Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 2 Maart 2016

1. Implementering van belangrike regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom die 2016 Begrotingsrede, wat op 24 Februarie 2016 deur die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, gelewer is. Hierdie begroting demonstreer die land se veerkragtigheid, toewyding en vindingrykheid terwyl ons die ergste ekonomiese tydperk in die onlangse geskiedenis bestuur.

Die begroting reageer op wat die land nodig het en skep vertroue in die ekonomie deur die land op 'n geloofwaardige, volhoubare en lewensvatbare inklusiewe ekonomiese groeipad te plaas.
Die Kabinet verwelkom voorts die beslissende kostebesparingsmaatreëls en verbind hom tot samewerking met alle sektore om by te dra tot 'n gesamentlike nasionale poging om die koers wat deur die begroting opgestel is te implementeer.

1.2. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Presidensiële Perskorps (PPK) deur President Jacob Zuma. Die PPK sal uit politieke redakteurs, politieke korrespondente, politieke verslaggewers en ekonomiese joernaliste bestaan, wat geakkrediteer is om op 'n voltydse en deurlopend basis oor Die Presidensie verslag te doen.

Die PPK is daarop gemik om verbeterde toegang tot inligting aan die media te verskaf. Dit sal ook die media se toegang tot die President en Die Presidensie vergemaklik, om te verseker dat joernaliste met agtergrondinligting en prosesse toegerus word sodat hulle met beter begrip en insig verslag kan doen. Kernlede van die pers sal ook deur die Adjunk-President en enige ander ministers wat deur die president genooi word om programme van nasionale belang te deel, ingelig word.

1.3. Die Kabinet spreek sy waardering uit vir die bydrae wat Suid-Afrika gemaak het om vrede in Burundi te herstel, ooreenkomstig die verpligtinge van ons buitelandse beleid om vrede en stabiliteit op die vasteland te verseker.

Die Kabinet verwelkom verder die uitkomste van die inklusiewe Inter-Burundidialoog wat tydens die besoek van die Afrika-unie (AU) se hoëvlakafvaardiging van staatshoofde en die Regering te Bujumbura in Burundi, onder leiding van President Zuma, gehou is.

1.4. Die Kabinet verwelkom President Zuma se aanstelling deur die Verenigde Nasies (VN) se Sekretaris-generaal, Ban Ki-moon, as mede-voorsitter van die hoëvlak Kommissie oor Gesondheidsindiensneming en Ekonomiese Groei, saam met President François Hollande van die Republiek van Frankryk. Dit is nie die eerste keer dat President Zuma deur 'n wêreldliggaam aangestel word om werk op ‘n internasionale vlak te verrig nie. Hierdie aanstelling is ter erkenning van ons President se voortreflike leierskap in die internasionale arena.

Die kommissie sal die skep van nuwe werkgeleenthede in die gesondheidsektor in verskeie lande stimuleer, veral in dié wat die minste ontwikkel is. Dit versterk ook die implementering van die 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling, wat 'n belangrike bydrae tot die hantering van die driedubbele uitdaging van werkloosheid, armoede en ongelykheid sal lewer.

1.5. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die 2016 Nasionale Gemeenskapsopname in Mamelodi, Pretoria deur die Minister in die Presidensie, Jeff Radebe, en die Statistikus-generaal, Pali Lehohla. Vanjaar se opname word onder die tema: "Die Suid-Afrika wat ek ken, die huis wat ek verstaan" gehou en teiken meer as 1,5 miljoen huishoudings. Dit is die grootste tot dusver in vergelyking met die een wat vyf jaar gelede net 300 000 huishoudings geteiken het. Die opname sal in April gedoen word en die uitslae sal teen die einde van Junie 2016 beskikbaar gestel word.

1.6. Die Kabinet neem met kommer kennis van die verslag wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling aan die Onderoek na die Gesondheidsmark onder leiding van Regter Sandile Ngcobo, oorhandig is. Die verslag dui daarop dat Suid-Afrika in vergelyking met ander lande, die duurste mediese dienste lewer. Die Kabinet sal wag tot die ondersoek afgehandel is voordat uitspraak oor hierdie saak gelewer word.

2. Belangrike kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet keur die publikasie van die Konsepstrategie vir die Bekamping van Lugbesoedeling in Digbevolkte Lae-inkomstegemeenskappe van Suid-Afrika vir openbare kommentaar goed. Die strategie poog om 'n toegewyde gefokusde benadering te voorsien vir die hantering van die hoë besoedelingsvlakke in 'n paar digbevolkte lae-inkomstegemeenskappe. Dit bied 'n gekoördineerde benadering tot die implementering van pogings om huishoudelike brandstofverbranding te verminder. Die ingryping is daarop gemik om te verseker dat hierdie gebiede aan die Nasionale Luggehaltestandaarde voldoen. Hierdie gefokusde strategie sal die bestaande nasionale strategie wat lugbesoedeling hanteer, ondersteun.

2.2. Die Kabinet verleen sy goedkeuring aan die  mede-aanbieding van die 21ste Internasionale Vigskonferensie (AIDS 2016) deur die Regering en die Internasionale Vigs-vereniging van18 tot 22 Julie 2016 by die Internasionale Konferensiesentrum in Durban. Die aanbied van die konferensie sal ons land se reaksie op MIV en tuberkulose bevorder, terwyl dit ook 'n impak sal hê op een van die grootste uitdagings in Suid-Afrika, die streek en die wêreld.

Hierdie konferensie sal 'n platform bied vir navorsers van regoor die wêreld om die nuutste wetenskaplike vooruitgang op die gebied te deel, om van mekaar se kundigheid te leer en om strategieë te ontwikkel vir die bevordering van alle fasette van ons gesamentlike pogings om MIV te behandel en te voorkom.

3. Wetsosntwerp

3.1. Die Kabinet verleen goedkeuring vir die indien van die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Landvervoer van 2015 aan die Parlement, wat die Wet op Nasionale Landvervoer, 2009 (Wet 5 van 2009) wysig. Die wysigings aan die Wet op Nasionale Landvervoer van 2009 sal die proses van transformasie en herstrukturering van die Nasionale Landvervoerstelsel bevorder. Dit sal bydra tot 'n veiliger, toeganklike en doeltreffende openbare vervoerdiens.

Die Wetsontwerp maak voorsiening vir nuwe ontwikkelings in die openbare vervoersektor. Die Wetsontwerp maak voorsiening vir leiding met onder meer, nie-gemotoriseerde vervoer; e-afkomstige vervoerdienste, en die aanbring van handelsmerke op openbare vervoer. Dit maak ook voorsiening vir administratiewe duidelikheid oor die gedelegeerde magte en regulasies ten opsigte van die uitreik van bedryfslisensies vir openbare vervoer.
Hierdie Wetsontwerp sal ook die implementering van Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerke moontlik maak en dit vorm deel van die Nasionale Infrastruktuurplan en die Strategiese Geïntegreerde Projek 7, wat op die gebruik van gekoördineerde ontwikkeling van stedelike en geïntegreerde vervoernetwerke fokus om stede as aandrywers vir groei te vestig.

4. Toekomstige gebeure

4.1. President Zuma sal van 8 tot 9 Maart 2016 'n staatsbesoek na die Federale Republiek van Nigerië onderneem. Die staatsbesoek sal bestaande bilaterale verhoudings verbeter en intra-streekshandel verder bevorder.
4.2. Menseregte-maand word in Maart 2016 onder die tema: "Suid-Afrika verenig teen rassisme" gevier. Die Departement van Kuns en Kultuur het 'n maandlange program opgestel wat 'n reeks gesprekke insluit oor samewerking om 'n nie- rassige, nie-seksistiese, gelyke en demokratiese samelewing te bou.

Die Kabinet nooi Suid-Afrikaners uit om voor 30 Junie 2016 kommentaar te lewer op die Nasionale Aksieplan vir die bestryding van Rassisme, Rassediskriminasie, Xenofobie en Verwante Onverdraagsaamheid (2016-2021). Die plan bied die grondslag vir 'n openbare beleid teen rassediskriminasie wat sal help om uitvoering te gee aan ons internasionale verpligtinge ten opsigte van menseregte. 

4.3. Die Rusland-Afrika dialoog teen dwelms, wat van 8 to 9 Maart 2016 by die Internasionale Konferensiesentrum in Durban gehou word, voorsien 'n platform vir die verbetering van die Nasionale Dwelmmeesterplan (2013-2017).

Die stryd teen onwettige dwelms is in lyn met die Nasionale Ontwikkelingsplan, en die dialoog vind plaas onder die vaandel van die AU ter nakoming van verpligtinge ingevolge die VN se Konvensie oor Dwelm- en Transnasionale Georganiseerde Misdaad, die AU se Plan van Aksie vir Dwelmbeheer (2013 -2017) en die BRICS-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) se resolusies.

Die konferensie is 'n opvolgsessie van die Rusland-Afrika dialoog teen dwelms, wat daarop gemik is om 'n gekonsolideerde standpunt te bied oor hoe wêreldleiers beplan om die internasionale dwelmprobleem aan te pak. Dit sal by die spesiale sitting van die VN se Algemene Vergadering in April 2016 ter tafel gelê word.

4.4. Die Regering – in vennootskap met die Statebondsekretariaat, die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap – is van 8 to 10 Maart 2016 gasheer vir die tweede Statebondkonferensie oor Jeugwerk by die Unisa-kampus in Pretoria. Die konferensie vind plaas onder die tema: "Betrek Jongmense by Nasiebou: die Jeugwerker se Rol" en sal die rol van jeugwerkpraktisyns en akademici om jongmense by die ontwikkeling van hul lande te betrek, herondersoek.

5. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

5.1. Die Kabinet beklemtoon President Zuma se boodskap oor die behoefte om respek te toon vir die instellings en prosesse wat in terme van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 en die wet, geskep is. President Zuma hanteer die kwessie van die Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Minister van Finansies deur die regte kanale en deur van die korrekte wetlike voorskrifte gebruik te maak.

Die President stel maatreëls in om die kwessies op 'n verantwoordelike en vriendskaplike wyse tot voordeel van almal te hanteer. Die Kabinet doen  'n beroep op alle belanghebbendes om kalm te bly en selfbeheersing uit te oefen, sodat die sake deur middel van die korrekte kanale opgelos kan word.

5.2. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om op 5 en 6 Maart 2016 vir die 2016 plaaslike verkiesings te registreer. In teenstelling met die nasionale verkiesings, vereis die plaaslike verkiesings dat kiesers by die wyk waar hulle woon moet registreer.

Dit is belangrik om 'n identiteitsdokument (ID) te hê – beide die groen strepieskode-ID en Slimkaart-ID sal aanvaar word – en om jou registrasiestatus, wyknommer en stemplek na te gaan. Alle kantore van Binnelandse Sake sal op 5 en 6 Maart 2016 van 08:00 tot 17:00 oop wees, ooreemkomstig die Onafhanklike Verkiesingskommissie se dienstye vir die twee dae.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle jongmense en mense wat vir die eerste keer stem om te registreer om te stem. Deur jou stem uit te bring neem jy 'n belangrike stap om ’n bydrae te maak tot die besluite wat jy en jou gemeenskap beïnvloed. Plaaslike regering is in jou hande!

5.3. Die Kabinet veroordeel die gewelddadige studente-protesoptogte, wat studies by sekere universiteite ontwrig het en tot die vernietiging van eiendom gelei het. Hierdie protes ontneem verdienstelike studente die geleentheid om hul studies voort te sit en het ’n uitwerking op hul reg tot hoër onderwys. Die Regering het kommunikasiekanale met alle belanghebbendes in hoër onderwys oopgestel vir besprekings en dialoë. Dit het gelei tot die herstel van normaliteit en die bevordering van maatskaplike samehorigheid in ons universiteite, wat poog om oplossings vir die medium- tot langtermynuitdagings wat met die transformasie van die sektor verband hou, ooreenkomstig die besluite van die 2015 Spitsberaad oor Transformasie in Hoër Onderwys.

Die Kabinet ondersteun die pogings van wetstoepassingsagentskappe om te verseker dat die kultuur van leer herstel word, en dat eiendom en die regte van individue beskerm word. Die beginsel van regsoewereiniteit is uiters belangrik en moet te alle tye gehandhaaf word. Normaliteit en kalmte moet by ons universiteite herstel word sodat die akademiese programme kan voortgaan terwyl die medium- tot langtermyn-uitdagings aangepak word.

Die Kabinet loof die studente wat saamgestaan het teen rassisme en anti-wit chauvinisme, wat as 'n voorbeeld dien dat ons almal kan saamwerk om voort te bou op die vordering en winste wat in die tersiêre onderwyssektor gemaak is ter voorbereiding vir hierdie akademiese jaar. Ons moet daardie vordering beskerm sodat orde by al ons universiteite herstel en bewaar word.

Die Kabinet doen ook 'n beroep op alle belanghebbendes om saam te werk sodat ons universiteite leiers van inklusiewe betrokkenheid en transformasie kan word.

5.4. Die Kabinet neem kennis van die voorgestelde samesmelting van drie bottelerary- ondernemings vir die Coca-Cola-maatskappy in Suid-Afrika. Die Kabinet neem kennis dat die saak voor die Mededingingstribunaal aangehoor sal word. Die Kabinet spreek sy kommer uit oor voorgestelde werkverliese en 'n afname in indiensneming weens samesmeltingtransaksies. In die lig van die hoë werkloosheidsvlakke, doen die Kabinet 'n beroep op maatskappye om seker te maak dat daar nie 'n verlies aan werkgeleenthede sal wees nie en dat indiensnemingdvlakke in stand gehou word.

5.5. Die Kabinet wens die Suid-Afrikaanse Ambassadeur by die Wêreldhandelsorganisasie (WHO), mnr Xavier Carim, geluk met sy verkiesing as voorsitter van die Liggaam vir die Skikking van Geskille van die WHO se Algemene Vergadering. Die Algemene Vergadering is die hoogste besluitnemingsliggaam van die WHO tussenin die Ministeriële Vergadering. Die aanstelling van Ambassadeur Carim is ’n gedeeltelike erkenning van die belangrike rol wat Suid-Afrika in die WHO speel en gedeeltelike getuienis van Ambassadeur Carim se eienskappe.

5.6. Die Kabinet neem kennis van Barclays PLC se aankondiging dat hy van voorneme is om sy 62,3 persent aandeelhouding in die Barclays Africa Group Limited (BAGAL) oor die volgende twee tot drie jaar te verminder. Barclays PLC, in die besonder die uitvoerende hoof, het met beide die Nasionale Tesourie en die Reserwebank 'n oop gesprek gevoer, en ons verwelkom die maatskappy se verbintenis tot implementering van sy nuwe strategie op 'n manier wat die impak op die ekonomieë waarin Barclays PLC en BAGL bedryf word, tot ’n minimum sal beperk. Die Reserwebank sal saam met Barclays PLC en BAGL werk om te verseker dat enige potensiële risiko's uit die transaksie verminder sal word en gepaste maatreëls getref sal word om kapitaalvloei wat uit die transaksie voortspruit, te bestuur. 

5.7. Die Kabinet bring hulde aan al die finaliste en wenners van die Nasionale Onderwystoekennings wat op 27 Februarie 2016 oorhandig is. Hierdie toegewyde onderwysers laat ons land vooruitgaan deur te verseker dat hulle gemotiveerde leerders in hul klaskamers oplei, wat tot die ontwikkeling van Suid-Afrika sal bydra.

5.8. Die Kabinet wens die Markteater in Johannesburg geluk met  die viering van sy 40ste bestaansjaar. Gedurende die apartheidsera het die teater 'n simbool van die stryd teen apartheid geword deur Suid-Afrika se ware storie te vertel.

5.9. Die Kabinet wens die musiekonderwyser, mnr Chad Hendricks van Retreat op die Kaapse Vlakte geluk dat hy die gesogte Len van Zyl Kompetisie vir Dirigente in Kaapstad gewen het. Sy prys sluit 'n beurs in wat hom in staat stel om vir drie maande by die Verenigde State se Philadelphia-orkes te studeer en deur die bekende prof Victor Yampolsky in Chicago opgelei te word.

5.10. Die Kabinet wens rolprentvervaardiger, Mnr Anant Singh, geluk dat hy die derde plek behaal het vir sy film Shepherds and Butchers in die Panorama Audience Awarfor Fiction Film by die Belynse Internasionale Filmfees. Dit is ‘n baie belangrike prestasie aangesien die film teen 51 vollengte films van 33 lande meegeding het.

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke uitklaring.

6.1. Verlenging van mnr Lionel October se kontrak as Direkteur-generaal (DG) in die Departement van Handel en Nywerheid, vir 'n tydperk van vyf jaar.
6.2. Aanstelling van dr Mantlhake J Maboya as Adjunk-DG (ADG): Kurrikulumbeleid en Monitering in die Departement van Basiese Onderwys.
6.3. Aanstelling van me Shamilla Chettiar as ADG: Beleid en Kennisdienste in die Departement van Toerisme.
6.4. Aanstelling van mnr Mbulelo Tshangana as DG in die Departement van Menslike Nedersettings.
6.5. Heraanstelling van mnr Kutoane Obed Kutoane as die Hoof Uitvoerende Beampte van die Export Credit Insurance Corporation of South Africa SOC Beperk.
6.6. Aanstelling van mnr Vuyo Mafata as Vergoedingskommissaris: Vergoedingsfonds in die Departement van Arbeid.
6.7. Aanstelling in die Oornamereguleringspaneel vir 'n tydperk van vyf jaar:
a) Me Neo Phakama Dongwana (Voorsitter);
b) Prof Stephanie Marie Luiz (Ondervoorsitter);
c) Prof Shirley Zinn (paneellid);
d) Adv Rory Voller (benoemde lid);
e) Me Wendy Ndlovu (benoemde lid);
f) Me Annalie de Bruyn (bemoemde lid); en
g) Mnr Nano Abram Matlala (paneellid).

6.8.  Aanstelling in die Raad van die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie vir 'n termyn van drie jaar:
a) Mnr Nqaba Ngcobo;
b) Dr Namane Magau,
c) Dr Xolani Mkhwanazi,
d) Dr Alex Smanga Tsela;
e) Me Rosemary Mosia;
f) Dr Kelvin Kemm (Voorsitter);
g) Mnr Zibusiso Comfort Ngidi;
h) Me Pamela Bosman; en
i) Prins Kennedy Tshivhase.

Navrae: Me Phumla Williams (Waarnemende Regeringswoordvoerder)
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore