers toelaat.

Dit is onderhewig aan verskillende beperkings- en verslappingsmaatreëls:

  • Reise na en van sekere lande met 'n hoë infeksiesyfer, kan beperk word. 'n Lys van lande sal gepubliseer word op grond van die jongste wetenskaplike gegewens.
  • Reisigers sal slegs een van die land se grensposte kan gebruik wat tydens die inperking in bedryf gebly het, of een van die drie hoof internasionale lughawens, naamlik King Shaka, OR Tambo en Kaapstad Internasionale Lughawe.
  • Met hul aankoms moet reisigers 'n negatiewe COVID-19-toetsuitslag wat nie ouer as 72 uur voor vertrek is nie, indien.
  • Reisiger wat nie 'n COVID-19-toets voor hul vertrek laat doen het nie, moet op hul eie koste in verpligte kwarantyn bly.
  • Alle reisigers sal met hul aankoms gesif word en diegene wat simptome het, sal in kwarantyn moet bly totdat 'n tweede COVID-19-toets uitgevoer word.
  • Alle reisigers sal gevra word om die COVID-19 Alert South Africa-mobiele app op hul selfone te installeer.

Lande wat hierdie soort toepassings gebruik het, kon die koronaviruspandemie betreklik doeltreffend bestuur.

Ter voorbereiding van die heropening van ons grense, sal Suid-Afrikaanse missies in die buiteland vir visumaansoeke oopmaak en alle langtermynvisums weer ingestel word.

Die toerismesektor is een van ons grootste ekonomiese aandrywers.

Ons is gereed om weer ons deure vir die wêreld oop te maak en reisigers te nooi om ons berge, ons strande, ons lewendige stede en ons wildtuine in veiligheid en met vertroue te geniet.

Dit is ook deel van die geleidelike terugkeer na normale ekonomiese en sosiale aktiwiteite:

  • Die aandklok-ure is verander. Die aandklokreël is nou van toepassing tussen middernag en 04:00.
  • Die verkoop van alkohol by winkels vir tuisverbruik word nou toegelaat van Maandag tot Vrydag, van 09:00 tot 17:00.
  • Alkohol sal slegs toegelaat vir verbruik by gelisensieerde ondernemings en met streng nakoming van die aandklokreël

Binne die volgende paar dae sal die bygewerkte regulasies gepubliseer word en die ministers sal gedetailleerde inligtingsessies hou.

Die Departement van Staatsdiens en Administrasie sal alle staatsamptenare binnekort van omsendbriewe voorsien wat hulle sal inlig oor maatreëls waarvolgens alle regeringsinstellings veilig en sonder onnodige vertragings ten volle in bedryf gestel sal word.

Omdat daar verskeie oorblywende beperkings is wat slegs deur rampmaatreëls uitgevoer kan word, het ons die nasionale ramptoestand reeds met ‘n maand verleng tot 15 Oktober 2020.

Met die skuif na waarskuwingsvlak 1, val baie van die oorblywende beperkings op ekonomiese aktiwiteite weg, maar dit sal tyd neem voordat alle sektore hul bedrywighede met veiligheid kan hervat.

Die wêreldwye en binnelandse vraag na en aanbod van goedere en dienste vir sommige sektore sal binne die afsienbare toekoms nog laag bly, ongeag die opheffing van beperkings.

Dit is dus noodsaaklik dat ons dringende stappe moet doen om ons ekonomie te herbou, groei te herstel en werk te skep.

Na ’n paar weke se onderhandelinge, het die maatskaplike vennote by NEDLAC geweldige vordering met ‘n ambisieuse sosiale kompak vir ekonomiese herstel gemaak.

Dit is ‘n historiese mylpaal vir ons land, wat wys wat bereik kan word as ons verenig om ’n dringende krisis die hoof te bied.

Die Kabinet sal voortbou op hierdie opkomende gemeenskaplike grondslag om die land se ekonomiese heropbou- en herstelplan in die komende weke te finaliseer.

Die heropbou- en herstelplan wat tans gefinaliseer word, sal voortbou op die ekonomiese en maatskaplike verligtingspakket van R500 miljard wat in April aangekondig is en wat noodsaaklike hulp aan huishoudings, maatskappye en werkers in ernstige nood verleen het.

Deur die spesiale COVID-19-toelaes en die aanvulling van bestaande toelaes is meer as R30 miljard se bykomende ondersteuning reeds direk aan meer as 16 miljoen mense uit arm huishoudings verleen.

Meer as 800 000 maatskappye het voordeel getrek uit die WVF-loonondersteuningskema en deur die toelaes en lenings wat deur verskillende staatsdepartemente en openbare instellings voorsien is.

Meer as 4 miljoen werkers het R42 miljard aan loonondersteuning ontvang, wat hul help om hierdie werksgeleenthede te beskerm, selfs al kon ondernemings nie werk nie.

Hierdie steun het die lewens van miljoene Suid-Afrikaners geraak en ‘n beduidende verskil vir mense in die grootste nood gemaak.

Die WVF-voordeel is verleng tot aan die einde van die nasionale ramptoestand om te verseker dat werkers en maatskappye wie se inkomste nog in gevaar is, steeds ondersteun kan word.

Benewens die ondernemings wat regstreekse ondersteuning gekry het, het nog talle maatskappye voordeel getrek uit belastingverligtingsmaatreëls van ongeveer R70 miljard.

Miljoene Suid-Afrikaners het ook voordeel getrek uit die geskiedkundige vermindering van rentekoerse.

Die Leningwaarborgskema is aangepas om dit makliker te maak vir maatskappye van enige grootte om krediet teen lae rentekoerse te verkry, met die terugbetaling wat tot soveel as twaalf maande uitgestel word.

Ons moedig alle maatskappye wat met ’n onderbreking van hul verdienste te kampe het, aan om steun te van hierdie skema te vra terwyl die ekonomie herstel.

Aan die begin van die pandemie het ons ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hul solidariteit en patriotisme te betoon deur die regering se pogings om die pandemie te hanteer, te ondersteun.

Ons het die Solidariteitsfonds gestig, wat ongeveer 300 000 donasies van bykans 15 000 individue en byna 2 500 maatskappye ontvang het.

Die skenkings kom van gewone mense en werkers, godsdienstige organisasies, politieke partye, nie-regeringsorganisasies, trusts en stigtings.

Deur middel van sy werk het die Solidariteitsfonds die krag van sosiale vennootskappe en samewerking getoon.

Sedert dit gestig is, het dit meer as R3,1 miljard se skenkings van maatskappye, stigtings en individue ingesamel.

Dit het tot dusver R2,4 miljard bewillig om sleutelkwessies van ons nasionale koronavirusreaksie te ondersteun.

Dit sluit die aankoop van toetstoerusting, mediese voorrade en persoonlike beskermingstoerusting, sowel as die plaaslike vervaardiging van ventilators in. Dit sluit ook voedselhulp vir kwesbare huishoudings, koopbewyse vir bestaansboere, die versorging van oorlewendes van geslagsgeweld en ‘n nasionale COVID-19- bewusmakingsveldtog in.

Mede-Suid-Afrikaners,

Geweld teen vroue en kinders het gedurende die pandemie onverpoosd voortgeduur.

Ons is vasbeslote om voort te gaan met ons voorneme om die plaag van geslagsgeweld en vrouemoord te hanteer.

Gegrond op die jongste gegewens het ons 30 brandpunte in die land geïdentifiseer waar die probleem die algemeenste voorkom.

Namate ons na die volgende waarskuwingsvlak beweeg, verhoog en verbeter ons ondersteuningsdienste vir oorlewendes van geslagsgebaseerde geweld, veral in die geïdentifiseerde brandpunte.

Ons moet dit egter nie net doen omdat die inperking verslap word nie, maar as deel van die werk wat reeds aan die gang is vir die implementering van die Nasionale Strategiese Plan wat vroeër vanjaar deur die Kabinet aanvaar is.

Dit sluit die implementering van ’n geïntegreerde en multidissiplinêre model in wat psigomaatskaplike ondersteuning, saakondersoek, behuisingsdienste en ekonomiese bemagtiging vir oorlewendes onder een dak insluit.

Die Khuseleka-eenstopsentrums word uitgebrei in ooreenstemming met die mandaat van die bestaande netwerk van Thuthuzela-sorgsentrums, en is reeds in bedryf in distrikte in Noordwes, Limpopo en die Oos-Kaap.

Die uitbreiding van hierdie model van sorg en ondersteuning na alle provinsies is reeds aan die gang.

Ons sal geen moeite ontsien om die plaag van geweld teen vroue en kinders uit te roei nie.

Die koronavirus-pandemie het die mate waarin korrupsie ons samelewing besmet, en ons land van lewensbelangrike hulpbronne beroof in ’n tyd dat ons dit die nodigste het, blootgelê.

Ons wetstoepassingsagentskappe maak beduidende vordering met die ondersoek na alle bewerings oor die misbruik van fondse wat met COVID-19 verband hou.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het sy eerste tussentydse verslag aan my voorgelê waarin die vordering met sy ondersoek in alle provinsies en in sommige nasionale departemente en entiteite uiteengesit is.

Namate die SOE sy ondersoek afhandel, sal ons die bevindings bekend kan maak.

Die SOE werk saam met agt ander agentskappe in die COVID-19 saamgestelde sentrum om enige gevalle van korrupsie op te spoor, te ondersoek en te vervolg.

As deel van die poging om deursigtigheid en aanspreeklikheid aan die moedig, het die Nasionale Tesourie die besonderhede van alle COVID-19-verwante kontrakte wat deur openbare instansies op nasionale en provinsiale vlak toegeken is, aanlyn gepubliseer.

Dit is ‘n historiese ontwikkeling wat ons hoop ’n presedent sal skep vir alle soortgelyke uitgawes in die toekoms.

Die kantoor van die Ouditeur-generaal het ook ‘n baie waardevolle rol gespeel om die swakhede en risiko's in die bestuur van COVID-19-hulpbronne, en die opsporing van gevalle van moontlike bedrog vir ondersoek deur die agentskappe wat in die saamgestelde sentrum verteenwoordig word, te identifiseer.

Ons versterk steeds ons teen-korrupsiepogings deur maatreëls om die NVG en ander wetstoepassingsagentskappe van die nodige menslike en finansiële hulpbronne te voorsien om korrupsie die hoof te bied. Hierbenewens versterk ons ook gespesialiseerde howe vir handelsmisdaad, wat sal help om sake wat met COVID-19 verband hou te bespoedig, en ons finansier die nuwe Nasionale Teen-korrupsie Strategie.

Ons is vasbeslote om seker te maak dat die ergste van hierdie pandemie agter die rug is.

Ons kan nie ‘n herlewing van infeksies in ons land bekostig nie.

‘n Tweede golf sal rampspoedige gevolge vir ons land hê en ons lewens en lewensbestaan weer ontwrig.

Dit is elke Suid-Afrikaner se plig om toe te sien dat dit nie gebeur nie.

Namate ons binne ‘n nuwe normaal funksioneer en daaraan gewoond raak om met die virus saam te leef, moet ons steeds alle moontlike voorsorgmaatreëls tref om nie ander te besmet nie.

Só gaan ons onsself veilig hou en ons ekonomie oop hou:

Eerstens moet elkeen van ons ’n masker in die openbaar dra wat die neus sowel as die mond bedek.

Tweedens, moet ons te alle tye ’n afstand van een en ‘n halwe meter van ander mense hou en seker maak dat daar binnenshuis voldoende ventilasie is.

Derdens moet ons steeds ons hande was of gereeld ‘n handontsmetmiddel gebruik.

Vierdens moet ons die COVID-19 Alert South Africa-app aflaai en ons gesinne en gemeenskappe beskerm.

Oor net meer as ‘n week vier Suid-Afrikaners Erfenisdag onder omstandighede wat in baie opsigte beter sal wees as dié wat ons die afgelope ses maande ervaar het.

Ek doen ’n beroep op almal om hierdie openbare vakansiedag as gesinstyd te gebruik, om na te dink oor die moeilike reis wat ons almal onderneem het, om diegene te onthou wat hul lewens verloor het en om ons te verheug oor ons land se merkwaardige en uiteenlopende erfenis.

En daar kan geen beter viering van ons Suid-Afrikaansheid wees as om saam met die res van die wêreld aan die globale Jerusalema-dansuitdaging deel te neem nie.

Daarom versoek ek julle almal om hierdie uitdaging op Erfenisdag aan te pak en die wêreld te wys waartoe ons in staat is.

Net soos ons saam gewerk het om hierdie virus te oorwin, moet ons skouer aan die wiel sit en begin om ons ekonomie te herbou.

Ons staar ’n reuse uitdaging in die gesig.

Elke Suid-Afrikaner sal sy deel moet bydra om ons land weer op ’n pad na herstel en welvaart te plaas.

Dit is nou ons generasie se taak en ons werk begin vandag.

Ons het twyfel en sinisme te bowe gekom om die ergste bedreiging vir openbare gesondheid in menseheugenis die hoof te bied.

Ons het gewys waartoe Suid-Afrikaners in staat is wanneer ons kragte saamsnoer.

Laat ons daardie gees van eenheid en solidariteit behou.

Laat ons met vasberadenheid vooruitgaan.

Mag God Suid-Afrika en haar mense steeds seën.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore