Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 16 November 2016

1. Implementering van belangrike Regeringsprogramme

1.1. Die kwartaallikse vorderingsverslae vir die tydperk 1 Julie tot 30 September 2016 is aan die Kabinet voorgelê. Hierdie verslae monitor die implementering van die Regering se Program van Aksie ooreenkomstig die bepalings van die Mediumtermyn- Strategiese Raamwerk en die Nasionale Ontwikkelingsplan.

1.2. Die ministers in die onderskeie regeringsgroeperings sal hul groeperigsmedia-inligtingsessies deur die GCIS koördineer om later vandeesmaand verslag te doen oor die departementele mylpale wat in hierdie tydperk bereik is.

Enkele hoogtepunte uit die kwartaallikse vorderingsverslae in die oorsigtydperk sluit in:

Ekonomie

1.3. Die Departement van Kleinsakeontwikkeling het in die kwartaal onder oorsig 149 ondernemings ondersteun. Hierbenewens is 104 koöperasies deur die Koöperatiewe Aansporingskema ondersteun. Hierdie intervensies ontsluit die potensiaal van KMMO's, koöperasies, township- en landelike ondernemings.

1.4. In die landbousektor is 172 nuwe landbouondernemings en 23 nie-landbouondernemings deur verskeie inisiatiewe ondersteun. 'n Bykomende 337 bestaande KMMO's is geïdentifiseer en sal deur opleiding en marktoegang ondersteun word. Hierbenewens, is 240 koöperasies deur die Koöperatiewe Aansporingskema ondersteun.

1.5. Die werk van die Interministeriële Komitee oor Belegging begin vrugte afwerp. Tydens die kwartaal onder oorsig het Invest SA 'n beleggingspyplyn ten bedrae van R18,2 miljard gefasiliteer, hoofsaaklik in grootskaalse gas-tot-kragprojekte.

Die stryd teen misdaad en korrupsie

Die bestryding van misdaad en korrupsie bly een van die Regering se topprioriteite. Ons is vasbeslote om ons gemeenskappe te suiwer van misdadigers en sal aanhou werk vir 'n veilige Suid-Afrika waar al die landsburgers veilig voel en is.

1.6. Vennootskappe tussen gemeenskappe en die Regering is nodig om misdaad en korrupsie te bestry. Daar word berig dat 98,9% van alle polisiestasies 'n funksionele gemeenskapspolisiëringsforum het, wat tot 'n veilige en geborge omgewing vir sy inwoners bydra.

1.7. Vordering word voortdurend gemaak in die stryd teen korrupsie. Altesaam 58 mense is gedurende die verslagtydperk skuldig bevind as deel van pogings om korrupsie onder regeringsamptenare te verminder. Vyf mense is skuldig bevind aan korrupsie of misdrywe wat met korrupsie verband hou, waar die bedrag per geval meer as R5  miljoen is en die waarde van uitgereikte batebevriesingsbevele R185 miljoen is.

Grond

Die wiele van vergoeding draai stadig maar seker om die menswaardigheid van diegene wat gedurende apartheid gely het, te herstel. Beduidende vordering is reeds gemaak om die waardigheid van die mense wat benadeel is te herstel.

1.8. 54 400 hektaar (ha) strategies geleë grond is verkry en toegewys en 51 188 ha is aan kleinhoeweprodusente toegewys. Altesaam 6 530 ha van die verworwe grond is aan plaasbewoners en huurarbeiders toegeken.

1.9. Van die 112 grondeise wat afgehandel is, is 57 in die landelike gebiede, wat tot voordeel strek van 2 553 mense in 467 huishoudings.

1.10. Die Hoofgrondeise-kommissaris het onlangs die Fase 2-indiening vir die skikking van die Masinenge-gemeenskap se grondeis goedgekeur, asook dié van die Mtshali-familie deur die betaling van finansiële vergoeding.

Die totale waarde van die skikking is R7 100 608 tot voordeel van 64 huishoudings, wat as slagoffers van grondonteiening bevestig is.

Die Kommissie vir die Herstel van Grondregte het gedurende die tydperk 1 April 2016 tot 31 Oktober 2016 sowat R1 miljard as vergoeding aan grondeisers wat van hul grondregte ontneem is, betaal.

1.11. Die bevindings van die onlangse verslag van die Instituut vir Rasseverhoudinge: “Life in South Africa: Reasons for Hope” dui daarop dat Suid-Afrika vandag beter daaraan toe is as 20 jaar gelede.

In 2015 was die reële BBP per capita 33% hoër as in 1994; groei in besteebare inkomste per capita het gestyg van R23 686 in 1994 tot R33 660 in 2015 ('n styging van 42%), die totale aantal mense met werk het, het verdubbel van 7,9-miljoen in 1994 tot 15,6-miljoen in 2015; toegang tot formele behuising het met 131,3% gestyg tussen 1996 en 2016; universiteitinskrywingsyfers het met 281,4% gestyg van 211 756 in 1985 tot 807 663 in 2014; die aantal nuwe MIV-infeksies het gedaal van 646 806 in 1999 tot 321 497 in 2015; daar was 'n styging van 62,5% in professionele gesondheidsorgwerkers in die openbare sektor tussen 2000 en 2015; en die moordsyfer het sedert 1994 met 49,3% gedaal.

Hierdie syfers beklemtoon dat, ondanks uitdagings, die lewens van Suid-Afrikaners die afgelope twee dekades verbeter het. Die Kabinet moedig alle sektore van die samelewing aan om op die land se vordering sedert die begin van demokrasie voort te bou. Daar is steeds meer positiewe as negatiewe aspekte in die land.

Implementering van die Regering se Program van Aksie:

1.12. Die Regering se vyfde Nasionale Imbizo-fokusweek, wat van 7 tot 13 November 2016 gehou is met die tema “Together we move South Africa forward: Our future – make it work“ het aan Suid-Afrikaners die geleentheid gebied om aktief met die Regering in gesprek te tree. Hierdie tydperk van intensiewe wisselwerking dra verder by tot 'n ingeligte en aktiewe burgery; 'n kritieke element om die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se Visie 2030 te verwesenlik.

President Jacob Zuma het die week ingelei tydens 'n Imbizo by Marhulana Primary School in Tembisa, Gauteng, waar 'n volledig toegeruste rekenaarlaboratorium oorhandig is.

1.13. Die opening van die Swartkopfonteinpad en -brug tussen Suid-Afrika en Botswana ontsluit 'n nuwe hoofstuk in die verbinding van die Suid-Afrikaanse grenspos by Swartkopfontein met Botswana se grenspos by Ramotswa. Die opgegradeerde pad-en-bruginfrastruktuur, teen 'n belegging van R78,5 miljoen, het gelei tot die skep van 51 heeltydse werksgeleenthede oor die kontraktydperk van 23 maande, met arbeid wat uit albei lande verkry is.

1.14. Die Program vir die Herlewing van Nywerheidsparke onder leiding van die Minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies, skep werksgeleenthede in en om townships en landelike gemeenskappe. Die program is uitgevoer in reaksie op 'n oproep deur President Jacob Zuma om onder meer volskaalse industrialisering en inklusiewe groei te bewerkstellig. Die Departement van Handel en Nywerheid het tot dusver R22,5 miljoen in die herlewing van die Komani-nywerheidspark belê. Gedurende die eerste fase van die herlewingsprogram is sewe klein, medium- en mikro-ondernemings as subkontrakteurs aangestel, ten bedra van R5,3 miljoen. Altesaam 71 plaaslike arbeiders is in diens geneem, waarvan 63% jeugdiges is.

Die Program vir Swart Nyweraars, wat daarop gemik is om meer rolspelers in die vervaardigingsektor te vestig, het tot op datum 22 swart nyweraars ondersteun en 1 500 werksgeleenthede geskep. Die program het 'n kapitaalinspuiting van R1,5 miljard ontvang om hierdie nyweraars te ondersteun.

1.15. Die Globale Entrepreneurskapweek (GEW) is verlede Vrydag in Johannesburg bekend gestel deur Adjunkpresident Cyril Ramaphosa, met die ondersteuning van Minister Lindiwe Zulu. Dit vind van 14 tot 20 November 2016 plaas en is die grootste byeenkoms van uitvinders en entrepreneurs wat beginbesighede loods deur idees na die werklikheid om te skakel, ekonomiese groei te dryf en sosio-ekonomiese ontwikkeling te stimuleer. Die Kabinet gee erkenning aan ons sake- en maatskaplike vennote vir hul rol om die GEW na Suid-Afrika te bring, naamlik die Gauteng Provinsiale Regering, die Stad Johannesburg, Hollard, Microsoft, IDC, SABS, SAB, SEA Africa, die Global Entrepreneurship Network en die Kauffman-stigting. Meer as 80 vennootskapsfunksies sal gedurende hierdie tydperk plaasvind. Die GEW is 'n voorloper tot die Globale Entrepreneurskapskongres (GEC), wat in Maart 2017 die eerste keer op die Afrika-vasteland aangebied word, en wat na verwagting meer as 5 000 afgevaardigdes uit 160 lande sal lok.

1.16. Minister Nomvula Mokonyane het op 14 November 2016 die Drakenstein-afvalwaterbehandelingsaanleg geopen en dit aan die Drakenstein-munisipaliteit in die Wes-Kaap oorhandig. Die projekwaarde van ongeveer R 171 000 000 het die plaaslike owerheid en gemeenskap bevoordeel deur die voorsiening van ervaring en opleiding in konstruksie, die werwing van plaaslike mense en die verkryging van materiaal van plaaslike verskaffers en vervaardigers.

Die voorsiening van 'n basiese waterdiens aan die gemeenskap dra by tot die verbetering van die watergehalte in die Bergrivier en verlig die negatiewe uitwerking van swak gehalte besproeiingswater.

1.17. Water en sanitasie vorm die kern van volhoubare ontwikkeling. Die Departement van Water en Sanitasie onderneem tans 'n Sanitasieveldtog wat sy hoogtepunt sal bereik met Wêreldtoiletdag op 19 November 2016.  Dit is daarop gerig om bewustheid te skep, mense op te voed en pogings aan te wend om te verseker dat almal toegang tot behoorlike sanitasiedienste het.

Suid-Afrika het hom daartoe verbind om die voorsiening van water en sanitasiedienste te versnel, en daardeur die waardigheid van veral mense uit voorheen benadeelde gemeenskappe te herstel. Die program vir die uitwissing van die emmerstelsel is daarop gerig om die nalatenskap van 'n emmerstelsel as vorm van sanitasie in vier provinsies, naamlik die Oos-Kaap, die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap, uit te wis. Altesaam 25 091 emmers is tot nou toe uitgewis en nog 27 147 emmers bly nog oor.

1.18. Die suksesvolle voltooiing deur  jongmense van die Nasionale Landelike Jeugdienskorps (NARYSEC) se program op 17 November 2016 is aanvullend tot die Regering se werkskeppingsprogramme en -inisiatiewe. Die program, wat in 2010 van stapel gestuur is, is gemik op jeugvaardigheidsontwikkeling- en werkskepping om jong mense uit landelike gebiede van werksoekers in werkskeppers te omskep.

1.19. Die Uitgebreide Openbare Werke-program (UOWP) se Munisipale Beraad vind van 15 tot 17 November 2016 by die St George Konferensiesentrum in Gauteng plaas met die tema “See, Feel and Experience Public Employment Programmes”. Die UOWP is 'n sleutelregeringsinisiatief, wat bydra tot behoorlike werk en volhoubare lewensonderhoud, onderwys, gesondheid, landelike ontwikkeling, voedselsekerheid en grondhervorming, asook tot die die stryd teen misdaad en korrupsie.

Die beraad fokus op die praktiese komponente van die program deur 'n geleentheid te bied om ervarings en beste praktyke te deel. Dit versterk die Regering se pogings om werksgeleenthede en vaardigheidsverwerwing te verskaf deur opleiding, wat help om arm op te hef.

Meer as sewe miljoen werksgeleenthede is tussen 2004 en 2016 deur die UOWP geskep. Dit dui op die suksesvolle uitvoer van die program deur al die sfere van die Regering, munisipaliteite en die burgerlike samelewing. Fase drie van die UOWP is nou in sy derde jaar van bedryf, waartydens universele beginsels wat die uitvoer van die program beheer, bekendgestel is. Sy vernaamste taak is die bevordering van gemeenskapsbetrokkenheid waar UOWP-projekte uitgevoer word. Dit maak ook deursigtigheid met betrekking tot werwing moontlik.

1.20. Die suksesvolle oorskakeling van analoë na digitale uitsendings vir inwoners in die omgewing van die Square Kilometre Array in die Noord-Kaap beteken dat hierdie inwoners onder die eerstes is om die volle omvang van die voordele van verbeterde klank- en wêreldgehalte wat met digitale televisie gepaardgaan, te ervaar.

Die aankondiging deur Minister Muthambi om die oorskakelingsproses na digitale uitsendings teen Desember 2018 in 'n provinsiaal gefasseerde benadering af te handel, is reeds aan die gang en het in die Noord-Kaap en Limpopo begin. Registrasies is oop in die Vrystaat, Mpumalanga en Limpopo. Registrasie sal ook in 'n later stadium in Noordwes, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en in Gauteng begin.

1.21. Die analoogafskakeling vorm deel van die land se digitale migrasieproses. Arm huishoudings wat vir die regeringsubsidie kwalifiseer, word gevra om by hul plaaslike poskantoortakke vir gratis dekodeerders (die sogenaamde STB's) te registreer.

1.22. Die Kabinet is ook ingelig oor die plan om die oorskot van politieke aktiviste wat gedurende apartheid gehang is, op te grawe. Minstens 130 politieke gevangenes is tussen 1960 en 1990 vir politiekverwante oortredings gehang, waarná die doodsvonnis afgeskaf is. Hierdie patriotte sal behoorlik in hul geboorteplekke herbegrawe word.

Dié proses volg op die openbare bekendstelling van die Galgopgrawingsprojek op 23 Maart 2016 by die Kgosi Mampuru II Korrektiewe Sentrum, en begin met die opgrawe van die oorskot van 83 politieke aktiviste oor 'n tydperk van ses maande voor die einde van 2016/17.

1.23. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle afloop van die derde sitting van die Bi-Nasionale Kommissie tussen Botswana en Suid-Afrika onder leiding van President Jacob Zuma en sy eweknie President Seretse Khama Ian Khama om ekonomiese samewerking tussen die twee lande verder te versterk.

Bespoediging van die werk aan die Lesotho-hooglandwateroorplasingsprojek, implementering van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Industrialiseringstrategie en Streeksaanduidende Strategiese Ontwikkelingplan om streekswaardekettings en vervaardigingsvermoëns te skep, en samewerking in grensbestuur om oorgrensmisdade soos renoster- en olifantstropery te bestry, was onder die  onderwerpe wat bespreek is.

Suid-Afrika het sy steun vir die SAOG-kandidaat vir die pos van AU-Kommissievoorsitter, die Agbare Dr. Pelonomi Venson-Moitoi, die Minister van Internasionale Aangeleenthede en Samewerking van die Republiek van Botswana, bevestig.

1.24. President Jacob Zuma het 'n suksesvolle Werksbesoek aan Addis Ababa, in die Federale Demokratiese Republiek van Etiopië afgesluit, waar hy die vergadering van die Afrika-Unie (AU) se Hoëvlakkomitee oor Libië bygewoon het om oor die vrede- en veiligheidsituasie in dié land te beraadslaag. Die komitee het die situasie bespreek en ooreengekom oor 'n aantal kwessies wat sal help om 'n blywende oplossing te vind vir die uitdagings wat Libiërs in die gesig staar. As lede van die AU wil ons vrede en stabiliteit in Libië sien en die komitee het ooreengekom dat ons as Afrika alles in ons vermoë moet doen om al die betrokke partye in Libië te oortuig om 'n Afrika-oplossing vir die land se probleme te vind.

President Zuma was ook betrokke by die Tweede Buitengewone Beraad van die Volunteering Nations of the African Capacity for Immediate Response to Crises (ACIRC). Die doel van hierdie beraad was om die status van die ACIRC-mag te bespreek teen die agtergrond van die UTULIVU AFRICA I en II Command Post Exercises (CPX) se optrede, asook om die beloofde vermoëns vanaf Mei 2014 tot April 2015 te bekragtig. Vrywilligerlande van die ACIRC, wat Suid-Afrika insluit, het besluit om die leiding te neem om Afrika-oplossings vir Afrika-uitdagings te bewerkstellig sonder die ingryping van eksterne magte.

2. Komende gebeure

2.1. Die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders vind jaarliks vanaf 25 November (Die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Geweld teen Vroue) tot 10 Desember (Internasionale Menseregtedag) plaas. Ander belangrike herdenkingsdae gedurende hierdie tydperk is Wêreldvigsdag op 1 Desember en die Internasionale Dag van Persone met Gestremdhede op 3 Desember.

2016 se tema vir die 16 Dae van Aktivisme is “Sluit my in: saam beweeg ons 'n nie-gewelddadige Suid-Afrika vorentoe” en word onderlê deur 'n jaarlange benadering om deurlopend met gemeenskappe saam te werk.

President Jacob Zuma sal op 25 November 2016 die Nasionale Dialoë bekendstel, waarvolgens distriksminusipaliteite dialoogsessies deur die loop van die jaar gaan byeenroep. Die dialoë sal vaardigheidsontwikkeling en bemagtiging vir gemeenskappe, veral vir vroue, behels, asook die verbetering van dienslewering wat betref toegang tot geregtigheid, berading en gesondheidsdienste. Dit is alle Suid-Afrikaners se plig om aktief deel te neem aan die stryd teen geweld en teen vroue- en kindermishandeling.

2.2. Die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Maite Nkoana-Mashabane, en die Minister van Natuurlike Hulpbronne en die Omgewing van die Russiese Federasie, Mnr Sergey Donskoy, sal as gesamentlike voorsitters optree van die 14de Sitting van die Gesamentlike Tussenregeringskomitee oor Handel en Ekonomiese Samewerking (ITEC) tussen Suid-Afrika en Rusland, wat op Vrydag, 18 November 2016, in Pretoria plaasvind.

Hierdie sitting is daraop gerig om ooreen te kom oor spesifieke aksieplanne om die deurvoer van bestaande verbintenisse in alle ITEC-sektore te bespoedig, met inbegrip van handel, belegging en bankwese; minerale hulpbronne; energie; landbou, bosbou en visserye; vervoer; wetenskap, tegnologie en die ruimte; waterhulpbronne, onderwys en justisie.

2.3. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa sal op 19 November 2016 'n afvaardiging van ministers en nie-regeringsbelanghebbers lei na die Ekspo oor Jeugloopbaanontwikkeling by die Nkowankowa-stadion in die Groter Tzaneen Plaaslike Munisipaliteit, Limpopo.

Die ekspo sal loopbaanleiding en inligting oor verdere ondewys en opleiding aan leerders in Graad 10 tot 12, werklose jongmense en jeugdiges wat voortydig die skool verlaat, verskaf. Dié ekspo is deel van die Regering se pogings om jong mense te help ontwikkel, veral sodat hulle aan die ekonomie kan deeleneem en hul regmatige plek in ons samelewing kan inneem.

2.4. Na afloop van die plaaslikeregeringsverkiesings, bly openbare deelname aan die bestuur van gemeenskappe steeds van sleutelbelang om munisipale beplanning op 'n manier te beïnvloed wat die beste in Suid-Afrikaners se behoeftes sal voorsien.

Die Wet Op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998, vereis onder meer dat munisipaliteite struksture moet skep waardeur gemeenskappe en gemeenskapsorganisasies geraadpleeg word in die uitoefening van hul funksies en magte. Hierdie strukture staan algemeen bekend as wykskomitees en vorm 'n noodsaaklike skakel tussen wyksraadslede, die gemeenskap en die munisipaliteit.

In die komende maande sal wykskomitees verkies word om hul gemeenskappe te dien en landsburgers moet hul verkiesbaar stel om op hierdie strukture te dien.

Die Kabinet verwelkom die suksesvolle en vreedsame munisipale wykstussenverkiesings wat onlangs in ses provinsies gehou is. Suid-Afrikaners het weereens hul verbintenis tot politieke verdraagsaamheid getoon, wat bewys lewer van die volwassenheid van ons grondwetlike demokrasie.

2.5. Die SA Sporttoekenningseremonie 2016 sal op 27 November 2016 by die Sand du Plessis-teater in Mangaung, Vrystaat, gehou word. Stemlyne vir die Mense se Keuse-sportster van die Jaar met sy uitsaaivennoot SABC Sport is oop en sal op 27 November 2016 om 21:00 sluit. Die Kabinet wens al die genomineerdes vir die toekenning van die Mense se Keuse- sportster van die Jaar geluk.

3. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

3.1. Die uitwerking van klimaatsverandering word ervaar deur uiterste weerstoestande in die vorm van wisselvallige reënval, droogte, uitermatige hitte en fratsvloede. Die fratsvloede in Gauteng en Mpumalanga het gelei tot lewensverlies, ontwortelde gemeenskappe veral in informele gebiede, en die vernietiging van infrastruktuur soos paaie, brûe en eiendom.

Die Kabinet spreek sy meegevoel uit teenoor die families en vriende van diegene wat hul lewens in die oorstromings verloor het en wens alle beseerdes 'n spoedige herstel toe.

Suid-Afrikaners se gedagtes en gebede is met diegene wie se geliefdes nog vermis word. Die land se rampbestuurspanne bly in gereedheid regoor die land, veral in gebiede waar meer reën verwag word. Almal moet gehoor gee aan vroeë waarskuwings van slegte weerstoestande en betyds daarop reageer.

President Jacob Zuma, vergesel van Gauteng se Premier, David Makhura, en die  Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Aangeleenthede, Des van Rooyen, het die gebied geïnspekteer en huise besoek wat by die Stjwetla informele nedersetting langs die Jukskeirivier oorstroom het. President Zuma het 'n inter-regeringstussenkoms onder leiding van Minister van Rooyen opdrag gegee om die Jukskeirivier te fortifiseer deur die oewers met steunwalle te versterk om die uitwerking van fratsvloede op gemeenskappe te verminder. Die Kabinet bedank gemeenskapgebaseerde NRO's, wyksraadslede en vrywilligers wat tot die inwoners se hulp gekom het.

Die onlangse reën moet Suid-Afrikaners egter nie 'n valse gevoel van sekuriteit gee nie, omdat verskeie dele van die land steeds droogtetoestande ervaar. Die Regering het water uit die Sterkfonteindam na die Vaaldam oorgeplaas as 'n korttermynmaatreël om die situasie te help verlig en 'n bykomende R212-miljoen aan droogtehulp toegewys om boere in provinsies wat tot droogterampgebiede verklaar is te help.

Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om kennis te neem van die uitwerking wat hul optrede op die omgewing het en om alles moontlik te doen om water te bespaar.

3.2. Internasionale graderingsagentskappe Moody’s, Fitch en Standard and Poors sal binne die volgende paar weke hul besluit oor die land se beleggingsgraderingskoers bekend maak. Die Regering het met die sakesektor, burgerlike samelewing en arbeid saamgewerk om die land se planne tot konkrete optrede om te skakel, wat sal verseker dat Suid-Afrika 'n beleggingsgegradeerde land bly.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle sektore om saam met die Regering 'n verenigde front te bied om ons land se beleggingstatus te beskerm.

3.3. Die vrystelling van die Ouditeur-Generaal, Kimi Makwetu, se 2015/16-ouditresultate van die nasionale en provinsiale departemente en hul entiteite, herbeklemtoon hoe belangrik dit is om die volgende basiese beginsels behoorlik en konsekwent uit te voer: die deurvoer van planne om gebreke in finansiële beheermaatreëls aan te vul op grond van verbintenisse wat reeds gemaak is; die voorsiening van doeltreffende leierskap en monitering van die bereiking van prestasieteikens; en die hersiening en monitering van die nakoming van sleutelwetgewing en wetgewing oor finansiële aangeleenthede.

Die ouditresultate van nasionale geouditeerdes het 'n algehele verbetering van 8% getoon; 30% van die geouditeerdes het skoon ouditresultate gehad en 14% was óf uitstaande, óf weerhoudings óf het negatiewe ouditresultate gehad.

Op provinisiale vlak het die meeste departemente bevindings oor die nakoming van sleutelwetgewing en die gehalte van hul jaarlikse prestasieverslae gekry.

Die Kabinet neem met kommer kennis van die risiko's en uitdagings wat in die ouditresultate uitgelig word. Dit verbind die Regering daartoe om die dringende vraagstukke wat geïdentifiseer is op te los en finansiële beheermaatreëls vir beter ouditresultate te versterk.

3.4. Die Kabinet verwelkom die ongeveer 11 000 afgevaardigdes wat aan die 19de AfricaCom- konferensie in Kaapstad tussen 15 en 17 November deelgeneem het met die tema “Harnessing the transformative power of Africa’s digital revolution: the internet as an engine for economic development and social empowerment”. Die konferensie is deur die Minister van Telekommunikasie en Posdienste, Dr Siyabonga Cwele, toegespreek. Daar was ook meer as 350 ander sprekers.

AfricaCom het 'n breë platform geword vir die bevordering van die digitale ekonomie in Afrika vir sosio-ekonomiese ontwikkeling en bemagtiging ter ondersteuning van Afrika se Agenda 2063-program. Die konferensie lok leiers in IKT, entrepreneurs en innoveerders uit Afrika en besluitnemers uit meer as 140 lande. Vanjaar se konferensie het gefokus op die ontwikkeling van digitale vaardighede, die bemagtiging van vroue in tegnologie, tegnologie om gestremdhede te verlig en die ondersteuning van die African Tech Start-up Ecosystem. Dit het 'n middel voorsien om die doelwitte van die NOP te bereik met betrekking tot digitale transformasie, ekonomiese ontwikkeling en maatskaplike bemagtiging.

3.5. Die Kabinet is verheug dat baie studente in hoëronderwysinstellings regoor die land positief gereageer het op oproepe om die 2016 akademiese program te red. 'n Aantal instellings het met hul finalejaar-eksamens begin.

Ons moedig studente aan om op die voltooiing van hul studies te bly fokus en die Kommissie van Ondersoek na die Lewensvatbaarheid van Gratis Hoër Onderwys en Opleiding die geleentheid te bied om sy werk af te handel.

Die werk wat deur die Nasional Ekonomiese Ontwikkeling- en Arbeidsraad (Nedlac) gedoen word, word erken, waar die Nasionale Tesourie voorstelle ingedien het oor hoe ons gratis onderwys vir tersiêre studente kan bewerkstellig. 'n Verklaring hieroor sal teen die einde van November 2016 gefinaliseer word.

Die oproep deur nasionale kerkleiers en ander godsdiensleiers om oplossings vir die uitdagings in hoër onderwys te vind word verwelkom.  Hulle ondersteuning in bemiddelling, gebeds- en vredepogings, asook hul pleidooie om die 2016 akademiese jaar suksesvol af te handel, is verblydend.

3.6. Die Kabinet verwelkom die beslissing van die Konstitusionele Hof oor die Elektroniese Nasionale Verkeersinligtingstelsel (eNATIS), wat nou deur die Regering geadministreer sal word.

3.7. Ons het ook kennis geneem van die uitspraak van die Konstitusionele Hof dat die aansoek deur Terry Crawford-Browne om die wapentransaksie-kommissie ter syde te stel, nie in die belang van geregtigheid is nie. Die Seriti Kommissie van Ondersoek wat die 1999- multimiljardrand-transaksie ondersoek het, het bevind dat daar geen bewyse van korrupsie, bedrog of onreëlmatighede ten opsigte van enige van die kontrakte was nie. Hierdie verslag is in April 2016 deur President Jacob Zuma vrygestel.

3.8. Die Kabinet is bekommerd oor die aanhitsing van rassespanning en -geweld deur openbare figure, wat afbreuk doen aan ons duur verworwe vryheid. Suid-Afrikaners moet negatiewe invloede soos die rassistiese aanranding van Rethabile Mlotshwa veroordeel; dit benadeel ons mede-Suid-Afrikaners en dra nie by tot ubuntu in ons land nie. Ons moet ook steeds wet en orde respekteer en ons uitspreek teen ongrondwetlike oproepe om grond in ons gemeenskappe onregmatig te beset.

3.9. Die Kabinet respekteer die bedanking van mnr. Brian Molefe as Groep Uitvoerende Beampte van Eskom en wens hom alles van die beste toe vir die toekoms. Mnr Molefe het meegewerk tot die ontwikkeling van Eskom se omkeerstrategie, wat nou begin om positiewe resultate te toon. Die Kabinet vertrou dat hy 'n sterk bestuurspan agterlaat wat steeds Eskom se mandaat en die deurvoer van die omkeerstrategie gestand sal doen.

3.10. Die Kabinet neem kennis van die bewerings in 'n dokumentêre program op Al Jazeera teen die Minister van Staatsveiligheid, mnr David Mahlobo, en merk op dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens die bewerings ondersoek.

3.11. Die Kabinet beklemtoon dat die Regering aan die voorpunt van die stryd teen omgewingsmisdaad is. Dit sluit in werk wat in die veiligheidsdienste gedoen word as deel van die Regering se pogings om transnasionale georganiseerde misdaad aan bande te lê en te verseker dat geregtigheid seeviër teen diegene wat by sindikate betrokke is.

Die Kabinet dra sy gelukwense aan die volgende oor:

3.12. Die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, wat tydens die 2016 Sunday Times Top 100 Companies Awards deur Suid-Afrikaners se nywerheidsleiers erken is. Hierdie erkenning deur die sakegemeenskap is 'n bewys dat ons almal saam die nodige wilskrag het om Suid-Afrika in 'n beter plek te omskep. Die gesamentlike pogings deur die Regering, die sakesektor, arbeid en die burgerlike samelewing kry al meer momentum ter verwesenliking van die NOP se Visie 2030.

3.13. Francois Groepe, wat deur President Jacob Zuma vir 'n vyfjaartydperk as die Adjunk-goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank aangestel is met ingang van 1 Januarie 2017.  

3.14. Gift of the Givers Foundation se stigter Imtiaz Sooliman, wat met die Global Citizen Award deur die internasionale raadgewende firma Henley & Partners bekroon is. Dit lewer bewys dat Suid-Afrikaners ons land se naam hoog hou deur mense in nood onbaatsugtig by te staan.

3.15. Uitvoerende Sjef, Martin Kobald, 'n uitmuntende Suid-Afrikaanse kookkunsvakman, wat tot vise-president van die World Association of Chefs Societies verkies is.

3.16. Afrika se groenste hotel, Hotel Verde, wat by Kaapstad Internasionale Lughawe geleë is, is tydens die 15de jaarlikse Skål International Sustainable Tourism Awards wat in Monaco gehou is, aangewys as die internasionale wenner in die kategorie vir Stedelike Akkommodasie.

3.17. Suid-Afrika se Sewes-rugbyster Seabelo Senatla, wat as Wêreldrugby se manlike Sewes-speler van die Jaar aangewys is vir sy uitmuntende prestasies in 2016. Die Suid-Afrikaanse vleuel het 66 drieë in 10 wedstryde in die 2015/16-reeks aangeteken – die tweede hoogste in die 17 jaar van die reeks se bestaan. Dit is 'n inspirasie vir ander jong rugbyspelers. Dit is ook die tweede agtereenvolgende jaar dat Suid-Afrika die toekenning wen.

3.18. Suid-Afrikaanse gouemedaljewenner, Wayde van Niekerk, wat deur die Vereniging van Nasionale Olimpiese Komitees as die manlike atleet van die Olimpiese Spele aangewys is tydens die toekenningseremonie in Doha.

3.19. Brad Binder, wat sy titeloorwinning in Moto3 op 'n hoogtepunt afgesluit het met sy oorwinning in die laaste byeenkoms van die seisoen op die Valencia-renbaan in Spanje.

3.20. Die Kabinet wens die Proteas geluk met hul Toetsreeksoorwinning oor Australië asook Bafana Bafana met hul oorwinning oor Senegal in 'n kwalifiserende wedstryd vir die Wêreldbeker-toernooi. Die Kabinet wens die Springbokke alles van die beste toe met hul wedstryd teen Italië en vertrou dat die nederlaag teen Engeland slegs die span sal aanvuur.

Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners wat weereens agter ons nasionale spanne verenig het deur na die verskillende wedstryde te kyk en ons landsvlag se kleure of hul gunstelingspan se hemde te dra. Kom ons gaan voort om ons gevoel van nasionale trots aan te gryp en te koester wanneer ons spanne die land se vlag omhoog laat wapper.

3.21. Die Kabinet sluit hom aan by President Jacob Zuma om Donald John Trump geluk te wens met sy verkiesing as die 45ste President van die Verenigde State van Amerika (VSA) en vertrou dat toekomstige betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA tot albei lande se voordeel sal strek.

4. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke klarings.

4.1. Departement van Arbeid:
a) Mev. M.S.B. Matebesi as Adjunk-direkteur-generaal: Korporatiewe Dienste
b) Mnr. T.S. Maruping as Adjunk-direkteur-generaal: Werkloosheidsversekeringsfonds.

4.2. Me. C.L. Duma as Adjunk-direkteur-generaal: Korporatiewe Dienste, Departement van Toerisme.

4.3. Mnr. H. Ratshisusu, as Adjunk-kompetisiekommissaris.

4.4. Mnr. Enver Daniels as die Adjunk-voorsitter van die Kompetisie-tribunaal.

4.5. Prof. H. Cheadle as 'n deeltydse lid van die Kompetisie-tribunaal.

Navrae:
Donald Liphoko
Kontak: 082 901 0766

 

Share this page

Similar categories to explore