Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 28 September 2016

1. Implementering van belangrike regeringsprogramme

1.1. Die Regering is ten volle toegewy tot die opheffing van ons mense en om dié rede bly onderwys een van ons topprioriteite. Dit blyk duidelik uit die toekenning van hulpbronne waarvolgens hoër onderwys en opleiding een van die instellings is waaraan die grootste deel van vanjaar se nasionale begroting toegewys is met 'n bykomende 18% vir 2016/17.

Ondanks ekonomiese probleme ken die Regering steeds hulpbronne toe as 'n bewys van sy verbintenis tot die verbetering van toegang tot hoër onderwys en tot onderwys in die algemeen. Die Regering voorsien vanjaar R1,9 miljard van die R2,3 miljard tekort wat weens die subsidiëring van die 2016-verhoging ontstaan het. Meer as R4,5 miljard word in die boekjaar 2016/17 aan die Nasionale Studentehulpskema beskikbaar gestel om arm studente te help om aan hoër onderwysinstellings te studeer.

1.2. Die Regering is deeglik bewus daarvan dat 'n belegging in die opvoeding van ons kinders tot ekonomiese groei sal bydra, wat noodsaaklik is om die driedubbele uitdaging van werkloosheid, armoede en ongelykheid die hoof te bied.

Die Regering het gehoor gegee aan studente se pleidooie en sal die fooi-aanpassings van werkende en middelklas-universiteitstudente vir die 2017 akademiese jaar subsidieer. Studente wie se ouers of voogde kan bekostig om vir universiteitsopleiding te betaal moet voortgaan om dit te doen, want onderwys is almal se verantwoordelikheid, nie net die Regering s’n nie.

1.3. Die aanpassing neem die kwessie van bekostigbaarheid vir studente en hul ouers in ag, asook die behoefte om te verseker dat hoëronderwysinstellings finansieel lewensvatbaar bly. Die tussentydse verslag van die Raad vir Hoër Onderwys het 'n inflasiegekoppelde aanpassing deur die bank vir 2017 voorgestel.

1.4. Die Regering aanvaar die aanbeveling van 'n voorgestelde 8%-aanpassing in klasgeld vir universiteite en tegniese en beroepsonderwys- en opleidingskolleges, terwyl gapingbefondsing voorsien sal word om die aanpassing vir arm en middelklasstudente te dek.

Terwyl die Presidensiële Kommissie van Ondersoek na Befondsing vir Hoër Onderwys en Opleiding sy werk voltooi, moet ons universiteitstelsel steeds funksioneer sodat vaardighede vir die ekonomie geskep kan word en jong Suid-Afrikaners, asook studente van lande oor die wêreld, in die besonder die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), bemagtig kan word.

1.5. Die Kabinet doen 'n beroep op studente en studenteleiers in die besonder, om hul griewe op ’n gepaste wyse te lug in ooreenstemming met die Grondwet, wat ’n riglyn vir alle Suid-Afrikaners is. Geweld het die studente se onlangse protesoptrede gekenmerk terwyl die land moes toekyk hoe eiendom gevandaliseer en vernietiging word, biblioteke afgebrand word en 'n universiteitswerker gesterf het.

1.6. President Jacob Zuma het die regeringsgroepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit (JCPS) opdrag gegee om aandag te gee aan die chaos wat ons hoëronderwysinstellings verwoes. Die President sal later vandag met die ministers van die JCPS-groepering vergader. Wetstoepassingsagentskappe wat binne die wet optree, sal alles in hul vermoë doen om diegene wat vir die kriminele aktiwiteite verantwoordelik is, op te spoor.

1.7. Ons verwelkom die aankondiging deur die Departement van Basiese Onderwys dat alles op dreef is vir die 2016 Nasionale Senior Sertifikaateksamen. Ons versoek egter ook alle belanghebbers om saam te werk om te verseker dat ons hoëronderwysinstellings gereed is om die 2016-matrikulante te ontvang om vir hulle 'n beter toekoms te verseker. Alle belanghebbers, veral ouers en voogde, moet ’n daadwerklike poging aanwend om 'n volhoubare oplossing te vind vir die uitdaging om onderwys te befonds.

Die graad 12-eksamen duur van 26 Oktober tot 29 November 2016. Die Minister van Basiese Onderwys sal die uitslag van die 2016 graad 12-eksamens op 4 Januarie 2017 aankondig. Altesaam 677 141 voltydse en 150 183 deeltydse kandidate is vir die 2016-eksamen ingeskryf. Dit is 9 000 meer kandidate as in 2015 en is ’n bewys van die Regering se verbintenis om te verseker dat meer van ons jong mense hul basiese onderwys voltooi, sodat hulle ’n bydrae tot die ekonomie kan lewer. Die Kabinet wens die 2016-matrikulante sterkte toe met die finale fase van hul skoolloopbane.

1.8. In die aanloop tot Wêreldonderwysersdag, wat op 5 Oktober 2016 herdenk word, spreek die Kabinet sy waardering teenoor al ons onderwysers uit en loof hulle vir hul toewyding en harde werk waarmee hulle ’n grondslag vir ons toekomstige leiers lê. Die toewyding en deursettingsvermoë van ons onderwysers hef ons mense op en moedig ons leerders aan om steeds beter termynpunte te behaal.

Die Ekonomie

1.9. Die Kabinet is bemoedig deur die resultate van die voortgesette wisselwerking tussen die Regering en nyweraars onder leiding van President Zuma deur die Presidensiële Inisiatief vir Uitvoerende Hoofde om vertroue in die ekonomie te bou, ekonomiese groei te stimuleer en 'n soewereine kredietafgradering af te weer.

Vordering sluit 'n indiensnemingsprogram vir die jeug in wat ten doel het om 'n miljoen jong mense oor drie jaar in betaalde internskappe in die privaat sektor te plaas. Dit sluit die stigting van 'n fonds vir Suid-Afrikaanse klein- en mediumondernemings in wat R1,5 miljard in kleinsakeondernemings sal belê. In ooreenstemming met die Regering se Negepuntplan, is aandag ook aan die ontleding van agt ekonomiese sektore gegee om areas vir nuwe beleggings en groei te identifiseer.

In die toekoms sal die saksektor deur die volgende projekte met die Regering saamwerk: Die vestiging van 'n landbougroeifonds; kapasiteit om toerismebemarking te ondersteun; ’n toename in die aantal opgeleide verpleegsters; en die vernuwing van kwynende industriële gebiede, veral in die Vaaldriehoek.

1.10. Vordering is ook gemaak met die implementering van die Nasionale Strategie vir Navorsing, Ontwikkeling en Innovering op die gebied van Brandstofseltegnologie (HySA-strategie). Die Kabinet het die HySA-strategie in 2007 goedgekeur vir die skep van kennis en om die ontwikkeling van hoëwaarde- kommersiële produkte in die waterstof- en brandstofseltegnologiesektor deur die veredeling van die land se platinumgroep-metaalhulpbronne in staat te stel. Dit het ook die potensiaal om lokalisering te bevorder met die oog op die bevordering van swart nyweraars. Hierdie Suid-Afrikaanse innovering dra by tot internasionale innovering deur die kommersialisering van tegnologie, terwyl dit 25% van die waterstof- en brandstofselmark verkry, wat na raming R1,37 miljard teen 2020 sal beloop.

1.11. Die Kabinet keur die bekendstelling goed van die nuwe regulasie wat die verhouding tussen die werkgewer en die werknemer rakende saketransaksies met die Staat beheer. Die regulasie, wat in die Staatskoerant gepubliseer is, bring die Wet op Publieke Administrasie, 2014 (Wet 11 van 2014) in werking.

1.12. Die oorhandiging van die eerste 500 huise by die Savanna City Geïntegreerde Menslikenedersettingsprojek is deel van die Regering se pogings om behoorlike behuising aan behoeftiges te verskaf en hulle te help om hul waardigheid te herwin deur toe te sien dat hulle hul reg tot voldoende en gehaltebehuising kan geniet. Altesaam 200 huise is onder leiding van die Minister van Menslike Nedersettings, Lindiwe Sisulu, aan militêre veterane oorhandig. Met voltooiing van die projek binne die volgende vyf jaar, sal daar meer as 18 000 huise wees, waarvan 500 aan militêre veterane toegeken sal word.

1.13. Die Nasionale Forum vir Internetbestuur en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se Internetwisselpunt is suksesvol van stapel gestuur deur die Minister van Telekommunikasie en Posdienste, dr Siyabonga Cwele en die Kommissaris van die Afrika-unie (AU), dr Elham Ibrahim.

Die Nasionale Forum vir Internetbestuur (AfIGF) het ’n standpunt vir die land ontwikkel ter voorbereiding vir die vyfde AfIGF, wat van 16 tot 18 Oktober 2016 in eThekwini, KwaZulu-Natal, plaasvind. Die AfIGF sal tot goedkoper internettoegang in die streek lei omdat internetverkeer tussen Afrika-lande sal sirkuleer.

Hierdie ontwikkelings beklemtoon hoe belangrik dit vir Suid-Afrika en die AU is om aktief by die internetekonomie betrokke te wees, en nie net verbruikers te wees nie. Dit bring ons ook nader aan die skep van 'n meer inklusiewe digitale ekonomie en ’n kennissamelewing soos in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) vervat. Die Regering is daartoe verbind om toe te sien dat die internet algemeen toeganklik vir alle Suid-Afrikaners sal wees, wat sal bydra tot die skep van 'n inklusiewe gemeenskap.

1.14. Die Afrikalugruim-en-verdedigingslugskou is suksesvol deur die Departement van Verdediging, Krygkor, SA Aerospace, die Vereniging van Maritieme en Verdedigingsbedrywe, Denel en die Kommersiële Lugvaartvereniging van Suid-Afrika aangebied. Dit het ’n geleentheid vir Suid-Afrika se verdedigingsbedrywe gebied om hul vermoëns aan die internasionale gemeenskap te bemark. Daar was vanjaar ook die meeste uitstallers ooit en die meeste buitelandse verteenwoordigers by pawiljoene van verskeie lande.

2. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

2.1. Die Kabinet stem saam met die verklaring wat op 23 September deur die Presidensie uitgereik is oor die heraanstelling van die SAUK se Operasionele Hoof. Die Kabinet respekteer die uitspraak van die Appèlhof wat die tersydestelling van die aanstelling van mnr. Hlaudi Motsoeneng as bedryfshoof van die SAUK bevestig.

Die Kabinet doen 'n beroep op die SAUK-raad om by die letter en gees van die Appèlhof se uitspraak te hou. Pogings om die Appèlhof se uitspraak te ondermyn deur interpretasies wat wettig verdag is, grens aan oortreding van die grondwetlike legaliteitsbeginsel en tart die grondwetlik bepaalde geregtelike gesag van die howe. Die besluit om mnr. Motsoeneng weer aan te stel in 'n nuwe pos toon disrespek vir die oppergesag van die reg.

Die Kabinet herinner die Raad aan Artikel 165 van die Grondwet, dat 'n bevel of beslissing wat deur 'n hof uitgereik is, alle persone op wie en staatsorgane waarop dit van toepassing is, daartoe verbind.

Die Kabinet het die Minister van Kommunikasie, me. Faith Muthambi, beveel om dringend stappe te doen om hierdie saak met die SAUK-raad op te neem.

2.2 Die Kabinet verwelkom die resultate van Suid-aAfrika se deelname aan die 71ste Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies (VNAV) onder leiding van President Zuma. Dit het van 20 tot 26 September 2016 met die tema "Die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte: 'n universele poging om ons wêreld te transformeer", plaasgevind.

Wêreldleiers het tydens hierdie sessie die New York-verklaring aanvaar, wat uiting gee aan die politieke wil en verbintenis om die regte van vlugtelinge en immigrante te beskerm. Die verpligtinge baan die weg na onderhandelings om 'n internasionale konferensie te hou en die sluit van 'n wêreldverdrag vir veilige, ordelike en gereelde migrasie in 2018.

Suid-Afrika het weer sy oproep vir die versterking van wêreldbestuursinstellings, insluitend die VN, spesifiek die Veiligheidsraad, herhaal en die dringende hervorming van hierdie instellings bepleit met die doel om die historiese onreg teen Afrika, wat in verouderde strukture weerspieël word, reg te stel.

President Zuma was medegasheer saam met President Francois Hollande van Frankryk, van die VN se Hoëkommissie oor Gesondheidsindiensneming en Ekonomiese Groei op 20 September 2016. Die kommissie is deur die Sekretaris-generaal van die VN gestig en het ten doel om leiers op die hoogste vlak te betrek om die skep van nuwe werkgeleenthede in die gesondheidsektor wêreldwyd aan te moedig. Die verslag van die kommissie wat deur die Algemene Vergadering aanvaar is, maak aanbevelings aan lidlande, wat wissel van opleidingsbehoeftes, voortgesette onderwys en die behoefte om op primêre gesondheidsorg te fokus. Dit sluit 'n verbintenis in om 40 miljoen gesondheidswerkers teen 2030 op te lei.

President Zuma het die leierskap van die Vennootskap vir Oop Regering (VOR) amptelik aan Frankryk oorhandig tydens die vyfjaarviering op die rand van VNAV. Onder Suid-Afrika se dienstyd as voorsitter van die VOR was ons ’n kampvegter vir die Oop Regering-verklaring oor die deurvoer van die 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling. Dit sal toesien dat VOR-lidlande die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte by hul VOR-aksieplanne insluit. Suid-Afrika het ook wetgewende openheid, oop data, en groter deelname deur die burgerlike samelewing om grondvlakorganisasies en kwesbare groepe binne die VOR in te sluit, geprioritiseer.

3. Belangrike Kabinetsbesluite

3.1. Die Kabinet is ingelig oor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap se ondersoek na Suid-Afrika se tegniese gereedheid om die skaliegasbedryf te onderhou, insluitend die aanbevelings oor aksies wat deur die betrokke departemente deurgevoer moet word.

In die oorgang na laekoolstoftegnologie terwyl energiesekerheid verbeter word, oorweeg Suid-Afrika skaliegas as 'n potensiële bydraer tot die land se toekomstige energiemengsel.

Die verslag, wat vrygestel sal word vir openbare insae, bespreek verskeie kwessies wat aandag moet kry om die land ten volle gereed te maak. Dit sluit in die bevordering van die regulerende, lisensiëring- en die moniteringsowerhede; die versekering dat Suid-Afrika die nodige vaardighede het; steun aan toepaslike maatskappye om die ekonomiese geleenthede te ontgin; die instel van maatreëls om natuurlike hulpbronne te beskerm en navorsing. Die verslag sal as basis dien vir die opstel van die plan vir skaliegasnavorsing, ontwikkeling en innovering.

3.2. Vordering is gemaak met Operasie Phakisa vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. Deur Operasie Phakisa wil die Regering groei bevorder om voedselsekerheid in Suid-Afrika op alle vlakke te bewerkstellig. 

Sedert Mei 2016 is uitgebreide raadplegingsessies oor ’n tydperk van vier maande gehou. Die belangrikste besprekingsessie vind oor 'n tydperk van vyf weke van 25 September tot 28 Oktober 2016 plaas. Die hoofdoel is om die formulering van die vereiste en implementeerbare ingrypings tot groter ekonomiese insluiting vir die sektor te verseker.

Operasie Phakisa: Landbou en Grondhervorming poog om een miljoen werkgeleenthede te skep en een miljoen hektaar teen 2019 te beplant, soos deur die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) in die vooruitsig gestel.

3.3. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die program vir ’n strategiese raamwerk vir kapasiteitsbou in streeks- en plaaslike munisipaliteite ter ondersteuning van die Agriparkeprogram.

Die Agriparkeprogram het die hoeksteen geword van die Regering se prioriteit om landbou en die landbouverwerkingswaardeketting te laat herleef – van die prioriteite van die Negepunplan. Al 44 distriksmunisipaliteite is by hierdie program betrek. Dit sal agriparke as 'n belangrike meganisme om die NOP se voorgestelde landelike ontwikkelingstrategie deur te voer, vestig. Hulle het die potensiaal om kleinskaalse landbouproduksie en die stimulering van landbouverwerking in landelike gebiede te ondersteun.

3.4. Die Kabinet verleen ook goedkeuring aan die Witskrif oor ’n Nasionale Geïntegreerde Beleid vir Inligtingskommunikasietegnologie (IKT), wat die afsonderlike Witskrifte oor Telekommunikasie (1996) en Posdienste (1998) vervang.

Dié geïntegreerde IKT-beleid beskryf hoe die Regering sal toesien dat die sektor sy potensiaal bereik om inklusiewe maatskaplike en ekonomiese transformasie in Suid-Afrika te vergemaklik. Die Minister van Telekommunikasie en Posdienste, dr Cwele, sal 'n afsonderlike mediakonferensie belê om hierdie beleid verder uiteen te sit.

3.5. Die Kabinet keur goed dat die Afrika-telekommunikasie-unie (ATU) se Konvensie van 1999 aan die Parlement voorgelê word vir bekragtiging ooreenkomstig Artikel 231 (2) van die Grondwet.

Die ATU is 'n orgaan wat algemene toegang in Afrika en die gebruik van IKT op die vasteland bevorder, soos die vestiging van infrastruktuur, radiofrekwensiespektrum en standaard-interoperabiliteit.

Suid-Afrika se deelname strook met die NOP en buitelandse beleidsdoelwitte om die land wêreldwyd beter te posisioneer en die AU-instelling te versterk om aan die buitelandse beleid se ontwikkelingsdoelwitte te voldoen.

3.6. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die voorgestelde institusionele raamwerk vir die vestiging van ’n multiprimêre administrateur vir Digitalevoorwerpargitektuur (DVA), met die voorgestelde naam, die MISAVA Agenskap vir Digitale Identifisering.

Inwerkingstelling van die DVA kan Suid-Afrika se IKT-mededingendheid ter voorbereiding van deelname aan die Vierde Industriële Revolusie, ’n hupstoot gee.

3.7. Die Kabinet verleen goedkeuring aan Suid-Afrika se hersiene standpunt oor die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se voorstel vir die ontwikkeling van 'n ooreenkoms met betrekking tot die vestiging van die Noord-suid-korridor-Bestuursintstelling (NSCMI).

Die SAOG se ministers van vervoer het ingestem om die NSCMI te vestig om aandag aan bedryfsondoeltreffendheid en knelpunte langs die Noord-suid-korridor te gee. Die Kabinet keur ook goed dat die Minister van Vervoer die vergadering van ministers van die Noord-suid-korridor tydens 2016/17 aanbied.

3.8. Die Kabinet is ingelig oor die ontwikkeling van 'n nuwe reeks gedenk- en sirkulasiemunte deur die Suid-Afrikaanse Munt en sy raad van direkteure, in samewerking met die Minister van Finansies. Die nuwe munte sal kultuur, vryheid en demokrasie uitbeeld.

Die Kabinet verleen goedkeuring aan die bekendstelling en ontwerpe van die nuwe R10- en R5-sterlingsilwergedenkmunte; die nuwe R5-gedenkmunt (½ oz.) van 24 karaat goud tot die Natura-muntreeks vir 2017; en

a. Ontwerpe van die volgende gedenkmuntreekse:

  • Die 2017-Natura-muntreeks;
  • Die 2017-sterlingsilwer-muntreeks; en
  • Die 2017-sterlingsilwer-R2-kroon- en 2½ c-tiekiereeks.

b. Die volgende 2017-Krugerrandmunt:

  • Die heruitreiking van die jaargang 1967-Krugerrand in 2016
  • Bekendstelling van nuwe Krugerrande tot die 2017-reeks.

4. Wetsontwerpe

4.1. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Maatskaplike Bystand van 2016 vir openbare kommentaar gepubliseer word. Dit wysig die Wet op Maatskaplike Bystand, 2004 (Wet 13 van 2004).

Die Wysigingswetsontwerp het ten doel om voorsiening te maak vir bykomende betalings en/of voordele wat verband hou met maatskaplike bystand. Wysigings sal begrafnisvoordele en bykomende voordele vir weeskinders en kinders aan die hoof van huishoudings verseker.

 

5. Toekomstige gebeure

5.1. Die Kabinet is ingelig oor Suid-Afrika se voorbereidings en keur die strategie goed vir deelname aan die komende 8ste BRICS-beraad, wat deur die Interministeriële BRICS-Komitee gelei sal word. Die tema van die 8ste BRICS-beraad, wat van 15 tot 16 Oktober 2016 in Goa, Indië, gehou word, is "Bou Deelnemende, Inklusiewe en Gesamentlike Oplossings".

Die Kabinet is ook ingelig oor die vordering van die nuwe Ontwikkelingsbank van Afrika se streeksentrum. Suid-Afrika sal voortgaan om die inwerkingtreding van BRICS se nuwe ontwikkkelingsbank te ondersteun. Dit sluit in dat Suid-Afrika gasheer vir die Afrika-streeksentrum in Johannesburg sal wees.

Die gevestigde eerste BRICS finansiële instellings, soos die nuwe ontwikkelingsbank en die voorwaardelike reserwe-indeling, dien as katalisatorinstellings om industrialisering en infrastruktuurprogramme in Suid-Afrika en die vasteland te versterk.

5.2. Die Kabinet keur die Suid-Afrikaanse onderhandelingsmandaat goed wat as basis sal dien vir betrokkenheid by die 28ste Vergadering van die Partye tot die Montreal-protokol oor Stowwe wat die Osoonlaag Vernietig (Montreal MOP 28). Dit vind van 10 tot 14 Oktober 2016 in Kigali, Rwanda, plaas. Die Montreal-protokol was baie doeltreffend met die uitfasering van stowwe wat die osoon vernietig. Dit sluit aan by ons Grondwet, wat bepaal dat die vermindering van armoede en die bevordering van sosio-ekonomiese ontwikkeling binne die konteks van volhoubare ontwikkeling moet plaasvind.

5.3. Die VN se derde Konferensie oor Behuising en Volhoubare Verstedeliking (Habitat III) deur die VNAV sal in Quito, Ecuador, van 17 tot 20 Oktober 2016 plaasvind. Dit het ten doel om 'n nuwe stedelike agenda te aanvaar, 'n aksiegeoriënteerde dokument op te stel wat wêreldwye standaarde van prestasie in volhoubare stedelike ontwikkeling sal neerlê, en die manier waarop ons bou, bestuur en in stede woon te hersien deur samewerking met toegewyde vennote, toepaslike belanghebbers, en stedelike rolspelers op alle regeringsvlakke sowel as die private sektor.

5.4. Die Internasionale Konferensie oor Navorsingsinfrastruktuur (ICRI 2016) word van 3 tot 5 Oktober 2016 in Kaapstad deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie en die Europese Kommissie aangebied.

Die konferensie het ten doel om die noodsaaklike rol van wêreldwye navorsingsinfrastruktuur in die hantering van groot uitdagings en as splipunte vir innovering na vore te bring, te besin oor behoeftes, ontwikkeling en volhoubaarheid van wêreldwye en plaaslike navorsingsinfrastruktuur, en die moontlikheid van 'n internasionale rigtingwyser te bespreek.

Suid-Afrika het bewys gelewer van sy wetenskap- en tegnologienavorsingsvermoë en word erken as die natuurlike tuiste van sommige van die wêreld se mees beduidende navorsingsinfrastruktuur. Deur ICRI 2016 aan te bied sal die land vinniger tot ’n kennisgebaseerde ekonomie, soos in die NDP vervat, ontwikkel.

5.5. Die Kabinet verwelkom die aankondiging van die eerste fase in die afskakel van die analoogsender op 28 Oktober 2016 deur die Minister van Kommunikasie, Faith Muthambi, in dorpe om die Vierkantkilometeropstelling (SKA) in die Noord-Kaap en in Carnarvon binne die Kareeberg Plaaslike Munisipaliteit. Meer as 86% van huishoudings in die SKA-omgewing is reeds verbind en geniet digitale terrestriële televisiedienste in hul huise.

Die migrasie is in lyn met die NOP se doelwit om kragtige, betroubare, veilige en bekostigbare IKT-infrastruktuur te skep. Dit sal landelike en stedelike mense, rykes en armes, verbind sodat alle Suid-Afrikaners met behulp van tegnologie meer doeltreffend sake kan doen en kan kommunikeer.

5.6. In Oktober vier die Regering Maatskaplike Ontwikkeling-maand met die tema "Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe na sosio-ekonomiese ontwikkeling". Deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) sal gesprekke landwyd gevoer word om die uiteenlopende behoeftes van gemeenskappe beter te verstaan.

Die DMO, in samewerking met die Nasionale Ontwikkelingsagentskap en die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid, sal gemeenskappe inlig oor die verskillende sosiale sekerheidprogramme wat beskikbaar is en hoe om toegang daartoe te verkry. Die Kabinet moedig alle sektore aan om die Regering te help om toe te sien dat daar aan die behoeftes van die mees kwesbare mense in ons gemeenskappe voldoen word.

Op 1 Oktober 2016 word Internasionale Dag vir Ouer Persone herdenk. In die eerste week van Oktober sal dié dag gevier word deur bewustheid te skep van negatiewe stereotipes en wanopvattings oor ouer persone en veroudering.

5.7. Die Departement van Sport en Ontspanning en die Vereniging vir Internasionale Sport vir Almal bied die 6de The Big Walk op 2 Oktober 2016 by die Fonteinedaloord in Pretoria aan. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om 'n aktiewe, gesonde lewenstyl te volg om die hoë voorkoms van lewenstylsiektes en vetsug die hoof te bied.

5.8. 19 Oktober 2016 is die 30ste herdenking van die vliegongeluk wat die lewe van die Mosambiekse President, Samora Moises Machel, asook die lewens van 34 van sy landsburgers, insluitend vlieëniers en joernaliste, geëis het.

Die mense van Mosambiek het tot die bevryding van Suid-Afrika en ander lande op die subkontinent bygedra. Die Suid-Afrikaanse Regering, in samewerking met die Regering van die Republiek van Mosambiek, sal die 30ste herdenking by die ongelukstoneel in Mbuzini, Mpumalanga, op 17 Oktober 2016, gedenk.

Dié geleentheid dra by tot die Departement van Kuns en Kultuur se inisiatief om 'n erfenisroete oor verset en bevryding te skep. Die erfenisroete sal alle terreine waar bevrydingserfenisroetes in Suid-Afrika, die SAOG en die vasteland voorkom, met mekaar verbind.

Die Kabinet dra sy meegevoel aan die volgende oor:

5.9. Die familie en vriende van Suid-Afrika se musieklegende en een van die pioniers van die kwaito-musiekgenre, Mduduzi Tshabalala, algemeen bekend as Mandoza. Sy musiek, wat nog steeds deur alle Suid-Afrikaners waardeer word, het 'n unieke kruiskulturele karakter.

5.10. Die familie en vriende van die veteraanjoernalis, redakteur en skrywer, Allister Sparks, wat op die ouderdom van 83 oorlede is. Sparks het sy pos as redakteur van die Rand Daily Mail in die vroeë 1980's gebruik om die onregverdige apartheidsregering aan die kaak te stel. Hy was 'n Nieman-genoot aan Harvard-universiteit en Suid-Afrikaanse korrespondent vir verskeie internasionale publikasies, insluitend The Washington Post en The Economist.

5.11. Die mense van Indië met die afsterwe van sy Heiligheid Pramukh Swami Maharaj, die geestelike hoof van die Swami Narayan Hindoegemeenskap in Indië. Sy Heiligheid is bekend vir die belangrike bydrae wat hy tot Indië se spirituele lewe en kultuur gemaak het deur die bou van tempels en opvoedkundige instellings in Indië asook in ander lande.

5.12. Die families van diegene wat tydens die gewelddadige voorvalle in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) gesterf het, en wens die beseerdes 'n spoedige herstel toe. Die Kabinet doen 'n beroep op al die partye in die DRK om betrokke te raak by die inklusiewe nasionale dialoog wat deur mnr. Edem Kodjo namens die AU moontlik gemaak word en deur plaaslike en internasionale instellings ondersteun word.

5.13. Aan die familie en vriende van Shimon Peres, die afgetrede Israeliese staatsman wat 'n Nobelprys gedeel het vir die smee van 'n vredesooreenkoms tussen Israel en Palestina. Mnr. Peres was 'n konstante bron van krag vir toekomstige geslagte in Israel.

Die Kabinet dra sy gelukwense aan die volgende oor:

5.14. Die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad vir sy jongste vingerafdruktegnologie wat wetstoepassing- en forensiese personeel aansienlik sal help met die uitvoer van hul pligte. Die prototipetoestel, wat deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie befonds is, kan gebruik word om oppervlakke te skandeer en vingerafdrukke te lig sonder die gebruik van die afstoftegniek of die risiko van besoedeling.

5.15. Dr Ismail Bhorat en sy span vir die pionierswerk op 'n ongebore kind by die Inkosi Albert Luthuli Sentrale Hospitaal. Dit is die eerste operasie in Suid-Afrika op 'n fetus en het die land internasionaal in die kollig geplaas.

5.16. Mamelodi Sundowns, dat hulle die finaal van die Konfederasie van Afrika-sokkerkampioeneliga gehaal het toe hulle Zesco United geklop het. Hierdie oorwinning is nie net 'n prestasie vir Sundowns nie, maar ook vir Suid-Afrikaanse sokker. Dit gee ons spelers broodnodige blootstelling en ervaring om met die beste op die Afrika-vasteland en die wêreld mee te ding.

5.17. Die Kabinet wens Brad Binder geluk met sy geskiedkundige oorwinning in die Moto3-Wêreldkampioenskap. Die 21-jarige motorfietsjaer is die eerste Suid-Afrikaner sedert 1980 om 'n Grand Prix-titel te beklink nadat hy sy eerste Moto3-kampioenskap gewen het.

5.18. Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners wat aan verskeie aktiwiteite deelgeneem het om ons uiteenlopende kulture tydens Erfenismaand te vier en te respekteer. Die treffende manier waarop ons kulture uitgebeeld en ons ryk erfenis onderskryf is, het landwyd weerklink.

Die Kabinet dra sy beste wense aan die volgende oor:

5.19. Die Kabinet wens Aartsbiskop Desmond Tutu 'n spoedige herstel toe ná sy operasie.

5.20. En dra saam met die res van Suid-Afrika sy goeie wense oor aan Mama Winnie Mandela op haar haar 80ste verjaardag.

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke klaring.

6.1. Nasionale Adviesraad vir Innovering:

a. Mnr. Mafika Mkwanazi
b. Mnr. Sullivan O'Carroll

6.2. Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap:

a. Prof. Eugene Cloete
b. Prof. Sabiha Essack
c. Prof. Shireen Hassim
d. Prof. Jonathan Jansen
e. Prof. Nancy Phaswana-Mafuya
f. Prof Barney Pityana
g. Prof. Stephanie Burton (heraanstelling)
h. Prof. Norman Duncan (heraanstelling)
i. Prof. Johann Mouton (heraanstelling)
j. Prof. Himla Soodyall (heraanstelling)
k. Prof. Zeblon Vilakazi (heraanstelling)
l. Prof. Brenda Wingfield (heraanstelling)
m. Dr. Shadrack Moephuli (verteenwoordiger van die Nasionale Adviesraad vir Innovering en heraanstelling)

6.3. Dr. Sarah Mosoetsa tot die Raad van die Nasionale Navorsingstigting.

6.4. Nasionale Elektroniese Media-instituut van Suid-Afrika (NEMISA):

a. Me. Mymoena Williams as uitvoerende hoof
b. Me. Rahimoonisha Abdool as finansiële hoof

6.5. Nie-uitvoerende direkteure van NEMISA Beperk:

a. Prof. Walter Theophilus Claassen (voorsitter);
b. Mnr. Thami ka Plaatjie (heraanstelling en adjunkvoorsitter)
c. Prof. Manoj Maharaj
d. Me. Sarienne Rana Kersh
e. Me. Nelisiwe Gloria Mkhaliphi
f. Mnr. Phuthi Nehemia Phukubje
g. Me. Alina Thandiwe Mfulo
h. Mnr. Moraka Lucas Mello (heraanstelling).

6.6. Zolani Kgosie Matthews as 'n nie-uitvoerende lid van die Raad van die Suid-Afrikaanse Poskantoor.

6.7. Mnr Mahomed Iftekhar Chowan as die finansiële hoof van die Universele Diens-en-Toegangsagentskap van Suid-Afrika.

6.8. Suid-Afrikaanse Raad vir Ruimtesake:

a. Me. Pontsho Maruping (voorsitter)
b. Me. Nomfuneko Irene Majaja (ondervoorsitter)
c. Adv. Lulekwa Makapela
d. Mnr. Themba Beatus Tenza
e. Mnr. Linden Sydney Petzer
f. Ambassadeur Peter Goosen
g. Mnr. Humbulani Aaron Mudau
h. Dr. Sandile Bétuel Malinga
i. Mnr. William Simon Makwinja
j. Me. Nosiphiwo Monica Sonjani
k. Mnr. Lloyd McPatie
l. Mnr. Leeandran Annamalai.

6.9. Adv. Rory Wayne Voller as die kommissaris van die Kommissie van Maatskappye en Intellektuele Eiendom.

6.10. Mnr. Jayaseelan Manickum Nair tot die Raad van die Suid-Afrikaanse Spesiale Risikoversekeringsassosiasie Beperk, as 'n nie-uitvoerende direkteur.

6.11. Die nominasie van me. Patience Bongiwe Kunene as die uitvoerende direkteur wat Suid-Afrika, Angola en Nigerië, op die raad van direkteure van die Wêreldbankgroep verteenwoordig.

6.12. Spoorveiligheidsreguleerder:

a. Heraanstelling van mnr. Nkululeko Andrew Stephen Poya as die uitvoerende hoof.

Nie-uitvoerende lede op die Raad van die Spoorveiligheidsreguleerder:

b. Dr. Nomusa Zethu Qunta (voorsitter)
c. Mnr. Boy Johannes Nobunga (ondervoorsitter)
d. Mnr. Zacharia Mosothoane (Suid-Afrikaanse Vervoer- en Verwante Werkersvakbond, benoemde)
e. Mnr. Christiaan Johan de Vos (Federasie van Vakbonde van Suid-Afrika, benoemde)
f. Generaal-majoor Michael Monashi Motlhala (Departement van Polisie ex-officio)
g. Mnr. Ngwako Makaepea (Departement van Vervoer ex-officio)
h. Me. Hilda Thamaga Thopola
i. Generaal-majoor Willem Adriaan Venter (onafhanklike nie-uitvoerende lid)
j. Me. Khulekelwe Mbonambi (heraanstelling)
k. Me. Ntombizine Mbiza (heraanstelling)
l. Mnr. André Harrison (heraanstelling)
m. Mnr. Tibor Szane (heraanstelling en die Departement van Arbeid, ex-officio).

6.13. Heraanstelling van mnr Japh Ronnie Chuwe as uitvoerende hoof (registrateur) van die   Padverkeerswet Oortredingsagentskap.

6.14. Mnr. Skhumbuzo Dennis Macozoma as uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk.

6.15. Mnr. Sisa Neil Ntshona as die uitvoerende hoof van Suid-Afrikaanse Toerisme.

6.16. Mnr. Dhesigen Pydiah Naidoo heraangestel as uitvoerende hoof van die Waternavorsingskommissie.

6.17. Kommissie van die Lesotho Hooglandwaterprojek:

a. Mnr. Bhekizwe Simon Nkosi as die Republiek van Suid-Afrika se hoofafgevaardigde
b. Mnr. Vusi Nhlapo as permanente verteenwoordiger.

6.18. Raad van die Finansiesagentskap vir Kleinsakeondernemings:

a. Me. Charmaine Groves
b. Me. Happy Ralinala
c. Mnr. Kholofelo Molewa
d. Me. Nomcebo Dlamini
e. Mnr. Nazir Ahmed Osman
f. Me. Nonkululeko Dlamini
g. Mnr. Phakamile Mainganya
h. Me. Kate Moloto
i. Me. Hlonela Lupuwana (heraanstelling)
j. Mnr. Lawrence Mavundla (heraanstelling).

6.19. Me. Cladie Thamo Hloniphile Mzobe as uitvoerende hoof van die NDA.

Navrae:
Donald Liphoko
Kontak: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore