Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 19 Oktober 2016

1. Implementering van belangrike Regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet wens alle studente alles van die beste toe met die voorbereiding van hul finalejaareksamens. Die Klas van 2016 word aangemoedig om gefokus te bly wanneer hulle die 2016 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen aanpak, wat op 24 Oktober 2016 begin en op 29 November 2016 eindig.

1.2. Die Kabinet herhaal sy beroep op die land om alle pogings om die 2016-akademiese program te red, te ondersteun. Die Regering lei hierdie pogings deur die ministeriële taakspan, wat met studente, ouers, universiteite en belanghebbers saamwerk en bewys lewer van ons kollektiewe verbintenis om oplossings te vind om ons hoëronderwyssektor te normaliseer.

Die Kabinet het begrip vir studente se besorgdheid oor die uitdagings waarvoor hulle te staan kom met betrekking tot hoë studiegelde, akkommodasie, handboeke, vervoer en lewenskoste.

Indien hierdie akademiese jaar verlore gaan en die universiteite en kolleges nie vanjaar 'n finale oplossing vind nie, sal bykans 'n miljoen matrikulante in 2017 nie tot hoër onderwys toegelaat word nie. Die uitkringeffek sal 'n invloed op alle studente vanaf die eerste tot finale jaar hê, en uiteindelik ook op ons ekonomie aangesien geen nuwe geskoolde gegradueerdes die arbeidsmark sal kan betree nie.

Studente wat as mediese dokters, ingenieurs, rekenmeesters, onderwysers en in verskeie ander beroepe sou gegradueer het, sal dus nie meer in 'n posisie wees om die ekonomie te betree nie.

Die Kabinet ondersteun die reg op onderwys soos dit in ons Vryheidshandves en Grondwet vervat is en in die Nasionale Ontwikkelingsplan geprioritiseer word, ten volle. Ons ondersteun ook die reg op toegang tot hoër onderwys, veral vir arm mense.

Die Vryheidshandves bepaal dat hoër onderwys en tegniese opleiding aan almal beskikbaar gestel moet word deur middel van staatsubsidies en beurse wat op grond van verdienste toegeken word.

Die Grondwet verklaar verder “Elkeen het die reg op verdere onderwys wat die staat deur middel van redelike maatreëls in toenemende mate beskikbaar en toeganklik moet maak.”
Uit erkenning vir die omvang van die uitdagings in hoër onderwys het President Jacob Zuma die samestelling van die Ministeriële Taakspan verder uitgebrei deur die insluiting van die ministers van kommunikasie, menslike nedersettings, finansies en maatskaplike ontwikkeling.

Die Regering het verskeie voorstelle van verskeie belangegroepe en belanghebbers ontvang. 'n Tegniese proses is tans aan die gang om hierdie voorstelle te evalueer en sodra die werk afgehandel is, sal opsies om die huidige uitdagings die hoof te bied, voorgelê word.

Die Regering sal ook stappe doen om hulpbronne trapsgewys beskikbaar te stel aan alle NSFAS-kwalifiserende studente om die volle koste van studie aan universiteite en kolleges vir tegniese en beroepsonderrig en -opleiding (TVET-kolleges) op die lang termyn te dek. Die Regering sal ook planne ontwikkel om die uitdagings vir die "vermiste middel"-studente, wat nie ingevolge die huidige NSFAS-reëls kwalifiseer nie maar steeds nie sonder hulp die volle koste van studie kan dra nie, die hoof te bied. Al hierdie maatreëls sal infaseer word teen 'n tempo en skaal wat afhang van die groeitempo in inskrywings en beskikbare hulpbronne.

Die Presidensiële Kommissie van Ondersoek na Hoër Onderwys en Opleiding sit sy werk voort en sal die Regering help om 'n langtermynoplossing vir toegang tot hoër onderwys, veral vir behoeftige studente te vind.

Die Minister van Finansies sal op 26 Oktober 2016 die Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring ter tafel lê, wat die breë fiskale raamwerk oor die medium termyn uiteen sal sit.
Die Regering het gedurende die 2016/17-finansiële jaar 'n geweldige hoeveelheid hulpbronne aan hoër onderwys toegewys, met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding wat 'n begrotingstoewysing van R49,2 miljard ontvang het.

Die Kabinet glo dat ons land slegs deur belegging in onderwys betekenisvolle vordering sal maak om die drievoudige uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid die hoof te bied. Die Regering het op studente se pleidooie gereageer en sal die aanpassing van studiegelde vir 2017 tot 8% subsidieer om die studiegelde-verhoging te betaal deur middel van 'n gapingbefondsingstoelae namens behoeftige studente, die werkersklas en die sogenaamde "vermiste middel"-studente, dit wil sê studente met 'n gesinsinkomste van tot R600 000 per jaar. Dit beteken dat daar geen styging in gelde vir sowel NSFAS- kwalifiserende studente as die "vermiste middel"-studente sal wees nie, omdat die Regering die persentasie-geldeaanpassing sal betaal. Hierdie subsidie sal ongeveer R2,5 miljard bedra, wat 70% van alle voorgraadse studente dek.

Alle belanghebbers moet onmiddellik daaraan begin werk om gunstige omstandighede en 'n bevorderlike klimaat te skep sodat die akademiese program sonder versuim hervat kan word. Om die progressiewe verwesenliking van die reg op verdere onderwys te verseker, sal die Regering in oorleg met tersaaklike belanghebbers 'n padkaart ontwikkel vir die transformasie van universiteite en TVET-kolleges om geleenthede te skep vir toegang, sukses, finansiering en ondersteuning vir studente en instellings. Verskeie belanghebbers, met inbegrip van ander studente, banke en die sakesektor, het verskillende voorstelle ingedien oor hoe ons hoër onderwys kan finansier, veral vir behoeftige studente. Die Ministeriële Taakspan sal dus al die belanghebbers onder een sambreel byeenbring om 'n padkaart te ontwikkel wat die weg vir 'n oplossing sal baan.

Die Kabinet verwelkom die hervatting van klasse in verskeie universiteite, en spoor alle studente aan om terug te keer klas toe. Dit is tans 'n kritiese tyd vir die akademiese program en die eksamens is om die draai. Die Regering glo dat studente se knelpunte deur dialoog aangepak kan word terwyl die akademiese program voortgaan.

Die Kabinet is steeds bekommerd oor die uitbreek van gewelddadige protesoptrede op sommige kampusse regoor die land. Hoewel die reg op protesoptrede ingevolge die Grondwet beskerm word, is daar geen plek vir geweld, intimidasie en die vernietiging van eiendom nie.
 
Alle belanghebbers moet alles in hul vermoë doen en alle nodige stappe te neem om die akademiese program te red, omdat die gevolge van 'n verlore akademiese jaar noodlottig vir die ekonomie, studente en matrikulante sal wees. Onderwys is almal se verantwoordelikheid; laat ons dus saamwerk om ter wille van ons kinders en ons land se toekoms normaliteit in hoër onderwys teweeg te bring.

1.3. Die Kabinet verwelkom die belegging van R3 miljard deur Marriot International waardeur die wêreld se grootste hotelgroep vyf nuwe hotelle gaan oprig. Dié aankondiging is 'n duidelike bewys van die beleggersvertroue in die land en die positiewe toekomsvooruitsigte van die plaaslike ekonomie.

1.4. Suid-Afrika is deur die Emerging Markets Newspaper, 'n geaffilieerde van die IMF/Wêreldbankjaarvergaderings, aangewys as die beste land vir skuldbestuur en voortreflike effekte-uitreiking in Afrika suid van die Sahara. Die toekenning volg op die Wêreldbank se erkenning van ons land se uitnemendheid op die gebied van skuldinamika/samestelling. Hierdie eerbetoon is bewys dat die land steeds suksesvol in internasionale kapitaalmarkte is en dat die ekonomie oordeelkundig bestuur word.

1.5. Die eerste Staatsbesoek aan Kenia deur 'n Suid-Afrikaanse staatshoof sedert demokrasie,  is onlangs deur President Jacob Zuma onderneem. Die besoek het 'n sake-afvaardiging na die Kenia-Suid-Afrika-Sakeforum ingesluit, wat beleggings- en handelsgeleenthede ondersoek het. Die volgende memorandums van verstandhouding is onderteken: polisiesamewerking; biodiversiteitsbewaring en -bestuur en die Lamu-Hawe-Suid-Soedan-Etiopië-Vervoerkorridor.

1.6. Die Tweede Sitting van die Bi-nasionale Kommissie tussen Suid-Afrika en die Republiek van Namibië het ons kollektiewe verbintenis herbevestig met 'n hersiening van 'n verskeidenheid bilaterale, streeks- en internasionale kwessies. Die Memorandum van Verstandhouding oor Hoër Onderwys is gefinaliseer, insluitend die ondertekening van die Opdrag van die Gesamentlike Komitee van Kenners oor die Oranjeriviergrens.

1.7. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa se werksbesoek aan Viëtnam en Singapoer was daarop gerig om toekomstige handels- en beleggingsmoontlikhede te ontsluit en Singapoerse ondernemings in staatsbesit te lok om deur openbare-privaatvennootskappe in Suid-Afrika te belê, ooreenkomstig Suid-Afrika se Negepuntplan. Singapoer het hom ook verbind om Suid-Afrika met vaardigheidsontwikkeling by te staan en om die aantal opleidingskursusse vir Suid-Afrikaanse studente wat ingevolge die Singapoer-samewerkingsprogram aangebied word, uit te brei.

1.8. President Jacob Zuma het die jaarlikse Konferensie van Hoofde van die Suid-Afrikaanse Missies toegespreek, wat 'n platform gebied het om idees oor vraagstukke en prioriteite te deel en die missies beter toe te rus om ons land te verteenwoordig. As buitelandse verteenwoordigers is dit hul verantwoordelikheid om vriendskappe en vennootskappe te kweek wat ons sal help om die Nasionale Ontwikkelingsplan se doelwitte te bereik, naamlik inklusiewe groei, werksgeleenthede en beter lewensomstandighede vir ons mense.

1.9. In reaksie op die behoeftes van gemeenskappe en sakeondernemings sal die Minister van Water en Sanitasie, Nomvula Mokonyane, eerskomende Vrydag 21 Oktober 2016 'n sooispitseremonie vir die konstruksie van fase een van die R18-miljard Vaal Gamagara-waterprojek lei. Ná voltooiing van fase een sal 14 veeplase, 12 myne, sonkragparke, en die gemeenskappe van Kathu, Olifantshoek en Hotazel voordeel uit die projek trek, wat 'n bevolking van 23 499 mense insluit.

1.10. Die bekendstelling van die R49-miljoen eerste fase van die opgeknapte Isithebe Nywerheidspark in Mandeni, KwaZulu-Natal, vorm deel van die Program vir die  Herlewing van Nywerheidsparke van die Departement van Handel en Nywerheid, en is as 'n prioriteit vir hernuwing aangewys.

Die oogmerk is om nywerheidsparke in staatsbesit regoor die land te vernuwe ten einde industrialisasie te bevorder en hul bydrae tot werkskepping en die land se ekonomiese groei te verhoog. Nywerhede wat vanuit Isithebe werk, lewer 'n betekenisvolle bydrae tot die gebied se ekonomie en voorsien meer as 20 000 werksgeleenthede. Tydens die herlewingsprogram is 15 klein, mikro- en mediumondernemings vir die projek aangestel, wat R6,3 miljoen beloop en 162 mense in diens geneem het.

1.11. Die aankondiging dat Suid-Afrika by 'n nuwe handelsooreenkoms met die Europese Unie (EU) sal baat, beteken dat Suid-Afrikaanse produkte voorkeurmarktoegang tot die EU sal geniet. Die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms (EPA) wat deel is van die SADC-EU EPA-raamwerk, vervang die handelsbepalings van die bestaande bilaterale ooreenkoms tussen Suid-Afrika en die EU. Dit staan bekend as die EU-ooreenkoms vir Handel, Ontwikkeling en Samewerking (TDCA). Die EPA bied nuwe marktoegang vir suiker en etanol asook beter marktoegang vir wyn, blomme, suiwel- en vrugteprodukte.

1.12. Die Kommissie vir die Bewaring van Suider-Afrikaanse Blouvin-tuna het Suid-Afrika se toewysing vir Totale Toelaatbare Vangs van die Suidelike Blouvin-tuna vir die 2018-2020-visvangseisoen van 150 ton tot 450 ton verhoog. Dit is noodsaaklik vir Suid-Afrika se werkskeppingsprioriteite aangesien dit permanente werksgeleenthede in die visseryesektor sal verskaf en 'n broodnodige inspuiting van uitvoerinkomste vir die land sal wees.

1.13. Die aanstelling van suksesvolle bieërs deur die Departement van Energie vir die eerste Steenkoolgebaseerde Onafhanklike Kragprodusenteprogram (IPP) is 'n sleutelelement van die Regering se inisiatief om die land se energievoorsiening te waarborg. Die twee suksesvolle bieërs sal oor die volgende vyf jaar 863.3MW tot die energierooster toevoeg.

Die aanstelling lok 'n belegging van meer as R40 miljard, wat gebruik sal word om infrastruktuur in die energiesektor te ontsluit, plaaslike verkryging te stimuleer en 6 613 werksgeleenthede gedurende konstruksie en 13 524 deur operasionele werksaamhede te skep.

Hoewel Suid-Afrika se energiebouplan die ontwikkeling van fossielbrandstofbates insluit, bly die land verbind tot die oorgang na 'n laekoolstofekonomie, met voorkeur van skoonenergie-alternatiewe. Deur die Hernubare Energie IPP is 6 376 MW elektrisiteit in ses bie-rondtes van 102 onafhanklike kragprodusente verkry. Hiervan is 2 200 MW elektriese opwekkingskapasietit uit 44 IPP-projekte aan die nasionale rooster verbind.

1.14. As deel van Vervoermaand word 'n aantal sleutelvervoerinfrastruktuurprojekte en -inisiatiewe in werking gestel om mense en plekke beter te verbind, nuwe werksgeleenthede te skep en die manier waarop Suid-Afrikaners reis, te verander.

In dié verband neem die Kabinet kennis van die belegging ten bedrae van R24 miljoen deur die Gauteng Departement van Paaie en Vervoer om die D904-pad, wat ook as die ou Evatonpad bekend staan, te herstel. Die rehabilitasie van die bestaande pad sal tot korter reistye en beter padveiligheid vir motoriste, fietsryers en voetgangers lei.

1.15. Tydens die Vyfde Afrika-Internetbestuursforum in Durban, is die vasteland se standpunt gefinaliseer, wat die bereiking van Agenda 2063 se doelwitte ondersteun ter voorbereiding vir die Internetbestuursforum wat in Desember 2016 in Meksiko gehou word. Suid-Afrika het die Veelparty-ooreenkoms vir Administrateursdiens met die DONA-stigting onderteken.

1.16. Die Regering se tussenkoms om korrupsie en wanpraktyke te bestry en nywerhede aanspreeklik te hou, het gelei tot 'n ooreenkoms met sewe genoteerde konstruksiemaatskappye oor 'n program van inisiatiewe wat transformasie in die bedryf sal versnel. Die ooreenkoms behels 'n aantal beginsels soos finansiële bydraes vir ontwikkelingsprojekte; verbintenisse tot transformasie in die sektor; 'n raamwerk om eise deur die openbare sektor by te lê; en verbintenisse tot integriteit deur hoof uitvoerende beamptes (HUB’s).

Sleutelbeginsels van die ooreenkoms sluit in 'n boete van R1,4 miljard wat deur die mededingingsowerhede opgelê word en wat die maatskappye in die Nasionale Inkomstefonds moet inbetaal. 'n Verdere R1,5 miljard sal tot 'n fonds bygedra word wat gerig is op maatskaplike beleggingsinisiatiewe om voorheen benadeelde gemeenskappe te ondersteun.

'n Verbintenis tot transformasie sal deur al sewe maatskappye gemaak word, hetsy in die vorm van 'n 'billikheidsmodel' ingevolge waarvan minstens 40% van die aandele in die maatskappy aan swart Suid-Afrikaners terugverkoop sal word; of 'n 'vennootskapsmodel' waarvolgens 'n maatskappy met tot drie konstruksievennootmaatskappy in swart besit sal saamwerk om hulle te help om omset gelykstaande aan 25% van sy eie omset te genereer. Die waarde van hierdie verbintenis sal na raming 'n jaarlikse omset van meer as R9 miljard aan die einde van die ooreenkomstydperk bedra.

'n Verbintenis tot integriteit sal deur elke HUB onderteken word waarin hulle hul verbind tot 'n verskeidenheid stappe om te verseker dat geen samespanning of korrupte praktyke in die maatskappy in sy omgang met mededingers, die Regering of ander privaatsektorkliënte voorkom nie.   

Die skikkingsooreenkoms maak voorsiening vir die finalisering van bepaalde formele prosesse binne die volgende paar weke. Dit word tans verwerk en 'n aankondiging sal gemaak word wanneer die prosesse afgehandel is.

1.17. Suid-Afrikaners word aangemoedig om kennis te neem van die inligting wat deur die 2015/16 Jaarverslae in die Parlement bekend gemaak word. Die inligting lewer bewys dat die Regering se aksieplan uitgevoer word, asook dat vordering gemaak word met die Mediumtermyn- Strategiese Raamwerk en die uitvoer van die Nasionale Ontwikkelingsplan.

1.18. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners ook aan om hul menings te deel oor die ekonomie en ander kwessies waarop hulle wil hê die Regering moet fokus in die komende Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring (MTPBS), wat op 26 Oktober 2016 deur die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, voorgelê word. Bydraes kan gestuur word na Facebook: National Treasury South Africa; Twitter @TreasuryRSA; deur mondelinge voorleggings en op die webtuiste van die Nasionale Tesourie.

2. Sleutelkabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die breë beginsels van die Nasionale Vervoermeesterplan 2050 (NATMAP) se Oorsigtelike Bywerkingsplan. Dit is in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan en bevat die volgende strategiese vervoerdryfkragte: langtermynbeplanning en -prioritisering, fokus op veiligheid, betroubaarheid en bekostigbaarheid van vervoer; om verder te kyk as net vervoer aangesien die meeste ondoeltreffendhede en probleme die gevolg van swak grondgebruik en beplanning is; die bevordering van gedragsveranderings deur die persepsie van openbare vervoer te verander; en 'n ontwikkelings- en maatskaplik inklusiewe beplanningsbenadering.

2.2. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die voorlegging van die hersiene Internasionale Telekommunikasieregulasies (ITR’s) Dubai 2012 aan die Parlement vir bekragtiging.
Die ITR’s is 'n internasionale verdrag en vorm deel van die Administratiewe Regulasies van die Internasionale Telekommunikasie-Unie. Die ITR's is in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan, in die besonder die bevordering van ekonomiese groei en groter inklusiwiteit deur die ontwikkeling van 'n sterker breëband- en telekommunikasienetwerk en laer pryse.

2.3. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die voorlegging van die Wêreldradiokommunikasie-konferensie (WRC-15) se Final Acts aan die Parlement vir bekragtiging, ooreenkomstig artikel 231(2) van die Grondwet.

Sleutelkwessies wat by die WRC-15 aanvaar is, sluit in ontplooiing van universele breëband en universele uitsending, satellietkommunikasiedienste, lugvaart- en maritieme dienste en die oseane-ekonomieprogramme, rampverligtings- en nooddienste, asook toekomstige programme om ekonomiese transformasie te ondersteun. WRC-15-uitkomste bied ook sekerheid aan die uitsaaidiens deur die beskerming van die spektrum  vir digitale terrestriële televisie.

2.4. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die indiening van die Final Acts van die Internasionale Telekommuniksie Unie (ITU) se Gevolmagtigde Konferensie van Guadalajara 2010 by die Parlement vir bekragtiging ingevolge Artikel 231(2) van die Grondwet.

Die Gevolmagtigde Konferensie is die hoogste besluitnemingsliggaam van die ITU, wat 'n gespesialiseerde agentskap van die Verenigde Nasies is en vir die internasionale stelsel van elektroniese kommunikasie verantwoordelik is.

Die werk van die ITU is met die Nasionale Ontwikkelingsplan belyn, aangesien dit sterk op die ontwikkeling van Ekonomiese Infrastruktuur in die IKT-sektor fokus.

2.5. Die Kabinet is ingelig oor die vordering met die instelling en uitvoer van die Breëband-strategiekomitee (Broadband War Room). Die Kabinet-lekgotla van 2016 het besluit dat die Breëband-strategiekomitee ingestel moet word om die uitvoer van SA Connect, die nasionale breëbandbeleid, te bespoedig.

As deel van die strategiekomitee se opdrag is verskeie sleutelkwessies geïdentifiseer wat 'n direkte uitwerking op die suksesvolle ontplooiing van bekostigbare, vinnige, betroubare en veilige internet sal hê. Dit sluit in die uitskakeling van vertragings met die toewysing van hoëvraagspektrum; breëbandkonnektiwiteit; ontplooiing en befondsing; aandag aan ondoeltreffende markstrukture; bespoediging van oorgang na digitale uitsendings; ontwikkeling van ’n e-regeringstrategie; rasionalisering van IKT-entiteite in staatsbesit; die voorsiening van die nodige kapasiteit aan die Reguleerder en die uitskakeling van duplisering in beheer van die IKT-sektor.

2.6. Die Kabinet verleen goedkeuring dat die Parys-ooreenkoms oor Klimaatsverandering aan die Parlement voorgelê word vir bekragtiging. Die Parys-ooreenkoms is 'n regsinstrument wat die proses vir universele aksie oor klimaatsverandering verder sal rig. Dit verbind alle lande tot 'n gemeenskaplike doelwit om kollektief saam te werk teen die bedreiging van klimaatsverandering in die konteks van volhoubare ontwikkeling en pogings om armoede uit te wis. Dit stel die doelwit om die styging in gemiddelde aardtemperatuur tot ver onder 2 grade Celsius te beperk.

Die Parys-ooreenkoms sal op 4 November 2016 van krag word, dertig dae ná die datum waarop minstens 55 partye by die Konvensie wat altesaam vir minstens 55% van die totale wêreldwye kweekhuisgasvrystellings verantwoordelik is, hul dokumente vir bekragtiging ingedien het.

Suid-Afrika se bekragtiging van die Parys-ooreenkoms stuur 'n positiewe boodskap uit oor ons voortgesette verbintenis om by te dra tot die internasionale poging om die uitdaging van klimaatsverandering die hoof te bied.

2.7. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Konsep Nasionale Beleid oor Voorligting- en Adviesdienste en sy implementeringsplan. Die beleid is daarop gerig om 'n regulerende raamwerk te vestig om die doeltreffendheid, produktiwiteit, billikheid, omgewings- en ekonomiese volhoubaarheid van die landbou-, bosbou en visseryesektor te verbeter. Dit sal toesien dat alle sektore in die landbou-, bosbou- en visseryewaardekettings (van produsente tot verwerkers) geleenthede vir die bevordering van hul ondernemings en lewensonderhoud kan verken.

2.8. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die finale konsep van die verfynde Mediumtermyn Strategiese Raamwerk (MTSF) 2014-2019 vir Uitkoms 2, naamlik ’n Lang en Gesonde Lewe vir alle Suid-Afrikaners. Dit dien as bousteen vir die uitvoer van Hoofstuk 10 van die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030.

Die MTSF 2014-2019 is verfyn om die nuutste getuienis van die gesondheidsektor se werklike prestasie teen die mikpunte in die MTSF 2014-2019 in te sluit, asook die aanvaarding van die Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling 2030 deur Suid-Afrika en om prosesaanwysers te verminder.

2.9. Ná goedkeuring deur die Kabinet sal die Minister in Die Presidensie verantwoordelik vir Beplanning, Monitering en Evaluering, Jeff Radebe, die bevinding van die 2015 Bestuur van Prestasie-assesseringshulpmiddel (MPAT) vrystel. Die verslag voorsien gekonsolideerde leer van die MPAT-assesserings asook gevallestudie-ontledings vanaf 2011 tot 2015.

Die MPAT is in werking gestel om hervormings in bestuurspraktyke in staatsdepartemente te vergemaklik. Dit dra by tot die Nasionale Ontwikkelingsplan, wat verklaar dat Suid-Afrika tussen nou en 2030 'n staat moet vestig wat meer bekwaam, meer professioneel en meer responsief  teenoor die behoeftes van sy burgers is.

Die 2015-resultate toon dat die MPAT daarin geslaag het om inkrementele verbeterings in bestuurspraktyke te bewerkstellig; dit het egter oor nasionale departemente en provinsies gewissel. Daar is eilande van uitnemendheid met betrekking tot bestuurspraktyke in die Regering, maar swak bestuursleierskapspraktyke bly 'n groot uitdaging en dra by tot administratiewe mislukkings.

Die Kabinet ondersteun 'n meer geïntegreerde en holistiese benadering ter ondersteuning van verbeterings, wat deur die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering gelei sal word.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak  vrygestel word vir openbare kommentaar. Die Wetsontwerp is daarop gerig om haatmisdade en haatspraak as oortredings te klassifiseer en maatreëls te in te stel om hierdie oortredings te voorkom en te bestry. Dit het ten doel om die toenemende aantal rassevoorvalle te verminder, asook ander tipes misdadige gedrag wat deur vooroordeel, partydigheid of onverdraagsaamheid aangevuur word, in die vorm van haatmisdade en haatspraak, wat in die onlangse verlede voorgekom het.

Dit is in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan wat die klem plaas op die behoefte aan volgehoue veldtogte teen rassisme, seksisme, homofobie en xenofobie en om te verseker dat alle mense veilig voel en is.

4. Komende gebeure

4.1. Borskankerbewustheidsmaand in Oktober verteenwoordig 'n nasionale poging deur die openbare en privaat gesondheidsdienste om bewustheid van die siekte te verhoog. Vroeë opsporing van die toestand kan tot doeltreffende behandeling lei. Alle mans en vroue moet gereeld bors-selfondersoeke doen en ook kliniese ondersoeke by hul naaste gesondheidsorgfasiliteit ondergaan.

4.2. Die Departement van Gesondheid sal vanaf 31 Oktober tot 3 November 2016 die 40ste Wêreldhospitaalkongres van die Internasionale Hospitaalfederasie (IHF) In Durban aanbied onder die tema ‘Hantering van die Uitgaing van Pasiëntgesentreerde Sorg en Veiligheid’.

Die Kongres bied 'n unieke internasionale forum wat multidissiplinêre uitruiling van kennis, kundigheid en ervaring in gesondheidsektorbestuur en -dienslewering vergemaklik.

5. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

5.1. Die Kabinet bevestig sy steun vir die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, wat ingevolge artikel 35 van die Grondwet onskuldig is totdat die teendeel deur 'n geregshof bewys word.

Die Kabinet het steeds vertroue in die land se strafregtelike stelsel en die regverdige en billike regsprosesse wat ons demokratiese era kenmerk. Hierdie prosesse moet toegelaat word om hul loop te neem.

5.2. Die uitkomste van die 8ste BRICS-beraad, wat vanaf 15 tot 16 Oktober 2016 in Goa, Indië, gehou is met die tema ‘Bou Deelnemende, Inklusiewe en Kollektiewe Oplossings (BRICS)’, het aan BRICS-leiers die geleentheid gebied om interaktiewe tafelronde-besprekings te hou oor die versterking van intra-BRICS-samewerking. Hulle het ook besin oor globale kwessies soos internasionale konflik, die stryd teen terrorisme en die hervorming van die globale beheer-en-bestuurstelsel, in die besonder die demokratisering van die Verenigde Nasies en die Bretton Woods-instellings.

Die aanvaarding van die Goa-verklaring en die gepaardgaande plan van aksie beklemtoon die stewige fondament wat BRICS gelê het met betrekking tot die vestiging van institusionele meganismes vir tasbare samewerking. Die moontlike instelling van 'n onafhanklike BRICS-graderingsagentskap wat op markgerigte beginsels gegrond is om die globale beheerstruktuur te versterk, is ook verwelkom.

Tydens die besoek aan Goa het die Cipla farmaseutiese maatskappy en die Dube nywerheidsontwikkelingsowerhede 'n ooreenkoms onderteken vir die vestiging van 'n bio-logiese fasiliteit. Hierdie belegging ten bedrae van R1,3 miljard sal die eerste aanleg op die Afrika-vasteland waar bekostigbare teen-kankermiddels deur middel van bio-tegnologiese prosesse vervaardig word, befonds.

5.3. Die Kabinet bring hulde aan die mense van Mosambiek vir hul eensgesindheid en opofferings tydens ons vryheidstryd. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa en die Minister van Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, het die 30ste gedenkdiens van wyle Samora Machel bygewoon. Hy is die grondlegger en eertydse President van Mosambiek, wat onder verdagte omstandighede in Mbuzini gesterf het. Ter nagedagtenis aan groot Afrika-leiers soos Samora Machel, Julius Nyerere, Oliver Tambo en Nelson Mandela, onthou ons dat leierskap vir hulle toegewyde diens aan Afrika ter bevordering van die belange van Afrika se mense was.

Ons bou voort op ons gemeenskaplike geskiedenis en geniet sterk diplomatieke en ekonomiese verhoudings om ekonomiese groei te bevorder, werksgeleenthede te skep en ongelykheid te verminder. Die instelling van die Maputo-ontwikkelingskorridor, wat die hawe van Maputo met ons land se nywerheidskern verbind, is 'n belangrike deel van ons pogings om handel en belegging te bevorder en streeksintegrasie te bewerkstellig.

5.4. Die Kabinet wens Advokaat Busisiwe Joyce Mkhwebane geluk met haar aanstelling as Openbare Beskermer van die Republiek van Suid-Afrika vir 'n tydperk van sewe jaar, met ingang van 15 Oktober 2016. Die Kabinet vertrou dat Advokaat Mkhwebane die nasie goed sal dien en sal voortgaan om in alle Suid-Afrikaners se belang op te tree.

5.5. Die Kabinet bedank Advokaat Thuli Madonsela vir haar diens aan die land en haar bydrae om 'n sterk bewustheid van die Kantoor van die Openbare Beskermer onder Suid-Afrikaners te vestig.

5.6. Die Kabinet herdenk Mediavryheidsdag, bekend as "Swart Woensdag", saam met Suid-Afrika se media en loof die mediabedryf vir die rol wat dit gespeel het om die land se demokrasie te versterk. Op 19 Oktober 1977 het die apartheidsregime die The World en Weekend World beveel om hul publikasies te staak, wat massa-aanhoudings en die verbanning van joernaliste tot gevolg gehad het.

Ons demokratiese grondwet beskerm uitdruklik die mediavryheid waarvoor ons hard geveg het en wat 'n kritieke rol in die bevordering van nasionale eenheid en gelykheid vir almal speel.

Terwyl ons besin oor die vordering wat Suid-Afrika gemaak het om mediavryheid te verskans, wens die Kabinet SANEF geluk met sy 20ste herdenking, wat volgende week gevier word.

5.7. In reaksie op die nuus dat 21 van die 2019 skoolmeisies wat deur Boko Haram-soldate gevange geneem is, vrygelaat is, reik die Kabinet 'n hand van eensgesindheid uit na die mense van Nigerië en die families van die meisies wat steeds in aanhouding bly. Die Kabinet doen 'n beroep op die internasionale gemeenskap om hernude pogings aan te wend om die meisies se vrylating te bewerkstellig, en versoek veral alle Afrika-lande en die Afrika-unie om Nigerië te help en te ondersteun om die vermiste kinders op te spoor.

5.8. Die Kabinet dra saam met President Jacob Zuma sy meegevoel oor aan die Regering en mense van die Republiek van Haiti en ander lande in die Karibiese See nadat die vernietigende Orkaan Matthew honderde menselewens geëis en infrastruktuur vernietig het.

5.9. Die Kabinet dra ook saam met President Zuma sy meegevoel oor aan die Regering en mense van die Koninkryk van Thailand ná die afsterwe van Koning Bhumibol Adulyadej.

5.10. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die familie en vriende van die vryheidstryd-ikoon Mewa Ramgobin. Hy het die Suid-Afrikaanse Komitee vir die Vrylating van Politieke Gevangenes gestig, en was een van die eerste ondersteuners van die Release Mandela-veldtog. Mewa Ramgobin was ook die voormalige president van die Natal Indiese Kongres en Voorsitter van die Phoenix Settlement Trust, wat in 1904 deur Mahatma Gandhi in die lewe geroep is.

5.11. Die Kabinet neem kennis dat President Jacob Zuma die bedanking van mnr Krish Naidoo en mnr Vusi Mavuso as lede van die Direksie van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SABC) ontvang en aanvaar het.

Die Portefeuljekomitee oor Kommunikasie het stappe ingestel om sy ondersoek na die Direksie van die SABC te begin oor die geskiktheid van die direksielede om hul amp te beklee ingevolge artikel 15A van die Wet op die Uitsaaiwese van  1999.

Die Kabinet dra sy gelukwense aan die volgende oor:
5.12. Suid-Afrika se Ambassadeur in Wene, Tebogo Seokolo, met sy aanstelling as Voorsitter van die Beheerraad van die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA). Die Beheerraad is die vernaamste beleidmakende orgaan van die IAEA.

5.13. Parks Tau met sy verkiesing as die President van die United Cities and Local Government (UCLG), 'n oorkoepelende liggaam vir plaaslike regering in die wêreld, op 15 Oktober 2016, in Kolombië.

5.14. Antonio Guterres met sy verkiesing tot Sekretaris-generaal van die Verenidge Nasies (VN) met ingang van 1 Januarie 2017 tot 31 Desember 2021. Hy dra 'n magdom ervaring tot die pos by, nadat hy vanaf 1996 tot 2002 as Eerste Minister van Portugal gedien het en as die VN se Hoë Kommissie vir Vlugtelinge vanaf Junie 2005 tot Desember 2015.

5.15. Die Suid-Afrikaanse joernaliste wat tydens die CNN MultiChoice Afrika-Joernalistoekennings erkenning vir hul werk ontvang het. Ancillar Mangena van Forbes Africa het die Maggie Eales Wales Young Journalist Award gewen. Jay Caboz, ook van Forbes Africa, het die Energy & Infrastructure Award gewen; en die Economic and Business Award gesamentlik gewen is deur Diana Neille, Richard Poplak, Shaun Swingler en Sumeya Gasa van die Daily Maverick Chronicle. Die Mail & Guardian se Mia Malan was die wenner in die Features Award kategorie, en die Sunday Times se fotograaf James Oatway die Mohammed Amin Photography Award ingepalm het.

5.16. Mamelodi Sundowns met hul oorwinning van 3-0 teen die Egiptiese span, Zamalek, tydens die eerste been van die Afrika-kampioeneliga. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om saam te staan en Sundowns te ondersteun om die ster huis toe te bring.

6. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke klarings.

6.1. Mnr Siphamandla Kenneth Mthethwa as  Hoof Uitvoerende Beampte van Sentech.

6.2. Direksie van die Suid-Afrikaanse Diamante- en Edelmetale-reguleerder:
a) Dr. Sipho David Manese (Voorsitter)
b) Me Ntombifuthi Monedi-Noko
c) Me Mpho Mosing
d) Me Mamodupi Mohlala-Mulaudzi
e) Mnr Bernard Stern
f) Me Maletlatsa Monica Ledingwane
g) Mnr Mochele Noge
h) Mnr Tembani Ngqeza
i) Generaal-majoor Peter Jacob Arendse (Suid-Afrikaanse Polisiediens)
j) Mnr Bothwell Deka (Nasionale Tesourie)
k) Mnr Tsumbedzo Charles Nevhutanda (Suid-Afrikaanse Reserwebank)
l) Mnr Senna Mokoena (Nasionale Unie van Mynwerkers)
m) Mnr Leon Peter Grobler (United Association of South Africa)
n) Mnr Kagiso John Menoe (Departement van Minerale Hulpbronne)
o) Me Mmapoulo Lindah Nkhumise (Waarnemende HUB)

Alternatiewe Lede:
p) Brigadier Ntombizodwa Hazel Mokoena (Suid-Afrikaanse Polisiediens)
q) Mnr Raymond James Paola (Suid-Afrikaanse Reserwebank)

6.3. Nie-uitvoerende Lede op die Direksie van die Padongelukkefonds:
a) Dr Ntuthuko M Bhengu (Voorsitter en heraanstelling);
b) Mnr Dawood Coovadia (Adjunkvoorsitter en heraanstelling);
c) Me Mala Somaru (verteenwoordig, Departement van Vervoer);
d) Mnr Patrick Masobe (heraanstelling);
e) Me Refilwe Mokoena (heraanstelling);
f) Dr Lungelwa Linda (heraanstelling);
g) Mnr Ahmed Pandor (heraanstelling);
h) Dr Terrence Omdutt Kommal;
i) Dr Maria Claudina Du Toit;
j) Mnr Khotso Monko Mothobi; en
k) Me Lusanda Unathi Zisiwe Rataemane.

6.4. Luitenant-generaal (me) Yolisa Matakata as dAdjunk- Nasionale Hoof in die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek.

6.5. Provinsiale Hoofde in die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadintelligensie:
a) Gauteng: Generaal-majoor (Mnr) Prince Nkitsing Mokotedi
b) Wes-Kaap: Generaal-majoor (Me) Nombuso Portia Khoza
c) Oos-Kaap: Generaal-majoor (Mnr) Meshack Nyameko Nogwanya
d) Noordwes: Generaal-majoor (Me) Linda Mbana
e) Noord-Kaap: Generaal-majoor (Mnr) Kholekile Derick Galawe
f) Limpopo: Generaal-majoor (Me) Thobeka Hepercia Jozi;
g) Mpumalanga: Generaal-majoor (Me) Ntombizodwa Hazel Mokoena;
h) KwaZulu-Natal: Generaal-majoor (Mnr) Isaiah Jabulani Zikhali;
i) Vrystaat: Generaal-majoor (Me) Liziwe Evelyn Ntshinga

Navrae:
Donald Liphoko
Kontak: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore