President Cyril Ramaphosa: Staatsrede 2018

Staatsrede deur die President van die Republiek van Suid-Afrika, Mnr Cyril Ramaphosa

Speaker van die Nasionale Vergadering (NA), me Baleka Mbete,
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), me Thandi Modise,
Adjunkpresident van die NA en Adjunkvoorsitter van die NRP,
Voormalige President Thabo Mbeki,
Voormalige Adjunkpresident FW de Klerk,
Hoofregter Mogoeng Mogoeng en alle gewaardeerde lede van die Regbank,
Ministers en adjunkministers,
Premiers en speakers van Provinsiale Wetgewers,
Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging en alle uitvoerende burgemeesters teenwoordig,
Die hoofde van Hoofstuk 9-instellings,
Voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers,
Leiers van geloofsgebaseerde organisasies,
Voormalige Speaker Dr Frene Ginwala,
Voormalige Speaker Mnr Max Sisulu,
Genooide gaste,
Veterane van die bevrydingstryd,
Lede van die diplomatieke korps,
Geagte raadslede,
Mede-Suid-Afrikaners.

Die geleentheid om hierdie Staatsrede te lewer is vir my 'n groot eer en 'n voorreg.
Hierdie Staatsrede moes verlede week gelewer word, maar was vertraag sodat ons die politieke oorgang behoorlik en met omsigtigheid kon bestuur.

Ek wil graag alle agbare raadslede en die mense van Suid-Afrika bedank vir hul geduld en verdraagsaamheid.

Ek wil ook graag oudpresident Jacob Zuma bedank vir die manier waarop hy hierdie moeilike en sensitiewe proses benader het.

Ek wil hom bedank vir sy diens aan die nasie tydens sy twee termyne as President van die Republiek, waartydens die land aansienlike vordering gemaak het op verskeie gebiede van ontwikkeling. Ek het gister met President Zuma gepraat en hy het ons alles van die beste toegewens vir die Staatsrede.

Mede-Suid-Afrikaners,

Oor net meer as 150 dae van nou af sal mense regoor die wêreld verenig om die 100ste herdenking van die geboorte van Nelson Rolihlahla Mandela te vier.

Dit is 'n dag waarop ons, as Suid-Afrikaners, die lewe van een van die merkwaardigste leiers wat hierdie land en hierdie vasteland - en inderdaad die wêreld – geken het, sal onthou.

Ons sal die geleentheid kry om Madiba se lang reis na vryheid, sy wysheid, sy onfeilbare nederigheid, sy blywende deernis en sy wesenlike integriteit in herinnering te roep.

Ons dra die jaar 2018 aan sy nagedagtenis op en ons sal al ons dade, al ons pogings en al ons uitsprake aan die verwesenliking van sy visie van 'n demokratiese, regverdige en gelyke samelewing toewy.

Gelei deur sy voorbeeld, sal ons hierdie jaar gebruik om ons verbintenis tot etiese gedrag en etiese leierskap te versterk.

Ter viering van Nelson Mandela se eeufees onthou ons nie net die verlede nie, maar bou ons die toekoms en veral die toekoms wat Mandela in die vooruitsig gestel het. As ’n voortsetting van die lang reis wat hy begin het, bou ons ’n gemeenskap waarin almal vry kan wees, waarin almal gelyk is voor die reg en waarin almal kan deel in die rykdom van ons land en ’n beter lewe kan ly.

Ons bou ’n land waarin ’n persoon se vooruitsigte bepaal word deur sy eie inisiatief en harde werk, en nie deur sy velkleur, geboorteplek, geslag, taal of sy ouers se inkomste nie.

Vanjaar vier ons ook die eeufees van ’n ander groot gees van ons vryheidstryd, naamlik Albertina Nontsikelelo Sisulu.

Deur haar merkwaardige lewe en uitstaande bydrae het sy gedefinieer wat dit beteken om 'n vryheidsvegter, 'n leier en 'n ywerige en gedissiplineerde dienaar van die volk te wees. Deur haar leierskap het sy die fundamentele verband tussen nasionale bevryding en geslagsemansipasie vergestalt. Terwyl ons haar eeufees vier, herbevestig ons dat geen bevryding volkome kan wees en geen nasie vry kan wees nie, tensy sy vroue vry is nie.

Ons eer hierdie seun van Afrika, Nelson Rolihlahla Mandela en hierdie dogter van Afrika, Albertina Sisulu, in 'n jaar van verandering, in 'n jaar van hernuwing, in 'n jaar van hoop. Ons eer hulle nie net met woorde nie, maar meer belangrik, eer ons hulle met daadwerklike optrede om hul gedeelde visie van 'n beter samelewing te verwesenlik.

Ons moet Madiba eerbiedig deur die era van onenigheid, verdeeldheid en ontnugtering agter ons te laat. Ons moet die era van kwynende vertroue in openbare instellings en verswakte vertroue in ons land se leiers agterlaat. Ons moet al die negatiwiteit wat ons land geteister het agterlaat, want 'n nuwe dag breek aan en 'n wonderlike dag is met ons.

Dit is 'n nuwe dagbreek wat geïnspireer word deur ons gesamentlike herinneringe aan Nelson Mandela en die veranderinge wat besig is om te ontvou. Terwyl ons ons gedagtes van alle negatiwiteit vry maak, moet ons ons oortuiging dat Suid-Afrika aan almal wat daarin woon behoort, herbevestig.

Want hoewel ons verskillende mense is, is ons een nasie.

Daar is 57 miljoen van ons, elk met ‘n ander geskiedenis, taal en kultuur, sowel as verskillende ervarings, sienings en belange.

Tog word ons verbind deur die gemeenskaplike lot dat ons almal Suid-Afrikaners is.

Hiervoor is ons dank verskuldig aan ons voorvaders – mense soos Pixley ka Seme, Charlotte Maxeke en Hoofman Albert Luthuli – wat die noodsaaklikheid van eenheid en harmonie tussen al die mense van hierdie wonderlike land verstaan het.

Ons is een nasie.

Ons is een volk, ons is daartoe verbind om saam te werk in pogings om werk te skep vir ons jeug; om fabrieke en paaie, huise en klinieke te bou; om ons kinders voor te berei vir 'n wêreld van verandering en vooruitgang; om stede en dorpe te bou waar gesinne veilig, produktief en tevrede kan wees.

Ons is vasbeslote om 'n samelewing te skep wat gedefinieer word deur ordentlikheid en integriteit, wat nie die plundering van openbare hulpbronne verdra nie, en ook nie die diefstal van gewone mense se swaarverdiende spaargeld deur korporatiewe misdadigers nie.

Hoewel daar baie kwessies is waaroor ons kan verskil, stem ons saam oor hierdie fundamentele sake.

Ons weet dat daar nog baie dinge is wat ons verdeel.

Ons is steeds 'n hoogs ongelyke samelewing, waarin armoede en welvaart steeds deur ras en geslag gedefinieer word.

As Suid-Afrikaners het ons almal die verantwoordelikheid om 'n nuwe nasie te bou, om die ongeregtighede van die verlede en die ongelykhede van die hede te konfronteer.

Ons word genoop om dit onder moeilike omstandighede te doen.

Die stand van ons nasie is dat, hoewel armoede aansienlik gedaal het ná die demokratiese deurbraak van 1994, het ons die afgelope jare agteruitgang ervaar.

Armoedevlakke het in 2015 gestyg, werkloosheid het gestyg en ongelykheid het bly voortbestaan.

Ons ekonomie het al jare lank nie teen ’n tempo gegroei om genoeg werk te skep sodat ons ons mense uit armoede kan ophef nie.

Openbare finansies is beperk en dit het die regering se vermoë om sy belegging in ekonomiese en sosiale ontwikkeling uit te brei beperk.

Ondanks hierdie uitdagende omstandighede het ons, deur saam te werk, daarin geslaag om vordering te maak met pogings om ons mense se lewens te verbeter.

Selfs onder toestande van swak groei, het ons ekonomie werk geskep, maar nie teen die tempo wat nodig is om nuwe toetreders tot die arbeidsmark te absorbeer nie.

Dit beteken dat terwyl ons hoër vlakke van ekonomiese groei en belegging nastreef, moet ons ook bykomende maatreëls tref om armoede te verminder en aan die behoeftes van werkloses in ons land te voldoen.

Sedert die begin van die huidige Parlement het ons openbare werkprogramme meer as 3,2 miljoen werksgeleenthede geskep.

In die konteks van wydverspreide werkloosheid bly hierdie geleenthede steeds broodnodige inkomste, werkervaring en opleiding.

Ons het maatreëls getref om die lewenskoste vir ons mense te verminder, veral vir die armes. Die lewenskoste het aanhou styg.

Die regering se Gratis Basiese Diensteprogram ondersteun tans meer as 3,5 miljoen behoeftige huishoudings.

Meer as 17 miljoen maatskaplike toelaes word maandeliks betaal, wat byna 'n derde van die bevolking bevoordeel. Hierdie maatskaplike toelaes het die lewens van ons mense verhef en word deur hulle waardeer.

Ons weet egter dat as ons die siklus van armoede wil breek, moet ons die kinders van die armes onderrig.

Ons het daarop aangedring dat onderrig reeds in die vroeë kinderjare moet begin.

Vandag het ons byna 'n miljoen kinders in vroeë kinderontwikkelingsfasiliteite.

Daar is verbeteringe in die uitkomste van ons basiese onderwysstelsel.

Die matriekslaagsyfer het van 60,6% in 2009, gestyg tot 75,1% verlede jaar.

Daar is tans amper 'n miljoen studente wat by hoëronderwysinstansies ingeskryf is vergeleke met net meer as 500 000 in 1994. Dit verteenwoordig vordering.

Namate ons 'n nuwe era betree, is ons vasbeslote om op hierdie prestasies voort te bou, die uitdagings wat ons in die gesig staar te konfronteer, en vooruitgang te versnel om 'n meer welvarende en regverdige samelewing te bou.

Ons het 'n matige herstel in ons ekonomie en 'n breër volgehoue herstel in die wêreldwye ekonomie ervaar.

Kommoditeitspryse het verbeter en dit verbeter steeds, terwyl fabrieke heelwat bestellings kry, die aandelemark gestyg het, die rand versterk het en daar vroeë aanduidings is dat beleggersvertroue aan die toeneem is.

Ons het beslissende maatreëls geneem om kommer oor politieke onstabiliteit die hoof te bied en ons is daartoe verbind om beleidsekerheid en konsekwentheid te verseker.

Daar is 'n groter gevoel van optimisme onder ons mense.

Ons mense is hoopvol oor die toekoms.

Ondernemingsvertroue onder Suid-Afrikaanse maatskappye het verbeter en buitelandse beleggers kyk weer na geleenthede in ons land.

Sommige finansiële instellings het Suid-Afrika geïdentifiseer as een van die belowende ontluikende markte vir 2018.

Ons taak as Suid-Afrikaners, is om hierdie oomblik van hoop en vernuwing aan te gryp en om saam te werk om te verseker dat dit 'n betekenisvolle verskil in die lewens van ons mense sal maak.

Ons sal hierdie jaar maatreëls instel wat die weg sal baan vir nuwe groei, werkskepping en transformasie.

Ons sal dit doen deur sosiale vennote in ons land te kry om saam te werk met die bou van 'n sosiale verbintenisse waarvolgens ons ekonomiese herstel kan aandryf.

Ons moet verder bou op gevestigde samewerking met die sake-  en arbeidsektore om vertroue te herstel en om 'n verdere beleggingsafgradering te verhoed.

Daadwerklike besluite sal geneem moet word om ons fiskale leemte te vul, ons skuld te stabiliseer en ons ondernemings in staatsbesit te herstel.

Die kern van ons nasionale agenda in 2018 is die skep van werksgeleenthede, veral vir die jeug.

Ons beplan om 'n aantal maatreëls in werking stel om die werkloosheidsvraagstuk aan te pak.

Een van die inisiatiewe sal wees om binne die volgende paar maande 'n beraad vir werksgeleenthede te belê om alle sektore en alle belanghebbendes wat noodsaaklike werksgeleenthede kan skep te belyn.

Die beraad sal kyk na wat gedoen kan word om te verseker dat ons ekonomie groei en meer produktief word, dat maatskappye op 'n veel groter skaal belê, dat werkers beter toegerus is en dat ons ekonomiese infrastruktuur verder uitgebrei word.

Ons sal van hierdie beraad verwag om met praktiese oplossings en inisiatiewe vorendag te kom, wat onmiddellik geïmplementeer kan word.

Ons sal vanjaar ook 'n daadwerklike poging aanwend om beduidende nuwe beleggings in ons ekonomie aan te moedig.

Om dié rede sal ons in die volgende drie maande 'n beleggingskonferensie organiseer, wat op binnelandse sowel as internasionale beleggers gerig sal wees, om die gebiedende beleggingsgeleenthede in ons land te bemark, en daar is baie sulke geleenthede.

Ons gaan ook aandag gee aan die jarelange afname in ons vervaardigingskapasiteit, wat werk en uitvoere erg beïnvloed het.

Ons sal poog om te herindustrialiseer op 'n skaal en teen 'n tempo wat miljoene werksoekers by die ekonomie sal betrek.

Ons gaan groter belegging in belangrike vervaardigingsektore bevorder deur die strategiese gebruik van aansporings en deur verskeie ander maatreëls wat die regering tot sy beskikking het.

Om vervaardiging verder te stimuleer, sal ons die lokaliseringsprogram voortsit, waarvolgens produkte soos tekstiele, klere, meubels, spoorweg rollende materiaal en watermeters vir plaaslike verkryging toegewys sal word.

Ons het reeds meer as R57 miljard aan plaaslik vervaardigde goedere bestee, wat van ander lande af ingevoer kon word. Dit is werkskepping deur invoere en uitvoere.

Spesiale ekonomiese sones is steeds belangrike hulpmiddels wat ons sal gebruik om strategiese buitelandse en plaaslike regstreekse beleggings te lok, geteikende nywerheidsvermoëns te bou en nuwe nywerheidspilpunte in ons land te vestig.

Die proses van industrialisering moet deur transformasie ondersteun word.

Deur maatreëls soos voorkeurverkryging en die swart nywerheidsprogram, ontwikkel ons 'n nuwe geslag swart mans- en vroueprodusente wat ondernemings van beduidende skaal en vermoë kan opbou.

Ons sal ons vermoë om swart professionele mense te ondersteun verbeter, beslissend optree teenoor maatskappye wat transformasie weerstaan, mededingingsbeleid gebruik om markte toeganklik te maak vir nuwe swart deelnemers en deur in die ontwikkeling van ondernemings in townships en landelike gebiede te belê.

Radikale ekonomiese transformasie vereis dat ons die posisie van swart vroue en gemeenskappe in die ekonomie fundamenteel verbeter, en verseker dat hulle eienaars, bestuurders en produsente word, en dat sommige van hulle uiteindelik selfs finansiers word.
 
Ons grootste en dringendste uitdaging is jeugwerkloosheid.

Dit is dus baie dringend dat ons die jeug in veel groter getalle by produktiewe ekonomiese aktiwiteit in ons land betrek.

Jong Suid-Afrikaners sal verplaas word na die middelpunt van ons ekonomiese agenda.

Hulle maak reeds 'n groter deel van die arbeidsmag in ons infrastruktuurprojekte uit en is die primêre begunstigdes van programme soos die installering van sonkragwaterverwarmers en die veldtog teen waterlekkasies. Ons tree reeds daadwerklik op om ons jeug by die aanpak van hierdie uitdagings te betrek.

Ons betrek ook steeds die jeug in veel groter getalle by produktiewe ekonomiese bedrywighede deur middel van programme soos die Belastingaansporing vir Indiensnemingprogram.

Deur in vennootskap met sake-, georganiseerde arbeids- en gemeenskapsverteenwoordigers te werk, skep ons geleenthede vir jongmense om deur middel van internskappe, vakleerlingskappe, mentorskap en entrepreneurskap aan die werksomgewing blootgestel te word.

Aanstaande maand begin ons die Jeugdiensinisiatief wat werklose jongmense in betaalde internskappe in maatskappye in die ekonomie plaas.

Saam met ons vennote in die sakesektor het ons ingestem om binne die volgende drie jaar 'n miljoen sulke internskappe te skep.

Om doeltreffend op die behoeftes van die jeug te reageer, is dit noodsaaklik dat jongmense hul standpunte artikuleer en met die regering op die hoogste vlak kan kommunikeer.

Daarom sal ek 'n jeugwerkgroep stig wat verteenwoordigend sal wees van alle jong Suid-Afrikaners om te verseker dat ons beleide en programme hul belange bevorder.

Infrastruktuurbelegging is die sleutel tot ons pogings om die ekonomie te laat groei, werk te skep, klein sakeondernemings te bemagtig, en dienste aan ons mense te lewer.
 
Ons het swaar belê in nuwe paaie, kragstasies, skole en ander infrastruktuur.
 
Aangesien sommige van ons projekte tyd neem om op dreef te kom en om ons pogings te verbeter, sal ek 'n span op die been bring om die implementering van nuwe projekte te bespoedig, veral waterprojekte, gesondheidsfasiliteite en padonderhoud. Die span wat saamgestel word, sal die meeste van die werk doen.

Ons het 'n paar waardevolle lesse geleer uit ons ervarings met die bou van nuwe infrastruktuur, en dit sal vir ons ’n rigtingwyser wees vir die pad vorentoe.

Ons sal op verbeterings in ons begroting en moniteringstelsels fokus, ons sal die integrasie van projekte verbeter en 'n sterk infrastruktuurbasis met die sakesektor en georganiseerde arbeid bou.

Mynbou is nog 'n gebied met beduidende ongerealiseerde potensiaal vir groei en werkskepping.

Ons moet mynbou as 'n sonsopkomsbedryf beskou, eerder as 'n sonsondergangbedryf.

Met die herlewing in kommoditeitspryse is ons vasbeslote om met mynmaatskappye, vakbonde en gemeenskappe saam te werk om die sektor te laat groei, nuwe beleggingsgeleenthede te skep, werksgeleenthede te skep en die bedryf op 'n nuwe pad van transformasie en volhoubaarheid te plaas.

Vanjaar sal ons gesprekvoering met alle belanghebbendes op die Mynbouhandves versterk om te verseker dat dit werklik 'n doeltreffende instrumentword, wat die beeld van mynbou in Suid-Afrika volhoubaar sal verander.

Deur saam te werk in 'n opregte vennootskap wat onderstreep word deur vertroue en 'n gedeelde visie, is ek seker dat ons die huidige impasse kan oplos en ooreen kan kom oor 'n handves wat transformasie versnel, sowel as om hierdie belangrike sektor van ons ekonomie te laat groei.

Die hersiening van die Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne deur albei huise van die Parlement is in 'n gevorderde stadium, met 'n aanduiding deur die Parlement dat die wetsontwerp redelikerwys in die eerste kwartaal van 2018 afgehandel sal word.

Wanneer die wetsontwerp aanvaar word, sal dit bestaande voorskriftelike sekerheid verskans, voorsiening maak vir die sekuriteit van eiendomsreg en die sosio-ekonomiese belange van alle Suid-Afrikaners bevorder.

Ons is uiters bekommerd oor die toename in mynsterftes, veral verlede jaar.

Ons doen 'n beroep op mynmaatskappye om saam met alle belanghebbendes te werk om te verseker dat mynongelukke dramaties verminder word.

Een mynsterfte is een te veel.

Mede-Suid-Afrikaners,

Ons ekonomiese groei sal uiteindelik deur klein ondernemings volhou word, soos in baie ander lande.

Dit is ons gesamentlike verantwoordelikheid om hierdie belangrike sektor van die ekonomie te laat groei.

Ons sal met ons maatskaplike vennote saamwerk om 'n ondersteuningstelsel vir klein ondernemings te vestig wat entrepreneurs sal bystaan, aanmoedig en bevorder.

Die regering sal sy verbintenis nakom om minstens 30% van die openbare verkrygings aan klein, medium en mikro-ondernemings, koöperasies, en township- en landelike ondernemings opsy te sit.

Ons sal ook voortgaan om in die ontwikkeling van klein ondernemings te belê

Ons moedig groot ondernemings aan om dieselfde te doen en maniere te vind om klein ondernemings te help ontwikkel.

Die vestiging van 'n klein besigheidsfonds deur die HUB's-inisiatief, wat tans R1,5 miljard beloop, is 'n uitstekende voorbeeld van die rol wat die private sektor kan speel.

Die regering is besig met die finalisering van 'n klein ondernemings- en innoveringsfonds wat op nuwe ondernemings gerig is.

Ons sal die regulerende struikelblokke vir klein ondernemings verminder. Ek gaan seker maak dat regulerende struikelblokke verminder word.

Ons is ook besig om ekonomiese geleenthede vir mense met gestremdhede uit te brei.

Die Small Enterprise Finance Agency het, onder meer, 'n skema wat die Amavulandlela-befondsingskema genoem het, van stapel gestuur om entrepreneurs met gestremdhede te help ontwikkel en te befonds,

Landbou bied een van die grootste geleenthede om ons ekonomie aansienlik te laat groei en werk te skep.

[Tsena tsa temo ke tsona tse bohlokwa le ho feta, ka hobane ke moo batho ba rona ba tla fumanang menyetla e metle ya hore ba kene kgwebong ena ya tsa ho lema. Ke moo re shebileng hore re ka kgona ho aha mesebetsi. Bane ba National Planning Commission ba ile ba re ho rona re ka kgona ho aha mesebetsi e lekanang milione ha re tla ho ena ya Agriculture.]

[Die landbou-sektor is die belangrikste, want dit is waar ons mense toegang kry tot beter geleenthede om kommersiële boerdery te betree. Dit is waar ons fokus op die skep van werksgeleenthede lê. Die Nasionale Beplanningskommissie het ons laat weet dat ons in die landbousektor ongeveer een miljoen werksgeleenthede kan skep].

Landbou het die grootste bydrae, met 'n beduidende marge, tot die verbeterde groei van ons ekonomie in die tweede en derde kwartaal van 2017 gelei.

Vanjaar sal ons daadwerklike stappe doen om die enorme ekonomiese potensiaal van die landbou te verwesenlik.

Ons sal ons grondherverdelingsprogram versnel, nie net om 'n ernstige historiese onreg te herstel nie, maar ook om meer produsente na die landbousektor te bring en meer grond beskikbaar te stel vir verbouing.

Ons sal 'n omvattende benadering volg wat doeltreffend gebruik sal maak van al die meganismes tot ons beskikking.

Hierdie benadering, gelei deur die besluite van die regerende party se 54ste Nasionale Konferensie, sal die onteiening van grond sonder vergoeding insluit.

Ons is vasbeslote dat onteiening sonder vergoeding geïmplementeer moet word op 'n manier wat landbouproduksie verhoog, voedselveiligheid verbeter en verseker dat die grond terugbesorg word aan diegene van wie dit onder kolonialisme en apartheid weggeneem is.

Die regering sal 'n oorlegplegingsproses onderneem om die modaliteite van die implementering van hierdie besluit te bepaal.

Ons doen 'n spesiale beroep op finansiële instellings in ons land om ons vennote te wees in die mobilisering van hulpbronne om die land se herverdelingsprogram te versnel, aangesien meer belegging in hierdie sektor nodig sal wees, sodat ons landbou as 'n sonsopkoms in ons land se ekonomie hanteer.

Toerisme is 'n ander gebied wat ongelooflike geleenthede aan ons land bied om letterlik uit te blink.

Toerisme verskaf tans 700 000 regstreekse werksgeleenthede en presteer beter as die meeste ander groeisektore.

Daar is geen rede waarom dit nie in grootte kan verdubbel nie.

Ons het die mooiste land in die wêreld en ons is die mees gasvrye mense ter wêreld. Suid-Afrikaners moet hul harte, hutte en rondawels oopmaak vir ons toeriste.
 
Ons sal vanjaar ons ondersteuning vir bestemmingsbemarking in sleutel toerisme-markte verbeter en verdere maatreëls tref om regulerende hindernisse te verminder en ontluikende toerisme-ondernemings te ontwikkel.

Ons doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om hul huise en hul harte na die wêreld oop te maak.

Ons voorspoed as ’n nasie hang af van ons vermoë om vinnige tegnologiese verandering ten volle te benut.

Dit beteken dat ons dringend ons vermoëns op die gebied van wetenskap, tegnologie en innovasie moet ontwikkel.

Ons sal binnekort 'n Kommissie vir ’n Digitale Industriële Rewolusie op die been bring, wat die private sektor en die burgerlike samelewing sal insluit, om te verseker dat ons land in staat is om die geleenthede te benut en die uitdagings van vinnige vooruitgang in inligting- en kommunikasietegnologie te bestuur.

Die aandrywing van die digitale industriële rewolusie sal ondersteun word deur die beskikbaarheid van doeltreffende netwerke.

Ons sal ons gesprekvoering met die telekommunikasiebedryf en ander belanghebbers finaliseer om te verseker dat die toekenning van spektrum die versperrings tot toegang verminder, mededinging bevorder en die koste vir verbruikers verminder.

Suid-Afrika het die Drieparty-Vryhandelsgebiedooreenkoms aanvaar, wat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, die Gemeenskaplike Mark vir Oos- en Suider-Afrika en die Oos-Afrikaanse Gemeenskap bymekaarbring.

Die vryhandelsgebied sal markte van 26 lande met 'n bevolking van bykans 625 miljoen, kombineer.

Dit sal geleenthede vir toegang tot nuwe markte vir Suid-Afrikaanse uitvoerprodukte open en ’n bydrae maak tot werkskepping en die groei van Suid-Afrika se nywerheidsektor.

Onderhandelinge oor die Kontinentale Vryhandelsooreenkoms vorder vinnig, en na verwagting sal die raamwerkooreenkoms binnekort afgesluit kan word.

Suid-Afrika neem vanjaar die voorsitterskap van die groep Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (BRICS) oor en sal voorkeur gee aan die bevordering van toegevoegde waarde-handel en intra-BRICS-belegging in produktiewe sektore.

Mede-Suid-Afrikaners,

Op 1 Mei vanjaar sal ons die eerste nasionale minimumloon in Suid-Afrika bekendstel.

Hierdie historiese prestasie – 'n verwesenliking van een van die Vryheidshandves se vereistes – sal na verwagting meer as ses miljoen werkende Suid-Afrikaners se inkomste verhoog en die lewensomstandighede van huishoudings regoor die land verbeter.

Die instelling van 'n nasionale minimumloon is moontlik gemaak deur die vasberadenheid van alle maatskaplike vennote om loonongelykheid te verminder terwyl ekonomiese groei en werkskepping behou word.

Dit dien as nog 'n voorbeeld van wat moontlik is wanneer Suid-Afrikaners sinvol kommunikeer om verskille, wanbegrippe en probleme uit die weg te ruim en uitdagings te konfronteer.

Om groter samehang en konsekwentheid in die implementering van ekonomiese beleid te verseker – en om te verseker dat ons beter toegerus is om te reageer op voortdurend veranderende ekonomiese omstandighede – sal ek 'n Presidensiële Ekonomiese Adviesraad aanstel.

Die Raad sal gebruik maak van die kundigheid en vermoëns wat in die arbeid- en sakesektor, die burgerlike samelewing en die akademiese omgewing gesetel is.

Die land is steeds vasgevang in een van die ernstigste droogtes van die afgelope eeu, wat ’n verwoestende invloed op ons ekonomie het en ook maatskaplike dienste en landbouproduksie negatief raak.

Die droogte in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap is verhef tot 'n nasionale ramptoestand.

Dit gee die nasionale regering die gesag om die land se reaksie op die droogte nasionaal te bestuur en te koördineer in samewerking met al die provinsies.

Dit sal verseker dat ons ook geïntegreerde maatreëls versterk om die provinsies wat die swaarste getref word, te ondersteun.

Ons is besig om die nodige buitengewone maatreëls wat ingevolge die wetgewing toegelaat word, te aktiveer.

Ek prys die mense van Kaapstad en die res van die Wes-Kaap vir hul ywerige pogings om waterbesparende maatreëls toe te pas.

Ons doen 'n ernstige beroep op almal in die land om water spaarsamig te gebruik, want ons is in wese 'n waterskaars land wat staatmaak op hierdie belangrike hulpbron om ons ontwikkelingsoogmerke te verwesenlik.

Eerbare Raadslede,

Op 16 Desember verlede jaar het voormalige president Jacob Zuma aangekondig dat die regering oor 'n tydperk van vyf jaar ten volle gesubsidieerde hoër onderwys en opleiding vir arm en werkersklas Suid-Afrikaners sal infaseer.

Vanaf hierdie jaar sal gratis hoër onderwys en opleiding beskikbaar wees vir eerstejaarstudente van huishoudings met 'n bruto gekombineerde jaarlikse inkomste van tot R350 000.

Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding sal die implementering van hierdie beleid lei, terwyl die Minister van Finansies alle aspekte van die finansiering van die skema tydens sy begrotingsrede volgende week sal verduidelik.

Benewens die bevordering van maatskaplike geregtigheid, sal 'n belegging van hierdie skaal in hoër onderwys na verwagting bydra tot groter ekonomiese groei, wat sal help om armoede hok te slaan, ongelykheid te verminder, inkomste te verhoog en die mededingendheid van ons ekonomie te versterk.

Die regering sal voortgaan om in die uitbreiding van toegang tot gehalte basiese onderwys te belê, sowel as in die verbetering van ons openbare skole se uitslae.

Die Funza Lushaka Beursprogram beplan om die volgende drie jaar 39 500 beurse vir Aanvanklike Onderwysersopleiding beskikbaar te stel.

In 'n historiese eerste, het alle openbare skole vanaf die begin van hierdie jaar af, begin om 'n Afrikataal aan te bied.

Dit is ook belangrik dat die eerste Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in Suid-Afrikaanse Gebaretaal aan die einde van 2018 vir dowe leerders aangebied sal word.

Die Inisiatief vir Versnelde Skole Infrastruktuurlewering lewer steeds moderne geriewe aan skole in landelike en minderbevoorregte stedelike gebiede regoor die land, met minstens 187 skole wat tot op datum voltooi is.

Die program sal alle uitstaande projekte teen die einde van die volgende finansiële jaar voltooi.

Maatskaplike toelaes bly 'n belangrike lewenslyn vir miljoene van ons mense wat in armoede leef.

Ons sal dringend stappe neem om te voldoen aan al die riglyne van die Konstitusionele Hof.

Ek wil graag die vrese oor enige ontwrigting van die doeltreffende lewering van hierdie kritieke diens persoonlik uit die weg ruim, en ek sal streng optree om te verseker dat niemand in die regering die implementeringstermyne wat deur die hof gestel word, ondermyn nie.

Ons sal 'n permanente openbare sektor-geleide hibriede model finaliseer, waarvolgens 'n stel openbare en privaat sektor diensverskaffers aan die begunstigdes maksimum keuse, toegang en gerief sal bied.

Hierdie jaar sal ons die volgende kritiese stappe doen om MIV uit ons midde uit te skakel.

Deur ons toets- en behandelingsveldtog op te gradeer, sal nog twee miljoen mense teen Desember 2020 met antiretrovirale behandeling kan begin.

Ons sal ook lewenstylsiektes soos hoë bloeddruk, diabetes, kanker en kardiovaskulêre siektes moet konfronteer.

Gedurende die volgende drie maande sal ons 'n uitgebreide kankerveldtog van stapel stuur, soortgelyk aan die MIV-berading en -toetsveldtog wat geloods is.

Dit sal ook die private sektor betrek, aangesien ons alle hulpbronne moet mobiliseer om hierdie siekte te beveg.

Die tyd het aangebreek om uiteindelik universele gesondheidsdekking deur die Nasionale Gesondheidsversekering (NHI) te implementeer.

Die NHI-wetsontwerp is nou gereed om deur die regering verwerk te word en sal binne die volgende paar weke aan die Parlement voorgelê word.

Sekere NHI-projekte wat op die mees kwesbare mense in die samelewing fokus, sal in April vanjaar begin.

Om die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners te verbeter, moet ons ons pogings om misdaad te bestry, versterk en veiliger gemeenskappe bou.

In die loop van die jaar sal die Gemeenskapspolisiëringstrategie in werking gestel word, met die doel om die gemeenskap se vertroue te wen en almal se volle betrokkenheid en samewerking in die stryd teen misdaad te verseker.

Die bekendstelling van 'n Jeugmisdaadvoorkomingstrategie sal jongmense bemagtig en ondersteun om selfversorgend te wees en om betrokke te raak by misdaadbestrydingsinisiatiewe.

'n Sleutelfokus vanjaar sal die verspreiding van hulpbronne na polisiekantore wees.

Dit sal personeel en ander hulpbronne insluit, om kapasiteit te herstel en ervaring te versterk tot ’n vlak waarop misdaad doeltreffend bestry kan word.

Ter erkenning van die kritieke rol wat nie-regeringsorganisasies (NRO's) en gemeenskapsgebaseerde organisasies (GBO's) speel om armoede, ongelykheid en verwante maatskaplike probleme aan te pak, sal ons in die loop van die jaar 'n maatskaplike sektor-beraad belê.

Hierdie beraad sal onder meer daarop gemik wees om die koppelvlak tussen die staat en die burgerlike samelewing te verbeter en ook die uitdagings te hanteer wat NRO's en GBO's in die gesig staar.

Mede-Suid-Afrikaners

Om groei, ontwikkeling en transformasie te bevorder verg 'n sterk en bekwame staat.

Dit is van deurslaggewende belang dat die struktuur en grootte van die staat optimaal geskik moet wees om aan die behoeftes van die mense te voldoen en die doeltreffendste toewysing van openbare hulpbronne te verseker.

Ons sal dus met 'n proses begin om die samestelling en grootte van nasionale staatsdepartemente te hersien.

Baie van ons ondernemings in staatsbesit (SOE’s) ervaar ernstige finansiële, operasionele en bestuursuitdagings, wat 'n negatiewe uitwerking op ons ekonomiese prestasie het en druk op die fiskus plaas.

Ons sal beslis ingryp om ondernemings in staatsbesit te stabiliseer en te vernuwe.

Die onlangse stappe wat by Eskom gedoen is om die bestuur te versterk, korrupsie uit te wis en sy finansiële posisie te herstel, is net die begin van die prosesse wat ons in werking gaan stel.

Die regering sal verdere maatreëls tref om te verseker dat alle maatskappye in staatsbesit hul ekonomiese en ontwikkelingsmandate nakom.

Ons sal die werklikheid moet konfronteer dat die uitdagings van sommige van ons SOE's struktureel is - dat hulle nie voldoende inkomste verdien om hul bedryfskoste te finansier nie.

Hierdie SOE's kan nie hulle finansiële probleme oplos deur geld te leen nie. Ons sal dus 'n proses van konsultasie met alle belanghebbendes onderneem om die befondsingsmodel van SOE's en ander maatreëls te hersien.

Ons sal die manier waarop die direksies aangestel word verander, sodat slegs mense met kundigheid, ervaring en integriteit in hierdie belangrike posisies dien.

Ons sal raadslede uit enige rol in verkryging verwyder en met die Ouditeur-generaal saamwerk om eksterne ouditprosesse te versterk.

Terwyl ons aandag gee aan uitdagings in spesifieke maatskappye, sal werk voortgesit word om beter koördinasie, toesig en volhoubaarheid in die breë argitektuur van die staatsbesitbedryf te verseker.

Dit is die jaar waarin ons die stortvloed van korrupsie in ons openbare instellings sal stuit.

Die strafregsplegingsinstansies het reeds met inisiatiewe begin wat ons in staat sal stel om korrupsie doeltreffende die hoof te bied.

Die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping onder leiding van die Adjunk Hoofregter, regter Raymond Zondo, sal na verwagting binnekort met sy werksaamhede begin.

Die kommissie se werk is van deurslaggewende belang om te verseker dat die omvang en aard van staatskapaing bepaal word, dat vertroue in openbare instellings herstel word en dat diegene wat verantwoordelik is vir enige oortreding geïdentifiseer moet word.

Die kommissie moet egter nie die gereelde werk van die land se wetstoepassingsagentskappe in hul ondersoeke en vervolging van enige en alle dade van korrupsie vervang nie.

[Amasela aba imali kaRhulumente mawabanjwe.]

[Diewe wat openbare fondse steel moet agtervolg en gearresteer word.]

Ons moet korrupsie, bedrog en samespanning in die private sektor met dieselfde doelgerigtheid en intensiteit beveg.

Ons moet onthou dat elke keer as iemand omkoopgeld ontvang, daar iemand is wat bereid is om dit te betaal.

Ons sal seker maak dat ons albei doeltreffend hanteer.

Ons doen 'n beroep op professionele liggame en regulerende owerhede om op te tree teen lede wat onbehoorlike en onetiese dade pleeg

Dit vereis dat ons wetstoepassingsinstansies versterk en dat ons hulle beskerm teen enige eksterne inmenging of manipulasie.

Ons sal dringend aandag gee aan die leierskapskwessies by die Nasionale Vervolgingsgesag om te verseker dat hierdie kritiese instelling gestabiliseer word en dat hy sy mandaat onbelemmerd kan uitvoer sonder enige vrees, guns en vooroordeel.

Ons sal ook stappe neem om belangrike instellings soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te stabiliseer en te versterk.

Ons moet verstaan dat belastingmoraliteit afhanklik is van 'n implisiete kontrak tussen belastingbetalers en die regering, dat staatsbesteding waarde vir geld bied en vry is van korrupsie.

Op versoek van die Minister van Finansies sal ek binnekort 'n Kommissie van Ondersoek aanstel om na die belastingadministrasie en -bestuur van die SAID te kyk om te verseker dat ons die geloofwaardigheid van die diens herstel en sy kapasiteit om sy inkomstedoelwitte te bereik, versterk.

Ons staatsdiens het 1 miljoen staatsamptenare in diens.

Die meerderheid van ons staatsamptenare dien ons mense met omsigtigheid en toewyding.

Ons loof hulle vir die uitstekende werk wat hulle doen.

Ons weet egter van die uitdagings wat ons mense ervaar wanneer hulle met die staat sake doen.

In te veel gevalle kry hulle swak diens of geen diens nie.

Ons wil hê ons staatsamptenare moet voldoen aan die beginsel van Batho Pele, om ons mense eerste te stel.

[Hi ri lava va hi tirhelaka hinkwerhu, hi lava ku ri loko va hi tirhela va tiva ku ri vanhu va lava ku ri va va tirhela kahle. Va endla swilo swa khwatsi. Swi vonaka ku ri vona vanhu lava va tirhelaka gavhumende ya hina va tirha mitirho ya kahle. Swi voniwa hi vanhu hinkwavo.]

[As die regering, sê ons dat staatsamptenare dienste moet lewer met die oortuiging dat die publiek ywerig gedien moet word. Hulle moet gehalte diens lewer. Almal moet kan sien dat ons staatsamptenare goeie diens lewer. Almal moet kan getuig van ons staatsamptenare se toewyding.]

Ons is vasbeslote dat almal in die staatsdiens hul verantwoordelikhede met doeltreffendheid, ywer en integriteit moet nakom.

Ons wil 'n nuwe dissipline vestig, dinge reg doen, dit volledig doen en dit betyds doen.

Ons doen 'n beroep op alle staatsamptenare om agente vir verandering te word.

Deur die loop van die volgende paar maande gaan ek elke nasionale departement besoek om met die senior leierskap van al ons staatsdepartemente gesprek te voer en te verseker dat die regering se werk doeltreffend belyn word.

Ek sal ook tyd maak om met provinsiale en plaaslike regeringsleiers te gesels om te verseker dat die staat in sy geheel reageer op die dringende behoeftes van ons mense.

Mede-Suid-Afrikaners,

Ek glo dat ons land 'n tydperk van verandering ondergaan.

Terwyl verandering onsekerheid, selfs angs, kan veroorsaak, bied dit ook groot geleenthede vir vernuwing en herlewing, sowel as vir vordering.

Saam gaan ons geskiedenis maak in ons land.

Ons het dit al voorheen gedoen, en ons sal dit weer doen – verenig deur ons gemeenskaplike liefde vir ons land, vasberade in ons voorneme om die uitdagings wat voorlê te oorkom en oortuig dat ons deur samewerking die billike, regverdige en ordentlike samelewing sal bou waaraan Nelson Mandela sy lewe toegewy het.

Ter afsluiting, wil ek graag die woorde van die groot gees, wyle Bra Hugh Masekela in herinnering roep.

In sy liedjie, 'Thuma Mina', het hy 'n dag van hernuwing voorsien, van ’n nuwe begin.

Hy het gesing:

“I wanna be there when the people start to turn it around
When they triumph over poverty
I wanna be there when the people win the battle against AIDS
I wanna lend a hand
I wanna be there for the alcoholic
I wanna be there for the drug addict
I wanna be there for the victims of violence and abuse
I wanna lend a hand
Send me.”


Ons ervaar 'n oomblik in die geskiedenis van ons land wanneer die mense, deur hul vasberadenheid, die land begin omdraai.

Ons stel die oorwinning oor armoede in die vooruitsig, ons kan die einde van die stryd teen vigs sien.

[Vhathu vha hashu vha ri vha khou ṱoḓa shango heḽino ḽi tshi vha shango ḽiswa, ḽi tshi vha shango ḽavhuḓi. Ḽi tshi vha shango ḽine ḽa ḓo ḓisela vhathu vhoṱhe vha hashu zwavhuḓi.]

[Ons mense sê dat hulle wil hê hierdie land moet 'n nuwe land wees, 'n pragtige land wat voorspoed aan al ons mense sal bring.]

Nou is die tyd om 'n hand by te sit.

Nou is dit die tyd vir elkeen van ons om te sê, "stuur my".

[Sifikile isikhathi sokuthi sisebenze soke sibeke izwe lakithi phambili]

[Nou is die tyd vir ons almal om saam te werk om ons land eerste te stel].

Nou is die tyd vir ons almal om saam te werk ter ere van Nelson Mandela om 'n nuwe, beter Suid-Afrika vir almal te bou.
Nou is die tyd.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore