Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 1 Maart 2017

1. Implementering van regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet ondersteun die ondernemings wat in die 2017 Nasionale Begroting gemaak is om radikale ekonomiese transformasie te bevorder en meer Suid-Afrikaners vir inklusiewe groei by die ekonomie te betrek. In die breë erken die begroting dat groei sonder transformasie die patroon van ongelykheid sal versterk.

Herverdeling ter ondersteuning van onderwys, gesondheidsdienste en munisipale dienste in landelike gebiede bly die sentrale dryfkrag van ons bestedingsprogramme. Verkrygingshervormings verbeter steeds die doeltreffendheid van openbare besteding en skep geleenthede vir kleinsakedeelname.

Begrotingstoekennings ondersteun ekonomiese groei en ontwikkeling: R3,9 miljard vir klein, medium en mikro-ondernemings en koöperasies; R4,2 miljard vir industriële infrastruktuur in spesiale ekonomiese sones en nywerheidsparke; R1,9 miljard vir breëband-implementering, R3,9 miljard vir die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad; 'n bykomende R494 miljoen vir toerismebevordering; 'n bykomende R266 miljoen om die akwakultuursektor te ondersteun en aan die doelwitte van die Oseane-ekonomie Operasie Phakisa te voldoen, asook besteding aan landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming ten bedrae van bykans R30 miljard teen 2019/20.

Die begroting speel 'n sentrale rol in transformasie deur die bevordering van herverdeling en om skaars hulpbronne tot katalitiese beleggings in menslike en fisiese kapitaal te herlei.

1.2. Ter erkenning van die behoefte om in die jeug se toekoms te belê, verseker die begroting dat behoeftige studente toegang tot tersiêre onderwys kan kry. Die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) voorsien befondsing vir meer as 300 000 nuwe en terugkerende studente vir studie aan universiteite en kolleges vir Tegniese en Professionele Onderwys en Opleiding (TVET) regoor die land in 2017. Na verwagting sal nog 100 000 studente vanjaar by die fonds baat.

Die R15 miljard wat deur die Regering aan NSFAS toegeken is, sal help om die finansiële las van behoeftig studente en die ontbrekende middelstudente te verlig.

1.3. Na aanleiding van die suksesvolle bekendstelling van Operasie Phakisa in sektore soos die oseane-ekonomie, gesondheid en basiese onderwys, het President Jacob Zuma Operasie Phakisa vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling op 24 Februarie 2017 geloods.

Operasie Phakisa is afgelei van die “Big Fast”-resultate wat Maleisië suksesvol gebruik het om vinnige ekonomiese transformasie te bewerkstellig. Nadat dit suksesvol vir Suid-Afrikaanse toestande aangepas is, is dit nou deel van ons Negepuntplan as 'n implementeringshulpmiddel.

Operasie Phakisa vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling beoog om inklusiewe groei te bewerkstellig, soos voorgeskryf deur die visie van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en het ten doel om by te dra tot die stimulering van ekonomiese groei, die bevordering van werkskepping en die transformasie van die landbou-waardeketting.

Dit poog verder om gelyke toegang tot grond te verseker wat betref ekonomiese ontwikkeling sowel as landboutransformasie.

Die program sal bestaande modelle vir produsentondersteuning hersien en sal finansieringsmodelle ontwikkel wat op die versnelling van grondhervorming gerig is, gegewe die Regering se dringende behoefte om vordering te maak met voedselsekuriteit.

Hierbenewens poog die program om aandag te gee aan beperkings ten opsigte van gelyke toegang tot grond wat betref ekonomiese ontwikkeling sowel as landboutransformasie. Dit sluit in grondhervorming, landelike ontwikkeling, arbeid, graan, vee, tuinbou en steun aan produsente.

1.4. In 2016 het meer as 10 miljoen toeriste Suid-Afrika besoek, dit is 13% meer as in 2015. Ons florerende toerismebedryf lewer bewys van die noue samewerking tussen die Regering, georganiseerde arbeid en die sakesektor onder leiding van die Departement van Toerisme saam met SA Toerisme om die volle ekonomiese voordele van ons toerismebates te ontsluit.

Ons doen 'n beroep op alle bedryfsvennote om toerisme steeds verder te ontwikkel en te bevorder, sodat plaaslike gemeenskappe kan baat by die skep van werksgeleenthede en infrastruktuurontwikkeling.

1.5. As deel van die Regering se fokus om die potensiaal van KMMO's en township-ondernemings te ontsluit, bied Suid-Afrika die Wêreld Entrepreneurskap-kongres tussen 13 en16 Maart 2017 in Johannesburg aan.

Die kongres is 'n inter-dissiplinêre byeenkoms vir voorstaanders van beginnersondernemings wat 4 000 afgevaardigdes van meer as 150 lande lok. Oorwoë leiers, entrepreneurs, beleggers, navorsers en beleidmakers wat deel is van 'n wêreldwye beweging wat entrepreneurskap bevorder as 'n manier om ekonomieë te op te bou en lewensgehalte te verbeter, sal die kongres bywoon.

Dit is die eerste keer dat die kongres in Afrika aangebied word en is 'n geleentheid vir Suid-Afrika en die res van die vasteland om sy ondernemingsgees aan te vuur. 

1.6. Suid Afrika herdenk die begin van Menseregtemaand op 1 Maart 2017 onder die tema "Die Jaar van OR Tambo: Eenheid in Aksie in die bevordering van menseregte" om bewustheid te verhoog en respek vir basiese menseregte te bevorder.

Menseregtemaand sal deur die loop van die maand oral in die land gevier word, wat uiteindelik tot die nasionale viering van Menseregtedag op 21 Maart in Ginsberg, King William's Town in die Oos-Kaap sal lei.

Op dié dag sal President Jacob Zuma amptelik die gedenkterrein waar Steve Bantu Biko begrawe is, aan die Biko-familie oorhandig. Dit is deel van die viering en bevordering van eenheid ooreenkomstig OR Tambo se visie.

1.7. Die Kabinet neem kennis van die uitslag van die Mededingingskommissie se ondersoek na beweerde buitelandsevaluta-samespanning en wag vir die resultaat van die Mededingingstribunaal se verrigtinge, insluitende sy bevindinge en besluit oor die gepaste straf.

1.8. Nasionale Waterwetmaand word in Maart 2017 gevier met die tema "Menseregte vir water en sanitasie". Alle Suid-Afrikaners word daaraan herinner om water spaarsamig te gebruik om die volhoubaarheid van toekomstige watervoorrade te verseker.

Die Kabinet is ingelig oor die voorstel van die VN se Opvoedkundige Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) dat Wêreld Waterdag op 22 Maart 2017 in Suid-Afrika aangebied word met die tema "Afvalwater, die onbenutte hulpbron".

President Jacob Zuma, wat 'n lid van die VN se Hoëgvlakpaneel oor ’n Water-aksieplan is, sal die geleentheid open deur die bekendstelling van die Wêreld Waterontwikkelingsverslag 2017 oor afvalwater en verwante aktiwiteite.

1.9. Die Kabinet verwelkom die vordering wat gemaak is met die verspreiding van veevoer om boere in die land se droogtegeteisterde gebiede by te staan.  Dié inisiatief is deel van die R212 miljoen wat in 2016/17 deur die Regering bewillig is om boere regdeur die land wat deur die droogte geraak is te help. 

Provinsies het ook R198 miljoen beskikbaar gestel deur regverdige aandelebefondsing en fondse uit die Program vir die Voorkoming en Verligting van Ramprisiko’s is gebruik om boorgate te sink en voorbrande te maak.

1.10. Om te help om die probleme rondom die watertekort in die Wes-Kaap op te los, moet pogings aangewend word om bykomende alternatiewe watertoevoerbronne beskikbaar te stel ingeval dit in die komende seisoen nie genoeg reën nie.

Om oormatige watergebruik verder aan bande te lê, het die Departement van Water en Sanitasie die landbousektor van 10% bykomende waterbeperkings in kennis gestel. Die waterbeperkings sal van krag wees totdat die damme tot 85% van hul kapasiteit bereik.

1.11. Terwyl die land verheug is oor die onlangse broodnodige reëns, wat baie sal help om die gevolge van die droogte te verlig, word damme en riviere toenemend voller. Die moontlikheid van kitsvloede is steeds hoog.

Ons vra gemeenskappe om op hul hoede te wees vir kitsvloede, wat tot sterftes kan lei en eiendom en infrastruktuur kan vernietig. Die Regering en sy agentskappe monitor die situasie en is gereed om op te tree waar nodig.

1.12. President Jacob Zuma lewer sy jaarlikse toespraak aan die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers op 3 Maart 2017.

'n Program van aksie, wat uit die toespraak sal voortspruit, sal deur die Huis van Tradisionele Leiers ontwikkel en geïmplementeer word. Die amptelike opening van die Huis val saam met die viering van sy 20ste bestaansjaar.

1.13. President Jacob Zuma sal 'n Suid-Afrikaanse regeringsafvaardiging na die Buitengewone Beraad van die SAOG op 18 Maart 2017 in die Koninkryk van Swaziland lei. Die SAOG dien steeds as die primêre bron vir Suid-Afrika se buitelandse beleid om streeksontwikkeling en integrasie in suider-Afrika te bereik.

Na verwagting sal die beraad gesprek voer oor, onder meer, die toestand van vrede en veiligheid in die streek, met spesifieke klem op ontwikkelings in die Koninkryk van Lesotho en die Demokratiese Republiek van die Kongo, sowel as die implementering van die Hersiene Aanwysende Strategiese Plan.

Suid-Afrika, as die inkomende voorsitter van die SAOG, is geskeduleer om die volgende SAOG Gewone Beraad in Augustus 2017 aan te bied.

1.14. President Jacob Zuma onderneem op 8 Maart ’n amptelike staatsbesoek aan Indonesië. Suid-Afrika en Indonesië is albei van die grootste ekonomieë in hul streke respektiewelik en beskik oor ryk natuurlike en maritime hulpbronne.

1.15. Dit sal voorafgegaan word deur die Leiersberaad van die Indiese Oseaan Randgebied-assosiasie (IORA) van 6 tot 7 Maart 2017, wat saamval met die viering van IORA se 20ste bestaansjaar. Tydens die vergadering sal President Widodo die voorsitterskap van IORA aan Suid-Afrika oorhandig.

Suid-Afrika en Indonesië is albei stigterslede van IORA. Dit bestaan uit 21 lande wat aan die Indiese Oseaan geleë is. Suid-Afrika het van 2015 tot vroeg-2017 as visevoorsitter gedien, en sal van 2017 tot 2019 as voorsitter dien.

2. Kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet verleen goedkeuring dat die Konsepbeleid vir die Bestuur van Mynwater vir openbare kommentaar gepubliseer word. Mynwaterbestuur, insluitend suur mynwater, bly 'n groot omgewingsuitdaging.

Die beleid verskaf die basis om partye potensieel aanspreeklik te hou vir negatiewe gevolge en skade deur suur mynwaterdreinering wat besoedelding en/of enige ander negatiewe uitwerkings het wat daarmee verband hou. Die beleid poog ook om metodes voor te stel wat deur mynhuise ondersoek kan word om hul water beter te bestuur.

2.2. Die Kabinet is ingelig oor die vorderingsverslag van die Inter-Ministeriële Komitee vir die Opknapping van Behoeftige Myngemeenskappe se implementering van toepaslike bevindings wat volg op sy Normbepalingstudietoer van die Australiese Mynbedryf van 24 tot 28 Augustus 2015.

Die studietoer is gegrond op die vinnige beoordeling van die beleid en regulerende stelsels waarvolgens die mynbousektor bestuur word. Dit vergelyk die beleid- en wetgewende raamwerke vir die bestuur van die mynbousektor, wat die praktyke van mynmaatskappye in Australië, Chili, Suid-Afrika en Zambië bestuur.

Vorderingshoogtepunte sluit in vennootskappe tussen die Regering en mynmaatskappye rakende die lewering van behoorlike behuising en lewensomstandighede vir mynwerkers en lede van die gemeenskap.

Mynmaatskappye se waterbehandelingsaanlegte word ook geïnspekteer om die moontlikheid van infrastruktuurvennootskappe te evalueer.

Hierbenewens is die ontwikkeling van ruimtelike transformasieplanne vir myndorpe vir vyf munisipaliteite gefinaliseer. Katalitiese ekonomiese ontwikkelingsprojekte word in gebiede geïmplementeer waarheen arbeid gestuur word, met die klem op die bevordering van die landbousektor in myngemeenskappe. Verbeterde toegang tot mediese ondersoeke vir gewese mynwerkers, gemeenskapslede en huidige mynwerkers sal ook versnel word.

Die Kabinet keur goed dat die departemente van Arbeid en van Minerale Hulpbronne die verskillende Australiese myn-pendelmodelle bestudeer om Suid-Afrikaanse trekarbeidmynwerkers wat oor lang afstande moet reis, te help om meer gereeld huistoe te gaan.

Die Kabinet keur ook goed dat die Departement van Gesondheid met die Departement van Minerale Hulpbronne en ander vennote saamwerk om ondersteunende dienste aan oud-mynwerkers te lewer. Dit sal hulle help om aandag te gee aan beroepsiektes met die oog op die vermindering en voorkoming van mynverwante beroepsgesondheidsuitdagings.

Die Departement van Menslike Nedersettings is ook versoek om die implementering van projekte rakende geïntegreerde menslike nedersettings te versnel in samewerking met mynmaatskappye.
2.3. Die Kabinet keur die verbeteringsplan goed wat gegrond is op die bevindings en aanbevelings van die sintese-evaluering oor die vraag of die verskaffing van staatsgesubsidieerde behuising die kwessie van bate-armoede vir huishoudings en plaaslike munisipaliteite die hoof bied.

Meer as drie miljoen huise is deur die Regering se behuisingsprogram voorsien. Altesaam 2,8 miljoen van die huise word deur die kapitaalsubsidie voorsien. Dit verleen individuele eienaarskap van 'n vrystaande huis aan huishoudings wat minder as R3 500 per maand verdien.

Getuienis bevestig dat behuising 'n belangrike komponent van die sosiale loonpakket en veiligheidsnet vir huishoudings is.
2.4. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die verslag oor die implementeringsevaluering van die Funza Lushaka-beursprogram, sowel as die bestuursreaksie- en verbeteringsplan van die Departement van Basiese Onderwys. Dit was deel van die 2014/15 Nasionale Evalueringsplan.

Die Kabinet keur goed dat die Departement van Basiese Onderwys die program behou. Dit is in 2007 van stapel gestuur om die aantal bekwame onderwysers wat in prioriteitsgebiede spesialiseer te verhoog. Die departement sal ook die uitbreiding en aanvulling van die program ondersoek.

Empiriese bewyse dui aan dat die ontwerp van die program toepaslik is in terme van sy politieke, ekonomiese en sosiale konteks. Dit is ook grootliks toepaslik in terme van die komplekse omgewing waarin dit geïmplementeer word. Die program het deurlopende verbeterings in sy strategie teweeg gebring, insluitend die bekendstelling van 'n distriksgebaseerde werwingstelsel in 2012. Dit het grootliks bygedra tot die aansienlike toename in inskrywings vir aanvanklike onderwysersopleiding.

2.5. Die Kabinet is ingelig oor die Raamwerk-indeks vir Gestremdheid en het goedgkeuring verleen dat 'n Ongelykheidsindeks vir Gestremdheid geloods word. Die Kabinet ondersteun ook die nie-samevoeging (disaggregation) van datastelle volgens geslag, gestremdheid en ouderdom.

Die ongelykheidsindeks vir gestremdheid is 'n belangrike instrument om ongelykheid tussen mense met gestremdhede en mense sonder gestremdhede na te speur, en bied 'n strategiese hoëvlak, vinnige skandering om die mate van die ongelykheidsgaping te bepaal. Dit help om regeringsingrypings meer inklusief te teiken.

Die proses van nie-samevoeging sal die Regering in staat stel om tydig te reageer op die ervarings van saamgestelde kwesbaarhede. Die beleidsopstelling en -verbeterings op sigself kan nie hierdie ongelykhede verminder sonder 'n stelselmatige en volgehoue meting van die ongelykheidsgaping nie.

2.6. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Beleid vir Maatskaplikedienste-praktisyns, 2016. Die oorkoepelende resultaat is die lewering van deelnemende en gehalte ontwikkelingsgerigte maatskaplike dienste, deur die regulering van maatskaplikedienste-praktisyns. Dit skep 'n bemagtigende raamwerk wat die menslikehulpbronprofiel wat die sektor vir sosiale ontwikkeling sal verbreed om die versorging- en beskermingsdienste aan kwesbare groepe te verbeter.

Daar is 'n behoefte aan 'n diverse raamwerk van maatskaplikedienste-praktisyns insluitend gemeenskapsontwikkelingspraktisyns, versorgers, en praktisyns vir vroeë kinderontwikkeling om op wetgewende hervormings, die veranderende behoeftes van gemeenskappe, en sosio-ekonomiese toestande in die sektor maatskaplike welsynsdienste te reageer.

2.7. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die amptelike instruksie oor die bepaling van ander kategorieë van aangewese werknemers wat hul finansiële belange moet verklaar, wat met ingang van 1 April 2017 geïmplementeer sal word.

Die risiko's vir goeie bestuur wat voortspruit uit situasies waarby botsende belange betrokke is, is nie net op werknemers in senior bestuursposte van toepassing nie. Die eDisclosure-stelsel word aangepas om ander kategorieë van werknemers in staat te stel om hul finansiële belange aanlyn te verklaar en dat die verifikasieproses op departementele vlak plaasvind.

2.8. Die Kabinet verleen goedkeuring aan Fase 3 van Suid-Afrika se Geskrewe Opvolg-landverslag oor die implementering van die OECD-Konvensie oor die Bekamping van Omkopery en Buitelandse Openbare Amptenare in Internasionale Besigheidstransaksies (Teenomkopery-konvensie).

Die verslag gee 'n uiteensetting van die Regering se daadwerklike pogings om gevalle van buitelandse omkopery op te spoor, te ondersoek en te vervolg. Hierdie konvensie fokus op die gebruik van die nasionale reg om omkopery van buitelandse amptenare te kriminaliseer.

Dit is van toepassing op aktiewe en passiewe omkopery, maar sluit suiwer binnelandse omkopery uit, waar die regstreekse of onregstreekse ontvanger van 'n voordeel nie 'n openbare amptenaar is nie.

Fase 1 het op die identifisering van regsinstrumente en -meganismes wat in lande gebruik is om buitelandse omkopery te bestry, gefokus. Fase 2 het op die toepassing en doeltreffendheid van sulke instrumente en meganismes gefokus.

Fase 3 was daarop gerig om die impak van die land se aanvaarding van die konvensie te bepaal. Fase 4, wat in 2016 begin het, fokus op die belangrikste groepwye kruissnydende kwessies wat verband hou met afdwingingspogings en veranderings in die binnelandse wetgewing of institusionele raamwerk van die partye.

2.9. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die voorgestelde maatreëls wat in die besigheidsaak vir die herposisionering van die Departement van Binnelandse Sake uiteengesit is. Die departement moet binne die sekuriteitstelsel van die staat geposisioneer word sodat dit tot die nasionale veiligheid bydra en in staat is om sy mense, stelsels en data te beskerm.

Dit sal die departement in staat stel om beter dienste te lewer teen sy volle mandaat as 'n kritiese verskaffer van inklusiewe ekonomiese ontwikkeling, nasionale veiligheid, doeltreffende dienslewering en doeltreffende administrasie.

2.10. Die Kabinet keur goed dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens die nasionale misdaadstatistiekverslag vir die trimester van 2016/17 vrystel. Soos in die geval van die jaarverslag, sal hierdie verslag die provinsiale en nasionale voorkomsyfer van misdaad dek. Die misdaadstatistiek word verkry uit misdaaddata wat op stasievlak aangeteken is.

Die kwartaallikse vrystellings sal die Regering in staat stel om belangrike doelwitte te monitor, veral die vermindering van aangemelde ernstige misdaad, soos in die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk uiteengesit. Dit kan ook gebruik word as 'n vroeë waarskuwing om die Regering se misdaadvoorkomingsoptrede en -strategieë te versterk.

2.11. Die Kabinet is ingelig oor die Minister van Polisie se voorneme om amnestie te verklaar in terme van die Wet op Vuurwapenbeheer, 2000 (Wet No 60 van 2000), vir 'n tydperk van ses maande om die gemeenskap se deelname te maksimaliseer. Dit sal op 1 April 2017 begin en op 30 September 2017 eindig.

Die amnestie sal die sirkulasie van vuurwapens in onwettige besit verminder, wat op sy beurt sal lei tot die vermindering van kontakmisdade.

Die amnestie sal op die volgende houers van vuurwapens en/of ammunisie in Suid-Afrika fokus:
a) Mense wat onwettige vuurwapens en/of ammunisie wat in sirkulasie is besit, insluitend diegene wat by een of meer kriminele aktiwiteite betrokke is; en
b) Mense wat vuurwapens en/of ammunisie geërf het en versuim het om aan die bepalings van die Wet op die Beheer van Vuurwapens te voldoen.

2.12. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Nasionale anti-Bendebedrywighede-strategie om bendebedrywighede in al sy manifestasies te bestry aan die hand van 'n volle regeringsbenadering.

Dit strook met die Nasionale Ontwikkelingsplan se bepaling wat verseker dat mense in Suid-Afrika veilig voel by hul huise, skole en werkplekke, en gemeenskapslewe sonder vrees kan geniet. Dit erken ook dat misdaad en geweld nie net 'n sekuriteitsprobleem is nie, maar diep sosiale en ekonomiese oorsake en gevolge het.

2.13. Die Kabinet keur goed dat Suid-Afrika se derdesiklus universele periodieke hersiening-landverslag in Mei 2017 vir hersiening deur die universele periodieke hersieningswerkgroep, by die Verenigde Nasies (VN) se Menseregteraad aangebied word.

Die verslag besin oor die vordering wat in Suid-Afrika gemaak is om menseregte en fundamentele vryhede soos in die Grondwet vervat, te verwesenlik.

Die universele periodieke hersiening is 'n unieke proses, wat 'n hersiening van al 193 VN-lidlande se menseregterekords een keer elke vier jaar behels. Dit bied 'n geleentheid vir al die lande om te verklaar watter stappe hulle geneem het om die menseregtesituasie in hul lande te verbeter en om uitdagings te oorkom wat menseregte verhoed.

Dit gee lidande ook die geleentheid om die beste menseregtepraktyke in die wêreld deel.

2.14. Die Kabinet keur goed dat die eerste Quadriënnale Landverslag oor die 2005 Konvensie oor die Beskerming en Bevordering van die Verskeidenheid van Kulturele Uitdrukking, aan UNESCO voorgelê word

Die Konvensie erken dat identiteit, waardes en betekenis deur kulturele goedere en dienste oorgedra word. Kultuur het die potensiaal om een van die sterkste bydraers tot die ekonomie, sosiale samehorigheid en armoedeverligting te wees.

Suksesaanwysers is die aanvaarding van vier aanvullende strategieë: Die Mzansi Goue Ekonomie-strategie; die Sosiale Samehorigheidstrategie; die Nasionale Ontwikkelingsplan; die Nuwe Groeipadstrategie; en die ten volle gevestigde Departement van Kuns en Kultuur se agentskappe met rade.

Suid-Afrika het ook beduidende vordering gemaak om die belangrikheid van inheemse tale in beleid en wetgewing te erken.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op die Nasionale Openbare Gesondheidsinstitute van Suid-Afrika in die Parlement ter tafel gelê word. Dit maak voorsiening vir die vestiging van die Nasionale Openbare Gesondheidsinstitute van Suid-Afrika (NAPHISA), sy werksaamhede, bevoegdhede en pligte.

NAPHISA het ten doel om geïntegreerde en gekoördineerde siekte- en beseringstoesig,navorsing, monitering en evaluering van dienste en ingrypings te voorsien wat op die belangrikste gesondheidsprobeleme wat mense in Suid-Afrika raak gerig is.

Dit sal die kapasiteit verhoog om oordraagbare en nie-oordraagbare siektes, sowel as beserings te moniteer, wat sal help met die vroeë opsporing, voorkoming en reaksie op hierdie toestande. Dit sal uiteindelik bydra tot die beheer van siektes en 'n afname in morbiditeit en mortaliteit.

NAPHISA sal 'n nasionale hulpbron wees wat openbare gesondheidsbelange dien en het ten doel om voorsiening te maak vir 'n stelsel van gesondheidsbeskerming wat op toegang, gelykheid, doeltreffendheid en gehalte fokus. 

3.2. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens in die Parlement ter tafel gelê word. Dit verander die Wet of Nasionale Gesondheidlaboratoriumdiens, 2000 (Wet No 37 van 2000).

Die voorgestelde wysigings is daarop gerig om die bestuur, aanspreeklikheid en finansiële volhoubaarheid van die Nasionale Gesondheidlaboratoriumdiens te verbeter. Dit sal die nasionale diens in staat stel om diagnostiese gesondheidslaboratoriumdienste meer koste-effektief en meer doeltreffend te voorsien en om die gehalte van kliniese sorg aan pasiënte te verbeter deur middel van tydige en oordeelkundige kliniese bestuur.

3.3. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Ouer Persone, 2016 vir openbare kommentaar gepubliseer word. Die Wetsontwerp wysig die Wet op Ouer Persone 13 van 2006. Die wysigings verwys spesifiek na die beskermings- en nakomingsmaatreëls wat sal bydra tot die voorsiening van 'n veilige en beskermende omgewing vir ouer persone.

Die wetsontwerpe is daarop gemik om die monitering- en evalueringsmaatreëls op dienste aan ouer persone te versterk deur doeltreffende beheermaatreëls vir nie-nakoming in plek te stel, wat die oplegging van boetes insluit. Dit sal verseker dat ouer persone toegang het tot gehalte dienste soos sosiale, gesondheids-, gemeenskapsgebaseerde en residensiële sorg.

3.4. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Fondsinsameling, 2016 vir openbare kommentaar gepubliseer word. Hierbenewens keur die Kabinet goed dat die bestaande fondse herroep word en hul bates en laste in een fonds gekonsolideer word. Die Wetsontwerp wysig die Wet op Fondsinsameling, 1978 wat verouderd is.

Die Wetsontwerp stroomlyn reaksie op rampe en maak voorsiening vir die implementering van risikoversagting- en ontwikkelingstrategieë deur die konsolidasie van die bestaande fondse, insluitend hul onderskeie bates en laste in een Nasionale Maatskaplike Ontwikkeling- en Hulpfonds.

Die fondsinsamelingsvermoëns van die Wet sal herstel word en die fonds sal nie net in staat wees om te reageer wanneer maatskaplike verligting nodig is nie, maar sal optree om risiko's te verminder en gemeenskappe te ontwikkel.

3.5. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Omgewingsbestuur, 2016 aan die Parlement voorgelê word. Dit verander die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, 1998 (Wet No. 107 van 1998), asook 'n aantal spesifieke Omgewingsbestuurswette.

Dit sal geïntegreerde omgewingsbestuur; een omgewingsbestuurstelsel; maatreëls nakoming en toepassing; biodiversiteit en bewaring; luggehaltebestuur; afvalbestuur; en geïntegreerde kusbestuur versterk.

3.6. Die Kabinet keur goed dat die Konsepregulering van die Wetsontwerp op Landbougrondeiendom, 2017 gepubliseer word vir openbare kommentaar. Grondhervorming is nodig om die potensiaal van 'n dinamiese en groeiende landbousektor wat werksgeleenthede skep, te ontsluit.

Die wetsontwerp gee, onder meer, uitvoer aan die stigting van die Grondkommissie wat ‘n deursigtige en meer bevorderlik regulatoriese omgewing vir die ontwikkeling en aanwending van beleidsrelevante inligting oor die eienaarskap en gebruik van landbougrond sal verseker.

Dit sal die staat se vermoë verbeter om sy nakoming van die grondwetlike opdrag om grondbesit en verwante hervormings te verseker te monitor en te evalueer, met die doel om stappe te neem om die resultate van rassediskriminasie uit die verlede reg te stel.

Dit dra by tot die visie van die Nasionale Ontwikkelingsplan vir landelike vernuwing, inklusiewe ekonomiese groei en die vermindering van armoede, wat ook berus op die skep van meer gelyke toegang tot grond en verblyfsekerheid vir alle Suid-Afrikaners.

3.7. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns, 2016 in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer word.

Die Wetsontwerp herroep die huidige Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede, 1976 (Wet No. 112 van 1976). Die Wetsontwerp reageer op die veranderende marktoestande en dinamika, en is gerig op die skep van 'n omgewing om ekonomiese aktiwiteit in die eiendomsmark te verbeter.

Dit ondersoek ook die behoefte om nakoming en toepassing te verbeter, om transformasie te verseker in die sektor en die optrede en gedrag van eiendomspraktisyns tew reguleer.

Dit strook met die Nasionale Ontwikkelingsplan wat ‘’n berope doen vir die transformasie van menslike nedersettings en die nasionale ruimtelike ekonomie deur middel van, onder meer, 'n oorsig van behuisingsbeleid en wetgewende raamwerke om beter grondwetlike regte te verwesenlik.

Dit sal verseker dat die lewering van behuising gebruik word om dorpe en stede te herstruktureer en die bestaansvooruitsigte van huishoudings te versterk.

3.8. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op die Openbaarmaking van Huislenings en Verbande, 2016 vir openbare kommentaar gepubliseer word. Die Wetsontwerp wysig die Wet op die Openbaarmaking van Huislenings en Verbande, 2000 (Wet No. 63 van 2000).

Die Wetsontwerp pak uitdagings rondom menslike nedersettings wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan geïdentifiseer is. Dit sluit in disfunksionele nedersettingspatrone regoor die land; uitdagings waarvoor dorpe en stede te staan kom; swak ruimtelike beplanning en swak bestuursvermoëns.

Die Wetsontwerp beoog om voorsiening te maak vir behuisingfinansiering ooreenkomstig artikel 26 van die Grondwet, wat bepaal dat "elkeen die reg tot geskikte behuising" het. Dit bemagtig verder die Kantoor van Openbaarmaking om klagtes ten opsigte van huislenings te hanteer.

Dit sal nakoming deur finansiële instellings aanmoedig en sal bydra tot verbeterde uitleenpatrone en tendense van finansiële instellings ten opsigte van huislenings.

3.9. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op ’n Raamwerk vir Tradisionele Leierskap en Regering, 2016 in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer word. Dit verander die Wet op ’n Raamwerk vir Tradisionele Leierskap en Regering, 2003 (Wet No. 41 van 2003).

Die wysigings handel oor die uitdagings wat ervaar word met die Grondwet en die hersamestelling van tradisionele leierskapstrukture en, waar van toepassing, die afskaffing van sekere strukture.

Die doel is om behoorlike hersamestelling van stamowerhede as tradisionele rade te verseker; die vestiging van koningskap- en koninginskaprade; en die afskaffing van gemeenskapsowerhede.

3.10. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op Internasionale Arbitrasie by die Parlement ingedien word. Die doel van die Wetsontwerp is om toegang tot regsdienste te verbeter en om die teiken wat die Nasionale Ontwikkelingsplan gestel het om handel en belegging uit te brei en Suid-Afrika in die wêreld te posisioneer, te verwesenlik.

Die Wetsontwerp sluit die Modelwet op Internasionale Kommersiële Arbitrasie, soos goedgekeur deur die Verenigde Nasies se Kommissie oor Internasionale Handelsreg, in. Dit kan duer die sakegemeenskap gebruik word om internasionale kommersiële geskille op te los en in terme waarvan partye skeidsregterlike uitsprake kan kry wat wetlik afdwingbaar is.

So 'n stap kan bydra tot ekonomiese groei en belegging verhoog en ook verseker dat Suid-Afrika 'n aantreklike plek vir partye regoor die wêreld is om hul kommersiële geskille op te los.

4. Kwessies in die omgewing

4.1. Die Kabinet sluit aan by President Jacob Zuma in 'n beroep vir selfbeheersing te midde van spanning tussen 'n paar Suid-Afrikaners en buitelanders. Die geweld wat met die afgelope gemeenskapprotes in Tshwane gepaard gegaan het is onaanvaarbaar en het geen plek in ons demokrasie nie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is bereid om spoedig te reageer op voorvalle van geweld en plundery.

Misdaad is ons gemeenskaplike vyand en deur saam te werk kan ons die kwessies wat ons gemeenskappe raak die hoof bied. Daar is egter geen ruimte vir dade van geweld of intimidasie nie. Geen grief kan ooit regverdig dat lede van gemeenskappe die reg in eie hande neem nie.

Deur binne die wet op te tree kan ons ons gemeenskappe veiliger te maak. Burgers moet met die SAPD en ander wetstoepassingsagentskappe saamwerk om misdaad in ons gemeenskappe uit te roei.

4.2. Die Regering neem kennis van gekontrakteerde steenkoolvervoerders se besorgdheid oor die impak wat hernubare energie-projekte op die verskaffing van steenkool aan Eskom kan hê, en werksgeleenthede in hul bedryf kan beïnvloed.

Die Regering is oop vir konstruktiewe gesprekvoering met die wettige leiers van die steenkoolvragmotorbedryf om kwessies te bespreek.

Die Regering moet verantwoordelik optree in sy energiebeplanning om volhoubare en bekostigbare energievoorsiening te verseker.

Die stelsel maak staat op 'n kombinasie van basislading (steenkool en kernkrag) en afwisselende elektrisiteitsvoorsiening (volhoubare energie en gas). Dit blyk duidelik uit die 2016 Konsep Geïntegreerde Hulpbronplan dat Suid-Afrika sal voortgaan om steenkoolelektrisiteit in die energiemengsel te gebruik.

4.3. Die Kabinet neem kennis van die beslissing deur die Noord-Gautengse hooggeregshof oor Suid-Afrika se besluit om van die Internasionale Kriminele Hof (ICC) te onttrek. Die Kabinet is bewus daarvan dat die Parlement 'n geskikte plan van aksie oorweeg.

Die Kabinet hou by die beslissing en het 'n tegniese taakspan aangestel om nakomingsriglyne te ontwikkel.

4.4. Die Bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, President Jacob Zuma, het by die 5de Gewapende Magte-vieringe wat in Durban gehou opgetree, wat saamgeval het met die 100 jaar-herdenking van die keldering van die SS Mendi, wat onderskeidelik in die Verenigde Koninkryk gehou is.

Die Kabinet vereer en gedenk lede van die Suid-Afrikaanse Native Labour Corps wat hul lewens tydens die ergste maritieme ongeluk in Suid-Afrika se militêre geskiedenis verloor het. Hulle was dapper manne wat in daardie stadium gereageer het op 'n oproep deur die Imperiale mag om te dien.

4.5. Na aanleiding van die positiewe identifikasie van die herfskommandowurm-plaag, gaan die Regering onder leiding van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye voort om die verspreiding en skade van die plaag te bepaal, sowel as met bewustheidveldtogte om boere van akkurate tegniese inligting en beheer-opsies te voorsien en om die verantwoordelike noodregistrasie van landbouchemikalieë te verseker.

Die Departement het ook 'n plaag-aksiegroep begin, wat gereeld vergader om vordering en resultate met alle provinsiale departemente van landbou, die industrie en navorsingsorganisasies te evalueer. Die Suid-Afrikaanse Nood-plantplaagreaksieplan, wat nuwe plaagontdekkings ondersoek, is reeds op hul pos om die herfsommandowurm te stuit.

Die Regering sal sy betrokkenheid by die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap voortsit om te verseker dat vroeë waarskuwings van hierdie biologiese gevare in plek is.

4.6. Die Kabinet wens pendelaars wat in ’n botsing tussen twee treine by die Rosslyn-stasie noord van Pretoria beseer is, 'n spoedige herstel toe en bedank die nooddienste vir hul vinnige optrede om die beseerdes te help.

Die werk wat deur die ondersoekraad in die uitvoering van 'n omvattende ondersoek na die oorsaak van die ongeluk en omstandighede rondom die ongeluk, word geprioritiseer om toekomstige voorvalle te voorkom.

5. Simpatiebetuiging

5.1. Die Kabinet dra saam met President Jacob Zuma sy meegevoel oor aan die familie van Regter Essa Moosa, wat 'n skitterende lig van die regbank was en Suid-Afrika voortreflik gedien het voordat hy in 2011 as 'n regter van die Wes-Kaapse hooggeregshof afgtree het.

Hy sal onthou word vir sy toewyding aan die bevordering van menseregte, asook sy onbaatsugtige toewyding aan die oppergesag van die reg.

Voordat hy tot die regbank toegetree het, was hy 'n menseregteprokureur en was aan die voorpunt om apartheidsoortredings soos aanhouding sonder verhoor, uit te daag. Hy was ook 'n stigterslid van die Nasionale Vereniging van Demokratiese Prokureurs.

5.2. President Jacob Zuma het 'n spesiale amptelike provinsiale begrafnis vir die afgestorwe veteraan en voormalige Robbeneiland-gevangene, mnr Collen Monde Mkunqwana, wat op 21 Februarie 2017 oorlede is, aangekondig. Mnr Mkunqwana was 'n afstammeling van mnr Makhanda Nxele, 'n soldaat wat die aanval teen die Britte in Grahamstad gelei het. Die munisipaliteit is nou na Makana vernoem.
Besonderhede van die begafnis sal deur die Oos-Kaapse provinsiale regering bekend gemaak word.

5.3. Die Kabinet dra ook sy meegevoel oor aan die familie van Mirriam Tladi, Suid-Afrika se ma van die letterkunde en die eerste vroulike romanskrywer. Me Tladi, wat die Orde van Ikhamanga ontvang het, het deur geletterdheidsperke gebreek al kon sy nie by die Universiteit van die Witwatersrand studeer nie op grond van diskrimnerende aparthheidswette.

5.4. Die Kabinet dra saam met President Jacob Zuma sy meegevoel oor aan die families van die drie lede van die Suid-Afrikaanse Vloot en drie konstruksiewerkers van die Departement van Openbare Werke wat gesterf het terwyl hulle in 'n rioolput op die vlootbasis in Durban gewerk het.

Die drie soldate was besig om werkers van die Departement van Openbare Werke wat gesukkel het om ondergronds asem te haal, te help.

5.5. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die families van die sewe mense wat in 'n multivoertuigongeluk op die R34 tussen Vryheid en Dundee dood is toe 'n vragmotor en twee ligte voertuie gebots het.

5.6. Die land se gedagtes en gebede is met my familie van die jong Richard Thole wat na bewering verlde Saterdag in 'n verlate mynskag in Boksburg geval het. Die Kabinet bedank die reddingspan wat alles in hul vermoë doen om te verseker dat Richard na sy ma sal teruggaan.

5.7. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die familie en vriende wie se geliefdes tydens die vloede in die Rustenburg-omgewing van Noordwes gesterf het.

6. Gelukwense

6.1. Die Kabinet wens Ambassador Xawier Carrim geluk met die aanvaarding van sy pos as Voorsitter van die Algemene Raad van die Wêreld Handelsorganisasie on 28 Februarie 2017. Dit is die eerste keer dat ’n Suid-Afrikaner tot hierdie pos verkies is en slegs die vierde keer dat die pos deur ‘n iemand uit Afrika beklee word.

6.2. Die Kabinet wens die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika geluk met sy posisie binne die top tien maatskappye wat die stiptelikste lughawens in die wêreld bestuur, volgens die maatskapy OAG Aviation Worldwide.

Die OR Tambo Internasionale Lughawe is in die 8ste plek in die kategorie vir groot lughawens, Kaapstad Internasionale Lughawe is 6de in die kategorie vir medium lughawens, en die Internasionale Lughawe King Shaka is 10de in die kategorie vir klein lughawens.

6.3. Die Kabinet wens Mamelodi Sundowns geluk met hul oorwinning in die Confederation of African Football (CAF) se Super Cup-toernooi. Sundowns het bewys dat hulle die beste span op die vasteland is nadat hulle ‘n 1-0 oorwinning oor TP Mazembe behaal het.  Ons vertrou dat hierdie oorwinning ander spanne sal inspireer om in Mamelodi Sundowns se voetspore te volg.

7. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

7.1. Me Zanele Monnakgotla as 'n nie-uitvoerende lid van die Direksie van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde.
7.2. Nie-uitvoerende direkteure van die Suid-Afrikaanse Spesiale Risiko Versekeringsassosiasie Maatskappy in Staatsbesit (SOC) Beperk
a) Me Tando Mbatsha (heraanstelling); en
b) Me Tshwarelo Moutlane (heraanstelling).
7.3. Nie-uitvoerende direkteure van die Direksie van die Grond- en Landbou-ontwikkelingsbank:
a) Me Dumo Motau (heraanstelling);
b) Me Thembekile Thelma Ngcobo (heraanstelling); en
c) Me Gugu Mtetwa.
7.4. Mnr TS Mokoena as Direkteur-generaal van die Departement van Minerale Hulpbronne.

Navrae:
Donald Liphoko
Kontak: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore