President Cyril Ramaphosa: Staatsrede 2022

Staatsrede (SR) deur president Cyril Ramaphosa Kaapstadse stadsaal Donderdag, 10 Februarie 2022

Speaker van die Nasionale Vergadering, me Nosiviwe Mapisa-Nqakula,
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, mnr. Amos Masondo,
Adjunkpresident David Mabuza,
Oudpresident Thabo Mbeki,
Voormalige Adjunkpresident Phumzile Mlambo-Ngcuka,
Voormalige Adjunkpresident President Baleka Mbete,
Voormalige Speaker van die Nasionale Vergadering, mnr. Max Sisulu,
Waarnemende hoofregter Raymond Zondo,
Burgemeester van die Stad Kaapstad, mnr. Geordin Hill-Lewis,
Dekaan van die diplomatieke korps, mnr. Bene M'Poko,
Lede van die regbank,
Hoofde van instellings wat demokrasie ondersteun,
Lede van die Parlement,
Mede-Suid-Afrikaners,

Vanjaar, die eerste keer sedert die aanvang van ons demokrasie, word die Staatsrede nie in die saal van die Nasionale Vergadering gelewer nie.

Met die aanvang van die nuwe jaar het ʼn massiewe brand die setel van ons demokrasie verswelg.

Ons het almal met woede en hartseer toegekyk hoe die vlamme die gebou vernietig waar ons demokratiese grondwet gebore is, waar wette van hervorming en vordering deurgevoer is, waar vryverkose verteenwoordigers van die mense ons jong nasie help vorm het.

Vir baie mense spreek dit wat met die parlement gebeur het van ʼn toonbeeld van groter vernietiging in ons land.

Vir baie mense was die brand ʼn simbool van die vernietiging wat deur die Kovid-19-pandemie veroorsaak is weens toenemende werkloosheid en groeiende armoede.

Dit spreek van die verwoesting deur ʼn pandemie wat oor die afgelope twee jaar die lewens van tienduisende Suid-Afrikaners geëis het, twee miljoen mense werkloos gelaat en swaarkry vir baie gesinne veroorsaak het.

Die brand in die parlement het ons herinner aan die vernietiging, geweld en plundery wat ons in Julie verlede jaar in dele van die land aanskou het, aan die meer as 300 mense wat gesterf het en bestaansmiddele wat vernietig is.

Soos ons terugkyk oor die jaar wat verby is, dink ons terug aan die woorde van president Thabo Mbeki wat ons herinner het dat: “Moeilike tye verg moed en veerkragtigheid. Ons krag as ʼn nasie word nie in die goeie tye getoets nie.”

Dat ons in die Kaapstadse stadsaal bymekaar kom in plaas van in die saal van die Nasionale Vergadering, toon die buitengewone omstandighede van ons tyd.

Dit weerspieël die vasberadenheid van die voorsittende beamptes van die parlement, en ook van al die lede van die twee huise, dat die werk van dié instelling sonder onderbreking moet voortgaan.

Daar is tye in die lewe van ʼn nasie waar ou sekerhede geskud word en nuwe moontlikhede na vore kom.

In sulke oomblikke is daar die vooruitsig van groot vordering asook die risiko van agteruitgang.

Vandag staar ons so ʼn oomblik in die gesig.

Die pad wat ons nou kies, sal die rigting vir toekomstige generasies bepaal.

Dit is hoekom ons stappe neem om ons demokrasie te versterk en ons verbintenis tot ʼn grondwet wat ons almal beskerm, herbevestig.

Ons werk saam om weer nuwe lewe in ons ekonomie te blaas en die ongelykheid en ongeregtigheid wat ons vordering belemmer, te beëindig.

Ons staan saam teen korrupsie, en om seker te maak dat diegene wat verantwoordelik is vir staatskaping, gestraf word vir hulle misdade.

Ons is besig om die staat te herbou, en vertroue en trots in staatsinstellings te herstel.

As daar een ding is waaroor ons almal saamstem, is dit dat die huidige situasie — van erge armoede, werkloosheid en ongelykheid — onaanvaarbaar is en nie volhoubaar nie.

Daar is eenstemmigheid onder ʼn diverse aantal Suid-Afrikaners dat fundamentele hervorming nodig is om ekonomiese groei te laat herleef.

Daar is ʼn behoefte dat die onmiddellike krisis aandag kry asook dat toestande vir langtermynstabiliteit en -ontwikkeling geskep word.

Suid-Afrika het ʼn nuwe konsensus nodig om dit te bereik.

ʼn Konsensus wat gebore is uit ʼn gemeenskaplike begrip van ons huidige uitdagende situasie en ʼn erkenning van die behoefte om die uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid aan te pak.

Dit behoort ʼn nuwe konsensus te wees wat erken dat die staat ʼn omgewing moet skep waarin die privaat sektor in die dinamiek van die ekonomie kan belê en dit kan ontsluit.

Maar ook ʼn omgewing waarin Suid-Afrikaners ʼn beter lewe kan ly en die energie van hulle vermoëns kan ontsluit.

Dit behoort ook ʼn nuwe konsensus te wees wat ons gedeelde verantwoordelikheid teenoor mekaar omarm en wat erken dat ons almal saam hierin is.

As maatskaplike vennote — die regering, arbeid, sakelui en gemeenskappe — werk ons saam om te bepaal watter stappe ons gesamentlik moet neem om so ʼn konsensus te skep.

Ons het met samesprekings begin oor watter kompromieë ons sal moet aangaan en watter bydrae ons elkeen sal moet maak.

Ons het onsself 100 dae gegee om ʼn omvattende maatskaplike ooreenkoms te finaliseer om ons ekonomie te laat groei, werk te skep en honger hok te slaan.

Hierdie werk sal voortbou op die grondslag van die Ekonomiese Heropbou- en Herstelplan (EHHP) wat ons gemeenskaplike plan bly om die ekonomie te herbou.  

Ons bly gefokus op die prioriteite wat ons tydens verlede jaar se staatsrede geïdentifiseer het:

  • om die Kovid-19-pandemie te oorwin,
  • ʼn massiewe ontplooiing van infrastruktuur,
  • ʼn beduidende toename in plaaslike vervaardiging,
  • ʼn indiensnemingstimulus om werk te skep en mense se lewensbestaan te ondersteun,
  • die snelle uitbreiding van ons energie-opwekkingskapasiteit.


Dié maatskaplike ooreenkoms moet elke Suid-Afrikaner en elke deel van ons samelewing insluit om doeltreffend te wees.

Niemand moet agtergelaat word nie.

Mede-Suid-Afrikaners,

Toe ek verlede keer die staatsrede aangebied het, was ons te midde die ergste pandemie in meer as ʼn eeu.

Ons het opeenvolgende golwe van infeksie, die verskyning van nuwe variante en die vernietigende koste van ongeveer 100 000 Kovid-19-verwante sterftes gehad sedert Kovid-19 ons land getref het.

Suid-Afrikaners het met groot moed en veerkragtigheid, met medelye en selfbeheersing, op dié ernstige bedreiging gereageer.

Ons het oor die afgelope twee jaar ongekende aksie geneem om ons gesondheidstelsel te versterk, laboratoriumkapasiteit uit te bou en infeksie te voorkom.

Die nasie is groot dank verskuldig aan die toegewyde gesondheidsorgwerkers en ander personeel in die voorste linies wat hulle gesondheid en lewens op die spel geplaas het om tydens hierdie pandemie na die siekes en kwesbares om te sien.

Ek het, binne weke nadat die eerste infeksie in ons land aangemeld is, die oprigting van die Solidariteitsfonds aangekondig, met die doel om die land te verenig in die stryd teen die pandemie.

In ʼn golf van welwillendheid wat oor die land gespoel het, het die fonds R3,4 miljard ingesamel van meer as 300 000 individue en 3 000 maatskappye en stigtings. Meer as 400 individue en 100 maatskappye het hulle tyd en dienste vrywillig aangebied.

Die fonds het ʼn kernrol in die ondersteuning van die nasionale gesondheidsreaksie en verligting van die humanitêre krisis gespeel.

Ek wil almal bedank wat bygedra het tot die Solidariteitsfonds, asook die groot aantal mense wat saamgekom het in ontelbare ander inisiatiewe om diegene wat deur die pandemie geraak is, te ondersteun. 

Ons moes, soos wat die gang van die pandemie voortdurend verander het, aanpas en verander.

Ons benadering is deurgaans deur die bes beskikbare wetenskaplike bewyse gelei, en ons het uitgestaan weens die gehalte van sowel ons wetenskaplikes as hulle betrokkenheid tydens elke stap van ons reaksie.

Ons het gedurende die voorafgaande jaar op die versnelling van ons entstofontplooiing gefokus.

Tot dusver het ons 30 miljoen dosisse van die Kovid-19-entstowwe toegedien. Ongeveer 42% van alle volwassenes en 60% van almal bo 50 is gevolglik volledig ingeënt.

Ons is nou gereed om ʼn nuwe fase in ons bestuur van die pandemie te betree.

Ons bedoeling is om die nasionale ramptoestand te beëindig sodra ons ander maatreëls ingevolge die Wet op Nasionale Gesondheid, 2003 (Wetnr. 61 van 2003) en ander wetgewing gefinaliseer het om die pandemie te bekamp.

Byna alle beperkings op ekonomiese en sosiale aktiwiteite is alreeds opgehef.

Dit is bewys dat entstowwe die beste verdedigingsmeganisme teen siekte en sterfte weens Kovid-19 is.

As ons almal ingeënt word, voortgaan om basiese gesondheidsmaatreëls na te kom en waaksaam bly, sal ons in staat wees om voort te gaan met ons lewe, selfs met die virus in ons midde.

Die toestand van die nasie is onlosmaaklik verweef met die toestand van die ekonomie.

Kovid-19 het, bykomend tot die skeiding wat deur ras, geografie en opvoeding veroorsaak word, die gaping tussen diegene wat werkloos is en dié wat werk het, vergroot.

Ons werkloosheidsyfer het verlede jaar sy hoogste opgetekende vlak bereik.

Werkloosheid is deur lae groei veroorsaak, wat om die beurt deur ʼn langtermynafname in beleggings veroorsaak is.

Ons het verlede jaar gebaat by ʼn stabiele makro-ekonomiese raamwerk, sterk kommoditeitspryse en ʼn beter-as-verwagte herstel.

Ons is egter teruggehou deur onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening, onvoldoende netwerkindustrieë en die hoë koste om sake te doen.

Ons het buitengewone maatreëls ingestel om besighede in staat te stel om te groei en werk te skep, tesame met uitgebreide openbare werkskepping en maatskaplike versorging.

Ons weet almal dat die regering nie werk skep nie. Besighede skep werk.

Ongeveer 80% van al die mense wat in Suid-Afrika in diens geneem is, is in die privaat sektor se diens.

Die sleuteltaak van die regering is om die toestande te skep wat die privaat sektor — beide klein en groot — in staat sal stel om na vore te kom, te groei, nuwe markte te betree, nuwe produkte te skep en meer werknemers in diens te neem.

Die probleme in die Suid-Afrikaanse ekonomie is diep en dit is struktureel van aard.

Maatskappye is huiwerig om te belê en die ekonomie kan nie behoorlik funksioneer wanneer elektrisiteitsvoorsiening nie gewaarborg kan word nie, wanneer die spoorweë en hawens ondoeltreffend is nie, wanneer innovasie deur ʼn gebrek aan breëbandspektrum teruggehou word nie en wanneer watergehalte agteruitgaan nie.

Ons is besig, met die oog daarop om dié uitdagings aan te pak, om die implementering van verreikende strukturele hervorming te versnel om dié bedrywe te moderniseer en te transformeer, beleggings te ontsluit, koste te verminder en mededingendheid en groei te verhoog.

Die elektrisiteitskrisis is een van die grootste bedreigings vir die ekonomie en maatskaplike vooruitgang.

Ons is oor die laaste paar dae weereens herinner aan die broosheid van ons elektrisiteitstelsel.

Beurtkrag gaan voort om ʼn reuse impak te hê op die lewens van alle Suid-Afrikaners deur besigheidsaktiwiteite te ontwrig en addisionele stremming op families en gemeenskappe te plaas. 

Ons land het, weens ons verouderende kragstasies, swak onderhoud, beleidsblapse en die vernietigende effek van staatskaping, ʼn tekort van ongeveer 4 000 MW se elektrisiteit.

Ons het tydens die afgelope jaar besliste stappe geneem om so gou as moontlik bykomende opwekkingskapasiteit aanlyn te bring om die tekort te verminder.

Daar gaan gevolglik verskeie nuwe energie-opwekkingsprojekte oor die volgende paar jaar aanlyn kom. Dit sluit in:

  • meer as die 500 MW van oorblywende projekte in Bodvenster 4 van die hernubare energieprogram, wat in ʼn gevorderde stadium van ontwikkeling is,
  • 2 600 MW van Bodvenster 5 van die hernubare energieprogram, waarvan die voorkeurbieërs verlede jaar aangekondig is,
  • tot 800 MW van daardie risikoverlagende kragprojekte wat gereed is om voort te gaan,
  • 2 600 MW van Bodvenster 6 van die hernubare energieprogram, wat binnekort geopen sal word,
  • 3 000 MW van gaskrag en 500 MW van batteryberging, waarvoor ʼn versoek om voorleggings later dié jaar uitgereik sal word,
  • ʼn geskatte 4 000 MW van ingebedde opwekkingsprojekte in die mynbousektor,
  • ongeveer 1 400 MW wat tans in die proses is om deur verskeie munisipaliteite verkry te word,
     

Ons implementeer fundamentele veranderinge aan die struktuur van die elektrisiteitsektor, tesame met die verkleining van die energieverskaffingstekort.

Eskom het ʼn aparte transmissiefiliaal gestig en is op koers om sy ontbondeling teen Desember 2022 te af te handel.

Die nutsmaatskappy het voortgegaan met sy intensiewe onderhoudprogram om jare van swak onderhoud en onderprestasie van bestaande aanlegte, om te keer.

Die kabinet het gister wysigings aan die Elektrisiteitsreguleringswet, (Wetnr. van 2006) vir openbare kommentaar voorgelê om al dié verbeterings te reguleer.

Dié verreikende wysigings sal sowel ʼn mededingende mark vir elektrisiteitsopwekking, as die vestiging van ʼn onafhanklike staatsbeheerde transmissiemaatskappy, daarstel.

Ons ekonomie kan nie sonder doeltreffende hawens en spoorweë groei nie.

Die funksionering van ons hawens het oor die afgelope aantal jare, relatief tot hawens in ander wêrelddele en op die Afrika-kontinent, afgeneem. Dit beperk ekonomiese aktiwiteit.

Die landbousektor, byvoorbeeld, leun swaar op doeltreffende, goed bestuurde hawens om hulle produkte na oorsese markte uit te voer.

Vars produkte kan nie dae en selfs weke by ʼn terminaal lê nie.

Dit doen ons besighede leed aan en benadeel ons land se reputasie as ʼn uitvoerder van gehalte varsprodukte.

Transnet gee aandag aan dié uitdagings en spits hulle tans daarop toe om hul operasionele doeltreffendheid by die hawens te verbeter deur bykomende toerusting te bekom en nuwe stelsels te implementeer om samehoping te verminder.

Transnet gaan binne die volgende paar maande voorleggings vra van private vennote vir die Durbanse en Ngqura-vraghouerterminale, wat vennootskappe by beide terminale teen Oktober 2022 moontlik sal maak.

Transnet gaan die proses begin om vanaf April 2022 derdeparty-toegang tot sy spoorvragnetwerk te gee, deur gleuwe op die vraghouerkorridor tussen Durban en City Deep in Gauteng beskikbaar te stel.

Transnet het vennootskappe met die privaat sektor aangegaan om deur middel van gevorderde tegnologie en bykomende veiligheidspersoneel aan kabeldiefstal en vandalisme op die spoorvragnetwerk aandag te gee.

Dié gesamentlike poging toon reeds resultate deur ʼn afname in die onderbreking van spoorvragvervoer.

Die swak toestand van passasierstreine in Suid-Afrika het ʼn direkte en skadelike impak op die lewe van ons mense.

Daarom is ons hard aan die werk om die passasierspoornetwerk in 10 prioriteitskorridors te rehabiliteer.

Die suidelike lyn in Kaapstad en die Mabopane-lyn in Pretoria is heropen, wat in die volgende jaar deur die oorblywende lyne gevolg sal word.

Een van die grootste beperkings in die tegnologiese ontwikkeling van ons ekonomie is die onaanvaarbare vertraging in die migrasie van die uitsaaiwese van analoog na digitaal.

Die afskakeling van analoog-uitsendings is in ʼn aantal provinsies voltooi.

Ander provinsies sal die teen einde Maart 2022 na digitale sein oorskuif, soos wat ek verlede jaar tydens die staatsrede aangekondig het.

Die regering sal, as deel van dié proses, voortgaan om lae-inkomste huishoudings te subsidieer sodat hulle toegang tot ʼn kabelboks (“set-top box” in Engels) kan hê en kan oorskakel na digitale TV.

Ons kommunikasiereguleerder, ICASA, sal oor omtrent drie weke begin om die hoëspoedfrekwensie-kommunikasiespektrum op te veil.

Dit sal vir die eerste keer in meer as ʼn dekade ʼn nuwe spektrum vir mobiele telekommunikasie ontsluit.

Ons gaan ook die vinnige ontplooiing van breëbandinfrastruktuur regoor alle munisipaliteite fasiliteer deur die vestiging van ʼn standaardmodel vir die toewysing van munisipale toekennings.

Dié hervormende aksies sal ʼn omwenteling teweegbring in die land se tegnologiese ontwikkeling deur vinniger breëband toeganklik te maak vir meer mense en die koste van digitale kommunikasie te verminder.

Die vermoë om geskoolde immigrante te lok is regoor die wêreld die kenmerk van ʼn moderne, vooruitstrewende ekonomie.

Ons is derhalwe besig om die visumaansoekproses te moderniseer en meer vaartbelyn te maak om dit makliker te maak om na Suid-Afrika te reis vir toerisme, besigheid en werk.

Die eVisa-stelsel nou bekendgestel in 14 lande, waaronder China, Indië, Kenia en Nigerië, soos ons verlede jaar onderneem het.

Die hersiene lys van kritiese vaardighede is die eerste keer seder 2014 weer gepubliseer ná gedetailleerde tegniese werk en uitgebreide konsultasie met die sakelui en die arbeidsmark. Die opgedateerde lys weerspieël die vaardighede waarin daar vandag ʼn tekort is om seker te maak dat ons immigrasiebeleid ooreenstem met die eise van ons ekonomie. 

ʼn Omvattende hersiening van die werksvisumstelsel is tans aan die gang en word deur die voormalige direkteur-generaal van Binnelandse Sake, mnr. Mavuso Msimang, gelei.

Dié hersiening ondersoek die moontlikheid van nuwe visa-kategorieë wat groei kan bevorder, waaronder ʼn beginnersondernemingvisum en ʼn afstandswerkvisum.

Water is die land se kosbaarste natuurlike hulpbron.

Dit is noodsaaklik vir lewe, ontwikkeling en ekonomiese groei.

Dit is waarom ons institusionele hervorming op dié gebied geprioritiseer het om toekomstige watersekerheid, belegging in waterhulpbronne en onderhoud van bestaande bates te verseker.

Ons het begin met ʼn proses van institusionele hervorming om die Departement van Water en Sanitasie (DWS) toe te rus en waterrade te hersien so ver dit hulle mandaat betref om te verseker dat hulle munisipaliteite met betrekking tot die distriksontwikkelingsmodel (DOM) bedien.

Dié hervorming word deur die Minister van Water en Sanitasie gelei, wat elke waterhulpbron in die land besoek het.

ʼn Volledige omkeerplan word geïmplementeer om die aansoekproses vir watergebruikslisensies meer vaartbelyn te maak. Die teiken is om die agterstand in aansoeke teen Junie 2022 uit te wis en om tydens die volgende boekjaar 80% van al die aansoeke binne 90 dae te verwerk.

Wetgewing is voorberei vir die oprigting van die nasionale waterhulpbroninfrastruktuuragentskap en sal binne die volgende maand vir openbare kommentaar gepubliseer word.

Die watergehalte-moniteringstelsel is heringestel om die toepassing van waterstandaarde op munisipale vlak te verbeter en die DWS in staat te stel om in te gryp waar water- en sanitasiedienste nie voldoende werk nie.

Ons gaan die beleids- en reguleringsraamwerk vir industriële hennep en dagga hersien om die massiewe potensiaal vir belegging en werkskepping te ontsluit.

Alhoewel strukturele hervorming nodig is sodat ons ekonomiese groei kan aanwakker, is dit op sy eie nie genoeg nie.

Ons tref dié jaar verreikende maatreëls om die potensiaal van klein, mikro- en informele ondernemings te ontsluit.

Dié ondernemings skep die meeste werk en verskaf die meeste geleenthede aan arm mense om ʼn bestaan te maak.

Ons het gesprekke met maatskaplike vennote begin as deel van die maatskaplike ooreenkomsproses om arbeidsmarkregulasies vir kleiner ondernemings te hersien, om hulle in staat te stel om meer mense in diens te neem terwyl hulle voortgaan om werkersregte te beskerm.

ʼn Nuwe, herontwerpte leningswaarborgskema word bekendgestel om klein ondernemings in staat te stel om ná die pandemie en die burgerlike onrus terug te wip.

Dié nuwe terugwipskema inkorporeer die lesse van die vorige leningswaarborgskema.

Dit sal ontwikkelingsfinansieringsinstellings en nie-bank-KMO’s behels om finansiering te verskaf, die soorte finansiering wat beskikbaar is uit te brei en die kriteria vir geskikte aansoekers aan te pas sodat meer mense kan deelneem.

Die Nasionale Tesourie werk saam met belanghebbendes in die industrie om die skema te finaliseer en sal binnekort meer besonderhede verskaf.

Ons is besig om die Besigheidswet, 1991 (Wetnr. 71 van 1991) te hersien — tesame met ʼn breër beskouing van wetgewing wat klein, mikro- en mediumondernemings (KMMO’s) insluit — om die reguleringslas op informele besighede te verlig.

Daar is te veel regulasies in die land wat onnodig ingewikkeld, duur en moeilik is om aan te voldoen. Dit verhoed dat maatskappye groei en werk skep.

Ons werk gevolglik daaraan om die sake-omgewing vir maatskappye van alle groottes te verbeter deur ʼn toegewysde kapasiteit in die Presidensie om rompslomp te verminder.

Ons benodig toegewyde kapasiteit met die vermoë om veranderinge aan te bring, as ons vordering in die uitsny van onnodige burokratiese vertragings vir besighede wil maak.

Daarom het ek vir mnr. Sipho Nkosi aangestel as hoof van ʼn span in my kantoor om rompslomp regdeur die regering te verminder.  

Mnr. Nkosi het omvattende besigheidservaring, waaronder as die HUB van Exxaro Resources, en is tans voorsitter van die Kleinsake Instituut.

Die rompslompspan sal hervormingsprioriteite vir die jaar identifiseer, insluitend meganismes om te verseker dat staatsdepartemente verskaffers binne die verlangde 30 dae betaal.

Die span sal ook saam met ander departemente en agentskappe werk om spesifieke struikelblokke in die pad van beleggings en sakegroei te verwyder. Dit sal huidige inisiatiewe ondersteun om prosesse wat verband hou met eiendomsregistrasie, oorgrenshandel en konstruksiepermitte, te vereenvoudig.

Infrastruktuur staan sentraal in ons ekonomiese heropbou en herlewing.

Ons het, deur innoverende befondsing en verbeterde tegniese vermoë, infrastruktuurprojekte om ekonomiese groei te ondersteun en mense se lewensbestaan te verbeter, geprioritiseer, veral in energie, paaie en waterbestuur.

Die Infrastruktuurfonds staan sentraal in dié poging, met ʼn toekenning van R100 miljard uit die fiskus oor 10 jaar.

Die fonds werk nou saam met staatsinstellings om ʼn pyplyn van projekte voor te berei met ʼn beleggingswaarde van ongeveer R96 miljard in studenteverblyf, maatskaplike behuising, telekommunikasie, water en sanitasie, en vervoer.

Daar word verwag dat die konstruksie van verskeie katalitiese projekte ter waarde van R21 miljard dié jaar ʼn aanvang sal neem. R2,6 miljard hiervan is deur die regering bygedra en die balans uit die privaat sektor en ontwikkelingsfinansieringsinstellings.

Die regering sal ʼn aanvanklike belegging van R1,8 miljard in grootmaatinfrastruktuur maak, wat sewe privaat sektorprojekte ter waarde van R133 miljard, sal ontsluit.

Paaie en brûe verskaf vir miljoene Suid-Afrikaners in landelike gebiede toegang tot markte, werksgeleenthede en maatskaplike dienste.

Baie kinders moet egter steeds sterk vloeiende riviere trotseer om by die skool uit te kom en motoriste moet onbegaanbare paaie trotseer om die volgende dorp te bereik.

Ons gaan derhalwe die Welisizwe-program vir brûe in landelike gebiede verbeter om 95 brûe per jaar, i.p.v. die huidige 14, te bou.

Ons Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is die agent wat die Welisizwe-program implementeer en het die kundigheid van SANW-ingenieurs in brugbou gedemonstreer.

Ek was vroeër dié week in die Thakgalane-nedersetting in Limpopo om ʼn nuwe pad te open wat ʼn groot verskil in die lewe van die naburige gemeenskappe gaan maak. Dié pad is gebou deur gebruik te maak van baksteenplaveisel en ander materiaal, wat dit vir ons moontlik maak om duursame paaie gouer en meer koste-effektief te bou.

Die landelike padprogram sal gebruik maak van arbeidsintensiewe metodes om oor die volgende drie jaar 685 kilometer se paaie te bou of op te gradeer. Dié maatskaplike ondernemingsprogram behels toegangspaaie in Limpopo en die Oos-Kaap, die opgradering van grond- na oppervlakpaaie in die Vrystaat en Noordwes en die verbetering van kapasiteit en verbindingsroetes in die Wes-Kaap.

Die regering het die Umsimvubu-waterprojek begin.

Dié projek bestaan uit die Ntabelanga-dam en Lalini-dam, besproeiingsinfrastruktuur en hidroëlektriese aanleng, Ntabelanga-waterwerke en grootmaatverspreidingsinfrastruktuur om water d.m.v. ʼn netwerk na die naburige gemeenskappe te versprei.

Die sluitingsdatum vir die eerste van die tweefaseverkrygingsproses is geskeduleer om later dié maand te sluit, met die voorkeurbieër wat waarskynlik in September 2022 aangekondig sal word.

Die regering is besig om ʼn innoverende maatskaplike infrastruktuurleweringsmeganisme bekend te stel om aandag te gee aan die kwessies wat die lewering van skole-infrastruktuur belemmer.

Die meganisme sal aandag gee aan die tempo, finansiering en befondsing, gehalte van lewering, massa-indiensneming en onderhoud.

Die nuwe leweringsmeganisme sal ʼn spesiale doelvoertuig bekendstel wat saam met prominente ontwikkelingsfinansieringsinstellings en die privaat sektor sal werk om skoolonderriginfrastruktuur te lewer.

Dié benadering is reeds in die Noord-Kaap en Oos-Kaap geloods.

Die regering het oor die afgelope jaar voortgebou op sy suksesvolle Hydrogen SA-strategie om ʼn groot treë te gee in die posisionering van Suid-Afrika as ʼn wêreldleier in dié nuwe mark.  

Dit behels die ontwikkeling van ʼn waterstofsamelewingspadkaart vir die volgende 10 jaar, asook ʼn groen waterstofstrategie vir die Noord-Kaap, wat die ontwikkeling van ʼn groen waterstofpyplyn ter waarde van R270 miljard ondersteun.

Die skade wat aan ons infrastruktuur soos elektrisiteit, treine en ander noodsaaklike dienste aangerig word weens die diefstal van skrootmetaal en kabels, is enorm. Ons gaan dié jaar besliste stappe neem deur sowel beter wetstoepassing as die oorweging van verdere stappe om aandag te skenk aan die verkope of uitvoer van sodanige skrootmetaal.

ʼn Belangrike pilaar van ons EHHP is om weer lewe in ons vervaardigingsbasis te blaas en mededingende uitvoerindustrieë te skep.

Ons het oor die afgelope jaar nuwe meesterplanne in die staalbedryf, die meubel- en globale besigheidsdienste bekendgestel.

Sakelui, die regering en die arbeidsmark werk deur middel van dié planne saam om vervaardiging in dié sektor te verhoog en meer werk te skep.

ʼn Aantal kleinhandelaars in die klerebedryf het ambisieuse planne aangekondig om goedere plaaslik te verkry.

Een van hierdie kleinhandelaars, Foschini, het goedgunstiglik dié pak klere wat ek vandag aan het, by sy nuwe fabriek vir formele drag in Prestige Epping, gemaak.

Meer as 80% van al die Foschini-groep se handelware het vyf jaar gelede van die Ooste afgekom. Vandag word ongeveer die helfte plaaslik vervaardig.

Die egte leerskoene wat ek vandag dra, is deur lede van die National Union of Leather and Allied Workers van Bolton Footwear in Kaapstad en Dick Whittington-skoene in Pietermaritzburg vervaardig.

Ons het ongeveer vier jaar gelede vir onsself ʼn teiken gestel om R1,2 triljoen in nuwe beleggings oor vyf jaar te mobiliseer.

Ons het, teen die tyd wat die derde Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie in November 2020 plaasgevind het, R776 miljard in beleggingsverpligtinge bereik.

Volgende maand, op 24 Maart, sal ons die vierde Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie in Johannesburg aanbied.

Ons gaan die vele beleggingsgeleenthede wat beskikbaar is namate Suid-Afrika voortgaan om van die Kovid-19-pandemie te herstel, ten toon stel en terugvoer gee oor die vordering van beloftes wat voorheen gemaak is.

In opvolging van die Afrika-Unie-beraad wat die afgelope naweek gehou is se beslissings, kan handel nou onder die Afrika-kontinentale vryehandelsgebiedooreenkoms begin.

Suid-Afrikaanse maatskappye is geposisioneer om ʼn sleutelrol te speel en geleenthede aan te gryp in die voorkeurtoegang tot ander Afrika-markte wat gebied word.

Die Vryehandelsooreenkoms gaan oor Afrika wat verantwoordelikheid neem vir sy lot en om die ekonomie vinniger te laat groei.

Ons sal voortgaan om Afrika se gesondheidsoewereiniteit na te streef deur saam met ander Afrikalande en internasionale vennote saam te werk om die kontinent se kapasiteit om pandemies te hanteer, te versterk.

Ons sal meer moeite doen om Afrika se vermoë om sy eie entstowwe te vervaardig, te ontwikkel.

Ons het beduidende vordering hier in Suid-Afrika gemaak.

Ons het nou twee Suid-Afrikaanse maatskappye — Aspen en Biovac — met kontrakte om Kovid-19-entstowwe te vervaardig. Twee bykomende entstofprojekte is ook aangekondig.

Ons het ook volledige plaaslike vervaardigingskapasiteit vir ventilators, handontsmettingsmiddels, mediese-graad gesigmaskers en handskoene en terapeutiese medisyne en narkosemiddels.

Dié produksievermoë wat miljarde rande in jaarlikse produksie werd is, is in minder as twee jaar op die been gebring.

Suid-Afrikaanse produkte is na ander Afrikalande uitgevoer, wat aan hulle noodsaaklike voorraad gegee en werk vir jong Suid-Afrikaners geskep het. 

Ons kweek ook nuwe geleenthede vir groei en werksgeleenthede terwyl ons bestaande industrieë help groei.

Die regering en die privaat sektor het nou saamgewerk om die globale sakedienstesektor te laat groei van ʼn klein groepie maatskappye na een van die wêreld se toonaangewende rolspelers.

Die globale sakedienstesektor is op koers om oor die volgende paar jaar 500 000 nuwe werksgeleenthede te skep.

Die hennep- en daggasektor het die potensiaal om meer as 130 000 nuwe werksgeleenthede te skep.

Ons is daarom besig om die regulatoriese prosesse meer vaartbelyn te maak sodat die hennep- en daggasektor kan floreer soos in ander lande, bv. Lesotho.

Ons mense in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en elders is gereed om met dié eeue-oue kommoditeit te boer en dit in nuwe en innoverende vorms na die mark te bring.

Die maatskaplike ekonomie, waaronder vroeë kinderontwikkeling, verpleging, maatskaplike werk en gemeenskapsdienste, toon beduidende potensiaal — nie net om werk te skep nie, maar om ook noodsaaklike dienste wat gemeenskappe nodig het, te voorsien.

Sommige van die land se volgroeide industrieë het ook baie te bied in die opkikkering van ons land se industriële en vervaardigingspotensiaal.

Die landbousektor het beduidende potensiaal vir werkskepping in oeste soos sitrus, tafel- en gedroogde druiwe, subtropiese vrugte, avokado’s, bessies en neute.

Meesterplanne in die suiker- en pluimveebedryf dra beduidend by tot die toename in beleggings, verbeterde produksie en transformasie.

Ons sal binnekort ons mynbou-ontginningstrategie finaliseer om beleggers te lok na die mynbouminerale wat in die nuwe globale ekonomie benodig word.

Ons sal voortgaan om die ontwikkeling van die stroomopgasbedryf te ondersteun aangesien dit groot potensiaal vir werkskepping en breër ekonomiese ontwikkeling inhou.

Ons sal seker maak dat dit streng volgens die omgewings- en ander wette van ons land gedoen word en ons sal, waar daar verskille is, saam werk om dit in die beste belang van ons land en sy mense op te los.

Ons woon in een van die streke van die wêreld wat die meeste deur klimaatsverandering geraak word.

Ons ondervind gereeld droogtes, vloede en ander uiterste weerstoestande wat met aardverwarming verband hou. ʼn Aantal provinsies is onlangs deur vloede geteister, waaronder KwaZulu-Natal, Gauteng en die Oos-Kaap.

Dit het reeds enorme skade aan infrastruktuur en lewensmiddele aangerig.

Ons het in die afgelope jaar belangrike stappe geneem in die stryd teen klimaatsverandering en terselfdertyd ons ekonomiese mededingendheid verseker.

Ons klimaatsteikens is vir die eerste keer versoenbaar daarmee om verwarming tot 1,5°C te beperk.

Dit is die teiken waartoe alle lande ingestem het as deel van die Paryse klimaatsooreenkoms en is noodsaaklik om die ergste gevolge van klimaatsverandering te voorkom.

Sedert ek ʼn bietjie meer as ʼn jaar gelede die presidensiële klimaatskommissie op die been gebring het, het hy heelwat werk gedoen om ʼn regverdige oorgang na ʼn volhoubare, inklusiewe, veerkragtige en laekoolstofekonomie te ondersteun.

Suid-Afrika het verlede November by die internasionale klimaatskonferensie in Glasgow ʼn historiese R131 miljard-transaksie met die Europese Unie, Frankryk, Duitsland, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State losgeslaan.

Dié vennootskap, wat die eerste van sy soort is, sal behels dat van die steenkoolaanlegte wat die einde van hul lewensduur bereik het, heraangewend en herindiensgestel gaan word, asook die skep van nuwe lewensbestaansmiddele vir werkers en gemeenskappe wat die meeste deur hierdie verandering geraak word.

Ek het vir mnr. Daniel Mminele, ʼn voormalige adjunk-goewerneur van die Reserwebank, as hoof van die presidensiële klimaatfinansieringstaakspan aangestel om die mobilisering van fondse vir ons regverdige oorgang te lei en om seker te maak dat Suid-Afrika ten volle voordeel trek uit hierdie en ander vennootskappe, .

Die energie-oorgang sal tot voordeel van almal strek, as dit behoorlik bestuur word.

Die opwekking van hernubare energie sal elektrisiteit goedkoper en meer betroubaar maak en sal daartoe lei dat ons industrieë wêreldwyd mededingend bly.

Beleggings in elektriese voertuie en waterstof sal Suid-Afrika toerus om aan die globale toekoms van skoon energie te voldoen.

Ons sal in staat wees om ons mynbedryf in strategiese minerale wat noodsaaklik is vir skoon energie, uit te brei, soos platinum, vanadium, kobalt, koper, mangaan en litium.

Ons het ook ʼn unieke geleentheid in groen waterstof, gegewe ons wêreldklas son- en windhulpbronne asook plaaslike tegnologie en kundigheid.

Al dié maatreëls — van strukturele hervorming tot ondersteuning vir KMMO’s, belegging in infrastruktuur en die opkoms van nuwe sektore — sal ʼn ommekeer in ekonomiese groei aanspoor wat aangedryf sal word deur die groei in die privaat sektor in die jare wat kom.

Ons weet egter dat selfs in die beste besigheidsomgewing en met ʼn veel vinniger ekonomiese groeikoers, dit nog steeds tyd sal neem vir die privaat sektor om genoeg werksgeleenthede te skep vir die miljoene Suid-Afrikaners wat dit nodig het.

Ons bedoeling is dat niemand sal agterbly nie.

Dit is hoekom ons staats- en maatskaplike indiensneming gaan uitbrei.

Die eerste twee fases van die presidensiële werkskeppingstimulusprogram, wat ons in Oktober 2020 bekendgestel het, het meer as 850 000 geleenthede ondersteun.

Meer as 80% van die deelnemers was jong mense en oor die 60% was vroue.

Dit het jong vroue soos Tracy Nkosi van Springs ondersteun wat as ʼn onderwysassistent by die Laerskool Welgedag in diens geneem is en wat sê dat dié geleentheid haar gemotiveer het om verder in die opvoedkunde te studeer .

Dit het ook vir Mama Nosipho Cekwana van Impendle in KwaZulu-Natal ondersteun wat haar landboukoopbewys gebruik het om mielies, bemesting en aanvullings vir haar vee te koop.

Die totale aantal direkte begunstigdes sal binnekort styg tot oor die een miljoen Suid-Afrikaners.

Dit sluit in oor die halfmiljoen jong mense wat as onderwysassistente aangestel is, wat dit die grootste jeugindiensnemingsprogram maak wat ooit in ons geskiedenis onderneem is.

Die werkskeppingstimulus sal ook die Departement van Binnelandse Sake in staat stel om 10 000 werklose jong mense te werf vir die digitalisering van papierrekords en sal sodoende hulle vaardighede slyp en hulle ʼn bydrae laat lewer tot die modernisering van burgerlike dienste.

Die maatskaplike indiensnemingsfonds sal ʼn verdere 50 000 werksgeleenthede skep deur die vermoëns van organisasies buite die regering aan te wend op gebiede soos stedelike landbou, vroeë kinderontwikkeling, openbare kuns en die aanpak van geslagsgebaseerde geweld.

Ons verskaf, bykomend tot die uitbreiding van staatsindiensneming, ook ondersteuning aan jong mense om hulle voor te berei vir werk en ons bring hulle in kontak met geleenthede.

Ons sal die waarde verhoog en die kriteria vir deelname aan die indiensnemingsbelastingaansporing uitbrei om indiensneming deur kleiner ondernemings aan te moedig.

Dit is al vir geruime tyd ʼn doeltreffende manier om maatskappye aan te moedig om nuwe werksoekers aan te stel. Die veranderinge aan die aansporing sal dit veral vir klein ondernemings makliker maak om jong mense aan te stel.

Die Minister van Finansies sal die besonderhede van dié veranderinge in die begroting aankondig.

Ons doen ʼn beroep op maatskappye om dié poging te ondersteun, die aansporing te aanvaar en vir jong mense ʼn plek in die wêreld van werk te gee.

Die SAYouth.mobi- platform vir jong werksoekers om toegang tot geleenthede en ondersoek te kry, het nou meer as 2,3 miljoen geregistreerde jong Suid-Afrikaners.

Seshonderd-duisend van dié jongmense is in werksgeleenthede geplaas.

ʼn Nasionale jeugdiens waarin nuwe lewe geblaas is, sal in die volgende jaar sy eerste inname van 50 000 jongmense werf en sodoende geleenthede vir jongmense skep om by te dra tot hulle gemeenskappe, hulle vaardighede te ontwikkel en hulle aanstelbaarheid uit te brei.

Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding gaan vanaf April 2022, 10 000 werklose TVET-gegradueerdes in werkplekke uitplaas.

Ek is, ter voorbereiding van dié staatsrede, bygestaan deur twee jong Suid-Afrikaners wat as assistente in internskappe in die presidensie werk, nl. Me. Naledi Malatji en me. Kearabetswe Mabatle.

Hulle het my vertel van die pyn wat jongmense wat met ʼn kwalifikasie sit, maar werkloos is weens ʼn gebrek aan ondervinding, ervaar.

Dit dwing baie jong mense om ʼn werk te doen wat min of niks te doen het met wat hulle gestudeer het nie.

Al die maatreëls wat ek uitgestippel het, is noodsaaklik om werksondervinding aan jong mense te bied wat hulle benodig om hulle eerste tree in die arbeidsmark te gee.

Ons doen ʼn beroep op die privaat sektor om dié maatreëls te ondersteun — en waar ook al moontlik, ervaring as maatstaf vir indiensneming te laat vaar — om vir soveel as moontlik jongmense hulle eerste werk te gee.

Soos wat ons werk om die ekonomie te laat groei en werk te skep, sal ons ondersteuning na arm gesinne uitbrei om te verseker dat geen persoon in dié land die pyn en vernedering van honger hoef te verduur nie.

Ons maatskaplike beskermingstelsel tel onder die grootste prestasies van die demokratiese regering deurdat dit 18 miljoen mense elke maand bereik.

Miljoene meer mense sal sonder dié ondersteuning in uiterste armoede lewe.

Die Maatskaplike verligtingstoelae het sedert die aanvang van Kovid-19 ondersteuning aan meer as 10 miljoen werklose mense wat die kwesbaarste vir die impak van die pandemie was, gebied.  

Sommige mense het daardie geld gebruik om besighede te begin.

Meneer Thando Makhubu van Soweto het verlede jaar die R350-toelaag vir sewe maande verlede en dit gespaar om ʼn roomyswinkel oop te maak wat nou werk aan vier mense gee.

Meneer Lindokuhle Msomi, ʼn werklose TV-regisseur van KwaMashu Hostel, het die R350-toelaag wat hy vir nege maande lank ontvang het, gespaar om ʼn kitskoswinkel oop te maak en sy familie te onderhou.

Ons moet, so veel as wat dit ʼn beduidende impak gehad het, besef dat ons uiterste fiskale beperkings in die gesig staar.

ʼn Fiskale krisis sal die armes die ergste tref deur die agteruitgang van die basiese dienste waarop hulle staatmaak.

Ons is deeglik bewus van die bewese voordele van die R350-toelaag en gaan die toelaag met nog ʼn jaar, tot die einde van Maart 2023, verleng. 

Ons sal gedurende dié tydperk breë beraadslaging en deeglike tegniese werk doen om te bepaal wat die beste opsies is om dié toelaag te vervang.

Enige toekomstige hulp moet die toets van bekostigbaarheid slaag en moenie ten koste van basiese dienste of teen die risiko van onvolhoubare besteding kom nie.

Dit bly ons strewe om ʼn minimum vlak van ondersteuning te bied aan diegene wat die grootste behoefte het.

Toegang tot grond is noodsaaklik in ons pogings om hongerte te verminder en mense van ʼn sinvolle lewensbestaan te voorsien.

Ons gaan voort met grondhervorming ingevolge die grondwet, en verwag dat die Onteieningswetsontwerp dié jaar goedgekeur sal word.

Die oprigting van die ontwikkelingsagentskap vir landbou- en grondhervorming sal dié jaar gefinaliseer word.

Die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur sal die oordrag van 14 000 hektaar staatsgrond aan die behuisingsontwikkelingsagentskap finaliseer.

Ons het genoeg bewerkbare grond om miljoene kleinskaalse boere in die pluimvee-, vee-, vrugte- en groentebedryf te ondersteun.

Deur middel van die presidensiële werkskeppingstimulus en die Solidariteitsfonds het 100 000 boere reeds koopbewyse ontvang om hulle produksie uit te brei.

Die skema is doeltreffend wees en het ʼn impak gemaak.

Die landbousektor het ook die belangrikheid erken om kleinskaalse boere te ondersteun en hulle in die waardeketting te integreer.

Die industrie het, deur middel van die suikermeesterplan, R225 miljoen aan meer as 12 000 kleinskaalse suikerrietboere voorsien as deel van ʼn R1 miljard-onderneming om swart boere te ondersteun.

Ons sal die voorsiening van koopbewyse uitbrei en doen ʼn beroep op ander sektore om by dié poging aan te sluit sodat ons dié jaar gesamentlik tot 250 000 kleinskaalse boere kan bereik.

Geeneen van ons pogings om ons ekonomie te laat herleef sal slaag as ons nie die plaag van korrupsie vir eens en vir altyd uitroei nie.

Ek het sedert die begin van die jaar die eerste twee dele van die verslag van die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping wat deur waarnemende regter Raymond Zondo gelei is, ontvang.

Al moet die finale bevinding nog aan die einde van die maand gelewer word, maak die eerste twee dele van die verslag dit baie duidelik dat daar inderdaad ‘staatskaping’ was.

Dit beteken dat staatsinstellings en staatsbesitte ondernemings (SBO’s) deur ʼn kriminele netwerk geïnfiltreer is met die doel om staatsgeld vir private gewin te plunder.

Die verslae wys in besonderhede die vernietigende gevolge uit van dié kriminele aktiwiteit op die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA), Transnet, Denel, Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en Staatskommunikasie.

Staatskaping het ʼn direkte en baie konkrete negatiewe impak op die lewe van alle Suid-Afrikaners gehad, maar veral op die armste en mees kwesbare lede van ons samelewing.

Dit het die vermoë van die staat verswak om dienste te lewer en aan die verwagtinge en grondwetlike regte van die mense te voldoen.

Ons moet nou alles in ons vermoë doen om seker te maak dat dit nie weer gebeur nie.

My verantwoordelikheid is om seker te maak dat die kommissie se verslag behoorlik en versigtig oorweeg word voordat daar opgetree word.

Ek sal teen nie later nie as 30 Junie ʼn plan van aksie voorlê in reaksie op die kommissie se aanbevelings.

Ons sal, soos die kommissie se eerste verslag aanbeveel, die stelsel versterk om oopvlekkers, wat ʼn noodsaaklike beskermingsmeganisme in die stryd teen korrupsie is en wat ʼn massiewe persoonlike risiko neem om hierdie wandade aan te meld, te beskerm.

Ons is besig met ʼn deeglike hersiening van al die toepaslike wetgewing en ʼn vergelykende studie van ander regsgebiede om die beskerming van oopvlekkers te verstewig.

Die toepaslike wetstoepassingsagentskappe is besig om die nodige stappe te neem om aandag te skenk aan die onmiddellike besorgdheid oor die veiligheid van oopvlekkers.

Baie individue en maatskappye wat deur die kommissie as verantwoordelik vir staatskaping bevind is, moet nou tot verantwoording geroep word.

Ek het volle vertroue dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) die verdere ondersoek wat die kommissie aanbeveel, sal uitvoer en dat dit die lede van die kriminele netwerk wat die regering binnegedring het en die staat gekaap het, spoedig aan die pen sal laat ry.

Die Ondersoekdirektoraat in die NV is nou daarop ingestel om sy belangrike mandaat uit te voer en ʼn span is toegewys om dié sake op te volg.

Ons gaan ʼn nuwe hoof van die Ondersoekdirektoraat aanwys weens die vertrek van adv. Hermione Cronje.

ʼn Wysiging aan die staatskapingskommissie se regulasies in Junie 2020 magtig die uitruil van inligting tussen die kommissie en wetstoepassingsagentskappe.

Dié wysiging laat ook toe dat staatskapingskommissiepersoneel deur wetstoepassingsagentskappe in diens geneem word.

Dié bemagtigende bepalings rus die Ondersoekdirektoraat toe om die sake wat uit die kommissie se werk voortspruit, meer doeltreffend te ondersoek.

Ons erken met dankbaarheid die hulp en ondersteuning wat deur die privaat sektor aangebied is, om ons by te staan in daardie vaardighede waaraan ons in die regering ʼn tekort het, om die ondersoek en vervolging van misdaad moontlik te maak.

Ons is besig om ʼn raamwerk vir privaat sektor-samewerking te ontwikkel wat deur die nasionale tesourie bestuur sal word om te verseker dat die vervolgingsgesag aan sy grondwetlike plig en deursigtigheid getrou bly.

Ons is ook besig met samesprekings met die regbank om spesiale hofrolle vir staatskapings- en korrupsiesake te skep.

Alhoewel ons besliste stappe geneem het om die era van staatskaping te beëindig, weet ons dat die stryd teen korrupsie nog glad nie verby is nie.

Terwyl die land gebuk gegaan het onder die Kovid-19-pandemie, het maatskappye en individue met staatsamptenare saamgesweer om die regering uit miljarde rande in Kovid-verwante kontrakte te bedrieg.  

Ons het, die oomblik toe bewyse van dié korrupsie na vore kom, opgetree.

Ons het sekere noodverkrygingsregulasies onttrek, ʼn oorhoofse sentrum opgerig wat verskeie wetstoepassingsagentskappe bymekaar bring, die besonderhede van alle Kovid-verwante kontrakte aanlyn gepubliseer en het die mees omvangryke ondersoek geloods wat die Spesiale Ondersoekeenheid sedert sy ontstaan onderneem het.

Die SOE het in Desember sy finale verslag oor sy ondersoek na Kovid-verwante kontrakte ingedien.  

Die gevolg is dat 45 sake, met ʼn gesamentlike waarde van R2,1 miljard by die Spesiale Beslissingsraad op die rol geplaas is.

Die SOE het 224 regeringsamptenare vir tugmaatreëls en 386 sake vir moontlike vervolging na die NV verwys.

Die presidensie het meganismes ingestel om die implementering van die aanbevelings van die SOE te monitor en om te verseker dat regeringsdepartemente en -instellings teen diegene wat die regulasies verbreek en die wet oortree, optree.

Die stryd teen korrupsie sal ʼn nuwe intensiteit aanneem te danke aan die uitkomste van die staatskapingskommissie, die versterking van wetstoepassingsagentskappe en die implementering van nuwe antikorrupsiepraktyke in die staatsdiens.

Staatsbesitte ondernemings speel ʼn belangrike rol in ons ekonomie.

Van water tot paaie, tot energie en hawens, verdediging en lugvaart, is dié strategiese bates nodig om ons land aan die gang te hou.

Dit is noodsaaklik dat ons hul agteruitgang omkeer en hulle posisioneer om ʼn positiewe bydrae te lewer.

Ons het daarom besluit op verskeie onmiddellike maatreëls om dié maatskappye se lewenskragtigheid te herstel terwyl ons ook verreikende hervormings onderneem om ons SBO’s meer doeltreffend, mededingend, verantwoordbaar en volhoubaar te maak.

Die presidensiële SBO-raad wat ek in 2020 aangewys het, het aanbeveel dat die regering ʼn gesentraliseerde aandeelhouermodel vir sy belangrike kommersiële staatsinstellings aanvaar. Dit sal die staat se eienaarfunksies skei van sy beleidmakende en regulatoriese funksies, die ruimte vir politieke inmenging minimeer, groter professionaliteit insluit en staatsbates op ʼn wyse bestuur wat aandeelhouerwaarde beskerm.

Voorbereidende werk het as deel hiervan begin vir die vestiging van ʼn staatsbeheerde houermaatskappy wat strategiese SBO’s huisves en om gekoördineerde aandeelhoueroorsig uit te oefen.

Die presidensiële SBO-raad is besig om aanbevelings te maak oor watter SBO’s behou, gekonsolideer of ontslae van geraak moet word om seker te maak dat SBO’s hulle verantwoordelikhede doeltreffend nakom.  

Enige aanbevelings sal onderhewig wees aan uitgebreide beraadslaging met alle belanghebbendes.

Ons is besig om stappe te neem om ons demokrasie te beveilig, ons ekonomiese infrastruktuur te beskerm en veiliger gemeenskappe vir almal te skep.

Ons het vroeër dié week die verslag van die paneel van deskundiges oor die burgerlike onrus in Julie verlede jaar vrygestel.

Die verslag skets ʼn baie ontstellende prentjie van die vermoë van ons veiligheidsdienste en die strukture wat bestaan om hulle werk te koördineer.

Die verslag kom tot die gevolgtrekking dat die regering se aanvanklike hantering van die gebeure van Julie 2021 onbeholpe was, die polisie se operasionele beplanning swak, dat daar swak koördinasie tussen staatsekuriteit en die intelligensiedienste was en dat die polisie nie altyd deel is van die gemeenskappe wat hulle bedien nie.

Die paneel van deskundiges sê dat as die geweld wel iets aan die kaak gestel het, is dit die armoede en ongelykheid wat die grondoorsaak van die desperaatheid van die mense van Suid-Afrika, is.

Die paneel van deskundiges het bevind dat die kabinet in die geheel verantwoordelikheid vir die gebeure van Julie 2021 moet neem.

Dit is ʼn verantwoordelikheid wat ons erken en aanvaar.

Ons sal, soos aanbeveel deur die paneel, ʼn nasionale reaksieplan ontwikkel en aandryf om aandag te skenk aan die swakplekke wat die paneel geïdentifiseer het.

Ons sal dadelik begin deur kritieke vakatures te vul en aandag te gee aan posisies wat geraak is deur skorsing in die Staatsveiligheidsagentskap en Misdaadintelligensie.

Ons sal binnekort leierskapsveranderinge in ʼn aantal sekuriteitsagentskappe aankondig om ons veiligheidstrukture te versterk.

Die personeelvoorsiening van die eenheid vir openbare orde-polisiëring in die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal op standaard gebring word, met toepaslike opleidingskursusse in plek.

Die voortgaande skade aan en diefstal van ekonomiese infrastruktuur het vertroue geknou en ekonomiese groei, belegging en werkskepping ernstig gekniehalter.

Ons moet terselfdertyd moet ons die kriminele bendes konfronteer wat boupersele en ander besigheidsplekke binnedring om maatskappye vir geld af te pers.

Dit vereis ʼn gefokusde en gekoördineerde reaksie.

Die regering het daarom gespesialiseerde multidissiplinêre eenhede op die been gebring om aandag te skenk aan ekonomiese sabotasie, afpersing by boupersele en vandalisme van infrastruktuur.

Ons sal hulpbronne beskikbaar maak om ʼn bykomende 12 000 nuwe polisielede te werf en op te lei om te verseker dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens die kapasiteit het wat hy nodig het.

Die herinstelling van gemeenskapspolisiëringsforums is nog ʼn gebied wat onmiddellik gaan aandag kry, om die verhouding en koördinering tussen die plaaslike polisie en inwoners van die gebiede wat hulle bedien, te verbeter.

Dit blyk duidelik uit die waarneming van die paneel van deskundiges dat ons ʼn meer inklusiewe benadering moet volg in die assessering van ons land se veiligheid en die bepaling van die nodige optrede.

Ek doen ʼn beroep op alles Suid-Afrikaners om deur middel van hulle onderskeie strukture deel te neem aan die ontwikkeling van ons nasionale veiligheidstrategie.

Ek sal die parlement se voorsittende beamptes nader om die parlement te versoek om ʼn sleutelrol te speel in die fasilitering van inklusiewe prosesse van konsultasie.

Die veiligheidsdienste is deur die nasionale veiligheidsraad die taak opgelê om dringend implementeringsplanne te ontwikkel wat die reeks aanbevelings wat deur die paneel van deskundiges gemaak is, aan te spreek.

Dié maatreëls sal baie doen om die ernstige bekommernis oor die aftakeling van wet en orde in die samelewing aan te pak.

Ons gaan dié ons die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord verskerp deur die implementering van die nasionale strategiese plan oor geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord, asook ander maatreëls om die bemagtiging van vroue te bevorder.

Ek het vroeër dié maand drie nuwe stukke wetgewing onderteken wat die kriminele regstelsel versterk deur verantwoordbaarheid regdeur die staat te bevorder asook die ondersteuning van slagoffers.

Die implementering van dié wetgewing sal baie doen om te verseker dat gevalle suksesvol vervolg word, dat slagoffers beskerm word en dat daar meer doeltreffende afskrikmiddels in plek is.

Ons het beduidende vordering gemaak met die agterstand in die verwerking van DNS deur dit van 210 000 bewysstukke in April 2021 af te bring na ongeveer 58 000 op die oomblik.

Die stryd teen geslagsgebaseerde geweld sal egter nooit gewen word tensy ons as samelewing, alle strukture en alle landsburgers mobiliseer om ʼn deurlopende program van maatskaplike aksie te ondersteun nie.

Soos wat die Kovid-19-pandemie baie duidelik uitgewys het, is ʼn nasie se gesondheid onlosmaaklik verbind aan sy ekonomiese vordering en maatskaplike ontwikkeling.

Ons sal daarom voortgaan met die werk om universele gesondheidsdekking vir almal in Suid-Afrika te verseker, ongeag hulle vermoë om te betaal.

Terwyl openbare verhore oor die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in die parlement voortgaan, is daar baie vordering ter voorbereiding van die bekendstelling van die NGV.

Meer as 59 miljoen mense is geregistreer op die gesondheidspasiëntregistrasiestelsel.

Meer as 56 000 bykomende gesondheidswerkers is teen September 2021 gewerf en meer as 46 000 gemeenskapsgesondheidswerkers in die staatgesondheidstelsel geïntegreer.  

Die opvoeding van ons kinders is oor die afgelope twee jaar uitermate ontwrig.

Ons sal, namate ons terugkeer na normale opvoedkundige werk, harder werk om seker te maak dat alle leerders en studente die gehalte onderrig kry wat hulle benodig en verdien.

Mede-Suid-Afrikaners,

Die regering moet vir die mense werk.

Dit is hoekom ons belangrikste prioriteit is om ʼn bekwame, etiese en ontwikkelende staat te bou.

Ons sal binnekort ʼn raamwerk vir die professionalisering van die staatsdiens publiseer.

Dit sal strenger maatreëls vir die werwing van staatsdienswerkers, voortgaande professionele ontwikkeling deur die nasionale skool van regering en vennootskappe tussen staatsliggame, professionele verenigings en universiteite, behels.

Leefstyloudits word reeds regoor die staatsdiens geïmplementeer.

Ons sal dié jaar voortgaan met die implementering van die distriksontwikkelingsmodel (DOM).

Dié model bring al drie sfere van die regering bymekaar tesame met ander maatskaplike vennote in elke distrik, om inklusiewe plaaslike ekonomieë te kweek en die lewens van landsburgers te verbeter.

Die DOM fasiliteer veral geïntegreerde beplanning en begroting regoor al die sfere van die regering en verbeter integrasie van nasionale projekte op streeksvlak.

Daar is, alhoewel daar baie afdelings van die staat is wat nog baie werk verg, instellings wat voortgaan om die mense van dié land doeltreffend en bekwaam te dien.

Een so ʼn instelling is die SAID wat dié jaar 25 jaar oud is.

Alhoewel die SAID baie sleg deurgeloop het onder staatskaping, het dit merkwaardige vordering gemaak in die herstel van sy integriteit, geloofwaardigheid en werkverrigting.

SAID het, sedert sy ontstaan , ongeveer R16 triljoen vir die land se maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling ingebring. Dié inkomste het die regering in staat gestel om die lewens van miljoene mense te verbeter deur die voorsiening van gesondheidsorg, opvoeding, maatskaplike toelae en ander basiese dienste.

ʼn Bekwame staat gaan nie net oor die gehalte van staatsdienswerkers en die doeltreffendheid van sy instellings nie.

Dit is ook ten diepste oor hoe landsburgers bemagtig word om deel te neem.

Ons moet saamwerk om seker te maak dat platforms soos skoolbeheerliggame en gemeenskapspolisiëringsforums meer aktief en inklusief is.

ʼn Dinamiese burgerlike samelewing is noodsaaklik vir ʼn bekwame staat en vir ontwikkeling.

Ons sal daarom saam met maatskaplike vennote werk om die langverwagte maatskaplike sektorspitsberaad byeen te roep.

Dié spitsberaad daarop gemik wees om die koppelvlak tussen die staat en die burgerlike samelewing te verbeter en ook die uitdagings te hanteer wat nier-regeringsorganisasies en gemeenskapsgebaseerde organisasies in die gesig staar .

Ons land het die afgelope tyd onder baie probleme gebuk gegaan.

ʼn Sameloop van kragte, baie daarvan buite ons beheer, het ons gebring tot waar ons nou is.

Ons staar moeilike en oorweldigende uitdagings in die gesig.

Ons is inderdaad in ʼn stryd om die siel van dié land gewikkel.

Maar daar is geen twyfel dat ons sal wen nie.

Ek vra dat elke Suid-Afrikaner sal saamstaan in ons stryd teen korrupsie, in ons stryd om werk te skep en in ons stryd om ʼn regverdiger en gelyke samelewing te skep.

Ons het baie krisisse in die verlede in die gesig gestaar, maar ons het dit oorwin.

Ons is gekonfronteer met moeilike keuses, maar ons het dit deurgevoer.

Ons het in moeilike tye moed en veerkragtigheid aan die dag gelê.

Ons het, oor en oor, onsself reggeruk op die randjie van wanhoop, en het ons hoop, vernuwing en vordering geïnspireer.

Ons moet nou weer so maak.

Laat ons ʼn nuwe konsensus smee om ʼn nuwe realiteit aan te gryp, ʼn konsensus wat ons verenig agter ons gedeelde vasberadenheid om ons ekonomie te hervorm en ons instellings te herbou.

Laat ons aan die werk spring.

Laat ons ons land heropbou.

En laat ons niemand agterlaat nie.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore