Verklaring oor die Kabinetsvegadering van 16 Maart 2016

1. Belangrike Kabinetsbesluite

1.1. Die Kabinet het die vorderingsverslae van die uitsette vir die derde kwartaal vir die tydperk Oktober-Desember 2015 evalueer. Die verslae toon beduidende vordering in die implementering van die regeringprogramme wat 'n regstreekse uitwerking op die verbetering van Suid-Afrikaners se lewens het.

Die verslae bewys dat die Regering vordering gemaak het om die teikens wat in die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk 2014-2019 gestel word, te bereik. Dit bring ons ook nader aan die verwesenliking van Visie 2030, soos verwoord in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP), wat daarop gemik is om armoede, werkloosheid en ongelykheid die hoof te bied.

Die Kabinet het kennis geneem van die redelike vordering wat gemaak is om die sleutelteikens en uitsette te bereik. Die Kabinet het opgemerk dat hoewel beduidende vordering ten opsigte van die meeste van die aanwysers gemaak is, daar steeds gebiede is wat gekoördineerde ingrypings deur die Regering verg.

2. Implementering van belangrike regeringsprogramme

2.1. Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners wat ag geslaan het op die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se oproep om tydens die naweek van 5 en 6 Maart te registreer, hul registrasiestatus na te gaan en hul besonderhede op die kieserslys op datum te bring. Sowat drie miljoen mense het stemlokale landwyd besoek en 544 552 van die nuwe registrasies (78,6%) was jonger as 30 jaar, wat Suid-Afrikaners se gewilligheid om by die bou van ons demokrasie betrokke te raak, demonstreer.

Die Kabinet spoor Suid-Afrikaners aan om hul demokratiese reg uit te oefen deur te registreer en doen ’n dringende beroep op diegene wat voorheen geregistreer het om hul  registrasiebesonderhede te verifieer aangesien 'n aantal faktore tot veranderings in die kieserslys gelei het.

2.2. Die finale registrasienaweek vind op 9 en 10 April 2016 plaas wanneer alle stemlokale weer vanaf 8:00 tot 17:00 oop sal wees. Dit sal die laaste geleentheid vir kiesers wees om te registreer en hul registrasiebesonderhede by hul stemlokale op datum te bring. Registrasie is egter ook deurlopend aan die gang by die plaaslike kantore van die OVK, van Maandag tot Vrydag gedurende kantoorure, totdat die kieserslys vir die 2016 munisipale verkiesings sluit op die dag waarop die verkiesing aangekondig word.

Die Kabinet veroordeel die geweld wat die laaste registrasienaweek in sommige gebiede bederf het, en benadruk dat geen persoon ander Suid-Afrikaners mag verhoed om hul demokratiese reg om te registreer uit te oefen nie. Die Kabinet doen verder 'n beroep op almal wat hiervoor verantwoordelik was, om hulle te weerhou van sulke kriminele aktiwiteite en vir diegene wat daardeur geraak is, om die oortreders by wetstoepassingsagentskappe aan te kla. Die Kabinet doen 'n beroep op alle wetstoepassingsagentskappe om sterk op te tree teen mense wat die wet oortree.

2.3. President Jacob Zuma sal Port Elizabeth op 8 April 2016 besoek om die vordering wat met die ontwikkeling van mariene-vervoerinfrastruktuur gemaak is as deel van die Oseaanekonomie-inisiatief in die land, te inspekteer. Die oseaan-ekonomie is een van die drie strome van Operasie Phakisa en bring die land nader aan die ontsluiting van Suid-Afrikaanse oseane se potensiaal om tot tot R177 miljard tot die bruto binnelandse produk by te dra en meer as een miljoen nuwe werkgeleenthede te skep.

2.4. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle afsluiting van President Zuma se staatsbesoek aan die Federale Republiek van Nigerieë van 8 tot 9 Maart 2016, wat bestaande bilaterale politieke, ekonomiese en sosiale bande versterk het. Een van die mylpale van die besoek was die bevordering van die Bi-nasionale Kommissie tot  staatshoofvlak, wat ekonomiese ontwikkeling tussen die twee lande prioritiseer.

Die Kabinet verwelkom die oopstel van Nigerië se ekonomie aan Suid-Afrikaanse maatskappye in verskeie sektore soos ingenieurswese, telekommunikasie, konstruksie, lugvaart, media, gasvryheid, bankwese, vermaak, eiendom, kleinhandel, en olie- en gaseksplorasiedienste. Die Kabinet sien uit na die toename in die aantal Nigeriese beleggings in Suid-Afrika wat tweerigting-handel tussen die twee lande sal bevorder.

Die uitkomste van hierdie betrokkenheid tussen twee van die grootste ekonomieë op die vasteland, sal plaaslike ekonomieë integreer, en sodoende die gemeenskaplike mark uitbrei en bestaande inisiatiewe van ekonomiese groei en werkskepping in Afrika bevorder. Dit dui daarop dat Suid-Afrika steeds 'n mededingende beleggingsbestemming is ondanks moeilike wêreldwye ekonomiese toestande, en dit sal tot werkgeleenthede en vaardigheidsontwikkeling vir Suid-Afrikaners lei.

2.5. Die Kabinet neem kennis van Suid-Afrika se deelname aan die 60ste Sessie van die Verenigde Nasies (VN) se Kommissie op die Status van Vroue (CSW60) wat in New York, VSA vanaf 14 tot 24 Maart 2016 plaasvind onder die tema: "Bemagtiging van vroue en die skakel na volhoubare ontwikkeling". Die sessie vind plaas in 'n belangrike jaar vir Suid-Afrika, aangesien drie sleutelmylpale gevier word, naamlik die 20ste herdenking van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996, die 40ste herdenking van die Soweto-jeugopstand, en die 60ste herdenking van die 1956 vroue-opmars

Suid-Afrika het 'n verslag aan die VN CSW60 voorgelê, wat ons 'n geleentheid bied om 'n maatstaf te stel vir die vordering wat ons sedert die begin van demokrasie gemaak het. Dit is belangrik om daarop te let dat Suid-Afrika sedert die demokratiese bestel, onder meer deelgeneem het aan die 4de Wêreldkonferensie van Vroue in 1995, en die Beijing Verklaring en Platform vir Aksie in dieselfde jaar onderteken het.

Ooreenkomstig resolusie E/RES/2013/18 van die VN se Ekonomiese en Maatskaplike Raad, is Suid-Afrika daartoe verbind om voort te gaan met die implementering van die Beijing Verklaring en Platform vir Aksie, wat 'n bloudruk vir die bemagtiging en bevordering van vroue is.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet verleen sy goedgkeuring aan die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture van 2016 aan die Parelement. Wysigings word aangebring om die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (Wet 117 van 1998), wat voor die eerste demokratiese plaaslike regeringsverkiesings van 5 Desember 2000 verorden is.

Die wysigings sal die administrasie van plaaslike verkiesings verbeter, en is onder meer daarop gemik om:
a) kriteria vir kategorie A-munisipaliteite te wysig;
b) alle verwysings na distriksbestuursgebiede te verwyder;
c) die datum waarop 'n raadslid sy pos aanvaar duidelik te maak,
d) voorsiening te maak dat die President die datum vir die munisipale verkiesing vasstel en aankondig;
e) voorsiening te maak vir die verlenging van die verklaring van 'n verkiesing se uitslae;
f) te vereis dat 'n munisipale bestuurder die OVK in kennis moet te stel van wykvakatures;
g) te bepaal dat 'n lid van die Uitvoerende Raad die datum vir tussenverkiesings aankondig en 'n datum vasstel;
h) die kworumvereistes vir 'n raadsvergadering duidelik te maak;
i) die omstandighede vir die beslissende stem van 'n voorsittende raadslid tydens 'n raadsvergadering duidelik te maak;
j) die wisseling van die aantal kiesers in elke wyk tydens 'n raadsvergadering te verhoog; en
k) die wisseling in die toename van die aantal kiesers in elke wyk tydens 'n afbakening van die toekenning van oormatige setels in plaaslike munisipaliteite duidelik te maak.

4. Toekomstige gebeure

4.1. President Zuma - as mede-voorsitter, saam met Frankryk se President François Hollande, van die Hoëvlak-kommissie op Gesondheidsindiensneming en Ekonomiese Groei - sal die formele bekendstelling van die kommissie in Lyon, Frankryk op Woensdag 23 Maart 2016 bywoon. Die kommissie fokus op die behoefte aan professionele gesondheidswerkers in die middel- en lae-inkomstelande. Hierdie VN-inisiatief sal na verwagting gesondheidsekerheid wêreldwyd verhoog en inklusiewe ekonomiese groei bevorder, wat sal bydra tot die implementering van die 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling.

4.2. President Zuma onderneem 'n staatsbesoek aan die Koninkryk van Saoedi-Arabië van 27 tot 28 Maart 2016, wat bestaande verhoudings tussen die twee lande sal versterk.

4.3. Die President sal die 4de Spitsberaad oor Kernveiligheid in Washington, VSA van 31 Maart tot 1 April 2016 bywoon. Die beraad sal die ontwikkelende bedreiging van kernterrorisme bespreek en stappe uitlig wat deur die internasionale gemeenskap geneem kan word om die gebruik van hoogsverrykte uraan te minimaliseer, kwesbare materiaal te beveilig, kernsmokkelary teen te werk, en pogings tot kernterrorisme op te spoor en te ontwrig.

4.4. President Zuma sal die viering van Menseregtedag by die Moses Mabhida-stadion in KwaZulu-Natal op Maandag, 21 Maart 2016 lei, onder die tema: "Suid-Afrika verenig teen rassisme." Soos aangekondig tydens die 2016 Staatsrede, sal Menseregtedag vanjaar die grondslag vir 'n langtermynprogram vir die bou van 'n nie-rassige samelewing lê. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om te verenig teen rassisme en dit te veroordeel - hetsy dit in ons huise, gemeenskappe, sosiale byeenkomste, werkplekke of op sosiale media is. Ons moet almal saamwerk om 'n verenigde, nie-rassige en nie-seksistiese demokrasie te skep.

4.5. Lede van die Uitvoerende Vergadering sal tydens die Nasionale Imbizo Fokusweek tussen 4 en 10 April 2016 met alle Suid-Afrikaners regoor die land gesprek voer, onder die tema: "Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe: Groei Suid-Afrika" Die week val saam met die Parlementêre Kiesafdelingweek en die herdenking van Vryheidsmaand.

Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners om aktief deel te neem aan hierdie gebeure en om betrokke te raak by politieke hoofde. Die Imbizo Fokusweek sal die implementering van die Negepunt-plan wat daarop gemik is om ekonomiese groei te stimuleer en broodnodige werkgeleenthede te skep, na vore bring. Dit sal ook die suksesse van plaaslike regerings uitlig, insluitend prestasies wat deur die plaaslike regering opknappingsprogram - Terugkeer na Basiese Waardes – teweeggebring is.

Die week val ook saammet die finale registrasienaweek voor die 2016 munisipale verkiesings, wat 'n verdere geleentheid vir leiers skep om Suid-Afrikaners deur kieseropvoeding aan te spoor en te mobiliseer om te registreer en hul stembesonderhede te verifieer.

4.6. Adjunk-president Cyril Ramaphosa sal die 2de Spitsberaad oor die Ontwikkeling van Menslike Hulpbronne, wat by die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand op 29 en 30 Maart 2016 gehou word, open onder die tema: "Vennootskap vir vaardighede – 'n oproep tot aksie". Die beraad bring belanghebbendes van regoor die hoëronderwyssektor bymekaar om te help met die ontwikkeling van die sektor en om vennootskappe te smee wat sterker hoëronderwysinstellings, wat bedryfsgereed is, te skep.

4.7. Nasionale Waterweek 2016 sal van 14 tot 22 Maart onder die tema: "Water vir mense, water deur mense" plaasvind. Die week sal op water as 'n mensereg fokus deur bewustheid te kweek oor die lot van mense wat nie toegang tot skoon drinkbare water het nie.

Die Departement van Waterwese en Sanitasie is nog besig om van die emmerstelsel ontslae te raak en het reeds 78,8% van die emmerstelsel in formele nedersettings in Suid-Afrika uitgewis. Sewe provinsies het uitstekend gevaar met 'n gemiddelde 90% uitwissing. Die provinsies wat algehele uitwissing in formele nedersettings bereik het, is KwaZulu-Natal, Noordwes, Mpumalanga en Gauteng. Die Wes-Kaap het 99,8% bereik. Van 'n teiken van 26 120 vir die Noord-Kaap, Oos-Kaap, Noordwes en Vrystaat, het sowat 11 650 tot op datum die proses afgehandel.

Hoewel die onlangse reën verligting gebring het, word die uitwerking van die droogte steeds in sommige dele van die land gevoel. Suid-Afrikaners moet voortgaan om water spaarsamig te gebruik en waterbesparende inisiatiewe te implementeer. Die Regering het intussen R1 miljard bewillig om die droogtekrisis die hoof te bied.

Die Kabinet verwelkom die vordering wat gemaak word deur die vyfjaarprogram, “War on Leaks” onder die tema: "Elke druppel tel". Die program het ten doel om 15 000 jong mense met die minimum kwalifikasie van graad 12 of N3 te werf, op te lei en te ontplooi as loodgieters, ambagsmanne en wateragente.

5. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

5.1. Die Kabinet doen  'n beroep op betogers om  met die uiterste selfbeheersing op te tree en hul griewe binne die grense van die wet en die Grondwet te lug. Vandalisme en skade aan eiendom oorskry die grense van die reg om protes aan te teken en is die werk van onbesonne kriminele elemente. Wetstoepassingsagentskappe sal die reg handhaaf deur mense wat eiendom vernietig by universiteite, ander instellings van hoër onderwys, in gemeenskappe en tydens protesoptrede, te arresteer en aan te kla.

5.2. Die Minister van Finansies het die Kabinet ingelig oor die onlangse reise wat hy saam met verskeie belanghebbendes, insluitend sakeleiers, na die VSA en die Verenigde Koninkryk onderneem het. Die Kabinet is daartoe verbind om seker te maak dat die land saamwerk om te verseker dat ons nie afgegradeer word nie.

Die besoeke bied die Regering die geleentheid om 'n aantal inisiatiewe wat geïmplementeer is om uitdagings te hanteer, te deel. Dit sluit in gesamentlike optrede om inklusiewe groei te versnel, maatreëls om fiskale konsolidering te bespoedig, die implementering van ons R870 miljard Infrastruktuur-beleggingsprogram en vordering met die oplos van die energiebeperkings, insluitend deur die hernubare energie.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle sektore om al die positiewe programme en ingrypings om ons ekonomie te beveilig oor te dra. Dit is belangrik vir alle sektore om te verseker dat die land se ekonomie sterk is. In dié verband, het die Kabinet ook opdrag gegee aan die Inter-Ministeriële Komitee oor Belegging om alle belangrike ekonomies-verwante besluite te versnel. Die Kabinet benadruk dat die veerkragtigheid van die Suid-Afrikaanse ekonomie op gesonde ekonomiese beginsels en praktiese beleid gebou is.

5.3. Die Kabinet neem kennis van 'n hofsaak deur die Kamer van Mynwese dat die Mynbouhandves as ongrondwetlik en ongeldig verklaar moet word. Die Kabinet benadruk dat die beginsels van die Mynbouhandves gemik is op die transformasie van die mynbedryf om die historiese wanbalanse wat deur apartheidveroorsaak is, reg te stel sodat die bedryf ooreenstem met die veranderinge in die algehele transformasie van Suid-Afrika se maatskaplike, politieke en ekonomiese landskap. Gemeenskapsopheffing is ook 'n belangrike fokuspunt om te verseker dat mynontwikkeling nie sekere gemeenskappe uitsluit nie.

5.4. Die Kabinet doen 'n beroep op alle padgebruikers, veral dié wat gedurende die komende vakansietydperk reis, om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid en dié van ander padgebruikers te neem. Die beëindiging van die bloedbad op ons paaie bly 'n nasionale prioriteit. Motoriste moet bedag wees, die padreëls gehoorsaam, nie drink en bestuur nie, by die spoedgrens hou en seker te maak dat hul voertuie padwaardig is.

5.5. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan al die wenners van die toekennings vir die Nasionale Regte van Gestremdes, wat op 11 Maart 2016 plaasgevind het. Hierdie toekennings gee erkenning aan mense met gestremdhede en mense wat hulle beywer vir die regte van gestremdes, wat tydens 2015 uitgeblink het.

5.6. Die Kabinet loof al die wenners van die Suid-Afrikaanse Polisidiens (SAPD) se  3de Jaarlikse Toekennings vir Voortreflikheid, wat hulde bring aan voortreflike prestasies deur lede van die SAPD, reserviste, en lede van gemeenskapspolisieforums.  

5.7. Die Kabinet loof mede-skrywers Mandla Dube en Leon Otto van Pambili Media vir die film Kalushi: The Story of Solomon Mahlangu. Suid-Afrikaners word aangemoedig om na hierdie politieke riller oor die transformasie van 'n 19-jarige jong man van Mamelodi, oos van Pretoria, tot ’n ikoon van die stryd teen apartheid, te gaan kyk. Die Kabinet beklemtoon dat die Regering, deur die departemente van Handel en Nywerheid en Kuns en Kultuur, sal voortgaan om die ontwikkeling van die kunste te ondersteun deur Suid-Afrikaanse verhale te vier en te vertel.

5.8. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan sosiale aktivis Vader Michael Lapsley as wat  die internasionale 2016 Openbare Vryheidsprys in die kategorie ‘Global Peace and Reconciliation – Internationally-Reputed Peacemaker’, gewen het.

5.9. Die Kabinet loof Pieter du Preez dat hy genomineer is vir die Laureus Wêreld-Sportman van die Jaar met ’n Gestremdheid, na aanleiding van sy uitstekende prestasie in 2015.

5.10. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan Wayde van Niekerk, wat naelloopgeskiedenis gemaak het deur die eerste atleet in die wêreld te word om 100 meter in minder as 10 sekondes, 200 meter in minder as 20 sekondes, en 400 meter in minder as 44 sekondes af te lê soos deur die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies bevestig.

6. Aanstellings

6.1. Geen aanstellings in hierdie Kabinetsvegadering.

Navrae: Me Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore