Staatsrede deur Sy Edele Jacob G Zuma, President van die Republiek van Suid-Afrika, by die Gesamentlike Sitting van die Parlement, Kaapstad

10 Feb 2011

Agbare Speaker van die Nasionale Vergadering,
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP),
Adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering en Adjunkvoorsitter van die NRP,
Adjunkpresident van die Republiek, Agbare Kgalema Motlanthe,
Voormalige President Thabo Mbeki,
Voormalige Adjunkpresident FW de Klerk,
Voormalige Adjunkpresident Baleka Mbete,
Agbare Hoofregter van die Republiek van Suid-Afrika en alle agbare lede van die Regterlike Gesag,
Eerbare premiers en speakers van ons provinsies,
Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) en alle leiers van ons plaaslike regeringstelsel,
Voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers; en hoofde van Hoofstuk 9-instellings,
Die President van die Reserwebank, Gill Marcus,
Die hoofde van ons veiligheidsinstansies,
Leiers uit alle sektore – arbeid-, sake-, sport- en godsdienstige leiers,
Lede van die diplomatieke korps,
Suid-Afrikaanse en buitelandse media, 
Mede-Suid-Afrikaners. 

Dumelang, good evening, goeie naand, molweni, thobela.

Dankie, Agbare Speaker van die Nasionale Vergadering en Agbare Voorsitter van die NRP, vir hierdie geleentheid om ons oorsig en Program van Aksie vir hierdie jaar met mede-Suid-Afrikaners en internasionale gaste te deel.

Ek het hierdie Gesamentlike Sitting weereens in die aand byeengeroep sodat almal, insluitend studente en werkende mense, die geleentheid kan hê om eerstehands te hoor wat hulle regering te sê het oor kwessies wat hulle lewens raak.

Ons bedank die voorsittende beamptes wat hierdie geleentheid vir ons bied.

Laat my ook toe om, namens die regering, die Parlementslede terug te verwelkom in ons pragtige moederstad, Kaapstad.

Ons bedank graag alle Suid-Afrikaners wat insette gelewer het vir hierdie Staatsrede, hetsy via hoofstroom-media, sosiale media soos Facebook en Twitter, of deur direkte kontak.

Die insette was baie waardevol.

Môre sal dit 21 jaar wees sedert die vrylating van ons geliefde President Nelson Mandela uit die gevangenis.

Dit was ’n historiese en baie spesiale oomblik vir ons land, en dit het ons mense se oorwinning oor tirannie en apartheidsonderdrukking bewys.

Die gebeure van daardie dag het die grondslag gelê vir die vestiging van ons visie, naamlik van ’n vrye, nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese, verenigde en vooruitstrewende Suid-Afrika.

 

Ons het pas die 17de jaar van vryheid betree en ons is reg om die poging voort te sit om van Suid-Afrika ’n suksesvolle en voorspoedige land te maak en te bou op die fondament wat deur President Mandela gelê is.

Terwyl ons hierdie mylpaal vier, dra ons die nasie se goeie wense oor aan Tata Madiba en sy familie en ons wens hom ’n spoedige herstel toe.

Landgenote,

Ons moet die realiteit aanvaar dat President Mandela, wat vir ons almal – oud en jonk, mans en vrouens, swart en wit – geliefd is, nie meer jonk is nie.

Hy sal van tyd tot tyd mediese geriewe moet besoek vir roetine-ondersoeke, wat normaal is vir iemand van sy jare.

Ons moet hom toelaat om dit met waardigheid te doen en sy familie en die mediese span ruimte bied om, namens ons, in privaatheid na hom om te sien.

Ons is dit aan hom verskuldig, in ag genome sy liefde vir hierdie land en sy mense en die bydra wat hy tot Suid-Afrika, Afrika en die wêreld gemaak het.

Ons bedank die familie, die Nelson Mandela-stigting en die mediese span vir die uitnemende werk wat hulle doen in die versorging van ’n wêreldwye ikoon – een wat ons met trots ons eie kan noem.

Ons wil die nasie verseker dat Madiba baie goeie mediese sorg ontvang en dat hy gemaklik is.

SAAM HET ONS AL BAIE BEREIK

Landgenote,

Ons maak voortdurend vordering in ons strewe na ’n beter samelewing. Die politieke fondament is stewig. Ons het ’n kragtig werkende Grondwetlike demokrasie geskep.

Ons het gevestigde instellings wat demokrasie ondersteun en die regte van ons landsburgers beskerm, soos die Kantoor van die Openbare Beskermer, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, die Kantoor van die Ouditeur-Generaal, die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe en die Geslagsgelykheidskommissie.

Landwye algemene verkiesings word sonder uitsondering elke vyf jaar gehou om Suid-Afrikaners in staat te stel om ’n regering van hulle keuse aan te stel, en die verkiesings word gelei deur die doeltreffende Onafhanklike Verkiesingskommissie.

Ons het ’n kragtige Parlement wat die Uitvoerende Bestuur aanspreeklik hou.

Ons het ’n onafhanklike Regterlike Gesag wat ’n betroubare finale arbiter in alle geskille in ons samelewing is. Ons het ’n media wie se vryheid deur die Grondwet gewaarborg word.

Met betrekking tot basiese dienste maak ons ook vordering. Meer as 400 000 bykomende mense is verlede jaar van basiese water voorsien. Omtrent 81% van die land is van elektrisiteit voorsien, in vergelyking met 63% in 2000.

 

Die misdaadstatistieke wys ’n afname in meeste misdade, veral gewapende roof, huisbrake en inbrake by besighede, sowel as kontakmisdade. Die moordsyfer het byvoorbeeld met 8,6% afgeneem die afgelope jaar.

Ons maak ’n verskil in onderwys, soos bewys is deur die beduidende toename in die matriek-slaagsyfer verlede jaar en die belangstelling wat die jeug landswyd in onderrig toon.

Agbare lede,

Nagenoeg 15 miljoen Suid-Afrikaners ontvang maatskaplike toelaes vanaf die Staat. Ons sal die kinderonderhoud-toelaes uitbrei om kinders onder 18 wat in aanmerking kom, in te sluit.

Aangesien ons ’n ontwikkelingsland wil bou en nie ’n welsynstaat nie, sal die maatskaplike toelaes gekoppel wees aan ekonomiese bedrywighede en gemeenskapsontwikkeling, ten einde korttermyn-begunstigdes in staat te stel om op die lange duur selfonderhoudend te word. 

Agbare lede,

Ons is tevrede met die finansiële sektor se prestasie. Dit blyk merkwaardig veerkragtig te wees ondanks die onlangse finansiële krisis en die wêreldwye ekonomiese ineenstorting. 

Die begrotingstekort sal na alle waarskynlikheid verminder vanaf die huidige 6,7% tot tussen 3% en 4% teen 2013.

Ons het kommer oor die wisselkoers ernstig opgeneem.

Verbeteringe in wisselkoersbeheer wat in verlede jaar se mediumtermyn-begrotingsbeleid-verklaring aangekondig is, word in werking gestel. Verdere inligting sal deur die Minister van Finansies in sy begrotingstoespraak bekendgemaak word.

Die 2010 FIFA-sokkerwêreldbeker was ongetwyfeld die opwindendste projek in 2010.

Op internasionale gebied was dit ons voorreg om deel te word van die Forum vir Brasilië-Rusland-Indië-China-Suid-Afrika (BRICS). Dit is ’n belangrike blok van ontluikende ekonomieë. Ons sien uit na die eerste vergadering van BRICS in China in April.

Ons het ons nie-permanente setel op die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad ingeneem, wat aangewend kan word om die Afrika-agenda sowel as veiligheid en sekuriteit in Afrika en die wêreld te bevorder.

 

Ons het al ver gevorder. Ons het al soveel bereik, maar daar is steeds baie uitdagings.

Deur saam te werk kan ons nog baie meer bereik.

DIE UITBOU VAN ‘n VOORSPOEDIGER SAMELEWING

Landgenote,

Terwyl baie Suid-Afrikaners bly is oor die lewering van huise, elektrisiteit of water, is daar baie ander wat steeds wag.

Die nalatenskap van dekades van apartheid se onderontwikkeling en koloniale verdrukking kan nie in slegs 17 jaar uitgewis word nie.

Maar ons kyk vorentoe, vasbeslote om ons doelwit te bereik, naamlik om ’n beter lewe vir almal te verseker.

En ons doen dit met behulp van ons mense. Ons waardeer die terugvoer wat hulle aanhoudend vir ons gee.

Bongokuhle Miya het op die Presidensie se Facebook-blad geskryf dat sy tuisdorp, Umzimkhulu, in ’n haglike toestand is, met gebarste rioolpype orals, geen dreineringstelsels nie en troeteldiere wat in dorp se strate rondloop.

 

Hy skryf: As die Regering, wat baie goed doen, net ’n bietjie meer aandag aan hierdie gebiede kan skenk met ’n mate van erns.

Inderdaad, ons stem saam dat dienslewering vinniger moet geskied.

Ons interaktiewe regering ontvang ook inligting via direkte kontak met ons mense.

Gedurende die afgelope jaar het ons baie dorpies, townships en voorstede besoek. Die boodskap is oral dieselfde.

Die mense waardeer die vordering wat gemaak is, maar vinniger dienslewering word benodig en hulle is bereid om saam met die regering te werk om dit te bereik.

Gegewe die werk wat nog gedoen moet word, het ons in 2009 besluit om op vyf prioriteite te fokus. Dit is onderwys, gesondheid, landelike ontwikkeling en landbou-hervorming, die stryd teen misdaad en die skep van behoorlike werkgeleenthede.

Ons het goeie vordering gemaak met al hierdie prioriteite.

Ons is egter bekommerd omdat werkloosheid en armoede voortduur, ondanks die ekonomiese groei wat die afgelope 10 jaar ervaar is.

Om hierdie uitdagings aan te spreek het ons 2011 verklaar as ’n jaar van werkskepping deur betekenisvolle ekonomiese transformasie en inklusiewe groei.

Ons het ’n nuwe Pad van Groei bekendgestel, wat ons werk met betrekking tot die bereiking van hierdie doelwitte sal lei, in die veronderstelling dat die skep van behoorlike werke die hoeksteen van ons ekonomiese beleide sal vorm.

Ons moedig elke sektor en elke sake-eenheid, ongeag hulle grootte, aan om op werkskepping te fokus. Elke bydrae tel in hierdie nasionale poging.

Ek wil graag die breë trekke van ons Program van Aksie in hierdie toespraak aanspreek.

Ministers sal hul werkskep-teikens en meer spesifieke besonderhede per sektor aankondig in hulle eersdaagse begrotingsrede-toesprake.

Alle regeringsdepartement sal hulle programme in lyn bring met die werkskep-imperatief. Die provinsiale en plaaslike regeringsfere is aangesê om dieselfde te doen.

Die programme van staatsondernemings en ontwikkelingsfinansiering-instansies behoort ook beter in lyn gebring te word met die werkskep-agenda.

Agbare lede,

Navorsing het getoon dat ons werk kan skep in ses prioriteitsgebiede. Dit is infrastruktuurontwikkeling, landbou, mynbou en benifisiëring, vervaardiging, die groen ekonomie en toerisme.

Ons kan egter nie op ons eie hierdie werksgeleenthede skep nie. Ons moet saam met sake-, arbeids- en gemeenskap-kiesafdelings werk. Ervaring het bewys dat ons net suksesvol kan wees as ons saamwerk.

’n Goeie voorbeeld is die werk wat deur die Presidensiële Raamwerkreaksie op die Internasionale Ekonomies Krisis-span gedoen word, bestaande uit regerings-, arbeids- en gemeenskapsektore.

Die sleutelprestasies van hierdie span sluit onder meer in dat Suid-Afrika sy eerste opleidingsontslagskema bekendgestel het ten einde alternatiewe oplossings vir afleggings te bied.

Nog ’n ingryping was finansiële ondersteuning vir firmas in nood, wat omtrent 7 000 poste gered het. Ons bedank die span vir hulle uitmuntende werk en sien uit na hulle voortdurende samewerking.

Alhoewel ons spesifiek ons hoop op die privaatsektor vestig om die meeste werksgeleenthede te skep, sal die regering definitief ook sy kant bring.

Dit is vir ons aangenaam om die instelling van ’n werkskeppingsfonds van R9 biljoen oor die volgende drie jaar aan te kondig, wat nuwe werkskep-inisiatiewe sal finansier.

Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) het boonop R10 miljoen oor die volgende vyf jaar opsygesit vir beleggings in sodanige ekonomiese aktiwiteite met die potensiaal om werksgeleenthede te skep.

Dit is ook my voorreg, agbare lede, om R20 biljoen se belastingstoelaes of -verligting aan te kondig, ten einde beleggings, uitbreidings en opgraderings in die vervaardigingsektor te bevorder.

Vir ’n projek om te kwalifiseer moet die minimum belegging R200 miljoen vir nuwe projekte en R30 miljoen vir uitbreidings of opgraderings wees.

Die program sal ’n toelae van tot R900 miljoen in belastingaftrekbare vergunnings vir nuwe beleggers en R550 miljoen vir opgraderings en uitbreidings bied.

Landgenote,

Die kleinsake-sektor is ’n lewensbelangrike komponent van die werkskep-plan.

Ons sal voortgaan om finansiële en nie-finansiële ondersteuning aan klein-, medium en makro-ondernemings (KMMO’s), kleinskaalse landbou sowel as koöperatiewe te bied.

Ons moet besnoei op administratiewe koste, duplisering vermy en meer hulpbronne aan kleinsake-ondernemings toeken.

Daarom oorweeg ons dit om die drie agentskappe Khula, die Suid-Afrikaanse Mikro-finansiering-Apex-fonds en die NOK se kleinsake-finansiering in ’n enkele eenheid te laat saamsmelt.

Die veldtog om KMMO’s betyds, binne 30 dae, te betaal is goed op dreef.

Die Departement van Handel en Nywerheid se betalingsblitslyn het die afgelope finansiële jaar sowat 20 000 oproepe ontvang en die waarde van betalings wat gemaak is, was R210 miljoen.

Ander departemente het hulle eie inisiatiewe begin, byvoorbeeld die Re Ya Patala-inisiatief (Ons Betaal) van die Departement van Openbare Werke.

Ons gaan voort met wetlike hervormings wat dit makliker maak om besighede te registreer en ook om die Mededingingswet te verbeter ten einde die mark oop te stel vir nuwe deelnemers.

Agbare lede,

Die minerale rykdom van ons land is ’n nasionale bate en ’n gedeelde nalatenskap wat aan alle Suid-Afrikaners behoort, met die Staat as die bewaarder.

Suid-Afrika het beduidende mynbou-bates wat tans 2,5 triljoen Amerikaanse dollars werd is.

Teen 2009 het die mynboubedryf meer as 30% tot die land se totale uitvoer-inkomste bygedra en 2,9% van die land se ekonomies-aktiewe bevolking in diens gehad.

Beramings dui daarop dat ons minerale hulpbronne na verwagting vir die volgende eeu ontgin sal kan word.

Om voordeel te trek uit hierdie potensiaal onderskryf die regering die Afrika Verkennings-, Mynbou- en Finansieringskorporasie se rol as die staatbeheerde mynboumaatskappy wat die ontginning van alle minerale van strategiese belang sal behartig.

Een van die regering se prioriteite hierdie jaar is ook om die ontginningstrategie te finaliseer en te aanvaar as amptelike regeringsbeleid, sodat ons volledig voordeel kan trek uit ons hulpbronne.

Landgenote,

Met betrekking tot kommunikasie het ons onderneem om ons televisie- en radioseine om te skakel van analoog na die meer gevorderde digitale sein, wat beter beeld- en klankgehalte sal verseker.

In hierdie opsig sal werk geskep word in vervaardiging, verpakking, verspreiding en installering.

Agbare Speaker en Nasionale Voorsitter,

Ons is tevrede met die suksesse in ons toerismesektor, veral aangesien elke 16 toeriste een werk in ons land skep.

Meer as 7,3 miljoen toeriste het Suid-Afrika verlede jaar besoek, in vergelyking met ongeveer 6,3 miljoen in 2009. Vir verdere groei moet ons bestaande markte verbeter en terselfdertyd ontluikende ekonomieë ondersoek.

Ons land is ook voortdurend ’n gewilde bestemming vir internasionale samekomste.

In Julie sal ons ’n hoëvlaksportbyeenkoms in Durban aanbied, die 123ste Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se Nasionale Vergadering-sessie.

Ons bedank die IOK vir die geleentheid om gasheer te wees tydens hierdie belangrike kongres.

Daar is reeds 95 vergaderings en konferensies tussen 2010 en 2016 gereël.

Om ons toerisme-potensiaal ’n verdere hupstoot te gee sal ons onder andere kyk na buigsamer visumvereistes, beter landingsgleuwe by buitelandse lughawens sowel as verbeterde toerisme-infrastruktuur.

Gekoppel aan toerisme sal ons ook voortgaan om die kulturele nywerheidsektor te ontwikkel, wat ongeveer R2 biljoen tot die bruto binnelandse inkomste bydra.

Ons het ook gesien watter waarde gebeure soos die Kaapstad Internasionale Jazz-fees bied, wat meer as R475 miljoen tot die ekonomie van Kaapstad bygedra het, en in 2010 sowat 2 000 werke geskep het.

Ons wil ook spesiale melding maak van die gewilde Kaapse Klopse-karnaval, wat elke jaar op 2 Januarie die stad ophelder met hulle viering van die bevryding van slawe.

Agbare lede,

Ons infrastruktuurontwikkelingsprogram stel ons in staat om toegang tot basiese dienste uit te brei en die lewensgehalte van almal te verbeter.

Dit sluit projekte vir die lewering van water, elektrisiteit en behuising in.

 

Energiesekuriteit is noodsaaklik vir ekonomiese ontwikkeling en werkskepping. Om seker te maak dat die land van elektrisiteit voorsien word, het Eskom meer as R75 biljoen belê, meestal in die nuwe stasies Medupi, Kusile en Ingula, sowel as die herstel van dienste en die geleiding van ander projekte.

Ons moet almal krag spaar sodat ons nie nodig het om weer beurtkrag as ’n besparingsmaatreël in te stel nie.

Hierdie jaar sal ons begin om krag vanaf hernubare energiebronne te verkry, wat ons toewyding aan hernubare energie sal bewys.

Agbare lede,

Die boubedryf word gekenmerk as ’n wesenlike drywer van werkgeleenthede. Daar is 1,2 miljoen huishoudings wat in die land se 2 700 informele nedersettings woon.

Teen 2014 behoort 400 000 van hierdie huishoudings permanente huise en toegang tot basiese dienste te hê.

Ons sal ook die lewering van huurakkommodasie verbeter, aangesien daar mense is wat na stede gaan en nie beplan om permanent daar te bly nie.

Dit behoort welkome nuus vir landsburgers soos Portia Busisiwe Mrwetyana te wees. Sy het op onsFacebook-blad geskryf oor die ongelykhede in Bekkersdal, waar ’n informele nedersetting, wat geen dienste het nie, oorkant die pad van ’n woongebied met alle geriewe geleë is.

Sy vra: Wat ek wil weet, is hoekom ons verskillend behandel word maar ons gee vir julle dieselfde stem. HOEKOM?

Die regering sal hierdie jaar R2,6 biljoen aan waterdienste bestee. Van die prioriteitsgebiede is Limpopo, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, waar daar steeds baie mense is wat nie veilige drinkwater het nie, terwyl ander gebiede nie afgeskeep sal word nie.

Ons het ag geslaan op die versoeke van baie bydraers tot hierdie bladsy wat die regering maan om slaggate reg te maak.

Ons Uitgebreide Program vir Openbare Werke (EPWP) beoog om 4,5 miljoen werkgeleenthede te skep, en meer as ’n miljoen geleenthede is reeds geskep sedert die aanvang van Fase 2. ’n Deel van die program fokus op die herstel van ons padnetwerk.

Die meeste van ons mense baat baie by die EPWP. Mense kry werkgeleenthede, paaie word in stand gehou, daar is sport- en geletterdheidsprogramme vir bejaardes, en paaie word skoon gehou.

Die padinstandhoudingsprogram, bekend as Zibambele, sal hierdie jaar landwyd uitgebrei word ten einde nog werkgeleenthede te skep.

Ons sal infrastruktuur ontwikkel wat ons landbousektor ’n hupstoot sal gee en terselfdertyd ook help om werk te skep.

Waterreservoirs, windpompe en besproeiingskemas sal gerehabiliteer word. Gewasse, vee en weiding sal beskerm word deur die oprigting van heinings.

Hierdie projekte sal voedselsekuriteit verbeter en werk skep vir baie mense, veral vroue in landelike gebiede.

Om ons innovasie in wetenskap en tegnologie te verbeter en werk te skep, bie ons om die Square Kilometre Array-radioteleskoop te huisves.

Die bod het reeds 800 konstruksie-werkgeleenthede in die Noord-Kaap geskep en sal hierdie jaar nog 100 werke verseker.

Ons pogings om werk te skep sal ook jeugontwikkeling verbeter.

Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap is tans besig met onderhandelinge met staatsorganisasies en die privaat sektor om jeugontwikkeling in openbare-sektor-programme in te sluit en om jeug-ondernemings en -koöperatiewe te bevorder.

Landgenote,

Ons glo dat die ingrypings wat kortliks hier genoem is, sal ons help om werkskepping hoog op die agenda van alle besluitnemers in die land te plaas.

Sewe ministers het Dinsdag ’n vergadering met ons maatskaplike vennote gehad om vennootskappe te bespreek en ons is optimisties dat ons gereed is om sukses te behaal.

Agbare Speaker en Agbare Voorsitter,

Saam met aansporings vir werkskepping onderneem ons ook om beleide te hervorm wat betrekking het op die verbetering van ons werkers se lewens.

Die regering, saam met sy maatskaplike vennote, is besig om wetgewing te hersien oor arbeidsmakelaars en die beleidsraamwerk vir die voorsiening van openbare indiensneming.

Dit sal die regering in staat stel om ’n databasis van mense wat werk soek en van werkgeleenthede op datum te hou.

Die Regering se beleidsdokument oor maatskaplike-sekerheid-hervorming sal na verwagting later hierdie jaar vir bespreking bekendgestel word.

Kwessies waarna gekyk sal word, sluit in die finansiering en aard van die Nasionale Maatskaplike-sekerheidfonds, hoe die privaatsektor beroeps- en aftreefondse in die algehele stelsel sal laat inpas, en die moontlike wetlik bepalende struktuur.

Die regering moet alle vakante poste vul. Die Prestasie-Monitering- en -evaluering Departement sal binne ses maande ’n verslag hieroor uitreik.

Geagte Speaker en Geagte Voorsitter,

Ons het inderdaad al ’n ver pad gekom sedert 1994. Ons het al baie bereik, maar baie moet nog gedoen word, en as alle Suid-Afrikaners saamwerk sal ons soveel meer kan bereik!

Gun my die geleentheid om nou die ander vier prioriteitsgebiede, sowel as ander programme, aan te spreek.

Die fokus van basiese onderwys vir hierdie jaar is drievoudig: onderwysers, handboeke en tyd. Ons beklemtoon weereens dat onderwysers by die skool, in die klas en betyds moet wees, besig om ten minste sewe uur per dag te onderrig.

Die administrasie moet seker maak dat elke kind betyds ’n handboek het, en dat ons onderwysers gehelp word om die regte werkomgewing te skep sodat gehalte-onderrig kan plaasvind.

Om vordering te bepaal het ons hierdie jaar begin met die jaarlikse nasionale assesserings vir Graad 3, 6 en 9 in geletterdheid en syfervaardigheid, wat internasionaal die norm is.

Ons sal voortgaan om in onderwyser-opleiding te belê, veral in Wiskunde en Wetenskap.

Ons sal spesiale aandag skenk aan die opleiding van skoolhoofde, veral die hoofde van onderpresterende skole.

Die fokus van hoër onderwys is om toegang te verbeter, veral vir arm kinders.

Dit sluit die omskakeling in van lenings in beurse vir kwalifiserende finale-jaar-studente.

Studente by verdere onderwys-en-opleidingskolleges wat kwalifiseer vir finansiële hulp sal nie studiegelde hoef te betaal nie.

Ons moedig staatsinsstansies aan om ’n sleutelrol in vaardigheidsontwikkeling te speel en ons te help om die tegniese vaardighede te bied wat nodig is vir die ekonomie.

Denel, Eskom, SAL en Transnet het gehelp met die opleiding van meer as 6 000 leerders in skaars en kritiese tegniese en ingenieurs-vaardighede.

Mede Suid-Afrikaners,

Ons sal voortgaan om die vermoë en doeltreffendheid van die polisie te verbeter, veral die speurdiens, forensiese analiste en misdaadintelligensie.

 

Ons het sigbare polisiëring en patrollies in geïdentifiseerde probleemgebiede vermeerder. Ons maak ook merkbare vordering om die aantal onwettige en wettige vuurwapens te verminder.

Ons howe maak voortdurend vordering om beter te funksioneer, en programme om agterstande op plaaslike en streekvlak te verminder vorder goed.

Ons sal voortgaan om misdade teen vroue en kinders te prioritiseer en om ondersteuning te bied deur die Thuthuzela-sorgsentrums.

Ons sal saam met gemeenskappe en ander sleutelrolspelers werk om dwelmsmokkelary en dwelmmisbruik te bekamp, wat sommige gemeenskappe verskeur.

Dinsdag se besoek aan ’n dwelmrehabilitasiesentrum in Mitchell’s Plain het my oortuig dat ons meer driftigheid nodig het in die geveg teen dwelmmisbruik en ‑smokkelary in ons gemeenskappe.

Ek het ons polisiediens aangesê om ferm op te tree teen mense wat dwelms aan kinders in Kaapstad en ander gebiede verkoop. Kroegeienaars wat alkohol aan kinders verkoop, sal ook nie geduld word nie.

Die geveg teen korrupsie duur voort.

’n Spesiale anti-korrupsie-eenheid is in die Departement van Openbare Diens en Administrasie gestig om korrupsie-verwante dissiplinêre sake, waarby staatsdienswerkers betrokke is, te hanteer.

Vordering word ook gemaak in baie voortgesette ondersoeke.

Meer as R44 miljoen is ingevorder van staatsdienswerkers wat onwettig voordeel trek uit behuisingsubsidies, terwyl die uitwissing van bedrog in die maatskaplike-toelaes-stelsel ook voortgaan.

Ons het ’n spesiale ondersoekeenheid aangestel om beweerde wanadministrasie en korrupsie in verskeie regeringsdepartemente, munisipaliteite en instansies te ondersoek.

Alhoewel die ondersoeke nog nie in die hof voorgekom het nie, bewys dit ons voorneme om korrupsie op alle vlakke van die regering en staatsdiens uit te wis.

Die Multi-agentskap-werkgroep vir Verkryging, gelei deur die Nasionale Tesourie, SAID en die Finansiële Intelligensie-sentrum, is besig om die algehele staatsverkrygingstelsel te hersien ten einde beter waarde vir geld uit staatsbesteding te verseker.

Met betrekking tot die gesondheidsektor sal ons hierdie jaar die aanstelling van geskikte en gekwalifiseerde personeel in die regte poste benadruk.

Ons het gekwalifiseerde departementshoofde, hoof finansiële beamptes, hospitaal- hoof uitvoerende beamptes, distriksgesondheidsbeamptes en kliniekbestuurders nodig.

Ons beplan om nuwe lewe in 105 verpleegkollleges landwyd te blaas en meer verpleegsters op te lei.

Ons beplan ook om ’n mediese fakulteit by die Limpopo Akademiese Hospitaal oop te maak en om meer dokters op te lei.

 

Die verbetering en opknapping van hospitale en klinieke sal voortduur.

Gegewe die klem op vroue se gesondheid, sal ons die omvang vergroot van voortplanting-gesondheidsregte en dienste wat onder meer betrekking het op voorbehoeding, seksueel-oordraagbare infeksies, tienerswangerskappe en sanitêre doekies vir armlastiges.

In die stryd teen MIV en Vigs het ons programme vernuwe, en bevorder ons verskeie voorkomende maatreëls, insluitend mediese manlike besnydenis, die voorkoming van ma-tot-kind-oordrag en die bevordering van MIV-toetsing.

Die toetsing is reg oor die land gewild. Net meer as vyf miljoen MIV-toetse is al gedoen sedert die aanvang van die toetsing-veldtog in April verlede jaar.

Werk om die Nasionale Gesondheidsversekeringsbeleid en -implementeringsplan te ontwikkel, is die afgelope jaar voortgesit. Die regering sal binnekort die beleidsdokument bekendstel vir openbare deelname.

Agbare Speaker en Agbare Voorsitter van die NRP,

Ons sal voortgaan met die omvattende landelike ontwikkelingsprogram wat daarop gemik is om landhervormingsprojekte en besproeiingskemas in die voormalige tuislande te vernuwe, sowel as hulpverlening aan plase in privaat besit wat onder druk is.

Die regering het die Nasionale Landelike Jeugdienskorpsprogram ontwikkel om jongmense in landelike gebiede te help. Tot dusver is meer as 7 000 jongmense deur dié program van werk voorsien.

Agbare Speaker en Agbare Voorsitter,

Die regering het wetgewing aanvaar wat die Posspaarbank vernuwe. Dit sal landelike gemeenskappe help om hulle geld te spaar en ook om lenings te bekom om klein besighede te begin.

Ons moedig hulle aan om die Posspaarbank te gebruik ten einde ontwikkeling te verseker.

DIE UITBOU VAN ‘n SIMPATIEKE, AANSPREEKLIKE, DOELTREFFENDE EN EFFEKTIEWE PLAASLIKE REGERINGSTELSEL

Agbare lede,

Die land sal voor die einde van Mei die vierde plaaslike-regering-verkiesing hou. Daar was die afgelope paar maande baie klagtes oor plaaslike regerings.

Die frustrasies in sommige gebiede het tot betogings gelei – wat die probleme in daardie sfeer benadruk het.

Ons moet sorg dat mense se ervaring van plaaslike regering aangenaam is, aangesien dit elke dag hulle huise en lewens direk raak.

Sommige munisipaliteite funksioneer baie goed, en sommige raadslede voer ook hulle pligte uit soos wat hulle moet.

Ons het ’n omkeer-strategie vir plaaslike regering ingestel, wat onder meer daarop fokus om basiese administratiewe stelsels, finansiële bestuur en kliëntediens te verbeter.

Die voorbereidings vir die plaaslike regering verkiesing is goed op dreef.

Die registrasieproses wat verlede naweek plaasgevind het, het goed afgeloop, en ons wens diegene geluk wat geregistreer het. Ons moedig mense sonder identiteitsdokumente aan om sonder verwyl aansoek te doen sodat hulle nie die volgende registrasietydperk volgende maand misloop nie.

Ná die bekendstelling van die nasionale bevolkingsregistrasie-veldtog in Libode in die Oos-Kaap verlede jaar, is meer as 700 000 identiteitsdokumente vir die eerste keer uitgereik. Dit dui op ons mense se entoesiasme om hierdie noodsaaklike dokument te hê.

Terwyl ons voorberei vir die verkiesing is ons bewus daarvan dat verwoestende vloede die land die afgelope tyd getref het, en baie families is daardeur geraak.

Ons innige simpatie gaan uit na die families van diegene wat hulle lewens verloor het. Ons harte gaan ook uit na diegene wat beseer is of wat al hulle besittings verloor het.

Mede Suid-Afrikaners,

Gun my die geleentheid om aan te kondig dat die regering R800 miljoen opsygesit het vir onmiddellike verligting om hierdie gemeenskappe te help.

Ons het ook geld opsygesit vir herstelwerk en heropbouing ná die ramp in die jare wat voorlê.

Ons bedank verligtingsagentskappe, nie-regeringsorganisasies, die privaat sektor, godsdienstige organisasies en gemeenskappe wat diegene in nood gehelp het.

DIE BOU VAN ‘n BETER AFRIKA EN ‘n BETER WÊRELD

Die Afrika-agenda bly een van ons sleutel-beleidsfokusse.

Suid-Afrika dien tans ’n twee-jaar termyn op die Afrika Unie se Vredes-en-Sekuriteitsraad uit.

Die land sal vanaf Augustus voorsitter wees van die SAOG Orgaan vir Politiek, Verdediging en Sekuriteit.

In hierdie rol sal ons voortgaan om rolspelers te betrek by die implementering van die wêreldwye politieke ooreenkoms in Zimbabwe en die ontwikkeling van ’n beleid vir die verkiesing.

Ons sal ook alles in ons vermoë doen om ’n oplossing the soek vir die Malagassiese konflik. Ons sal die situasie monitor en, waar moontlik, hulp verleen om te verseker dat die politieke en veiligheidsituasie in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) bevorderlik is vir ’n verkiesing.

Ons is ook bevoorreg om te help soek na oplossings vir die situasie in die Ivoorkus, as ’n lid van die Afrika Unie se hoëvlak paneel, wat gekies is om te help om die uitdagings in daardie land op te los.

Ons prys die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag vir die werk wat hulle doen. Hulle het gemiddeld meer as 2 000 militêre personeellede in vredesmissies in die DRK, Soedan en Sentraal-Afrika ontplooi.

Ons sal aanhoudend deelneem aan die vernuwing van die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling, met spesifieke fokus op die implementering van die infrastruktuurprogram, waarvan die eerste die Noord-Suid-infrastruktuurontwikkelingskorridor is.

Suid-Afrika het kennis geneem van die ontluikende ontwikkelings in Egipte sowel as die vroeëre gebeure in Tunisië.

Ons monitor die situasie deeglik, asook die impak daarvan op die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Ons glo vas dat die koers en die omvang van die veranderinge, sowel as die toekoms wat hierdie susterlande kies, deur hulle self bepaal moet word.

In hierdie verband bied Suid-Afrika ondersteuning aan met betrekking tot pogings wat daarop gemik is om politieke hervormings bekend te stel en te implementer wat ’n kalm en vredevolle oorskakeling in Tunisië en Egipipte sal verseker.

Ons glo dat niks in die pad sal staan van die verwesenliking van die Palistynse mense se strewe nie, naamlik ’n veilige, onafhanklike staat wat sy-aan-sy en in vrede met die Israelse Staat kan bestaan.

Suid-Afrika wil die internasionale gemeenskap maan om die partye aan te moedig om voortdurend te soek vir ’n blywende oplossing in die Midde-Ooste.

Ons wens die mense van Soedan hartlik geluk met die suksesvolle referendum, en verwelkom die nuwe Staat van Suidelike-Soedan.

Dit is ’n belangrike Afrika-suksesverhaal. Ons wens die Afrika Uunie en die Verenigde Nasies geluk met die bekwame manier waarop hulle die situasie hanteer het.

Op die breër internasionale front sien ons daarna uit om hierdie jaar die vyfde Indië-Brasilië-Suid-Afrika-spitsberaad aan te bied.

By die G20-forum sal ons weereens pleit vir ’n meer gelyke ekonomiese wêreldorde.

DIE UITBOU VAN ‘nNASIONALE, DEMOKRATIESE EN SAMEHANGENDE GEMEENSKAP

Landgenote,

Die ervaring van die 2010 FIFA-sokkerwêreldbeker het ons geleer dat ons alles wat goed is in hierdie land moet waardeer.

Die Suid-Afrikaanse vlag het die belangrikse item in elke huishouding geword.

Die regering sal voortbou hierop deur te verseker dat vlae in skole en openbare instansies wapper ten einde ons nasionale simbole en identiteit te bevorder.

Ons moedig al ons mense aan om die volkslied te leer en dit behoorlik en met trots te sing.

Ons sal ’n program bekendstel wat ons nasionale ikone vier en ’n nasionale erfenis-roete bevorder. Dit sal individue vereer wat ’n reuse-bydrae gemaak het tot die bevryding van ons land.

Agbare lede,

Ons het gesien watter mag sport het om mense te verenig en om nasiebou in ons land te bevorder.

Ons almal moet die Proteas ondersteun as hulle binnekort aan die 2011 IKR-wêreldbeker deelneem, en die Springbokke, wat na Nieu-Seeland sal reis om ons 2007 Rugbywêreldbekertitel te verdedig.

Ons wens ook die nasionale netbalspan sterkte toe wanneer hulle in Julie aan die Netbal-wêreldbeker deelneem. Hulle het ons volle ondersteuning.

Kom ons gebruik hierdie geleentheid om een van ons beste krieketspelers, Makhaya Ntini, wat vanaand ons spesiale gas is, te vereer. Hy het ’n enorme bydrae tot plaaslike en internasionale krieket gelewer.

Suid-Afrika sal in Oktober hierdie jaar sy derde post-apartheid-sensus aanpak. Ons bedank mnr Ntini, wat ingestem het om as ’n ambassadeur vir hierdie belangrike veldtog op te tree.

Agbare Speaker en Agbare Voorsitter,

Ons is altyd verbind daartoe om ’n staat te skep wat prestasie-georienteerd is.

Ons Prestasie-monitering en Evalueringsdepartement sal die werk van die regeringsdepartemente sorgvuldig koordineer en monitor, en werkskepping vooropstel.

Ons verwelkom ook die Parlament se belofte dat hulle sal seker maak dat die regering hul belofte met betrekking tot die prioritisering van werkskepping gestand doen.

Landgenote,

Ons doelwit is duidelik. Ons wil ’n land hê waar miljoene Suid-Afrikaners behoorlike werksgeleenthede het, wat moderne infrastruktuur en ’n kragtige ekonomie bied en waar die lewensgehalte hoog is.

Almal van ons het ’n verantwoordelikheid om hard te werk om dit ’n werklikheid te maak.

Almal moet dink hoe hulle ’n bydra tot die werkskeppingsveldtog kan lewer en geleenthede vir hulleself en ander kan skep.

Terwyl ons dit doen, kan ons inspirasie put uit dit wat ons geliefde President Mandela in sy intreerede in 1994 gesê het, naamlik dat ons almal moet saamwerk.

Hy het gesê:

Ons verstaan steeds dat daar geen maklike pad na vryheid is nie.

Ons weet goed dat nie een van ons alleen sukses kan behaal nie.

Daarom moet ons, as ’n verenigde nasie saamwerk vir nasionale versoening, vir nasiebou, vir die geboorte van ’n nuwe wêreld.

Laat daar geregtigheid vir almal wees.

Laat daar vrede vir almal wees.

Laat daar werk, brood, water en sout vir almal wees.

Laat almal weet dat elke liggaam se siel en gees bevry is om hierdie doel te verwesenlik.

Ek bedank u.

Issued by: The Presidency

Share this page

Similar categories to explore