President Cyril Ramaphosa: Verlenging van die Koronavirus COVID-19 staat van inperking tot einde April

My mede-Suid-Afrikaners,
Om middernag vannag is dit presies twee weke sedert ons land 'n ongekende landwye staat van inperking ingestel het om die verspreiding van die koronavirus te stuit.

Gedurende die afgelope twee weke is julle lewens ernstig ontwrig, het julle baie swaargekry en baie onsekerheid verduur.

Ons het ons grense vir die wêreld gesluit, ons kinders is nie op skool nie, besighede het hul bedrywighede opgeskort, baie het hul inkomste verloor, en ons ekonomie het tot stilstand gekom.

En tog, al staar julle hierdie uitdagings in die gesig, reageer julle, die mense van Suid-Afrika, met merkwaardige geduld en moed.

Julle respekteer die inperking en kom die regulasies grootliks na.
Julle berus julle by die streng beperkings op julle bewegings en baie van die daaglikse vryhede wat ons almal as vanselfsprekend aanvaar.
Julle doen dit omdat julle verstaan wat die verwoestende uitwerking van hierdie siekte op die gesondheid en welstand van alle Suid-Afrikaners sal wees, tensy ons drastiese maatreëls instel.

Julle verstaan ook dat ons alles in ons vermoë moet doen om die groot lewensverlies wat kan plaasvind as ons nie optree nie, te voorkom.

Vir julle samewerking, vir julle toewyding en bowenal vir julle geduld, wil ek julle persoonlik bedank.

Ek wil julle bedank dat julle teenoor mekaar en die wêreld weereens bevestig het dat Suid-Afrikaners 'n volk is wat in tye van groot krisisse verenig en saamstaan.

Vroeër vandag het ek 'n produktiewe vergadering met ons premiers gehad oor die werk wat hulle in provinsies en distrikte doen om die verspreiding van die virus te stuit.

Ek het ook gesprek gevoer met die leiers van al ons politieke partye wat in die Parlement verteenwoordig is, wat gesamentlik hul steun belowe het aan die pogings wat aangewend word om die pandemie te bekamp.

Hierdeur demonstreer ons dat ons in staat is om ongeag partypolitieke verskille saam te werk om 'n gemeenskaplike bedreiging te konfronteer.

Sedert ek net meer as twee weke gelede die inperking aangekondig het, het die wêreldwye koronaviruspandemie vererger.

Twee weke gelede was daar 340 000 bevestigde koronavirusgevalle in die wêreld.

Daar is nou meer as 1,5 miljoen bevestigde gevalle wêreldwyd.

Meer as 90 000 mense regoor die wêreld is aan hierdie siekte dood.

Die gesondheidstelsels van baie lande is oorweldig.

Selfs die mees ontwikkelde ekonomieë in die wêreld het nie die nodige hulpmiddels om die etlike duisende mense wat siek word te behandel nie.

Hulle sukkel om die nodige mediese toerusting en personeel te bekom om te help om die pandemie te hanteer.

Die verwoestende uitwerking hiervan is dat baie mense dood is.
Die wêreldwye getuienis is oorweldigend.
Dit bevestig dat die besluit wat ons geneem het om 'n nasionale ramp te verklaar en 'n landwye inperking in te stel, korrek en tydig was.

Hoewel dit te vroeg is om 'n beslissende ontleding van die vordering van die siekte in Suid-Afrika te doen, is daar voldoende bewyse wat daarop dui dat die inperking werk.

Sedert die inperking in werking getree het, het die tempo waarteen nuwe gevalle hier in Suid-Afrika geïdentifiseer is, aansienlik gedaal.

Vanaf 1 170 bevestigde gevalle op 27 Maart, is die aantal bevestigde gevalle vandag 1 934.

In die twee weke voor die inperking was die gemiddelde daaglikse toename in nuwe gevalle ongeveer 42%.

Sedert die inperking begin het, was die gemiddelde daaglikse toename ongeveer 4%.

Hoewel ons bewus is van die behoefte om toetsing uit te brei om 'n beter beeld van die infeksiesyfer te kry, verteenwoordig dit werklike vordering.

Die maatreëls wat ons getref het - soos om ons grense te sluit en byeenkomste te verbied - asook die veranderinge wat elkeen an ons ten opsigte van ons eie gedrag moes maak, het die verspreiding van die virus beslis vertraag.
Maar die stryd teen die koronavirus is ver van afgehandel.
Ons is slegs aan die begin van ’n enorme stryd, wat al ons hulpmiddels en al ons pogings verg. 

Ons kan nie ontspan nie. Ons kan nie oorgerus wees nie.

In die komende weke en maande, moet ons die omvang van ons pogings op groot skaal verhoog en die reikwydte van ons ingrypings uitbrei.

Ons leer uit die ervarings van ander lande en uit die bewyse wat ons nou het oor die ontwikkeling van die pandemie in Suid-Afrika.

Albei dui oortuigend daarop dat ons versigtig en op 'n behoorlik gekalibreerde wyse moet voortgaan.

Eenvoudig gestel, as ons die inperking te vroeg of te skielik beëindig, loop ons die risiko van 'n massiewe en onbeheerbare herlewing van die siekte.

Ons loop die risiko om die vordering wat ons die afgelope paar weke gemaak het, om te draai; die groot opofferings wat ons almal gemaak het, sal dan sinloos wees.

Mede Suid-Afrikaners,
Vanaand staan ek voor julle om julle te vra om nog langer uit te hou.

Ek moet julle vra om nog groter opofferings te maak sodat ons land hierdie krisis kan oorleef en tienduisende lewens gered kan word.

Na noukeurige oorweging van die beskikbare getuienis, het die Nasionale Koronavirus-bevelraad besluit om die landwye inperking met twee weke langer as die eerste 21 dae te verleng.

Dit beteken dat die meeste van die bestaande inperkingsmaatreëls tot einde April van krag sal bly.

Ons sal gedurende die komende dae evalueer hoe ons met risiko-aangepaste maatreëls kan begin om 'n geleidelike herstel van die ekonomie moontlik te maak, wat die sektore onder streng gekontroleerde toestande weer in werking kan stel.

Ons sal ook hierdie tyd gebruik om ons openbare gesondheidsingrypings te verbeter.

Ons het nie die besluit om die inperking te verleng, ligtelik geneem nie.

As julle President is ek bewus van die groot en swaar las wat dit op julle sal plaas.

Ek is deeglik bewus van die uitwerking wat dit op ons ekonomie sal hê.

Maar ek weet, net soos julle, dat tensy ons nou hierdie moeilike maatreëls instel, tensy ons 'n bietjie langer hierdie koers inslaan, sal die koronavirus die land verswelg en uiteindelik verteer.

Dit is ons almal se wens dat die ekonomie weer op dreef moet kom, ons wil hê dat mense moet terugkeer werk toe, ons wil hê dat ons kinders weer skool toe moet gaan, en ons wil hê dat almal weer vrylik kan beweeg.

Maar ons onmiddellike prioriteit moet steeds wees om die verspreiding van die virus te vertraag en groot lewensverliese te voorkom.

Ons moet dit doen terwyl ons ook verhoed dat ons ekonomie in duie stort en dat ons mense nie honger ly nie.

Ons is vasbeslote om 'n pad te volg wat beide lewens red en mense se lewensbestaan beskerm.
Ons strategie bestaan uit drie dele:
˗    Eerstens, 'n verskerpte reaksie op die openbare gesondheid om infeksies te vertraag en te verminder.
˗    Tweedens, 'n omvattende pakket van ekonomiese ondersteuningsmaatreëls om ondernemings en individue wat deur die pandemie geraak word, te help.
˗    Derdens, 'n program van verhoogde maatskaplike ondersteuning om arm en kwesbare huishoudings te beskerm.
As regering, saam met ons vele vennote, gebruik ons hierdie staat van inperking om ons strategie vir openbare gesondheid te verfyn en te versterk om die koronavirus te bestuur.
Ons benadering is om mense in gemeenskappe te sif en in hospitale, klinieke en mobiele klinieke te toets, om diegene wat positief toets vir die virus, te isoleer en om diegene wat in ons gesondheidsfasiliteite siek is, te versorg.

Ons moet dit intensief en stelselmatig doen.
Ons het die afgelope week gebruik om ons siftings- en toetsmetodologie in verskillende dele van die land te ontwikkel.

Oor die volgende twee weke sal ons die program vir die sifting en toetsing van gemeenskappe in alle provinsies implementeer, met die fokus veral op uiters kwesbare gemeenskappe.

Diegene wat positief toets en nie tuis self kan isoleer nie, sal geïsoleer word by spesiale fasiliteite wat geïdentifiseer is en nou toegerus word.

Ons sal te alle tye die menseregte van alle mense in ag neem.

Laat ons nie diskrimineer teen mense wat positief toets nie.

Om te verseker dat ons strategieë doeltreffend gekoördineer word en dat hulle ingelig word deur uitgebreide, intydse data, het ons die Covid-19 Inligtingsentrum by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) gevestig.
Hierdie sentrum van wêreldgehalte sal tred hou met alle sifting, toetsing, isolasie en hospitalisasie regdeur die land.

Dit identifiseer reeds infeksie-gevaarpunte.

Dit volg op die verspreiding en die erns van die siekte en stel ons in staat om ons fokus en hulpbronne te verskuif na waar dit die nodigste is.
Ons werk saam met selfoonmaatskappye en ander instellings om mense op te spoor wat positief getoets het vir die virus en diegene met wie hulle kontak gehad het.
As deel van die tweede been van ons strategie, het ons verskillende maatreëls ingestel om ondersteuning aan ondernemings in nood te bied, aan werkers wat hul inkomste verloor, asook selfstandige en informele ondernemings.

Baie van hierdie maatreëls word deur groot sowel as klein ondernemings ingestel.

Die werkloosheidsversekeringsfonds het R40 miljard opsygesit om werknemers te help wat nie kan werk nie, as deel van die poging om werksverliese as gevolg van die inperking te voorkom.

Tot op hede het dit R356 miljoen uitbetaal.

Ek prys al die werkgewers wat gedurende hierdie moeilike tyd steeds hul werkers betaal, sowel as die werkgewers wat saam met vakbonde en die regering werk om hul werknemers te help om toegang tot hierdie voordele te kry.

Ek wil 'n beroep op alle ondernemings doen om aan te hou om hul verskaffers te betaal, in die mate wat hulle kan, om te verseker dat daardie verskaffers ook kan voortgaan om hul personeel en verskaffers te bedryf en te betaal. 

In dié verband wil ek 'n beroep op alle groot ondernemings doen om nie dwingende optrede te gebruik om op te hou om hul verskaffers en huurverpligtinge te betaal nie, aangesien die praktyk 'n domino-effek het op alle ander ondernemings wat van die ketting afhanklik is.

Ons moet alles in ons vermoë doen om te verseker dat die onderliggende ekonomie aanhou funksioneer en om ondersteuning op die klein ondernemings wat dit regtig nodig het te fokus.

Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het R3 miljard opsygesit vir die verkryging van noodsaaklike mediese voorraad.

Dit het reeds befondsing van R130 miljoen goedgekeur en verwag om in die komende week nog R400 miljoen aan maatskappye wat aansoek gedoen het om finansiering onder hierdie spesiale fasiliteit goed te keur.

Die Finansieringsagentskap vir Klein Ondernemings het die uitstel van die terugbetaling van lenings vir 'n tydperk van ses maande goedgekeur.

Die kleinsakeskuldverligting en groeifasiliteite vir ondernemings beoordeel tans aansoeke om hulp.

Daar is altesaam R500 miljoen beskikbaar vir ondersteuning.

Die regering het R1,2 miljard herprioritiseer om verligting aan kleinboere te verleen en om tot die veiligheid van voedselvoorsiening by te dra.

Benewens hierdie bestedingsmaatreëls, het die Reserwebank ook rentekoerse verlaag en is maatreëls getref om likiditeit in die ekonomie te verseker.

Een van die grootste uitdagings waarmee alle lande ter wêreld te kampe het, is die tekort aan mediese voorraad om die koronavirus te beveg.

As 'n land moet ons vertrou op ons eie vermoëns om hierdie goedere te lewer, maar moet ons ook voorraad vanaf ander lande kry.

Ons het die afgelope paar weke 'n massiewe mobilisering van Suid-Afrikaanse sake-, arbeid-, akademici en regeringsinstansies gemobiliseer om die voorraad mediese en ander toerusting op te bou wat nodig is om die koronavirus te beveg.

Ons het byvoorbeeld die National Ventilator Project op die been gebring om die tegniese en industriële hulpbronne van ons land vinnig te mobiliseer om nie-indringende ventilators te vervaardig, wat gebruik kan word om pasiënte wat die siekte het, te ondersteun.

Ander projekte fokus op die verhoging van die plaaslike vervaardiging van beskermende gesigmaskers, handontsmetmiddels en farmaseutiese produkte wat deur gesondheidsorgwerkers en die breë publiek gebruik kan word.
As die derde deel van ons reaksie op die koronavirus werk ons daaraan om in basiese behoeftes soos water te voorsien en om die betroubaarheid van voedselvoorsiening aan die armste Suid-Afrikaners te handhaaf.

Ons het ook die voorsiening van kospakkies uitgebrei en ons bied finansiële ondersteuning aan spaza-winkels.

Tot op hede het die regering meer as 11 000 wateropgaartenks by gemeenskappe regoor die land wat in nood is, afgelewer en baie daarvan is geïnstalleer.

Hierbenewens is 1 000 watertenkwaens vir die aflewering van water voorsien.

Verskeie haweloses is in 154 skuilings gehuisves.

Dit is vir my aangenaam om te berig dat die Solidariteitfonds – wat gestig is om hulpbronne van ondernemings, organisasies en individue te mobiliseer om die koronaviruspandemie te bekamp – tot dusver ongeveer R2,2 miljard ingesamel het.
 
Dit het reeds ongeveer R1 miljard bewillig om steriele handskoene, gesigskerms, chirurgiese maskers, toetsstelle en ventilators te koop.
Dit sal ook fondse vir humanitêre hulp aan kwesbare huishoudings toewys, benewens die R400 miljoen wat deur die regering opsygesit is vir maatskaplike verligting van noodtoelaes.

Hoewel al hierdie pogings noodsaaklik en prysenswaardig is, sal dit nie voldoende wees om die armes teen die gevolge van hierdie pandemie te beskerm nie.

Dit sal ook nie die verligting bied wat ondernemings en hul werknemers nodig het nie.

Bykomende buitengewone maatreëls sal in die komende weke en maande ingestel moet word om die skielike verlies aan inkomste vir sowel ondernemings as individue te dek.

Ons is in 'n situasie wat vinnige optrede en buitengewone metodes verg, 'n situasie wat innovering verg, sowel as die mobilisering van elke hulpbron wat ons het.

Die Kabinet sal 'n omvattende pakket ontwikkel met dringende ekonomiese maatreëls om te reageer op die onmiddellike krisis en op die ernstige ekonomiese uitdagings wat ons in die komende maande moet hanteer.

Verdere aankondigings oor die volgende fase van ons ekonomiese en maatskaplike ondersteuningstrategie sal mettertyd gemaak word.

Die beginsel van solidariteit is 'n wesenlike deel van ons reaksie op hierdie noodgeval.
Maatskappye en individue het regoor die samelewing na vore gekom om finansiële en ander hulp te verleen.

Ter ondersteuning van hierdie poging het ons besluit dat die President, die Adjunkpresident, ministers en adjunkministers elk 'n derde van hulle salarisse vir die volgende drie maande sal verbeur.
Hierdie deel van hulle salarisse sal aan die Solidariteitfonds geskenk word.

Ons doen 'n beroep op ander openbare ampsdraers en bestuurders van groot ondernemings om soortgelyke opofferings te maak en die reikwydte van hierdie nasionale poging verder te vergroot.

In dié verband verwelkom ons die skenking van 20 000 selfone deur Vodacom vir gesondheidswerkers wat betrokke sal wees by die sifting- en opsporing in gemeenskappe.

Soos ons reeds voorheen beklemtoon het en weereens sal benadruk, verg ons stryd teen die koronavirus fundamentele gedragsveranderinge van ons almal.

Totdat ons die koronavirus kan verslaan, bly dieselfde reëls van krag.

Die virus kan oorgedra word as ons hande skud, mekaar omhels, na aan mekaar sit, en deur enige ander vorm van fisiese kontak; ons moet dit dus vermy. 
Ons moet aanhou om ons hande gereeld en deeglik te was met seep en water of met ’n handontsmetmiddel.

Om veilig te bly en ander veilig te hou, moet ons aanhou om die beperkings wat op ons bewegings en op ons daaglikse lewens geplaas word, te respekteer.

Die afgelope twee weke het ek met ander Afrika-leiers gepraat oor 'n gekoördineerde poging oor die vasteland heen om die koronavirus te bekamp en om ons mense en ons ekonomieë te ondersteun.

Ons het 'n AU Covid-19-reaksiefonds gestig om die nodige hulpbronne te mobiliseer om hierdie poging te ondersteun.

Ons het na wêreldleiers uitgereik, al sukkel hulle ook met die pandemie in hul eie lande, om die vasteland te help met noodsaaklike mediese voorraad en om 'n omvattende aansporingspakket vir Afrika te steun.

Terwyl ons hierdie siekte in ons land konfronteer, maak ons deel uit van 'n omvattende wêreldwye poging om die mensdom bymekaar te bring op maniere wat baie mense nooit gedink het moontlik is nie.

Vir miljarde mense regoor die wêreld, en vir ons hier in Suid-Afrika, het die koronaviruspandemie alles verander.

Ons kan nie meer werk op die maniere waarop ons voorheen gewerk het nie.

As regering, as nie-regeringsorganisasies, as politieke partye, as groot maatskappye en klein ondernemings, as finansiële instellings, as gemeenskapsorganisasies en as Suid-Afrikaners, sal ons moet aanpas by 'n nuwe werklikheid.

Namate ons hierdie krisis te bowe kom, sal ons land 'n proses van fundamentele heropbou moet ondergaan.

Hiervoor gebruik ons, ons sterk punte: ons oorvloedige natuurlike hulpbronne, ons gevorderde infrastruktuur, ons grondige finansiële markte, ons bewese vermoëns in inligting- en kommunikasietegnologie, en die besonderse talent van ons mense.

Ons sal gebruik maak van ons vermoë tot innovasie en kreatiwiteit, ons vermoë om saam te staan in ’n krisis, en ons toewyding aan mekaar en ons gemeenskaplike toekoms.
Ons sal leer uit wêreldwye ervaring en die beste wetenskaplike bewyse, maar ons sal op 'n unieke Suid-Afrikaanse wyse reageer en ons eie vermoëns as 'n nasie gebruik.

Hierdie naweek is 'n heilige tyd vir baie Suid-Afrikaners.

Vir baie sal dit moeilik wees om hierdie tyd sonder hul vriende en familie deur te bring.

Ek vra dat julle vanaand almal in julle land wat kwesbaar, behoeftig en alleen is in julle gedagtes sal hou.

Ek vra dat julle sal gee wat julle kan om die las te verlig.

Om tot die Solidariteitfonds by te dra op enige manier wat julle kan.

Dit is 'n moeilike tyd vir ons almal.

Tog is die boodskap van Paasfees een wat ons vanaand in ons harte dra.

Dit is die boodskap van hoop, herstel en wedergeboorte.

Terwyl ons hierdie pad saam stap, terwyl ons sukkel om hierdie pandemie te beveg, bly ons sterk en verenig en vasberade.

Daar word baie van julle gevra, veel meer as wat ooit gevra behoort te word.
Maar ons weet dat dit 'n kwessie van oorlewing is, en ons durf nie misluk nie.
Ons sal herstel.
Ons sal oorwin.
Mag God Suid-Afrika seën en haar mense beskerm.
Ek dank u.
 

Share this page

Similar categories to explore