Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 26 April 2017

Die Kabinet het op Woensdag 26 April 2017 op die vooraand van die 23ste nasionale Vryheidsdagvierings, by die Uniegebou vergader. President Jacob Zuma was voorsitter van die vergadering, waartydens die nuwe lede van die Uitvoerende Raad verwelkom is. Hulle vul die bestaande leierskorps in die regering aan, wat leiding neem met die implementering van die regering se Plan van Aksie vir radikale ekonomiese transformasie en inklusiewe sosio-ekonomiese groei.

1. Kabinetsbesluite

1.1. Die Kabinet keur goed dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye as mede-aanbieder van die Wêreld Akwakultuur-vereniging se konferensie in Kaapstad van 26 tot 30 Junie 2017, optree.
Dit sal bydra tot Operasie Phakisa se Akwakultuur-laboratorium, wat daarop gerig is om die akwakultuur-groeikoers binne die volgende vyf jaar vyf keer te verhoog van 4 000 ton tot 20 000 ton, om 15 000 werksgeleenthede te skep en die bydrae van akwakultuur tot die bruto binnelandse produk (BBP) te verhoog.

Akwakultuur bied 'n gulde geleentheid om visproduksie te diversifiseer en sodoende aan die plaaslike vraag te voldoen, sowel as om voedselveiligheid, uitvoergeleenthede en werksgeleenthede te bevorder. Deur die konferensie plaaslik aan te bied, sal die sektor bevorder word, beleggings deur die private sektor en donateurs sal toeneem, en die ontwikkeling van die plaaslike akwakultuurbedryf sal versnel deur insig in ander lande se akwakultuurstrategieë te verkry.

1.2. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die instelling van 'n interministeriële komitee om strategiese leiding te gee tydens die voorbereiding en aanbieding van die 37ste Gewone Spitsberaad van Staatshoofde van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) wat in Augustus 2017 gehou word.

Die SAOG-spitsberaad word gehou onder die tema "Vennootskap met die Privaatsektor in Ontwikkelende Nywerheids- en Streekswaardekettings". Dit beklemtoon die noodsaaklikheid van kritiese faktore om die SAOG se Nywerheidstrategie en Aksieplan te implementeer en te bereik.

Suid-Afrika sal sy posisie as voorsitter van die SAOG gebruik om die land se nasionale belange strategies te bevorder soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan om streeksekonomiese geleenthede en sekuriteitsverwante sake te versterk.

1.3. Die Departement van Kuns en Kultuur sal 'n derde uitgawe van Afrika-maand in Mei 2017 aanbied. Dit vorm deel van Suid-Afrika se bydrae tot die vasteland se viering van die transformasie van die Organisasie van Afrika-eenheid, wat op 25 Mei 1963 gestig is, tot die huidige Afrika-Unie, en sy verwante instellings en programme.

Die viering van Afrika-maand dra by tot die dekolonisasie van die Afrika-vasteland deur 'n verskeidenheid regerings- en burgerlike samelewingsprojekte onder die tema: “'n Jaar van OR Tambo: Bou ’n Beter Afrika en 'n Beter Wêreld”.

Afrika-maand dra by tot die Pan-Afrika-oproep vir Afrika-eenheid en -samewerking en word gebruik as 'n platform deur alle Afrika-Unie-lande om die vordering wat gemaak is met die realisering van Agenda 2063, te benut.

Die regeringswye maandlange program wat op www.gov.za beskikbaar sal wees, gaan verder as die kuns- en kultuursektor om die bydraes van die Suid-Afrikaanse regering aan te gryp deur ekonomiese, politieke en sosiale faktore wat 'n impak op die ontwikkeling van die vasteland het. Aktiwiteite en dialoë is feestelik en opvoedkundig; almal bied politieke en sosio-ekonomiese geleenthede vir die mense van Suid-Afrika en die res van die vasteland om hul Afrikanisme te vier en hulle te herverbind tot die bou van gemeenskappe wat gegrond is op positiewe gesamentlike Afrika-waardes en -beginsels.

1.4. Die Kabinet is ingelig oor die suksesvolle aanbieding van die Internasionale Federasie van Biblioteekverenigings (IFLA) en -Instellings se Jaarlikse Wêreldbiblioteek- en Inligtingskongres, wat van 15 tot 21 Augustus 2015 in Kaapstad gehou is.

Die IFLA Kaapstad-verklaring sal aan die Afrika-ministers van kultuur voorgelê word vir goedkeuring, ondersteuning en implementering. Die Departement van Kuns en Kultuur sal pogings versterk om 'n leeskultuur in Suid-Afrika te bevorder.

2. Implementering van regeringsprogramme

2.1. Die regering se verbintenis om die ekonomie ’n hupstoot te gee is herbevestig tydens suksesvolle samesprekings tussen die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, met beleggers en die wêreldwye finansiële gemeenskap tydens ’n besoek aan die Verenigde State van Amerika vir die Internasionale Montêre Fonds en die Wêreldbank se Lentevergaderings. Minister Gigaba het ook samesprekings gevoer met binnelandse beleggers en die Nedlac Spesiale Uitvoerende Komitee, onder voorsitterskap van Adjunkpresident Cyril Ramaphosa.

Die verbintenisse het beklemtoon dat die regering se beleidsoriëntering ná omsigtige fiskale dissipline en streng fiskale konsolidasie soos in die 2017 Nasionale Begroting uitgelig, onveranderd sal bly.
Die Kabinet doen 'n beroep op alle sektore om met die regering saam te werk om vertroue te bevorder en die ekonomie aan te dryf vir volgehoue inklusiewe groei.

2.2. Die bekendstelling deur President Jacob Zuma van die Maluti-A-Phofung Spesiale Ekonomiese Sone (MAP-SEZ) in Tshiame, Harrismith, in the Oos-Vrystaat op 25 April 2017, lewer bewys van die regering se pogings om industriële ontwikkeling te bevorder; dit is ’n sleutelfaktor vir die land se langtermyn ekonomiese sukses en voorspoed. Die prioriteitsektore vir die MAP-SEZ is logistieke, motor-, landbou-, IKT-, farmaseutiese en algemene prosessering. Dit skep geleenthede vir vervaardiging asook 'n streeks- en internasionale handelsomgewing met 'n toegevoegde waarde-ketting in die Maluti-A-Phofung Munisipaliteit.

Die bekendstelling van die SEZ, bring die aantal spesiale ekonomiese sones in die land op agt te staan. Tot dusver het die SEZ-program gesamentlik meer as R9,5 miljard se beleggings gelok. Hulle het ook meer as 10 000 direkte werksgeleenthede en 65 000 indirekte werksgeleenthede geskep. Die Spesiale Ekonomiese Sone speel ook 'n rol om buitelandse direkte belegging (FDI) te lok.

Die bekendstelling van hierdie 1 038-hektaar MAP-SEZ vorm 'n belangrike deel van die implementering van die beleidsplan vir nywerheidsbeleid wat spesiale ekonomiese gebiede aanwys om plaaslike ekonomiese groei en ontwikkeling in bepaalde streke van die land te versnel.

2.3. Die Kabinet verwelkom die A.T. Kearney 2017 Buitelandse Direkte Beleggingsvertrouensverslag, wat daarop dui dat Suid-Afrika die 25ste aantreklikste bestemming vir buitelandse direkte belegging wêreldwyd is. Dit is ’n eerste op die Afrika-vasteland.

Suid-Afrika verskyn vir die eerste keer sedert 2014 weer op die indeks wat die 25 aantreklikste beleggingsbestemmings publiseer. Die land word gelys saam met ander ontwikkelende lande soos China (3de), Indië (8ste); Brasilië (16de) en Mexiko (17de).

Hierdie posisie toon dat Suid-Afrika se strategiese vennootskap met buitelandse beleggers momentum kry en dui verder daarop dat ons land se bloudruk vir ontwikkeling resultate lewer. Verbetering van korttermyn ekonomiese vooruitsigte en langtermynbeleggings in die land se vervaardigingsektor is aangehaal as 'n paar van die belangrikste dryfvere vir Suid-Afrika se verbeterde gradering op die indeks.

2.4. In ’n afsonderlike verlsag, lys die jongste Afrika-beleggingsindeks 2016 deur Quantum Global se onafhanklike navorsingsafdeling, Suid-Afrika as die vierde aantreklikste beleggingsbestemming in Afrika ná Botswana, Marokko en Egipte. Suid-Afrika het ook goed gevaar op die groeifaktor van die BBP, die gemak om sake in die land te doen en 'n beduidende bevolking.

Die land se aantreklikheid as 'n beleggingsbestemming van keuse is verder uitgelig in die Afrika Ekonomiese Vooruitsigeverslag 2016, wat Suid-Afrika vierde onder die voorste Afrika-beleggingsbestemmings in 2015 plaas ná Egipte ($10,2 miljard), Mosambiek ($4,7 miljard) en Marokko ($4,2 miljard) met $3,6 miljard in buitelandse belegging. Suid-Afrika bou voort op sy sterk finansiële en besigheidsgrondslag in die 47ste plek uit 138 lande in die Wêreld Ekonomiese Forum se Globale Mededingingsindeks 2016/17.

2.5. Die 27ste Wêreld Ekonomiese Forum oor Afrika vind van 3 tot 5 Mei 2017 by die Albert Luthuli Internasionale Konferensiesentrum in Durban plaas onder die tema: "Bereik Inklusiewe Groei: Verantwoordende en Verantwoordelike Leierskap."

Die Kabinet verwelkom hierdie geleentheid vir Suid-Afrikaners om in gesprek te tree oor moontlike beleggingsgeleenthede, dieper streeksintegrasie en hernude toewyding tot volhoubare groei en ontwikkeling in Afrika.

Afrika is die tuiste van sommige van die wêreld se vinnigste groeiende ekonomieë wat toenemende belangstelling van wêreldwye beleggers lok. Suid-Afrika is die mees gediversifiseerde ekonomie op die vasteland en speel 'n integrale rol in Afrika se vooruitgang.

2.6. Suid-Afrika en Oman het hulle tydens 'n sakeforum op 27 Maart 2017 tussen die Minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies, en sy Omani-eweknie, dr. Ali Bin Masoud Al-Sunaidy, daartoe verbind om handelsbetrekkinge te bevorder. Dit stel Suid-Afrikaanse sakemanne in staat om voordeel te trek uit die geleenthede wat Oman bied, veral in landbou- en landbouverwerkingsnywerhede.

Hierbenewens het die Departement van Handel en Nywerheid se beleggingsmissie na Ghana en Nigerië tussen 20 en 25 Maart 2017 bygedra tot die identifisering en skep van uitvoermarkte vir Suid-Afrikaanse toegevoegde waarde-produkte en -dienste. Dit bevorder ook Suid-Afrikaanse produkte en diensaanbiedinge en skep sakevennootskappe tussen sakegemeenskappe van die onderskeie lande.

Toenemende handel op die vasteland en die bevordering van vennootskappe met Afrika-vennote kan bydra tot armoedeverligting, verhoogde handelsvloei, nywerheidsontwikkeling en die skep van meer werksgeleenthede, wat die sleutel tot ekonomiese ontwikkeling in Afrika is.

2.7. Die Minister van Kleinsakeontwikkeling, Lindiwe Zulu, het die Suid-Afrikaanse afvaardiging by die Estland-sakeforum, wat deur die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid aangebied is, gelei. Met Estonia se ekonomie, wat uit 90% KMMO's bestaan, versterk Suid-Afrika se vennootskap die regering se verbintenis tot werkskepping en die bevordering van klein, mediumgrootte en mikro-ondernemings (KMMO's).

2.8. Die veerkragtigheid van ons boerderysektor ondersteun deur vroeë waarskuwingstelsels en navorsing, ondanks die herfswurmplaag en die droogte, is bevestig deur die 2017 beraamde kommersiële mielie-oesgrootte, wat 84% groter is as die 2016-oes, wat die kleinste oes sedert 2007 was. Na verwagting sal die drie hoofmielieproduserende gebiede, naamlik die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, 82% van die 2017-oes produseer.

Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 14 324 miljoen ton vasgestel, wat 2,91% (405 050 ton) meer as die vorige skatting van 13.918 miljoen. ton is. Die oppervlakskatting vir mielies bly op 2 629 miloen ha te staan, terwyl die verwagte opbrengs 5,45 t/ha is.

2.9. Die regering se verbintenis tot die versterking, ontwikkeling en uitbreiding van toegang tot universiteite word gedemonstreer deur die verdubbeling van studentegetalle oor die afgelope 20 jaar. Dit is versterk deur die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, dr Blade Nzimande, se aankondiging van owerheidsbesteding van R7 miljard oor die volgende twee jaar vir nuwe studentebehuising, laboratoriums, kommunikasietegnologie- en ander noodsaaklike fasiliteite, sowel as noodsaaklike instandhouding en die verdere uitbreiding van die nuwe universiteite. 'n Verdere R2,5 miljard word oor die volgende vyf jaar vir histories benadeelde universiteite geoormerk om hulle beter in staat te stel om hul volle akademiese potensiaal te verwesenlik.

Belegging in infrastruktuur, insluitend onderrig- en navorsingsruimtes, toerusting en bevorderlike studente-leefomgewings, is noodsaaklik om te verseker dat die universiteite aan hul bemagtigingsmandaat kan voldoen.

2.10. Die Minister Van Arbeid, Mildred Oliphant, sal die nasionale bewustheidsveldtog vir die 2017 Werkersmaand onder die tema "Ken jou regte en verantwoordelikhede as 'n middel om beter nakoming te bevorder" lei.

Die veldtog sal bewusmakingsvlakke onder werkers in Suid-Afrika oor hul regte en verantwoordelikhede verhoog. Dit sal ook die prestasies van werkers in Suid-Afrika uitlig en nakoming van arbeidswette evalueer. Die maand sal verrassingsinspeksies insluit in sektore wat as gereelde oortreders beskou word.

Die regering het wetgewing aangeneem om die growwe ongelykhede en onbillike diskriminasie wat ons geërf het, te hanteer. Die kern van ons arbeidswette is die strewe om ekonomiese ontwikkeling, sosiale geregtigheid, arbeidsvrede en die demokratisering van die werkplek te bevorder. Die Kabinet doen 'n beroep op alle sektore en hul rol in die hantering van die ongelykhede van die verlede deur die stadige tempo van transformasie in die werkplek te versnel.

2.11. Die regering het begin die 6de Nasionale Imbizo Fokusweek van die huidige administrasie, wat van 17 tot 23 April 2017 plaasvind. Die week is gekenmerk deur 'n verhoogde tydperk van gesprekke tussen lede van die regring en burgers en dra by tot die regering se breër plan om die lewens van alle burgers te verbeter.

Die Kabinet prys die gemeenskappe wat aan die Izimbizo met regeringsamptenare regoor die land deelgeneem het, met die doel om uitdagings vir openbare diens aan te pak en 'n beter lewe vir almal te bied.

Ander Izimbizo’s sluit in: die bekendstelling van die Sentrum vir Entrepreneurskap by Goldfields se Tegniese en Beroepsonderrig en -Opleidingkollege in Welkom, in die Vrystaat deur die Minister van Kleinsakeontwikkeling, me Lindiwe Zulu. Die sentrum dra by om die uitdaging van jeugwerkloosheid te pak deur in die vroeë stadium van die ondernemingsreis toepaslike ondersteuning aan jongmense te bied. Daar was 34 geleenthede vir gesprekvoering regoor die land.

3. Kwessies in die omgewing

3.1. President Jacob Zuma het die 23ste nasionale Vryheidsdagvieringe op 27 April 2017 gelei onder die tema "Die jaar van OR Tambo: Saam versterk ons demokrasie en bou veiliger en misdaadvrye gemeenskappe ".

Die President se betrokkenheid by Manguzi, Umhlabuyalingana, vorm deel van 'n nasionale teen-misdaadveldtog. Dit is ook 'n opvolg van die presidensiële Siyahlola-moniteringsprogram in Maart 2017. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid van dringende optrede om oorgrensmisdaad, veral motorkapings, die hoof te bied. Die regering is hard aan die werk in hierdie omgewing om misdaad uit te wis en om probleme van die Umhlabuyalingana-gemeenskap te pak, insluitende uitdagings rondom die Isimangaliso-vleilandpark.

Die vieringe weerspieël die land se prestasies sedert 1994, terwyl dit ook die werk wat nog gedoen moet word om 'n werklik verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese en voorspoedige Suid-Afrika te bou, in ag neem. Tydens Vryheidsmaand vier ons die bydrae van die voormalige ANC-president en nasionale held Oliver Reginald Tambo tot ons vryheid en demokrasie. Hy sou vanjaar 100 jaar oud geword het as hy nog geleef het.

3.2. Om saam te val met die Vryheidsmaand-program het die Minister van Kommunikasie, Ayanda Dlodlo, 'n jeugdialoog begin wat deel is van voortudurende gesprekke met die jeug oor wat dit beteken om jou vryheid te besit – “OWN YOUR FREEDOM” – die skakel wat gebruik word om die bespreking op sosiale media te volg.
Die Kabinet doen 'n beroep op die jeug om hul regte en verantwoordelikhede omsigtig uit te oefen en om diegene wat vir ons vryheid geveg het te respekteer, sodat dit deur almal in ons demokratiese land geniet kan word

3.3. Die Kabinet verwelkom die eerste vergadering van die Suid-Afrika-China hoëvlak Mens-tot-Mens-uitruilingsmeganisme (PPEM) wat vanaf 24 tot 27 April plaasgevind het. Dit was die verwesenliking van 'n ooreenkoms van die 2015-staatsbesoek aan Suid-Afrika tussen pres. Jacob Zuma en president Xi Jinping. Die interninisteriële komitee oor die Mens-tot-Mens-uitruilmeganisme onder leiding van Minister Nathi Mthethwa, het vise-premier Lui Yandong en afgevaardigdes van die Volksrepubliek van China ontvang.

'Verskeie samewerkingsooreenkomste is binne die twee breë temas onderteken, naamlik Menslikekapitaalontwikkeling en Navorsing en Ontwikkeling. Die groei van 'n inklusiewe ekonomie wat gekenmerk word deur 'n radikale sosio-ekonomiese transformasie, gaan hand aan hand met die bou van ons mense se vermoëns, veral ons jeug, op verskillende vlakke.

Die Kabinet verwelkom die skenking van mediese toerusting (in SA vervaardig) van die Chinese regering. Dit sal as deel van 'n samewerkingsooreenkoms oor gesondheid tussen Afrika en China, bydra tot die verbetering van die gehalte van dienste wat in openbare hospitale gelewer word.

Deur die samewerkingsooreenkomste is albei nasies verbind tot die onderlinge uitruil van tegniese samewerking, onderwysersopleiding en kundigheid op die gebied van onderwys, veral in Wiskunde, Wetenskap en Tegnologie, as boustene vir die groei van kennisekonomieë. Ander gebiede vir verbeterde samewerking sluit in kultuur; kommunikasie; gesondheid; wetenskap en tegnologie; sport; toerisme; vrouesake en jeugdiges.

3.4. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die familie en vriende van die 235 mense wat gesterf het weens padongelukke oor die Paasvakansie. Die statistieke vir die tydperk dui daarop dat 50% van die mense wat gesterf het voetgangers was, gevolg deur passasiers teen 24% en bestuurders teen 19%.

3.5. Die Kabinet sluit ook aan by President Jacob Zuma in die uiting van diep hartseer en skok oor die afsterwe van 18 skoolkinders en twee volwassenes tydens 'n verskriklike minibustaxi-ongeluk in Bronkhorstspruit, buite Pretoria. Ons herhaal die oproep van President Zuma aan wetstoepassingsagentskappe dat die oorsaak van die ongeluk so gou as moontlik ondersoek moet word.

Die Kabinet bedank alle staatsdepartemente, NRO's, professionele persone en besighede wat die betrokke families, sowel as leerders en personeel van Mahlenga High School en Refano Primary in hierdie moeilike tydperk ondersteun.

Die slagting op ons paaie, veral tydens vakansies in Suid-Afrika, bly 'n groot vron van nasionale kommer. In baie gevalle kon hierdie sterftes voorkom geword het deur verantwoordelike optrede en gebruik van die land se paaie. Roekelose en nalatige padgebruik is onaanvaarbaar en alle Suid-Afrikaners word aangemoedig om persoonlike verantwoordelikheid vir hul veiligheid op ons paaie te neem.

3.6. Die Kabinet prys die busvervoersektor dat hulle hul werk hervat het ná 'n geweldvrye staking; dit stel ’n voorbeeld vir toekomstige industriële protesoptrede. Die rol van die Minister van Arbeid om die beëindiging van die staking vir hierdie hoogs belangrike sektor van ons ekonomie te fasiliteer, word erken.

3.7. Die Kabinet is bekommerd oor die onlangse opswaai in geweld in Vuwani na aanleiding van die besluit van die Munisipale Afbakeningsraad om dit in 'n nuwe munisipaliteit in te sluit. Die Kabinet veroordeel die gebruik van kinders as 'n onderhandelingsinstrument ten sterkste; die weke waartydens die skole gesluit was, plaas ’n demper op hierdie kinders se toekoms en plaas hulle onder bykomende. Geweld, intimidasie, vandalisme, of aksies wat tot gevolg het dat skole vernietig word of dat leerders nie skool toe kan gaan nie, het geen plek in ons demokrasie nie.

Die Kabinet erken die werk wat deur die Interministeriële Komitee gedoen is, gelei deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, mnr. Des Van Rooyen, en die besoek van die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, Fikile Mbalula, en onderskryf die siening dat kriminele aktiwiteite insluitend skade en vernietiging van eiendom nie geduld sal word nie. Reëlings is getref vir President Jacob Zuma om met die VhaVenda se koning Toni Mphephu Ramabulana en tradisionele leiers van die Vhembe-distrik te vergader, met die doel om stabiliteit te verseker. Die Kabinet beklemtoon dat geld en hulpbronne wat aan die vervanging van beskadigde skole bestee is, vir ander programme geoormerk was.

3.8. Die Kabinet het ook ‘n beroep gedoen vir kalmte en stabiliteit ná gewelddadige betogings in Lichtenburg en Blydeville-township in Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit, Noordwes. Skole is ontwrig, winkels is geplunder en motors sowel as verskeie huise is verbrand. Noordwes se premier, Supra Mahumapelo, het 'n span van vyf LUR's en twee burgemeesters aangestel om die uitdagings vir dienslewering in die gebied te ondersoek en oplossings te vind.

3.9. Die Kabinet Doen 'n beroep op die gemeenskap van Coligny in Noordwes om gewelddadige betogings te staak en die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Coligny toe te laat om hul ondersoek na die dood van 'n kind te voltooi sodat geregtigheid kan geskied.
Burgers word aangemoedig om hul kommer deur bestaande strukture uit te spreek en binne die grense van die wet op te tree.

3.10. Die regering prys wetstoepassingsagentskappe vir hul optrede om oortreders van geweld teen vroue en kinders aan die kaak te stel.

In dié verband verwelkom die Kabinet die vinnige optrede deur die Hawks se Eenheid vir Mensehandel en die Suid-Afrikaanse Polisiediens se taktiese reaksie-span, wat 'n Durbanse pastoor in hegtenis geneem het op aanklag van mensehandel in Port Elizabeth.

Dit is die plig en verantwoordelikheid van alle Suid-Afrikaners om met die owerhede saam te werk om ons vroue en kinders teen mensehandelaars te beskerm en te verseker dat ons ons deel doen om ons gemeenskappe veiliger te maak.

4. Boodskappe

4.1. Die Kabinet wens Zolani Tete geluk met sy prestasie om die Wêreld Boksvereniging se Bantamgewigtitel in te palm. Hiermee kwalifiseer hy vir 'n wêreld-eenheidstitel – dit beteken hy kan nou wêreldtitels uitdaag by die vier wêreldwye boksverenigings: die Wêreld Boksvereniging, die Wêreld Boksraad, die Wêreldboksvereniging en die Internasionale Boksfederasie.

4.2. Die Kabinet dra saam met President Jacob Zuma, sy meegevoel oor aan die familie en vriende van die legendariese boksmentor en -afrigter, Nick Durandt, wat bekend was vir sy vermoë om kampioenboksers te lewer en om kampioene te maak van jong straatkinders.

5. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

5.1.  Presidensiële aanstellings van lede van die Nasionale Verbruikerstribunaal is van krag vanaf die datum van die betrokke presidensiële omsendbrief:
a)  Prof Joseph Mandal Maseko (Uitvoerende Voorsitter);
b)  Me Laura Best (Ondervoorsitter);
c)  Mnr Lulama Andisa Potwana (voltydse lid);
d)  Me Penelope Anne Beck (deeltydse lid);
e)  Ad. Hope Fiona Neo Sephoti (deeltydse lid);
f)  Me Diane Reinette Terblanche (deeltydse lid);
g)  Me Nomfundo Maseti (deeltydse lid);
h)  Me Maleho Margaret Daisy Nkomo (deeltydse lid);
i)  Prof Bonke Clayton Dumisa (deeltydse lid);
j)  Prof Tanya Ann Woker (deeltydse lid);
k)  Prof Kasturi Moodaliyar (deeltydse lid);
l)  Dr Maria Claudina du Toit (deeltydse lid); en
m)  Mnr Xolela Christopher Mei (deeltydse lid);
n)  Mnr Fungai Khumbulani Sibanda (deeltydse lid);
o)  Mnr Lehlohonolo Lucky Rabotapi (deeltydse lid);
p)  Mnr Trevor Albert Bailey (deeltydse lid); en
q)  Adv Frans Kgolela Manamela (deeltydse lid).

5.2.  Aanstelling van nie-uitvoerende lede op die Raad van die Krygstuig Korporasie van Suid-Afrika (Krygkor):
a)  Vise-admiraal (afgetree) RJ Mudimu (Voorsitter en heraanstelling);
b)  Me Thuthukile Skweyiya (Ondervoorsitter en heraanstelling);
c)  Dr Moses Khanyile (heraanstelling);
d)  Mnr Ndumiso M Tyibilika (heraanstelling);
e)  Mnr Raymond Mlungwana Vokwana (heraanstelling);
f)  Adv Virginia Lee Anne De La Hunt (heraanstelling);
g)  Me CE Simpson;
h)  Me T Mhlan; en
i)  Ambassadeur TJ Ndhlovu.

5.3.  Mnr Kgabo Mahoai as Direkteur-generaal van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking.

Navrae:
Willy Hlopheka Baloyi
Kontak: 083 3907 147
 

Share this page

Similar categories to explore