Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 25 Mei 2016

1.  Implementering van belangrike Regeringsprogramme

1.1. Die Fort Hare-eeufeesviering, voorgegaan deur President Jacob Zuma, was 'n groot sukses. Honderde gaste, insluitend alumni en die President van Zimbabwe, Robert Mugabe, asook diplomate het hierdie toonaangewende mylpaal in die Suid-Afrikaanse geskiedenis bygewoon.

Dit geleentheid het saamgeval met Afrikamaand, wat die stigting van die destydse Organisasie vir Afrika-Eenheid, deesdae die Afrika-Unie (AU), herdenk.

Die Kabinet verwelkom die vordering wat gemaak is om die griewe van studente op te los, wat nie op die beskadiging van eiendom moes uitloop nie.

1.2. Tydens President Jacob Zuma se werkbesoek aan die Republiek van Uganda, het albei staatshoofde tot die verbetering van bilaterale betrekkinge ingestem en die politieke en veiligheidskwessies in die Republiek van Burundi en die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo bespreek.

President Jacob Zuma het ook die inhuldigingseremonie van President Yoweri Museveni bygewoon. Suid-Afrika en Uganda het tot dusver 20 bilaterale ooreenkomste onderteken en sowat 70 Suid-Afrikaanse maatskappye doen tans sake in Uganda. In 2015 het uitvoere van Suid-Afrika na Uganda R1,7 miljard beloop en dié van invoere na Suid-Afrika, R98 miljoen.

1.3 Die Kabinet verwelkom die suksesvolle voltooiing van President Jacob Zuma se staatsbesoek aan Katar en die ondertekening van verskeie ooreenkomste en ondernemings, soos die ooreenkomste oor samewerking op die gebied van  verdediging en polisie, asook op die gebied van kuns, kultuur en erfenis.

Die oprigting van 'n gesamentlike beleggingskomitee om toesig te hou oor die inwerkingstelling van ooreenkomste, benewens die gestruktureerde bilaterale konsultasies, verhoog bilaterale betrekkinge tot 'n strategiese vlak.  

Die President se interaksie met die Suid-Afrika-Katar-Sakeforum het samewerking op sakegebied bevorder en het ten doel om die ekonomieë van albei lande te diversifiseer. Aangesien albei lande as maritieme lande beskou word, is die potensiaal vir samewerking met betrekking tot die oseaan-ekonomie ook bespreek. 'n Aantal Suid-Afrikaanse maatskappye, hoofsaaklik in die petrochemiese sektor, doen in Katar sake. Een van Suid-Afrika se vernaamste beleggings in die Midde-Ooste is Sasol, wat 'n belangrike rol in die ontwikkeling van gasreserwes in Katar speel.

Ander kwessies wat bespreek is, sluit in handel en ekonomiese betrekkinge, asook vrede in die wêreld en die streek, sowel as veiligheidskwessies.

1.4  President Jacob Zuma het veroeding vir grond oorhandig  as deel van Fase 1 van die afhandeling van grondeise in die Nasionale Krugerwildtuin. In totaal is R84 miljoen aan ses gemeenskappe, drie van Limpopo en drie van Mpumalanga, oorhandig. Wat grondoppervlak betref, kom dit neer op 318 000 ha.

Die afhandelingsproses het die belangrikheid van die Nasionale Krugerwildtuin in ag geneem en lewensvatbare geldelike vergoeding verseker, aangesien die eisers nie na die gebied kan terugkeer nie. Dit strook met billike vergoeding ingevolge die Regering se grondhervormingsprogram en dui op 'n belangrike mylpaal in die land se transformasieprogram.

Om die gemeenskappe nog verder te bemagtig, genereer die eenpersent-gemeenskapstoerismefonds nagenoeg R6,5 miljoen per jaar vir die gemeenskap. Dit het gelei tot die bou van verskeie onderriggeriewe, insluitend 'n administrasieblok by die Hoërskool Dumisani, 'n rekenaarlaboratorium by die Hoërskool Masiza, wetenskaplaboratoriums by die hoërskole Tlakulani en Sibusisiswe, asook 'n kombuis en speelterrein vir graad R-leerders van die Laerskool Takheleni. Die bou van vier wetenskaplaboratoriums, een elk by die die Hoërskool Mbuyane, die Sekondêre Skool Mahlale, die Hoërskool Lepato en die Sekondêre Skool Makuya is in oorleg met die gemeenskappe vir 2016/17 geoormerk.

Die Kabinet het die belangrikheid van die vennootskap tussen gemeenskappe met veelvuldige etniese groepe benadruk om maatskaplike samehorigheid te bewerkstellig. Suid-Afrika se grondrestitusiemodel word uit vorige ondervinding aangepas en word tans gegrond op die skepping van volhoubare ekonomiese voordeel in plaas van die problematiese oordrag van 'n enkelbedrag wat gemeenskappe dikwels sonder enige voordeel gelaat het.

Fase 2 van die afhandeling van die grondeis bestaan uit projekte wat sal verseker dat die gemeenskappe oor die langer termyn by sakegeleenthede binne die Krugerwildtuin baat.

1.5 Die uitkomste van die Spitsberaad oor die Integrasie van Vergoedingstelsels onder die tema “Toegang tot billike en volhoubare vergoedingstelsels vir alle werkers” gelei deur die ministers van gesondheid en van arbeid, Aaron Motsoaledi en Mildred Oliphant onderskeidelik, en ondersteun deur die adjunkministers van minerale hulpbronne, van gesondheid en van arbeid, is ontvang.

Die spitsberaad het op arbeidsgesondheid en -veiligheid gefokus met die oog op die ontwikkeling van 'n geïntegreerde vergoedingstelsel vir Suid-Afrika. Die ministers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), Suid-Afrikaanse mynbou en georganiseerde arbeid asook die verenigings vir voormalige mynwerkers het aan die spitsberaad deelgeneem.

Deur middel van die voorgestelde geïntegreerde vergoedingstelsel gaan die Regering seker maak dat mynwerkers en voormalige mynwerkers markverwante vergoeding ontvang om volhoubare welsyn vir hulle en hul gesinne te verseker. In samewerking met die werkersverteenwoordigers en mynbousektor, poog die Regering om 'n moniterings-en-evalueringstelsel in werking te stel wat aansporings aan maatskappye sal gee wat aan goeie veiligheids- en kompensasiebeginsels voldoen.

1.6  Die Kabinet verwelkom die opening van die land se eerste Ontwikkelingsentrum vir die Biovervaardigingsnywerheid (BNOS) in Pretoria deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie.

Die sentrum se werk vorm deel van die Negepuntplan om die potensiaal van klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO's) te ontsluit. Dit ondersteun KMMO's wat betrokke is by biovervaardiging deur hulle in staat te stel om markgeleenthede te ontgin. Maatskappye wat deur die BNOS ondersteun word het toegang tot bioproduksiegeriewe, ondersteuning in navorsing en ontwikkelingslaboratoriums.

Die eerste fase sal permanente en tydelike werkgeleenthede skep en die ekonomiese invloed hiervan word op R250 miljoen per jaar in die volgende vyf jaar beraam. Tans ondersteun die BNOS 19 ondernemings waarvan 16 in swart besit is; dit sluit 10 swart vroue-ondernemings in. Daarbenewens is 55 permanente en 171 tydelike werkgeleenthede reeds geskep, en sowat 54 bied indiensopleiding aan.

1.7 Die aankondiging deur die Minister van Energie, Tina Joemat-Pettersson, om 'n gasbeleid te ontwikkel, stuur die land in die rigting van 'n ekonomie met volhoubare aardgas. Die bekendstelling van gas as 'n bykomende bron van krag in Suid-Afrika se energiemengsel sal die afhanklikheid van steenkool verminder en voldoende, diverse en veilige energiebeskikbaarheid aan inwoners en die ekonomie, nou en in die toekoms, verseker. Dit sal ook die land se vermoë om 'n hergeïndustrialiseerde ekonomie, 'n hoër en inklusiewe groeikoers en werkskepping te realiseer, verbeter.

Intussen is die Departement van Energie besig met 'n gas-tot-krag-program, wat 3 726 MW sal opwek en as katalisator vir die ontwikkeling van die plaaslike gasbedryf sal dien, wat ontginning in 'n beleggergunstige omgewing sal bevorder. Werkgeleenthede wat direk en indirek met dié industriële ontwikkeling verband hou, kom neer op nagenoeg 1,25 miljoen voltydse ekwivalente werksgeleenthede oor 25 jaar. Oor die korter termyn sal die gas-tot-krag-program help om trae ekonomiese groei te verskans en sodoende werkverliese voorkom.

1.8 Die amptelike bekendstelling van die Nasionale Energiebesparingsveldtog tydens die 2016 Week van Munisipaledienste-konferensie, aangebied deur die Departement van Energie, bou voort op die Regering se energiebesparingsveldtog, wat in 2015 deur President Jacob Zuma bekend gestel is.   

1.9 'n Veldtog om toestelle na te gaan, word ook binnekort bekend gestel om energiedoeltreffendheid te meet en verbruikers 'n keuse te gee wanneer hulle huishoudelike toestelle koop. Alle toestelle sal 'n etiket kry wat hul werkverrrigting met betrekking tot die minimum energieprestasiestandaard sal aandui.

1.10 Die Kabinet neem kennis van die Missie vir die Inwaartse Verkryging van Energie in Afrika, wat deur die Departement van Handel en Nywerheid en die Suid-Afrikaanse Elektrotegniese Uitvoerraad aangebied word.

Suid-Afrikaanse maatskappye met kundigheid in vervaardiging en ingenieurswesedienste is aan verteenwoordigers van kragverskaffers van Ethiopië, Kenia, Tanzanië, Suid-Soedan en Nigerië blootgestel. Dit posisioneer Suid-Afrikaanse maatskappye om beleggingsgeleenthede in kraginfrastruktuur in Afrika te benut, wat na raming tussen $2 miljard en $42 miljard per jaar oor die volgende 10 jaar sal beloop.

1.11 Die Kabinet is bemoedig deur die bekendstelling van die langtermynoplossing vir die probleem van suur mynwater (SMW) in die Sentrale Kom in Germiston waarvan tweederdes deur die mynbou en eenderde deur watergebruikers befonds sal word.

Dit volg op die suksesvolle voltooiing van die korttermyn-oplossing onder die Interministeriële Komitee oor suur mynwater. In 2011 het die Regering aan die Trans-Caledon Tonnelowerheid, 'n staatsbeheerde instelling wat onder die Departement van Water en Sanitasie resorteer, 'n mandaat gegee om 'n korttermynoplossing vir suur mynwater in Gauteng te vind.

Die doel van die langtermynoplossing is om besoedelde water verder te behandel deur sulfate te verwyder sodat die water vir kommersiële, industriële of drinkwater aangewend kan word.

1.12 Die Kabinet doen 'n beroep op alle burgers van Lesotho wat onwettig in Suid-Afrika woon om voor 30 Junie 2016 vir ’n spesiale permit vir burgers van Lesotho by 'n visumdienssentrum aansoek te doen.

Die spesiale permit word uitgereik kragtens 'n spesiale ooreenkoms rakende burgers van Lesotho wat in Suid-Afrika werk, studeer of sake doen en sedert 30 September 2015 om hierdie redes in die land is. Daarbenewens, word burgers van Lesotho wat wat op bedrieglike wyse Suid-Afrikaanse dokumente verkry het, aangeraai om hulle aan die aangewese kantore van Binnelandse Sake  oor te gee en 'n amnestiebrief te kry.

Die amnestie verstryk op 31 Desember 2016. Werkgewers wat burgers van Lesotho in diens neem, sal ook by hierdie permit baat.

1.13 Die Kabinet verwelkom die aankondiging deur die Minister van Sport en Ontspanning, Fikile Mbalula, dat die SAUK weer plaaslike boksgevegte gaan uitsaai. Die Sauk se programme "Boxing is Back" en "TKO" bereik reeds meer as 1,3 miljoen huishoudings. Die terugkeer van hierdie sport op televisie sal die inkomste van Boks Suid-Afrika 'n groot hupstoot gee, en vroueboks en ontluikende bokspromotors ondersteun.

2.  Sleutelkabinetsbesluite

2.1 Die Kabinet is ingelig oor die voltooiing van onderhandelinge en wetlike verfyning van die ekonomiese vennootskapsooreenkomste tussen die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Europese Unie (EU).
Die Kabinet keur goed dat die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms aan die Parlement voorgelê word.

Die ooreenkoms sal 'n enkele handelsooreenkoms tussen die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) en die EU daarstel. Dit sal Suid-Afrika se voorkeurtoegang tot die Europese mark ten opsigte van verskeie landbouprodukte soos suiker, etanol, wyn, visprodukte en vrugte bevorder. Die ooreenkoms bou voort op die Samewerkingsooreenkoms van Handel en Ontwikkelingsamewerking (SOHO) wat Suid-Afrika in 2000 met die EU gesluit het.

Die ooreenkoms gee Suid-Afrika bykomende ruimte ten opsigte van beleid op verskeie gebiede. Suid-Afrika het ook 'n bilaterale protokol oor geografiese aanwysers met die EU beding weens die groeiende belangstelling in die beskerming van wynname en gespesialiseerde landbouprodukname. As sodanig, sal 102 wynname ingevolge die ooreenkoms en drie landbouprodukname – rooibos, heuningbos, en Karoolam – beskerm word.

Die ooreenkoms strook met die beginsels van die Nasionale Ontwikkelingsplan om Suid-Afrika se industrialisering en uitvoer na die EU te bevorder. Belangriker nog, die ooreenkomste bevorder die ontwikkeling van plaaslike waardekettings in Afrika en dra sodoende by tot streeksintegrasie.

2.2 Die Kabinet keur dat die Groenskrif oor Internasionale Migrasie in die Staatskoerant gepubliseer word vir openbare kommentaar. Die Kabinet is ingelig oor verdere samesprekings met belanghebbendes rakende die Groenskrif vir 2016/17.

Die Groenskrif strook met die Nasionale Ontwikkelingsplan en bepaal dat om armoede te beëindig en behoorlike werk te skep, migrasie aangewend moet word om hierdie patrone te breek, deur ons vaardighede en kennis uit te brei en struikelblokke vir streekontwikkeling uit die weg te ruim. Dit vereis dat Suid-Afrika strategies in die verdere ontwikkeling van 'n doeltreffende en veilige immigrasiestelsel belê.

Die inwerkingstelling van internasionale migrasie sal ons nader aan 'n balans tussen ontwikkelingsbehoeftes en die land se integriteit en nasionale veiligheid bring.

2.3 Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye om saam met die Akwakultuurvereniging van Suider-Afrika van 26 tot 30 Junie 2017 die Wêreldakwakultuurvereniging-konferensie aan te bied. Dit is die eerste keer dat die Wêreldakwakultuur-konferensie in Afrika gehou word.

Die Regering het die akwakultuursektor benoem om 'n deurslaggewende rol in voedselsekerheid en ekonomiese groei in die land te speel. Akwakultuur vorm deel van die kerninisiatief van Operasie Phakisa: Oseaanekonomie.

Die aanbieding van hierdie konferensie sal Suid-Afrika in staat te stel om ontwikkeling van en belegging in die akwakultuursektor te bespoedig deur inligting en kennis asook netwerkgeleenthede te deel.
Die aanbieding sal ook ’n geleentheid bied vir die toerismesektor om die land se toerisme-aktiwiteite ten toon te stel, terwyl plaaslike boere hul tegnologie-innoverings sal kan uitstal by die handelsuitstalling, waar meer as 100 uitstallers van die voorste akwakultuurlande regoor die wêreld teenwoordig sal wees.

Lande in Afrika sal ook kan deelneem en hul produkte kan uitstal, wat op sy beurt 'n positiewe uitwerking op ekonomiese ontwikkeling vir die akwakultuursektor in Afrika en Suid-Afrika sal hê.

2.4  Die Kabinet is ingelig oor die afrondings aan die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk (MTSR) se hoofstuk oor Uitkoms 12 en die 2016/17 Program van Aksie. Dit werp lig op die Kabinet se besluit om die MTSR se hoofstuk oor Uitkoms 12 - 'n doeltreffende en ontwikkelingsgeoriënteerde staatsdiens, vir die tydperk 2014-2019 en die Nasionale Ontwikkelingsplan – beter met mekaar te versoen.

3. Komende gebeure

3.1 In Junie vier ons die 40ste herdenking van die 16 Junie 1976-opstand, wat die sosio-politieke landskap in Suid-Afrika indringend verander het. Die herdenking val onder toesig van 'n interministeriële komitee.

Jeugmaandvieringe onder die tema "Die jeug neem Suid-Afrika vorentoe" sal op 1 Junie 2016  by die Hector Petersen-gedenkmonument in Soweto, deur die Minister in die Presidensie, Jeff Radebe, bekend gestel word. Die program sal 'n maand lank duur en gekoördineer word deur die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap.

Die program sal daarop fokus om die jeug aan te moedig om geleenthede oor verskeie sektore aan te gryp om hul lewens te verbeter en doeltreffend tot die ontwikkeling van die ekonomie en die land by te dra.

Die vieringe sal opbou tot die Nasionale Jeugdag-verrigtinge op 16 Junie 2016 waartydens President Jacob Zuma by die Orlando-stadion in Soweto sal optree.

3.2 Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sal die Nasionale Kinderbeskermingsweek op die plaas Braakspruit, naby Klerksdorp op 29 Mei 2016 bekend stel onder die tema: "Laat ons ons kinders beskerm en Suid-Afrika vorentoe beweeg".  Die week sal saamval met ’n Internasionale Kinderdag op 1 Junie 2016, waartydens President Jacob Zuma die verrigtinge by 'n weeshuis en jeugsentrum in Atteridgeville, Gauteng, sal lei. Dit sal op 5 Junie 2016 in Amersfoort, Mpumalanga, ten einde loop.

Die Kabinet doen 'n beroep op gemeenskappe om hul kinders teen verwaarlosing, misbruik, geweld en uitbuiting te beskerm en sulke voorvalle by die owerhede aan te meld.

3.3 Die Departement van Omgewingsake sal Wêreldomgewingsdag op 5 Junie 2016 aanbied en Suid-Afrikaners aanmoedig om positiewe stappe te doen om ons omgewing en die planeet te beskerm. Vanjaar se tema vir Wêreldomgewingsdag is: "Word wild vir lewe," en fokus op natuuurlewemisdaad en die skade wat dit veroorsaak.

Suid-Afrika se sukses met die bewaring van ons biodiversiteit stel die land bloot aan georganiseerde, transnasionale omgewings- en wildlewemisdaad. Dit het 'n verwoestende invloed op ekostelsels, 'n volhoubare lewensbestaan en toerisme.

3.4 Die viering van Wêreldoseanedag op 8 Junie 2016 onder die tema "Gesonde Oseane, Gesonde Planeet" help om die invloed van oseane op ons land en die verskillende maniere waarop oseane tot ons ekonomie bydra, na vore te bring. Dit beklemtoon ook die uitdagings in die hantering van mariene besoedeling, die handhawing van oseane se kapasiteit om die wêreldklimaat te reguleer, die verskaffing van noodsaaklike ekostelseldienste en van 'n volhoubare lewensbestaan en veilige ontspanning.

4.  Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

4.1 Die Regering fokus steeds daarop om ekonomiese groei te bevorder, bestaande poste te behou en meer volhoubare werksgeleenthede te skep deur met die sake- en arbeidsektore saam te werk. Deur middel van ons program van strukturele hervormings en fiskale konsolidasie, sal die Regering besteding in toom hou om te verseker dat ons ekonomie sterker na vore kom wanneer die wêreldekonomie herstel.

President Jacob Zuma het 'n paar doeltreffende ingrypings bekend gestel deur vennootskappe, plaaslik en internasionaal, om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder.

4.2 Die Kabinet neem kennis van die toenemende aantal beleggingsinisiatiewe wat onlangs aangekondig is wat dui op vertroue deur die internasionale beleggingsgemeenskap in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dit toon verder dat ons land se ekonomie besig is om te herstel en dat ons steeds as 'n lewensvatbare beleggingsbestemming beskou word.

Die omvang van die volgende beleggings dui op internasionale motorprodusente se voortgesette vertroue in Suid-Afrika as 'n beleggingsbestemming en die Regering se ondersteunende beleidsomgewing. 

4.3 Dit sluit in die belegging deur Toyota vir 'n nuwe Toyota Hilux-en-Fortuner-vervaardigingsaanleg in Prospecton, Durban, wat deur President Jacob Zuma geopen is. Dit is moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Departement van Handel en Nywerheid wat in die afgelope vyf jaar beleggings van meer as R25 miljard na die motorbedryf gelok het. Hierdie beleggings sal meer as 4 000 werkgeleenthede skep; die totale indiensneming van die aanleg staan reeds op meer as 8 000 werkgeleenthede.

Hierdie aanleg is deel van Toyota se R6,1 miljard-belegging in Suid-Afrika se vervaardigingsbedryf en plaaslike voertuigproduksie.

Toyota het verkryging in die voorraadketting op die plaaslike mark verhoog om verskaffers te ondersteun. Daarbenewens fokus die maatskappy op die werwing van vroulike tegnici en die verskaffing van meer geleenthede vir vroue in die arbeidsmag.

4.4 Die Kabinet verwelkom ook BMW se aankondiging oor die bou van 'n nuwerwetse monteeraanleg van R6 miljard. Die uitbreiding sal BMW in staat stel om die volgende generasie van die BMW X3 te vervaardig en uit te voer. Dit dui op Rosslyn as 'n hoogs mededingende aanleg binne die internasionale BMW-produksienetwerk in terme van produksiekoste en gehalte.

4.5 In 'n ander belegging het die Minister van Handel en Nywerheid 'n Dursots & All Joy-tamatieverwerkingsaanleg in Modjadjiskloof naby Tzaneen bekend gestel. Die fabriek het tans 70 mense in diens en het die potensiaal om dit teen volgende jaar tot 300 te laat styg. Dit sal ook 'n verdere 900 seisoenswerkgeleenthede skep. Die maatskappy is van plan om 25% van sy produkte na die Midde-Ooste, China en die res van Afrika te stuur.

Hierdie beleggings dui op die bestendige toepassing van die Negepuntplan en die Nywerheidsbeleidaksieplan (NBAP) wat fokus op waardetoevoeging uit die vervaardigingsbedryf, asook werkskepping en die verhoging van uitvoer om die ekonomie te laat groei en werk te skep. Ondanks die moeilike wêreldekonomie is die Suid-Afrikaanse ekonomie gereed om te groei.

4.6  Die Kabinet herinner alle stemgeregtigde kiesers om op 3 Augustus 2016 hul demokratiese reg verantwoordelik uit te oefen. Die Kabinet spreek sy dank uit aan alle kiesers wat geregistreer het en hul besonderhede nagegaan het, om te verseker dat hul name op die kieserslys verskyn, wat nou gesluit is.

Minister van Rooyen het die datum van die plaaslike regeringsverkiesings in die Staatskoerant gepubliseer en afgekondig. Dit beteken die verkiesingsproses volgens die verkiesingrooster kan nou begin. Met die aankondiging is die kieserslys vir deelname aan die komende verkiesing ook nou gesluit. 

Die Kabinet verwelkom politieke partye se ondertekening van die Verkiesingskommissie se gedragskode waardeur hulle hul verbind om by die reëls te hou en 'n vry en regverdige verkiesing te verseker. Dit dui aan dat ons demokrasie verdiep en besig is om volwassenheid te bereik.

4.7 Die Kabinet verwelkom die 2016 Spesiale Vergadering van Nasionale Lede gehou deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (SAVPR). Dit gebeur te midde van die land se oorgang na die volgende termyn van plaaslike regering voor die 2016 munisipale verkiesings.

Die vergadering fokus op vordering wat die afgelope 16 jaar en tydens hierdie termyn van plaaslike regering gemaak is. Die rol van plaaslike regering in die lewering van dienste en die herstel van menswaardigheid is ook onder die loep geneem. Sleuteluitdagings is ook bespreek en 'n herverbintenis tot die DKRTS se Terugkeer na die Basiese Beginsels-program is gemaak.

Dit baan die weg vir die vierde demokratiese termyn van plaaslike regering deur 'n ondersteuningsprogram vir munisipaliteite te verskaf en die oorgang te bestuur om stabiliteit en ononderbroke dienslewering aan Suid-Afrikaners te verseker.

4.8 Die Kabinet spreek sy kommer uit oor die ontwrigting in die Parlement, wat al meer voorkom en al hewiger raak. Die Parlement is 'n instelling van ons demokrasie waarvoor ons hard geveg het en 'n openbare platform wat almal moet respekteer.

4.9 Die Kabinet loof die werk van die Interministeriële Komitee onder leiding van die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Des van Rooyen, en die provinsiale taakspan, om normaliteit in Vuwani te herstel, maar neem kennis van die uitdagings wat steeds in ander gebiede voortduur.

Die Regering het onverpoosd met gemeenskappe saamgewerk om kwessies op te los en dienste, insluitend onderwys, te herstel. Die verskaffing van tydelike klaskamers het verseker dat akademiese aktiwiteite kon voortgaan.

Die Regering doen weer 'n beroep op gemeenskappe en leiers om kwessies deur middel van die regte kanale en platforms te hanteer wat daargestel is om dialoog te bewerkstellig. Dit kommerwekkende optrede om die opvoeding van ons kinders in gedrang te bring, is onaanvaarbaar.

Die Kabinet loof die wetstoepassingsagentskappe vir hul werk wat gelei het tot die inhegtenisneming van 34 mense, wat verdink word dat hulle aan die vernietiging van 28 skole deelgeneem het en die toekoms van die jong mense wat hierdie broodnodige geriewe wil gebruik, in gedrang gebring het.

Die Kabinet loof die gemeenskappe en burgerlike organisasies wat ingespring het om op te ruim en geld in te samel om die skole te heropen.  Ouers, voogde en die gemeenskap word versoek om leerders by te staan om hul werk in te haal volgens die geskeduleerde werkplan van die Departement van Basiese Onderwys. Die IMK sal by belanghebbendes en gemeenskappe betrokke bly om te verseker dat die hele gebied kalm is en weer normaal funksioneer.

4.10 Die Kabinet het besin oor die protesoptrede in Hammanskraal en aangedui dat die Departement van Menslike Nedersettings saam met die Gautengse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en Menslike Nedersettings, asook die uitvoerende burgemeester van Tshwane, Raadslid Kgosientso Ramokgopa, gaan saamwerk om in die gebied in te gryp.

Die Kabinet betreur die dood van twee kontrakteurs wat betrokke was by die uitsettings in Hammanskraal en betuig sy innige meegevoel met die betrokke families. Wetstoepassingsagentskappe moet die moordenaars vind en hulle aan die kaak stel.

4.11 Die Kabinet wens die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie geluk met sy besluit om 90% plaaslike musiek oor al sy radiostasies uit te saai om plaaslike musiek te bevorder.

Die besluit weerspieël die Regering se uitsaaibeleid wat die kulturele en maatskaplike struktuur van Suid-Afrika beveilig, aanmoedig en versterk. Hierdie blootstelling dien ook as motivering vir alle opkomende Suid-Afrikaanse talent.

Die Kabinet moedig alle burgers aan om ons plaaslike musiekbedryf te ondersteun aangesien dit 'n beduidende bydrae tot die ekonomie sal maak en diverse kulture in die land sal bewaar.

4.12 Die Kabinet neem kennis van die ondersoek oor nege buitelandse vissersbote deur die Departement van Landbou Bosbou en Visserye en prys die gekombineerde optrede saam met die Suid-Afrikaanse Vloot, die Departement van Visserye en die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid wat daartoe gelei het dat vier van die vaartuie aangekeer is.

Dit dui op die erns waarmee die Regering ons territoriale en eksklusiewe ekonomiese sone beskerm. Ons mariene hulpbronne is 'n bron van voedselsekerheid en speel 'n belangrike rol om die doelwitte van Operasie Phakisa na te kom en moet beskerm word.

4.13 Die Kabinet verwelkom die vrystelling van die verslag van die ministeriële taakspan wat Minister Angie Motshekga aangestel het om bewerings oor die verkoop van poste van onderwysers deur lede van onderwysersvakbonde en departementele amptenare in provinsiale onderwysdepartemente te ondersoek.

4.14 Die Kabinet wens die Suid-Afrikaaners geluk wat die 2016 Maatskaplike Entrepreneurstoekennings ontvang het. Die toekennings word deur die Schwab-stigting vir Maatskaplike Entrepreneurskap oorhandig. Die geleentheid is aangebied tydens die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) Afrika in Kigali, Rwanda. Die ontvangers was die entrepreneur Luvuyo Rani en The Clothing Bank.

4.15 Die Kabinet bring hulde aan die voormalige Adjunkhoofregter, Dikgang Moseneke, wat onlangs afgetree het en wens hom alles van die beste toe. Hy het in 2002 by die Konstitusionele Hof aangesluit.

Die voormalige adjunkhoofregter is 'n hoogaangeskrewe regsgeleerde en gerespekteerde veteraan in die land se bevrydingstryd. Moseneke was in sy jeug betrokke by die vryheidstryd as lid van die PAC. Hy is verhoor en skuldig bevind vir sy politieke bedrywighede en was op die ouderdom van 15 die jongste aangehoudene op Robbeneiland.

Hy was ook deel van die tegniese komitee wat die tussentydse Grondwet in 1993 opgestel het en is later as adjunkvoorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie voor Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing aangestel.

Die Kabinet bring ook hulde aan die Appèlhofpresident, Regter Lex Mpati, wat in Mei ná 27 jaar se luisterryke diens aan Suid-Afrika aftree. Regter Mpati verpersoonlik die waardes om bo jouself uit te styg, beskeidenheid, toewyding, uitnemendheid en etiese gedrag.

Die Kabinet wens regter Baaitse "Bess" Nkabinde voorspoed toe met sy pos as waarnemende adjunkhoofregter van die Konstitusionele Hof totdat die pos gevul word.

5. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike uitklarings.

5.1 Kantoor van die Staatsdienskommissie:
a)  Dr DC Mamphiswana as Direkteur-generaal in die Kantoor van die  Staatsdienskommissie.

Navrae: Liezel Cerf
Skakel: 076 778 2380

Share this page

Similar categories to explore