Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 7 Desember 2016

Met die einde van die jaar in sig, gedenk die Kabinet saam met die res van Suid-Aftrika die derde herdenking van Nelson Mandela se afsterwe op 5 Desember 2013.

“Ons daaglikse optrede as gewone Suid-Afrikaners moet ’n wesenlike Suid-Afrikaanse realiteit skep wat die mensdom se geloof in geregtigheid sal versterk, vertroue in die edelheid van die menslike siel sal verskerp en alle hoop vir ’n glorieryke lewe vir almal sal handhaaf.” – Nelson Mandela Madiba het die waardes van ons grondwet en die visie van 'n vrye, regverdige en verenigde volk wat die grondslag vorm van die samelewing waarvoor ons moet werk, onderskryf.

Om dit te kan bereik, moet Suid-Afrikaners deur 'n gedeelde visie van 'n beter samelewing verenig word.

1. Implementering van regeringsprogramme

Suid-Afrikaanse Ekonomie

1.1. Die Kabinet loof die doeltreffende vennootskap van Team South Africa – wat uit regeringsgeledere, die sakesektor, die arbeidsektor en ander Suid-Afrikaners saamgestel is – vir hul samewerking om Suid-Afrika se beleggingsgradering te beveilig. Deur hul harde werk en verenigde optrede is die ekonomie en beleggersvertroue in hierdie moeilike ekonomiese tye gestabiliseer.

President Jacob Zuma het Team SA aangevoer om verskillende sektore te laat saamwerk ten einde ons ekonomie weer te laat opvlam, belegging te lok en werksgeleenthede te skep.

Hierdie positiewe ontwikkelings behoort ons aan te spoor om selfs harder te werk om Suid-Afrika vorentoe te laat beweeg.

1.2. Moody’s Investor Services, Fitch Ratings en Standard & Poor’s het Suid-Afrika se soewereine skuldkredietstatus bó sub-beleggingstatus gehou.

Die Kabinet neem kennis van agentskappe se besorgdheid oor sekere kwessies en ons bespoedig saam met ons maatskaplike vennote bepaalde ingrypings om die ekonomie te verbeter.

Die Kabinet is steeds vol vertroue dat die pad wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) uiteengesit word, asook die Regering se beplande fiskale konsolidasie en die implementering van die Negepuntplan, Suid-Afrika sal help om 'n beleggingsgraadland te bly.

1.3. Die Kabinet neem kennis dat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) in die derde kwartaal met 0.2% gegroei het. Die vernaamste bydraers tot BBP-groei was die mynbou-en-steengroefsektor, finansies, vaste eiendom en sakedienste, en algemene regeringsdienste. Die landbou, bosbou en visseryesektor het met -0.3% gekrimp, vervaardiging met -3.2%; elektrisiteit, gas en water met -2.9%; en handel, spyseniering en akkommodasie met -2.1%. Die droogte is steeds die belangrikste bydraende faktor tot die daling in die landbousektor.

1.4. Die oorhandiging van titelaktes aan vyf Bahurutshe-gemeenskappe deur die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, mnr Gugile Nkwinti, is een van die grootste grondeise wat by Motsane Wildsplaas buite Zeerust in Noordwes bygelê is.

Meer as 54 280 hektaar, wat 'n wildsplaas insluit, word herstel.

Die bekendstelling van die loodsprojek van die Beleidsraamwerk oor die Versterking van die Relatiewe Regte van Mense wat die Grond Bewerk (50/50-beleid) vir Noordwes by die Stars Away Farm in Ottoshoop, Zeerust, volg op 'n ooreenkoms ingevolge waarvan plaaswerkers en die boer mede-eienaars van die boerderyonderneming sal word.

1.5. Waterinfrastruktuur is deel van die Regering se Nasionale Infrastruktuurplan om die ekonomiese landskap te transformeer en terselfdertyd werksgeleenthede te skep en die lewering van basiese dienste te verbeter.

Die bekendstelling van die Mokolo- en Krokodilrivier (Wes) Wateraanvullingsprojek lewer bewys van die Regering se verbintenis om sy mense se behoeftes te voorsien. Die wateroordraginfrastruktuur voorsien water aan die Lephalale Plaaslike Munisipaliteit, Eskom se kragstasies (Matimba en Medupi), die Zeeland-watersuiweringsaanleg, en Exxaro se Grootegelukmyn. Dit vervoer ook water vanaf die Krokodilrivierwes naby Thabazimbi na die Lephalale-gebied.

1.6. Die Welgedacht Afloopwater-suiweringsaanleg naby Springs, Gauteng, is uitgebrei om die groter vraag na afloopwatersuiwering te hanteer.

Om die besoedeling in die Vaalrivierstelsel te verminder, het die Departement van Water en Sanitasie die Oranjeville Afloopwater-suiweringsaanleg in die Metsimaholo Distriksmunisipaliteit en die Leeuwkuil Afloopwater-suiweringsaanleg in die Emfuleni Distriksmunisipaliteit teen 'n koste van R44,4 miljoen opgeknap. Daarbenewens is meer as R300 miljoen opsygesit om 26 wanfunksionele afloopwater-suiweringsaanlegte in dele van Gauteng en die Vrystaat op te knap.

1.7. Die Kommissie van die Oranje-Senqurivieropvanggebied vergader vanaf 5 tot 9 Desember 2016 by Emperors Palace in Kemptonpark. Suid-Afrika, Lesotho, Botswana en Namibië is lidlande van die kommissie. Die kommissie sorg dat die bestuursraamwerk van die strategiese oorgrenswaterhulpbronne uitgevoer word met die oog op die langtermynontwikkelingsdoelwitte in die opvanggebied.

1.8. Die nuwe Pan-Afrikaplatform, Afrikahandelsweek 2016, het van 28 November tot 2 Desember plaasgevind met die tema: “Bevordering van Sosio-ekonomiese Strukturele Transformasie deur Intra-Afrikahandel”. Dit het 'n omvattende, geïntegreerde en inklusiewe platform vir beleidsdialoog tussen verskeie handelsverwante belanghebbers verskaf.

Die Minister van Handel en Nywerheid, dr Rob Davies, het oor die Vryhandelsgebied vir die Vasteland (CFTA) se onderhandelinge gepraat, wat tydens die Afrika-Unie (AU) se  vergadering op 15 Junie 2016 in Suid-Afrika bekendgestel is. Die CFTA beoog om intra-Afrikahandel te bevorder en 'n geïntegreerde Afrika van eenmiljard mense en BBP van ongeveer 2,6 triljoen Amerikaanse dollar te bou.

1.9. Die tweede sitting van die  Wetenskapforum Suid-Afrika word van 8 tot 9 Desember by die WNNR se Internasionale Konferensiesentrum in Pretoria gehou met die tema “Aanvuur van gesprekke oor wetenskap”. Beleidmakers, studente, akademici en die publiek sal gesprek voer oor kwessies rakende wetenskap, tegnologie en innovering.

Die fokus is op geesteswetenskappe met debatte oor die minimumbestaansloon en die 60%-uitsaksyfer aan Suid-Afrikaanse universiteite. Ander onderwerpe sluit in migrasie weens klimaatsverandering, openbare persepsies van geneties gemodifiseerde organismes, voedselsekerheid en hoe geesteswetenskappe Afrika se toekoms kan vorm.

Plaaslike Regering

1.10. Die onlangse Nasionale Konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (SALGA) wat van 28 November tot 1 Desember 2016 gehou is, het afgesluit met 'n hernude verbintenis tot die Terugkeer na Basiese Beginsels-program en die bevordering van 'n inklusiewe lewenswyse deur die uitvoer van die Geïntegreerde Stedelike

Ontwikkelingsraamwerk (IUDF). Die IUDF ondersteun die visie wat daarop gerig is om "leefbare, veilige, hulpbrondoeltreffende stede en dorpe te skep wat maatskaplik geïntegreerd, ekonomies inklusief en internasionaal mededingend is, en waar inwoners aktief aan die stadslewe kan deelneem".

Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders

1.11. Die 2016-veldtog 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders met die tema: “Sluit my in: saam beweeg ons 'n nie-gewelddadige Suid-Afrika vorentoe”, is onlangs deur President Zuma van stapel gestuur. Dit het die bal aan die rol gesit vir  #365dae van aktivisme. As deel van pogings om regeringsdienste vir almal, veral kwesbare mese, meer toeganklik te maak, is 'n hulpmiddel vir gestremdes by die 24-uur Beheersentrum vir Geslagsgebaseerde Geweld bekend gestel. Dit sal lede van die dowe gemeenskap in staat stel om toegang tot die sentrum se professionele dienste te verkry.

1.12. Die Kabinet herbeklemtoon sy veroordeling van alle handelinge van geweld wat deur vooroordeel aangevuur word. Die Regering gee steeds aandag aan die veiligheid van lesbiese, gay, biseksuele, transgender- en intersekspersone. Die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak, wat in die oorlegplegingsfase is, sal afdwinging en vervolging versterk.

Gesondheid

1.13. Die herdenking van Wêreldvigsdag op 1 Desember 2016 met die tema “Dit is in ons hande om MIV en TB te beëindig”, onder leiding van Adjunkpresident Cyril Ramaphosa, het 'n hupstoot ontvang met die bekendstelling van nuwe kliniese toetse vir die entstof teen MIV en vigs bekend as HVTN 702.

Die Kabinet loof die Suid-Afrikaanse wetenskaplike wat hierdie deurslaggewende navorsing lei. Die proefneming is een van die grootstes ter wêreld en getuig van die wetenskaplike en mediese gemeenskap se bekwaamheid.

1.14. Die Regering sit sy vennootskap voort met alle belanghebbers – insluitend die Phila-vigsveldtog en die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad – om 'n vigsvrye generasie te skep, nuwe MIV-infeksies te verhoed, die TB-epidemie te beëindig en alle Suid-Afrikaners aan te moedig om gesonde, verantwoordelike keuses te maak.

Suid-Afrika het sy mikpunte vir antiretrovirale (ARV) behandeling bereik en ons het nou die grootste ARV-program ter wêreld, met 3,4 miljoen mense wat in 2015 die behandeling ontvang het. Die mikpunt vir die voorkoming van moeder-na-kind-oordrag is bereik, met 'n beduidende daling van meer as 3,5% in 2010 tot 1,8% in 2014. Seksuele oordrag van MIV onder die jeug tussen 15 en 24 jaar oud het van 410 000 in 2011 tot 330 000 in 2014 gedaal. TB-infeksies en TB-sterftes het gedaal, maar die mikpunt van 'n 50%-daling in TB-sterftes is nie bereik nie.

Meer as 800 miljoen manskondome en meer as 20 miljoen vrouekondome is die afgelope finansiële jaar versprei. Gedurende die MIV-toetsingsveldtog is meer as 35 miljoen MIV-toetse oor 'n vyfjaartydperk gedoen. Suid-Afrika het meer as 300 GeneXpert-masjiene landswyd ontplooi en meer as 2,1 miljoen GeneXpert-toetse is uitgevoer. Suid-Afrika het in 2016 die universele toets-en-behandelingsprogram in werking gestel, waarvolgens alle MIV-positiewe mense behandeling kry, ongeag hul CD4-seltellings.

Rampbestuur

1.15. 'n Vergadering van SAOG-ministers wat vir rampbestuur verantwoordelik is, is op 26 November 2016 in Mauritius gehou onder die voorsitterskap van die Minister van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake, mnr Des Van Rooyen.

Die vergadering het die strategie vir streeksrampweerbaarheid- en respons goedgekeur en 'n taakspan op die been gebring om die voorstel vir ’n rampweerbaarheid- en responsfonds te finaliseer. Die SAOG-sekretariaat sal 'n gesamentlike vergadering van die ministers wat vir rampbestuur en finansies verantwoordelik is, belê om die voorgestelde rampweerbaarheid en responsfonds te bespreek.

Jeug

1.16. As deel van die program om jong mense te ontwikkel, is die vyfde Nasionale Jeugkamp by  3 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon naby Kimberley in die Noord-Kaap deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en Die Departement van Verdediging en Militêre Veterane geopen, met die tema #40YearsOn – Youth still moving South Africa forward.

Dit bring 1 000 jong mense vanuit verskillende rasse-, geslag-, klas- en taalgroepe uit al die provinsies byeen met die oog op die bevordering van ’n nasionale identiteit, nasiebou, maatskaplike samehorigheid, patriotisme en aktiewe burgery onder Suid-Afrika se jeug. Hulle sal die talle uitdagings wat die jeug in die gesig staar tydens die jeugkamp bespreek.

Sedert die eerste Nasionale Jeugkamp in 2012 het die jong deelnemers verskeie projekte wat op ontwikkeling gerig is in hul gemeenskappe onderneem. Die jeugkamp bied aan jong mense, wat nou in eie reg leiers in hul gemeenskappe is, die geleentheid om hul ervarings met ander jong mense te deel.

Nasionale Ontwikkelingsplan

1.17. Die NOP is 'n langtermynvisie en -plan wat as bloudruk dien vir die werk wat gedoen moet word om teen 2030 'n welvarende samelewing vir Suid-Afrika te skep. Die kernprioriteite van die NOP is om armoede, werkloosheid en ongelykheid te verminder.

1.18. Die Kabinet doen 'n beroep op alle sektore van die samelewing, insluitend die sakesektor, arbeid en die burgerlike samelewing, om by te dra tot die bevordering van die NOP se handelsmerkidentiteit. Dit kan gedoen word deur die implementering van die NOP uit te lig deur wedersydse handelsmerkaktiwiteite wat as katalisator vir die implementering van die plan sal dien.

1.19. Die Kabinet het 'n fotosessie gereël om 'n oproep tot aksie te simboliseer waarin alle sektore van die samelewing die NOP-handelsmerkidentiteit gebruik.

2. Kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet ondersteun die Minister van Vervoer, me Dipuo Peters, in haar opdrag aan die Transnet Nasionale Haweowerheid, ingevolge artikel 79, subartikel (1) van die  Nasionale Hawewet, 2005 (Wet 12 van 2005). Dit behels die wysiging van die Terminaaloperateursooreenkoms om die Strategiese Brandstoffonds toe te laat om vragte vloeibare petroleumgas by die Saldanhabaaihawe te hanteer. Die Strategiese Brandstoffonds se huidige huurkontrak en lisensie sal ook met minstens 25 jaar verleng word om kommersiële en operasionale sekerheid vir volhoubare investering in die olie-en-gassektor te verseker.

Dit is in ooreenstemming met die Regering se prioriteite wat met Operasie Phakisa verband hou, naamlik om die Oseane-ekonomie te ontwikkel en breër doelwitte wat in die NOP uiteengesit word te bevorder, ten einde ekonomiese groei te verbeter en werkskepping aan te moedig.

2.2. Die Kabinet is ingelig oor die status van die “Noodwerke”-projek vir dreinering van suur mynwater, 'n korttermynoplossing om suur mynwater in die Witwatersrandse goudvelde te dreineer. 'n Langtermynoplossing sal ooreenkomstig die aanbevelings van die interministeriële komitee in werking gestel word.

Omdat Suid-Afrika 'n waterskaars land is, bevorder die projek vir suurmynwaterdreinering die bewaring en hergebruik van water deur gesuiwerde water te voorsien en om nie uitsluitlik op skoon water in nywerheidstoepassings staat te maak nie. Die projek verlig ook besoedeling en ander negatiewe uitwerkings.

2.3. Die Kabinet het die Nasionale Sanitasiebeleid, 2016 vir implementering goedgekeur. Dit volg op 'n omvattende tydperk van oorlegpleging vir insette. Ingevolge die beleid is mense se welsyn die middelpunt van ontwikkeling; dit is toekomsgerig wat betref beter dienslewering, innovering en toepaslike tegnologie om volhoubaarheid vir die verbetering van arm mense se lewensgehalte te verseker.

2.4. Die Kabinet keur die vrystelling van die Nasionale Misdaadstatistiekverslag vir die eerste twee kwartale van 2016/17 deur die Minister van Polisie, mnr Nkosinathi Nhleko, goed. Die kwartaallikse vrystellings stel die Regering in staat om sleutelmikpunte te monitor, in die besonder die vermindering van gerapporteerde ernstige misdade soos in die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk uiteengesit. Dit kan as vroeë waarskuwing gebruik word om verskeie staatsdepartemente se misdaadvoorkomingsbedrywighede te versterk. Minister Nhleko sal hierdie misdaadstatistiek voor 31 Januarie 2017 bekend maak.

2.5. Die Kabinet het die Land se Tweede Verslag oor die Implementering van die Afrika-handves oor die Regte en Welsyn van die Kind (Kinderhandves) goedgekeur vir voorlegging aan die Afrika-Unie (AU) in Januarie 2017.

Die Kinderhandves is in 1990 deur die AU aanvaar en is 'n omvattende instrument wat regte uiteensit en universele beginsels en norme vir die status van kinders omskryf. Die land se tweede verslag gee 'n uiteensetting van die vordering wat gemaak is met die implementering van 'n suite van regeringswye beleide en wetgewing om kinderregte te bevorder, te beskerm en te verwesenlik. Die verslag erken ook deurlopende en progressiewe pogings om die uitvoer van programme en projekte vir die bevordering van kinders se regte te versterk.

2.6. Die Kabinet is ingelig oor die uitkomste van die 17de Vergadering van die Konferensie van Partye (CoP17) van die Konvensie oor Internasionale handel in Bedreigde Spesies (CITES), wat van 24 September tot 5 Oktober in Suid-Afrika aangebied is.

Die partye het ingestem tot die implementering van maatreëls en optrede binne die mandaat van die konvensie om te verseker dat wettige internasionale handel volhoubaar bly en onwettige handel uitgewis word. Partye het ook ooreengekom om te erken dat mense by die volhoubare benutting van hul natuurlike hulpbronne moet baat, insluitend dié uit wettige internasionale handel.

2.7. Die Kabinet het Suid-Afrika se onderhandelingsposisies vir die 13de Vergadering van die CoP aan die Konvensie oor Biologiese Diversiteit (CBD COP13) en sy protokols goedgekeur, wat van 4 tot 17 Desember 2016 in Cancun, Meksiko, gehou word.

CBD COP13 sal die volgende sleutelkwessies bespreek: hulpbronmobilisasie, verkryging van hoofstroomstatus en die integrasie van biodioversiteit binne en oor sektore heen; asook mariene en kusbiodiversiteit.

2.8. Die Kabinet is ingelig oor die Regering se vordering in reaksies op die aanvalle op buitelandse burgers en die oplossing van die kernoorsake van die probleem.

Onder leiding van die Interministeriële Komitee oor Migrasie het die Regering Operasie Fiela geïmplementeer, wat die geweld onder beheer gebring het. Altesaam 702 operasies is tussen 1 Julie en 30 September 2016 uitgevoer. Dit het tot die inhegtesname van 9 741 oortreders gelei, waarvan 3 158 buitelandse burgers was.

Ondersoeke na die kernoorsake van die aanvalle het aan die lig gebring dat buitelandse burgers en arm, werklose Suid-Afrikaners wat in townships en informele nedersettings woon, toenemend meededing om ekonomiese geleenthede, hulpbronne en openbare dienste.

Finale goedkeuring van die Witskrif oor Internasionale Migrasie word vir Maart 2017 beplan. Dit sal die “First Safe Country”-beginsel insluit, wat sal help om vlugtelinge en asielsoekers te bestuur. Die Kabinet het in September 2015 die Wysigingswetsontwerp op Vlugtelinge goedgekeur vir tertafellegging in die Parlement. Die Departement van Binnelandse Sake het ook 'n dokument aan die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap voorgelê waarin 'n uitnodiging gerig word vir gesprekke oor hoe om migrasie in die streek te hanteer. Grond is ook in 2015 in Lebombo, Mpumalanga verkry om asielverwerkingsentrums nader aan die grens op te rig.

2.9. Die Kabinet is ingelig oor die uitvoer van die Nasionale Evalueringstelsel waarvan besonderhede in die Jaarverslag oor Evaluering 2016 tot 2017 uiteengesit word en het ook die sesde Nasionale Evalueringsplan 2016 tot 2018 goedgekeur.

Die Nasionale Evalueringstelsel word regdeur die Regering geïnstitusionaliseer en dit ontwikkel bewysmateriaal op grond van 16 ekonomiese evaluasies: ses landbou/landelike evaluasies; sewe menslikenedersetting-evaluasies en 'n bewyskaart; vyf kinderevaluasies; en vier veiligheidsevaluasies (met nog twee bykomende veiligheidsevaluasies wat in die beginfase is).

Die Kabinet herbeklemtoon dat departemente die nodige befondsing vir doeltreffende monitering en evaluering moet toewys om die doeltreffendheid van programme te verseker.

2.10. Die Kabinet is ingelig oor die bevindings en aanbevelings van die studie wat deur die Departement van Staatsdiens en Administrasie onderneem is oor die geografiese toeganklikheid van Thusong-dienssentrums, die Regering se eenstopdienssentrums wat inligting en dienste aan gemeenskappe voorsien.

Die studie beveel 'n regverdiger verspreiding van sentrums aan en die saamgroepering van  dienspunte van sleuteldepartemente om te verseker dat soveel mense moontlik toegang tot die dienste kan verkry, reisafstande en -koste verminder word en om die behoefte aan bykomende belegging in infrastruktuur te beperk. Benewens die 197 bestaande Thusong--sentrums, het die studie 67 bykomende liggings geïdentifiseer en aanbeveel waar toegang tot diens verbeter moet word om in die bevolkingseise te voorsien en reisafstande na dienssentrums te verkort.

2.11. Die Kabinet is ingelig oor die bepalings van die riglyn oor verpligte kapasiteitsontwikkeling, verpligte opleidingsdae en maksimum toegangsvereistes vir die senior bestuursdiens. Dit sal die gehalte van menslike hulpbronne verbeter, wat 'n sleutelfaktor in die Regering se kapasiteit is om sy mandaat uit te voer en dra by tot die NOP se fokus op die bou van 'n bevoegde ontwikkelingstaat.

2.12. Die Kabinet het die 2,5% lewenskoste-aanpassing aan die vergoedingspakette van lede van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie goedgekeur met ingang van 1 April 2016.

3. Wetsontwerpe

Die Kabinet keur die indiening van die volgende wetsontwerpe by die Parlement goed:

3.1. Die Wetsontwerp op Kubermisdaad en Kubersekuriteit van 2016, wat ooreenkomstig die NOP die strafregstelsel versterk deur die bestryding van kubermisdaad, die vestiging van kapasiteit om kubersekuriteit te hanteer en die beskerming van kritieke inligtinginfrastruktuur.

Dit dra by tot die ontwikkeling van veiliger gemeenskappe soos in die NOP vervat. In hierdie verband is die Regering verbind tot die uitvoer van maatreëls om vertroue in die veilige gebruik van inligtingskommunikasietegnologieë te bou.

3.2. Die Wetsontwerp op Tradisionele Howe van 2016, wat bydra tot die verwesenliking van 'n bekwame en etiese ontwikkelingstaat deur die regulering van die rol en funksies van die instelling van tradisionele leierskap in die oplos van geskille, ingevolge die Grondwet van Suid-Afrika.  

Dit sal toegang tot regsdienste vir almal verbeter, met die oog op die bevordering van maatskaplike samehorigheid.

3.3. Strafproseswysigingswetsontwerp van 2016, wat die Strafproseswet, 1977 (Wet 51 van 1977) wysig.

Die wysigings voorsien wyer diskresie aan die howe in die uitreik van bevele met betrekking tot kwesbare groepe, naamlik mense met 'n verstandelike gestremdheid. Die howe sal ook bygestaan word om wetlike besluite volgens die korrekte prosedures te neem op grond van deskundige panele se verslae wat korrek saamgestel is.

4. Komende gebeure

4.1. Zambië se President Edgar Lungu is vanaf 8 tot 9 Desember 2016 op 'n staatsbesoek aan Suid-Afrika.  'n Gesamentlike permanente kommissie sal na verwagting tussen die twee lande ingelyf word. Die kommissie sa toesig hou oor die 1996 Algemene Ooreenkoms en die 1999 Verklaring van Voorneme wat uitvoering aan bilaterale ooreenkomste gee.

Die twee lande het goeie bilaterale en ekonomiese betrekkinge, met Zambië wat een van Suid-Afrika se top drie handelsvennote op die Afrika-vasteland is.

Suid-Afrika se uitvoere na Zambië in 2014 het R29,5 miljard beloop, terwyl Zambië se uitvoere na Suid-Afrika R3,6 miljard bedra het.

4.2. Die Kabinet keur goed dat Suid-Afrika in Julie 2017 as gasheer optree vir die Inligting- en Kommunikasietegnologie Afrika 2017-beraad in vennootskap met AfricanBrains. Dit sal deur die Departement van Telekommunikasie en Posdienste gelei word.

4.3. Op 9 Desember 2016 sal die Regering, in vennootskap met die Verenigde Nasies (VN) se Kantoor vir Dwelms en Misdaad en die Universiteit van Suid-Afrika weereens die Internasionale Teenkorrupsiedag herdenk met die tema: “Verenig Teen Korrupsie”. Dit  weerspieël die mandaat van die Nasionale Ontwikkelingsplan om 'n aktiewe burgery te ontwikkel wat met die Regering in vennootskap sal tree in die stryd teen korrupsie.

Sedert 2014 is 90 mense en regsliggame vir korrupsie en korrupsieverwante kwessies in hegtenis geneem. Altesaam 32 was vir sake waar die totale bedrag R5 miljoen per saak beloop het, wat altesaam R3,8 miljard bedra.   Die sake van die oorblywende 58 mense wat skuldig bevind is, was vir bedrae van minder as R5 miljoen per saak; die totale bedrag beloop ongeveer R188 miljoen.  

In dieselfde tydperk het ons daarin geslaag om 871 bevriesingsbevele ten bedrae van altesaam R7,65 miljard te verkry, asook 1 089 beslaglegging-/konfiskeringsbevele ter waarde van R2,86 miljard.

Korrupsie word deur 'n stel meganismes bestry, soos die Gedragskode vir die Staatsdiens; die instelling van gespesialiseerde teenkorrupsie-eenhede soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Eenheid vir Georganiseerde Misdaad; die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade; die Nasionale Vervolgingsgesag se Gespesialiseerde Handelsmisdaadeenheid; die Batebeslagleggingseenheid en die Finansiële Intelligensiesentrum. Hulle pogings word deur die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhowe en die skepping van die nasionale en sektorale teenkorrupsie-blitslyne versterk.

4.4. In 2016 vier ons die 20ste herdenking van die ondertekening van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 deur oud-President Nelson Mandela in Sharpeville op 10 Desember 1996.

Die Grondwet het die grondslag vir 'n demokratiese en oop samelewing gelê, waarin die Regering op die wil van die mense gegrond is. Dit is die produk van 'n lang proses van stryd en veelparty-onderhandelings waarin politici, advokate en verteenwoordigers van die burgerlike samelewing 'n rol gespeel het. Dit word as een van die mees progressiewe en transformerende grondwette ter wêreld beskou.

Ter herdenking van die 20ste herdenking met die tema “Vier 20 jaar van die Grondwet – transformeer die samelewing en verenig die nasie”, sal die Regering 'n reeks gemeenskapsgesprekke en -programme onderneem om bewustheid en kennis van die Grondwet, sy waardes en menseregte te verhoog.  'n Nasionale byeenkoms sal op Saterdag 10 Desember 2016 by die George Thabe-stadion in Sharpeville gehou word.

4.5. ’n Nasionale byeenkoms om Versoeningsdag op Vrydag 16 Desember 2016 te vier, met die tema “Oorbrug die gaping na 'n nie-rassige samelewing”, sal by Gopane Black Aces Ground, in Zeerust, Noordwes plaasvind.

4.6. Die Kabinet wens alle Suid-Afrikaners alles van die beste toe vir die komende feesseisoen.  Ons doen 'n beroep op ons mede-Suid-Afrikaners om individue en families in hul gemeenskappe, veral kinders, ouer mense en mense met gestremdhede by te staan.

4.7. Die aankondiging deur die SAPD dat inkopiesentrums ook gedurende die feesseisoen 'n prioriteit sal wees, is nog 'n manier om te verseker dat Suid-Afrikaners veilig voel en is. Die ontplooiing van polisielede en leerlingpolisielede by verskeie inkopiesentrums regoor die land vorm deel van die SAPD se Terugkeer na Basiese Beginsels-benadering om sigbaarheid te verbeter, polisiëring te versterk en verskeie misdade wat gewoonlik tydens die feesseisoen 'n hoogtepunt bereik, te bekamp.

Die Kabinet noop alle Suid-Afrikaners, in ooreenstemming met die verantwoordelikhede wat in die NOP uiteengesit word, om deel van die oplossing te wees en te help om 'n veilige en genotvolle feesseisoen vir almal te verseker.

Wanneer Suid-Afrikaners die lang pad aanpak om geliefdes en familielede te besoek, moet almal asseblief waaksaam wees en verseker dat hul voertuie padwaardig is. Deur die spoedbeperking te eerbiedig, veiligheidsgordels te dra en nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie, verseker 'n mens jou eie veiligheid en dié van die mense rondom jou.

En terwyl ons die komende feesseisoen geniet, moet ons almal ook asseblief aanhou om water verstandig en doeltreffend te gebruik, omdat water steeds 'n skaars hulpbron bly.

5. Afgelope jaar

Die afgelope jaar is gekenmerk deur die aankondiging van 'n toenemende aantal beleggingsinisiatiewe in die land, wat bewys lewer van die internasionale beleggingsgemeenskap se vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dit dui ook verder daarop dat ons land op die herstelpad is en steeds as 'n lewensvatbare beleggingsbestemming beskou word. Die implementering van die Negepuntplan, die Medium Termyn Strategiese Raamwerk en intervensies soos Operasie Phakisa het ons op 'n hoër trajek geplaas om Visie 2030 van die NOP te verwesenlik.

Ons het nuwe handelsgeleenthede geskep wat op die ontsluiting van marktoegang en die verstewiging van bestaande ekonomiese bande gerig is. Dit is geïmplementeer deur bilaterale vergaderings met uitgesoekte regeringsministerieë, vergaderings met potensiële beleggers, gesprekke met verskeie handelskamers asook deelname aan nasionale skoue en toerismepromosiegeleenthede.

Hierdie inisiatiewe het gelei tot 'n toename van R1,2 miljard in die verkope van vervaardigde waardetoegevoegde uitvoere, wat die opgehoopde totaal vir die jaar op R3,8 miljard te staan bring. Daarbenewens verteenwoordig invloeipyplyne uit direkte buitelandse belegging (FDI) ’n potensiële FDI van R13,1 miljard, veral in die energie-en-chemikaliësektor. Dit bring die totale potensiële FDI vir 2016 op R30 miljard te staan.

Internasionale toerisme vorm steeds 'n belangrike deel van ons ekonomiese-diplomasiepogings, en dra by tot werkskepping en ekonomiese groei. Toeristeaankomsyfers het in 2016 met 14,8% gestyg, vergeleke met dieselfde tydperk in 2015. 'n Totaal van ongeveer R39,3 miljard se regstreekse besteding is in die eerste maande van 2016 bereik, wat tot werkskepping bydra en die plaaslike ekonomie bevorder. Hierdie inligting bevestig dat Suid-Afrika 'n gewilde bestemming vir internasionale toeriste bly.

As deel van die Nasionale Infrastruktuurplan, is infrastruktuurbeleggings in onderwys, gesondheid, water, energie en vervoer gemaak, wat alles tot werkskepping bygedra het en mense se lewensgehalte verbeter het. Die stabilisering van die elektrisiteitsrooster het betroubare elektrisiteitsvoorsiening vir Suid-Afrika verseker.

Verskeie besprekings oor internasionale agendas het tot die ondertekening van 'n suite van memorandums van verstandhouding en ooreenkomste gelei. Dit dien as katalisator vir ekonomiese-ontwikkelingsinisiatiewe en help om ons NOP-doelwitte te bereik.

Suksesvolle plaaslike regeringsverkiesings is gehou en in die gees van ubuntu, is verskeie mega-geleenthede ook aangebied. Dit sluit in AfricaCom; die Africa Internet Governance Forum; die Konvensie oor die Handel in Bedreigde Spesies (Cites) se COP17-beraad (CITES); die 35ste Internasionale Geologiese Kongres; die 21ste Internasionale Vigs-konferensie en talle ander.

Suid-Afrika het 'n internasionale voorkeurbestemming geword.

Die Kabinet is verheug dat baie studente in hoëronderwysinstellings regoor die land positief gereageer het op oproepe om die 2016-akademiese program te red en loof die duisende studente wat hul eindjaareksamens geskryf het.

Ons nasionale sportspanne en atlete het ons naam hoog gehou met hul vertonings en positiewe gees by die 2016 Olimpiese Spele in Rio, asook by ander sportbyeenkomste. Suid-Afrikaners op verskeie terreine het ons met hul vaardighede en talente geïnspireer en nasionale en internasionale lofbetuigings ontvang. Suid-Afrika is 'n wenland.

6. Simpatie en gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense aan die volgende oor:

6.1. Die Springbok-sewesspan wat die land se naam hoog gehou het deur die Wêreldrugby se sewesreeks in Dubai te wen.

6.2. Suid-Afrika se Olimpiese roei-afrigter, Roger Barrow, wat deur die Internasionale Roeivereniging (Federation Internationale des Societes d'Aviron) as 2016 se Wêreldroeiafrigter van die Jaar aangewys is.

6.3. Aangewese President Adama Barrow, wat as Gambië se nuwe President verkies is; ons vertrou dat toekomstige betrekkinge tot voordeel van albei lande sal strek.

Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die volgende:

6.4. Die Kabinet spreek saam met President Zuma sy meegevoel uit teenoor die mense van Kuba met die afsterwe van hul voormalige President en rewolusionêre held El Commandante Jefe Fidel Alejandro Castro Ruz, wat sy lewe aan vryheid en selfbeskikking gewy het. President Zuma was onder die staats- en regeringshoofde wat uitgenooi is om die spesiale diens in Kuba toe te spreek. Castro het 'n beginselvaste standpunt teen koloniale besetting van Afrika ingeneem en 'n deurslaggewende rol in Suid-Afrika se eie vryheidstryd gespeel.

6.5. Alle Suid-Afrikaners word uitgenooi om eensgesindheid met die mense van Kuba te toon deur boeke van medelye te teken, wat by die Uniegebou in Pretoria, Tuynhuys in Kaapstad en die kantore van die premiers in al die provinsies geplaas is.

6.6. Die Kabinet spreek sy medelye uit teenoor die regering en mense van die Federale Republiek van Brasilië, veral die families, vriende en kollegas van al die slagoffers van die huurvliegtuig wat in 'n bergagtige gebied in Colombië neergestort het. Die Kabinet wens al die oorlewendes 'n spoedige herstel toe.

6.7. Die Kabinet betuig sy meegevoel met die afsterwe van die befaamde veteraan van ons vryheidstryd, Riot Makhomanisi Mkhwanazi, wat ook die Orde van Mendi vir Dapperheid ontvang het vir sy bydrae tot die land se bevrydingstryd.

6.8. Die Kabinet spreek sy meegevoel uit teenoor die familie en vriende van die veelbekroonde  gospelsanger Sifiso Ncwane, een van Suid-Afrika se beste gospel-sangers tot nog toe.

Die Kabinet bedank:

6.9. Lede van die media vir hul rol om te verseker dat Kabinetsbesluite aan Suid-Afrikaners gekommunikeer word, sodat hulle aan ingeligte openbare gesprekke kan deelneem.

6.10. Vrywilligers en nie-regeringsorganisasies vir hul onbaatsugtige hulp aan andere op alle lewensterreine, in die ware gees van ubuntu.

6.11. Sake- en georganiseerde-arbeidsvennote vir hul volgehoue rol om te verseker dat Suid-Afrika vir billike ekonomiese groei geposisioneer is.

6.12. Alle Suid-Afrikaners wat in hul daaglikse lewens 'n rol speel om 'n Suid-Afrika te bou wat aan almal behoort.

7. Aanstellings:

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke klarings.

7.1. Mnr Alvin P Rapea as die Sekretaris van Polisie.

7.2. Me MS Bronkhorst as Hoof Operasionele Beampte by die Departement van Arbeid.

7.3. Mnr D Mashitisho as die Direkteur-generaal van die Departement van Water en Sanitasie.

7.4. Me L Shange as die Adjunk-direkteur-generaal: Administrasie by die Departement van Staatsdiens en Administrasie (DPSA)

7.5. Me TA Fosi as Algemene Bestuurder: Strategiese Bestuur by die Staatsdrukkery.

7.6. Dr Valanthan Munsami as Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap.

7.7. Nie-uitvoerende direkteure op die direksie van SENTECH:
a) Me Ntombizodwa Petunia Mbele (heraanstelling);
b) Me Reitumetse Jacqueline Huntley (heraanstelling); en
c) Me Lungile Myrtle Ndlovu.

7.8. Me NJ Dewar as Hoof Finansiële Beampte van die Suid-Afrikaanse Poskantoor.

7.9. Nie-uitvoerende lede op die direksie van die Staat se Inligtingstegnologie-agentskap:
a) Mnr Zukile Nomvete (heraanstelling en Voorsitter);
b) Me Seadimo Hessie Chaba (heraanstelling);
c) Mnr Graeme Alvan Victor (heraanstelling);
d) Me Nokuzola Nelly Ehrens;
e) Mmr Mahomed Talib Sadik;
f) Me Phuti Matlala;
g) Me Nelisiwe Magubane;
h) Adv Ndumiso Mahlangu;
i) Dr Vuyokazi Felicity Mahlati;
j) Mnr Nkhangweleni Walter Mudau (DPSA-verteenwoordiger); en
k) Mnr Job Stadi Mngomezulu (verteenwoordiger van die Nasionale Tesourie).

7.10. Nie-uitvoerende lede op die Direksie van die Agentskap vir Universele Dienste en Toegang van Suid-Afrika:
a) Me Mawethu Cawe (Voorsitter);
b) Mnr Xola Gladman Stock;
c) Me Jabulile Nkosi; en
d) Mnr Linda Cecil Nene.

7.11. Sentrale Energiefonds (SOC) Bpk:
a) Mnr Luvo Lincoln Makasi (Voorsitter);
b) Mnr Mosimaneotsile Jim Besnaar; en
c) Mnr Neville Israel Mompati.

7.12. Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika:
a) Mnr Christopher Forlee (as HUB en voltydse reguleerderlid).

7.13. Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie:
a) Mnr Phumzile Tshelane (heraanstelling as HUB);
b) Dr Gregory Jerome Davids; en
c) Mnr Samuel Matlobela Sekgota.

7.14. Lede van die Direksie van die Nasionale Instituut vir Wegdoening van Radioaktiewe Afval:
a) Mnr Tshepo Mofokeng (Voorsitter);
b) Mnr Luvuyo Mkontwana (Adjunkvoorsitter);
c) Mnr Trevor Mark Gordan;
d) Dr Barry Kistnasamy;
e) Me Mbali Ndlovu;
f) Mnr Lebohang Sam Moleko;
g) Me Lerato Makgae; en
h) Adv Mothusi Lucas Tsineng.

7.15. Lede van die Direksie van die Nasionale Kernreguleerder:
a) Dr Thapelo Motshudi (Voorsitter en heraanstelling);
b) Dr Pamela Zibuyile Dube (Adjunkvoorsitter);
c) Ambassadeur Mochubeloa Jacob Seekoe;
d) Mnr Abraham Pieter Le Roux;
e) Me Phoibe Elsie Monale;
f) Mnr Protas Thamsanqa Phili;
g) Me Bridgette Motshidisi Mokoetle;
h) Mnr Jeffrey Leaver (heraanstelling);
i) Dr Bethuel Sehlapelo (heraanstelling);
j) Mnr Kabelo Samuel Kakoma (heraanstelling); en
k) Me D Bendeman (verteenwoordiger van die Departement van Omgewingsake).

7.16. Mnr Siyabulela Tsengiwe as Hoofkommissaris van die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie.

7.17. Nie-uitvoerende lede op die Direksie van die Padverkeerbestuurskorporasie:
a) Mnr Zola Malvern Percival Majavu (heraanstelling en Voorsitter);
b) Me Thembeka Mdlulwa (heraanstelling);
c) Me Pinkie Mathabathe (heraanstelling);
d) Me Daphline Harridene Charlotte-Ann Ewertse (heraanstelling);
e) Me Thulani Matiki Norman Kgomo (heraanstelling);
f) Prof Maredi Ivan Mphahlele;
g) Me Thandi Clarah Thankge; en
h) Dr Eddie Mogalefi Thebe.

7.18. Appèltribunaal van die Film- en Publikasieraad:
a) Me Nonkoliso Isabela Sigcau;
b) Me Nonduduzo Samukelisiwe Kheswa;
c) Adv Thembelihle Pretty Mapipa-Ndlovu;
d) Me Manko Talitha Tsoehlisi;
e) Mnr Sizwe Lindelo Snail;
f) Mnr Lutendo Joy Malada;
g) Prof Adelaide Simangele Verah Magwaza;
h) Mnr Christopher Mamathuntsha; en
i) Dr Mbulaheni Mulaudzi.

7.19. Mnr PK Legodi as die HUB van Lepelle Northern Water.

7.20. Raadslede van die Reguleringsgesag van die Privaatsekuriteitsbedryf:
a) Mnr Humphrey Nhlanhla Ngubane;
b) Mnr Zwile Zulu;
c) Mnr Methews Thembinkosi Oliphant; en
d) Generaal-majoor Cynthia Lindiwe Pilison.

Navrae:
Mnr Donald Liphoko
Kontak: 082 901 0766
 

Share this page

Similar categories to explore